Prof. Johan Malan, Mosselbaai, (Augustus 2012)
Die finale openbaring van die Lam sal plaasvind by sy wederkoms wanneer Hy in mag en majesteit na die aarde sal terugkeer om sy vyande te oordeel by die slag van Armagéddon, die Antichris en valse profeet tot die poel van vuur te verdoem, die duiwel in ’n put te laat bind en toesluit, ’n oorblyfsel van Israel en die nasies te red, en sy vrederyk op aarde te vestig. Baie van hierdie groot eskatologiese gebeure word in die boek Openbaring beskryf, en ’n mens sou verwag dat Johannes voorkeur sou gee aan koninklike titels om Christus in sy verhewe posisie as God en Koning te beskryf – maar hy verwys hoofsaaklik na Hom as die Lam.
Die basis vir Christus se oorwinning en heerskappy is inderdaad te vinde in sy hoedanigheid as die Lam van God wat sy lewe afgelê het om ’n verlore mensdom te red deur die doodvonnis vir hulle sonde aan die kruis te dra. Sodoende het hy hulle van die mag en aanspraak van die Bose verlos. In die boek Openbaring word Hy 26 keer as die Lam beskryf. Ander name en beskrywings word ook gebruik, maar sy posisie as die Lam is oorheersend in hierdie laaste Bybelboek.
Dit is baie betekenisvol om te let op die manier waarop die Lam van God tydens sy wederkoms geopenbaar sal word wanneer Hy sy koninkryk sigbaar op aarde sal vestig. Die volgende stellings in die boek Openbaring hou verband met aspekte van sy wederkoms:
Die eersgeborene uit die dode. Die boodskap in Openbaring kom van: “Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Op. 1:5-6). Hy is die getroue getuie oor alle dinge in die verlede, hede en die toekoms. Hy het ons deur sy bloed gereinig en aan ons ’n groot en wonderlike toekoms in sy koninkryk gebied. Hy is die eersgeborene uit die dode, daarom weet ons dat ons ’n lewende Christus dien wat voor alle dinge reeds bestaan het, en ook die einde van alle dinge in sy hand hou. Hy wil hê gelowiges moet daarvan kennis neem dat Hy “die eerste en die laaste [is], wat dood was en lewend geword het” (Op. 2:8). Hy het ter wille van ons gesterf en weer opgestaan, en in die proses ook die laaste vyand van die dood oorwin. Almal wat in Hom glo, sal deur die dood van die liggaam geen skade ly nie, maar opstaan uit die dood en vir ewig in God se koninkryk lewe.
Hy is die Alfa en die Oméga – die almagtige God van alle eeue. “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige” (Op. 1:8). Christus is die Eersgeborene van die hele skepping; Hy is voor alle dinge en in Hom hou alle dinge stand (Kol. 1:15-17). Hy sal ook die einde van die huidige wêreld meebring wanneer Hy alle dinge nuut maak. Baie eeue voor die menswording van Christus, het Jesaja gesê dat ’n Seun in Israel gebore sou word wat sterke God en Vredevors genoem sou word en dat Hy van die troon van Dawid af sal regeer (Jes. 9:5-6).
Hy sal in ’n koninklike en priesterlike kleed verskyn as Regter, Koning en Priester. Sy heerlikheid sal groot wees, sy kennis volmaak, sy insig sonder perke, sy oordele streng en sy genade grensloos. In sy visioene oor die toekoms beskryf Johannes die verheerlikte Christus só: “Toe [sien ek] tussen die sewe goue kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Op. 1:12-15).
Die Lam is deur die Heilige Gees in die midde van sy kerk en ken al hulle werke. Deur sy dissipel Johannes het Jesus boodskappe aan sy kerk op aarde gestuur: “Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars: Ek ken jou werke” (Op. 2:1-2). Hy ken al ons dade en selfs die mees verborge gedagtes en bedoelings van ons harte, en sal ons in die lig daarvan beoordeel.
