Leerstellige Standpunt

Ons is evangeliese gelowiges wat die heilige Drie-eenheid – God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees – bely. Ons neem sterk standpunt oor die Godheid, ewige selfbestaan en maagdelike geboorte van die Here Jesus in (kyk Wie is Jesus? en Belangrike leer oor die Here Jesus se Godheid ). Ons glo in die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel in die oorspronklike tale, die noodsaaklikheid vir alle mense om geestelik weergebore te word om deel van die koninkryk van God te kan word (regverdigmaking deur geloof in Christus) en ook die leer van heiligmaking deur vervulling met die Heilige Gees, sodat ons vrymoedige getuies en dissipels van die Here Jesus kan wees. Ons glo onwrikbaar daarin dat die hele raad van God in die Bybel aan ons bekendgemaak is, en vermy dus buite-Bybelse openbarings deur drome, visioene, vreemde stemme wat met mense praat, ens. Ons vermy ook die gebruik van wiskundige kodes om “verborge boodskappe” in die Bybel te identifiseer en te ontsyfer.

Ons glo in die wederkoms van Jesus Christus en verstaan eskatologiese beloftes binne ‘n premillennialistiese raamwerk waarin ons die fisiese herstel van Israel na hulle eie land leer. Ons glo in ‘n wegraping voor die Antichris se verskyning, ‘n sewe jaar lange verdrukking waartydens die wêreld deur die Antichris en die valse profeet regeer sal word, gevolg deur die wederkoms van die Here Jesus om sy vyande te verdelg, die oorblyfsel van Israel te red en as sy spesiale getuies toe te rus, sy duisendjarige vrederyk te vestig, met sy heiliges oor die aarde te regeer, en aan die einde daarvan die laaste oordeel en die skepping van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde.