Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2011)
Die Here Jesus het nie net na die aarde gekom om die losprys vir die redding van sondaars te betaal nie – Hy het ook voorsiening vir ons behoeftes ná bekering gemaak. Daar is sekere duidelike opdragte wat Hy aan al sy dissipels gegee het, asook beloftes wat ons in staat stel om daardie opdragte uit te voer. Daar is vyf basiese opdragte wat almal van ons moet uitvoer:
Die vervulling met die Heilige Gees is nie ‘n opsionele ekstra nie, maar ‘n uiters noodsaaklike deel van ons geestelike toerusting: “Want dit is die wil van God, julle heiligmaking... Hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3,8).
Die dissipels se heel eerste opdrag nog voordat hulle met die taak van evangelisasie begin het, was om met die Heilige Gees vervul te word. Die Heilige Gees was reeds in hulle lewens teenwoordig en hulle het die vrede van sondevergifnis gehad. Die Sondag toe die Here Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy sy dissipels ontmoet, op hulle geblaas en gesę: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:22). Hulle was toe egter nog nie met die krag van die Heilige Gees toegerus wat noodsaaklik was om geestelik te kon groei en vir die Here te werk nie.
Ná die hemelvaart van die Here Jesus het die dissipels hulleself vir tien dae lank verootmoedig en op die uitstorting van die Heilige Gees gewag. Dit het ‘n geweldige verskil in hierdie jong gelowiges se lewens gemaak, want hulle is met krag uit die hoogte toegerus wat hulle bruikbaar in die Here se diens gemaak het. Hulle het ‘n duidelike belofte hieroor gehad: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).
Hierdie geestelike toerusting was uiters belangrik vir die dissipels, want dit het hulle as mense van God volkome gemaak, vir elke goeie werk volkome toegerus. Die volheid van die Heilige Gees het hulle in staat gestel om tot geestelike volwassenheid op te groei, om verligte oë van die verstand te hę sodat hulle die Woord van die Here kon verstaan, om die evangelie met oortuiging in ‘n vyandige węreld te kon verkondig, en om teen al die aanslae en versoekings van die Bose te kon oorwin.
Wat gebeur as ‘n Christen nie die vervulling met die Heilige Gees deelagtig geword het nie? Dan blokkeer die ongekruisigde eie-ek die werk van die Heilige Gees in sy lewe, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Sulke mense het nie insig in die Woord van die Here nie, en ook nie ‘n groot liefde vir Bybelstudie nie. Hulle is navolgers van ander mense omdat hulle nie deur die Heilige Gees in die hele waarheid gelei word nie. Die een sę: “Ek is van Paulus” en die ander: “Ek van Apollos” omdat hulle nie deur die Heilige Gees toegewyde volgelinge van Christus is nie.
Omdat die krag van die Heilige Gees in hulle lewens ontbreek, kan hulle nie teen die versoekings en rykdom van die węreld staande bly nie, hulle het nie vrymoedigheid om die evangelie reg te verkondig nie, hulle harte is nie met die liefde van Christus vervul nie, daarom is hulle gedurig slagoffers van twis, jaloersheid en tweedrag, en hulle het ook nie ‘n duidelike wederkomsverwagting nie. Vleeslike Christene is geen bate vir die kerk van Christus nie.
Die Heilige Gees lei ons in die hele waarheid van God se Woord en Hy verkondig ook die toekomstige dinge aan ons (Joh. 16:13). Hy is besig om vir die Here Jesus ‘n bruid op aarde te versamel en haar te heilig sodat sy sonder vlek of rimpel voor die hemelse Bruidegom kan verskyn. Hy is die olie in die lamp van haar getuienis, en stel haar in staat om te skyn soos ‘n lig te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Sy moet daarteen waak om nie té laat agter te kom dat sy té min van die olie van die Heilige Gees in haar lewe het nie, want dan sal haar lamp ook soos dié van die dwase maagde uitgedoof raak.
Dit is ‘n opdrag van die Here Jesus dat ons ‘n Christelike perspektief op die lewe moet hę. Die vertrekpunt van ons nuwe lewe is die kruis van Christus en die mikpunt daarvan ons vereniging met Christus wanneer Hy ons kom haal. Die twee belangrike verwysingspunte van ons aardse lewe is dus die eerste en tweede koms van Jesus Christus, en in die lig van hierdie twee gebeurtenisse moet ons lewe sy diepste betekenis verkry.
Elke keer wanneer ons Nagmaal vier, word hierdie perspektief vernuwe: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). Die kruis van Christus bly altyd die vertrekpunt van ons lewe, daarom hou ons aan om Christus te verkondig, en Hom as die gekruisigde. “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:25). Ons moet daagliks met die kruis van Jesus identifiseer, deur wie die węreld vir ons gekruisig is en ons vir die węreld (Gal. 6:14).
