Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2014)
Lees Lukas 17:26-37.
Die Bybel tref ’n vergelyking tussen die uiterste sondigheid wat voorgekom het gedurende die antieke tye van Noag en Lot, en ’n soortgelyke situasie wat net voor die wederkoms van Christus sal bestaan. Die geskiedenis herhaal homself in verskeie opsigte – ook met betrekking tot die Goddelike toorn wat uitgestort word oor mense wat die Here voortdurend belaster en ook die geestelike en morele beginsels van sy koninkryk minag en verwerp. Die volgende aspekte van die ooreenkoms tussen antieke en moderne tye word in die Bybel aangedui:
· Geestelike verval. In die tyd van Noag en Lot was daar grootskaalse geestelike verval omdat feitlik almal God vergeet het en vrye teuels gegee het aan die begeerlikhede van hulle verdorwe natuur. Die versinsels in mense se harte was altyddeur net sleg en hulle was glad nie daarop ingestel om God se geregtigheid te doen nie (Gen. 6:5). Dieselfde situasie is kenmerkend van ons tyd: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Onder die invloed van die duiwel sal uiterste boosheid in mense se harte en lewens heers, en in die geestelike verduistering van hulle harte sal hulle “meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense” (2 Pet. 3:17).
· Morele verval. In die tyd van Noag en Lot was die mees losbandige lewenstyle sosiaal aanvaarbaar, waaronder veral sodomie. Die manne van Sodom het geensins in Lot se dogter belanggestel nie, maar wou seksueel verkeer met die engele (Gen. 19:1-10). Seksuele perversie, veral met betrekking tot homoseksuele verhoudings en gewoontes, sal weer eens die sosiaal aanvaarbare norm wees, eerder as die uitsondering (Rom. 1:26-27). Die gesinstruktuur van die samelewing begin noodwendig verbrokkel wanneer hierdie gebruike, wat beskou word as basiese menseregte, ook deur staats- en kerkleiers gekondoneer en openlik aanvaar word as die natuurlike gevolge van die mens se vryheid van keuse.
· ’n Godverwerpende kultuur kry die oorhand. In die tyd van Noag en Lot het die grootskaalse geestelike en morele verval in die samelewing gelei tot ’n sondekultuur waarin mense geheel en al gekant was teen God en sy eis van heiligheid. Hierdie goddelose mense het gelowiges vervolg wat God se standaard van eerbare optrede probeer bevorder het. Toe Lot hulle probeer teëgaan het, het hulle op hom geskreeu: “Gee pad daar! ... Nou sal ons jou meer kwaad aandoen ... en [hulle het] nader gekom om die deur oop te breek” (Gen. 19:9). Lot moes sy deur toesluit en in die huis wegkruip. In die eindtyd sal ’n sondekultuur weer eens die oorhand kry en mense sal in die algemeen bandeloos, roekeloos, wreed en sonder liefde vir die goeie wees (2 Tim. 3:3-4). Hierdie verdraaide waardes sal uiteindelik daartoe lei dat alle nasies ’n verbond sal sluit met die Antichris wat deur die Bybel beskryf word as “die mens van sonde” en “die seun van die verderf” (2 Thess. 2:3; Op. 13:3). Onder sy bewind sal sonde en ongeregtigheid floreer. Die klein minderheid ware gelowiges sal erg vervolg word en agter geslote deure probeer wegkruip vir die booswigte in die samelewing – ook vir goddelose regerings wat hulle sal probeer opspoor en vervolg.
