Profesieë oor Jesus Christus

Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2016)

Daar is baie profesieë oor die Messias (Jesus Christus) se eerste én tweede koms in die Ou Testament. Tydens sy eerste koms was Hy die lydende Messias, maar tydens sy wederkoms sal Hy as Regter en Koning kom om sy vyande te oordeel en as Koning op die herstelde troon van Dawid te regeer. Die volgende is die belangrikste profesieë oor Hom:

Sy maagdelike geboorte

“Daarom sal die HERE self aan julle ʼn teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ʼn seun baar en hom Immánuel noem” (Jes. 7:14). Dit is beslis ʼn bonatuurlike, Goddelike teken indien ʼn maagd swanger raak, want dan is daardie kind nie deur ʼn sterflike, sondige mens verwek nie. Dit verklaar waarom Jesus ook die Seun van God genoem behoort te word. Die engel het vir Maria gesê: “En kyk, jy sal swanger word en ʼn Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32). Josef het ʼn soortgelyke boodskap oor sy swanger verloofde gekry: “… wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ʼn seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:20-21).

Dit het alles gebeur as die vervulling van die profesie in Jesaja 7:14. Matthéüs sê: “En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ʼn seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons” (Matt. 1:22-23).

Jesus se geboorteplek en latere tuiste

God het deur die profeet Miga aangekondig dat sy Seun in Betlehem gebore sou word: “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ʼn Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Jesus het as die Woord van God (die Logos) ʼn ewige selfbestaan, maar in die volheid van die tyd het Hy sy hemelse heerlikheid verlaat, die gestalte van ʼn nederige dienskneg aangeneem, en is in Betlehem as ʼn mens gebore (Joh. 1:1-14). Dit het presies so gebeur. Koning Herodes was baie ontsteld toe hy by die wyse manne uit die Ooste gehoor het dat hulle eer wou betoon en geskenke gee aan die Koning van die Jode wat hulle verneem het gebore sou word: “En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ʼn leidsman voortkom wat vir my volk Israel ʼn herder sal wees” (Matt. 2:3-6).

Die Here het die wyse manne in ʼn droom gewaarsku om nie na Herodes terug te gaan en hom te vertel waar hulle die Kind gekry het nie, daarom het hulle met ʼn ander pad huis toe gegaan. Ná hulle vertrek is Josef ook gewaarsku om vinnig uit Betlehem pad te gee met die Kind: “En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ʼn engel van die HERE in ʼn droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. ... En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (Matt. 2:13, 15).

Herodes was baie kwaad toe hy agterkom dat hy deur die wyse manne mislei is, en hy het opdrag gegee dat in Betlehem en die hele omgewing alle seuntjies van twee jaar oud en jonger doodgemaak moes word (Matt. 2:16-18). Kort daarna is Herodes self dood en het die Here Josef beveel om terug te trek: “En ná die dood van Herodes het daar ʼn engel van die Here in ʼn droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het” (Matt. 2:19-20).

Hulle terugkeer uit Egipte was ʼn verdere vervulling van ʼn Ou-Testamentiese profesie wat aanvanklik deur Israel se uittog uit Egipte vervul is. Die Here sê: “Toe Israel ʼn kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep” (Hos. 11:1). Toe Israel slawe in Egipte was, het die Here hulle daaruit geroep sodat hulle hul erfenis in die Beloofde Land kon verkry. Jesus het baie lank daarna ook in Egipte vertoef; toe het God sy eniggebore Seun daaruit geroep om na die land Israel te gaan sodat Hy die Verlosser van Israel kon word sodat hulle daardeur hulle roeping kan vervul om ʼn Messiaanse volk te word met Jesus wat op die troon van Dawid regeer. Josef het egter gehoor dat Archeláüs in die plek van sy vader koning oor Judéa was, en was bang om daar te vestig omdat die nuwe koning, soos sy pa, ook ʼn kwaai en bloeddorstige diktator was. Archeláüs het van 4 v.C. tot 6 n.C. in Jerusalem regeer. Die Here het vir Josef gesê om na Galiléa te trek en daar het hulle in Násaret gevestig (Matt. 2:21-23).

Jesus as die nederige Dienskneg

Israel se Koning sou in ʼn baie nederige gedaante verskyn: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ʼn oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ʼn esel – op ʼn jong esel, die vul van ʼn eselin” (Sag. 9:9). Oor die vervulling van hierdie profesie lees ons in die Nuwe Testament: “En dit het alles gebeur, sodat vervul sou word die woord wat deur die profeet gespreek is: Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe, sagmoedig, en Hy sit op ʼn esel, ja, ʼn jong esel, die vul van ʼn pakdier” (Matt. 21:4-5).

