Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2014)
Lukas stel die evangelie van Jesus Christus aan die nie-Joodse wêreld bekend. In die geslagsregister van Jesus begin Hy by Adam, van wie alle mense op aarde ’n sondige natuur geërf het wat geneties na al die vertakkings van die mensdom oorgedra is. Paulus sê dat “deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so [het] die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Rom. 5:12). Aan die eerste Adam het ons almal dus ’n sondegeneigde natuur te danke wat met geestelike doodsheid gepaard gaan, en net Christus kan ons uit hierdie toestand lewend maak: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor. 15:22).
Lukas se verwysing na Adam as die oorsprong van die gevalle mensdom is belangrik, want in een van die geslagte in die menslike ras – spesifiek in die koninklike familie van die Uitverkore Volk, Israel – het God ’n Verlosser verwek wat as die “laaste Adam” beskryf word omdat al mense deur hom ’n nuwe begin as verlostes kan maak (1 Kor. 15:45). Lukas maak seker dat al die verlore nasate van die eerste Adam hierdie verlossingsplan goed begryp, want:
· Christus moes as ’n mens met ’n sterflike liggaam uit ’n vrou gebore word om die plaasvervangende doodstraf op sondige mense te kon dra;
· Hy moes uit ’n maagd gebore word omdat die sondige natuur van die gevalle mensdom deur die saad van die man oorgedra word;
· Hy moes deur die Heilige Gees verwek word sodat Hy ook Seun van God kon wees;
· Hy moes sondeloos volmaak wees as Hy God se volmaakte Offerlam wou wees (’n onskuldige wat namens die skuldiges kon sterf);
· Hy moes self ook God wees as hy sy heilige natuur aan geredde mense wou skenk om hulle aan God se heiligheid gelykvormig te maak;
· Hy moes in ’n koninklike familie gebore word, sodat Hy ook op die aardse troon van Dawid oor sy verloste volk kan regeer; en
· Sy godheid is noodsaaklik vir sy onsterflikheid as die Koning wat oor ’n ewigdurende koninkryk sal regeer.
Hierdie wonderlike geboorte word deur Lukas beskryf na aanleiding van die engel se woorde aan Maria:
“En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:31-35).
As Seun van die mens sou Jesus ook die Koning van Israel wees, omdat Hy in die koninklike huis van Dawid gebore sou word en dus op die regte tyd, wanneer Israel Hom ten volle aanvaar, van die troon van Dawid af uit Jerusalem sal regeer. Lukas erken dus ten volle die Joodse identiteit van die Messias, maar verbreed die toepassing van sy verlossingswerk om alle verlore mense op aarde in te sluit: “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10).
Hierdie inklusiewe benadering blyk duidelik uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (10:25-37), asook uit die teregwysings aan die Jode vir hulle onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (9:51-56). In Lukas 17:11-19 word daarop gewys dat ná die genesing van die tien melaatses slegs een, ’n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik. In Lukas 10:1-24 word 70 dissipels uitgestuur om die evangelie nie net na die Joodse inwoners van die omliggende dorpe uit te dra nie, maar ook na die heidene.
Dieselfde boodskap oor die smal pad met sy min mense en die breë pad waarop die groot meerderheid misleide, ongeredde mense is, word in Matthéüs aan die Jode én in Lukas aan die nie-Joodse wêreld verkondig (Matt. 7:13-15; Luk. 13:23-24). Die ware volgelinge van Jesus Christus is oral ’n klein minderheid wat nie net hard moet stry en groot persoonlike opofferings moet maak om op die smal pad te kom nie, maar ook standpunt teen die misleide meerderheid moet inneem. Nie net in Israel het die grootste gros van die bevolking en sy godsdiensleiers die rug op Jesus en sy leerstellings gedraai nie, maar dit gebeur ook in die nie-Joodse wêreld. Getroue volgelinge van Jesus moet bereid wees om hulle ten volle met sy kruis te vereenselwig en volkome aan hulleself (die ou, selfgesentreerde lewe) te sterf (Luk. 9:23; 14:27).
In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie slegs die lotgevalle van die ongelowige Joodse volk nie, maar ook van die Messiaanse gelowiges in Israel, die nie-Joodse Christene en die nasies. Die Messiaanse gelowiges se beloofde ontvlugting voor die vernietiging van Jerusalem in die eerste eeu, word deur Lukas beskryf (21:20-22) maar nie deur Matthéüs nie. Lukas gaan dan voort om “die tye van die nasies” te noem (21:24) wat tussen Christus se eerste en tweede koms verloop. Dit is nie deel van Israel se heilsgeskiedenis as volk nie, daarom noem Matthéüs nie die tye van die nasies nie.
