Johan Malan, Mosselbaai (19 September 2015)
Daar word vir etlike jare reeds aansienlike sensasie geskep na aanleiding van ʼn boek wat die groot wetenskaplike, Sir Isaac Newton, drie eeue gelede oor die profesieë van Daniël geskryf het – veral die profesie oor die 70 jaarweke in Daniël 9. Moderne verklaarders het sommer self die kersie op die koek gesit om by die datum van 23 September 2015 vir die wederkoms van Christus uit te kom. Isaac Newton word in die proses tot ʼn groot heilige en profeet van God verhef. Maar wat is die werklike feite oor sy geloof en profetiese insig?
Weens die moontlikheid van vervolging deur die Anglikaanse kerk én die staat het Newton sy geloof in die geheim beoefen en is die manuskrip oor die boek Daniël eers ná sy dood ontdek en gepubliseer. In ʼn Wikipedia-artikel word die volgende oor hom gesê:
“Like many contemporaries he lived with the threat of severe punishment if he had been open about his religious beliefs. Heresy was a crime that could have been punishable by the loss of all property and status or even death. Because of his secrecy over his religious beliefs, Newton has been described as a Nicodemite [a secret follower of Jesus, like Nicodemus]. According to most scholars, Newton was Arian, not holding to Trinitarianism. In Newton’s eyes, worshipping Christ as God was idolatry, to him the fundamental sin” (https://en.wikipedia.org/wiki/Religious_views_of_Isaac_Newton). Newton het vir Jesus nie as God die Seun erken, wat gelyk aan en een met God die Vader en God die Heilige Gees is nie. Hy het dus die Bybelse leerstelling van die Drie-eenheid verwerp.
Volgens bogenoemde artikel het Newton baie tyd daaraan gewy om verborge boodskappe in die Bybel te ontsyfer. In sy eksakte, wetenskaplike vertolkings van profesieë het hy dikwels ook by datums uitgekom: “He estimated that the world would end no earlier than 2060. … Newton also had many other possible dates, e.g. 2034.”
Die Amerikaanse skrywer, Neill G. Russell, het ʼn groot opskudding veroorsaak deur die nuwe uitgawe van sy boek: Newton’s Riddle: The Mystery of Daniel’s 70th Week Revealed. Hierin verduidelik hy die beweerde “geheim” wat Newton ontdek het, naamlik dat die eerste 7 van hierdie 70 jaarweke op die eindtydse herstel van Israel en Jerusalem betrekking het. In Daniël 9 staan daar egter: “Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ’n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom” (Dan. 9:25-26).
Dit is duidelik dat die eerste 7 sewetalle tydens die eerste stadium van hierdie profesie verloop het. Aan die begin van die 70 jaarweke, in Maart 445 v.C., is toestemming deur die Persiese koning Artasásta aan die Jode in ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te gaan herbou. Die aanvanklike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi. In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid en vyandskap verder uitgebrei en bewoon. Die verwerping en kruisiging van die Messias was die kulminasie van die eerste 69 jaarweke (vir meer inligting oor die 70 jaarweke, kyk http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Aftelling.htm).
Dit is kontekstueel heeltemal verkeerd om hierdie 7 sewetalle op die wederkoms van Christus te probeer toepas. Dit word nogtans gedoen, en daarom die groot verwagting oor Christus se koms op 23 September 2015, waarvoor Isaac Newton ten minste deels verantwoordelik is. Daar word etlike jare lank al verskeie pogings aangewend om die “wyse” Newton by ʼn datum oor die wederkoms te betrek en sodoende verkeerdelik aan hom verborge kennis toe te skryf, asook volle status as ʼn spesiale profeet van God.
Jim Bramlett, nog ʼn Amerikaanse skrywer, sê bv.: “Sid Roth, a TV evangelist, quotes from Neill Russell’s book where it explains Newton’s calculations of adding 49 years to the June 1967 date. Based on Newton’s Riddle the book says, ‘Messiah’s possible return to earth will be on or before the year 2016.’ However, that is apparently based on using modern (365-day) years in calculation. As I pointed out in my e-mail dated February 20, 2008, if you use exact 49 Jewish (360-day, prophetic) years from the day Israel captured the Temple Mount on June 7, 1967, you get 49 X 360 = 17640 days, which amazingly takes one exactly to September 23rd, 2015, the Day of Atonement 2015.”
