Teologie en Doelwitte van die Misleide Kerk

Prof. Johan Malan, Universiteit van Limpopo, RSA (Nov. 2005)

Die misleide kerk van die eindtyd is nie alleenlik die produk van menslike oordeelsfoute as gevolg van ‘n gebrek aan geestelike insig nie, maar dit vertoon onmiskenbaar ook die invloed van ‘n sataniese gees van dwaling. Dit is duidelik dat die koninkryk van die duisternis ‘n berekende plan het om die Christelike kerk tot só ‘n mate te mislei en te vervals dat lidmate van die ware Christus afvallig raak en sal meewerk om die mensgerigte, aardse koninkryk van die kosmiese Christus van alle gelowe (die Antichris) te help voorberei. Die beeld van Christus word geleidelik, so onopsigtelik as moontlik, verander om aan die multigodsdienstige beeld van die Antichris gelykvormig te word.

Die verkondiging van teologiese dwalings word altyd op ‘n baie subtiele manier gedoen, en is in sommige gevalle al eeue lank aan die gang sodat gewone lidmate nie maklik sal agterkom of geredelik erken dat hulle kerk mislei is nie. Paulus het met die vroeë oorsprong van hierdie baie ernstige probleem te doen gekry: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus... ‘n ander gees... en ‘n ander evangelie verkondig as wat julle aangeneem het,  laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4).

As gevolg van blootstelling aan verskillende vorms en grade van verval, het sommige kerke reeds verder as ander verval. Wanneer daar na misleide kerke verwys word, sluit ons dié in wat dalk net gedeeltelik deur ‘n valse leer soos preterisme mislei is, maar andersins aan die gesonde leer van Christus vashou. Hulle moet vermaan word om hulle teologie grondig te ondersoek, sodat verdere dwalings voorkom kan word. In ‘n gevorderde stadium van misleiding is daar diegene wat gevaar loop om van die genade te verval, of wat hulleself dalk al reeds in die kategorie van naamchristene bevind. Dié wat hulleself hieraan blootstel, moet ernstig aangespreek word, soos die waarskuwing wat Paulus aan die Galásiërs gerig het: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus: julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Hierdie gemeente het in ‘n stadium die gesonde leer verkondig, maar later op ‘n dwaalweg van wettisisme beland (Gal. 3:1-3). Die Efésiërs het ook weens kerkistiese dwalings hulle eerste liefde, Jesus Christus, verloor (Op. 2:4-5). Lidmate moet ten volle besef wat die implikasies van hulle leerstellige oortuigings is – nie net wanneer hulle hul teologiese tradisie getrou voortsit nie, maar ook wanneer hulle nuwe leringe aanvaar. Dit mag wees dat hulle gebooie van mense navolg wat glad nie vir Here aanvaarbaar is nie (Matt. 15:8-9).

Een van die kenmerke van die verskillende vorms van teologiese misleiding is dat hulle in omvang en intensiteit toeneem, en ook die pad vir ander valse leringe oopmaak. Hulle het ‘n natuurlike neiging om kragte saam te span en ‘n verenigde front teen die geopenbaarde waarheid van die Woord te vorm. In die nuwe ekumeniese broederskap van gelowiges aanvaar kerke mekaar heelhartig en sien geen probleem om Protestantisme en Rooms-Katolisisme met mekaar te assosieer nie, self ook nie met die aanknoop van intergeloofsbande met die nie-Christelike gelowe nie. Al die misleides neem egter saam sterk standpunt teen die evangeliese Christendom in, wat nie deel van die nuwe broederskap van gelowe wil wees nie.

Teologiese verval

Die volgende sewe teologiese strome is werksaam om die kerk te vervals en uiteindelik ten volle aan die koninkryk van die duisternis dienstig te maak. Baie lidmate van voormalig gerespekteerde kerke is geskok wanneer hulle agterkom dat baie van hierdie dwalings ook in hulle eie denominasies ingesluip het.

Die Bybel is ‘n menslike boek: Die Bybel is volgens die meeste moderne teoloë nie goddelik geïnspireerd en foutloos nie, en kerke volg hulle hierin na. Afhangende van die vlak van verval wat reeds bereik is, voer misleide kerke almal ‘n veldtog teen die Bybel as die betroubare Woord van God wat deur die Heilige Gees ingegee is. Hulle het ‘n voorliefde vir nuwe vertalings wat van die grondteks afwyk deurdat sekere tekste uitgelaat is en baie ander só verdraai is dat die betekenis daarvan drasties verander is. Vir hierdie mense is die oorsprong van die Bybel nie by God nie, maar by die menslike outeurs daarvan geleë. Hulle sien dit nie as die “Woord van God” nie, maar as “woorde oor God.” Dit is die rede waarom die gesag van die Skrif nie deur hulle eerbiedig word as dit hulle nie pas nie. Wanneer die Bybel bv. sê ‘n mens weergebore moet word om hemel toe te kan gaan (Joh. 3:3), dat homoseksuele, egbrekers en dronkaards nie die koninkryk van God sal beërf nie (1 Kor. 6:10), of dat vrouens nie predikante mag word nie (1 Kor. 14:34; 1 Tim. 2:12), dan steur hulle hulself nie daaraan nie.

