Hoe is Mense in Ou-Testamentiese Tye Gered?

Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2016)

Alle mense van alle tye kan net op grond van die versoening van Jesus Christus gered word – dit geld ook vir gelowiges van die Ou Testament (OT). Voor die koms van Christus het God mense se sondes voorwaardelik vergewe, hangende die koms en soendood van sy Seun. Sy kruisiging het ook die toegerekende geregtigheid wat in Ou-Testamentiese tye aan bekeerlinge gebied is, bekragtig. Al die offers wat tydens die OT in die tabernakel en die verskillende tempels gebring is, het geen intrinsieke waarde met betrekking tot vergifnis, reiniging en versoening gehad nie, want dit was net voorbereidend van aard en dus skaduagtige heenwysings na die soendood van die Lam van God:

“Want die wet, wat ʼn skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie ... want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. ... Daarom sê Hy [Jesus Christus] as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ʼn liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van my geskrywe – om u wil te doen, o God. ... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:1-10).

Paulus skryf dit vir die Jode (die Hebreërs) sodat hulle kon besef dat daar buite die Messias, Jesus, geen redding is nie. Hy wys hulle daarop dat selfs Moses, die persoon deur wie se bemiddeling hulle die wet gekry het, sy hoop op die koms van Messias gestel het, deur wie alleen Israel én die nasies gered kan word. Moses het ten volle besef dat Israel geroepe was om ʼn Messiaanse volk te wees en aan die wêreld ʼn Verlosser te bied – nie slegs ʼn wet met sy tempeldiens nie – daarom het die magte van die duisternis op die uitverkore volk toegeslaan. Satan het geweet dat net die Seun van God die mag van sonde kan breek, daarom het hy alles in sy vermoë gedoen om Israel te vernietig en die koms van die Messias te verydel. Moses het hierdie stryd ervaar, en ook besef dat dit geheel en al die moeite werd was om as gevolg van Israel se Messiaanse verwagting (en dus ook ter wille van die Messias self) te ly:

“Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ʼn tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:24-26). Moses het 1 500 jaar voor Christus se geboorte al die smaad en verwerping verkies wat later ook die deel sou wees van God se Seun en sy volgelinge. Hy het besef dat hy ʼn duidelike keuse moes maak tussen die smal pad van God geregtigheid en die breë pad van vormgodsdiens en wêreldgelykvormigheid. Op die smal pad is die Messias self die deur wat toegang bied tot die koninkryk van God (Joh. 10:9).

Dit is die rede waarom Moses nie vir sy tydgenote gesê het dat gehoorsaamheid aan die wet die einddoel van hulle geloof is nie, maar gehoorsaamheid aan die beloofde Messias, ten spyte van die kritiek en verwerping wat dit sou meebring. Hy het vir hulle gesê: “ʼn Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister” (Deut. 18:15). Hy sou ʼn mens wees net soos Moses, maar deur die Here self verwek word en dus ook Seun van God genoem word.

Paulus het ook die Messiaanse verwagting van Israel beklemtoon, en daarop gewys dat die wet hulle net tydelik in bewaring gehou en ingesluit het in God se koninkryk totdat geloof in die Messias geopenbaar sou word (Gal. 3:23). Die bevestiging van hulle redding was dus afhanklik van die Messias se koms, sodat Hy al die offers kon vervul en afskaf deur sy eenmalige offer aan die kruis. Israel is aangemoedig om hulle geloof in Hom te stel, omdat Hy vir hulle gedoen het wat die wet nie kon doen nie, naamlik om hulle te red en vry te spreek. Niemand kon die wet ten volle onderhou nie, daarom kon die wet niemand red nie. As gevolg hiervan was die wet vir Israel ʼn tugmeester na Christus toe, en moes hulle besef dat nadat hulle met God versoen was, hulle nie meer ʼn tugmeester (die Ou-Testamentiese wet) nodig gehad het nie (Gal. 3:24-25).

ʼn Belangrike Bybelse feit wat waarvan ons bewus moet wees, is dat alle mense deelgenote van die sondeval is omdat almal van hulle Adam se sondegeneigde natuur geërf het asook die noodwendige gevolge daarvan, naamlik vervreemding van God en die dood (Rom. 5:12). Alle persone in alle dispensasies het gesondig (Ps. 14:2-3; Rom. 3:10-12), daarom is almal van hulle die doodstraf skuldig wat op sondaars van alle tye rus (Eseg. 18:4; Rom. 6:23). Redding, kwytskelding van die straf wat op sondaars rus, asook verlossing van die mag van sonde kan net deur die laaste Adam verleen word: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor. 15:22).

