Verskillende Geestelike Omgewings

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Junie 2012)

Die mens is n komplekse wese wat uit n gees, siel, en liggaam bestaan. Hy is nie net van die sigbare węreld bewus nie, maar ook van die onsigbare, geestelike węreld vanwaar daar groot invloede op die hele mensdom uitgaan – ten goede én ten kwade. Ter wille van die stabiliteit van sy daaglikse lewe probeer die mens om so goed as moontlik aan te pas by dit wat hy as die positiewe deel van die bonatuurlike węreld beskou, en om sy lewe daarin te veranker. Net ’n hoër geestelike mag kan hom teen kwaadwillige geestelike invloede beskerm.

Uit ’n Bybelse oogpunt is die hele mensdom weens die sondeval geestelik deur die duiwel verblind en werk daar n groot aantal misleidende invloede op alle mense in. ’n Ondubbelsinnige oplossing hiervoor word in die Skrif aangebied, maar hierdie oplossing vir dié wesenlike gevaar word selfs nie eers onder alle Christene van harte nagestreef nie. Die gevolg is dat die geestelike vraagstukke van die mensdom in die algemeen baie groter en ernstiger is as al hulle ander probleme, omdat baie van hierdie kwessies die gevolg van geestelike verduistering is.

Toegewyde Christene leef in die lig van God se teenwoordigheid, maar baie ander is weens onkunde vasgevang in ’n grys gebied van gemengde oortuigings. In die nie-Christelike węreld heers daar wydverspreide geestelike misleiding, en word ’n groot aantal afgode, voorvadergeeste, of selfaangestelde godsdiensleiers nagevolg. Hierbenewens is daar ’n toenemende aantal agnostici wat die bestaan van die geesteswęreld heeltemal ontken. As gevolg van mense se uiteenlopende beskouings en ervarings bepaal hulle vir hulleself sekere kontekste waarbinne hulle leef, met aansienlike variasies in die spesifieke oortuigings wat deur elkeen gehuldig word.

Daar is nietemin drie algemene kontekste, of leefwęrelde, waarin mense hulle bevind. Die eerste een is die Bybelse konteks van die Christelike geloof; die tweede is dié van sekulęre humanisme waarin die mens verheerlik en die bestaan van God en Satan ontken word; en derdens is daar die konteks van die nie-Christelike gelowe wat hulle oorsprong in die donker węreld van die mistiek het.

Die Christelike konteks

God het mense na sy eie beeld van heiligheid geskape, maar ook aan hulle n vrye wil gegee wat hulle in staat stel om Hom vrywillig lief te hę en te gehoorsaam of – indien hulle andersins beďnvloed word – om ongehoorsaam aan Hom te wees, Hom te minag en selfs te verwerp. As gevolg van die duiwel se suksesvolle misleiding van die vader en moeder van die mensdom het morele verdorwenheid en geestelike verduistering van die hart ingetree, en dit het deel geword van die gevalle menslike natuur wat deur almal geërf word (Rom. 5:12).

Dit is uit hierdie toestand dat die Here ons gered het: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie węreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Ef. 2:1-2).

Selfs diegene wat hulle bekeer het en oorgekom het uit Satan se duisternis na die wonderbare lig van God (1 Pet. 2:9), moet nog steeds stryd voer teen hulle ou, sondige natuur met sy verdorwe begeerlikhede (Gal. 5:17; Ef. 4:22-24), en doelgerig weerstand bied teen Satan se aanvalle en versoekings. Dit is van die uiterste belang dat ons die volle wapenrusting van God sal aantrek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11).

n Christen het n hoogs gepolariseerde ervaring van die werklikheid waarbinne hy leef, en dit verklaar sy antitetiese lewens- en węreldbeskouing waaruit die teenoorgestelde pole van goed en kwaad duidelik behoort te blyk. In die Christelike lewensbeskouing word hierdie twee konsepte verpersoonlik en in verband gebring met God en Satan, wat beide die vermoë het om mense se lewens op n bepaalde manier te beďnvloed. Ons basiese geestelike ingesteldheid word gedemonstreer deur die wyse waarop ons ons lewe lei, want dit vertoon die mate waartoe ons op die twee teenoorgestelde invloede reageer.