Jesus verwag dieselfde nederigheid en diensbaarheid van sy volgelinge: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Matt. 11:29). Hy het ook vir hulle gesê: “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ʼn losprys vir baie” (Matt. 20:27-28).

Jesus as die Lam van God

Jesaja 53 bevat een van die treffendste profesieë oor die lydende Messias wat die straf vir ons sonde gedra het: “Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar? Hy tog het soos ʼn loot voor sy aangesig opgespruit en soos ʼn wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie. Hy was verag en deur die mense verlaat, ʼn man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ʼn mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was. Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:1-6). Hy het plaasvervangend vir ons sonde gesterf.

Psalm 22 het ook duidelik betrekking op Jesus se lyding tydens sy kruisiging: “Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie. … Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos ʼn leeu wat verskeur en brul. Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. My krag is verdroog soos ʼn potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; ʼn bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad” (Ps. 22:12-19). Al hierdie profesieë is letterlik vervul tydens die kruisiging van Jesus.

Die wederkoms van Jesus

Tydens sy eerste koms het Jesus die groot werk van versoening gedoen, dissipels opgelei en aan hulle die opdrag gegee om die evangelie wêreldwyd te verkondig nadat hulle met die Heilige Gees vervul is (Hand. 1:8; Luk. 24:46-49). Hy het ook belowe om weer terug te kom – hierdie keer nie as nederige Dienskneg nie, maar in heerlikheid as magtige Koning en Regter van die lewende en die dode. Hy het ook geweet dat die oorblyfsel van die afvallige Joodse volk Hom ten volle sal aanvaar wanneer Hy terugkom (Matt. 23:39). Op die dag van sy hemelvaart het twee engele ook die sekerheid van sy wederkoms bevestig: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11).

Hy sal terugkom as Koning van die konings en Here van die here (Op. 19:16). Die konings van die aarde en hulle leërs sal op daardie dag in Jerusalem ontplooi wees om teen Christus te veg, omdat hulle deur die Antichris mislei sal word om die bedreiging van hulle goddelose nuwe wêreldorde te probeer verdedig teen die geprofeteerde vernietiging daarvan deur die Seun van God (Op. 19:19-21; Sag. 14:12-13; 2 Thess. 2:8). Die Here waarsku in ʼn Messiaanse Psalm dat die nasies hulle eie ondergang sal verhaas as hulle teen sy Seun sal probeer veg net omdat die reëls en beginsels van die Christelike geloof nie vir hulle aanvaarbaar is nie:

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde [die Messias] en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ʼn ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ʼn erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:1-12).

Johannes beskryf die lot wat hulle sal tref op daardie dag: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).

Die wegraping

Bybelse profesieë maak melding van twee fases van Christus se wederkoms, naamlik sy geheime koms soos ʼn dief in die nag om sy bruidsgemeente te kom haal, en sy openbare koms wanneer elke oog Hom sal sien. Eers kom Hy vir sy heiliges (Joh. 14:2-3), en by die tweede geleentheid kom hy met sy heiliges (Kol. 3:4; Sag. 14:5).

Uit die gelykenis van die tien maagde kan dit gesien word dat die Bruidegom in die middernag kom wanneer min mense wakker is en op Hom wag. Dié wat gereed is en olie in hulle lampe het (beskrywend van ʼn lewe onder die leiding van die Heilige Gees) sal skielik deur Hom weggeneem word wanneer Hy kom. Hierdeur word ʼn baie belangrike Bybelse feit beklemtoon, naamlik dat die oordele van die verdrukking nie vir die ware kerk van Christus bedoel is nie, daarom moet hulle weggeneem word voordat die uur van beproewing oor die hele aarde aanbreek. Die Here het vier duisend jaar gelede al vir Abraham gesê dat die regverdiges nie saam met die onregverdiges geoordeel sal word nie (vgl. Gen. 18:23-33). In die lig hiervan het God belowe dat Hy Sodom nie sou oordeel indien daar net tien regverdiges in die stad sou wees nie. Daar was nie tien nie, maar die Here het gesorg dat Lot en sy gesin vinnig wegvlug uit die stad voordat Sodom in oordele vernietig is (Gen. 19:12-26). Dieselfde beginsel het ook gegeld in die geval van Noag en sy gesin. Hulle was veilig in die ark voordat die sondaars in die vloed omgekom het (Gen. 7:1-24).