· Wetteloosheid en geweld. In die tyd van Noag en Lot het anargie geheers omdat mense in daardie wettelose samelewings gedoen het net wat hulle wou. Geweld was die algemeenste manier om geskille te besleg en doelwitte te bereik: “Die aarde is deur hulle vervul met geweld” (Gen. 6:13). Dit beteken dat daar geen sentrale staatsgesag was wat orde gehandhaaf het nie, daarom het mense die reg in eie hande geneem. Rampokkery, rowery en terrorisme was die noodwendige gevolg hiervan. In die eindtyd sal samelewings ook in ’n soortgelyke toestand verval, en niemand sal meer veilig voel nie – nie eers kinders op pad skool toe of selfs in die skool nie. Terrorisme, militêre staatsgrepe, oorloë en gerugte van oorloë sal die nuustoneel oorheers (Matt. 24:6-7). Gewelddadige optrede sal saam met ander vorms van immortaliteit en goddeloosheid beoefen word, en selfs wanneer God hierdie vervalle mense in die verdrukking begin straf en oordeel, sal hulle nie ophou om te sondig en teen Hom te rebelleer nie: “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het ... hulle nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie” (Op. 9:20-21).
· Materialisme en ydel vermaak. In die tyd van Noag en Lot was mense totaal materialisties en het net vir die dinge van die wêreld geleef – veral om groot beleggings te maak, skatte op te gaar, partytjies te hou, te eet, te drink en die lewe te geniet. Hulle het nie tot besinning gekom voordat dit te laat was nie: “Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk. 17:28-30). In die laaste dae sal mense hulle ook tot drank en onthale wend om die sorge van die lewe te probeer vergeet, en dan sal die skielike koms van die hemelse Bruidegom om sy bruid te kom haal, vir hulle soos ’n “strik” wees om hulle vir die daaropvolgende verdrukking en oordele van God gevange te neem: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34-35). Die skatte van die rykes wat korrupsie gepleeg en ander mense uitgebuit het om bo uit te kom, sal hulle niks help wanneer die oordele van die Here oor die aarde uitgestort word nie: “Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. ... Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde ’n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ’n slagdag” (Jak. 5:1-5).
· Spot met gelowiges en met God se Woord. In die tyd van Noag en Lot het die algemene publiek met die manne van God gespot en hulle glad nie aan profetiese waarskuwings oor die oordele van God gesteur nie. Hulle het dit as belaglike en vergesogte stories afgemaak en met hulle roekelose lewenswyse van vleeslike genietinge en hebsug voortgegaan. As gevolg hiervan was net Noag en sy gesin (agt persone) waardig om God se oordeel van die sondvloed te ontvlug. ’n Soortgelyke situasie van minagting vir Bybelse profesieë gaan weer ontstaan: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?” (2 Pet. 3:3-4). Diegene op die smal weg is ver in die minderheid.
· Versmaai genadetyd. In die tyd van Noag en Lot het die Here die vervalle sondaars ’n billike tyd gegee om hulle van hul bose weë te bekeer. Hulle wou dit egter nie doen nie en het daardeur hulle eie lot verseël. Niemand anders behalwe hulleself kan vir hulle ondergang en ellende geblameer word nie. In die eindtyd sal die groot meerderheid van die mensdom hulle ook nie bekeer van hul bose weë nie, maar op die valse hoop van menslike vredespogings vertrou totdat dit te laat sal wees om die Goddelike oordele te ontvlug: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle ... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).
· Ontvlugting vir gelowiges. In die tyd van Noag en Lot het God op ’n kritieke oomblik aan die gelowiges ontvlugting gebied deur hulle in ’n plek van veiligheid te stel voordat Hy die sondaars geoordeel het (Gen. 6:13-14; 19:15-17). Die volgorde is dus: profetiese waarskuwings van naderende oordele, daarna die beveiliging van die gelowiges wat op die herhaalde oproepe tot bekering gereageer het, en dan die oordele oor die sondaars. Nou, in die eindtyd, is die wêreld reeds herhaaldelik teen die naderende oordele van God in die komende groot verdrukking gewaarsku. Omdat hierdie oordele nie vir die gelowiges bedoel is nie, moet ons gereed maak om dit te ontvlug en God se Seun “wat ons van die toekomstige toorn [sal] verlos” (1 Thess. 1:10; vgl. 5:9), uit die hemel te verwag.
