Die Grys Gebied van Misleiding tussen Twee Koninkryke

Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2016)

Op geestelike gebied word mense oral blootgestel aan invloede wat van twee koninkryke af uitgaan, naamlik die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. Alle mense begin hulle lewens aan die verkeerde kant van hierdie spektrum tussen lig en duisternis omdat hulle met ʼn gevalle, sondige natuur gebore word. Wanneer hulle gered word, word hulle uit die duisternis van verlorenheid oorgebring tot in die wonderbare lig van Christus se koninkryk (1 Pet. 2:9). Paulus sê dat God die Vader “ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes” (Kol. 1:13-14). ʼn Losprys is betaal om ons uit ons sondeskuld te bevry en aan ons ʼn nuwe begin in die lewe te gee.

Nadat ons gered is, hou ons probleme en stryd ongelukkig nie op nie, want die duiwel teiken alle gelowiges en probeer om deur middel van misleiding en versoekings ʼn terugkeer na ons ou, vleeslike lewe van verdorwe begeerlikhede te bewerkstellig, sodat ons weer slawe van sonde kan word. Ons het egter die genade van die Here, die riglyne van sy Woord en die krag van die Heilige Gees om hierdie versoekings te kan teëstaan, die vlees gekruisig te hou en in Christus meer as oorwinnaars te wees. Dit is nietemin ʼn hewige stryd waarby ons betrokke is, en geen Christen kan bekostig om die erns daarvan te onderskat nie. Ons moet die probleem identifiseer vir wat dit is, en dan die volle wapenrusting van God aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Ons verkeer nie nou in ʼn ten volle geopenbaarde koninkryk van die hemel nie, maar in die midde van ʼn hewige stryd teen ʼn magtige vyand.

Om in hierdie geestelike stryd te kan oorwin, moet ons die vyand goed ken en ten alle tye ʼn duidelike skeidslyn tussen die koninkryk van God en die koninkryk van Satan kan trek. Ons moet presies weet wat toelaatbaar en wat ontoelaatbaar is, sodat ons nie dalk onwetend in die hand van die vyand speel nie. Ons opdrag is om altyd in die lig te wandel en die werke van die duisternis te weerstaan. As ons daarvan getuig dat die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het, dan moet ons besef dat al die sondes van die verlede, saam met al die ander werke van die verdorwe vlees, vir ons buite perke is. Paulus sê: “... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Die Heilige Gees oortuig ons van alle sonde, sodat ons dit kan bely, laat staan, en volkome daarvan verlos word.

In die lig van God se Woord is dit maklik om die twee koninkryke van mekaar te onderskei, want die sondige werke van die vlees is ten volle geopenbaar en ons mag nie ná ons redding die grens na goddelose gedrag oorsteek nie (vgl. Gal. 5:19-22). Net Christus kan ons met God versoen en aan ons ʼn nuwe, Goddelike natuur gee (2 Pet. 1:4), terwyl die nie-Christelike gelowe op mense se gevalle natuur gerig is en hulle verder op ʼn dwaalspoor lei, weg van die waarheid af. Niemand kom tot die Vader behalwe deur die Seun nie (Joh. 14:6), want daar is net een naam aan die ganse mensdom gegee waardeur ons gered kan word – Jesus Christus (Hand. 4:10-12). Hy is die lig van die wêreld, en buite Hom leef mense in die mag van die duisternis.

Ten spyte van die duidelike grens tussen die koninkryke van lig en duisternis, is daar deur die toedoen van die duiwel en sy medewerkers egter ook ʼn grys gebied van misleiding geskep waarin dit glad nie so ʼn eenvoudige saak is om hierdie twee koninkryke van mekaar te onderskei nie. Deur die eeue heen het valse profete en valse leraars onder die aanstigting van die vader van die leuen, die koninkryk van God binnegedring met die doel om gelowiges te mislei. Deur vermomming, valse aansprake en aangeplakte vroomheid het baie van hulle daarin geslaag om hulself as gesante van God voor te doen. Hulle het groot aansien en selfs leierskapsposisies verkry sodat gelowiges makliker mislei kan word om die Woord van God te verdraai.

