Die Vervulling van Petrus se Roeping

Johan Malan, Mosselbaai (September 2014)

Wanneer Petrus se lewe as dissipel in oënskou geneem word, is daar twee duidelike fases wat daarin onderskei kan word. Eers was daar die wisselvallige en selfgesentreerde deel van sy lewe tussen sy bekering en vervulling met die Heilige Gees, maar ná Pinksterdag sien ons Petrus as die Geesvervulde dissipel van Jesus wat die krag en insig gehad het om konsekwent volgens die Here se wil op te tree en groot dinge in die vestiging van die Christelike kerk te doen. In die eerste helfte sien ons ʼn Petrus met beperkte kennis en wisselende lojaliteite, in wie se lewe die Gees en die vlees teenoor mekaar staan (Gal. 5:17). In die tweede helfte sien ons ʼn Petrus in wie se lewe die vlees, of eie-ek, gekruisig is en die Heilige Gees volle beheer verkry het om hom te lei, toe te rus en te gebruik soos nooit tevore nie.

Dit is duidelik dat alle gelowiges in hulle geestelike lewe deur hierdie twee fases gaan: Dit begin by hulle bekering en aanvanklike geestelike ontwaking wanneer hulle nog baie dinge moet leer – ook hoe om teen versoekings en die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede te kan oorwin. Wanneer hierdie groeiproses nie ernstig opgeneem en tot by die krisispunt van heiligmaking deurgevoer word nie, tree geestelike stagnasie in en word die tweede fase nooit bereik nie. Sulke mense bevind hulle dan in ʼn geestelike kleuterskool soos dit wat in 1 Korinthiërs 3:1-3 en Hebreërs 5:12-14 beskryf word. Vir diegene wat ʼn volle oorgawe doen en die Here vir volkome heiligmaking vertrou (1 Thess. 5:23-24), gaan vleeslikheid oor in geestelikheid en verkry hulle oorwinning oor die struikelblokke wat hulle vroeër lamgelê het. Die stryd en versoekings hou nie op nie, maar hierdie gelowiges weet nou hoe om dit te hanteer en nie meer van een geestelike neerlaag na die ander voort te sukkel nie.

Ons kan baie leer uit die twee fases in Petrus se lewe, omdat die meeste van die kenmerke daarvan gedurende die hele kerkbedeling deur dissipels van die Here Jesus ervaar word.

Sy roeping, opleiding en lewe van val en opstaan

Petrus is as ’n visser by die See van Galiléa geroep om ’n dissipel van die Here Jesus te word: “En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ’n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers. En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak. En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg” (Matt. 4:18-20). Petrus het alles verlaat om die Messias te volg – sy werk én sy familie – en gestaan aan die begin van ʼn intensiewe leerskool.

Petrus het belangrike openbarings van die Here ontvang en was die eerste dissipel wat openlik verklaar het dat Jesus die Messias en Seun van God is. Hy het sonder huiwering gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:16). Jesus het hierop geantwoord: “Jy is Petrus [afgelei van petros, ’n klein rotsie], en op hierdie rots [petra: ’n groot rots] sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Die groot rots verwys na Petrus se getuienis dat Jesus die Christus is. In hierdie uitspraak bevestig die Here Jesus vier kerngedagtes in verband met die Nuwe-Testamentiese kerk:

1.    Hy sou Self sy kerk (die ekklesia, of uitgeroepenes) in die wêreld vestig en dus die Hoof daarvan wees – nie Petrus of enige van sy sogenaamde opvolgers nie.

2.    Hy sou as Verlosser die fondament of rots wees waarop die kerk gebou word.

3.    Hierdie kerk sou groot geestelike teëstand ervaar want al die bose magte waaroor Satan beskik, sou ingespan word om die kerk te vervals of te vernietig.

4.    Die ware kerk sal nie vernietig word nie, maar al die aanslae teen hom oorleef.

In die tyd toe Petrus die belangrike openbaring oor Jesus as die beloofde Messias en Seun van God ontvang het, was hy nog nie ’n Geesvervulde gelowige nie en het nie die hele raad van God geken nie. Hy het bv. glad nie besef dat Jesus twee keer sou kom, en tydens sy eerste koms die lydende Messias sou wees wat sy lewe as ʼn losprys vir sondaars sou aflê nie. As gevolg van sy vleeslikheid en gebrekkige kennis kon Petrus nie verstaan waarom Christus moes ly en sterf nie, en het enige gedagte van hierdie aard sterk teëgestaan.

