Tienvoudige Rol van die Christenman

Johan Malan, Mosselbaai (Junie 2016)

Paulus sê in Filippense 3:14 dat wanneer ons gered is, ons die dinge wat agter lê moet vergeet, toekomsgerig leef en die hoë roeping van God in Christus Jesus volbring. In sy nuwe lewe is daar ten minste tien verskillende rolle wat ʼn getroude Christenman in sy gesin, in sy gemeente en in die samelewing moet vervul. Hy word voor die uitdaging gestel om homself in elke hoedanigheid te onderskei deur dit kwalitatief al hoe beter te vervul. Hierdie rolle is die volgende:

1.    Sy roeping as ʼn man van God

Die belangrikste aspek van ʼn gelowige man se identiteit is sy Christelike status as ʼn man van God. Dit is sy eerste en belangrikste vorm van identiteit, en alle ander sekondêre identiteite is hieraan ondergeskik. Dit gaan heel eerste oor sy Christenskap, want dit bepaal die kwaliteit en aard van al die ander rolle wat hy in die samelewing vervul; daarom is hy byvoorbeeld ʼn Christen-Afrikaner, ʼn Christen sakeman, ʼn Christen onderwyser, ʼn Christen politikus, ens. Sy identiteit as gesinsman, en ook sy rol in die beroepswêreld, moet op ʼn Christelike fondament gebou word, want dit is die geestelike en morele grondslag vir eerbaarheid, betroubaarheid en persoonlike integriteit. Waarom is daar so ʼn groot vertrouenskrisis in ons land weens korrupsie, immoraliteit, dubbele standaarde en onregverdige optrede? Omdat so baie politieke leiers, sakeleiers, akademiese en ander leiers, nie in die eerste plek as evangeliese Christene bekend is nie – daarom kan hulle nie vertrou word nie. Daar is net een oplossing hiervoor – die Here Jesus moet ons eerste liefde wees, en die bevordering van sy koninkryk ons hoogste prioriteit. Die Bybel sê ons moet eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, dan sal al die ander dinge vir ons bygevoeg word (Matt. 6:33).

2.    Die sosiale hoof van sy gesin

Gesinne is die basiese sosiale eenhede waaruit volke bestaan. In God se gesagsorde is die man die hoof van sy gesin – “die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente” (Ef. 5:23). Die Here Self het die oppergesag en Hy delegeer gesag aan alle mans as die hoofde van hulle gesinne, en ook in ander leierskaprolle in die samelewing, bv. ouderlinge in die gemeente. Hy verwag van die mans om orde te handhaaf, in die beste belang van hulle ondergeskiktes op te tree, en ook saam met hulle as ʼn span te funksioneer waarin nie een minderwaardig teenoor die ander is nie. Daar moet dus intensiewe raadpleging plaasvind voordat besluite geneem en reëls neergelê word, sodat almal in die gesin of gemeente by die leierskap kan baat. Wanneer ander persone die besluite ook moreel en geestelik onderskryf, is die kanse baie beter dat hulle dit sal eerbiedig. Oorreding is altyd beter as dwang.

Ernstige negatiewe gevolge kan intree wanneer mans nie die gesag gebruik waarmee hulle beklee is nie. Dit kan enersyds na ʼn gesaglose gesin lei waarin die man óf afwesig en onbetrokke is, óf ʼn swakkeling wat geen duidelike leiding gee nie en elkeen gevolglik kan doen net wat hy of sy wil. Andersyds kan dit na gesagsmisbruik lei deur mans wat nie die Here vrees en volgens sy riglyne leef nie, maar volgens hulle eie verdorwe natuur optree en dan in diktators, geweldenaars en slawedrywers ontaard. Fisiese geweld, selfsugtigheid, onredelike besluite en beledigende taalgebruik is tipies van goddelose gesagsmisbruik. ʼn Ware man van God sal wel orde en dissipline handhaaf, maar op ʼn liefdevolle wyse. Hy sal altyd die Here se vergewens­gesindheid en lankmoedigheid openbaar, sodat daar heling, versoening en herstel kan plaasvind waar daar spanning, verwydering, misverstande en ongehoorsaamheid ingetree het.