’n Tema wat duidelik in die profetiese rede bespreek word, is die belofte dat die ware gelowiges van die eerste geslag in die kerkbedeling, die goddelike oordele oor Jerusalem sou ontsnap. Dieselfde Bybelse beginsel word ook op die laaste geslag voor Christus se wederkoms toegepas, omdat gelowiges weer uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder sal word. Dit is ’n gevestigde beginsel van God se handelswyse met mense: Hy stort nooit sy toorn oor die regverdiges uit wanneer Hy die goddeloses oordeel nie. Noag, Lot en hul gesinne is ook in plekke van veiligheid gestel voordat God die bose mense van hulle tyd geoordeel het.
Die volgende belofte is aan gelowiges van die eerste geslag gegee: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word” (Luk. 21:20-22).
In November en Desember, 66 n.C., is hierdie belofte letterlik aan Messiaanse gelowiges in Israel vervul. Dit was tydens die beleëring van Jerusalem deur Cestius Gallus, die Romeinse goewerneur van Sirië. In November het Cestius egter besluit dat sy magte nie goed genoeg toegerus was vir ’n lang beleëring van Jerusalem nie, en het die beleg afgelas. Die Jode het moed geskep by die gedagte dat God die vyand in hulle hand gegee het. Hulle het die terugtrekkende aanvallers agtervolg en 5300 van die Romeinse soldate gedood terwyl hulle self feitlik geen verliese gely het nie.
Messiaanse gelowiges in daardie tyd het egter nie die valse hoop van hulle ortodokse landgenote gedeel nie, maar op die waarskuwing van die Here Jesus gereageer en in ’n noordoostelike rigting uit die stad gevlug. Hulle het die Jordaanrivier oorgesteek en na die stad Pella in Dekápolis gevlug. Hier was hulle veilig teen die komende oordele oor Jerusalem en sy inwoners.
Nero, een van die grootste tiranne van alle tye, was in hierdie tyd keiser in Rome. Hy was hewig ontsteld oor die vernederende neerlaag wat sy Siriese leërs teen die Jode in Judéa gely het. Hy het die baie ervare generaal Vespasianus uit Gallië gestuur om die Joodse opstande te gaan onderdruk. Vespasianus het sy militêre basis van Antiochië af na Ptolemais verskuif. Hier het sy seun Titus met soldate uit Alexandrië by hom aangesluit om ’n gesamentlike mag van sowat 60 000 man op die been te bring. Verskeie dorpe en stede in Judéa is beleër, ingeneem, verwoes en feitlik al die inwoners om die lewe gebring. Baie van die oorlewendes het na Jerusalem gevlug omdat hulle gemeen het dat dié stad so versterk en veilig was dat dit feitlik oninneembaar was. Hulle het gemeen dat hulle hier veilig sou wees, maar die Here Jesus het hulle teen ’n baie tragiese uiteinde gewaarsku:
“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).
Gedurende die beleëring van Jerusalem is 1,1 miljoen mense dood – die helfte van hulle deur hongersnood en die res het geval deur die skerpte van die swaard. Die tempel is aan die brand gesteek, en daarna is die mure tot op die rotsfondament afgebreek om die gesmelte goud te herwin wat deur die krake van die vloer afgeloop het. Al die geboue in die stad is aan die brand gesteek en afgebreek. Op 26 September, 70 n.C., het die eens beroemde Stad van Dawid gesterf. Slegs een muur, die huidige Westelike Muur op die Tempelberg, het oorgebly as ’n skuiling vir Romeinse soldate wat agtergebly het om toe te sien dat die Jode nie weer die stad herbou nie. Die 97 000 oorlewende Jode is as krygsgevangenes weggevoer. Baie van hulle is in ander provinsies van die Romeinse Ryk as slawe verkoop.