Die Here Jesus het gesê dat Hy baie onder “die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes moes ly, en gedood en op die derde dag opgewek [sou] word” (Matt. 16:21). Petrus het totaal afwysend hierop gereageer: “Toe neem Petrus Hom opsy en begin Hom bestraf en sê: Mag God dit verhoed, Here, dit sal U nooit oorkom nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ʼn struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense” (Matt. 16:22-23).

Pas nadat Petrus ’n stelling gemaak het oor ’n baie groot waarheid met betrekking tot Jesus se Godheid en Messiasskap, het die duiwel hom weens sy beperkte insig in God se raadsplan mislei om die moontlikheid van Jesus se kruisiging regstreeks te verwerp. Baie Christene wat geestelik onvolwasse en onkundig is oor sekere aspekte van Bybelse leerstellings, tree ook so op. Die een oomblik bely hulle ’n groot waarheid uit die Woord, en die volgende oomblik ontken hulle weer ’n kernwaarheid in die Bybel en verkondig een van Satan se baie leuens. Ten spyte van hulle verwronge Skrifbeskouing is hulle gewoonlik vas daarvan oortuig dat hulle die regte siening oor die Bybel huldig. Christene moet daarop bedag wees dat hulle nie noodwendig altyd in die Gees optree nie. Soms tree hulle in die vlees op en kan dan selfs ʼn spreekbuis vir die vyand wees om Bybelse waarhede te verloën en leuens te verkondig.

Nadat Petrus reggehelp is, was dit nie die einde van sy vleeslike arrogansie nie. Kort voor Jesus se kruisiging het Hy aan sy dissipels gesê: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My. ... Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê” (Matt. 26:31-35). Petrus was so selfvoldaan en seker van homself dat hy in werklikheid vir Jesus gesê het: “U kan hierdie saak in my bekwame hande laat, want ek weet wat ek glo en ek sal enduit by U staan – kom wat wil!” Deur hierdie vleeslike houding van hom het hy ook die ander dissipels beïnvloed om op hulle eie krag en integriteit te vertrou.

’n Mens kan die mooiste en mees eerbare voornemens hê om in die Here Jesus se voetspore te volg en nie daarvan af te wyk nie, maar sonder die instaatstellende krag wat Hy deur sy Heilige Gees aan ons verleen, sal daar niks van kom nie. Toe Jesus op die punt was om die doodstraf deur kruisiging opgelê te word, en sy dissipels onder geweldige druk van vervolging verkeer het, was Petrus nie eers in staat om teenoor ’n eenvoudige diensmeisie te erken dat hy ’n volgeling van Jesus was nie. Hy is deur vrees en onsekerheid oorweldig en het ter wille van selfbehoud gesweer dat hy Jesus nie ken nie (Matt. 26:69-74).

Petrus het gou sy fout besef: “En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween” (Matt. 26:75). Wanneer ʼn mens se beste voornemens in mislukking eindig, voel jy baie teleurgesteld, skaam en jammer oor jou lafhartige optrede. Jou selfbeeld is in skerwe en deur jou getuienis as Christen is daar ’n streep getrek. Jy wonder hoe dit moontlik is dat jy so ’n swakkeling kon wees. Petrus het egter nie die stryd gewonne gegee nie, maar bitter berou gehad oor sy mislukking en neerlaag en besluit om weer te probeer.

Petrus was in hierdie stadium steeds nie met die Heilige Gees vervul nie, daarom kon verwag word dat daar van sy poging om sy integriteit as dissipel te herstel, nie veel sou kom nie. Kort ná die kruisiging van Jesus het hy by die ander dissipels aangesluit en probeer om sy gebroke geestelike lewe in orde te kry. Die dissipels was egter almal vreesbevange ná die teregstelling van Jesus en het hulleself in ’n vertrek toegesluit. Die Sondag toe die Here Jesus uit die graf opgestaan het, was hulle steeds agter geslote deure: “En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!” (Joh. 20:19).

