Op Pad na die Land van Belofte

Johan Malan, Mosselbaai (September 2014)

Skriflesing: “... ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ʼn geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. … Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ʼn waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:1-6, 11).

Paulus versoek die Nuwe-Testamentiese kerk om God se handelswyse met Israel as lesse te neem en uit hierdie volk se foute te leer, want ons is almal op ʼn reis na die ewigheid. Israel se uittog uit Egipte kan as ʼn uitbeelding geneem word van hierdie pelgrimsreis. Hulle het op ʼn tog vertrek wat by die slag van die paaslam begin het, en wat hulle uiteindelik tot binne-in die Beloofde Land gebring het. Slegs ʼn klein groepie van hulle het die geestelike lesse van heiligmaking en toewyding wat die Here hulle op hierdie reis geleer het ter harte geneem. Die groot meerderheid van die volk het ʼn wisselvallige geestelike lewe van val en opstaan gelei en as gevolg daarvan hulle eie vordering vertraag.

Israel se bevryding uit Egipte en hulle uittog uit die gebied van hulle sondige verlede om die Here weg van hulle onderdrukkers af te gaan dien, is ʼn tipe van die redding van sondaars uit die slawerny van sonde, en hulle daaropvolgende afsondering om sonder enige kompromie met die wêreld die Here te dien. Die reis wat Israel van Egipte af na Kanaän moes onderneem, is ʼn tipe van die Nuwe-Testamentiese weg van heiligmaking. Die geestelike hardheid van Israel en hulle herhaalde weiering om hulle aan die vormende hand van die Here te onderwerp, is ʼn tipe van die Nuwe-Testamentiese Christene wat met hulle vleeslikheid en liefde vir die wêreld volhard, en daardeur nalaat om hulle heiligmaking in die vrees van die Here te volbring (vgl. 2 Kor. 7:1).

Paulus sê dat ons die waarskuwings oor Israel se afvalligheid ter harte moet neem, veral in die lig daarvan dat so min Christene met volharding en oorgawe die weg van heiligmaking bewandel. As ons slegte, vleeslike begeertes najaag, sal ons geestelike ontwikkeling vertraag en selfs heeltemal geblokkeer word.

Israel se reis van bevryding het binne-in Egipte begin waar die volk magtelose slawe van Farao was. Die paaslam wat in Egipte geslag is, was ʼn profetiese heenwysing na die Here Jesus as die vlekkelose Lam van God wat vir die sondes van die hele wêreld geslag sou word. Paulus sê: “… ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7). “In hom het ons die verlossing deur sy bloed” (Ef. 1:7). Petrus sê dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van Christus, soos van ʼn lam sonder gebrek en vlekkeloos (1 Pet. 1:18-19). Die verheerlikte kerk sal die Here Jesus rondom die troon toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).

Nadat Israel uit Farao se mag verlos is, het hulle dadelik uit Egipte weggetrek na ʼn nuwe bestemming. Nadat ons uit die mag van Satan bevry en uit die duisternis oorgekom het tot die lig, vertrek ons in ons nuwe lewe op ʼn reis om die Here se doel met ons lewe te verwesenlik. Ons bewandel die pad van toenemende heiligmaking waarop ons voortdurend voor nuwe uitdagings te staan kom en sterker word in die Here. Ons verlossing is dus net die begin van ʼn lang reis van geestelike groei waarop ons moet volhard totdat al die wonderlike beloftes van die Here in ons lewe in vervulling gegaan het.

Kort nadat Israel uit Egipte bevry is, is hulle deur ʼn ander vyand gekonfronteer en aangeval, naamlik die Amalekiete. Gewapende ruiters van Ámalek het die Israeliete wat stadig gevorder en agter geraak het, ingehaal en doodgemaak. Die vyand het dus binne-in die laer ingekom en die agterste persone aangeval wat vir hulle die maklikste teiken was. Ámalek is ʼn tipe van die duiwel wat God se volk van binne af aanval, daarom is hy ʼn voorstelling van die inwonende sondige natuur wat oorwin moet word. Farao is ʼn tipe van die duiwel wat mense van buite af aanval, wil oorheers, verslaaf en doodmaak. Nadat die Here vir Israel van Farao verlos en sy mag oor hulle gebreek het, moes hulle ook dringend oorwinning behaal oor die vyand van binne.

