Johan Malan, Mosselbaai (September 2014)
Skriflesing: “Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle. Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos ʼn bekwame boumeester die fondament gelę, en ʼn ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan ʼn ander fondament lę as wat daar gelę is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen. Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:9-16).
Paulus gebruik die gelykenis van ’n huis wat opgerig word om die twee basiese aspekte van ons geestelike lewe uit te beeld, naamlik regverdigmaking en heiligmaking. Die fondament is absoluut uniek en noodsaaklik: “Want niemand kan ’n ander fondament lę as wat daar gelę is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11). Hy is die rots waarop ’n verstandige persoon se lewe gebou is (Matt. 7:24), daarom word hierdie rots ook “die fondament ... van die bekering” genoem (Heb. 6:1). Dawid het in die Ou Testament al na die Here verwys as sy rots en sy redder (2 Sam. 22:2).
Wanneer Paulus sę dat hy die fondament gelę het, praat hy van mense wat gelei is om hulle te bekeer tot redding in Christus. Ons moet ons geloof stel in Christus ons Verlosser deur wie ons ’n nuwe, weergebore lewe verkry; dit is ons regverdigmaking. Die verdere opbou van die huis daarná verwys na ons heiligmaking, en die instaatstellende krag van die Heilige Gees vir toewyding en diens aan die Here. Dit is op hierdie terrein dat dinge soms lelik skeef kan loop en sekere Christene as mislukte dissipels met leë hande voor Christus se regterstoel kan verskyn – wel gered maar ook niks meer as net dit nie.
Regverdigmaking is ʼn genadewerk wat alleenlik die Here Jesus vir ons kan doen. Paulus sę toe ons nog sondaars was, is ons met God versoen deur die dood van sy Seun (Rom. 5:10). Dit is ʼn volmaakte verlossing wat ons net moet glo en aanneem, en dit lei na wedergeboorte. Die nuwe lewe wat ons van Christus ontvang, kan beskryf word as toegerekende geregtigheid omdat dit deur genade aan ons geskenk word sonder enige werke of meriete aan ons kant. Al wat die Here Jesus van ons verwag, is om op die pad van sonde om te draai, ons sondes te bely en Hom as Verlosser aan te neem – dan is die fondament van die bekering en die nuwe lewe gelę.
Ons moet egter nie by hierdie stap berus nie, maar dadelik voortgaan om aan ons nuwe lewe te werk en heiligmaking na te jaag: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lę van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God” (Heb. 6:1). Daar moet vordering wees in ons geestelike lewe, en ons moenie so ʼn halfhartige begin maak dat ons elke keer weer van voor af die fondament van bekering wil lę nie. Ons moet voortgaan om die hoë roeping van God vir ons lewe te verwesenlik.
Elke geredde persoon het die opdrag om heilig te leef en God te behaag in alles wat hy doen: “... soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Dit is ʼn opdrag waaraan alle Christene ná hulle bekering uitvoering moet gee, daarom is hierdie fase van ons lewe geleë op die vlak van meewerkende geregtigheid: “Want ons is medewerkers van God” (1 Kor. 3:9). Ons moet ons volle samewerking gee om God se plan met ons lewe te laat uitwerk.
Hierdie verpligting beteken hoegenaamd nie dat ons die Here bloot deur ons eie menslike werke probeer dien nie. Nee, ons kan nie onsself heilig en uit ons eie krag waarlik die Here dien nie, al dink ons ook ons kan. Net die Here kan ons harte reinig en met sy Heilige Gees vervul. Hierdie ondervinding word as volkome heiligmaking beskryf, teenoor die aanvanklike heiligmaking wat ons tydens die eerste reiniging van ons sondes ontvang (2 Pet. 1:9). Paulus sę oor die tweede ondervinding: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).
Om hierdie seën te kan ontvang, moet ons eers alles bely en aflę waarvan die Heilige Gees ons oortuig, insluitend die vleeslike toestand waarin ons steeds ná bekering verkeer. Die ou, sondige natuur van die mens is deur die mag van die gewoonte gevestig, en dit staan teenoor die Heilige Gees wat ons wederbaar het: “[W]ant die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Indien ons nie ʼn volle oorgawe doen sodat die oorheersing van die vlees en sy hartstogte oorwin kan word nie, sal ons voortdurend met hout, hooi en stoppels op die fondament van bekering bou. Daar word dus in die proses van heiligmaking van ons verwag om die oue mens wat reeds in beginsel tydens bekering afgelę is, maar wat steeds ʼn groot mate van beheer oor ons behou, ten volle af te lę sodat dit gekruisig en oorwin kan word.