Die aard van ons geestelike lewe word dus deur twee Adams bepaal: “Die eerste mens, Adam, het ʼn lewende siel geword; die laaste Adam ʼn lewendmakende Gees. ... Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel” (1 Kor. 15:45, 47). Die eerste Adam was die begin van ʼn menslike ras van gevalle sondaars. Die tweede Adam, Jesus Christus, is die begin van al die weergebore mense op aarde wat op grond van sy soendood vergewe is en aan wie ʼn nuwe lewe – sy heilige opstandingslewe – toegereken is. Net in Hom kan ʼn gevalle mens geestelik herskep word en as gevolg daarvan ook ʼn mede-erfgenaam van die koninkryk van die hemel word (Fil. 3:20). In die lig hiervan is dit duidelik dat die verlossing wat God voor die koms van Christus aan mense gebied het, voorlopig en voorwaardelik was omdat dit deur die koms en genadewerk van die laaste Adam (Jesus Christus) bekragtig en verseël moes word.

God se genade aan sondaars wat hulle tot Hom bekeer en om vergifnis bid, het eers finale gestalte verkry in die Lam wat Hy self voorsien het om die losprys vir sondaars te betaal. Voor Jesus se geboorte het ʼn engel aan Josef verskyn en oor sy vrou se swangerskap aan hom gesê: “... wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ʼn seun baar en jy moet Hom Jesus noem want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:20-21). Die naam “Jesus” is ʼn samevoeging en verkorting van “Jahweh” en “red” (Die Here Red, of Die Here is Redding). Jesus, die beloofde Verlosser, is “die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). Deur Hom het “die reddende genade van God aan alle mense verskyn” (Tit. 2:11), sodat almal voor sy menswording én daarna vryspraak van die straf oor sondaars kan verkry.

ʼn Toekomsverwagting

Die belofte van die Messias is reeds tydens die roeping van die aartsvaders aan Israel gegee. Ou-Testamentiese gelowiges voor die geboorte van Christus het almal die belofte van sy koms ontvang, maar dit nie verkry nie. Paulus skryf oor die OT geloofshelde: “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Heb. 11:39-40). Die bekragtiging van hulle geloof en die vervulling van al die skaduagtige offers onder die wet het eers met die kruisiging van Christus plaasgevind. Daarna kon hulle én ons in die Naam van die Verlosser tot ʼn enkele groep gelowiges van alle tye verenig word.

In die lewe van Abraham word die sterk verwagting op die koms van die Messias baie duidelik uitgebeeld. Die Here het aan hom belowe dat daar uit sy nageslag ʼn seën vir al die nasies van die aarde sou voortkom (Gen. 12:2-3; 22:17-18). Paulus bevestig die feit dat die seën van Abraham deur Jesus Christus na die heidene gekom het (Gal. 3:8, 14). Abraham was bewus van die feit dat die Verlosser van die wêreld uit sy nageslag gebore sou word, en hy het reikhalsend na daardie dag uitgesien. Die Here Jesus het vir ongelowige (wettiese) Jode gesê: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en hom verbly” (Joh. 8:56).

Hierdie Jode kon nie glo dat Jesus al aan Abraham bekend was nie, omdat hulle nie besef het dat Hy ʼn ewige selfbestaan het nie. “Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hierdeur het Hy verklaar dat Hy ook God is – die ewige EK IS. Die Amplified Bible vertaal Joh. 8:58 só: “I most solemnly tell you, before Abraham was born, I AM. [Exod. 3:14]”. Net Hy kan hierdie wettiese vormgodsdienstiges red, asook alle ander sondaars op aarde, en dit het Hy só bevestig: “... as julle nie glo dat dit Ek is nie [die beloofde Messias en Seun van God], sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24) Uit die Modern King James Version blyk sy Godheid nog duideliker: “... if you do not believe that I AM, you shall die in your sins” (John 8:24). Wetsonderhouding alleen sonder die verwagting en aanvaarding van die Messias wat al die offers sou vervul, kon geen Jood se siel red nie.