Die probleem is, Isaac Newton het nie aangedui wat die vertrekpunt van die 7 jaarweke in die eindtyd is nie. Aanvanklik is gemeen dat die herstel van Israel op 14 Mei 1948 die begin van hierdie aftelling is. Na aanleiding daarvan is die mening gehuldig dat 49 profetiese jare van 360 dae elk wat in 1948 begin, in 1995 verstreke wou wees. Indien die Messias dan sou kom om ewige geregtigheid vir Israel en die nasies te bewerk, dan moes die voorafgaande 70ste jaarweek van Daniël (die verdrukking van 7 jaar) reeds in 1988 begin het.
Dit het egter nie gebeur nie. Daarna het moderne interpreteerders van Newton se profesieë besluit dat die herowering van Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, of die Stad van Dawid) in Junie 1967 die vertrekpunt van die 49 profetiese jare is. In terme van hierdie beskouing sal die Messias in September 2015 kom, en moes die verdrukking van sewe jaar dus al in 2008 begin het. In September 2008 het ʼn nuwe jaarweek inderdaad in Israel begin, maar dit was nie die jaarweek van die verdrukking nie.
Dit is heeltemal irrasioneel en in stryd met Bybelse profesieë om te redeneer dat Jesus Christus op 23 September sal kom om die 70 jaarweke af te sluit, want die 70ste jaarweek het nog nie eers begin nie! Intussen het die nuwe Joodse jaarweek met die Rosh Hashanah in die middel van September 2015 begin, maar sonder die vervulling van enige profesieë. Die laaste 7 jaar het dus nog nie begin nie, want die wegraping het nie plaasgevind nie en die Antichris is ook nie geopenbaar om met sy magsoorname vir 7 jaar te begin nie.
Al wat Newton se aanhangers waarskynlik nou gaan doen, is om die vertrekpunt van die laaste 49 jaar aan te skuif na Augustus 1980, toe Jerusalem weer die hoofstad van moderne Israel geword het (voor die tyd was Tel Aviv die regeringsetel). Die 49 profetiese jare sal dan in 2027 verstreke wees, nie baie ver van die datum van 2034 af wat Newton wél genoem het nie!
As ons wil weet waar ons op die profetiese tydtafel staan, moet ons net die duidelike en ondubbelsinnige Bybelse profesieë in ag neem en ons toekomsverwagting daarop baseer. In terme hiervan weet ons vir seker dat die 70ste jaarweek van Daniël nog vervul moet word wanneer die sewe jaar van die Antichris se regering sal verloop. In die lig van Israel se eindtydse herstel wat formeel in 1948 begin het en reeds ʼn gevorderde stadium bereik het, weet ons dat hierdie tyd baie naby is. Ons weet egter nie presies wanneer nie. Ons weet nie eers of Israel se huidige jaarweke reg sinchroniseer met Bybelse jaarweke wat bykans twee millennia gelede in onbruik geraak het nie. Ons weet beslis ook nie wanneer die volgende jubeljaar gevier sal word nie – ten minste weet ons dat dit nie 2015/16 is nie, want die Messias sal eers ná die verdrukking van sewe jaar na Jerusalem terugkeer.
Indien ons ingeligte Christene wil wees wat die tekens van die tye reg vertolk, moet ons geen geloofwaardigheid verleen aan beweerde tekens wat nie sonder wensdenkery ʼn Skriftoets kan slaag nie. Hieronder is sogenaamde bloedmane wat niks met die bloedmane van Joël 2 en Openbaring 6 te doen het nie, omdat die werklike bloedmane eers in die tweede helfte van die verdrukking sal voorkom en wêreldwyd gesien sal kan word. Dit sal nie deel van die herhalende maansverduisterings wees wat al eeue lank voorkom nie. Indien hierdie maansverduisterings donker tye vir Israel voorspel, waarom was daar nie een van hulle tydens of net voor die Joodse volksmoord in die Tweede wêreldoorlog nie?