n Wedergebore kind van die Here bevind homself in ’n geestelike én sekulęre (węreldse) milieu. Hy is geestelik lewend gemaak en die Here is deur die Heilige Gees in sy hart teenwoordig (Joh. 14:23). Hy leef deur die geloof en beywer hom vir die uitbreiding van die hemelse koninkryk. Omdat sy nuwe lewe onversoenlik is met die beginsels van die verdorwe węreld waarin hy woon, moet hy sy ou natuur aflę deur volkome te identifiseer met die kruis van Christus, waaraan hy vir die węreld gekruisig is en die węreld vir hom (Luk. 9:23; Gal. 6:14).

n Christen moet aktief stryd voer teen demoniese invloede wat met groot lis uit ’n mistiese bonatuurlike sfeer op hom gerig is (Ef 6:12). Hy moet voortdurend keer dat sonde nie ’n houvas oor hom verkry nie, en daarvoor is daar geestelike wapens tot sy beskikking: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp” (2 Kol. 10:3-4).

Dit is van die uiterste belang vir elke gelowige om voorrang te verleen aan die geestelike dimensie van sy lewe, en seker te maak dat hy ’n sterk band met die Here handhaaf. Hy is ’n vreemdeling en bywoner wat in die verdorwe węreld is maar nie van die węreld nie. Afhangende van die mate van toewyding en vasberadenheid wat Christene aan die dag lę, verskil die kwaliteit van hulle lewens aansienlik. Sommiges maak kompromie en veroorloof hulleself baie vleeslike vryhede, terwyl ander na hoër geestelike standaarde van heiligheid streef.

n Christen kan sy geestelike dimensie inperk deur sy verhouding met die Here te verwaarloos, die stryd teen die węreld, die sonde en die ou natuur te onderskat en dan mettertyd al die negatiewe simptome van geestelike onvolwassenheid te ontwikkel (1 Kor. 3:1-3). Dit sal hom onbruikbaar maak vir geestelike werk en daartoe lei dat sy perspektief vertroebel en sy oordeelsvermoë afgestomp raak. Geestelike dwaasheid en sonde is die gevolg hiervan, en dit lei na ’n skaakmatposisie van geestelike onvrugbaarheid (Gal. 5:17).

Ons word egter uitgedaag om situasies van hierdie aard te vermy, rein en heilig voor die Here te lewe en vrugte te dra wat by die bekering pas. Ons lewens sal eendag geweeg word om vas te stel hoeveel van ons werke ewigheidswaarde het (1 Kor. 3:8-15). Net dit sal beloon word.

Ons moet ons geestelike konteks en prioriteite só bepaal dat ons kan aanhou streef na die hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14). Gee jy genoeg aandag aan die onsigbare dinge van God se koninkryk wat ewigheidswaarde het? (2 Kor. 4:18).

Die sekulęre, humanistiese konteks

Die tweede breë konteks is dié van die sekulęre humanis. Vir hom moet alle sake, ook godsdiens – indien hy die nut daarvan in die alledaagse lewe sou erken – mensgesentreerd wees en in diens van die bevryding en opheffing van die mens staan. God speel geen rol in sy lewe nie, en verskillende sondes word slegs as vorms van afwykende gedrag beskou.

In sy uiterste vorm ontken sekulęre humanisme die bestaan van God, asook die bestaan van ’n duiwel en ’n hel. Die mens word sy eie god en die alleenbepaler van sy lotgevalle. Uit ’n Bybelse oogpunt is só ’n persoon sonder God en sonder hoop in die węreld (Ef. 2:12). As ’n eksistensialis wat die bonatuurlike dimensie ontken, leef hy net vir die dinge van hierdie węreld. Die konteks van sy bestaan word oorheers deur dié dinge wat op die oomblik vir hom die belangrikste is. Dit mag polities, sosiaal, ekonomies of moreel van aard wees.

