In ’n artikel, “’n Kontantlose samelewing is dalk nader as wat die meeste mense besef”, word daar op die webblad www.theeconomiccollapseblog.com die volgende oor die wêreldwye oorskakeling na ’n kontantlose monetêre stelsel gesê:
Baie mense dink aan ’n kontantlose samelewing as iets wat in die verre toekoms lê. Ongelukkig is dit nie die geval nie. Die waarheid is dat ’n kontantlose samelewing baie nader is as wat die meeste mense besef. Die oorgang na ’n kontantlose samelewing geskied hoofsaaklik op ’n vrywillige basis. Op die oomblik word nog net 7% van alle transaksies in die VSA met kontant gedoen, en in die meeste gevalle is net klein bedrae hierby betrokke. Dink vir ’n oomblik daaraan: waar gebruik jy in hierdie tyd nog kontant? Indien jy ’n hamburger koop, of iets in ’n vlooimark, sal jy kontant gebruik, maar vir enige van die groter transaksies sal die meeste mense ander maniere van betaling gebruik.
Ons finansiële stelsel is besig om dramaties te verander, en kontantaankope is besig om iets van die verlede te raak. Ons leef in ’n digitale wêreld waarin nasionale regerings en banke albei te gunste is van die beweging weg van papiergeld en muntstukke af. Maar wat sal ’n kontantlose samelewing vir die toekoms inhou? Is daar enige gevare aan hierdie stelsel verbonde?
Die groot banke wil ’n kontantlose ekonomiese stelsel hê omdat dit vir hulle baie meer winsgewend sal wees. Hulle verdien miljarde dollars in fooie op debietkaarte en maak ook enorme winste op kredietkaarte. Wanneer mense egter van kontant gebruik maak, verdien die groot banke niks daaruit nie.
Die meeste regerings in die wêreld is om die volgende redes gretig dat daar ’n oorgang na ’n kontantlose samelewing sal wees:
· Kontantgeld is duur om te laat druk, te beheer, te vervoer, te stoor en veilig te bewaar.
· Vervalsing sal altyd ’n probleem wees solank as wat daar papiergeld is.
· Kontant word deur misdadigers verkies omdat daar nie rekord van die besteding daarvan gehou word nie. Wanneer kontant uitgeskakel word, sal dit baie moeiliker wees vir dwelmhandelaars, prostitute en ander kriminele om besigheid te doen.
· Bowenal sal ’n kontantlose samelewing veel meer beheer aan regerings verleen. Regerings sal in staat wees om feitlik alle transaksies met die oog op belastingpligtigheid te kan monitor.
Indien hierdie oorwegings in ag geneem word, is dit maklik om te verstaan waarom die gebruik van kontantgeld al hoe meer in ’n slegte lig gestel word. Feitlik alle regerings is toenemend teen die gebruik van kontant gekant. Volgens die Amerikaanse regering word kontanttransaksies in sommige gevalle as “suspisieuse aktiwiteite” beskou wat aan die owerhede gerapporteer moet word.
Dit is ’n neiging wat nie net in Amerika plaasvind nie. Daar is verskeie lande wat selfs al verder as Amerika gevorder het onderweg na ’n kontantlose samelewing. In Kanada word daar reeds na maniere gesoek om munte en papiergeld uit te skakel sodat mense alternatiewe maniere kan gebruik om betalings te doen. In Swede word slegs sowat 3% van alle transaksies nog in kontant gedoen. Die Washington Post het onlangs die volgende in ’n artikel gesê: “In die meeste Sweedse stede word daar nie meer kontant in openbare busse aanvaar nie; kaartjies moet voorafbetaald wees of deur middel van ’n selfoonteksboodskap aangekoop word. ’n Klein maar groeiende aantal sakeondernemings aanvaar net kaarte, terwyl sekere banke wat wins uit elektroniese transaksies verdien, opgehou het om kontant te hanteer. Daar is dorpe in Swede waar dit hoegenaamd nie meer moontlik is om in ’n bank te gaan en kontant te gebruik nie.”
In Italië word alle groot kontanttransaksies verbied. Vantevore was die maksimumperk vir kontanttransaksies gelykstaande aan slegs ’n paar duisend dollar. In Desember verlede jaar het die Eerste Minister, Mario Monti, egter ’n perk van net $1 300 vir kontanttransaksies voorgestel. Dit is die manier waarop alle regerings na ’n kontantlose stelsel sal oorskakel. Hulle sal maksimum perke vasstel en dan aanhou om dit te verlaag.
Is ’n kontantlose samelewing regtig so veilig? Natuurlik nie.
Internetdiewe kan toegang tot bankrekenings kry. Krediet- en debietkaarte kan gesteel word. Identiteitsdiefstal is oral in die wêreld ’n toenemende probleem. As gevolg hiervan is maatskappye in baie lande besig met koorsagtige pogings om kontantlose stelsels veiliger te maak. Dit is duidelik dat regerings en groot finansiële instellings wil hê dat almal van ons moet oorskakel na biometriese identiteitstelsels sodat misdaad in die finansiële sektor beter beheer kan word.