Tydens hierdie byeenkoms het die dissipels vir die eerste keer die sendingopdrag ontvang, en Jesus het ook op hulle geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees” (vgl. Joh. 20:21-22). Hoewel hulle toe reeds deur die Heilige Gees die vrede van sondevergifnis gehad het, was hulle nog nie met die krag van die Heilige Gees vervul nie en kon dus toe nog nie begin om die opdrag van wêreldevangelisasie uit te voer nie. Hulle moes eers geestelik hiervoor toegerus word: “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Voor die vervulling met die Heilige Gees het Petrus en die ander dissipels besef dat hulle nie die geestelike krag en motivering gehad het om ’n goddelose, vyandige wêreld met die evangelie van Christus te konfronteer nie. Hulle het hulle onvermoë besef, vir die geweldige uitdaging teruggedeins en besluit om maar liewer ’n lae profiel te hou en voorlopig na hulle sekulêre beroepe terug te keer. Petrus het gesê: “Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie” (Joh. 21:3).

Die Here Jesus het volle begrip vir hulle gebrek aan kennis, geestelike krag en toewyding gehad, en duidelik vir hulle gewys dat hulle nie gelukkig sou wees as hulle na die wêreld terugkeer nie. Hy het hulle by die See van Galiléa gaan opsoek, deur ’n wonderwerk verseker dat hulle baie visse vang, en daardeur vir hulle gewys dat net Hy ’n verskil in hulle lewens kon maak. Hy kon beslis ook van hulle vissers van mense maak. Hierdie gebeurtenis het Petrus tot stilstand geruk en hy het vir die eerste keer die almag van die Verlosser besef. Jesus het aan Petrus die geleentheid gegee om drie keer te bevestig dat hy Hom waarlik liefhet. Sodoende het hy vergoed vir die drie keer wat Hy Jesus verloën het, en het toe die opdrag gekry om as ’n herder vir die Here Jesus se kudde op te tree deur geestelike voedsel en versorging aan hulle te bied: “Laat my lammers wei. ... Pas my skape op. ... Laat my skape wei” (Joh. 21:15-17).

Onder die geledere van vleeslike Christene is daar ook verskeie persone wat ná ’n tyd besluit om nie meer die Here te volg en te dien nie, en hulle weer ten volle in ’n sekulêre loopbaan in die wêreld te gaan uitleef sonder om veel aandag aan die koninkryk van die hemel te gee. Hulle soek nie meer die Here nie en dien Hom op ’n halfhartige wyse. Sulke mense sal nooit geluk vind nie, omdat hulle ’n geestelike roeping verruil het vir iets wat tydelik, minderwaardig en onvervullend is. Daar is vir teruggevalle en ontnugterde dissipels net een pad en dit is terug na die Here Jesus, na hernude reiniging deur sy bloed en die vervulling deur sy Heilige Gees. Hulle moet Psalm 51 lees en saam met Dawid ’n nuwe oorgawe aan die Here maak.

Dit beteken natuurlik nie dat ʼn dissipel van Jesus nie sekulêre werk moet doen nie, want die beginsel bly staan dat “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess. 3:10). Net ʼn minderheid dissipels word vir voltydse diens geroep, en hulle is gewoonlik so betrokke by die werk van die Here dat daar geen geleentheid vir sekulêre werk is nie. Petrus was een van hierdie geroepenes vir voltydse diens, en hy het net besluit om weer ʼn visserman te word toe hy nie meer vir sy geestelike roeping kans gesien het nie. Wat hy kortgekom het was die toerusting met krag uit die hoogte.

Sy vervulling met die Heilige Gees en vrugbare diens

Petrus was onder die groep van 120 dissipels en ander gelowiges wat in Jerusalem op die uitstorting van die Heilige Gees gewag het, sodat hulle toegerus kon word met krag uit die hoogte. In Handelinge 1:8 het die Here Jesus gesê: “... julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” Die opdrag was bomenslik groot, maar so ook die instaatstellende krag van die Heilige Gees wat tot alle dissipels se beskikking is.

ʼn Tyd van wag op die Here was nodig voordat die beloofde seën ontvang is. Petrus, wat in ’n stadium herhaaldelik vir Jesus verloën het toe hy onder die druk van vyandige mense geswig het, het hom vir tien dae lank saam met die ander dissipels verootmoedig om sy sonde en vleeslikheid te bely. Hy het sy geloof volkome in Jesus Christus gestel en gewag op die uitstorting van die Heilige Gees sodat hy vir diens bekragtig kon word. Die dissipels is op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul en die “nuwe Petrus” het met groot oortuiging die evangelie aan ’n misleide Joodse volk verkondig. Toe eers kon die roeping wat hy van die Here Jesus ontvang het vervul word, naamlik dat hy ʼn visser van mense sou wees. Hierdie dissipel, wat minder as twee maande vroeër onder druk geswig het weens sy menslike swakhede, het op Pinksterdag ʼn kragtige boodskap onder die leiding van die Heilige Gees gebring en drieduisend siele na die Here gelei vir redding.