Ten spyte van hulle agnostisisme bevorder humaniste dikwels hulle doelstellings deur kerke, mits daardie kerke ’n sosiale bevrydingsteologie verkondig wat op menslike behoeftes gebaseer is, en nie oormatige klem op bonatuurlike dinge lę nie. Sake soos weergeboorte, heiligmaking, gebed en ’n mens se verhouding met die Here moet volgens hulle nie beklemtoon of afgedwing word nie. Die kerk moet net ’n morele kampvegter vir menseregte word, en hom by uitstek vir die opheffing van die onderdruktes en armes beywer. Wat dus primęr aangespreek moet word, is sosiale ongeregtigheid (wanverhoudings tussen mense), en nie sonde (’n wanverhouding met God) nie. Die teoloë in sulke kerke val geredelik by hierdie benadering in, en skakel ook gou in by ekumeniese liggame wat sigbare eenheid ten koste van dogmatiese suiwerheid oor geestelike sake nastreef. Lidmaatskap van die Węreldraad van Kerke (WRK) en sy geaffilieerde liggame, asook bande met die Vatikaan, die Oosterse en Afrika-godsdienste, is alles deel van die ekumeniese proses.

Die geestelike oppervlakkigheid en kompromie deur die betrokke teoloë en predikante is baie opsigtelik. Spoedig glo hulle nie meer in die Bybel as die geďnspireerde Woord van God, die Messiaanse profesieë in die Ou Testament, die maagdelike geboorte en Godheid van die Here Jesus, en die vereiste van weergeboorte om in die koninkryk van God te kom nie. Godsdiens word tot sekulęre en moreel-etiese kwessies gereduseer en die Bybel as ’n storieboek beskou waarin daar na bewering baie mitologiese verhale opgeteken is. In die finale instansie word die brein van die mens gesien as sy belangrikste vermoë of hulpmiddel waardeur hy sy eie heil moet uitwerk. Dit is die essensie van ’n humanistiese selfverlossingsleer.

Die duiwel is hoogs ingenome met die ideologie van sekulęre humanisme. Hy gee nie om dat mense sy bestaan ontken nie, solank hulle net vir God ook verloën. Effektief bly hy dan in beheer van die gevalle mens se natuur, bedien hom van allerlei sekulęre idees en wakker ook sy vleeslike begeertes tot immoraliteit aan. Sondige begeerlikhede na geld, hoogmoed, eiewaan, drank en wellus word onder weerlose sekulariste gekweek met die oog daarop dat hulle hul onbeperkte vryhede moet geniet.

n Baie duidelike ontwikkeling in die kamp van die sekulęre humaniste vind tans plaas in die rigting van die kosmiese humanisme. Onder die baniere van die New Age-beweging, die humanistiese sielkunde, die parapsigologie, die gebruikmaking van die mens se inherente psigiese kragte, suggestopedie, nuwe selfbeeld- en selfaktualiseringsprogramme, mind over matter, transendentale meditasie, alternatiewe genesingspraktyke, positiewe denke, visualisering, buitesintuiglike waarneming, toekomsvoorspellings, en vele meer, word kosmiese kragte ingespan om die mens se probleme op te los en van hom ’n beter en meer volkome mens te maak. In werklikheid word hy nou ’n klein godjie wat sy volle potensiaal ontdek het en gevolglik nie meer deur sy beperkinge van die verlede gekortwiek word nie.

Sodoende word die sekulęre konteks met die mistiese konteks geďntegreer, en is die misleide mensdom nou gereed om die kosmiese Christus (die Antichris) te aanvaar en na te volg wanneer hy op die toneel sal verskyn om alle gelowe te verenig.

Ons opdrag is om die beweging na die donker węreld van die mistiek én die opkoms van die kosmiese Christus te weerstaan, terwyl ons die suiwer Bybelse lewens- en węreldbeskouing met oortuiging uitleef en sodoende ons rol vervul om die sout van ’n verdorwe aarde te wees. Mense wat nie hulle toevlug tot die Here Jesus neem nie, wandel in die duisternis en verkeer in groot gevaar. As hulle volhard op hul verkeerde weë, sal hulle die krag van die dwaling ontvang om die leuens van Satan te glo (2 Thess. 2:8-12).

Die Mistiese konteks

Die derde algemene konteks is dié van die vals godsdienste wat almal hulle oorsprong in die okkultiese sfeer van die mistiek het. Deur hierdie bron bevorder Satan die belange van sy koninkryk op aarde, en berei die mensdom doelgerig voor om hom en sy vals eindtydse Christus (die Antichris) te ontvang, aan te hang en te aanbid.