In die Nuwe Testament is ons as gelowiges in dieselfde situasie. Nadat ʼn persoon van Satansmag bevry en gered is, het die duiwel nog steeds ʼn bondgenoot in sy lewe, naamlik sy ou, sondige natuur. Die duiwel werk dus van binne af deur die vlees om ʼn gelowige geestelik aan te val, lam te lê en onvrugbaar te maak. Ons moet ook teen hierdie vyand van binne oorwinning verkry as ons geestelik wil vorder.

Israel het by Ráfidim gekom waar water uit die rots gevloei het. Hier is hulle innerlik verkwik, het oorwinning oor Ámalek behaal, en is rus gegun ná die vyandelike aanvalle. God het vir sy volk ʼn rots geklief en ʼn stroom water voorsien waaruit hulle kon drink. Hierna het daar ʼn groot wending in hulle stryd teen die vyand gekom en het hulle ʼn klinkende oorwinning behaal. Die stryd teen Ámalek was besonder hewig. Wanneer Moses sy hande seënend omhoog gehou het, het Josua en sy manskappe vir Ámalek teruggedryf. Wanneer Moses sy hande laat sak het, is Josua weer deur Ámalek teruggedryf. Dit is ʼn tipiese situasie van val en opstaan. As ʼn oplossing hiervoor het Aäron en Hur Moses se hande omhoog gehou en is Ámalek deur die skerpte van die swaard ʼn neerlaag toegedien. Aäron, die priester, is die verpersoonliking van gebed, terwyl Hur witheid, reinheid, of heiligheid beteken. Die stryd teen die vlees kan nie gewen word sonder voortdurende gebed en ʼn oorgawe tot heiligheid nie.

Paulus sê in 1 Korinthiërs 10:4 dat die gekliefde rots op Christus dui. Die stroom water dui op die uitstorting van die Heilige Gees nadat die Here Jesus se liggaam aan die kruis dodelik verwond is, en Hy op die derde dag uit die dood opgestaan het. Hy nooi almal van ons om uit hierdie stroom te drink en geestelik verkwik te word: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Deur die kruisdood van die Here Jesus en die vervulling met die Heilige Gees, kan ons oorwinning behaal oor ons inwonende, sondige natuur. Dit moet met aanhoudende gebed en ʼn heilige lewenswandel gepaard gaan. Hou aan met geestelike oorlogvoering totdat Ámalek  beslissend verslaan is. Hierna kan jy ook rus in die Here en in sy sterkte omdat die tweestryd tussen die Gees en die vlees verby is. Ámalek sal weer probeer terugkom om die vlees te laat herleef, maar as jou verhouding met die Here reg is, sal hy nooit weer beheer oor jou kan kry nie. Volhard net op die pad van gebed en heiligmaking en gee aan die duiwel geen plek nie.

Dit is opvallend dat die stryd teen Ámalek nooit ophou nie, maar van geslag tot geslag voortduur: “Oorlog het die Here teen Ámalek van geslag tot geslag” (Ex. 17:16). Elke nuwe  geslag mense moet van die inwonende, sondige natuur verlos word. Daarna moet die weerstand teen die vlees nie verslap word nie, omdat dit gekruisig moet bly en nie toegelaat moet word om weer sy verlore beheer oor ons lewe terug te kry nie. Die Here Jesus het gesê dat dit daaglikse toewyding vereis: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Wanneer Ámalek verslaan is en ons die oorwinnende lewe deelagtig geword het, moet ons voortdurend aan die gekruisigde Christus gelykvormig bly sodat ons ononderbroke deur die Gees sal wandel, en nie deur die vlees nie.

Wanneer die Heilige Gees in sy volheid beheer oor ʼn persoon se lewe verkry en aan hom krag gee om sonde te oorwin, lei Hy die persoon ook om ʼn dieper kennis van die Here se Woord op te doen. Die Here Jesus het gesê: “[W]anneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei” (Joh. 16:13). Dieselfde beginsel het ook vir Israel gegeld, sodat die ware gelowiges onder hulle kon sê: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11). Die woorde van die Verlosser is Gees en lewe (Joh. 6:63), dit vorm ons geloof en denke en lei ons in ons besluite en optrede.