Miskenning van Christus se godheid: Hoe meer die kerke verval, hoe minder is hulle bereid om Jesus Christus se godheid, sy ewige selfbestaan, sy maagdelike geboorte, die betekenis van sy kruisdood, en sy unieke posisie as die enigste middelaar tussen die mens en God te erken. Later word Hy net ‘n algemene simbool of ‘n soort banier waaronder hulle vergader, maar in werklikheid dien hulle Hom nie in gees en waarheid nie en doen net wat hulle wil. Uiteindelik weet hulle só min van die Here Jesus af dat hulle sy godheid ontken, Hom net as ‘n gewone profeet beskou en Hom met die messiasse van ander gelowe gelykstel. Dan volg hulle heeltemal ‘n ander Jesus na as die Jesus wat deur die Skrifte geleer word. Vervalsings van hierdie aard word onder die invloed van Satan in die harte van mense gevestig wat reeds teologies mislei is omdat hulle nie in die leer van Christus bly nie (2 Joh. v.9).

Preterisme: Dit is die historiese verklaring van eindtydse Bybelse profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking. Die bewering word in misleide kerke gemaak dat met die skrikbewind van die Romeinse keiser Nero, die vernietiging van Jerusalem en die tempel in die jaar 70 n.C., asook die internasionale verstrooiing van Israel in die eerste eeu, alle profesieë oor ‘n donker tydperk op aarde vervul is. Die mensdom hoef dus nie bekommerd te wees oor moeilike tye van goddelike oordele en Antichristelike misleiding wat in die eindtyd sal aanbreek nie. In plaas hiervan verkondig die valse leraars vrede, voorspoed, groot herlewings, en die sigbaarwording van God se koninkryk hier en nou in die hele wêreld.

Vervangingsteologie: Misleide kerke beoefen almal die vervangingsteologie. Hulle vervang een begrip met ‘n ander een, en pas sodoende die Bybel by hulle eie sienings aan. Hulle vervang Israel met die kerk, en eien dan al die Ou Testamentiese beloftes wat oor ‘n aardse koninkryk aan die volk Israel gemaak is, vir die kerk toe, wat verkeerdelik as die “geestelike Israel” beskryf word. Hulle erken nie meer die letterlike vervulling van beloftes oor Israel se herstel na hulle land nie, en sê dat dit op die kerk se posisie in die laaste dae dui, wanneer dit in die huidige wêreld sy volle erfenis in besit sal neem. Sulke kerke sien hulleself as “die uitverkore volk van God” en beweer dat al hulle lidmate tot die ewige lewe gepredestineer is. In die “nuwe Israel” word die verbondsteken van die besnydenis met die kinderdoop vervang, wat beteken dat die eis van geloof vir redding deur ritualisering vervang word (doopsaligheid). Dit is die belangrikste rede waarom die opdrag tot wedergeboorte nie ernstig opgeneem word nie.

Kontekstuele teologie: Misleide kerke het in die algemeen ‘n swak vooruitsig op die hemel en vestig hulle aandag hoofsaaklik op hulle aardse belange. Die gevolg is dat humanistiese hervormings en verbruikersvriendelikheid die einddoel van godsdiens word (die sg. “sosiale evangelie”). Hulle probeer altyd om by die menslike denke van hulle tyd aan te pas te einde populêre steun te verkry. Misleide kerke in ‘n kommunistiese land sal die sosialistiese ideologie aanvaar ten einde groter openbare aanvaarding te geniet. Toekomstige ideologiese veranderings deur die staat sal ook deur hulle onderskryf word, soos wat duidelik in Suid-Afrika se sosiale en politieke transformasie na ‘n nuwe grondwet gebeur het. Hierdie kerke ondersteun die aardse koninkryke waarvan hulle deel is, en bevorder nie God se koninkryk wat in stryd met die verdorwe wêreld funksioneer nie. Die konteks waarin hulle hulself bevind, is dus normatief vir die waarheid. Wanneer die samelewing sekere sondes soos homoseksualiteit en gay huwelike aanvaar, dan stem die populêre, verbruikersvriendelike kerk heelhartig hiermee saam. Selfs wanneer die staat verregaande dinge doen soos om Christelike onderwys af te skaf, ander godsdienste te erken en aborsie te wettig, dan bied die misleide kerke steeds nie aktief teen die staat weerstand nie en probeer eerder om so harmonieus as moontlik by hulle nuwe konteks aan te pas.

