Die Gnostiese ‘Evangelie’ van Judas

In die postmoderne samelewing van vandag ervaar die Christendom ongekende aanvalle op die grondwaarhede van sy geloof. Hierdie aanvalle word deur bose magte gemotiveer wat daarop uit is om alle mense as voorbereiding vir die fisiese vestiging van Satan se koninkryk op aarde te mislei. Hulle grootste struikelblok is die Bybelse weergawe van God se koninkryk en, meer spesifiek, die godheid, versoeningsdood, opstanding en wederkoms van Jesus Christus. Die huidige aanvalle is daarop gemik om die geloofwaardigheid van die kanonieke boeke van die Bybel te ondermyn, en daardeur ook die God en Verlosser van die Bybel, terwyl bose mense soos Esau, die Sodomiete en die verraaier, Judas Iskariot, openlik geprys en aanvaar word.

Wanneer die egtheid van die Bybel oor ‘n breë front in twyfel getrek word, word die weg vir allerlei dwaalleerstellings oor God, die geesteswêreld, die skepping, die mensdom, sonde, verlossing en profesieë oor die toekoms, geopen. Die groot openbare steun wat deur valse, apokriewe evangelies soos Die Evangelie van Judas geniet word, asook ander verwronge weergawes van Jesus se lewe, byvoorbeeld dit wat in die Da Vinci-kode vervat is, is kenmerkend van hierdie tyd van groot misleiding kort voor die aanbreek van die nuwe bedeling van die Antichris se regering op aarde.

Die ‘evangelie’ van Judas

Net voor die Paasfees van 2006 het die National Geographic Society aangekondig dat hulle die verlore Evangelie van Judas ontdek het, waarin die kanonieke Evangelies se weergawe van Judas en sy verraad teen Jesus weerlê word. Daar is selfs in die pers aansprake gemaak dat dit die grootste ontdekking van die eeu is, en na ‘n herwaardering sal lei van Christelike opvattings soos wat ons dit ken. Die hoofopskrif in USA Today het gelui: “Die lank verlore Evangelie van Judas stel hierdie ‘verraaier’ in ‘n nuwe lig.”

Hierdie Gnostiese evangelie was slegs as gevolg van Ireneüs se tweede eeuse veroordeling daarvan in sy Weerlegging van alle Dwaalleerstellings bekend. ‘n Derde of vierde eeuse kopie daarvan wat in Kopties geskryf is, is egter in Egipte gevind, waar dit gekoop en gerestoureer is voordat dit op 6 April 2006 gepubliseer is. Die feit dat dit ‘n egte Gnostiese teks mag wees, beteken geensins dat die inhoud daarvan waar is nie. Die meeste geleerdes sê dat dit nie ‘n ware weergawe van historiese gebeure is nie – dit is eerder ‘n “egte dwaalleer” wat op tweede eeuse Gnostiese mitologie gebaseer is.

Die Evangelie van Judas stel vir Judas in ‘n positiewe lig voor as die enigste dissipel wat waarlik vir Jesus verstaan het, en Hom slegs verraai het omdat Jesus Hom self versoek het om dit te doen. Hierdie Evangelie begin met die woorde: “Die geheime weergawe van ‘n openbaring wat Jesus in ‘n gesprek met Judas Iskariot gemaak het.” Jesus het na bewering aan Judas gesê dat die wêreld op ‘n ander manier geskape is as wat in Genesis beskryf is, en dat “’n bose god met die naam van Nebro oor die laer wêreld van menslike samelewings regeer.” Judas is die dertiende gees wat aangestel is om Jesus van sy fisiese liggaam te verlos waarin Hy gevange gehou is. In hierdie Evangelie lag Jesus baie – Hy lag selfs oor die manier waarop sy dissipels bid en die Here loof. In dié vreemde geskrif is dit Judas, eerder as Jesus, wat verheerlik word deur in ‘n verligte wolk in te stap.

David Cloud van die Fundamentele Baptiste Inligtingsdiens in Amerika sê: “Die Gnostiese Jesus wat in die Evangelie van Judas beskryf word, is nie die almagtige God en die Skepper van die wêreld nie, Hy het nie vir die sondes van die mensdom gesterf nie en Hy het nie liggaamlik uit die dood opgestaan nie. Dit is hoegenaamd geen evangelie nie... Egipte was in die eerste eeue ná Christus die broeiplek vir dwaallerings en fanatisisme. Baie ander vreemde ‘evangelies’ het hulle ontstaan hier gehad, insluitende die Evangelie van Thomas. Hierin word inligting oor Christus se kinderdae verstrek, bv. dat hy ‘n gedroogde vis lewendig gemaak en een van sy speelmaats laat sterf het.”

