Genade en Oordele: Christus as Verlosser en Regter

Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2014)

Een van die attribute van God waaraan daar in moderne prediking en Bybelstudie al hoe minder aandag gegee word, is sy geregtigheid. Hierdie eienskap van God lei daartoe dat Hy van mense wat na sy beeld geskape is, reg en geregtigheid vereis omdat Hy alle vorms van ongeregtigheid haat en verbied (Ef. 4:24). Ongeregtigheid is sonde, en God het Homself ten doel gestel om ’n einde aan sonde te bring deur sy toorn en oordele oor onbekeerlike sondaars uit te stort. Ná die eindoordeel en die verdelging van die sondaars én die duiwel wat hulle verlei het, beplan Hy ’n nuwe skepping waarin daar nooit enige sonde en ongeregtigheid sal inkom nie.

’n Ander en meer populêre attribuut van God is sy barmhartigheid. Dit lei Hom daartoe om genade aan sondaars te betoon, hulle sonde te vergewe en hulle van alle ongeregtigheid te reinig. Sy genade doen egter nie afbreuk aan sy regverdige straf oor sondaars nie, daarom kan sonde net vergewe word indien die straf daarvoor betaal is. Dit is waar die plaasvervangende kruisdood van Jesus Christus inkom. God wil hê dat sondaars hulle deur Christus tot Hom sal bekeer, sodat hulle die oordeel oor sondaars kan vryspring:

“God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het aan almal hiervan sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31). Omdat Jesus gesterf en uit die dood opgestaan het, is die weg vir die bekering van alle sondaars geopen. Almal wat nie op grond van sy dood met God versoen is nie, sal self die doodstraf vir hulle sonde moet uitdien.

Omdat Jesus Christus die straf vir die wêreld se sonde gedra het, is Hy nie net die Verlosser van ’n verlore mensdom nie, maar ook die Regter wat al die onbekeerdes sal oordeel. Hy is daartoe verbind om almal te oordeel wat die pad van sonde bó sy geregtigheid en genade verkies. Ons leef sedert Jesus se eerste koms in die tyd van genade waarin enigeen gered kan word, maar weldra sal genadetyd verbygaan en dan sal die eindtydse oordele aanbreek. Die groot aantal ongereddes wat die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19), sal in die groot verdrukking aan God se toorn onderwerp word. Met die oog op die oordele wat dreigend naby is, moet die evangelie met sy boodskap van bekering opnuut met groot ywer oral op aarde verkondig word.

Wanneer mense tot bekering en geloof in Christus opgeroep word, moet seker gemaak word dat hulle die realiteit van God so oordele goed begryp. Genade kan net in die lig van God se regverdige oordele reg verstaan word, en daar lê vir die mensdom nog verskeie groot oordele voor. Die Nuwe-Testamentiese bedeling begin met ’n oordeel oor sonde en dit eindig met twee groot oordele – een vir gelowiges en een vir ongelowiges. Tussen hierdie twee tydperke van Goddelike oordele verloop die hele bedeling van genade, m.a.w. die kerkbedeling, waartydens die boodskap van die Here Jesus se reddende genade aan alle nasies verkondig moet word. Saam met die boodskap oor genade móét die boodskap van God se oordele egter ook verkondig word, want dit beklemtoon die aanspreeklikheid wat alle mense teenoor God het ten opsigte van wat hulle met hul lewens gedoen het. Almal sal in een of ander stadium voor sy troon verskyn.

Die noue verband tussen genade en oordeel blyk ook uit die feit dat die Heilige Gees ons oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel (Joh. 16:8). ’n Persoon moet eers van sy eie sondigheid en verlorenheid oortuig word, asook van die doodstraf wat oor alle sondaars uitgespreek is. Hierna word hy van die geregtigheid van Christus oortuig, naamlik dat die Lam van God die straf vir ons sonde gedra het en daarom in staat is om vergifnis en vryspraak aan ons te bied: “Die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:23). God se regverdige oordeel wag op persone wat hierdie genadegawe weier.

Die oordeel oor sonde

Kom ons kyk nou na die oordeel wat reg aan die begin van die Christelike bedeling voltrek is. Die doodstraf oor sondaars is al reeds in die Ou Testament bevestig: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4). God se heiligheid, regverdigheid en die onveranderlikheid van sy Woord vereis dat Hy die sonde moet straf. Op Gólgota het Christus die straf van God vir die sonde van die hele wêreld op Homself geneem: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom. ... Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5-6).