Die misleiers wandel nie in die lig van die Woord nie, verkondig nie die Drie-enige God nie en word nie deur die Gees van waarheid gelei nie. Hulle versprei ʼn valse lig en verkondig ʼn valse vrede, ʼn valse verlossingsplan, ʼn valse leer van heiligheid, ʼn valse leer oor die wederkoms, en verdraai en vervals ook talle ander Bybelse beloftes en leerstellings. Hierdie valse leraars doen verwoestingswerk in mense se lewens, omdat hulle Christelike kerke binnedring waar hulle geloofwaardigheid onder oningeligte mense verkry en aan hulle ʼn maklike maar misleidende uitweg uit hulle probleme bied. Om hulle te kan ontmasker en weerstaan, moet ons in die dieper waarhede van die Woord onderrig word, sodat ons geestesvermoëns kan ontwikkel om goed van kwaad te kan onderskei (Heb. 5:14). Die volgende kenmerke van die gevaarlike grys gebied van geestelike misleiding wat in die breër Christendom geskep is, word in die Bybel genoem:

Vermomming

Valse leraars openbaar nie hulle werklike geestelike ingesteldheid nie, maar gee voor dat hulle namens die Vader en die Here Jesus praat, en dus yweraars vir die Christelike geloof is. Wat sê die Bybel van hulle? “... sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ʼn engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor. 11:13-15).

Sulke mense doen hulleself voor as groot gelowiges en kampvegters vir die geregtigheid van God se koninkryk, maar in werklikheid is hulle agente van die duiwel. ʼn Kenmerk van dié misleiers is dat hulle hulself op ʼn aanmatigende wyse as groot profete of gesiene teoloë voordoen, maar hulle verskuif Jesus al hoe meer na die agtergrond deur te weier om sy Godheid te bely en die onomstootlike waarde van sy kruisdood te verkondig. Die meeste van die godsdiensleiers tydens Jesus se aardse bediening was in hierdie kategorie van geestelike leuenaars, daarom het hulle Hom en sy evangelie weerstaan. Jesus het hulle egter ontmasker vir wat hulle werklik was: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. ... Hy [is] ʼn leuenaar en die vader daarvan” (Joh. 8:44). Die misleide priesters en skrifgeleerdes het hierdie stelling heftig ontken omdat hulle hulself as verbondskinders van die God van Abraham beskou het. Geestelik was hulle egter ver verwyderd van dié posisie.

Jesus het sy dissipels dikwels teen die valse profete gewaarsku: “Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken” (Matt. 7:15-16). Hulle vermomming is duidelik: hulle doen hulleself uiterlik voor as eerbare leiers van die Christelike kerk wat God se Woord verkondig, maar in werklikheid bestry hulle die waarheid en is medewerkers van die vyand wat sy valse leerstellings versprei.

Valse engele van die lig

Paulus het dikwels na die misleidende rol van selfaangestelde “engele van die lig” verwys, en sy verbasing uitgespreek dat Christene so maklik die grondbeginsels van die Christelike evangelie verloën en agter hierdie valse predikers aangaan. Hy het vir die Galásiërs gesê: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ʼn ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal. 1:6-8).

Sommige van die valse profete doen hulle selfs as engele (of spesiale gesante) van God voor, en beweer dat hulle tydens visioene of drome in die hemel was en ʼn boodskap van Christus vir sy gemeente ontvang het. Dié “profete” kan egter maklik in die lig van hulle valse prediking geïdentifiseer word. As hulle boodskap in stryd is met die kruisevangelie, moet dit summier verwerp word. In die vroeë Christelike kerk was daar sulke misleiers wat verskillende dwalings verkondig het. In Galásië het hulle ʼn neiging tot wettisisme onder lidmate bespeur en dit uitgebuit in ʼn poging om die evangelie te ondermyn. Hulle het beweer dat die genade van Christus nie genoeg was vir redding en heiligmaking nie, maar dat dit ook deur die onderhouding van Ou-Testamentiese wette aangevul moes word, bv. die Sabbat en die besnydenis.

Paulus het sy skok en teleurstelling teenoor die Galásiërs uitgespreek omdat hulle so naïef kon optree deur die kruisboodskap te verloën: “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof [in Christus]? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? ... Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. ... Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 3:1-3; 5:2, 4).

Mense bring ʼn vloek van geestelike verduistering oor hulleself wanneer hulle die misleiding van valse profete onnadenkend aanvaar en dienooreenkomstig optree. Dit is die rede waarom Paulus homself (in 1:8) so sterk teen die misleiers uitgespreek het: “... al sou ... ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” Hierdie persoon moet as ʼn handlanger van die duiwel ontmasker word, want dit is presies wat hy is. Moenie meegesleur word deur die mooi en oorredende manier waarop valse profete preek nie, maar beoordeel hulle uitsprake streng in die lig van die Woord.