· Die tragedie van vormgodsdiens. In die tyd van Noag en Lot was daar onder die gelowiges nie plek vir vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog aan wêreldse belange verknog was nie. Lot se vrou is ’n tipe van dié soort mense, en dit het op die laaste oomblik haar lewe gekos (Gen. 19:26). Dit sal tydens Christus se wederkoms weer so wees, daarom word ons in die gelykenis van die tien maagde gewaarsku dat diegene wie se harte nie met die olie van die Heilige Gees gevul is nie, gaan agterbly wanneer die Bruidegom kom (Matt. 25:1-13). Selfregverdigende, misleide en lou Christene wat hulleself verkeerdelik as “baie goed” beskou, is verwerplik vir die Here (Op. 3:15-17; 2 Kor. 11:2-4).
· Skielike onheil. In die tyd van Noag en Lot het daar kort ná die beveiliging van die gelowiges ’n skrikwekkende toneel afgespeel toe God se genadetyd vir dié sondaars verbygegaan het. Dood en verwoesting is gesaai (Gen. 7:4; 19:24-25). Dit sal weer so wees wanneer God se oordele in die eindtyd oor die goddeloses uitgestort word: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9). Die Here Jesus het gewaarsku dat daar kort voor sy wederkoms ’n groot verdrukking sal aanbreek soos daar nog nooit was nie, en as daardie dae nie verkort word nie, sal geen mens dit kan oorleef nie (Matt. 24:21-22; 29-30).
· Die voorregte wat teëhouers bied. In die tyd van Noag en Lot het die sondaars nie besef hoeveel voorregte hulle geniet het as gevolg van die teenwoordigheid van ’n paar gelowiges in hulle midde nie. Die Here was bereid om ’n stad te spaar as daar net tien regverdiges in was (Gen. 18:23-32). Toe hierdie klein groepie gelowiges skielik weggeneem is, het die duisternis van die Here se oordele vinnig oor die goddeloses toegesak. In die eindtyd tree ware gelowiges ook as die teëhouers van boosheid op, maar dit sal eers deur die wêreld besef word wanneer hulle weg is. Die kerkbedeling sal voortgaan, “net totdat hy wat nou teëhou [die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees] uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige [die Antichris] geopenbaar word ... hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen ... sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:7-12).
· Profetiese blindheid. In die tyd van Noag het die spottende wêreldlinge vir die bouers van die ark gelag en in die verhardheid van hulle harte voortgegaan “en dit nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, [en] so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:39).
Die eindtydse oordele van die Here oor sondaars is ’n feit wat nie weggeredeneer kan word nie. Die fisiese uitredding van gelowiges voordat die tyd van oordele begin, is ’n ewe belangrike Bybelse feit wat altyd in ag geneem moet word: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Paulus verduidelik hierdie wonderlike belofte verder: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).
Ons moet op verskeie maniere op die belofte van die wegraping reageer as ons die volle seën daarvan wil geniet. Mense wat dié belofte ontken, is uit voeling met die profetiese woord, verbeur baie van die seëninge daarvan, en loop gevaar om agter te bly en die Antichris vir die ware Christus aan te sien. Ons moet waaksaam wees teen geestelike misleiding, en ook ten alle tye geestelik gereed: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:13). “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie” (Matt. 24:44).
Die volgende is die seëninge wat geniet word deur diegene wat ag slaan op die opdrag om gereed te wees vir die wegraping:
Goeie nuus in die profesieë
Die wegraping is die goeie nuus in ’n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor rampe en oordele wat met die dag van die Here gepaard sal gaan. Indien die belofte van die wegraping verswyg word, sou Christene net donker vooruitsigte oor die Antichris en die sewe jaar lange verdrukking gehad het. Só ’n situasie sou vergelyk kon word met die sondvloed sonder die ark, of die vernietiging van Sodom en Gomorra sonder ’n ontsnappingsroete vir Lot en sy gesin. Mense wat die belofte van die wegraping voor die verdrukking verwerp, openbaar ’n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het: “God is ’n liefdevolle God en ek kan nie glo dat Hy die mensdom deur ’n watervloed sal ombring nie, daarom gaan ek nie ’n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie.” Of wat sou van Lot en sy gesin geword het as hy gesê het: “Ek dink dat die oordele oor Sodom en Gomorra simbolies opgeneem moet word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As die oordele wél kom, dan moet die Here ons maar te midde daarvan bewaar.”