Ons moet ook gedurig vorentoe kyk en die wederkoms van die Here Jesus verwag. Hy het gegaan om vir ons plek in die hemel te berei, en het belowe om ons te kom haal en na Hom toe te neem. Met die oog op ons ewige lewe moet ons skatte in die hemel bymekaarmaak en gereed maak om voor die regterstoel van Christus rekenskap van ons lewe op aarde te gee. Baie Christene het nie ‘n duidelike wederkomsverwagting nie, hulle lewe hoofsaaklik vir die dinge van hierdie węreld, en bou gevolglik met verganklike dinge soos hout, hooi en stoppels op die fondament van hulle bekering. Hulle sal eendag met leë hande voor die Here staan, gered asof deur vuur heen.
Indien jy egter die regte Christelike perspektief en toekomsverwagting het, sal jy vir die Here Jesus lewe en aktief sy koms verkondig. Jy sal in konflik met die verdorwe beginsels van die węreld wees en voortdurend daarteen stryd voer terwyl jy op die koms van die Here se koninkryk wag. Paulus het vir Timótheus gesę dat hy van die geldgierigheid en węreldse begeerlikhede moes wegvlug en homself vir die koms van die Here se ewige koninkryk beywer: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelę het” (1 Tim. 6:9-12).
Ons moet ook na die hemelse lewe gryp waartoe ons geroep is. Ons moet besef “ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21). Die hoop op sy wederkoms is ‘n reinigende hoop, want elkeen wat die hoop op sy koms het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:2-3). Die einddoel van ons lewe is om aan Hom gelykvormig te word.
Christene wat nie ‘n duidelike wederkomsverwagting het nie, stel vir hulleself aardse doelwitte en jaag dit na. Sommige van hulle mis heeltemal die doel waarvoor Christus hulle as sy dissipels geroep en toegerus het, omdat hulle nie ‘n duidelike bewussyn van hulle bestemming het nie. Hulle bou aan ‘n aardse koninkryk, jaag rykdom na en leef net vir die dinge van hierdie verganklike węreld. Die gevolg hiervan is dat baie min van dit wat hulle doen, ewigheidswaarde het. Dit is hulle wat met leë hande voor die Here sal verskyn.
Die Groot Opdrag aan die kerk van Christus is om die hele węreld te evangeliseer (Hand. 1:8). Een van die belangrikste redes waarom die Heilige Gees uitgestort is, is as om Christene toe te rus om hierdie groot taak uit te voer. Die Here Jesus het vir al sy dissipels gesę: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Ons is almal gestuur om hierdie taak uit te voer. Die enigste verskil tussen ‘n predikant en ‘n gewone lidmaat van ‘n gemeente is dat die predikant voltyds uitvoering aan hierdie opdrag gee, en die gemeentelede deeltyds.
Ons moet almal vrugte dra wat by die bekering pas, daarom gaan die Here voor sy regterstoel aan ons vra wat ons met ons talente, tyd en geld gedoen het. Het ons die saak van sy koninkryk op aarde bevorder of nie? Wanneer ons hiermee besig is, dan ervaar ons die teenwoordigheid van die Here Jesus op ‘n besondere wyse in ons lewe. Saam met die sendingopdrag het Hy die belofte van sy onafgebroke teenwoordigheid aan sy dissipels belowe: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die węreld” (Matt. 28:20).
Daar is twee sake in verband met evangelisasie wat baie belangrik is. Die eerste is dat ons almal op een of ander wyse by evangelisasie betrokke moet wees, ongeag of ons self die evangelie verkondig en of ons finansiële en ander ondersteuningsdienste aan ander bedienings lewer. Ons tweede verantwoordelikheid is opvolgwerk. Die Here Jesus het ten opsigte van die bekeerlinge gesę: “...en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19).
Stap jy ‘n pad met jong bekeerlinge en help jy hulle om met Bybelstudie op dreef te kom? Hulle moet self dissipels word wat van die vervulling met die Heilige Gees kan getuig, en wat daarna in genade en kennis gegroei het (2 Pet. 3:18). Dan eers sal hulle in staat wees om ook van ander mense dissipels te maak. Dit is ‘n ontstellende feit dat die meeste bekeerlinge in groot evangelisasieveldtogte weer terugval omdat daar nie behoorlike opvolgwerk gedoen word nie.