Gnostiese agtergrond van hierdie valse ‘evangelie’

Wat is Gnostisisme?

Sedert die tyd van die vroeë Christelike kerk is teologiese ontwikkeling sterk deur die filosofie beïnvloed, en dit het daartoe gelei dat daar verskillende strominge van godsdienstige dwalings ontstaan het. In die eerste ses eeue ná Christus het Gnostisisme ‘n groot rol gespeel. “Gnosis” beteken “intuïtiewe godsdienstige kennis.” Vir hierdie mense was kennis belangriker as geloof, gevolglik het hulle hulself veroorloof om ‘n alternatiewe teologiese begrip van God te formuleer. Gnostisisme het uit die mistiese leringe van Plato ontstaan, wat daartoe gelei het dat die menslike rede deur vreemde, mistiese sienings beïnvloed is. Die gevolg was ‘n verwronge begrip van God as die Absolute.

Dr. Errol Wagner van die George Baptiste-gemeente sê in sy artikel, Die Evangelie van Judas – ‘n Bybelse Beoordeling: “’n Opvatting wat deur al die faksies van Gnostisisme gehuldig is, is die oortuiging dat die materiële wêreld, insluitende die liggame van mense, boos is en die skepping van ‘n mindere, bose god is. Hierdie skeppergod, wat deur sekere Gnostiese groepe as ‘die god van Genesis’ beskryf word, is ‘n vyand van die Hoogste God. Die Hoogste, Absolute God is onbekend en bestaan in die Koninkryk van Lig. Dit is hierdie onbekende God wat die Gnostici verkondig. Met die verloop van tyd het Gnostici hulle idees met die Christelike geloof vermeng en gepoog om dit as ‘n ware uitdrukking van die Christendom voor te stel. Hierdie idees was die motivering vir die apokriewe geskrifte... Hulle Jesus is ‘n verlosser wat deur die onbekende God gestuur is om spesiale kennis aan die mensdom oor te dra, om aan ons te openbaar dat ons deel van die Absolute God is en dat die vonk van goddelikheid in ons menslike liggame opgesluit is. Verder het hulle ook geleer dat aangesien die liggaam boos is, Jesus nie werklik ‘n mens geword het nie – Hy het net ‘n menslike voorkoms gehad. Omdat hulle nie geglo het dat goddelike openbarings aan historiese gebeure gekoppel moet word nie, het hulle die feite oor Jesus se menswording, lewe, dood, opstanding en hemelvaart verwerp. Sy dood was volgens hulle nie ‘n losprys vir ons sonde nie, en Hy het ook nie uit die dood opgestaan nie. Hierdie sienings is geheel en al strydig met die Bybel.”

Die Gnostici het dus in hulle eie gedagtes ‘n ander god geskep. Dit is nie die God wat Homself deur sy Woord, sy Heilige Gees en sy Seun aan ons geopenbaar het nie, maar ‘n vreemde god wat homself deur menslike beredenering onder sterk mistiese beïnvloeding in mense se gedagtes gevestig het. Hierdie “god van binne” word tans wyd deur die Nuwe Era Beweging en sy geassosieerde organisasies gepropageer. Dit is ‘n panteïstiese “god” wat homself aan mense se selfbeeld en selfbewussyn koppel en daardeur van die gevalle mens ‘n god in sy eie reg maak – die sogenaamde “Hoër Self” of “Dieper Self” in hom.

Dit is duidelik ‘n sataniese godsbegrip wat bedink is met die uitdruklike bedoeling om die Drie-enige God met ‘n ander god te vervang, en mense sodoende daarvan te weerhou om die reddende genade van die ware God se eniggebore Seun te verstaan en te aanvaar. Paulus beskryf die redes vir sulke mense se onkunde van die ware evangelie: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4). Die god van hierdie wêreld (Satan) werk in verlore mense se harte om hulle te mislei.