Koninkryksteologie: Die groot doelwit van misleide kerke is om ‘n sigbare koninkryk op aarde te vestig nog voordat Christus kom. Beloftes oor ‘n toekomstige koninkryk ná die wederkoms word nou reeds vir hierdie bedeling opgeëis. Dit beteken dat alle gelowiges soos koningskinders in oorvloed moet leef terwyl hulle heerskappy oor hulle erfdeel voer. Alle opposisie moet verdwyn en God se koninkryk oral ‘n sigbare werklikheid word. Daar is verskeie maniere waarop hierdie koninkryk teologies só verklaar word dat dit met die kerkbedeling saamval. Die meeste van die misleide kerke beweer dat die koninkryksbedeling tussen die eerste en tweede koms van Christus verloop, en dus met die kerkbedeling gelykgestel word. Volgens hulle is die duiwel gebind en leef ons nou in die duisendjarige vrederyk. Augustinus het hierdie dwaling al aan die begin van die donker Middeleeue verkondig, Calvyn het dit by hom oorgeneem en só het dit die teologiese erfenis van die meeste Protestantse kerke geword. Hulle hou vol dat die kerk die nuwe Israel is deur wie die Here die hele wêreld wil regeer, dat die wêreld bestem is om in die huidige bedeling al hoe beter te word, dat daar derhalwe geen wegraping as ‘n ontvlugting uit God se komende oordele sal wees nie, en gevolglik ook nie ‘n Antichris wat beheer oor die aarde sal verkry nie. Volgens hulle moet die kerk die wêreld verenig en regeer.

Alles is een: Misleide kerke het nie sterk teenstellings in hulle teologie nie. Daar is nie ‘n duidelike onderskeid tussen lig en duisternis, God en Satan, geregtigheid en ongeregtigheid, Christus en die Antichris, die ware godsdiens en die valse godsdienste, en die hemel en die hel nie. Hulle godsdiens is baie positivisties deurdat hulle nie graag na “negatiewe onderwerpe” soos sonde, oordele, die Antichris en geestelike misleiding verwys nie. Soos wat hierdie skewe en eensydige teologiese beeld verder inslag kry, word die positiewe pool al hoe groter en die negatiewe teenpool al hoe kleiner. Deur ‘n ekumeniese beweging word die Christendom eers verenig, en daarna volg multigodsdienstige ekumene. Uiteindelik word alles een – dan is daar is nie meer ‘n negatiewe teenpool van ‘n duiwel, ‘n hel en valse godsdienste nie. Die einddoel van die misleide kerk is die positiewe aanvaarding van alle nie-Christelike godsdienste, asook die ontkenning dat daar ‘n duiwel en ‘n hel is.

Metodes om die koninkryk te vestig

Daar is verskeie metodes wat deur die misleide kerk gebruik word om sy doel van ‘n sigbaar geopenbaarde koninkryk van God op aarde te bereik. Hieronder is die volgende:

Ekumenisme. Deur middel van Christelike én intergeloofsekumene word daar probeer om godsdienseenheid en harmonie tussen alle mense op aarde te skep. Op die eerste vlak word daar gepoog om eenheid tussen verskillende Protestantse kerke te skep, bv. deur middel van die Wêreldraad van Kerke met sy credo van “een kerk vir een wêreld.” Hierna word eenheid of broederlike bande tussen die Protestante, Rooms-Katolieke en al die onafhanklike Christelike kerke nagestreef. Op die finale vlak word eenheid tussen alle godsdienste op aarde bevorder, na aanleiding van die misleidende opvatting dat ons almal dieselfde God aanbid. Wanneer hierdie leuen aanvaar is, sal die hele wêreld (behalwe die evangeliese Christene) dieselfde valse messias aanvaar en navolg (Op. 13:3,8).

Wêreld-georiënteerde godsdiens. Prediking in dié beweging is só positief dat dit vir niemand aanstoot gee nie en almal op ‘n maklike manier salig spreek. Nie net is die boodskap en preekstyl van die kerk op wêreldse standaarde gebaseer nie, maar ook sy musiek en sang. Onderwerpe soos sonde, oordele, die Antichris, valse gelowe en ook die kruisiging van Jesus, word as negatief beskou en vermy. Daar word beweer dat God sonde vergewe omdat Hy liefdevol en vergewensgesind is, en nie omdat Jesus aan die kruis daarvoor gesterf het nie. Daar word ook beweer dat God só liefdevol is dat Hy niemand in die hel sal gooi nie. Die nie-veroordelende boodskap  van die misleide kerk is baie populêr en verbruikersvriendelik in ‘n verdorwe samelewing. Hulle trek reuse gehore omdat dit so maklik gemaak word om sonder bekering ‘n Christen te word.