Die lang tydperk van Israel se verstrooiing uit die land van hulle vaders, hulle wêreldwye ballingskap, asook die vertrapping van Jerusalem, het in 70 n.C. begin. Die daaropvolgende tydperk word beskryf as “die tye van die nasies” (Luk. 21:24) waartydens die hele wêreld geëvangeliseer moet word en die geleentheid kry om deel van God se koninkryk te word. Dit was eers in die laat 20ste eeu dat Jerusalem weer progressief onder Joodse beheer begin kom het, as deel van Israel se eindtydse herstel én ook die uitstorting van God se toorn oor ’n ongelowige wêreld.
Die Evangelie volgens Lukas is vir ’n nie-Joodse gehoor bedoel. Die belangrike heilsgebeure in Israel word genoem, asook hierdie volk se negatiewe houding oor die Messias. Die boodskap kom duidelik deur dat die Here nie slegs die ongelowige Jode wil red nie, maar ook lede van alle ander nasies. Lukas se sterk beklemtoning van Jesus se rol as die Seun van die Mens demonstreer die feit dat Jesus die geestelike belange van alle mense op die hart dra. Dit is in sigself die vervulling van ’n Ou-Testamentiese profesie waarin God van sy Seun gesê het: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Paulus het homself op hierdie uitspraak beroep toe hy met die evangelisering van nie-Joodse volke begin het (Hand. 13:45-47).
Die tye van die nasies verteenwoordig ’n belangrike bedeling in die heilsgeskiedenis van die mensdom, omdat die evangelie van genade in hierdie tyd aan alle nasies op aarde verkondig moet word. Hierdie taak is net aan die ware dissipels van Jesus toevertrou, en hoegenaamd nie aan die ongelowige geestelike leiers van Israel nie. Hier is dus geen spesiale priesterlike ampte by betrokke nie – slegs geloof in Jesus tesame met die wederbarende en instaatstellende krag van die Heilige Gees. Die taak van evangelisering sou spoedig deur dissipels uit die nie-Joodse wêreld oorgeneem word. Die opdrag vir evangelisasie, asook die toerusting om dit te kan doen, is só deur Jesus aan sy dissipels gegee:
“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49). Daar is van die dissipels verwag om met die Heilige Gees vervul te word voordat hulle hierdie belangrike taak aangepak het. Hierdie vereiste het eweneens vir diakens en ouderlinge gegeld (Hand. 6:3), en dus ook vir alle gelowiges wat ernstig daaroor is om die Here te dien (Luk. 11:13)
Die evangelie van die genade van Christus is verkondig, naamlik die kruisevangelie. Die hele kerkbedeling sou ’n tyd van genade wees wanneer almal die geleentheid kry om gered te word. Daar word nie in hierdie bedeling oordele van God oor ongelowiges uitgestort, soos wat dit in die Ou Testament die geval was nie. Die oordele oor ongelowiges is tot in die eindtyd uitgestel, wanneer die verdrukking sal plaasvind. Omdat Goddelike oordele nie vir gelowiges bestem is nie, sal hulle daaruit verlos word. Die verdrukking wat ons wel gedurende die kerkbedeling ervaar, word deur die ongelowige wêreld toegepas en kom nie van God af nie.
Wanneer Lukas ’n oorsig oor die verdrukking aanbied, laat hy die klem meer op die nasies val as op Israel. Hy verwys glad nie na Israel se vlug na die woestyn in die middel van die verdrukking wanneer die Antichris die tempel ontheilig nie. Hy gee net ’n kort opsomming van die verdrukking en bied dan pertinent aan gelowiges ’n ontvlugting uit die hele verdrukking aan:
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie. Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:25-36).
Hieruit is dit duidelik dat Jesus aan die einde van die verdrukking in groot krag en heerlikheid sal kom, maar dat Hy die gelowiges voor die tyd reeds sal wegneem omdat hulle nie vir die oordele van God bestem is nie. Hulle moet al hierdie dinge wat kom, “ontvlug” en voor die Seun van die mens staan.
Die grondbetekenis van die woord “ontvlug” (Gr. “ekfeugo”) word in ’n gesaghebbende woordeboek beskryf as “na veiligheid ontsnap, ontvlug, vermy of ontwyk (A Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich). Lukas 21:36 se betekenis van “ekfeugo” word spesifiek in dié woordeboek as “escape tribulations” (ontvlugting uit die verdrukking) aangedui.