ʼn Ander beweerde teken wat tans verkondig word om paniek te saai, is ʼn komeet of meteoor wat glo in die tweede helfte September 2015 teen die aarde gaan bots en ʼn ontsaglike ramp veroorsaak. Valse bewerings van hierdie aard word dikwels aan NASA verbind ten einde dit as wetenskaplike feite voor te hou. Op die webblad www.fivedoves.com is bv. verlede jaar in ʼn artikel gesê: “NASA confirms earth will experience 6 days of total darkness in December 2014.”
Daar is verskeie ander mensgemaakte scenario’s oor die eindtyd, onder andere dat groot rampe wat Amerika tref, almal tydens Joodse sabbatsjare voorkom en God se straf is omdat Amerika een of ander verkeerde besluit oor Israel geneem het. Daar is bv. deur ʼn Joodse skrywer, Jonathan Cahn, ʼn groot verwagting geskep dat ʼn ernstige ekonomiese ineenstorting in Amerika sou voorkom tydens die sabbatsjaar wat op 13 September ten einde geloop het. Amerika is dalk baie naby aan so ʼn ekonomiese ramp, maar dit het nogtans nie gedurende die geprofeteerde jaar (2014/15) gebeur nie.
Baie mense maak ook ʼn groot ophef van die pous se ontmoeting met Obama in September, verhef sommer vir Obama tot die status van “Antichris” en beweer dat hierdie twee leiers saam die nuwe wêreldorde van Daniël se 70ste jaarweek sal inlui. Hulle vergeet gerieflikheidshalwe dat die Antichris in die Midde-Ooste gaan verreis en deur die Jode as hulle beloofde Messias uit die stam van Dawid aanvaar sal word. Inligting van hierdie aard verskyn egter nie op Obama se CV nie. Hy mag dalk baie ander hoedanighede hê, maar hy is nie die Joodse Messias nie!
Ons sal dringend ʼn streep moet trek tussen konkrete Bybelse voorspellings aan die een kant, en menslike gissings en spekulasie aan die ander kant. Die Here Jesus het ons teen geestelike misleiding in die eindtyd gewaarsku (Matt. 24:4-5), asook die gevaar om ʼn verbond te sluit met ʼn valse messias wat van blote menslike oorsprong is (Joh. 5:43) – ʼn fout wat herinner aan Newton se skewe idee oor ʼn Jesus wat nie God is nie. Christus het daarop gewys dat daar beslis valse aansprake sal wees met betrekking tot die identiteit en verskyning van die Messias (Matt. 24:24-26), en sy dissipels gemaan dat hierdie gerugte nie geglo en verder verkondig moet word nie.
Weens onkunde en die huldiging van ʼn onbybelse eskatologie is die meeste kerke nie in staat om suiwer lering oor die eindtyd aan te bied nie. Baie van hulle erken nie eers die Bybelse feit van Israel se herstel in die eindtyd nie – ook nie die opkoms van ʼn antichristelike nuwe wêreldorde en die verskyning van ʼn persoonlike Antichris nie. Hulle kan dus hoogstens spekulatiewe bewerings ontken, maar kan nie ʼn suiwer Bybelse scenario vir die eindtydse wêreld formuleer nie. Nou besoek hulle lidmate al wat ʼn webwerf is, en weet nie hoe om feite van fiksie te onderskei nie. Geestelike standaarde is ook al so ver afwaarts aangepas dat selfs die definisie van ʼn ware Christen afgewater is tot op ʼn vlak waarop dit nie meer aan Bybelse voorskrifte en beginsels voldoen nie.
God se raadsplan vir die mens – en veral ook vir die eindtyd – is duidelik in die Bybel uiteengesit. Die Here het aan Israel ʼn vaste profetiese kalender gegee in die vorm van sewe groot feeste wat jaarliks gevier moet word (Lev. 23). In hulle Ou-Testamentiese vorm is hulle almal net skaduwees (profetiese beloftes) wat die grondslag van ʼn Nuwe Testament sou word. In hulle vervulde vorm is hierdie feeste dus nie meer Joodse feeste nie, maar Christusfeeste wat op ʼn nuwe manier deur alle gelowiges op aarde gevier moet word. Tydens hulle vervulling word hulle die besit van alle gelowiges in alle volke.
Die Here het nie net die aard en inhoud van die sewe feeste bepaal nie, maar ook die spesifieke tyd van die jaar wanneer elkeen gevier moet word. Hulle word in Nuwe-Testamentiese tye in dieselfde volgorde vervul.