Mistiese spiritualiteit. Verskeie onbybelse, mistiese tegnieke word gebruik om die teenwoordigheid en kragte van God (‘n panteïstiese “God” wat binne-in mense én oral in sy skepping verskuil is) op ‘n sintuiglike én buite-sintuiglike wyse te ervaar. Hieronder is Christelike meditasie, joga, visualisering, hipnotiese regressie, innerlike genesing, asook verskeie alternatiewe genesingspraktyke vir liggaamlike kwale. Uiteindelik word gebed heeltemal deur meditasie vervang, en leer mense die tegniek aan om binne ‘n paar minute na ‘n alternatiewe bewussyn oor te skakel waarin hulle “kreatiewe regterbrein” vir ongeïdentifiseerde invloede uit ‘n mistiese geesteswêreld oopgestel is. Bybellees word deur mistiese openbaringskanale soos drome en visioene vervang, en gaandeweg word die Bybel meer gemarginaliseer.

Manifestasies van God se krag. Tekens en wonders (veral tydens genesingsdienste) word gebruik as n bewys daarvan dat ons nie vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld is wat in die mag van die Bose lê nie, maar dat ons gemaklik van al Satan se invloede ontslae kan raak. God se kragte word egter net aan sekere gesalfde profete en apostels toevertrou, en Hy deel ook belangrike boodskappe aan hulle mee. Hierdie mense word die leiers van die ontluikende koninkryk van God in die wêreld, hulle word deur miljoene mense aangehang en word skatryk deur die ruim bydraes van hulle groot aantal misleide volgelinge.

Aftakeling van Satan se magsbasis. Ten spyte van al die aansprake dat ons nou in die duisendjarige vrederyk leef en dat die duiwel gebind is, is daar nog steeds oorweldigende bewyse van Satan se misleidings- en verwoestingswerk onder mense. Die misleide kerk weier egter om hierdie feit te aanvaar om probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering van hom en sy demone ontslae te raak. Deur ‘n proses van geestelike kartering (spiritual mapping) word bose vestings bokant geselekteerde dorpe, stede of lande bepaal, daarna word gebedsmarse georganiseer waarin hierdie vestings afgebreek en die duiwel totaal uit die omgewing verdryf word. Hulle glo dat misdaad en sonde daarna sal ophou, en dat ‘n reuse herlewing sal volg terwyl die koninkryk van God in die geestelik bevryde gebied gevestig word. Poortwagters (gatekeepers) word dan by toegangspaaie en lughawens geplaas om te voorkom dat Satan en sy demone weer terugkeer. Christene se probleme word op ’n soortgelyke wyse deur duiweluitdrywing opgelos, sonder om die Bybelse boodskap van heiligmaking deur die kruisiging van die vlees (die ou, sondige natuur) te verkondig.

Transformasie. ‘n Proses van transformasie (rekonstruksionisme) na koninkrykstoestande soos heerskappy, voorspoed, geluk en harmonie word oral gevolg. Massa-saamtrekke word gehou om die eenheid van die kerk te demonstreer en alle leierspersone by die beweging in te trek. Die groot teologiese verskille tussen die deelnemende kerke word geïgnoreer, solank hulle net hande vat en saam aan die moderne toring van Babel bou. Dit gaan dus nie oor leerstellige suiwerheid of ‘n verbeterde verhouding met die Here nie, maar oor beter menseverhoudings in ‘n verenigende wêreld. ‘n Christelike nuwe wêreldorde moet volgens hulle nóú sy beslag kry.

Die finale uitkomste van geestelike misleiding

Die misleide kerk word voorberei en gebruik om die volgende uitkomste te laat realiseer:

·        ‘n Alliansie van wêreld­godsdienste moet geskep word.

·        Die heilige boeke van alle gelowe moet gelykwaardig deur almal erken word.

·        Alle gelowe moet die komende universele messias aanvaar.

·        Die liggaam van wêreldgodsdienste moet eenheid nastreef en saam met die komende, universele messias die wêreld regeer.

·        Alle mense moet bereid wees om die universele messias as God te aanbid wanneer hy daarop aandring.

·        Die volgelinge van die universele messias moet ten volle bereid wees om hom te help om die eksklusiewe Messias van die Christene en Jode te opponeer en te beveg wanneer Hy op die Olyfberg sal verskyn om die valse messias en sy nuwe wêreldorde te vernietig.

