Deur Roger Oakland, Understand the Times, Kanada
Ons leef in ‘n kritieke tyd van die kerkgeskiedenis. Die Woord van God word só skeef vertolk dat dit ernstige verdeeldheid bring. Die waarheid daarvan word gekompromitteer en afgewater. Ekumeniese en ander valse leerstellings word ter wille van eenheid en kerkgroei aanvaar. Die evangelie van Jesus Christus word verdraai om dit minder veroordelend teenoor sondaars te maak, en dus meer aanvaarbaar.
Kerke wat in ‘n stadium die Bybel getrou, vers-vir-vers verkondig en die gemeente op die spoedige koms van Jesus Christus voorberei het, gebruik nou metodes om hulle dienste meer soeker-vriendelik te maak, terwyl hulle minder begaan oor die tekens is wat aandui dat ons in die laaste van die laaste dae leef. Predikers en kerke wat vroeër geglo het dat kerkgroei van geestelike opbouing afhanklik is, asook die toerusting van gelowiges om die evangelie aan die ongereddes te verkondig, wend hulleself nou tot humanistiese metodes om groot massas mense met ‘n verbruikersvriendelike evangelie te trek. Dit is daarop ingestel om uit te vind wat mense graag wil hê, en dit dan aan te bied sodat hulle kerk toe kan kom.
Gemeentes wat in die verlede deur predikers gelei is wat aan Bybelse waarhede toegewy was, verkry nou die dienste van kundiges wat sekulêre beginsels uit die sakewêreld gebruik om hulle doelstellings te bereik en sukses te behaal. In plaas van om die Here Jesus en sy Woord te volg, soek predikers en kerkleiers na suksesvolle manne en metodes, en word sodoende deel van ‘n beweging wat op beginsels gebaseer is wat vreemd aan die Skrif is. Dit is ook opvallend dat wanneer kerkleiers humanistiese metodes gebruik om die koninkryk van God op aarde uit te brei, en hulle deur besorgde gelowiges oor die gevare verbonde aan hulle metodes gewaarsku word, dan brandmerk hulle hierdie gelowiges as mense wat verdeeldheid skep.
Predikers wat vroeër Bybelse onderrig gegee het, soek nou na nuwe metodes om mense na hul gemeentes te lok, bv. buite-Bybelse ondervindings, asook die skep van ‘n spesiale atmosfeer deur kerse en wierook te brand, beelde in die kerk te bring en Roomse sakramente te bedien. Wanneer mense hulle misnoeë hiermee te kenne gee omdat dit tot ‘n bondgenootskap met die Rooms-Katolieke Kerk lei, word dié persone as struikelblokke beskou vir die aanvaarding van die ‘nuwe dinge’ wat die Here na bewering besig is om te doen om ons geslag te bereik.
Dit is vir sommige mense duidelik dat ons by ‘n nuwe kruispad in die kerkgeskiedenis is. Die paaie loop uitmekaar, en wat hou die toekoms in? Is daar predikers wat gaan opstaan en hulle stemme laat hoor as hulle sien dat daar ‘n verkeerde koers ingeslaan word? Sommige van hulle sê egter dat ‘n mens nie negatief moet wees nie – jy moet dit verkondig waaraan jy glo, sonder om dié dinge te noem wat verkeerd is. Miskien is dit nodig om weer te lees wat die Ou Testamentiese profete gesê het. Wanneer die volk van God af weggedwaal het, het hulle nie gemaklik daaroor gevoel nie omdat hulle duidelik en reguit oor hulle dwalings aangespreek is.
As ons regtig glo dat die koms van die Here Jesus naby is, watter houding moet ons dan inneem? Moet ons metodes vir sukses navolg wat groot gemeentes met oppervlakkige gelowiges oplewer, waarvan die meeste lidmate aan die slaap sal wees wanneer Jesus kom? Behoort die leiers nie die basuin te blaas en mense te waarsku dat die Here se koms baie naby is nie? Dit is nou ‘n tyd waarin predikers en kerkleiers besluite moet neem oor die koers wat hulle wil inslaan. Dit is ‘n tyd waarin die Woord van die Here met oortuiging verkondig moet word. Die Here Jesus kom gou!
Bron: http://www.understandthetimes.org/openletter.shtml
Die ope brief wat hierbo aangehaal is, is ‘n ernstige en noodsaaklike waarskuwing aan die moderne, kompromiemakende kerk. Die eindtydse kerk is geheel en al humanisties en materialisties, en is daarop ingestel om die mens te verhoog en te verheerlik, eerder as vir God. Dit is altyd die “ek” wat sy persoonlike ambisie wil vervul en groot dinge wil doen, ook in ‘n Christelike verband, eerder as om ‘n gehoorsame, kruisdraende dissipel te wees wat die Here volg waarheen Hy hom ook al lei. Die ware dissipel is ‘n dienskneg van Jesus Christus wat op die Heilige Gees staat maak om hom te vervul en toe te rus, eerder as om sy toevlug tot humanistiese metodes soos motiveringspraatjies te neem wat meer sielkundig as geestelik is, en deur die belofte van wêreldse sukses in al jou ondernemings voortgedryf te word.
Aangesien die mens en sy aardse blydskap die basiese mikpunt van die soeker-vriendelike kerk is, word godsdiens op ‘n eklektiese manier beoefen deur oral idees te kry en dit dan bymekaar te bring. Die Woord van God word só aangebied dat al die seëninge vir gelowiges beklemtoon word, terwyl goddelike opdragte wat as negatief vir die mens se selfbeeld beskou word, geïgnoreer word asof hulle nie bestaan nie. Laasgenoemde sluit selfverloëning in deur die vleeslike natuur aan Christus oor te gee en vir die wêreld en vir sonde gekruisig te word (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Dit vereis ‘n ingesteldheid waarin jy jou eie onwaardigheid voor God erken, asook die bewussyn dat Christus aan die kruis gesterf het om die doodstraf vir jou sonde te betaal. Uit hierdie kennis spruit die behoefte om weergebore te word en jou met die nuwe mens te beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24).
Die groot doel van ons lewe moet wees om heilig voor die Here te leef. Die verdorwe dinge van hierdie bose wêreld moet afgelê word (Ef. 4:22), insluitende die onwaardige rock-musiek wat so gewild in baie van die moderne mega-gemeentes is. Ons kan nie twee here dien deur die beste van twee wêrelde te hê nie. Die huidige wêreld is inherent boos en lynreg teenoor die koninkryk van God ingestel (Joh. 15:18-20; 16:33). In hierdie bedeling moet ons bereid wees om die verwerpte en gekruisigde Christus te volg, en ook vir sy Naam te ly as ons aan Hom getrou wil bly. As ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verheerlik word en saam met Hom regeer wanneer sy koninkryk geopenbaar word (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12; 3:12). Aan gelowiges wat nie na aardse eer en aanvaarding soek nie, is die belofte van Christus se spoedige wederkoms baie belangrik en behoort dit ook gereeld verkondig te word.
Die valse godsdiensstelsel van die eindtyd neem by die dag meer vorm aan. Die volgende is sommige van die kenmerke daarvan: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Matt. 24:11-13). “Want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:3-5).