Die bevryde volk van God het op die vyftigste dag ná hulle uittog uit Egipte by Sinai aangekom en omtrent ʼn jaar lank hier vertoef. ʼn Nuwe lewe het op hulle as die Uitverkore Volk gewag, en hiervoor moes nuwe lewensbeginsels by hulle ingeskerp word. Hulle moes die wet van die Here deeglik leer ken en nougeset daarvolgens lewe. Indien hulle al die geestelike lesse van geloof, gebed, oorwinning oor die mag van Satan en heiligmaking ter harte sou geneem het, sou Sinai vir hulle ʼn heerlike ondervinding gewees het. Met net geringe uitsonderings is die teendeel ongelukkig waar. Die meeste van hulle was vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog by die vleispotte van Egipte was. Toe Moses te lank na die volk se sin op die berg gebly het om die wet van die Here te kry, het hulle ʼn goue kalf gemaak, voor dié gruwelike gedrog gedans, dit geëer en beweer dat dit hulle god was wat hulle uit Egipteland gelei het (Ex. 32:1-6). Dit is totaal en al ondenkbaar, maar nogtans hét dit gebeur. Dit is waarom die Here sê dat Israel se geestelike dwalings as ʼn waarskuwing opgeteken is aan ons, op wie die eindes van die eeue gekom het. As ons in vormgodsdiens verval en die Here deur ons optrede smaad, sal sy toorn oor ons ontvlam. Ons kan nie voor afgode soos Mammon neerbuig en dink dat die Here daarmee genoeë sal neem nie.

Die geestelike betekenis van Sinai is dat die Woord van die Here nie met ink nie, maar deur sy Gees op die tafels van ons harte geskryf moet word. Die gevolg hiervan moet wees dat ons lewe soos ʼn brief van Christus sal wees wat deur die wêreld gelees kan word (2 Kor. 3:3). Ons moet in die genade en kennis van Christus toeneem (2 Pet. 3:18), sodat ons ʼn werkende kennis van die Woord van God sal hê. Ons moet ons in voortgesette Bybelstudie verdiep nadat ons ʼn volle oorgawe gemaak het om met die Heilige Gees vervul te word. Of ons ʼn formele studie van die Bybel maak deur vir een of ander kursus in te skryf, en of ons dit informeel deur selfstudie doen, maak nie regtig saak nie. Die feit is net dat ons ʼn sistematiese studie van die Woord van God móét maak; dan kan die Here ons ook gebruik. Het jy die Woord van die Here al bestudeer sodat jou voetstappe daarin geanker kan wees? “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon” (Kol. 3:16), want dan sal julle dit ook met goeie gevolg aan ander kan verkondig.

Die uitdaging van die volheidslewe

Israel het nie die geestelike lesse ter harte geneem wat hulle tydens hulle trek deur die woestyn geleer het nie, daarom was hulle nie reg ingestel om die uitdagings die hoof te bied wat op die grens van die Beloofde Land op hulle gewag het nie. Moses het twaalf verspieders uitgestuur om die land te gaan verken en dan terug te rapporteer. Josua was een van hierdie verspieders (Num. 13:17-20). Die groot meerderheid van die verkenners (tien van die twaalf) het bevrees geword vir die inwoners van die land en Israel afgeraai om die land in besit te neem. Ná die 40 dae van verkenning het hulle só aan Moses verslag gedoen:

“Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien. Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan. Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig. Maar die manne wat saam met hom opgetrek het, het gesê: Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons. So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het” (Num. 13:27-32).

Josua en Kaleb het egter die volk moed ingepraat en probeer om hulle vertroue in die almag van God te herstel: “En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n buitengewoon goeie land. As die Here ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die Here opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie! Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word” (Num. 14:6-10).

Moses het ook bevestig wat Josua en Kaleb gesê het: “Die Here julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die Here jou God jou gedra het soos ’n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het. Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die Here julle God nie” (Deut. 1:30-32).