Abraham het ʼn belofte en vergesig gehad van die koms van die Messias, en hom op grond daarvan in God se reddende genade verbly. Hy het selfs verder as dit ʼn visie gehad van die nuwe Jerusalem waarin al die gelowiges eendag sal woon: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb. 11:10). So ook het ander Ou-Testamentiese gelowiges op die vervulling van God se beloftes aan hulle gewag. Hulle het die belofte van ʼn aardse vaderland gehad, die belofte van die Messias wat as Verlosser en Koning sou kom, en ook die belofte van die nuwe Jerusalem. Hulle het al hierdie beloftes “uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (Heb. 11:13). Hierdie gelowiges het besef dat hulle stryd, verdrukking en vreemdelingskap op aarde sou voortduur totdat die Messias sou kom om hulle redding te verseël en die beloofde koninkryk van die hemel op aarde te openbaar. Hulle moes dus op die vervulling van die beloftes wag, daarom het hulle dit in die geloof gesien, begroet en omhels.

Tydens die verheerliking van Christus op die berg is daar ʼn duidelike demonstrasie gelewer oor hoe Hy die wet en die profete vervul het. Sy aangesig het geblink en sy klere was skitterend. “En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elia. Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring” (Luk. 9:30-31). Jesus se aardse bediening was die vervulling (voltooiing en afsluiting) van die wet en die profete. Hy het gesê Hy het nie gekom om die wet en die profete te ontbind nie, maar om dit te “vervul” (Matt. 5:17). Strong’s vertaal die Griekse woord vir “vervul” (pleroo) as “finish (a period or task) … end, expire, fill (up).” Jesus het alles vervul wat onder die ou verbond belowe is, daarom kon Paulus sê: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig” (Rom. 3:21).

Op die berg van verheerliking was Moses die verpersoonliking van die wet, terwyl Elia namens die profete verskyn het. Hulle was duidelik goed bekend met Jesus en was in gesprek met Hom oor die afsluiting van sy aardse bediening van versoening deur middel van sy kruisiging in Jerusalem. Die Griekse woord wat hier vir “uitgang” gebruik word, is exodos. In verskillende Bybels en kommentare word dit vertaal as uittog, dood, vertrek en weggaan. In Hebreërs 11:22 word exodos gebruik i.v.m. die uittog van Israel uit Egipte, maar in 2 Petrus 1:15 word dit as heengaan vertaal. Petrus sê: “En ek sal my beywer, dat julle ook gedurig ná my heengaan hierdie dinge in gedagtenis kan hou.” Die gesprek op die berg het dus duidelik oor die afhandeling van Jesus se bediening deur sy soenoffer gegaan, maar daarna sou Hy ook van die aarde af vertrek hemel toe. In sy Explanatory Notes sê Wesley dat hierdie begrip in ʼn omvattende sin gebruik word as ʼn verwysing na Jesus se lyding, kruisiging, begrafnis, opstanding én hemelvaart. Hy sou sy bediening vervul en dan vertrek.

Daar is ook ʼn profetiese betekenis van hierdie gebeurtenis en gesprek op die berg. Nie net Jesus nie, maar ook Moses en Elia, het in ʼn verheerlikte gedaante verskyn en dit verwys vorentoe na die ten volle geopenbaarde koninkryk van God op aarde. Op Patmos het Johannes in sy visioen oor die dag van die Here vir Jesus gesien as “Een soos die Seun van die mens met ʼn kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ʼn goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ʼn vuurvlam” (Op. 1:13-14). In daardie tyd sal daar ook twee spesiale getuies optree om van Hom te getuig (Op. 11:3-13). In die laaste hoofstuk van die Ou Testament sê die Here: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek” (Mal. 4:5). Dit is nie onmoontlik dat Moses (of iemand soos Moses) die ander getuie sal wees nie.

ʼn Plek van bewaring

Die voorbereidende aard van Ou-Testamentiese gelowiges se versoening met God blyk ook uit die feit dat hulle ná hulle dood in ʼn plek van bewaring onder die aarde gehou is, totdat die Messias sou kom en die seën van sy soendood met terugwerkende effek ook aan hulle toegereken kon word. Hierdie plek was die Paradys onder die aarde, waar hulle afgesonderd van die goddeloses was. Die ongeredde gestorwenes word in die doderyk (Gr. Hades – Hand. 2:27, en Tartarus – 2 Pet. 2:4) in bewaring gehou waar hulle die eindoordeel afwag. Tussen Hades en die Paradys was ʼn diep en onoorbrugbare kloof gevestig, en dit beklemtoon ook die feit dat daar geen bekering en vergifnis ná die dood moontlik is nie (Luk. 16:26).