Sy Woord is die finale gesag tussen reg en verkeerd. “Dit sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het” (Op. 2:12; vgl. Heb. 4:12). Aangesien Christus self die Woord is wat vlees geword het (Joh. 1:14), sal Hy alle mense oordeel. Die woorde wat uit sy mond uitgaan, kan seën én oordeel bring. Hy sê: “Bekeer jou, anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle [die misleide mense] oorlog voer met die swaard van my mond” (Op. 2:16; vgl. 19:21).
Hy sal alle moedswillige en onbekeerlike sondaars in ’n groot verdrukking laat beland. Daar is baie sulke mense, ook in vervalle kerke, en hulle sal agtergelaat word wanneer die Bruidegom kom om sy bruidsgemeente weg te neem. Daarom, “laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).
Christus is die groot Oorwinnaar, en Hy verwag van sy volgelinge om ook oorwinnaars te wees wat in sy geregtigheid volhard tot die einde toe. “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf” (Op. 2:25-27).
Hy belowe aan sy getroue dissipels ontvlugting uit die komende verdrukking, asook beloning in die hemel. “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in [Eng. “from”, m.a.w. uit] die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:10-11; vgl. Luk. 21:36).
Die heiliges sal na die hemel geroep en weggeneem word voordat die eerste seël van God se oordele gebreek word. Johannes het ’n stem aan hom hoor sê: “Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur” (Op. 4:1). In sy hemelse gesig het Johannes die verheerlikte kerk rondom die troon gesien, en dit bevestig die feit dat die wegraping voor die verdrukking sal plaasvind. Hierdie openbaring aan Johannes is gemaak ná die beskrywing van die kerk op aarde in Openbaring 2 en 3, en vóór die breek van die eerste seël van die verdrukking in Openbaring 6:1-2.
Christus is op sy troon in die hemel, gereed om die heiliges op te wek, te verheerlik en te beloon, en daarna die sondaars te oordeel. “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Op. 5:13). Johannes sê: “U toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf” (Op. 11:18).
Die heiliges sal roem in die gestorte bloed van die Lam waardeur hulle gered en geheilig is, en erken dat net Hy waardig is om die boek van God se oordele oop te maak en die goddeloses te oordeel. “Die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. ... En toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer. ... Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:5, 8-10). Die Leeu uit die stam van Juda, Emmánuel (God met ons) wat mens geword het in die koninklike familie van Israel, het eers op die toneel verskyn in die gedaante van ’n nederige dienskneg en Lam van God om Homself aan te bied as ’n soenoffer vir die sondes van die wêreld. Net Hy het ’n Godgegewe reg om alle mense te oordeel wat die Here se aanbod tot verlossing geminag het, daarom kan Hy die boek oopmaak en die goddeloses oordeel. Die mag van die koninkryk van die duisternis sal volkome verbreek word. Diegene wat aan die Lam behoort, sal roem in die feit dat Hy hulle met sy bloed gekoop het. Hulle sal mede-erfgename wees van die koninkryk van die Leeu van Juda, wat van Dawid se troon af uit die stad van die groot Koning sal regeer. Hieruit is dit duidelik dat die Lam wat in Israel gebore is, ’n wêreldwye sending het en ook ’n wêreldwye koninkryk.
Die breek van die eerste seël van die Lam se oordele sal daartoe lei dat die misleide wêreld onderwerp sal word aan die gesag van ’n valse vredevors, die Antichris. “En ek het gesien toe die Lam een van die eerste seëls oopmaak. ... En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Op. 6:1-2). Die Lam is op die troon in die hemel, en ’n nabootser wat voorgee om ’n wêreldmessias te wees, word op aarde losgelaat om die mensdom te mislei en te verenig deur middel van ’n ideologie van politieke, godsdienstige en ekonomiese globalisme (vgl. Op. 13).
Die heiliges in die verdrukking sal hulle klere was in die bloed van die Lam (Op. 7:14). Hoewel hulle as martelare sal sterf (Op. 6:9-11), sal hulle die Antichris geestelik oorwin deur die krag van die Lam: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewens nie liefgehad nie (Op. 12:11). Hulle getuienis sal tot ’n marteldood lei, maar hulle sal nie daarvoor terugdeins nie.