In die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983 vertaling) is hierdie begrip egter uit die Bybel uitvertaal – klaarblyklik omdat dit met die vertalers se persoonlike leerstellige sienings gebots het. Hulle was egter nie taalkundig konsekwent nie, want hierdie woord word in Handelinge 16:27 as “ontsnap”, in Handelinge 19:16 as “gevlug”, in 1 Thessalonicense 5:3 as “ontkom” en in Hebreërs 2:3 ook as “ontkom” vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op ’n totaal teenstrydige wyse as “behoue deurkom” vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit ’n bepaalde plek of probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle deur die verdrukking gaan!
Die Here bied duidelik aan ons ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is beslis ’n tyd van Goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).
Lukas verwys na verskeie groepe tekens van die tye waardeur die Joodse volk, die nasies sowel as die dissipels van Christus onder alle volke aangespreek word. Hieruit blyk die groot belangrikheid daarvan om die regte perspektief op die toekoms te hê en ook daarvoor gereed te maak. ’n Onbybelse toekomsverwagting, of geen toekomsverwagting nie, kan ’n persoon duur te staan kom.
Jesus het die Jode van die eerste eeu verkwalik omdat hulle nie op die geestelike tekens van die tye ag geslaan en hulle verwagting daarby aangepas het nie: “En Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?” (Luk. 12:54-57).
In Israel voer wolke uit die weste vogtige lug van die Middellandse See af in, en dit bring reën, terwyl droë woestynwinde uit die suide na hoë temperature lei. Net so duidelik was die tekens oor die Messias se eerste koms wat in die Ou Testament genoem is. Diegene wat hierop ag geslaan het, sou ’n sterk verwagting op die Messias se koms gehad het.
Jesaja het lank gelede voorspel dat ’n Joodse seun wat in die geslag van Dawid gebore sou word, koning van Israel en terselfdertyd ook God sou wees (Jes. 9:5-6). Miga het voorspel dat Hy in Betlehem gebore sou word (Miga 5:1). In Daniël 9:24-26 word selfs ’n tydraamwerk aangebied vir die periode wat sou verloop tussen die toestemming om Jerusalem ná die stad se verwoesting deur die Babiloniërs te herbou, tot en met die kruisiging van die Messias. Benewens hierdie en talle ander Ou-Testamentiese profesieë, was daar tydens die geboorte van Jesus, en ook gedurende sy aardse bediening, verskeie tekens en uitsprake wat sy Messiasskap bevestig het.
Heel eerste was daar die verskyning van die engel Gabriël aan Sagaria in die tempel, om hom mee te deel dat sy seun Johannes ’n wegbereider vir die Messias sou wees. Die volk was terdeë van hierdie gebeurtenis bewus (Luk. 1:21-22). Hierna het Gabriël aan Maria verskyn om haar mee te deel dat haar Seun nie net die Koning van Israel sou wees nie, maar ook die Seun van God (Luk. 1:26-38). Nadat Johannes die Doper opgegroei en met sy bediening begin het, het hy Jesus in die openbaar voorgestel as die Lam van God wat die sonde van die wêreld sou wegneem (Joh. 1:29). Hierna het Jesus se eie bediening gevolg, waartydens Hy dikwels sy Goddelike identiteit geopenbaar het deur middel van sy uitsprake en wonderwerke.
Omdat Israel egter nie op die profetiese tekens van die Messias se koms ag geslaan het nie, was hulle maklike slagoffers van hulle misleide geestelike leiers. Hierdie leiers was op die uitkyk vir ’n Messias wat as ’n magtige koning die troon van Dawid in Jerusalem sou herstel en Israel dan militêr van hulle oorheersers sou bevry. Omdat Jesus Homself tydens sy eerste koms net as ’n nederige Dienskneg geopenbaar het wat gekom het om die volk van hulle sonde bewus te maak en ook daarvan te verlos, het hulle Hom verwerp. Die gewone lede van Israel is mislei om hierdie negatiewe siening met die agnostiese skrifgeleerdes te deel.
In sy bespreking van die tekens van die tye verkwalik die Here Jesus sy hoorders omdat hulle nie genoeg kennis en onderskeidingsvermoë het om self die waarheid te kan bepaal nie: “En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?” (Luk. 12:57). Dieselfde vraag kan aan almal van ons gevra word. Bestudeer ons die Woord onder die leiding van die Heilige Gees? Indien nie, kan ons hoegenaamd daarop aanspraak maak dat ons met die Heilige Gees vervul is? (vgl. Luk. 11:13).