’n Situasie van hierdie aard sou nie alleen hoogs onverskillig wees nie, maar ook in stryd met die duidelike Bybelse beginsel dat gelowiges nooit die voorwerpe van God se toorn is nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). Die wegraping is deel van die goeie nuus van die evangelie van Jesus Christus. Hy het na ’n bose wêreld gekom om die volle prys vir die redding van sondaars te betaal. Daarna is Hy terug hemel toe om ’n plek vir ons te gaan berei. Hy het belowe dat Hy weer sal terugkom om ons te kom haal en na ons hemelse tuiste te neem (Joh. 14:2-3). As ons in Hom bly, sal ons waardig wees om die gruwels van die komende verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug. Ons hoef dus nie tot wanhoop gedryf te word deur die kennis van dit wat oor die wêreld gaan kom nie. Vir die ware gelowiges is daar ’n wonderlike boodskap van goeie nuus in Bybelse profesieë ingesluit.
Diegene wat nie hierdie goeie nuus ter harte neem en vir die wegraping gereed maak nie, sal alles verloor en vreesbevange in die groot verdrukking na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Diegene wat weier om tot bekering te kom, sal tevergeefs van die toorn van God af probeer wegvlug.
’n Korrekte toekomsverwagting
Die geloof in ’n voorverdrukking-wegraping gee aan jou die versekering dat jy ’n korrekte, Bybelse toekomsverwagting het. Dit word deur geen ander Bybelse waarhede weerlê nie. Hierdie ingesteldheid eer die Here Jesus en erken Hom as die Sleutelpersoon in die profesieë, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Christene se aandag moet op Hom gevestig bly. Hulle moet sý skielike verskyning verwag, en nie dié van die Antichris nie. Diegene wat Hom verloën, sal almal met die wegraping agterbly. Die enigste rede waarom hulle aan die diktatuur van die Antichris oorgelewer sal word, sal wees omdat hulle die verlossing wat die ware Christus aan hulle gebied het, geminag en verwerp het. Wat hulle op aarde sal beleef, sal die direkte gevolg wees van die seëls van God se oordele wat die Lam in die hemel sal breek. Moet dus nooit Jesus Christus se sentrale plek in die Bybelse profesieë misken nie. Om sy spoedige koms te verwag en jou lewe dienooreenkomstig in te rig, is ’n opdrag wat bedoel is om ’n positiewe motivering aan Christene van alle eeue te verleen.
’n Motivering vir standvastigheid
Die koms van die hemelse Bruidegom sal plaasvind in ’n tyd van godsdienstige kompromie en wêreldgesindheid. Mense sal op groot skaal van God se Woord afvallig raak. ’n Relatief klein groepie evangeliese Christene sal skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Soos in die tyd van Noag en Lot, sal die wêreld vol geweld, materialisme en seksuele perversie wees. Ongelukkig sal die gees van ongeregtigheid en immoraliteit ook sy tol onder Christene eis. Hulle sal in hul waaksaamheid verslap en hulle geestelike standaarde afwaarts aanpas: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Sommige Christene sal terugval en ontmoedig raak in die diens van die Here.
Onaktiewe Christene raak dikwels ontrou aan die Here en verloor hulle ywer om Hom te dien. Hulle geestelike verval neem verskillende vorms aan. Die mees algemene neiging is om die noodsaaklikheid van heiligmaking te verwerp, wêreldgesind te raak en losbandige partytjies by te woon waar daar te veel geëet en gedrink word. Afvalliges raak ook krities teenoor evangeliese Christene wat nie saam met hulle dwaal nie. Die Here Jesus waarsku teen sondige gedrag van hierdie aard, en wys daarop dat die moontlikheid van sy skielike en onverwagse koms ons moet motiveer om getrou te bly tot die einde toe: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. ... Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie en op ’n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ’n deelgenoot van die geveinsdes maak” (Matt. 24:45-51).