Ongeëwenaarde oordele sal uitgestort word oor die Antichris en sy bose volgelinge wat sy God-verwerpende nuwe wêreldorde aanvaar het. Wanneer vernietigende aardbewings en ander natuurrampe die aarde tref, sal die mense weet dat dit goddelike oordele is omdat hulle die Lam van God se oproep tot bekering verwerp het: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17). Die toorn van die Lam wag vir almal wat hulle harte verhard en die Here se aanbod van genade en vergifnis verwerp het. “Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam het?” (Heb. 2:3).
Die finale oordeel van die Lam oor die Antichris en sy multinasionale gevolg sal kort, beslissend en vernietigend wees, omdat hulle te staan sal kom voor Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het. “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).
Die duiwel sal gebind word omdat hy nie toegelaat sal word om enige rol te speel in die Lam se duisendjarige vrederyk nie. “En ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie” (Op. 20:1-3).
Wanneer die Lam ná sy wederkoms sy koninkryk op aarde openbaar, sal sy bruilofsmaal hier op aarde gevier word, en dan sal Hy sy bruid vertoon wat saam met Hom sal regeer. “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:7-9). Paulus het ook reikhalsend na hierdie dag verlang: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).
Die bruid van Christus verteenwoordig al die heiliges van alle tye, insluitend die martelare van die groot verdrukking, en hulle sal gedurende die Millennium saam met Christus regeer. “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:4-6). Die Loofhuttefees verwys profeties na hierdie wonderlike bedeling wanneer die volle oes van die koninkryk van die hemel onder alle nasies ingesamel sal wees. Geregtigheid en genade sal kenmerke van Christus se wêreldregering wees. Daar sal ware vrede onder die nasies wees, met geen vyandigheid of oorlogvoering enige plek op aarde nie. Regerings sal almal die Messias erken en gereeld afvaardigings na Jerusalem stuur om in sy weë van heiligheid onderrig te word (Jes. 2:2-4; Sag. 8:20-23). Die Lam sal wêreldwyd geëer word, en die gevolge hiervan sal oral gesien kan word: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). ’n Volledige geestelike transformasie van hierdie aard sal net kan gebeur as die heerlikheid van die Lam oral gesien en verkondig word, en die verleier van die nasies (Satan) gebind is en totaal daarvan weerhou word om die volke van die wêreld tot sonde aan te hits.
Vir ware gelowiges sal alle lyding en pyn tot ’n einde kom wanneer die Lam alles nuut maak en ook ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep. Vir die onregverdiges lê daar egter ewige smarte voor. “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Op. 21:2-8).
Toegang tot die nuwe Jerusalem kan slegs deur die Lam verkry word. “En die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versier met allerhande edelgesteentes. ... En die twaalf poort was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas” (Op. 21:18-21). Die stad en sy strate is van suiwer, deurskynende goud gebou. Die fondamente van die muur is met kosbare edelgesteentes versier wat wissel van kristalhelder stene tot dieprooi sardius, groen chrisoliet en vonkelende blou saffier. In die hoë mure rondom die stad is daar twaalf poorte, en elke poort bestaan uit ’n pêrel. Die idee van ’n traan word deur ’n pêrel vertolk, omdat sy vorming met pyn en lyding gepaard gaan. Wanneer die oester beseer word, vorm dit ’n skitterende pêrel op daardie plek. Toe Jesus se hande en voete deur ruwe spykers deurboor is en Hy sy lewe vir ons afgelê het aan die kruis, is die poorte van die paradys weer vir die gevalle mens geopen. Deur sy trane en lyding het Hy vir ons die kosbare pêrel geword wat self die poort na die nuwe Jerusalem is. Deur Hom kan ons ingaan en uitgaan en ons vir ewig in die heerlikheid van die Here verbly.