Dr. E. Wagner se slotopmerkings is baie toepaslik: “Gnostisisme leer dat elke mens in hom- of haarself ‘n vonk van die goddelike lewe het – ons is almal deel van God, daarom is ons God. Al wat ons moet doen, is om dié feit te ontdek. Hierdie ontdekking is gewoonlik aan ‘n subjektiewe geestelike ondervinding gekoppel wat geen verband met die objektiewe waarheid het nie. Daar is baie Nuwe Era groepe wat dit beoefen. In daardie vroeë jare was Gnostisisme ‘n uitdrukking van dieselfde, onbybelse vorm van geestelikheid as dit wat vandag populêr is, en waarin geestelikheid nie aan die objektiewe waarheid verbind word nie. Dit is die groot rede waarom die apokriewe boeke tans weer so gewild is. Hulle praat dieselfde taal, ten spyte daarvan dat dit van alle waarheid ontbloot is. Dit val ook saam met pogings om Jesus te herdefinieer om in die nuwe spiritualiteit in te pas – die spiritualiteit wat deel van die postmoderne wêreld is.”

Spoedig sal daar ‘n antichristelike nuwe wêreldorde op aarde gevestig word waarin Jesus tot só ‘n mate geherdefinieer sal word dat die misleide mensdom die Antichris as die universele Christus van alle gelowe sal aanneem en navolg. Die Evangelie van Judas lewer ‘n groot bydrae tot hierdie komende misleiding wat nou reeds momentum begin kry. Daar kan verwag word dat misleiding van hierdie aard in die nabye toekoms verskerp sal word.

Judas en die Antichris

Die internasionale prominensie wat die valse Evangelie van Judas geniet, het ook implikasies vir eindtydse gebeure. Daar is sterk aanduidings in die Bybel dat dieselfde duiwelse gees wat van Judas besit geneem en hom gebruik het om Jesus te verraai, ook die komende Antichris in besit sal neem en buitengewoon sal bemagtig om sy bose werk te doen.

Jesus het aan sy dissipels gesê: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskariot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was” (Joh. 6:70-71). In geen ander Skrifgedeelte as hierdie word die woord “duiwel” ten opsigte van enige persoon as Satan self gebruik nie. Judas het duiwelbesete geraak toe hy aan versoekings toegegee het om Jesus aan sy vyande te verkoop. In hierdie hoedanigheid het hy “die seun van die verderf” geword (Joh. 17:12) – dit is “die seun van Satan.” Biologies was hy die seun van Simon, maar geestelik het hy die seun van Satan geword. Nadat Judas vir Jesus verraai het, het hy selfmoord gepleeg en “na sy eie plek gegaan” (Hand. 1:25), wat die tuiste van Satan en sy demone is.

Die enigste ander persoon in die Bybel wat “die seun van die verderf” genoem word, is die Antichris wat in die eindtydse dag van die Here geopenbaar sal word. Paulus sê: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word... sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is... Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:3-8; beklemtoning bygevoeg).

Die bose gees van die Antichris sal uit die afgrond opkom en weer na dieselfde plek terugkeer: “Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar” (Op. 17:8; vgl. 11:7). Clarence Larkin sê in sy boek Dispensational Truth: “ Hoewel die verderf ‘n plek is (Op. 17:8,11), is dit ook ‘n toestand waarin mense kan verval (1 Tim. 6:9; Heb. 10:39). Diegene wat onvergeeflike sondes gepleeg het, is seuns van die verderf omdat hulle op pad is na die plek waar alle onherroeplik verlorenes sal wees. Judas en die Antichris is egter in ‘n baie spesiale sin die seuns van die verderf omdat hulle seuns van die vader van die verderf is – die duiwel.” Die duiwel het besluit om hulle op ‘n besondere manier as verraaiers van Christus te beheer en te bemagtig.

Die uitdrukking: “Die dier... was en is nie en sal uit die afgrond (die verderf) opkom” is ‘n duidelike aanduiding dat daar vroeëre manifestasies van dieselfde demoniese gees van rebellie teen die Drie-enige God was. Daar is inderdaad verskeie tipes of voorlopers van die Antichris in die Bybel, bv. “die koning van Babel” wat in die doderyk neergewerp is, in die diepste plekke van die kuil (Jes. 14:4,15); “die koning van Assirië” (Jes. 10:12-14); en “die koning van die Noorde” (Dan. 11:31-45). Judas was ook ‘n tipe van die Antichris, daarom het die duiwelse gees wat van hom besit geneem het, ná Judas se selfmoord na die verderf teruggekeer. Van geen ander persoon word in die Bybel gesê dat hy “na sy eie plek” gegaan het nie (Hand. 1:25), wat die verderf is.