Petrus was nie net ʼn evangelis nie, want die Here Jesus het ook ʼn drievoudige pastorale bediening aan hom toevertrou (Joh. 21:15-17). Hy moes die Here se lammers laat wei, wat dui op die plig om opvolgwerk met die oog op geestelike groei onder jong bekeerlinge te doen. Verder moes hy die Here se skape oppas, wat daarop dui dat die hele gemeente teen dwalings gewaarsku en ook geestelik versterk moes word om ernstige verdrukking te verduur. In die laaste instansie moes hy ook die skape laat wei, wat beteken dat volwasse gelowiges op ʼn gereelde grondslag geestelike voedsel moes kry om van hulle volwaardige dissipels en getuies van Christus te maak. Melkkos moes aan die lammers bedien word en vaste spys aan die skape, sodat almal in hulle geloof opgebou kon word.

Petrus het twee sendbriewe geskryf waarin hy sy volksgenote geëvangeliseer en gemeentes pastoraal bedien het. Hierdeur het hy gesorg dat jong gelowiges verlang na die onvervalste melk van die woord sodat hulle daardeur kon opgroei (1 Pet. 2:2). Die gemeentes is ook op vervolging ter wille van hulle geloof voorberei, sodat hulle nie ontmoedig sou word nie maar sterker uit die stryd sou tree: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:12-13).

Hierbenewens het hy sterk teen geestelike dwalings gewaarsku, want misleide gemeentelede kan nie waardige getuies vir Christus wees nie. ʼn Hele hoofstuk (2 Pet. 2) word aan valse leraars en die gevaar van hulle leerstellings gewy. Sulke misleide leraars belowe aan mense vryheid, maar hulle is self nog slawe van die verdorwenheid (2 Pet. 2:19). Die enigste oplossing hiervoor is waaksaamheid teen misleiding, asook ʼn toename in die kennis en genade van Christus: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:17-18).

In die fase van Petrus se lewe ná Pinksterdag het hy deurgaans ervaar wat dit was om in die volheid van die Heilige Gees te wandel en ver verby aardse begeerlikhede na ons ewige woning in die hemel te kyk. Hy het uit eie ondervinding geweet wat dit was om ’n vleeslike Christen te wees wat die Here Jesus in baie opsigte teleurgestel en ook verloën het, maar deur die genade van God het hy die opdrag ernstig opgeneem om op die Here te wag totdat hy die krag van die Heilige Gees ontvang het. Daarna het hy nooit weer omgekyk of gehuiwer nie, selfs nie toe hy aan die einde van sy lewe ’n marteldood deur kruisiging in die gesig gestaar het nie.

Wandel jy ook in die volheid van die Heilige Gees? Dan het jy krag ontvang om ’n getuie vir Christus te wees en onder die moeilikste omstandighede staande te bly sonder om moedeloos te word en terug te draai na die wêreld toe. Jy sal ook kragtig wees in die Here om met sukses teen die aanslae van die duiwel weerstand te kan bied. Verder sal jou kennis van die Here en sy Woord toeneem totdat jy saam met al die heiliges ten volle sal begryp wat die omvang van Christus se liefde vir ons is, sodat jy ook daarin gewortel en gegrond kan word.

Petrus het sy Christelike bediening met groot ywer en toewyding voortgesit. Hy het ʼn sterk evangelisasieywer gehad, die gelowiges opgeroep om die deugde te verkondig van Hom wat hulle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9), en hulle daarop gewys dat dit konkrete, histories bewysbare feite was wat hy en die ander apostels verkondig het: “Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Pet. 1:16).

Die jong gemeentes is ook daaraan herinner dat hulle bywoners en vreemdelinge in ’n bose en verbygaande wêreld is waarin hulle alles moontlik moes doen om hulleself van boosheid te weerhou en die Here voluit te dien (1 Pet. 2:11). Hierdie oproep is ook gedoen in die lig van die naderende wederkoms van Christus: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12).