Die Lam sal die lig van die wêreld wees en ook God se heiligheid en heerlikheid uitstraal. “En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp” (Op. 21:22-23). Geen tempel sal in die stad van die groot Koning nodig wees nie, omdat die herhalende offers wat op die brandofferaltaar gebring is, slegs heenwysings was na die eenmalige offer van die Lam van God (Joh. 1:29). Die kandelaar in die tempel verwys na die Messias as die lig van die wêreld, en die toonbrode na Christus as die brood (of onderhouer) van die lewe. Die Allerheiligste en die Verbondsark verwys na God se genadetroon. ’n Helder lig sal uit die nuwe Jerusalem van God se troon af skyn en alle duisternis verdryf. Gedurende Christus se eerste koms was Hy ook die lig van die wêreld, maar mense het die keuse gehad of hulle Hom wou aanvaar of verwerp. “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). Eers nadat die magte van die duisternis vernietig is deur die goddeloses te oordeel, die Antichris en die valse profeet tot die vuurpoel te verdoem en die duiwel in ’n put te bind, sal die Messias se lig tot by die uithoeke van die aarde skyn om die lewens van alle mense te verlig.
Daar sal geen boosheid meer in die wêreld wees nie. “En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid” (Op. 22:3-5). Dit sal die volmaakte toestand wees wat op die nuwe aarde sal bestaan.
Nou, in die laaste deel van die kerkdispensasie terwyl ons die vervulling van hierdie wonderlike beloftes afwag, leef ons in ’n tyd van toenemende geestelike en morele polarisasie in voorbereiding op die groot konfrontasie tussen die ware Christus en die Antichris. “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12). Die duiwel doen alles in sy mag om sy koninkryk uit te brei in voorbereiding op die verskyning van die Antichris, wat die selfverklaarde god en mens van sonde sal wees (2 Thess. 2:3-4). Mense wat hierdie nabootser sal aanvaar en navolg, sal diegene wees wat die ware Christus verwerp het deur sy maagdelike geboorte, Godheid, sondelose lewe, en die verlossende krag van sy kruisdood te verloën, asook die feit van sy opstanding uit die dood. Deur hierdie valse aannames word daar van Hom ’n “ander Jesus” gemaak, na wie ook as die “historiese Jesus” verwys word, en vir hulle was Hy net ’n profeet en nie God wat mens geword het nie. Hierdie postmoderne dekonstruksie van Jesus, asook die onbybelse attribute wat aan Hom toegeskryf word, sal deur die Antichris gebruik word om homself in die plek van Jesus as die universele messias van alle gelowe aan te bied. Hy sal homself ook tot God verklaar in die herboude tempel in Jerusalem en ’n beeld van hom in die Allerheiligste laat oprig (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). As die mens van sonde sal hy alle vorme van godslasterlikheid en immorele gedrag toelaat en ook bevorder. Terwyl hierdie voorbereidings aan die gang is, moet ware Christene in die teenoorgestelde rigting vordering maak deur meer heilig te word en meer toegewyd aan ons Verlosser, met die wete dat ons spoedig voor Hom sal verskyn om rekenskap van ons lewens te gee. Daar is geen plek vir sonde in ons lewe nie.
Die Seun van Dawid wat ook Here en Koning is. “Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid” (Op. 22:16). Ons moet nie vir Jesus net as die biologiese Seun van Dawid sien nie – Hy is ook Dawid se Here wat van alle eeue af bestaan. Die stelling oor die wortel van Dawid bevestig sy Godheid – Hy is die oorsprong en Here van Dawid! Sy hoedanigheid as die geslag van Dawid dui op sy menslike natuur – Hy is die Seun van Dawid. Die Joodse leiers kon nie hierdie groot waarheid verstaan nie, en daarom het die Here Jesus aan hulle gevra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê toe vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom ’n woord antwoord nie” (Matt. 22:41-46). Jesus Christus is die beloofde Messias wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is, die saad van Abraham, deur wie al die nasies geseën sou word (Gen. 22:18). Terselfdertyd is Hy egter die God van Abraham, Isak en Jakob, wat aan die Joodse leiers gesê het: “...voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58; Die NKJV lui: “...before Abraham was, I AM”). Paulus sê dat Christus na die vlees uit Israel gebore is, “Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!” (Rom. 9:5). Hy is volmaak God en ook volmaak mens omdat Hy beide die Seun van God en die Seun van Dawid is. Die engel het aan Maria gesê: “Jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32). In die eindtyd word die Godheid van die Here Jesus in ’n toenemende mate bevraagteken.