3.    Die godsdienstige hoof van sy gesin

Die man is ook die godsdienstige hoof (of priester) van die gesin, en moet die geestelike welsyn van al die lede op sy hart dra. ʼn Priester het basies twee funksies: hy moet eerstens by God intree vir die redding en geestelike groei van die persone wat aan sy sorg opgedra is, en tweedens die woord van God aan hulle verkondig as ʼn riglyn vir die lewe. Daar moet dus intensiewe gesprekvoering plaasvind, want hy moet in sy voorbidding met God oor siele praat, en deur sy Woordverkondiging met siele oor God praat. Hierdie taak word al hoe belangriker, want ons leef in ʼn tyd waarin daar toenemend sondige invloede op die ouer én die jonger geslag inwerk. Die priester moet hierteen wal gooi en self ʼn waardige voorbeeld van heiligheid en Godsvrug stel. As hy in dié belangrike taak faal, gaan God hom verantwoordelik hou vir die geestelike verbrokkeling van sy gesin. Indien hy egter sy pligte getrou nakom en daar gesinslede is wat sy geestelike onderrig verwerp, dan is hulle bloed op hulle eie hande. Gesinne is die boustene van die samelewing, en as dit geestelik hier goed gaan, lewer dit ʼn belangrike bydrae om aan die breër gemeenskap ʼn Christelike karakter te verleen. Die teendeel is egter ook waar: wanneer Christelike gesinne begin verbrokkel, verloor die samelewing geleidelik sy Christelike karakter, raak humanisties, geestelik koersloos en moreel afvallig. Hoe goed gaan dit regtig met ons gesinne? Baie van die huwelike eindig in die skeihof en in nog baie ander gaan dit glad nie goed nie. Die man is nie alleen vir die gesin se probleme en geestelike verval verantwoordelik nie, want elkeen het steeds ʼn vrye wil, maar dikwels is daar by hom ʼn groot mate van pligsversuim weens swak leierskap as die geestelike hoof van sy gesin.

4.    Die ekonomiese hoof van sy gesin

As die ekonomiese hoof van die gesin is dit die plig van die man om toe te sien dat die hele gesin materieel goed versorg is. Hy moet dus ʼn vaste inkomste hê. Onder moeilike ekonomiese omstandighede is dit soms noodsaaklik dat die vrou ook hiermee help. Die beskrywing van ʼn deugsame vrou in Spreuke 31:10-30 is nogal betekenisvol. Behalwe al haar huishoudelike pligte het sy nog ʼn stuk grond gekoop om vrugtebome te plant, en verder het sy klere en leerprodukte gemaak om aan handelaars te verkoop. Die man is egter primêr vir die generering van inkomste verantwoordelik, en die Here verwag van hom om sy brood in die sweet van sy aangesig te verdien, en hom nie aan luiheid skuldig te maak nie. Die Bybel sê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess. 3:10). Die suksesvolle man moet dus ekonomiese ondernemingsgees hê, en selfs ook daarna streef om aan ander mense werk te verskaf. As Christen moet sy ekonomiese sake altyd eerbaar, regverdig en deursigtig wees.

5.    Die opvoedkundige hoof van sy gesin

Die man het saam met sy vrou die taak om sy kinders op te voed in die vrese van die Here, en ook met die nodige kennis toe te rus om ʼn volwaardige rol in die samelewing te vervul. Die ouers moet nooit dink dat die Sondagskool en die sekulêre skole dié taak heeltemal uit hulle hande neem nie – hierdie instellings is maar net verlengstukke van die funksies van die gesin. Toon belangstelling in jou kind se akademiese vordering, prys hom of haar vir goeie rapporte, prikkel hulle belangstelling in dinge wat belangrik is, en reël ekstra klasse om swak presteerders te help om hulle agterstand in te haal. Help ook jou kind met die regte keuse van ʼn loopbaan. Verkeerde besluite oor die toekoms kan iemand ver terugsit in die lewe. Hou noulettend toesig oor jou kind se blootstelling aan dinge wat sy/haar ontwikkeling nadelig kan raak, soos bv. verkeerde vriende, dobbelary, die gebruik van drank en dwelms, asook die groot hoeveelheid immorele materiaal wat op die internet en op selfoonnetwerke beskikbaar is. Dit voel amper asof daar ʼn dam van immoraliteit, gewelddadigheid en vuil taal op die jeug van die wêreld losgelaat is, en dit is beslis nie maklik om dit te beheer of te vermy nie. Nogtans moet daar iets aan gedoen word, anders gaan die jong geslag ten gronde. In die algemeen gee mans heeltemal te min aandag aan hulle kinders se opvoeding en opleiding tydens hulle vormingsjare. Kerke sal ook meer moet doen om hierdie leemte in die vorming en motivering van die jeug te help vul.