Daar was twee belangrike redes waarom die dissipels met krag uit die hoogte toegerus moes word. Die eerste was om vrymoedigheid te hę om die evangelie te kan verkondig: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees.” Die tweede rede staan in verband met geestelike oorlogvoering: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).
Christene wat nog nie met die Heilige Gees vervul is nie, het nie hierdie krag tot weerbaarheid nie en is gevolglik maklike slagoffers vir versoeking en misleiding. Die opdrag aan die Efesiërs om kragtig te word in die Here, dui op ‘n bepaalde ervaring waarna hulle moes soek en waarvoor hulle moes bid (vgl. ook Ef. 5:18). Dit het nie sommer net vanself gekom nie – hulle moes ‘n volle oorgawe maak sodat die Gees hulle kon vervul en bekragtig om oorwinnaars in die stryd te wees. Christene wat nog nie hierdie stap geneem het nie, lei ‘n lewe van val en opstaan en beweeg eerder van neerlaag tot neerlaag as van oorwinning tot oorwinning.
Ons het duidelike opdragte waaraan ons gehoor moet gee: “Word kragtig in die Here... Trek die volle wapenrusting van God aan... Bied weerstand in die dag van onheil... Staan vas in God se waarheid en geregtigheid... Neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose kan uitblus... Neem die swaard van die Gees op [wat] die Woord van God is... Bid by elke geleentheid in die Gees” (Ef. 6:10-18).
Petrus beklemtoon ook hierdie groot stryd waarin ons staan: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9). Die teëstand wat ons bied, moet altyd net in die krag van die Heilige Gees wees: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7).
Paulus wys op die feit dat ons geestelike weerbaarheid met die gebruik van bepaalde wapens in verband staan: “Die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:4-5). Ons moet vaardig in die gebruik van hierdie wapens word, en dit vereis ‘n voortgesette proses van geestelike groei in ons lewe. Die Bybel noem die volgende wapens:
Eerstens die wapen van geloof. My geloofsverhouding met die Here moet baie sterk en onwankelbaar wees, sodat ek my vertroue onder alle omstandighede volkome in Hom sal stel om van my meer as ‘n oorwinnaar in die Here Jesus te maak. Ek moet weet en glo dat Hy wat in my is, groter en sterker is as hy wat in die węreld is (1 Joh. 4:4). Sonder ‘n sterk geloof in die Oorwinnaar is ek ’n twyfelaar en gevolglik weerloos in die stryd teen sonde en ongeregtigheid. Johannes sę: “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die węreld; en dit is die oorwinning wat die węreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die węreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Joh. 5:4-5).
Tweedens is daar die wapen van die bloed van die Lam. Hy het sy bloed gestort en sy lewe aan die kruis afgelę “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel” (Heb. 2:14). “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Gedurende die groot verdrukking, wanneer die duiwel met dubbele woede onder mense op aarde werksaam sal wees (Op. 12:12), sal die Christene van daardie tyd wél almal fisies as martelare sterf, maar geestelik sal hulle die Antichris “oorwin deur die bloed van die Lam” (Op. 12:11).
Derdens is daar die woord van ons getuienis, wat ‘n uiters belangrike rol in die lewe van ’n Christen speel. Ons het ‘n staande opdrag om die Here Jesus se getuies in ‘n donker en goddelose węreld te wees. Hierdeur is al baie oorwinnings vir die kruis behaal en is die koninkryk van die hemele op ‘n kragtige wyse in baie węrelddele uitgebrei. Sonder Christelike getuienis en prediking sou miljoene mense in geestelike duisternis voortgeleef het, met hulle sinne wat deur die god van hierdie węreld [die duiwel] verblind word (2 Kor. 4:4).
Vierdens is daar gebed as ‘n magtige geestelike wapen wat die Here aan ons gegee het: “Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag” (Jak. 5:16). Gebed werk saam met geloof: “...hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak. 1:6-7). Om oorwinnende gebede te kan bid, moet ons “toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete” (Heb. 10:22). Ons moet dus rein en heilig leef. Ons moet ook in die Bybel vasstel wat die wil van die Here is, en in ooreenstemming daarmee bid: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh. 5:14).
Vyfdens is daar die Bybel wat ‘n belangrike deel van die Christen se geestelike wapenrusting is. Paulus noem dit die swaard van die Gees (Ef. 6:17). Dit is ‘n lewende en kragtige woord wat tot diep in my lewe indring en sy oortuigingswerk daar doen: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12). Dit beoordeel alle gedagtes as goed of kwaad, en werk saam met my gewete om aan my te toon wat reg en verkeerd is. Wanneer ons die Woord verkondig, is die evangelie van Jesus Christus ‘n dinamiese krag tot redding vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Dit het die vermoë om elke ongeredde persoon uit satansmag te verlos as hy daaraan glo (Jak. 1:21).