Gedurende tye van goddeloosheid en groot afvalligheid vanaf die waarheid, gee die Here Jesus aan ons hoop op ’n beter toekoms: “Ek is ... die blink môrester. En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom!” (Op. 22:16-17). Christus is self die belofte van ’n helder nuwe dag wat oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Petrus voeg hierby: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:19). Die môrester is veral ’n simbool van hoop – die verwagting van ’n nuwe dag wat weldra sal aanbreek. Ons het ’n hoopvolle toekoms in Jesus Christus. Ons kan verby die spanning en ontwrigting van die huidige lewe kyk na die strale van ’n helder nuwe dag wat deur die wederkoms van Christus ingelui sal word. Te midde van die ontwrigtende omstandighede van die huidige tyd kan ons sy naderende voetstappe in die tekens van die tye waarneem. Diegene sonder ’n Bybelse toekomsverwagting is nie in staat om wêreldgebeure geestelik te kan vertolk nie, en word gevolglik maklik tot wanhoop gedryf deur al die slegte nuus en donker vooruitsigte. Indien die Môrester egter in jou hart is, sal jy nie die slagoffer van donker gedagtes wees nie. Jy sal vir seker weet wat jou bestemming is en jouself doelgerig daarop voorberei. Ons moet daarna streef om na gees, siel en liggaam onberispelik voor die Here Jesus bevind te word wanneer Hy weer kom (1 Thess. 5:23-24).
Die Bybel sluit af met ’n finale uitnodiging aan almal om die ewige lewe te verkry. “En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). Die Here Jesus is die enigste water van die lewe vir ’n geestelik sterwende wêreld, en nooi ons uit om van hierdie water te drink: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” (Joh. 7:37). “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Op. 21:6). Hy het ook gesê: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie” (Joh. 4:14). Alle mense moet vir redding na die Here Jesus gelei word, omdat daar geen moontlikheid van verlossing buite Hom is nie (Hand. 4:12). Die uitnodiging vir redding moet baie duidelik en oortuigend gemaak word omdat elke mense ’n vrye wil het en dus in staat is om die aanbod te aanvaar, of dit selfs ook te verwerp indien hy of sy nie duidelik verstaan waaroor dit gaan nie. Die Here dwing niemand nie, en het ook nie net sekere mense vir saligheid uitverkies nie, daarom sê Hy: “Laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” Mense wat nie van hierdie vriendelike en vrye aanbod gebruik maak nie, staar ’n donker toekoms in die gesig. Gedurende die eerste eeu het Christus aan die inwoners van Jerusalem gesê: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak ... en julle wou nie” (Matt. 23:37). Die voortgesette geestelike misleiding en onkunde van Israel het na die verwerping van die Messias gelei, en dit was die finale oorsaak van die vernietiging van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode (Luk. 19:41-44; 21:44). Hulle het ’n geestelike droogte verkies bo die fontein van lewende waters. Dit is van kritieke belang om hierdie lewegewende boodskap aan alle mense op aarde te verkondig. In Openbaring 22:17 gaan daar ’n boodskap van bekering van die bruid af uit. Die Heilige Gees praat deur die Bybel en ook deur die boodskappe, persoonlike gesprekke en geskrifte van alle ware gelowiges. Ons is lede van die bruidsgemeente wat deur Christus geroep en deur die Heilige Gees toegerus is om die evangelieboodskap aan alle mense op aarde te verkondig (Hand. 1:8). Die verantwoordelikheid berus by die hoorders om op die boodskap te reageer. Dit is nie net in hulle eie belang nie, maar ook tot die eer van die Here om te verseker dat hulle dissipels van Christus word en nie vyande van Hom nie.