6.    Die eenheidsband met sy vrou

Die gesinshoof is nie alleen in sy posisie nie, maar vorm ʼn eenheid saam met sy vrou – nie ʼn absolute eenheid nie, maar ʼn saamgestelde eenheid waarin die een die ander aanvul. Elkeen is nog steeds ʼn individu in sy of haar eie reg, maar saam vorm hulle ʼn enkele egpaar. Dit is hulle huwelik, hulle kinders, hulle huis en hulle toekoms waaraan hulle werk. Die band tussen hulle moet nie net op pligsbesef gebaseer wees nie, maar gebou word op die fondament van ʼn gemeenskaplike liefde vir mekaar. Hierdie liefde moet diep in hulle harte ontspring. Onthou net dat liefde nie ʼn statiese toestand is nie – dit is dinamies van aard en kan dus sterker of swakker word, daarom moet dit gekoester en opgebou word. Ons moet daaraan werk, sodat die vlam van die liefde nie dalk al hoe flouer begin brand en later tot niet gaan nie. Sit nuwe hout op die vuurtjie dat dit kan aanhou om helder te brand. Dink aan wat die Here Jesus vir sy bruid (die Christelike gemeente) in Éfese gesê het: “Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het” (Op. 2:4). Wat ʼn aanklag van afvalligheid, liefdeloosheid en ontrouheid. Liefde vir die Here Jesus het in hulle harte weggesterf, en dit is vervang deur ander liefdes, bv. liefde vir die wêreld en selfs vir hulle eie kerk as ʼn godsdienstige organisasie en sosiale klub. Jesus het gesê hulle moet hierdie probleem regstel en terugkeer na hulle eerste liefde, sodat lidmate weer waarlik dissipels van Hom kon word.

Wat is die kwaliteit van jou liefde vir jou vrou? Werk jy nog daaraan om dit te versterk? Die Bybelse opdrag is duidelik: “Manne, julle moet julle eie vroue liefhê” (Ef. 5:25). Die geheim vir ʼn suksesvolle huwelik is nie net liefde vir God nie, maar ook liefde vir jou vrou. Dit moet só sterk wees dat dit elke krisis kan oorleef. Jy moet haar laat voel dat sy regtig waardeer word en dat jy ook graag in haar geselskap wil wees. Jou vrou is jou belangrikste bondgenoot in die lewe – nie net wat die instandhouding van die huishouding en die opvoeding van die kinders betref nie, maar ook vir morele en geestelike ondersteuning wanneer jy dalk deur groot probleme gekonfronteer word. Ek weet van ʼn Christelike organisasie wat die volgende riglyn vir hulle dameshulpgroep het: “Die vrouens op hulle knieë hou die mans op hulle voete.” Voorbidding vir mekaar moet ʼn daaglikse aktiwiteit wees, en die liefde moet nooit kwyn nie.

As jy nie jou vrou eer nie en julle staan nie waarlik saam as sielsgenote in die huwelik nie, dan kan daar verwydering intree. Volgens 1 Petrus 3:7 kan so ʼn wanverhouding selfs jou gebede verhinder. Die Here wil hê jy moet hierdie probleem heel eerste aanspreek, sodat dit bely en uitgeskakel kan word nog voordat jy oor ander sake begin bid. Los eers jou eie probleme op voordat jy jou met die probleme van ander mense bemoei. Die Here verwag dit van elke suksesvolle man ook ʼn suksesvolle huwelik te hê. Indien sy huwelik wel verbrokkel, moet hy seker maak dat hy nie self aandadig daaraan is nie. Hou jou kant skoon!