Die Here wil beslis elkeen van ons bekwaam maak om sy Woord reg te kan verstaan en volgens die eise daarvan te lewe. Ons hoef nie die slagoffers van onkunde te wees, of van leraars wat weens subjektiewe oriëntasies van die waarheid afwyk nie. As ons dit doen, dan laat ons andere toe om ons geestelik te verblind of tonnelvisie aan ons te gee sodat ons nie die groter prentjie kan sien nie. Ons moet seker maak dat ons alle leerstellings reg verstaan, veral dié oor regverdigmaking, heiligmaking en die wederkoms. Leer by die Here – nie by blinde leiers nie. Uit die aard van die saak kan nie al die kerke en die honderde verskillende sienings wat daar oor die Bybel is, almal reg wees nie. Ons moet na die waarheid soek totdat ons dit vind, en daarteen waak om onnadenkende meelopers te word van ander mense wat dalk eensydige of totaal foutiewe sienings huldig.
Wat die eindtyd betref, noem Lukas twee stelle tekens van die tye, naamlik dié wat op die nabyheid van die wegraping en begin van verdrukking dui, en dié wat op Christus se sigbare koms aan die einde van die verdrukking dui. Die meeste van laasgenoemde tekens verwys na gebeurtenisse in die tweede helfte van die verdrukking, m.a.w. die groot verdrukking, net voor Christus se koms wanneer elke oog Hom sal sien (Luk. 21:9-11, 25-27).
Daar is egter min uitdruklike tekens wat dui op Christus se geheime koms soos ’n dief in die nag om sy bruidsgemeente voor die verdrukking te kom haal. Dit sal wees soos in die dae van Noag en Lot, toe die vervalle mensdom ten spyte van herhaalde waarskuwings oor God se naderende oordele met hulle materialistiese en bandelose lewens voortgegaan het (Luk. 17:26-36). Skielik, op ’n dag toe hulle dit nie verwag het nie, is hulle deur die oordele oorval. In die eindtyd sal dit net so wees (Luk. 17:30), maar kort voor die oordele sal die regverdiges van die aarde af weggeneem word: “In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34). Dié wat agterbly, sal deur die oordele oorval word.
Ons word gewaarsku dat die eindtydse oordele soos ’n strik oor die hele aarde sal kom, maar dat diegene wat geestelik waardig is, al hierdie dinge wat kom, sal ontvlug en voor die Seun van die mens staan (Luk. 21:35-36). Weens die verrassingselement van die wegraping is daar nie spesifieke tekens wat dit direk voorafgaan nie. In Lukas 21 word daar egter wel tekens genoem wat die eindtyd voor die wegraping in breë trekke identifiseer – dit is die bot van die vyeboom (die herstel van Israel) en, meer spesifiek, die beëindiging van die vertrapping van Jerusalem deur die nasies (Luk. 21:24; 29-31).
Israel is in 1948 herstel, en dit was ’n profetiese aanduiding dat ons die laaste fase van die kerkbedeling betree het. Jerusalem se herowering in 1967 en die stad se herstel as Israel se hoofstad in 1980, was belangrike bakens op die pad van Israel se herstel. Verdere verwikkelinge rondom die herstel van Israel is ook uit ’n profetiese oogpunt belangrik, omdat die magte van die duisternis Israel se beheer oor hulle Godgegewe land, asook hulle alleenbeheer oor Jerusalem as Joodse hoofstad, ongedaan probeer maak.
Profesieë oor die verdrukking self – bv. die verskyning van die Antichris, ongekende natuurrampe en tekens aan die son, maan en sterre, asook ’n dreigende wêreldoorlog, sal nie in die kerkbedeling (m.a.w. voor die wegraping) in vervulling gaan nie. Ons sal wel die voorbereidings vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en kontantlose wêreldekonomie kan sien, en dit is alles tekens dat die tyd besig is om uit te loop: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28).
Sommige mense reageer op moeilike omstandighede deur ontvlugting in wêreldse vermaak te soek, terwyl ander weer so bekommerd raak dat hulle in depressie verval. Ons moet egter nie toelaat dat die sorge van die lewe ons geestelik en emosioneel aftakel nie (Luk. 21:34), maar altyd ons krag in die blydskap van die Here vind. Daar moet by ons ’n groter toewyding wees om te waak, te bid en te volhard tot die einde toe. Spoedig sal ons die basuin van God hoor wat ons na ons hemelse tuiste sal oproep.