Die gees van rebellie wat verskeie bose wêreldheersers in die antieke wêreldryke bemagtig het, asook vir Judas Iskariot, is ná Judas se dood in die bodemlose put ingesluit. In daardie sin was die Antichris gewees, daarna was hy nie, en in die toekoms sal hy uit die afgrond opkom. In die tyd van Johannes op Patmos het die duiwel wat vir Judas beheer het, na die put teruggekeer, en sal weer in ‘n menslike liggaam manifesteer wanneer die Antichris geopenbaar word. Soos Judas en ander voorlopers, sal die Antichris ‘n man wees wat uit ‘n vrou gebore sal word, maar Satan sal aan hom “sy krag gee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2).

Die groot misleiding

In verband met die koms van die Antichris moet in gedagte gehou word dat sy aanvanklike verskyning dié van ‘n universele prins van vrede sal wees wat op ‘n wit perd ry (Op. 6:2). Hy sal voorgee om die gemeenskaplike messias van alle gelowe te wees, en daardeur alle mense in ‘n nuwe wêreldorde van godsdienstige, politieke en ekonomiese eenheid verenig. Hy sal ook in sy doel slaag om internasionale beheer te verkry, want die hele wêreld sal verwonderd agter hom aangaan (Op. 13:3).

Hy sal nie as “die Antichris” geopenbaar word nie, maar as “die kosmiese Christus van alle gelowe.” Voordat dit kan gebeur, moet die beeld van die ware Christus só vervals word dat dit met dié van die Antichris ooreenstem. Dit word gedoen deur sy godheid, sy maagdelike geboorte, die betekenis van sy soendood aan die kruis, en sy opstanding uit die dode te ontken. Sy unieke posisie as die enigste Middelaar tussen ‘n gevalle mensdom en God word ook ontken omdat ander gelowe daardeur as nutteloos en vals bewys word. Die Christendom word egter as een van baie paaie na God voorgestel, en só met die ander gelowe gelykgestel.

Die beeld van God word ook verander om van Hom ‘n panteïstiese krag van lig, liefde en lewe te maak wat in die ganse skepping aanwesig is. Hierdie mistiese element van geestelikheid is ook in alle mense teenwoordig, en daar word ‘n beroep op hulle gedoen om die god binne-in hulle te ontdek en te ontwikkel. Die absolute “god” word deur sommiges ook Jahweh, Allah of Brahman genoem, terwyl sy verligte diensknegte, of meesters van wysheid, as Boeddha, Krishna, Jesus, Mohammed en ander geestelike leiers bekend staan.

In die herdefiniëring van God, Christus en die aard van geestelikheid, word die Bybel aangeval en as ‘n valse, menslik-bedinkte boek beskryf. God die Vader, asook sy enigste Seun wat as ‘n versoening vir ons sondes gesterf het, word as valse voorstellings van God beskou. Hierteenoor word die vyande van die Vader en sy Seun as helde voorgestel en hulle bose dade goedgepraat – hieronder is ook Judas Iskariot. Dit is nie toevallig nie dat die verlore Evangelie van Judas juis nou ontdek is en ook ernstig opgeneem word deur almal wat die krag van die dwaling ontvang het om die leuen te glo (2 Thess. 2:11).

Binne die raamwerk van hierdie nuwe beskouings oor God en sy Woord, word daar vir die openbaring en wêreldwye aanvaarding van die universele christus van alle gelowe ruimte geskep. Dit beteken dat die moderne Judas, die Antichris, deur die meerderheid van die mensdom aanvaar sal word terwyl hulle die ware Christus sal verwerp. Die Antichris sal eers, soos Judas, intiem met die Christendom én alle ander gelowe assosieer. Ná 3½ jaar waarin hy hulle gemeenskaplike messias was (Op. 13:8), sal hy skielik teen hulle draai en almal van hulle oorlewer om in die openbaar tereggestel te word indien hulle sou weier om hom as God te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:15; 17:16).