Hierdie twee oordele was ʼn profetiese waarskuwing oor dit wat weer in die eindtyd gaan gebeur, naamlik die uitredding en beveiliging van die gelowiges voordat die meerderheid van die sondaars in die groot verdrukking van sewe jaar verdelg sal word tydens God se oordele (Matt. 24:21-22; Jes. 13:9). Paulus sê ons moet God se Seun uit die hemele verwag, “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). Ons weet ons is nie vir God se toorn in die poel van vuur bestem nie, maar ons is ook nie vir sy toorn tydens die groot verdrukking bestem nie. Die Here Jesus het gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). “Al hierdie dinge” het betrekking op die rampe en benoudheid wat die mensdom in die groot verdrukking sal tref (Luk. 21:8-11, 25-27), asook die intense misleiding deur die Antichris en sy handlangers (Matt. 24:4-5, 11, 24).

Die Here Jesus vergelyk die eindtyd met die dae van Noag en Lot toe goddeloosheid, gewelddadigheid, materialisme en homoseksualiteit oral aan die orde van die dag was. Niemand wou na Noag en Lot se waarskuwings luister nie, en hulle het van kwaad na erger voortgegaan totdat die Here deur ontsaglike oordele ingegryp het. Sy toorn het egter nie oor die gelowiges gekom nie, en so sal dit weer wees wanneer die Here sy bruid kom haal. Dit mag selfs wees dat binne dieselfde gesin sommige lede gered en gereed mag wees en die ander nie. Die wat nie gereed is as Hy in die geheim kom nie, sal agterbly en deur die verdrukking moet gaan. Hulle sal vir die eerste keer, of by hernuwing, ʼn oorgawe aan die Here Jesus moet maak:

“En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word. ... Ek sê vir julle: In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:26-30, 34-36).

“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:13). Die Here het ʼn wonderlike roeping en bestemming vir alle gelowiges op aarde – Jode én nie-Jode – maar ons moet geestelike vordering maak sodat ons hierdie bestemming sekerlik sal bereik. Baie van die Israeliete wat uit Egipte bevry is, het nooit hulle bestemming in die Beloofde Land bereik nie, omdat hulle langs die pad in sonde en ongeloof verval het. Paulus sê: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Heb. 4:1-2). Hulle was vergeetagtige hoorders wat nie geestelik op die woord gereageer het nie.

Die Woord van die Here moet nie net met die verstand aanvaar word nie, maar ook met die hart, deur geloof. Wanneer daar nie ʼn geloofsaanvaarding van die Here Jesus en sy beloftes is nie, dan beoefen die betrokke persoon slegs ʼn oppervlakkige vormgodsdiens en bely hy die Here net met sy lippe – sy hart (die setel van die innerlike mens) is nog steeds koud en onweergebore. Jesus het vir Israel gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9). Gebooie van mense is kerklike dogma en leerstellings wat nie altyd na ʼn hartsverandering en ʼn ontmoeting met die Here Jesus as Verlosser lei nie. Die noodsaaklike element van geloof ontbreek dan nog steeds.

Die groot probleem van die eindtydse “moderne” mens is dat hy alles net met sy verstand wil uitwerk. Die godsdiens van sulke mense is net ʼn dun lagie vernis wat bo-oor ʼn ongelowige hart en ʼn skeptiese gees gesmeer is, daarom het hulle net ʼn uiterlike gedaante van godsaligheid (2 Tim. 3:5). Dit is waarom die Here Jesus gesê het: “... maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Hy sal baie godsdiens en selfregverdiging aantref, maar bitter min van ʼn ware geloof.

Veranderde opinies alleen kan nie ʼn mens geestelik verander en van hom ʼn ware gelowige maak nie. Hy moet eers die Here Jesus vra om in sy hart en lewe te kom en hom geestelik te vernuwe. Wanneer hy dit doen, sal die Heilige Gees hom oortuig van die sondes wat skeiding maak tussen hom en die Here. Die oomblik wanneer hy hierdie sondes bely en laat staan, verkry hy vergifnis, die Here reinig sy hart (1 Joh. 1:9) en maak woning by hom (Joh. 14:23).

Dit is jammer dat baie mense eers ná die wegraping sal agterkom dat hulle ʼn dooie vormgodsdiens sonder geloof beoefen het, en as gevolg daarvan nie die belofte van ontvlugting verkry het nie, maar inteendeel agtergebly het. Dit sal hulle niks help om hulle dan op hulle doop, aanneming, jarelange godsdiensbeoefening en kerkbywoning te beroep, of selfs op prediking en die demonstrasie van ander geestelike “gawes” nie, terwyl daar dalk geen persoonlike verhouding tussen hulle en die Here Jesus was nie (Matt. 7:21-23).