Weerlegging van die misleiding

Daar moet sterk standpunt teen alle aspekte van die misleide kerk se teologie ingeneem word, deur die volgende Bybelse leerstellings te handhaaf en te verdedig:

Die Bybel is God se Woord. Verdedig die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel as die Woord van God (2 Tim. 3:16-17; 2 Pet. 1:20-21). Dring op ‘n letterlike, grammaties-historiese verklaring van die Bybel aan, want deur die vergeesteliking daarvan word daar óf aspekte van die inhoud weggelaat óf deur ‘n veranderde, allegoriese interpretasie nuwe gedagtes bygevoeg (Deut. 4:2; Op. 22:18-19).

Bevestig Jesus Christus se godheid en uniekheid. Die godheid, maagdelike geboorte en uniekheid van die Here Jesus as die enigste Verlosser van die wêreld is ‘n ononderhandelbare feit wat onwrikbaar geglo en vreesloos verkondig moet word (Luk. 19:10; Joh. 1:29; Hand. 17:30-31). Daar is net een naam onder die hemel gegee waardeur ons gered kan word (Hand. 4:12), daarom kan niemand na die Vader kom behalwe deur Jesus nie (Joh. 14:6). Mense wat dit nie glo nie, sal in hulle sondes sterf (Joh. 8:24; 1 Joh. 5:12).

Die koninkryk is toekomstig. Ons is nie nou in die koninkryksbedeling nie, maar soldate vir Christus in ‘n verdorwe wêreld wat in die mag van die Bose lê (Ef. 6:11-12; 1 Joh. 5:19). Ons is vreemdelinge en bywoners in ‘n goddelose koninkryk (1 Pet. 2:11). Die duiwel is nie nou gebind nie, maar loop rond soos ‘n brullende leeu (1 Pet. 5:8-9). In dié bedeling is Christus se koninkryk verborge omdat dit nie van hierdie wêreld is nie. Sy koninkryk sal eers sigbaar geopenbaar word wanneer Hy weer kom, en dan sal sy heiliges saam met Hom as konings regeer (Jer. 3:17; Sag. 14:4-5,8; Luk. 19:12-19; Op. 5:9-10; 20:6).

Die kerk is nie Israel nie. Daar moet ‘n duidelike onderskeid tussen Israel en die kerk getref word. Alhoewel geredde Jode in die kerkbedeling ook deel van die kerk word (Gal. 3:28), is daar duidelike beloftes aan hierdie volk gemaak wat nie op die kerk oordraagbaar is nie. Een hiervan is die bewoning van die land Israel, wat die Here aan hulle vaders gegee het (Gen. 13:14-15; Eseg. 36:22-28; 37:21-22). Hoewel daar tans individuele Jode gered word, sal Israel as volk eers ná die tye van die nasies, tydens die koms van die Messias, gered word (Rom. 11:25-26; Sag. 12:10). Ons is deel van “die volheid van die heidene” (die nie-Joodse nasies) wat vir die Here se koninkryk ingesamel word, en nie deel van Israel nie (Rom. 11:25). Ons verhouding met die Here word deur geloof bepaal en nie deur afstamming van een of ander stam, volk of rassegroep nie. Ons is ook nie van priesters of ritualiseerders (sakramenteurs) afhanklik om ons in die hemel te kry nie, omdat ons ‘n groot Hoëpriester het wat net leef om vir ons in te tree en aan ons genade te verleen (Heb. 4:14-16; 7:25).

Daar is twee groot werklikhede. Die ideologie van alles is een is heeltemal onbybels. Elke mens word geestelik met twee groot werklikhede gekonfronteer, naamlik die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. As gevolg van ons erflike, sondige natuur word alle mense ongered gebore (Rom. 3:10; 5:12) en moet dus weergebore word om lede van God se koninkryk te kan word (Joh. 3:3). Wanneer dit gebeur, gaan ons oor uit die dood in die lewe (Joh. 5:24), m.a.w. uit die duisternis tot die lig (1 Pet. 2:9). Ons is daartoe verbind om teen die koninkryk van die duisternis stryd te voer (Jak. 4:7; Heb. 12:4; Ef. 5:11) en nooit enige kompromie daarmee te maak nie. Ons kan hoegenaamd nie die ongekwalifiseerde eenheidsdenke van die Nuwe Era Beweging en die misleide kerk van die eindtyd aanvaar nie, omdat ons daartoe verbind is om nie in een juk met hulle te trek nie (2 Kor. 6:14-18). Die ekumeniese beweging met sy koninkryk-nou program is geen plek vir ‘n ware Christen nie.