Die regte bepaling van werke
Die verwagting van die Here Jesus se koms voor die verdrukking, rig jou werke en optrede só dat dit tot die eer van sy Naam sal wees. Jy berei vir sý koms voor, en nie vir dié van die Antichris nie. Die konsep van die wegraping konfronteer jou uitdruklik met die verantwoordelikheid om direk ná die wegvoering rekenskap van jouself voor die regterstoel van Christus in die hemel te gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Die volgende krone sal aan getroue getuies van die Here Jesus toegeken word:
· Die onverwelklike kroon vir heiligheid (1 Kor. 9:24-27). ’n Lewe van hierdie aard word gekenmerk deur die krag van die Heilige Gees waardeur ’n gelowige in staat gestel word om in Christus te bly, die versoekings van sonde en geestelike misleiding te weerstaan, en om die Here aan te hou dien te midde van moeilike omstandighede en teëstand. Alle ander krone is afhanklik van ’n gelowige se heiligmaking.
· Die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19). Wanneer die Here Jesus se reddende genade verkondig word, word mense uitgenooi om dit in die geloof te aanvaar en sodoende die belofte van die ewige lewe te ontvang. Dit is ons opdrag om oral op aarde Christus se getuies te wees (Hand. 1:8), maar nie alle gelowiges gee hieraan gehoor nie.
· Die kroon van die lewe vir Christenmartelare (Op. 2:10). Almal wat gely en selfs gesterf het vir hulle geloof, sal daarvoor beloon word. Dit sluit ook gelowiges in wat deur swaar beproewings gegaan en dit op ’n waardige wyse deurstaan het (Jak. 1:12).
· Die kroon van heerlikheid vir getroue herders (1 Pet. 5:2-4). Dit word deur Petrus duidelik gestel dat die getroue herders diegene is wat nie hulle bediening onder dwang verrig het nie, ook nie ter wille van finansiële gewin of om statusoorwegings nie. Valse leraars wat leuens verkondig het, sal nie weggeraap word om voor Christus se regterstoel te verskyn nie, omdat hulle nie aan Hom behoort nie en vir die verderf bestem is (2 Pet. 2:1; 2 Tim. 4:3-4).
· Die kroon van geregtigheid vir dié wat Christus se koms liefhet (2 Tim. 4:8). Om sy koms lief te hê beteken om jou van die verdorwe wêreld en sy (meesal) korrupte leiers te distansieer, en jou vir Christus se koninkryk te beywer waarvan jy ’n burger is en waarin Hy ná sy wederkoms as Koning op aarde sal regeer (Fil. 3:20-21).
Die feit dat ons werke ná die wegraping beoordeel gaan word, en dat slegs dié met ewigheidswaarde beloon sal word, is van groot hulp om ons te help om hoër ideale as die materiële dinge van die verganklike wêreld na te streef. Ná bekering behoort ons lewens die vrug van die Heilige Gees op te lewer, daarom moet ons nie onnodige tyd en energie verspil op aardse dinge, plesier of nuttelose werke nie. Nadat die fondament van geloof in die Here Jesus in ons lewens gelê is, moet ons toesien dat ons nie deur die vlees lewe nie maar deur die Gees: “... elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. ... En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word” (1 Kor. 3:10-13).
Sal jy as ’n waardige dienskneg bevind word of sal jy met leë hande voor die regterstoel van Christus verskyn, gered asof deur vuur heen? (1 Kor. 3:15). Indien jy die moontlikheid van Christus se spoedige koms uit die gesig verloor en nie meer daarvolgens leef nie, kan jy in oorgerustheid, geestelike passiwiteit en selfs in sonde verval: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag. ... Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe” (2 Pet. 3:10, 17-18).
Die getroue en wyse dienskneg hou homself besig met die werk van die Here, en is deurentyd daarvan bewus dat die tyd hiervoor verbygaan. Die Here Jesus het self gesê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Die nag van God se oordele tydens die groot verdrukking kom vinnig nader. Dit sal geestelik gesproke ’n baie donker tydperk in die menslike geskiedenis op aarde wees, daarom moet met groot ywer werk terwyl dit nog dag is.