Verkondigers van fabels

Die grys gebied van valse prediking word gekenmerk deur die verkondiging van godsdienstige fabels. Dit is teologiese verdigsels wat op só ʼn manier in die plek van die waarheid aangebied word dat dit vir oppervlakkige en oningeligte gelowiges baie aanvaarbaar klink. Die nuwe idees val soet op die oor omdat die standaard vir Christenskap verlaag word tot op ʼn punt waar wedergeboorte en heiligmaking nie meer nodig is nie. Voorbeelde hiervan is die Katolieke leer van doopsaligheid en die Calvinistiese uitverkiesingsleer. In albei gevalle word ewige saligheid aan ʼn persoon toegereken sonder dat sy lewe aan die morele beginsels van die Bybel hoef te voldoen. Enige prediking wat hoë standaarde van toewyding en heiligheid vereis, word nie verdra nie en sterk teëgestaan. Paulus het vir Timótheüs teen hierdie valse leer gewaarsku:

“Daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Populêre predikers slaag dikwels daarin om ʼn hele denominasie van sy vorige oortuigings te laat afsien. Die meerderheid permissiewe, wêreldgesinde en gemaksugtige gelowiges prys hulle, en hulle boeke word wyd gelees. Wanneer sulke predikers weens blootstelling deur die nasionale media baie gewild raak, is hulle gunstig geposisioneer om leiding te neem in ʼn ekumeniese beweging om kerke ten spyte van leerstellige verskille te probeer verenig.

Dwaalleraars bied hulleself dikwels interkerklik aan om wyer aanhang in die samelewing te probeer kry. Hulle kan egter ook die produkte van ʼn “nuwe hervorming” binne-in hulle eie kerke en kweekskole wees. Paulus het teen só ʼn geval van interne geestelike verval gewaarsku toe hy die gemeente in Éfese toegespreek het: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29-30).

Die Here Jesus het hierdie selfde gemeente van Éfese ʼn paar dekades later in die boek Openbaring daarop gewys dat hulle sodanig in ʼn lewelose, menslik bedinkte vormgodsdiens verval het dat hulle geen verhouding meer met Hom as Verlosser gehad het nie: “... Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Hulle het nie op hierdie vermaning teen misleiding ag geslaan nie en later inderdaad hulle kandelaar (die lig van die ware evangelie) verloor en mettertyd totaal in geestelike duisternis verval. Hulle was nog steeds lief vir die kerk en het ʼn aktiewe rol daarin gespeel, maar die liefde vir Christus het in hulle harte ontbreek. Dit was die gevolg van langdurige blootstelling aan die prediking van valse leraars.

Verskerpte veldtog teen Christus en sy evangelie

Die duiwel en sy gevolg van valse leraars voer ʼn verbete veldtog teen die Here Jesus Self om sy Godheid te loën, sy reddende genade in bandeloosheid te verander en sy Gees van genade te smaad. Paulus het die vleeslike en insiglose gemeente in Korinthe teen betrokkenheid by Satan se grys gebied van geestelike misleiding gewaarsku: “... ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4).

Wanneer Jesus verloën word deur sy Goddelike attribute te ontken en van hom ʼn “ander Jesus” te maak, bv. die fabel van die “historiese Jesus” wat deur afvallige teoloë bedink is, dan word die Bybelse Jesus én sy hemelse Vader verloën. Johannes sê: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? ... Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie” (1 Joh. 2:22-23). God en sy Seun is die verpersoonliking van absolute waarheid en reddende genade, daarom is Jesus “die weg, die waarheid en die lewe” (Joh. 14:6). Wanneer Hy verwerp word, word die evangelie van verlossing verwerp en ontneem sondaars en misleide gelowiges hulleself van die enigste toegang tot die Vader se genadetroon. Deur hulle eie toedoen word hulle dan slagoffers van die leuens van valse leerstellings en verbeur gevolglik die belofte van die ewige lewe (vgl. Joh. 15:6).