Mistiese spiritualiteit is ‘n dwaling. Ons kan nie in die aanbidding van die ware God deur Jesus Christus enige kompromie met mistiese, regterbreintegnieke soos meditasie maak nie. Ons moet by ons volle bewussyn, in ons volle verstand en met nugtere denke, in gebed op die nuwe en lewende weg na die genadetroon van die Here toetree (Heb. 10:19-22; 1 Pet. 1:13). Dit is totaal onbybels om jou gedagtes deur die gebruik van ‘n mantra af te skakel en dan na die stil dieptes van jou binneste af te daal om daar na die god binne-in jou te soek. In die proses verloor jy alle onderskeidingsvermoë, beland in ‘n hipnotiese of transtoestand, en gee sodoende aan demone die geleentheid om gedagtes by jou te vestig en indrukke in jou gemoed te skep. Miljoene mense stel hulleself hiervoor oop, daarom is dit so ‘n populêre metode by Satan om sy misleidingswerk in nominaal Christelike kerke te doen.

Geestelike oorlogvoering moet op die persoonlike vlak beoefen word. Die opdrag tot geestelike oorlogvoering in die Bybel is duidelik op die persoonlike vlak gerig, teen die verkeerde gedagtes en sondige gewoontes wat die duiwel in mense se lewens wil vestig (Ef. 6:10-13; 2 Kor. 10:3-5). Daar is geen opdrag of mandaat om sogenaamde gebiedsdemone (territorial spirits) uit hulle vestings bokant stede of lande te verdryf nie. Die duiwel sal eers verwyder en gebind word wanneer Christus weer kom (Op. 20:1-3). Tot dan sal lande, stede en ander woongebiede onder die beïnvloeding van die Bose bly omdat die meeste mense uit eie keuse die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19). In alle groot gemeenskappe is by verre die meeste mense op die breë pad wat na die verderf lei (Matt. 7:13-14; Luk. 13:23-24). Hulle moet met die evangelie bereik word sodat die mag van Satan in hulle eie lewe verbreek kan word – nie in die lugruim bokant hulle huise nie. Daarna moet hulle self teen die Bose weerstand bied, sonder om poortwagters op die toegangspaaie na hulle dorp of stad aan te stel. Die duiwel gebruik nie paaie of vliegtuie om ‘n gebied en sy inwoners te bereik nie.

Eindtydse profesieë moet premillennialisties verklaar word. Profesieë oor die eindtyd word op ‘n baie duidelike wyse aan die tyd direk voor en ná die wederkoms van Jesus Christus verbind. Die koninkryksteoloë kan heeltemal daarvan vergeet dat hulle die wêreld gaan oorneem om nog voor die koms van Christus ‘n beter plek daarvan te maak. Die Bybel verkondig net die teenoorgestelde hiervan, en sê dat daar “in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Tim. 3:1-5). Daar sal ‘n groot geestelike en morele afval plaasvind en die mens van sonde geopenbaar word, die Antichris, wat homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God sal verklaar (2 Thess. 2:3-4). Die Antichris kon nie Nero gewees het nie, want Paulus sê dat die Here hierdie teëstander met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak (2 Thess. 2:8). Nero is lankal dood! Johannes bevestig ook in Openbaring 19:19-20 die feit dat die Antichris én die valse profeet eindtydse persone sal wees, omdat hulle op die dag van Christus se wederkoms gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi sal word. Daarna sal die duiwel gebind en Christus se duisendjarige vrederyk (die millennium) ingestel word (Op. 20:1-6). Jesus Christus kom voor die millennium (premillennialisties) daarom kan daar geen sprake van ‘n sigbare koninkryk voor sy wederkoms wees nie. Eindtydse profesieë moet dus nie histories verklaar word nie, maar futuristies.

Die futuristiese perspektief

Dit is van die allergrootste belang om ‘n premillennialistiese verwysingsraamwerk vir die verklaring van eindtydse profesieë te hê. Sonder dit sal ons hoegenaamd nie in staat wees om ons sekulêre én geestelike tydsomstandighede reg te kan vertolk nie. Ons sal ook nie die regte verwagting oor toekomstige gebeure hê nie.

Die misleide teoloë wat nóú ‘n koninkryk verkondig, asook die verwagte groot herlewings waardeur dit verwesenlik sal word, is besig om fabels te verkondig en daardeur mense se gehoor te streel. Die meeste kerklidmate is al so lank aan dwalings blootgestel, dat hulle nie meer die gesonde leer van die Bybel kan verdra nie (2 Tim. 4:3-4). Die idee van ‘n koninkryk hier en nou is wel ‘n populêre boodskap, maar dit is baie ver van die werklikheid verwyder. Die Here Jesus verwys na die grootskaalse afvalligheid van die eindtyd wanneer Hy sê: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Wat gaan gebeur dat geloof só drasties onder mense sal afneem dat dit nouliks aangetref sal word wanneer Christus kom? Die rede hiervoor word verstrek: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).