Die groot aantal Israeliete wat nie geglo het dat God die land Kanaän aan hulle kon gee nie, het weens hulle ongeloof die beloftes van die Here verbeur en daardie geslag het in die woestyn gesterf. Net lede van die jong geslag het onder die leiding van Josua ’n nuwe oorgawe aan die Here gemaak en was waardig om die land in besit te neem. Die verkenning van die Beloofde Land was ʼn baie belangrike keerpunt op Israel se reis uit Egipte. Indien die volk die Here se onderwysing aanvaar en hulle geloofslewe daarby aangepas het, sou hulle in hierdie stadium geestelik sterk gewees het en goed voorbereid om die volgende groot uitdaging te aanvaar. Dit was egter vir ongelowige Israel verkiesliker om permanent in die woestyn te vertoef, eerder as om hulle erfenis oorkant die Jordaan saam met die Here in besit te neem. Baie van hulle was selfs bereid om eerder na Egipte terug te gaan en weer slawe van Farao te word. Hulle het die maklike uitweg van geen weerstand verkies, en as gevolg daarvan hulleself geestelik verarm, tot op die punt van onwaardigheid om die Here se beloftes van ryke seën te beërf.

Die moderne Christendom is in presies dieselfde situasie. Ons beskou onsself as Christene wat reeds uit die “Egipte” van ’n sondige verlede verlos is. Soos in die geval van Israel, is baie van die lidmate van Christelike kerke net vormgodsdienstiges sonder ’n getuienis van wedergeboorte. Hulle is meelopers wat net ’n uiterlike gedaante van godsaligheid het, maar meestal in stryd met God se Woord optree. Die ander is wel gered, maar nog in die babaskoene van hulle geloofslewe. Net ’n klein groepie is geestelik volwasse omdat hulle van heiligmaking ná bekering kan getuig, en doelgerig voortgaan om in die geloof die beloftes van die Here aan te neem.

Die geestelike probleme en insigloosheid van die meerderheid gelowiges lei daartoe dat hulle oormatig afhanklik is van godsdienstige leiers, en slegs op hulle vertrou om die roete aan te dui. Soos Israel, stuur hulle ook verkenners uit om die pad vorentoe te ondersoek en dan advies oor gepaste optrede deur te gee. Hierdie verkenners, die godsdiensleiers, maak daarop aanspraak dat hulle die kennis het om die regte aanbevelings aan die mense voor te lê. Hulle verken die teologiese landskap deur die Bybel te bestudeer, bied riglyne aan oor hoe God se beloftes in sy Woord vertolk moet word, stel leerstellings op, en doen oplossings aan die hand oor hoe krisisse hanteer moet word. Die leerstellings van sommige kerkvaders soos bv. Origenes, Augustinus, Calvyn, Luther, Wesley, e.a. word al eeue lank nagevolg, en die invloed hiervan moenie onderskat word nie – sommiges van hulle het Bybelse waarhede verkondig, terwyl ander weer ongeloof en dwalings bevorder het.

Dit is juis op die teologiese terrein dat die duiwel oor baie jare heen aansienlike invloed verkry het deur miljoene mense te mislei, geestelik te beroof en op ’n verkeerde pad te plaas; en dié aanslag neem fel toe. Net soos in die geval van Israel, gee die meerderheid van die moderne verkenners verkeerde advies aan die mense. Hulle fokus nie op volle verlossing in Christus nie en beskou daarom die land Kanaän, naamlik die oorwinningslewe, as ’n totaal onbereikbare ideaal en sê aan hulle volgelinge dat hulle swak mense is wat nooit volkome oorwinning oor sonde en vleeslikheid sal verkry nie. Die vyand word beskou as te sterk vir hulle, daarom moet hulle hulself versoen met die gedagte dat hulle maar altyd woestynbewoners sal wees – niks meer nie. Hulle is tog uit Egipte verlos en moet daarby berus. Gelowiges moet nie na die dieper lewe soek nie, want dit is nie vir hulle beskore nie.