7.    Sy verbintenis tot heiligheid

Die Here verwag dit van alle mans (en trouens van alle gelowiges) om in hulle praktiese lewens bewys te lewer dat hulle heilig lewe, nie slawe van sonde is nie, en persone met vaste beginsels is. Ongelukkig is daar steeds baie mans wat nog nie ná hulle bekering ʼn volle oorgawe gemaak het om met die Heilige Gees vervul te word nie. Die gevolg is dat hulle soms in die Gees optree en soms in die vlees. Hierdie dubbelhartigheid lei daartoe dat baie van hulle ʼn openlike én ʼn verborge deel van hulle lewe het. Die verborge, sondige deel word toegesmeer, weggesteek en heftig ontken wanneer dit aan die lig kom. Dit help nie om geraamtes in jou kas weg te steek en te dink dit sal nooit ontdek word nie. Staak hierdie verkeerde dinge dadelik, en begin voor die aangesig van die Here met ʼn leegmaakproses wat na hartsreiniging sal lei. Daarna sal die volmaakproses volg wanneer die Heilige Gees jou sal vervul, in die hele waarheid lei, en jou ook teen elke verborge sonde sal waarsku. Dan sal jy lekker kan slaap sonder om te skrik as iemand skielik die hangkas oopmaak. Maak werk met daardie sondes en twyfelagtige praktyke waarvan ander mense dalk nog nie weet nie. Bid saam met Dawid: “Die afdwalinge – wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is. Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding. Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!” (Ps. 19:13-15). Om ʼn man na God se hart te kan wees, moet jy in die lig wandel en niks doen wat jou getuienis kan ondermyn of selfs vernietig nie.

ʼn Volle oorgawe met die oog op heiligmaking is onontbeerlik vir ʼn lewe van oorwinning. Jy moet daarna streef om in al jou veelvuldige rolle in die gesin en samelewing aan Christelike beginsels van opregtheid, getrouheid en heelhartige toewyding uitvoering te gee.

8.    Die identifisering en ontwikkeling van sy talente

Elke man moet hom op sy besondere talente en begaafdhede toespits en dit doelgerig ontwikkel. Dit sal hom toerus om ʼn groter bydrae tot die sukses van sy gesin, sy gemeente én die gemeenskap te kan lewer. Fokus op jou sterk punte en talente deur beoefening daarvan en ook verdere kursusse waardeur jou kennis verbreed en jou kundigheid verhoog kan word. Ongeag op watter terrein jou talente is – dit maak nie saak of dit sport, musiek, ingenieurswese, medisyne, bemarking, bestuurswese, wiskunde, boerdery, letterkunde of wat ook al is nie – ontwikkel dit net en gebruik dit tot eer van die Here en ook tot voordeel van jou medemens. Die opdrag is: “Namate elkeen ʼn genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10). Die Here het leiers en getuies op elke lewensterrein nodig – nie net op geestelike gebied nie. Hoe meer jy presteer, hoe meer kan jy werksgeleenthede en ʼn heenkome aan ander mense bied, en natuurlik ook die saak van die Here in ʼn meerdere mate ondersteun. Moenie ʼn swak presteerder wees wat halfhartig is en net op jou eie behoeftes ingestel is nie. Paulus vermaan Timótheüs: “Wees ʼn voorbeeld [of rolmodel] vir die gelowiges. ... Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie” (1 Tim. 4:12, 14). Die dienskneg wat sy talent in ʼn doek toedraai en begrawe, moenie dink dat die Here met sy lewe tevrede sal wees nie (vgl. Luk. 19:20-23). Wanneer jy wél jou talente ten volle gebruik, moet jy net altyd onthou dat jy ʼn rentmeester is wat nie slegs ter wille van selfverryking moet presteer nie, maar ook tot die eer van die Here, die uitbreiding van sy koninkryk en die opheffing van jou gemeenskap.