Verskeie van hierdie biometriese stelsels is tans in ’n hoogs ontwikkelde stadium. Kyk byvoorbeeld na wat IBM ontwikkel het, soos uit die volgende persverklaring blyk wat hulle uitgereik het: “Dit sal nie meer vir jou nodig wees om ’n groot aantal sleutelwoorde op te stel, op te spoor of te onthou voordat jy toegang tot elektroniese bankstelsels kan verkry nie. Stel jou voor dat jy na ’n ATM toe stap om op ’n veilige manier geld te onttrek deur bloot jou naam uit te spreek, of in ’n klein sensor te kyk wat die unieke patroon in die retina van jou oë kan onderskei. Op dieselfde manier sal jy ook jou bankbalans deur middel van ’n selfoon kan vasstel.”
Elke persoon het ’n unieke biologiese identiteit wat in die vorm van digitale data gestoor kan word. Biometriese data soos kenmerke van jou gesig, retinapatrone en stemeienskappe kan gebruik word om jou DNS op te bou en sodoende ’n unieke elektroniese sleutelwoord aan jou te verskaf. In gesofistikeerde stelsels kan hierdie inligting gebruik word om transaksies te magtig en ook vas te stel of iemand anders onregmatige toegang tot jou rekening probeer verkry.
Is jy gereed hiervoor? Dit is aan die kom! Dit mag wees dat jy een of ander tyd in die toekoms van die finansiële stelsel uitgesluit kan word indien jy sou weier om inligting oor jou biometriese identiteit te verskaf.
’n Ander metode wat gebruik kan word om identifikasie vir finansiële transaksies te magtig, is om ’n ingeplante RFID (radiofrekwensie-identifikasie) mikroskyfie te gebruik. Daar is tans nog aansienlike weerstand teen hierdie idee, maar ten spyte hiervan word RFID-skyfies toenemend in mense en diere gebruik. In sekere Amerikaanse stede is dit reeds verpligtend om sulke skyfies in alle katte en honde in te plant sodat hulle opgespoor kan word.
Oral in Amerika word daar van werknemers verwag om kentekens te dra waarin daar ’n RFID-skyfie is, en in sommige gevalle word daar selfs van hierdie mikroskyfies in hulle liggame ingespuit. In president Obama se nuwe gesondheidswetgewing word dit in beginsel gewettig dat RFID-skyfies met persoonlike en gesondheidsdata binnekort vir alle Amerikaners ingeplant kan word.
Aangehaal uit Wikipedia Encyclopedia
‘n RFID-mikrosyfie langs ’n ryskorrel. Hierdie skyfie bevat ’n elektromagnetiese radiofrekwensie-induksieklos wat met ’n eksterne magnetiese veld moduleer om identifikasie in kodevorm oor te dra wanneer dit deur ’n skandeerder geaktiveer word. Hierdie skyfie kan vir die identifikasie van verbruikersartikels aangewend word en ook in mense of diere ingeplant word.
Die Bybel het hierdie verwikkelings byna tweeduisend jaar gelede voorspel en aangedui dat die Antichris ’n kontantlose ekonomie sal gebruik om die finansiële transaksies van alle ekonomies aktiewe mense op aarde te beheer en daardeur ook hulle bewegings te kan monitor. Terselfdertyd sal hy hierdie stelsel gebruik om mense te dwing om hom as wêreldmessias te aanvaar en te aanbid:
“En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig” (Op. 13:16-18).
Die nommer 666 verwys na die sataniese driemanskap – die duiwel, die Antichris en die valse profeet. Hulle sal in regstreekse opposisie teen die Drie-enige God wees, daarom sal mense se bereidwilligheid om die Antichris te aanbid, op ’n totale verloëning van die ware Christus neerkom. Mense wat bereid sal wees om hulle siele vir finansiële voordele aan Satan te verkoop, sal sy oordeel in die hel met hom deel:
“As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).
Hierdie oordeel begin reeds op die laaste dag van die groot verdrukking wanneer Christus terugkom om sy toorn oor sy vyande uit te stort: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit [Jesus Christus], en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:19-21).
Wat nou lyk of dit ’n onskuldige en voordelige stelsel van elektroniese fondsoorplasing is met die oog op die uitskakeling van alle kontanttransaksies én die probleme wat daarmee gepaard gaan, sal in die hande van die mensdom se grootste vyand val. Dit sal die Antichris wees, wat groot magte van Satan sal ontvang om sy koninkryk gedurende die verdrukking op aarde te vestig: “En die draak [Satan] het hom [die Antichris] sy krag gegee en sy troon en groot mag. ... Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:2, 7).
Aanvanklik sal alle mense met blydskap die Antichris se politieke, godsdienstige en ekonomiese hervormings na wêreldeenheid verwelkom: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid” (Op. 13:3-4). Later, wanneer hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar, sal baie mense egter besef dat hulle mislei en geïntimideer is deur die grootste misleier van alle tye (Op. 13:15; 2 Thess. 2:4; Dan. 11:31, 36). Om teen hom te draai sal as hoogverraad beskou word en deur die dood strafbaar wees.
Wat begin het as ’n oënskynlik goeie oplossing vir die mensdom se onoorkomelike politieke verdeeldheid, ekonomiese chaos en godsdienstige vyandigheid, sal in die ergste nagmerrie van alle tye eindig. Die Here Jesus het die Antichris se komende skrikbewind beskryf as ’n “groot verdrukking” wat in sy erns en omvang sonder gelyke in die menslike geskiedenis sal wees (Matt. 24:21). Die morele verdorwenheid en godsdienstige rebellie van die laaste dae word vergelyk met die uiterste boosheid wat in die tyd van Noag en Lot geheers het (Luk. 17:26-30), en sal ook lei na ’n Goddelike ingryping om die gelowiges uit te red en die vyande van God se koninkryk te oordeel.