Heiligmaking was ’n belangrike tema in Petrus se prediking en geskrifte. Hy het die opdrag aan Israel in Levítikus 11:44 herhaal en daardeur bevestig dat dit op alle mense van alle tye van toepassing is: “... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:15-16). Die mens is na God se beeld van heiligheid geskape, maar hierdie beeld is deur die sondeval geskend. Ons word egter geroep om opnuut met God se beeld van volkome heiligheid beklee te word, want daarsonder kan ons Hom nie behaag nie. Die wedergeboorte in ʼn nuwe lewe is vir ons moontlik gemaak deur die dood en opstanding van Jesus Christus (1 Pet. 1:3).

Sy marteldood

Petrus het in ʼn tyd van buitengewone vyandigheid teenoor die kerk van Christus geleef. Hierdie teenkanting het nie net van die Joodse Raad gekom weens hulle militante verwerping van Jesus as Messias nie, maar ook van die goddelose Romeinse Ryk. Hierdie twee magte het saamgespan om Jesus te veroordeel en as ʼn misdadiger te laat kruisig. Tydens Jesus se verhoor het Petrus en die ander dissipels nog nie die geestelike krag, insig en motivering gehad om te begryp wat daar gebeur nie, en hulle was nie in staat om by Jesus te staan nie. Hulle is oorkom deur vrees vir die Joodse leiers en het gevlug. Hierdie vrees het egter heeltemal verdwyn nadat die dissipels met die Heilige Gees vervul is, en hulle het daarna nie eers vir ʼn  dreigende marteldood teruggedeins nie.

Petrus sou Jesus nooit weer verloën nie, en hy het selfs nie eers Nero se mag gevrees toe hy in Rome deur die moontlikheid van kruisiging gekonfronteer is nie. Jesus het vroeër reeds die ongelukkige einde van Petrus se aardse lewe voorspel toe Hy vir hom gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ’n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie. En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My” (Joh. 21:18-19). Hy het nie net die kruisevangelie verkondig nie, maar Jesus ook fisies op die weg van kruisiging gevolg.

Volgens Foxe’s Book of Martyrs is Petrus in Rome ter dood veroordeel en gekruisig. Nero het redes gesoek om Petrus tereg te stel, maar mede-Christene het daarvan te hore gekom en hom dringend versoek om die stad te verlaat en sodoende sy lewe te spaar. Petrus was aanvanklik onwillig om te vertrek, maar is uiteindelik deur hulle oortuig om te vlug. Toe hy by die stadspoort gekom het, het Jesus volgens oorlewering aan hom verskyn, en Petrus het in eerbied aan Hom gevra: “Here, waarheen gaan U?” –  waarop Hy geantwoord het: “Ek het weer gekom om gekruisig te word.” Petrus het na aanleiding hiervan verstaan dat hy sy lyding ter wille van Christus moes aanvaar, en het dadelik teruggedraai na die stad toe. Hy is kort daarna gekruisig, maar op sy eie versoek is hy onderstebo gekruisig. Hy het gesê dat hy onwaardig was om op dieselfde manier as die Here Jesus gekruisig te word.

Dit is slegs wanneer ’n mens se oë op jou ewige bestemming in die hemel gerig is dat jy die Here Jesus onvoorwaardelik sal volg en dien – ongeag wat die koste daarvan mag wees. Vervulling met die Heilige Gees is ’n absolute vereiste vir ’n lewe van volkome diens aan die Here, asook vreesloosheid vir die gevolge daarvan – selfs al beteken dit ʼn marteldood. Petrus het ná sy bekering ’n ooglopende ervaring van vervulling met die Heilige Gees gehad. Alhoewel die Heilige Gees in die eerste eeu eenmalig uitgestort is, moet elke gelowige eers ʼn tyd van verootmoediging en selfondersoek hê sodat sy hart gereinig kan word van sonde en vleeslikheid – dan sal die Heilige Gees in al sy volheid besit van hom neem.

Kan jy ook van die vervulling met die Heilige Gees getuig en wandel jy steeds deur die Gees? Daarsonder sal jy nie vaste oortuigings hê nie, deur elke wind van lering meegesleur word, maklik voor die geringste teëstand swig, en bo alles nie geskik wees om as ʼn getuie vir die Here Jesus op te tree terwyl Hy talm om te kom nie. Ons moet ook, soos die 120 getroue volgelinge van Jesus in die bokamer, wag op die Here totdat ons toegerus is met krag uit die hoogte. Dan alleen sal ons met vertroue die moeilike taak kan aanpak wat Hy aan ons opgedra het.