9.    Sy leerskool vir groter leierskap

Suksesvolle leierskap in hulle eie gesinne maak mans bekwaam om ook as leiers in hulle gemeentes én in die breër gemeenskap op te tree – ook in volksverband as die Here jou daartoe roep en bekwaam maak. Die Bybel sê: “As iemand na ʼn opsienersamp verlang, begeer hy ʼn voortreflike werk. ʼn Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?” (1 Tim. 3:1-5). Dit is duidelik dat net ʼn man van God wat die Here heelhartig dien, aan hierdie standaard kan voldoen. Die Here het ʼn groot doel met ons lewe, daarom moet ons sorg dat ons in elke sekulêre en geestelike leerskool sterker en meer bekwaam gemaak word om ander te kan lei en altyd die regte voorbeeld te stel. Die Bybelse leerskool vir leierskap is die gesin, en die Here kyk spesifiek na hoe jy jou pligte as man in hierdie hoedanigheid uitvoer. Slaag jy hierdie toets?

Die ouderlinge sal die Lam in die hemel toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). Ons sal as konings in Christus se vrederyk heers, maar slegs as ons gereinig is deur die bloed van die Lam, as hoofde van ons gesinne onsself in elke opsig as manne van God onderskei het, en ook ons afhanklikes se belange op ʼn waardige wyse bevorder het. Slegs dán sal ons met groter verantwoordelikhede vertrou kan word. Leierskap begin dus by die gesin, daarna brei dit uit na die gemeente en die gemeenskap met sy talle diensorganisasies, en uiteindelik sal ons saam met Christus in sy ryk as konings regeer.

10.  Sy roeping as ʼn getuie vir Christus

In die finale instansie moet elke man van God homself as ʼn getuie vir Christus onderskei. Hierdie opdrag van Jesus Christus is aan alle gelowiges gerig: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Sommige gelowiges voer hierdie opdrag voltyds as predikante of evangeliste uit, maar die meeste ander doen dit deeltyds. Almal móét egter hierby betrokke wees, want so kan ons verseker dat die Christendom in alle sektore van die samelewing verkondig word en ook van een geslag na ʼn ander oorgedra word.

Dit maak nie saak of jy die evangelie mondelings oordra, of in geskrewe of elektroniese vorm nie, solank dit net gedoen word. Jy kan daaroor gesprek voer deur bv. die evangelie van verlossing te verduidelik, of jou eie getuienis van redding te gee. Jy kan dit ook in geskrewe vorm verkondig deur traktaatjies en boekies te versprei in die tale van mense met wie jy in aanraking kom. Verder kan enigeen ook van die elektroniese media op die internet gebruik maak, bv. Christelike webwerwe, FaceBook, Twitter en YouTube. Selfoonnetwerke kan ook ingespan word. Op hierdie wyse word miljoene mense met die goeie nuus van die evangelie bereik.

Benewens al die sosiale, ekonomiese en ander verpligtings wat ons as mans in die samelewing het, is dit ʼn groot eer en ʼn voorreg om jou eie volk geestelik te help ophef en in ʼn wyer verband ook by die evangelisering van ander volke in ʼn verloregaande wêreld betrokke te wees. Dit het onteenseglik groot waarde vir die ewigheid om ʼn getuie vir Christus te wees, en dit help jou ook om nie in ʼn klein wêreldjie van eiebelang vasgevang te raak nie. Insette en beleggings in die Here se koninkryk sal verseker dat dit wat ons deur ons moeitevolle arbeid verdien het, nie alles vir die mot en die roes bestem is nie, maar dat ons ook ʼn onverganklike skat in die hemel sal versamel. Dit sal ʼn groot verleentheid wees om eendag met leë hande voor die Here te verskyn. Wat help dit om die hele wêreld te win en skade te ly aan jou siel? Ons moet ons nie in ʼn posisie bevind waar ons verskonings hoef te soek vir ons geestelike nalatigheid nie, want die Here roep almal van ons om sy getuies te wees en só die lig van sy koninkryk helder te laat skyn.