Paulus sę vir geredde lede van die gemeente in Éfese: “... dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflę wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lę die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie. Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hę om mee te deel aan die een wat gebrek het. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ʼn woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing” (Ef. 4:22-30).
Christene kan inderdaad die Heilige Gees bedroef as hulle aanhou om die vlees en sy sondige neigings in hulle harte te beskerm en toe te laat om voort te bestaan. Hulle moet besef dat hulle nie volledig met die nuwe natuur van Christus beklee sal word voordat hulle alle geestelike hindernisse afgelę het nie. Elke persoon het sy eie neigings en swakhede, en die inwonende Heilige Gees sal hom daarvan oortuig. In Paulus se verduideliking aan die Efésiërs word ʼn hele aantal tipiese sondes by die naam genoem. Hy gee ook dieselfde lering aan die Kolossense, en wys daarop dat die sondes wat hulle tydens bekering bely en afgelę het, tydens die volle oorgawe aangevul moet word deur die aflegging van oorblywende sondes in hulle lewe, sodat die Heilige Gees volle beheer oor hulle kan verkry. Hy sę vir hulle:
“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het. [Dit was voor julle bekering]. Maar nou [nadat julle gered is] moet julle ook dit alles aflę, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelę het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:5-10).
Daar was van die herlewingspredikers soos Finney wat voorgestel het dat ons hierdie probleem baie prakties moet benader deur ʼn lys te maak van al die sondes, swakhede en probleme waarvan die Heilige Gees ons oortuig. Werk dan deur daardie lys en maak die saak met die Here uit. Versoen jou ook met mense vir wie jy dalk op enige wyse benadeel het. Vergewe ook mense wat jou benadeel het, want sodoende kan jy die kwaad deur die goeie oorwin.
Kan u sien dat ons by ʼn volle oorgawe opnuut ʼn eerlike selfondersoek moet doen en absoluut alles moet aflę waardeur die Heilige Gees bedroef word? Hiersonder sal heiligmaking nooit ʼn werklikheid word in ons lewe nie. Ons het wel die belofte van heiligmaking, maar ons moet die omstandighede in ons lewe skep wat dit vir God regmatig sal maak om hierdie beloftes te vervul: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Eers vind hartsreiniging plaas, dan sal die Gees van God ons vervul en beheer.
Wat die proses van heiligmaking ná ʼn volle oorgawe betref, moet ons besef dat ons by ʼn lewenslange groeiproses na meer heiligheid en groter Christusgelykvormigheid betrokke is. Ons sal nooit die ideaal van volmaaktheid bereik nie, maar ons moet nogtans daarna streef. Paulus sę hy jaag na die volmaaktheid asof hy dit ook kan gryp, omdat hy ook deur Christus Jesus gegryp is (Fil. 3:12). Verder moet ons ook rekening hou met die feit dat solank ons in ʼn menslike liggaam is, daar altyd die moontlikheid van vleeslike optrede is. Hoewel ons nie meer in ʼn vleeslike staat is nie, kan ons nogtans versoek word om vleeslik op te tree en weens ons menslike swakheid te sondig.
Dit kan ʼn potensieel gevaarlike situasie van veragtering in die genade skep indien ʼn Geesvervulde Christen nalaat om sondes dadelik te bely en te laat staan, want dan verkry die vlees weer ʼn mate van beheer oor daardie persoon. Ons moet ook ernstig met mede-Christene praat indien ons sien dat een of ander sonde weer die oorhand oor hulle kry: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1). Ons moet elke dag ons kruis opneem waaraan ons vir die węreld en die węreld vir ons gekruisig word (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Op hierdie manier kan sorg gedra word dat ʼn gemeente kerngesond bly en waarlik ʼn instrument in die Here se hand is om die lig van die evangelie in ʼn donker węreld te laat skyn.