Geloof verwys in die Nuwe Testament altyd na die ware geloof in die Drie-enige God. As mense daarvan afvallig word, dan beteken dit net een ding, en dit is dat hulle onder die aanstigting van Satan se gees van dwaling in ‘n valse Jesus sal glo (2 Kor. 11:2-4,13). Hulle word daardeur voorberei om navolgers van die Antichris te word wanneer hy as die kosmiese Christus van alle gelowe geopenbaar sal word (Op. 13:3-4). Dit is die rede waarom die Here die gevare van geestelike misleiding bo-aan sy lys van die tekens van die tye geplaas het (Matt. 24:4-5,11,24).

Hierdie donker toneel is die Bybelse scenario vir die eindtyd – nie herlewings, ‘n koninkryk, eenheid, vrede en voorspoed op aarde nie, maar geestelike verval en ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit was nie (Matt. 24:21). Die Here sal ook natuurrampe as oordele oor die afvallige mensdom van die eindtyd beskik, sodat hulle gestraf kan word en tot die besef van God se misnoeë met hulle kan kom. Hierdie groot rampe het nie in die eerste eeu plaasgevind nie, maar is vir die eindtyd, kort voor Jesus se wederkoms, bestem: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Die sondaars sal in benoudheid heen en weer hardloop om wegkruipplek te soek wanneer apokaliptiese aardbewings die wêreld tref en al die mure op die aarde val. Hulle sal tot die berge en rotse roep om op hulle te val, want hulle sal weet dat die groot dag van die Lam se toorn aangebreek het (Op. 6:12-17; 16:18). Kom die ware kinders van die Here in hierdie oordele? Sekerlik nie! Die Here Jesus het vir sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Wanneer die weergebore Christene weg is, sal die aarde vol ongelowiges wees sodat die Antichris sonder enige teëstand geopenbaar kan word (2 Thess. 2:6-8). Miljoene mense sal wél in die tyd van verdrukking gered word (Op. 7:9,13-14), maar hulle sal as martelare vir hulle geloof sterf (Op. 6:9-11; 20:4). Deur die Antichris se toedoen sal hulle nie hier wees om Christus op die wolke van die hemel te sien kom nie.

Dit is inderdaad ‘n baie relevante vraag of daar met Christus se wederkoms enige gelowiges op aarde sal oorbly. Eers nadat Hy op die Olyfberg neergedaal het, sal die oorblyfsel van Israel en die nasies gered word, sodat die vrederyk met ’n eerste geslag gelowiges kan begin (Matt. 24:30; Sag. 12:10). In die opkomende geslagte sal misleiding en ongeloof weer begin toeneem, sodat selfs die vrederyk wanneer Christus fisies op aarde sal regeer, in groot ongeloof en rebellie teen God sal eindig (Op. 20:7-10). Is die mensdom dan so traag om te leer? Elke bedeling het in wydverspreide ongeloof geëindig:

·        Die bedeling van onskuld in die paradys het in die ongeloof van Adam en Eva en die minagting van God se verordeninge geëindig.

·        Die bedeling van die gewete toe die mens deur sy innerlike oortuiging van reg en verkeerd gelei is, het in die tyd van Noag in wydverspreide ongeloof en rebellie teen God geëindig.

·        Die bedeling van menslike regering ná die vloed het na die goddelose Babiloniese ryk, asook talle ander ongelowige, heidense ryke gelei. Selfs Israel het in ongeloof verval en die slawe van die heidense Egiptenare geword.

·        Die bedeling van die wet ná Israel se uittog uit Egipte het in ernstige ongeloof geëindig toe Israel sommige van hulle profete gestenig en die beloofde Messias verwerp het.

·        Die bedeling van genade sal ook in ‘n situasie eindig waarin die groot meerderheid kerke só afvallig en materialisties sal raak dat die Here hulle uit sy mond sal spuug. Die relatief klein groep ware gelowiges sal weggeraap word, waarna die miljoene misleides en ongelowiges aan die diktatuur van die Antichris uitgelewer sal word.

·        Die bedeling van die Antichris se regering sal in totale ongeloof en rebellie eindig, wanneer die nasies onder die Antichris se leiding na die Midde-Ooste sal optrek om teen Israel se Messias (wat die ware Messias is) te veg en Hom te probeer doodmaak (Op. 19:19).