Erken jy hierdie soort taal wat nie net fatalisties is nie, maar ook getuig van ongeloof oor verskeie Bybelse beloftes? Sulke teoloë, en kerkvaders, ondermyn die geloofwaardigheid van die Bybel omdat hulle hoofsaaklik op ontkenning ingestel is. Nie almal van hulle ontken alle  Bybelse leerstellings nie, aangesien sommige van hulle wel die verlossingsleer erken, soos uitgebeeld deur Israel se verlossing uit Egipte. Hulle volstaan egter hierby, ontken dat daar nog ʼn verdere oorgang na die Land van Belofte is, en sluit hulleself sodoende van talle Bybelse beloftes uit. Weens hulle selfopgelegde teologiese beperkings ontken hulle die volgende leerstellings en beloftes in die Bybel, want hulle beweer reguit: Daar is nie ’n verdere genadewerk van hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees nie omdat alle Christene reeds die Gees in sy volheid ontvang het; daar is nie so iets soos vleeslike Christene wat hoofsaaklik deur die vlees wandel nie; daar is nie ʼn wegraping, ʼn persoonlike Antichris of ʼn letterlike verdrukking van sewe jaar nie; Israel is nie meer God se volk nie en die herstel van moderne Israel het niks met die Bybel te doen nie; die troon van Dawid sal nie in Jerusalem herstel word nie en daar sal ook nie ʼn duisendjarige vrederyk ná die wederkoms van Christus wees nie. Hierdie groep teologiese verkenners erken Jesus Christus wel as Verlosser, maar is nie met die Heilige Gees vervul nie, verstaan glad nie die volle raad van God nie, en berus volkome by die woestynlewe met sy geestelike armoede en sukkelbestaan. Hulle verstaan ook nie Bybelse profesieë nie.

Soos wat geestelike verval toeneem, word die lys van teologiese ontkennings net langer en die verval neem al hoe groter afmetings aan. Die volgende is nuwe toevoegings tot die lys, en daardeur word die basiese fondamente van die Christelike geloof heeltemal omgekeer (vgl. Ps. 11:3): Volgens moderne afvalliges is daar nie so iets soos wedergeboorte nie omdat mense op ’n ritualistiese wyse gered word deur die doop; Christus is nie maagdelik gebore nie; Hy is nie God nie; sy kruisiging was ʼn politieke daad wat niks met die vergifnis van sonde te doen het nie; Hy het nie uit die dood opgestaan nie en dus ook nie na die hemel opgevaar nie; Hy is nie die enigste Verlosser nie omdat daar ook baie ander messiasse in die wêreldgodsdienste is; die Bybel is nie die geïnspireerde en foutlose Woord van God nie; daar is nie ʼn hemel of ʼn hel nie en ook nie ʼn duiwel nie; sonde is ʼn relatiewe begrip en elkeen kan vir homself besluit wat reg en verkeerd is. Hierdie groep teologiese verkenners is van mening dat dit ʼn fout was vir Israel om uit Egipte weg te trek en hulleself tot ʼn miserabele woestynlewe te beperk. Hulle is ten gunste van ʼn terugkeer na Egipte en die aanvaarding van ʼn intergeloofsoriëntasie. Godsdienstige denke van hierdie aard verteenwoordig die oorgang vanaf ʼn swak geloof na totale ongeloof. Uiterste geloofsverval is volgens die Bybel die gevolg van demonies geïnspireerde misleiding, en dit is veral kenmerkend van die eindtyd kort voor die wederkoms van Christus (1 Tim. 4:1).

Teenoor die groot groep dwalendes is daar ’n klein groepie gelowige verkenners wat goeie raad uit die Woord van God gee. Hulle doen hulle bes om geloof in die almag van God en die waarheid van sy beloftes te bevorder. Daar is immers ’n Beloofde Land om in besit te neem, en dit kom op wantroue in God neer indien ons sou weier om sy beloftes in die geloof aan te neem en Hom vir ’n volle verlossing en volkome heiligmaking te vertrou (vgl. 1 Thess. 5:23). Waarom sou Hy ’n land (of lewe) aan ons belowe waar ons vry van oorheersing deur ons vyande kan leef, indien dit onmoontlik is om oorwinnings in sy Naam te behaal? Ons sal onsself geestelik drasties verarm indien ons ons nie verootmoedig en op die vervulling met krag uit die hoogte wag nie, want dit is die sleutel tot oorwinning oor al ons vyande.