Wat gebeur indien gelowiges nalaat om uitvoering aan die opdrag tot heiligmaking te gee? Dan laat hulle die sondige natuur van die vlees toe om voort te bestaan en hulle geestelik lam te lę. Die vlees sal die Gees teëstaan en veroorsaak dat die betrokke persone nooit geestelik opgroei nie, en ook nooit regtig die vrymoedigheid het om die Here te dien nie. Hulle sal inteendeel baie probleme in die gemeente skep, en dit is presies die beswaar wat Paulus teen die gemeente in Korinthe gehad het: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).
Hoe meer van hierdie onvolwasse, vleeslike Christene daar in ʼn gemeente is, hoe laer is die geestelike standaard en hoe groter die behoefte aan heiligmaking, herlewing en geestelike groei. Paulus se besorgdheid oor die geestelike toestand van die gemeente in Korinthe was baie groot. Hy het vir hulle gevra of hulle nie weet dat hulle ʼn tempel van God is waarin die Heilige Gees woon nie. Dit was met die oog hierop dat hy vir hulle gesę het dat elkeen moet oppas hoe hy op die fondament Jesus Christus bou – vleeslike lidmate wat met hout, hooi en stoppels bou, met ander woorde verganklike dinge wat geen ewigheidswaarde het nie, sal bedroë voor die regterstoel van Christus verskyn – met leë hande, gered asof deur vuur heen.
Dr. Andrew Murray waarsku ook teen ʼn geestelik onvrugbare lewe in sy dagboek “Die Goddelike Geheim”. Hy sę: “So lank as wat ons onsself nie onder die leiding van die Heilige Gees stel nie, sal die vlees oor ons heers.” Dr. John Rice, ʼn voormalige Amerikaanse herlewingsprediker, het probleme in verband met vleeslikheid in verskeie gemeentes aangetref en die volgende oor die kern belangrikheid van heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees gesę:
“Om met die Heilige Gees vervul te word, is ʼn opdrag. Dit word nie aan jou eie oordeel oorgelaat of jy daaraan wil voldoen of nie. Elkeen wat nie met die Heilige Gees vervul is nie, is buite die wil van God. Só ʼn persoon is ongehoorsaam en leef ʼn onvrugbare lewe. Die rede waarom jy nie siele wen nie, is omdat jy ongehoorsaam is en nie daarna soek om die volheid van die Gees van God in jou lewe te hę nie. Dit is ʼn aanklag teen die volk van God dat hulle nie Geesvervulde lewens lei nie. Julle verkeer in sondige ongehoorsaamheid solank as wat julle nie die krag van God in julle lewens het nie. Die skande en die sonde wat die duisende verloregaandes rondom julle na die verdoemenis laat voortspoed, is dat julle kerke het wat met alles vervul is behalwe die Heilige Gees. Dit is julle groot probleem.
“Mag die Here ook ons predikers vergeef. Ek is ten gunste van predikante en nie krities teenoor hulle nie, maar weet u wat is die probleem met ons predikante? Ons het omtrent alles in die lewe – ons het goeie opleiding, ons het universiteitsgrade, ons het goeie organisasies, ons het goeie toerusting, ons het goeie boeke en omtrent alles wat ons nodig het, behalwe één ding wat in ons lewens ontbreek: die krag van God!
“Om met die Heilige Gees vervul te word, sal jou iets kos. Jy moet sterwe aan jouself en bereid wees om as niks gereken te word. Daar moet ʼn verlange en ʼn dors in jou hart na die seëninge van die Here wees. Is jy vervul met die Heilige Gees? Ek wonder hoeveel mense is tevrede met die lewe wat hulle nou leef? Is jy tevrede om deur die lewe te gaan sonder om ooit ʼn siel vir die Here Jesus te wen? Die Here wil jou hart en lewe verander, dit salf en toerus sodat jy ʼn sielewenner kan word.” (Bron: Fullness of the Spirit, deur dr. John Rice).