In die nie-Christelike gelowe is mense van die ware God vervreem omdat hulle onvergeefde sondes n skeidsmuur tussen hulle en Hom vorm (Jes. 59:2). Hulle is geestelik dood en wend hulle tot vals godsdienste in n poging om die geestelike honger van hulle siele te versadig. Die ervarings wat hulle het en die rituele wat hulle beoefen, het egter niks met God te doen nie omdat dit uit die onbekende grys węreld van die mistiek kom.

Satan en sy ryk van demone is in alle vals godsdienste werksaam, ongeag die vorm van n bepaalde geloof of die name van die afgode en geeste wat daarin aanbid word. Vals godsdienste moet dus nie as iets onwerklik gesien word wat net aan die vrye verbeeldingsvlugte van mense toegeskryf kan word nie. Agter die afgode wat aanbid en vereer word, is duiwelse magte aan die werk. Die uiterlike simbole is maar net maskers vir demone, daarom mag Christene niks hiermee te doen hę nie. Paulus is baie duidelik oor hierdie gevaar:

“Wat sę ek dan? Dat n afgod iets is, of dat n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hę dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor. 10:19-20).

In die mistiese gelowe is daar nie n duidelike onderskeid tussen die natuurlike en die bonatuurlike sfere nie. Alles vloei inmekaar, en in die meeste rituele en objekte is daar verborge, mistiese kragte aan die werk. Geestelike invloede en towerkrag is n alledaagse verskynsel. Alle siektes, ongelukke en buitengewone dinge, asook suksesverhale en natuurverskynsels, is vir hulle manifestasies van n geestelike kragwęreld waarin die mens leef. Sy grootste uitdaging is om hierdie kragte en magte te manipuleer, tot sy voordeel aan te wend, en homself ook met die hulp van beskermende amulette en magiese middels teen die skadelike invloede van kwaadwillige magie (toorkuns), of towerkrag te beskerm.

Kulture waarin n mistiese lewens- en węreldbeskouing gehuldig word, is fatalisties en stagnant. Die beginsel van natuurlike oorsaak en gevolg word net in n baie beperkte sin erken, omdat die meeste gebeurtenisse aan bonatuurlike oorsake toegeskryf word. Die gevolg is dat daar in gevalle van siekte eerder divinasie (waarsęery) deur n toordokter gedoen en magiese middels gebruik sal word, as wat n wetenskaplike diagnose gedoen en moderne medisyne gebruik sal word. Selfs wanneer laasgenoemde weg gevolg word, word dit gewoonlik net as aanvullend tot tradisionele metodes gedoen.

Die gebrek aan n navorsingsingesteldheid en die sistematiese versameling en verwerking van empiriese kennis oor n wye reeks onderwerpe lei daartoe dat kennis stadig of glad nie toeneem nie, dat n sinvolle onderwys- en opleidingsinfrastruktuur ontbreek, dat geen tegnologiese vordering gemaak word nie, en dat die mens net nog meer op ingrypings deur mistiese kragte aangewese raak. Afrika bevind homself sterk in die greep van die oorwegend mistiese konteks waarin die meeste van sy inwoners duisende jare lank al leef, en waardeur volhoubare ontwikkeling steeds teëgewerk word.

Die Westerse węreld het ook sy Donker Middeleeue gehad toe bygelowe en die onderworpenheid aan n mistiese węreld van towerkrag die inisiatief vir navorsing en ontwikkeling grootliks gedemp het. Plato se swak gedefinieerde en onbybelse geloof in n bonatuurlike węreld het in Europa die deur wyd oopgemaak vir die mistiek, en dit het baie van die negatiewe gevolge opgelewer wat hierbo beskryf is.

Dit was eers tydens die Kerkhervorming, en veral die groot herlewings van die 18de en 19de eeue, dat groot groepe mense in Europa van hulle mistiese bygelowe verlos is. Hulle het geestelik en intellektueel bevry en verlig geraak en die Bybelse doel van hulle menswees reg verstaan. Hulle is van Satan se mistiese bonatuurlike ryk bevry toe hulle deur Jesus Christus in die regte verhouding met die lewende God gekom het. Vanuit hierdie perspektief het hulle ook die aarde met sy natuurlike wetmatighede begin verstaan en bestudeer. Dit het hulle in staat gestel om die aarde te onderwerp en daaroor te heers (die kultuuropdrag van Gen 1:28).