Dit is na hierdie bewaarplekke in die onderste dele van die aarde dat Christus ná sy kruisdood neergedaal het. Jesus het vir die rower wat aan die kruis tot bekering gekom het, gesê: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Paulus verwys ook na die feit dat Jesus voor sy hemelvaart eers na die onderste dele van die aarde neergedaal het: “Maar dit: Hy het opgevaar – wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring” (Ef. 4:9-10). Om alles tot volheid te bring, behels ook die beëindiging en vervulling van Ou-Testamentiese gebruike.

Die doel met Christus se neerdaling was eerstens om Homself aan die ontslape gelowiges in die Paradys te vertoon as die vervulling van hulle Messiaanse verwagting en die bevestiging van hulle geloof in God. Hierna het die Paradys nie meer as ʼn bewaarplek onder die aarde voortbestaan nie en kon al die gelowiges na die hemel oorgeplaas word. Jesus Christus alleen is die deur na die koninkryk van die hemel (Joh. 10:9), en slegs deur sy Naam kan mense enige plek op aarde redding verkry (Hand. 4:12). Hy is die verpersoonliking van God se geregtigheid, reddende genade en regverdigheid. Toe Hy Homself in die Paradys aan die gelowiges vertoon het, het Hy hulle geloof verseël. Daarna kon die Paradys na die hemel oorgeplaas word. Toe Paulus later tydens een van sy sendingreise na die derde hemel weggeruk is, was die Paradys reeds in die hemel – baie ver van die aarde af: “Ek weet van ʼn man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit – dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet ... dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het” (2 Kor. 12:2-4).

Op grond van hierdie openbaring weet ons dat gelowiges wat ná Christus se koms gesterf het, nie na ʼn bewaarplek onder die aarde gegaan het nie, maar direk na die hemel. Hiervandaan sal die Here Jesus alle gelowiges wat tans nog net ʼn geestelike bestaan voer (gees en siel), saambring aarde toe om tydens die opstanding van die regverdiges verheerlikte liggame te verkry (1 Thess. 4:13-17). Die lewende gelowiges sal in ʼn oomblik van sterflikheid na onsterflikheid verander word (1 Kor. 15:51-53), en saam sal die hele groep weggevoer word hemel toe. Die Ou-Testamentiese gelowiges sal deel vorm van dié groep, daarom “sal baie kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele” (Matt. 8:11).

Wat die ongereddes betref, moes Jesus ook ná sy kruisiging aan hulle verskyn, want elkeen wat God se geregtigheid verwerp, het by implikasie vir Jesus Christus verwerp. Hy het dus hulle verlore toestand bevestig, en uiteindelik sal hulle tydens die eindoordeel voor Hom verskyn om die straf vir hulle sondes te ontvang (Hand. 17:30-31). Hades en Tartarus (die doderyk) is nou nog steeds bewaarplekke vir ongelowiges in die onderste dele van die aarde, waar die goddeloses die eindoordeel afwag. Hulle sal ná die duisendjarige vrederyk tydens die tweede opstanding eers uit die dood opgewek word om geoordeel te word (Op. 20:5). Dit word genoem “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29; Op. 20:11-15). Hierdie twee bewaarplekke sal dan leeggemaak word: “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood” (Op. 20:14).

Die eerste dood verwys na die dood van die sterflike liggaam. Dit beëindig die aardse lewe van alle mense – gelowiges én ongelowiges. Die tweede dood is die ewige dood in die hel, en dit is die straf vir alle verlore sondaars. Van die Christene word gesê: “Oor hulle het die tweede dood geen mag nie” (Op. 20:6). Juis hierom hou die eerste dood vir gelowiges ook geen verskrikking in nie, omdat dit nie vir hulle die poort na die doderyk is nie maar na die Paradys by Christus in die hemel. Terwyl hulle nog lewe, sien Christene selfs daarna uit om hierdie oorgang van die tydelike na die ewige lewe te maak. Paulus sê: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste” (Fil. 1:23). Tydens sy hemelvaart het Christus opgevaar na die derde hemel toe. Om by Hom te wees, beteken dus om na die hemel toe te gaan en nie na ʼn bewaarplek onder die aarde nie.