’n Waarskuwing aan almal wat die Woord van die Here verander of daarvan afwyk. Die heel laaste en baie ernstige waarskuwing in die Bybel is teen diegene wat die betekenis en integriteit van God se Woord aantas: “As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19). Die hele raad van God vir die mensdom is in die Bybel opgeteken (vgl. Hand. 20:27), en Openbaring was die laaste, letterlik geïnspireerde boodskap wat God aan alle mense op aarde gerig het. Ons word nie toegelaat om enigiets deur middel van buite-Bybelse boodskappe tot God se Woord toe te voeg nie. Dit is daarom uiters verwaand en hoogs misleidend wanneer mense beweer dat die Here aan hulle verdere boodskappe gegee het deur middel van drome, visioene, vreemde tale, hoorbare stemme, gesprekke met afgestorwenes, of inligting wat van engele af verkry is. Die Here het wel sommige van hierdie kommunikasiemetodes gebruik voordat die Bybel te volle geskryf is (vgl. Heb. 1:1), maar noudat ons ook die Nuwe Testamentiese openbaring van Jesus Christus het, word ons verbied om enigiets tot dit toe te voeg. Verder word ons ook nie toegelaat om iets uit die Bybel weg te neem deur bv. sommige aspekte en leerstellings daarvan te ontken, of stellings oor letterlike sake te allegoriseer en te vergeestelik nie. Mense wat op hierdie maniere van die waarheid van die Woord afwyk, is gewoonlik ook geneig om die letterlike vervulling van eindtydse profesieë te ontken, soos dié oor die wegraping, die volle herstel van Israel as ’n Messiaanse staat, die opkoms van die Antichris na ’n posisie van wêreldleierskap, asook die uitgiet van God se toorn gedurende die sewe jaar van die verdrukking. Hierdie gebeure word duidelik in die boek Openbaring beskryf, asook in ander profetiese boeke van die Bybel, maar word nie ernstig opgeneem deur skeptici en agnostici nie. Slegs gelowiges wat in die waarheid van God se foutlose Woord gewortel en gegrond is, het ’n vaste en onwankelbare geloof in Jesus Christus en al sy beloftes.
In die lig van Openbaring se ernstige boodskap het ons ’n baie groot verantwoordelikheid om God se verlossingsplan vir die mensdom deeglik te bestudeer. Die vertrekpunt hiervan is die offer van die Lam van God om die sondes van die mensdom weg te neem. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Hierdie geskenk moet in die geloof aangeneem word. Tesame met ’n oorgawe van onsself aan Hom, moet ons ons lewens deeglik ondersoek en alle sonde en vleeslikheid bely en laat staan. Daarna moet dit by ons ’n lewenswyse wees om gelykvormig te word aan die opstandingslewe van Christus, omdat net Hy ons in staat kan stel om in ’n nuwe lewe te wandel. Die toerusting met krag uit die hoogte is op Pinksterdag gegee toe die Heilige Gees uitgestort is, en is vandag nog steeds tot ons beskikking.
Indien ons van al hierdie seëninge kan getuig, en onsself ten volle oorgegee het om deur die Gees te wandel, moet ons inskakel by die uitvoering van die Groot Opdrag van wêreldevangelisasie. Terwyl ons dit doen, moet ons altyd daarvan bewus wees dat die bedeling van genade amper verby is. Spoedig sal die basuin blaas en ware gelowiges na die hemel weggevoer word (1 Thess. 4:16-17). Op aarde sal die sewe jaar van die verdrukking na die wegraping verloop, wat onbeskryflike smarte en lyding vir miljoene mense sal meebring wat die Lam se uitnodiging tot redding verontagsaam of verwerp het.
Aan die einde van die verdrukking sal die Messias terugkeer, sy voete op die Olyfberg sit, die oorblyfsel van Israel en die nasies red, en sy vrederyk instel. Hy sal deur sy heiliges vergesel wees wat voor die verdrukking na die hemel weggevoer is (Sag. 14:5).