Is jy besig om saam met Jesus Christus oorwinnings vir sy koninkryk te behaal, of verbeur jy dalk die krag van die Heilige Gees in jou lewe? As dit die geval is, sal jou lewe deur neerlae, moedeloosheid en mislukte pogings gekenmerk word. Kom dan na die Here Jesus en bid vir ‘n nuwe toerusting met krag uit die hoogte.
Ons het ‘n duidelike opdrag om op die pad van die Here te volhard. Die Here wil nie hę ons moet die aanslag teen die Christendom onderskat, moedeloos word, uitsak en die stryd gewonne gee nie. Dit is waarom Hy aan ons die krag van die Heilige Gees, asook ‘n geestelike wapenrusting, gegee het om ‘n oorwinnende stryd te kan stry. Ons moet na die lewens van groot geloofshelde kyk, maar veral na die voorbeeld van Jesus self, en doelgerig volhard tot die einde toe:
“Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflę en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lę, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:1-4).
Daar is ongelukkig baie mense wat dink ons hoef nie op die pad van die Here te volhard nie omdat niemand ons ooit volgens Johannes 10:28 uit sy hand kan ruk nie. Hulle vergeet egter dat elke belofte van die Here aan ‘n voorwaarde gekoppel is. Die belofte van ewige sekerheid in Johannes 10:28 is gekoppel aan die voorwaarde in die vorige vers: “My skape luister na my stem... en hulle volg my.” Hierdie werkwoorde is in die onvoltooide tydsvorm geskryf, daarom staan daar dat die Here Jesus se dissipels aanhou om na sy stem te luister en ook aanhou om Hom te volg. Net hulle is van ‘n ongebroke verhouding met die Here verseker.
Wat gebeur met diegene wat nie volhard om die Here te dien en te volg nie? Hierdie vraag word in Johannes 15 beantwoord: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4-6). Ons moet onsself dus daaraan verbind om in Christus te bly. Hy sal ons nie verlaat nie, maar ons kan Hóm verlaat en soos die verlore seun weer die dwaalweë van die węreld gaan bewandel.
In Openbaring noem Johannes diegene wat op die weg van die Here volhard, die oorwinnaars. Dit is dus nie bloot die gelowiges wat alles sal beërf nie, maar hulle wat volhard tot die einde toe. Jesus sę: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Dit is net die oorwinnaars wat saam met Hom sal regeer.
Aan gelowiges in ‘n ander gemeente sę Christus: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). Gelowiges wat terugval, kan die loon verbeur wat hulle weens hulle vroeëre toewyding aan die saak van die Here kon verkry het. Johannes sę in sy tweede sendbrief, in vers 8: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang.”
Paulus sę aan die afvallige Hebreërs, waarvan baie weer in sonde begin leef het: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:12-14). Vir die Kolossense het hy gesę dat hulle heilig en sonder gebrek voor Christus gestel sal word as hulle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en hulle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie (Kol. 1:22-23).
Ons kan met groot vrymoedigheid die smal pad bewandel en die take uitvoer wat die Here Jesus aan ons opgedra het, omdat daar saam met elke opdrag ook beloftes van voorsiening gegee word. Ons het die opdrag om die węreld te evangeliseer, maar saam met dit die beloftes dat die Heilige Gees ons met krag uit die hoogte sal versterk, in die hele waarheid sal lei, aan die woorde van Christus sal herinner, die toekomstige dinge aan ons sal verkondig, en verligte oë van die verstand sal gee om die verborgenhede van die evangelie te kan verstaan.
Ons het ook die opdrag om alle aanslae van die Bose, vleeslike hartstogte, versoekings, asook geestelike misleiding deur die vyand en sy medewerkers, te weerstaan en te oorwin. Hiervoor het ons die beloftes van geestelike bekragtiging, die gebruik van die onoortreflike wapens van die lig, en ook die vaste versekering dat die Here ons nooit sal begewe of verlaat as ons in Hom bly en op die regte pad volhard nie. As ons sy koninkryk en sy geregtigheid soek, sal Hy in elke behoefte van ons voorsien na die rykdom van sy genade.
Die hoop op die wederkoms van Christus is ‘n anker vir die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die heiligdom (Heb. 6:19). Laat ons met vaste treë voortgaan op die nuwe en lewende weg wat by sy kruis begin het, en doelgerig tot by Christus se wederkoms voortgaan – dan sal ons mede-erfgename van ‘n koninkryk van geregtigheid wees wat vir ewig sal standhou.