Die Pasga is met die kruisiging van Christus vervul, nadat Hy as die Lam van God gekom het wat vir die sonde van die hele wêreld geoffer sou word (Joh. 1:29). As gevolg hiervan is sy begrafnis én opstanding uit die dood ook belangrik vir alle gelowiges, daarom sy opdrag aan die dissipels: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder” (Luk. 24:46-47). Die begrafnis en opstanding van Jesus was die vervulling van die Fees van die Ongesuurde Brood en die Fees van die Eerstelinge.
Die Pinksterfees is ook met internasionale implikasie gevul toe die Heilige Gees die dissipels in staat gestel het om die evangelie in ten minste 15 verskillende tale te verkondig.
Bogenoemde vier feeste is almal vervul op die spesifieke dag wat die Here vir die fees vasgestel het. Ons kan met goeie reg verwag dat die laaste drie feeste ook op hulle geskeduleerde tyd vervul sal word.
Die Fees van die Basuine, wat met moderne Israel se Rosh Hashanah saamval, sal tydens die wegraping vervul word. Hierdie fees word elke jaar gevier, maar ons weet nie in watter jaar dit vervul sal word nie. Die verdrukking van sewe jaar sal ná die vervulling daarvan volg.
Die Groot Versoendag sal met die wederkoms van Christus ná die verdrukking vervul word, wanneer elke oog Hom sal sien en al die nasies oor Hom sal rou bedryf (Op. 1:7; Matt. 24:29-30). Die Loofhuttefees sal tydens die instelling van Christus se vrederyk op aarde vervul word, en alle nasies sal daaraan deel hê – ook die geredde Israel (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:21-23; 14:16).
Vir meer besonderhede oor die vervulling van hierdie sewe feeste, asook die groot geestelike en profetiese betekenis wat dit vir almal van ons inhou, lees skrywer sae boek Die Sewe Feeste: http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Bookschaplist/Sewe%20Feeste%20Van%20Israel.htm
Daar is ʼn rykdom van profetiese aanduidings oor die eindtyd in die Bybel, en ons hoef nie na twyfelagtige buite-Bybelse profesieë te kyk wat nie pertinent in die Bybel genoem word nie. Sensasiesoekers sal ons nie nader aan die waarheid bring nie, want hulle subjektiewe verwagtings sal nooit deur die Here vervul word nie.
Ons is beslis diep in die eindtyd, en dit stel bepaalde eise aan elke ernstige Christen. Ons sal moet waak en bid soos nooit tevore nie, want die nag raak donkerder, die geestelike klimaat word koud, apaties en selfs agnosties, die afdraaipaadjies aanlokliker, die dwalings meer subtiel, die versoekings erger, die probleme en aanvegtinge al hoe hewiger, en die neiging om die goeie stryd van die geloof te vermy, al hoe groter. Soos nooit tevore nie sal ons die hand aan die ploeg moet slaan en werk want die nag kom nader.
Is dit ʼn maklike pad hierdie? Beslis nie! Ons moet egter na die voorbeeld van die Here Jesus kyk en Hom vertrou vir deursettingsvermoë en krag tot oorwinning: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ʼn teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in julle siele nie vermoeid word en verslap nie” (Heb. 12:3). “Laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal. 6:9).
Een belofte wat ons nooit moet vergeet nie, is Jesus se versekering van sy onafgebroke teenwoordigheid in ons lewe deur die Heilige Gees: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20; vgl. Joh. 14:23). Die woord “wêreld” (Gr. aion) word in die NKJV meer korrek as “age” vertaal (“...I am with you always, even to the end of the age”). Volgens Strong’s kan dié woord ook na die “Messiaanse era” verwys, m.a.w. die hele kerkbedeling tot by die wederkoms van Christus. Dit is presies wat hier bedoel word. Ons is op ʼn pad waarop ons nooit alleen sal wees nie, maar dan moet ons in noue voeling met die Here Jesus bly, meer bid en nie sy Heilige Gees deur ons gedagtes, uitsprake en optrede (en ook nie ons louheid en gebrek aan diensbaarheid) bedroef nie. Weldra sal ons die blink môrester bokant ʼn donker horison sien verrys! Is jy gereed om Hom te ontmoet?