·        Die bedeling van die vrederyk sal ook ‘n donker einde van ongeloof en rebellie hê wanneer Satan ná sy loslating daarin sal slaag om die meeste mense te mislei om saam met hom teen die koninkryk van God te veg.

Die dag van afrekening

Besef u die erns van die saak toe die Here Jesus gesê het: “Pas op dat niemand julle mislei nie”? (Matt. 24:4). Daar kom ‘n tyd van groot ontnugtering en afrekening vir alle sondaars, insluitende die misleide naamchristene wat verkeerdelik gedink het dat hulle goed doen en op die regte pad is. Dan sal dit te laat wees om verskonings soos die volgende aan te bied: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” (Matt. 7:22-23).

Dit is moontlik om, selfs in die Naam van Jesus Christus, grootskaalse misleidingswerk te doen. Dit is presies wat vandag in misleide kerke gebeur. Wanneer dié mense in die oordeelsdag verkeerd bewys is, sal dit ‘n tipiese koninkrykspleidooi wees om te sê: “Here, Here, het ons nie in u Naam gepreek, duiwels uitgedryf en baie ander wonderwerke gedoen nie?” Die Here sal egter dié skynbaar Christelike werke as boos beskryf. Hierdie mense verkondig Jesus as Here en Koning, maar nie as die gekruisigde en verrese Verlosser van ‘n verlore mensdom nie. Hulle laat ook na om sy volgelinge oor die kosteberekening van hulle besluit vir Christus in te lig, naamlik dat hulle bereid moet wees om hulleself te verloën, hulle kruis op te neem, Jesus te volg, en te verwag om deur die wêreld verwerp en gehaat te word.

Dit sal ook duidelik word dat die uitdryf van duiwels deur baie van die koninkryksteoloë ‘n totaal misplaaste aktiwiteit was. Hulle het verkeerdelik aangeneem dat hulle in die koninkryksdispensasie leef, waartydens die duiwel veronderstel is om verwyder en in ‘n bodemlose put gebind te wees. Op grond van hulle verkeerde aanname het hulle strategiese geestelike oorlogvoering beoefen om die mensdom, insluitende die miljoene verlore siele, van die duiwel se invloed te bevry. Deur hierdie groot en dramatiese aktiwiteite het hulle aan gemeenskappe en volke valse hoop gegee dat hulle totale woongebied én selfs hulle hele land, van bose beïnvloeding vrygemaak kan word.

Daar is ook ander baie ernstige gevolge van hierdie verkeerde verwagtings, valse hoop en onbybelse strategieë. Deur die skouspelagtige maar nuttelose koninkryksaktiwiteite finansieel te ondersteun, word groot somme geld van tradisionele evangelisasie- en sendingwerk af weggekanaliseer. Dit word selfs as ‘n vermorsing van tyd en geld beskou om een-tot-een gesprekke te voer of met klein groepe te praat sonder om eers die bose vestings in die samelewing af te breek. Mense word na bewering hierdeur gebind en geestelik verblind, daarom is dit vir hulle onmoontlik om die evangelie te verstaan en te aanvaar. Baie van die sendelinge en evangeliste verloor dus nou hulle ondersteuningsbasis as gevolg van die stadige en, wêrelds gesproke, onindrukwekkende metodes wat hulle gebruik.

Verder is die uitdryf van duiwels op die persoonlike vlak ‘n regstreekse aanval op die Bybelse leer van heiligmaking. Dit is nie alleen op die onbybelse aanname gebaseer dat Christene duiwelbesete kan wees nie, maar ondermyn ook die Bybelse weg van die kruisiging van die vlees, wat Satan se bondgenoot in ons lewe is. Ons moet saam met Christus sterf deur intiem met sy kruis te identifiseer, deur wie die wêreld vir ons gekruisig is en ons vir die wêreld (Gal. 6:14; Luk. 9:23). Die maklike, vinnige en dramatiese oplossings van die koninkryksteologie werk net eenvoudig nie, en is in werklikheid instrumente in die hande van die duiwel om verwarring te skep en miljoene mense te mislei.

Ons moet leer om alles in die lig van God se Woord te toets: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1). Die Bybel is ons enigste verweer teen valse leerstellings: “Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Tim. 2:15). Om die woord van die waarheid reg te sny, veronderstel die regte verstaan en toepassing van Bybelse waarhede. In hierdie verband is dispensasionele verskille van die grootste belang, omdat verwarring op hierdie terrein die broeiplek vir misleiding is. Die gelykstelling van die genade-dispensasie (die kerkbedeling) met die beloofde koninkryksbedeling is verantwoordelik vir baie van die misleiding, verkeerde verwagtings en nuttelose aktiwiteite van ons tyd.