Die situasie met betrekking tot herlewing is baie duidelik: die Heilige Gees is tweeduisend jaar gelede al uitgestort op Pinksterdag, en die doel daarmee was nie net om mense van sonde te oortuig en te red nie, maar ook om gelowiges toe te rus met krag uit die hoogte sodat hulle oor die sonde, die vlees en die węreld kan oorwin en ook deur die Here gebruik kan word in die evangelisering van die ongeredde mensdom. Hoe meer Geesvervulde kinders van die Here daar is, hoe meer evangelisasie- en sendingwerk word daar gedoen, en hoe meer gebede gaan daar op vir die geestelike ontwaking van lou, vleeslike en węreldgesinde kerklidmate wat steeds onbetrokke is by die werk van die Here op aarde. In antwoord op hierdie gebede werk die Here kragtig in die harte van diegene vir wie daar gebid word.
Paulus skryf van so ʼn voorbidder aan die Kolossense: “Épafras wat een van julle is, ʼn dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12). Die wil van God sluit nie net ons bekering in nie, maar ook ons heiligmaking. Paulus skryf aan ʼn ander gemeente: “[D]it is die wil van God: julle heiligmaking. ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ʼn mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8).
Die sleutel tot herlewing is dus dat individuele Christene die Here sal vertrou vir die seën van heiligmaking, onder die vaste vertroue dat hulle dit sal verkry indien hulle aan die voorwaardes daarvan voldoen. Wanneer hulle wel hierdie seën ontvang, sal hulle lewens daarvan getuig en ʼn duidelike boodskap laat uitgaan na mense naby aan hulle. In hulle gesprekke sal daar dikwels na regverdigmaking én heiligmaking verwys word, en in hierdie sin sal die heiliges self predikers wees, al is hulle nie voltydse, geordende leraars nie.
Dit was Paulus se verwagting dat die jong, Joodse bekeerlinge vinnig sou groei in heiligmaking en die kennis van die Here, sodat hulle self ook die boodskap aan hulle mede-volksgenote kon uitdra. Hy was egter teleurgesteld in hulle, omdat die bekeerlinge nie voortgegaan het om die seën van heiligmaking te soek nie, en daarom in die babaskoene van hulle geloofslewe vasgevang gebly het. As gevolg hiervan was hulle geestelike onderskeidingsvermoë baie swak en het Paulus hulle hieroor verkwalik:
“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ʼn mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ʼn kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12–6:1).
Daar moet groei en vooruitgang wees, sodat jong Christene geestelik volwasse kan word, in staat om ook ander te kan help wat nog nie op die pad van die Here is nie, of nog net in ʼn vroeë stadium is van hulle geestelike pelgrimsreis. Die feit is dat daar besliste stappe gedoen moet word om benewens basiese evangelisasie ook voorsiening te maak om jong gelowiges in die leer van heiligmaking te vestig. Die “klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1) kan nie aan hulle eie lot oorgelaat word in die veronderstelling dat hulle maar self die weg tot die volheidslewe sal vind nie. Hulle is nog onkundig hieroor en moet oor geestelike groei onderrig word.
Andrew Murray het meer as ʼn eeu gelede aan die spits van ʼn herlewingsbediening in Suid-Afrika gestaan. Hy het altyd basiese evangelisasiewerk opgevolg met duidelike prediking oor vervulling met die Heilige Gees. Sy boeke oor heiligmaking as ʼn verdere genadewerk ná bekering, word vandag nog węreldwyd gelees. Hy verbind heiligmaking nie aan ekstatiese ondervindings en tekens en wonders nie, maar aan hartsreiniging en geestelike toerusting met krag uit die hoogte.
Ander bekende herlewingspredikers uit die 18de en 19de eeue het dieselfde benadering gevolg. John Wesley se bekeerlinge het in sale bymekaargekom waar hulle oor hoër vlakke van geestelike toewyding onderrig is. Uiteindelik was daar meer as 500 sulke groepe. In Amerika was D.L. Moody ook ʼn bekende evangelis. Nadat hy evangelisasiedienste op ʼn plek gehou het waar baie mense tot bekering gekom het, het hy dit opgevolg met ʼn reeks dienste oor heiligmaking. Dr. R.A. Torrey, wat later hoof van die Moody Bible Institute geword het, is dikwels versoek om vir ʼn week lank oor heiligmaking te preek. Dit het ʼn groot verandering in baie gelowiges se lewens gebring. Hierdie boodskappe is gepubliseer, talle kere herdruk en het later ook in Afrikaans verskyn: “Die Heilige Gees: wie Hy is en wat Hy doen”.