Petrus sluit by die waarskuwing teen die verloëning van Jesus aan, en verwys na die vervalsing en verwerping van die Bybelse Christus wat vir ons sondes gesterf het. Hierdie daad van kettery word beoefen deur misleide “Christelike” leraars wat self van die waarheid afgewyk het en hulle dwalings so onopsigtelik as moontlik in hulle prediking en teologiese leerplanne aanbied. Hierdie waarskuwing van Petrus is veral baie toepaslik in die huidige tyd van groot verval: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Die noodwendige gevolg van die prediking van ʼn “ander Jesus” wat die produk van valse leraars se verwarde en onbybelse denke is, is ʼn valse evangelie wat deur verleidende geeste van die duiwel in mense se harte ingedra en gevestig word. Die vervalste, lae standaarde wat deur dié leraars verkondig word, is dikwels baie gewild en lei onder andere daartoe dat evangeliese Christene wat die Bybelse standaard van redding en heiligmaking eerbiedig, as bespotlik en outyds beskryf word. Die geestelike oortuigings en morele norme van ware gelowiges word as deel van ʼn uitgediende lewenstyl verwerp omdat dit sekere sondes verbied wat deur nie-evangeliese kompromiemakers as aanvaarbare menslike vryhede beskou word.

Aanslag op die Bybel

Die Here maak duidelike uitsprake oor die outentieke karakter van sy woorde wat onder die leiding van die Heilige Gees in die Bybel opgeteken is. Niks mag hierby gevoeg en niks daarvan weggelaat word nie (Deut. 12:32). As ons die Bybel in ere hou en daarvolgens leef, sal dit met ons goed gaan en die Here sal ons in sy diens kan gebruik: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17).

In die grys gebied van geestelike misleiding word die Bybel as geïnspireerde, foutlose en algenoegsame Woord van God egter sterk in twyfel getrek. Enersyds is daar ʼn groep selfaangestelde profete wat by die Bybel byvoeg na aanleiding van buite-Bybelse openbarings van God se wil deur middel van drome, visioene, hoorbare stemme wat met hulle praat, en selfs deur beweerde besoeke aan die hemel tydens ekstatiese ervarings. Hulle verkondig dan hulle valse, onverifieerbare boodskappe aan liggelowige gehore wat vir hulle dwalings vatbaar is. Andersyds is daar ʼn groeiende aantal afvallige teoloë en leraars wat dele uit die Bybel wegneem deur middel van vergeesteliking, allegorisering, of bloot deur die ontkenning daarvan. Die Here waarsku beide hierdie groepe baie ernstig:

“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19). Dié waarskuwing geld nie net t.o.v. die boek Openbaring nie maar vir die Bybel as geheel (vgl. Deut. 4:2; 12:32; Spr. 30:6).

Die ontkenning van Bybelse uitsprake word gewoonlik gedoen omdat sekere beskrywings as wetenskaplik onmoontlik beskou word (bv. ʼn maagdelike geboorte en opstanding uit die dood), of omdat die oorsprong van ʼn stelling aan die invloed van primitiewe mitologie toegeskryf word (bv. die geloof in die bestaan van ʼn bose koninkryk in die lug onder die beheer van die duiwel wat as ʼn “slang” of “draak” beskryf word), of omdat die betrokke sienings en gebruike as histories uitgedien beskou word (bv. manlike gesagvoering in die samelewing, asook die veroordeling van ʼn gay-oriëntasie).

Die ontkenning van ʼn groot aantal kernwaarhede in die Bybel het aanleiding gegee tot die ontstaan van ʼn sogenaamde teologie van ontkenning. Voorbeelde van leerstellings wat ontken word, is die skeppingsverhaal, die sondeval, die sondvloed, die maagdelike geboorte, Godheid, opstanding en hemelvaart van Christus, die herstel van Israel, die opkoms van ʼn persoonlike Antichris wat in die eindtyd tydens die sewe jaar lange verdrukking as ʼn wêreldleier, ʼn wêreldmessias en selfverklaarde God sal optree, die wegraping van gelowiges, die wederkoms van Christus en die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, vanwaar Christus tydens die duisendjarige vrederyk sal regeer. Wat bly van die Bybel oor wanneer al die belangrike stellings daarin van hulle letterlike betekenis gestroop en slegs figuurlik en metafories vertolk word?

Ons staan op die drumpel van die vervulling van belangrike eindtydse profesieë, en dit is opvallend hoedat ontkenningsteoloë met alle ywer voortgaan om teen die letterlike vervulling van profesieë wal te gooi. Lidmate wat in hulle invloedsfeer is, word geestelik verarm deur hulle van die sekerheid van redding te beroof en hulle ook van die salige hoop van die wegraping te vervreem (vgl. Tit. 2:13). Moderne allegoriste skep dus ʼn valse gerustheid by mense deur die werklikheid van eindtydse oordele in die groot verdrukking te ontken. Dit is die voortsetting van ʼn baie ou benadering onder valse profete. Jeremia sê: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer. 6:14). Vergeestelikingsteoloë volg die maklike en sosiaal aanvaarbare uitweg deur die letterlikheid van profetiese waarskuwings in die Bybel te ontken.