Die twee betroubare verspieders is deur die volk verwerp en daar was selfs ʼn oproep om hulle dood te maak. Dit is vandag ook so, daarom is daar dikwels ʼn groot mate van antagonisme en negatiewe emosies tussen lidmate en leiers van verskillende denominasies. Predikers wat sterk op evangeliese beginsels staan, en dit sluit die dieper genadewerk van heiligmaking in, is meestal nie populêre geestelike leiers nie. In hulle verkenning van die geestelike landskap is hulle ten volle bewus van die groot mag van die vyand. Dit beïnvloed egter nie hulle siening oor die pad vorentoe negatief nie, want hulle is ook bewus van ʼn nog groter waarheid, naamlik die almag van God om sy Woord te vervul en al sy beloftes waar te maak. Hy kan en wil van almal van ons meer as oorwinnaars maak.

Die kerk van die eindtyd is in drie uiteenlopende groepe verdeel. Sommige lidmate is vormgodsdienstiges wat net met hulle verstand glo en dus steeds in Egipte is omdat hulle nog nie deur die bloed van die Lam losgekoop is nie. ʼn Ander groep is wel uit hulle sondige verlede gered, maar bevind hulleself in die sukkelbestaan van ʼn woestynlewe omdat hulle nog nie heiligmaking deelagtig geword het nie. Net ʼn kleiner, derde groep bevind hulleself in die Beloofde Land van ʼn oorwinnende geestelike lewe. In baie gevalle is daar verteenwoordigers van al drie hierdie groepe in dieselfde gemeente – ongereddes, vleeslikes én geestelikes.

As gevolg van die lae geestelike standaard wat so algemeen in die wêreld voorkom, bid verskeie van die toegewyde Christene ernstig tot die Here dat Hy herlewing aan die kerk sal skenk – dat die geestelikes onder hulle opnuut vervul sal word met krag uit die hoogte om die Here met groter ywer te dien; dat die vleeslikes ʼn volle oorgawe sal maak sodat hulle die oorwinning kan beleef wat die Here aan almal van ons belowe; en dat die ongereddes gered sal word. Ons leef in ʼn tyd waarin dié wat onreg doen nog meer onreg doen, maar waarin die heiliges opgeroep word om nog heiliger te word (Op. 22:11).

As gevolg van die groter eise wat daar in die eindtyd weens toenemende goddeloosheid aan Christenskap gestel word, moet kinders van die Here sorg dat hulle nie verflou in hulle ywer nie. Die Here Jesus het ons teen hierdie moeilike tydsomstandighede gewaarsku: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Ons moet ons nie soos Petrus op sy nagtelike vaart deur die stormsee, blind staar teen die donker golwe rondom ons nie, maar die oë op Jesus gevestig hou en sy koms verwag: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom [Christus met sy wederkoms] het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Terwyl ons op die koms van die hemelse Bruidegom wag, moet ons baie seker maak dat ons nie geestelik op ʼn dwaalspoor beland en iewers in die woestyn van ʼn vleeslike of wêreldse leefwyse rondswerf nie. Om in ʼn Nuwe-Testamentiese sin in die Beloofde Land te wees, beteken dat ons al die Here Jesus se beloftes oor redding en heiligmaking sal aanneem en Hom daagliks sal navolg (1 Joh. 2:6). Dit sal ons in staat stel om volwasse Christene te word wat ʼn oorwinnende stryd teen ons geestelike vyande voer. Die sleutel tot ʼn lewe van oorwinning en vrugbare diens is getrouheid aan ons Verlosser. Johannes sê: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ʼn volle loon ontvang. Elkeen wat ʼn oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. 1:8-9).

Mag die Here ons help om in die leer van Christus te bly deur altyd sy Godheid, almag en genadewerk te erken, en daagliks toe te neem in sy genade en kennis (2 Pet. 3:18). Wanneer Hy meer word in ons harte, in ons lewens én in ons gemeentes, sal ons op ʼn oortuigende wyse kan uitreik na vleeslike Christene wat nog doelloos in ʼn geestelike woestyn rondswerf, en ook na ʼn ongeredde wêreld wat die slagoffers is van hulle eie ongeloof.