Die miljoene mistiesgeoriënteerde mense wat steeds op bonatuurlike tekens en wonderwerke ingestel is, sal die Antichris spontaan aanvaar en navolg omdat sy koms sal wees “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Thess. 2:9-10). Feitlik alle mense op aarde sal hulleself uiteindelik tot hul eie ondergang laat mislei deur n sataniese driemanskap wat ruim van die werking van demone gebruik sal maak om hulle slagoffers te bedrieg (Op. 16:13-14, 16).

Dit moet hier duidelik gestel word dat die mistiese invloede van Satan en sy ryk nie slegs tot die nie-Christelike godsdienste beperk is nie. Daar is reeds talle nominaal Christelike kerke en bewegings wat deur die sielevyand in presies dieselfde wip gevang is. As gevolg van hulle dwalings en geestelike bankrotskap het hierdie mense nie onraad gemerk toe die duiwel soos n engel van die lig by hulle ingesluip en sy vals profete daar geplant het nie (2 Kor. 11:13-15; Matt. 7:21-23). Op grond van hulle misleide toestand is hulle deur die beoefening van vals tekens en wonders ook wegbereiders vir die komende Antichris.

Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van al die vals godsdienste (Op. 17:5), is in die donker, mistiese węreld van Satan gewortel en is nou besig om n ekumeniese moederorganisasie te stig wat n geestelike tuiste aan al die afvalliges op aarde bied. Onder hulle is ook vervalle, gedeformeerde “Christelike” kerke wat meer as bereid is om met die nie-Christelike węreld hande te vat omdat hulle lankal van die ware Christus afvallig geraak het.

Die nuwe węreldorde

Byskrif: Skets deur Guillaume Theron in The Hour of Darkness deur Johan Malan (1993:60). Die Afrikaanse weergawes van Engelse terme is die volgende: Global Village (Węreldgemeenskap of Węreldstaat); Age of Aquarius (Die Era van Akwarius); One Leader (Een Leier); One Religion (Een Godsdiens); One Monetary System (Een Geldstelsel); A World Government (n Węreldregering); Universal Brotherhood (Internasionale Broederskap); Cosmic Consciousness (Kosmiese Bewussyn); Cashless Society (Kontantlose Samelewing); United Nations (Verenigde Nasies); Masters of Wisdom (Meesters van Wysheid); Psychic Healing (Magiese Genesing); New World Order (Nuwe Węreldorde); Everything is One ... Holism (Alles is Een ... Holisme); Everything is God ... Pantheism (Alles is God ... Panteďsme); We are God – Self-deification (Ons is God – Selfvergoddeliking).

Baie mense leef in die vaste oortuiging dat ’n nuwe węreldorde van internasionale eenheid en harmonie tussen alle gelowe en politieke ideologieë binnekort ’n werklikheid gaan word. ’n Voorvereiste hiervoor is dat regerings oraloor die idee én ook die gesag van ’n węreldregering moet aanvaar. In aansluiting hierby moet daar in die ekumeniese beweging ’n mistiese broederskap tussen alle gelowe geskep word.

Vir laasgenoemde om te gebeur, moet die evangeliese Christendom óf van sy rigiede Bybelse standpunte afsien en met die nie-Christelike godsdienste hande vat, óf die risiko van vervolging loop. Die mistiese lewens- en węreldbeskouing van die New Age-beweging, wat bekend is as kosmiese holisme, moet dus as ’n basis vir samewerking en eenwording deur almal aanvaar word. Die sekulęre humanisme is met die ontdekking van die mens se inherente psigiese (of kosmiese) magte deur die Menslike Potensiaal-beweging reeds besig om in die rigting van die mistiek te beweeg en homself tot kosmiese humanisme te hervorm.

Wanneer die mistiese eenheidsbeweging sy penne stewig ingeslaan en ook die misleide  Christelike kerke in ’n vals herlewing van mistiese kragte op sleeptou geneem het, sal die tyd vir die verskyning van die Antichris ryp wees. Hy sal die messias van ’n ganse misleide węreld wees, en saam met hom sal Satan deur alle onderdane van sy ryk aanbid word (Op. 13:4).

Dit is van die uiterste belang dat ons moet kennis dra van die alternatiewe koninkryk van Satan, omdat alle mense in ’n stryd om lewe en dood teen hierdie bose koninkryk gewikkel is.