Terminologie

Dit is belangrik om al die terme wat op die lewe ná die dood van sondaars én gereddes betrekking het, reg te verstaan. Die poel van vuur verwys na die hel (Gr. Gehenna – Matt. 5:22, 29-30). Daar is tans nog niemand in die hel nie, daarom het Jesus nie “ter helle neergedaal” ná sy kruisdood nie, maar na die bewaarplekke onder die aarde waar die Paradys was, en waar Hades en Tartarus nog steeds is. In Tartarus is daar gevalle engele wat “aan kettings van duisternis oorgegee is om vir die oordeel in bewaring gehou te word” (2 Pet. 2:4). Daar is soms weens onakkurate vertalings onduidelikheid oor die verskillende plekke van bewaring, straf en heerlikheid. In baie Bybels (selfs ook die KJV) word die begrippe Hades en Tartarus verkeerdelik as “hel” vertaal, terwyl dit as die twee dele van die doderyk bewaarplekke vir verdoemde siele is. Die woord “hel” verwys in werklikheid net na die poel van vuur (Gehenna).

Ná die vrederyk sal die duiwel en sy engele almal in die poel van vuur gewerp word: “En die duiwel wat hulle verlei het [die verlore mense wat saam met hom teen God gerebelleer het], is in die poel van vuur en swael gewerp waar die dier en die valse profeet is” (Op. 20:10). Voor die vrederyk reeds, tydens die wederkoms van Christus, is die Antichris en die valse profeet in die vuurpoel gewerp: “Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swael brand” (Op. 19:20). Hulle sal die eerste twee veroordeeldes wees wat in hierdie plek van ewige straf en pyniging sal beland. Tans is daar nog niemand in die hel nie.

Ná die vrederyk tydens die laaste groot oordeel, sal Satan, sy gevalle engele en alle verlorenes van alle tye, ook in die vuur van die hel beland. Die Here Jesus sal vir die ongereddes sê: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41). Onder hierdie groot groep verlorenes sal ook die miljoene mense wees wat tydens die komende verdrukking die Antichris aanvaar, aanbid en sy nommer ontvang het: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ʼn merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).

Wanneer Christus dus van die hemel af neerdaal tydens die wegraping kort voor die verdrukking, sal Hy alle ontslape gelowiges (ook dié uit die Ou Testament) saam met Hom uit die Paradys in die hemel bring sodat hulle hier op aarde hulle onverganklike opstandingsliggame kan ontvang (1 Thess. 4:13-18; 1 Kor. 15:51-53). Tydens hierdie fase van die wederkoms kom Hy in die geheim as die hemelse Bruidegom soos ʼn dief in die nag om sy bruid weg te voer, en sal nie deur die res van die wêreld gesien word nie. Hy sal onmiddellik die verheerlikte gelowiges saam met Hom hemel toe neem (Joh. 14:2-3). Sewe jaar later, tydens die openbare koms van Christus met sy heiliges (Sag. 14:4-5; Kol. 3:4), kom hulle terug om saam met Hom op aarde te regeer tydens sy vrederyk (vgl. Luk. 19:15-18; Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12; Op. 5:9-10).

ʼn Verdere bewaarplek (of gevangenis) sal aan die begin van die vrederyk geskep word, naamlik die put waarin die duiwel en sy verleidende geeste opgesluit sal word totdat die vrederyk voleindig is (Op. 20:1-3). Daar sal eers waarlik vrede op aarde kan wees nadat Satan en sy demone in ʼn verseëlde put opgesluit is, want dan sal hulle nie die nasies kan verlei en aanhits nie (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:22-23; Op. 20:3).

Aan die einde van dié tyd sal die eindoordeel plaasvind en sal alle mense én gevalle engele hulle ewige tuiste bereik (Op. 20:11-15). Daar is net twee eindbestemmings, naamlik die hemel en die hel. Dit stel elke mens op aarde voor die belangrikste keuse van sy lewe – om óf saam met Jesus Christus en sy Vader die ewigheid in die hemel deur te bring óf om saam met die duiwel en die Antichris die ewige straf in Gehenna met hulle te deel. Kan u sien hoe belangrik dit is om die evangelie aan alle mense te verkondig? Almal is in sonde gebore en die Here wil nie hê dat een van hulle verlore moet gaan nie (2 Pet. 3:9). Dit is waarom alle dissipels van die Here Jesus (m.a.w. almal wat gered is) die opdrag het om die hele wêreld in te gaan en die evangelie van God se reddende genade aan die ganse mensdom te verkondig (Mark. 16:15).