Uit al hierdie voorbeelde is dit duidelik dat aksies vir evangelisasie aan goed georganiseerde aksies vir opvolgingswerk gekoppel moet word, want daardeur kan verseker word dat bekeerlinge nie geestelik stagneer en nalaat om hulle roeping te vervul nie. Daar moet so ver moontlik seker gemaak word dat almal wat van regverdigmaking kan getuig, ook van heiligmaking kan getuig. Dan alleen word daar blywende en standhoudende werk in die uitbreiding van God se koninkryk op aarde gedoen.
Uit profesieë oor die wederkoms is dit ook duidelik wat die rol van regverdigmaking en heiligmaking is. Wat hulle redding betref, sal die verheerlikte kerk in die hemel die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9). Hulle redding word geheel en al op die genadewerk van die Lam van God aan die kruis gebaseer – hulle het dit in die geloof aangeneem en God het aan hulle ʼn nuwe lewe geskenk wat op die Rots, Jesus Christus, gebou is.
Die rol van heiligmaking blyk meer spesifiek uit die bruilofskleed waarmee die bruid van die Lam beklee sal wees: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).
Die regverdige dade van die heiliges verwys na die vrug van die Gees in die lewens van diegene wat reeds gered is en aan Christus behoort. Hierdie regverdige dade is die weefstof van die bruilofskleed. Met die oog hierop sę Paulus: “Jaag ... die heiligmaking [na] waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die bruid van Christus moet ʼn paslike bruilofskleed aanhę om voor Hom te kan verskyn, en dit vloei uit die heiligmaking van die bruid voort. Sy kan nie haarself heilig nie, maar Christus kan dit wel doen as sy met haar hele hart daarna soek: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee ... om dit te heilig ... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Die Here Jesus is dus nie net ons regverdigmaking nie, maar ook ons heiligmaking (1 Kor. 1:30).
Net diegene wat van heiligmaking kan getuig, bou met goud, silwer en kosbare stene op die fondament Jesus Christus. Hulle werk dus aan hulle bruilofskleed. Diegene wat in hulle vleeslikheid volhard, bou met hout, hooi en stoppels en verkwis hulle lewe ter wille van aardse belange wat geen waarde vir God se koninkryk het nie. Dit is nie vanselfsprekend dat elke geredde persoon noodwendig met die regte materiaal op die fondament van sy bekering sal bou nie. Baie van hulle doen dit nie, daarom sal hulle menslike werke verwerp word en sal hulle met leë hande voor die Here staan – gered asof deur vuur heen. Hulle kan van redding getuig, maar nie van heiligmaking nie.
Baie van hierdie vleeslike mense weet nie eers van hulle roeping om ʼn tempel van die Heilige Gees te wees nie, daarom verberg hulle die lig van hulle getuienis sodat die meeste van hulle vriende nie eers weet dat hulle Christene is nie. As gevolg hiervan voel hulle baie gemaklik in die geselskap van węreldlinge. In ʼn tyd soos hierdie behoort daar ʼn baie duidelike oproep na vleeslike Christene uit te gaan om die Here met hulle hele hart te soek en vir die seën van vervulling met die Heilige Gees te vertrou. Die Here sal diegene wat hulle sonde en vleeslikheid bely, van al hulle ongeregtigheid reinig, met sy Gees vervul, en daarna ʼn boodskap van verlossing én heiligmaking aan hulle toevertrou wat hulle met vrymoedigheid sal kan verkondig.
Aan diegene wat reeds die stap van heiligmaking gedoen het, gaan die boodskap uit dat daar hoër hoogtes is om na te streef. Die Here wil voortgaan met sy reinigende werk in ons lewens sodat ons meer vrug kan dra – nie net dertigvoudig nie, maar sestigvoudig en selfs honderdvoudig. Die goeie saad van die Woord wat in ʼn rein hart gesaai is, sal veel oplewer vir die uitbreiding van Christus se koninkryk op aarde. Hiertoe roep die Here alle gelowiges.