’n Motivering vir heiligheid
Een van die sterkste motiverings wat die belofte van die wegraping in ’n Christen se lewe vestig, is dié van heiligmaking. As lede van die bruidsgemeente moet ons onsself toewy aan die uitdaging om as rein maagde aan die hemelse Bruidegom voorgestel te word (2 Kor. 11:2-3). Dit plaas ’n spesifieke verantwoordelikheid van waaksaamheid op ons sodat die Bose nie toegelaat sal word om ons gedagtes en lewens te besoedel nie. Ons verkry nie die standaard van heiligmaking deur menslike pogings nie, want Christus is ons heiligmaking: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig … sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).
Ons moet onsself heelhartig hieraan oorgee en die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1). Die Here Jesus het dit alles vir ons aan die kruis en deur die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak, maar ons moet dit aanvaar, daarin wandel, ons in die godsaligheid oefen, ten bloede toe teen die sonde weerstand bied, en met volharding die wedloop loop wat voor ons is, die oog gevestig op Jesus wat die Leidsman en voleinder van ons geloof is. Dan sal ons nooit veragter in die genade, ons visie en roeping verloor en van die Here se weë afvallig raak nie.
Hoop in toetse en beproewings
In die skadu’s van toetse, beproewings en vervolging, wanneer die hoop op ’n gelukkige aardse lewe vervaag, is die vooruitsig op die wegraping altyd ’n lig aan die einde van ’n donker tonnel. Deur ontelbare sorge en lyding het miljoene mense in die geloof aan die belofte van die wegraping en ons vereniging met die Here vasgehou. Dit het aan hulle krag gegee om te volhard terwyl hulle die dinge van hierdie wêreld, en selfs hulle eie lewe, as niks beskou het om Christus en die ewige lewe as wins te verkry. Skep dus moed, rig jou neergeboë gees op, verwag die Here en weet dat jou toekoms in veilige hande is. Hy sal ons kom haal om sy ewige heerlikheid te beërf. Dáár “sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4).
’n Bestemmingsbewustheid
Soos Abraham en ander geloofshelde moet ons onsself beskou as vreemdelinge en bywoners in hierdie donker wêreld wat in die mag van die Bose lê. Ons toekoms is nie hier nie, daarom moet ons altyd ’n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10). In ons pelgrimsreis deur die wêreld moet ons altyd ’n sterk bestemmingsbewustheid hê omdat ons na die nuwe Jerusalem op pad is. Wanneer die Here met die wegraping uit die hemel neerdaal, sal ons Hom tegemoet gaan in die lug en na ons ewige tuiste in die Godstad weggevoer word.
Ons moet daarteen waak om oormatig met hierdie wêreldstelsel te identifiseer en in sy materialisme en geestelike verdorwenheid een daarmee te word. Dit beteken nie dat ons swak gemotiveerde mense sonder doelstellings is terwyl ons hier is nie. Inteendeel – ons moet produktiewe lewens lei en die Here verheerlik in alles wat ons doen. Die wêreld moet ons as hardwerkende mense met integriteit ken, daarom moet ons ’n verskil ten goede in ons omgewing en in die samelewing maak. Ons hoofdoel bly egter om die lof te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Die meeste mense wandel weens hulle vormgodsdiens steeds in geestelike duisternis, daarom moet ons toesien dat ons deur ons getuienis vir hulle altyd die lig van ’n donker wêreld is.
Terwyl ons ons plig as getuies van Christus uitvoer, moet ons voortdurend die blink môrester verwag wat net voor die einde van die nag bokant die donker horison van ’n troebel en onrusgeteisterde wêreld sal verskyn. Die boodskap van die môrester is dat die nag ver gevorder het en dat dit amper dag is. Voordat die Here Jesus met sy sigbare wederkoms as die Son van Geregtigheid sal kom wanneer elke oog Hom sal sien, sal Hy onopsigtelik as die Blink Môrester kom om sy bruidsgemeente in die lug te ontmoet.