Tekens en wonders

Valse profete wend hulle dikwels tot ʼn skouspel van uiterlike tekens en vreemde ervarings om geloofwaardigheid aan hulle misleidende leerstellings te gee. Hieronder is verskynsels soos val in die gees, dramatiese bewerings van genesings en selfs die opwekking van dooies. Dit word alles in die Naam van Jesus gedoen, dikwels met sterk beklemtonings soos “in the mighty Name of Jesus!” maar in werklikheid is dit die werking van ʼn vreemde gees. Hierdie profete tree in die misleidende skemerlig van ʼn “ander Jesus” op en lei nie hulle gehore na ʼn ontmoeting met die ware Jesus nie. Hulle kan dit nie doen nie, want hulle ken Hom self nie persoonlik nie en gebruik net sy Naam om ingang by die misleides te verkry.

Baie van die valse profete en hulle slagoffers is onbekeerlik en sal met hulle selfmisleiding voortgaan totdat hulle eendag voor die groot wit troon deur die Here Jesus as Regter verwerp en veroordeel sal word: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22-23).

Dit is dus moontlik om valse, bonatuurlike tekens te doen en voor te gee dat dit in die Here se krag geskied, terwyl dit nie die geval is nie. Sulke “manifestasies” gaan dikwels ook met sogenaamde duiweluitdrywing gepaard, wat ewe misleidend is. Ons het onderskeidingsvermoë nodig, want baie van die godsdienstige aktiwiteite wat in die naam van die Here gedoen word, is nie eg nie en moet dus nie blindelings aanvaar word nie.

Eindtydse veldtog van valse profete

Daar is ʼn baie belangrike vraag wat oor valse profete en hulle misleiding gevra moet word, naamlik: “Wat is die duiwel se einddoel met die bemagtiging en gebruikmaking van valse profete, en hoe ver het hy reeds met die bereiking van sy doelstelling gevorder?” Die Here Jesus openbaar self die duiwel se planne wanneer Hy sy dissipels se vrae oor die eindtyd beantwoord: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. ... En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Matt. 24:4-5, 11). Soms is hierdie misleiding so subtiel en oortuigend dat selfs ernstige Christene verward raak en hulleself daarvoor oopstel: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:24). Waak hierteen: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1).

Daar gaan inderdaad groot groepe mense wees wat ʼn valse Jesus, of Antichris, in die plek van die ware Jesus sal aanvaar. Dit sluit selfs die uitverkore volk Israel in, daarom het Jesus vir hulle gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ʼn ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Hierdie ernstige oordeelsfout van die aanvaarding van die valse messias sal egter nie slegs beperk wees tot die meerderheid in Israel nie, maar wêreldwyd onder alle gelowe voorkom. Hulle sal almal ʼn gemeenskaplike valse messias aanvaar en aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?” (Op. 13:3-4).

Die sinistere einddoel met geestelike misleiding is die openbaring van ʼn valse christus wat tydens die verdrukking beheer oor die hele misleide wêreld sal verkry. Die misleides sal lede van die geestelik onrein bruid van die Antichris wees (Op. 17:3-5). Hierdie huwelik sal egter kortstondig wees, want wanneer die Antichris homself tot God verklaar in die herboude tempel in Jerusalem (2 Thess. 2:4), sal almal wat weier om hom in hierdie hoedanigheid te aanbid, tereggestel word (Op. 13:15; 17:16).

Watter onuitspreeklike voorreg het die bruid van die ware Christus nie om vir sy koms gereed te maak en na haar hemelse woning weggevoer te word! (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17). As dit by haar ʼn saak van erns is om in ʼn rein kleed voor Hóm te verskyn, moet sy nougeset teen die besoedeling van misleiding waak, en moet sy “kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Jud. 1:3). Deur sy verlossingswerk aan die kruis en die uitstorting van die Heilige Gees stel die Here Jesus ons in staat om heiligmaking as ʼn praktiese werklikheid te ervaar terwyl ons op sy skielike verskyning wag (Ef. 5:25-27). As ons aanhou om in die lig te wandel soos Hy in die lig is, sal ons nooit struikel nie (Joh. 8:12; 1 Joh. 1:7).