Die oomblik toe die las van die wêreld se sonde op Jesus gelê is, het ’n donker wolk skeiding tussen Hom en sy Vader gebring. “God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Jesus het Homself oorgegee aan Hom wat regverdig oordeel en “self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra” (1 Pet. 2:23-24). Hy het die doodstraf wat God oor sondaars bepaal het, ten volle uitgedien en daarna as oorwinnaar uit die dood opgestaan.

Nou bied die Here Jesus vergifnis van sonde en ’n nuwe lewe aan alle berouvolle sondaars wat Hom as hulle Verlosser aanneem. Die feit dat Hy die straf vir ons sonde deur sy dood gedra het, beteken dat ons nie in die oordeel sal kom nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 8:1). Die Here Jesus sê dat almal wat in Hom glo, “kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24). Gelowiges word dus nie saam met die ongelowiges veroordeel nie, ook nie in die komende verdrukking nie.

Die kerkbedeling

Tydens die hele kerkbedeling wanneer die evangelie onder alle nasies verkondig word, rus God se oordeel oor sonde steeds op die groot meerderheid ongeredde mense wat op die breë pad na die verderf is. In hierdie bedeling oordeel die Here egter nie mense soos tydens die sondvloed en Sodom en Gomorra nie, omdat dit nou die bedeling van genade is – nie van oordele nie. Die oordele is uitgestel tot in die eindtyd, net nadat die kerkbedeling afgesluit is.

Ons leef nou in die laaste dae van die kerkbedeling, wat gekenmerk word deur grootskaalse afvalligheid van die waarheid van God se Woord. ’n Polarisasieproses is besig om plaas te vind tussen diegene wat die geestelike en morele standaarde van die Bybel nastreef, en die groot meerderheid wat die Goddelike voorskrifte openlik minag. Hierdie twee groepe dryf al hoe verder van mekaar af weg, terwyl goddeloosheid besig is om ongekende afmetings aan te neem. Die Here Jesus sê: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12). Die werke van mense is die uiterlike manifestasies van hulle innerlike oortuigings, en sal derhalwe deur die Here gebruik word as ’n grondslag vir sy oordele.

Diegene op die smal pad van heiligmaking berei hulleself voor om die hemelse Bruidegom tydens die wegraping te ontmoet, daarom streef hulle na groter gelykvormigheid aan Hom: “En elkeen wat die hoop op [sy verskyning] het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Die ander groep mense op die pad van ongeregtigheid, beweeg al hoe verder van die ware Christus af weg en word voorberei om ná die wegraping navolgers van die Antichris te word. Baie van hulle behoort aan kerke wat nog net in naam Christelik is, maar hulle het reeds baie ver van Bybelse waarhede af wegbeweeg: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Hulle sal saam met die aanhangers van die nie-Christelike gelowe verwonderd agter die Antichris aangaan en nie eers besef dat hy ’n valse christus is nie (Op. 13:3).

Ons beleef tans die finale vorming van hierdie twee basiese groepe op aarde. Die klein groep opregtes kom al hoe meer onder druk omdat hulle nie kan aanpas by die ontluikende nuwe wêreldorde wat in sy wese antichristelik is nie. Die groot groep afvalliges sluit al die ongelowiges en aanhangers van nie-Christelike gelowe in, asook nominale Christene wat net ’n gedaante van godsaligheid het, maar sonder wedergeboorte is. Hulle stuur onvermydelik op die oordele van God af wat tydens die verdrukking oor ’n onbekeerlike wêreld uitgestort sal word.

Die regterstoel-oordeel

Gaan Christene geoordeel word? Nee, hulle gaan beslis nie saam met goddeloses voor die groot wit troon verskyn waar mense weens hulle sonde tot die vuurpoel verdoem gaan word nie. Hulle gaan egter wel voor die regterstoel van Christus verskyn, wat ’n béoordeling sal wees en nie ’n véroordeling nie. Aan die einde van die kerkbedeling sal al die ontslape gelowiges van alle tye in verheerlikte liggame uit die dood opgewek word, en die lewende gelowiges in ’n oogwink ook met onsterflike liggame beklee word (1 Thess. 4:16-17; 1 Kor. 15:51-52). Saam sal hulle die Here Jesus tegemoetgaan in die lug en daarna voor sy regterstoel in die hemel verskyn om rekenskap van hulle lewens te gee en genadeloon vir toegewyde diens te ontvang.

Paulus sal ook onder hierdie groot skare wees wat voor die regterstoel sal verskyn. Hy sê: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:8). “Dié dag” verwys na die dag van die Here, wat tydens die sewe jaar van die verdrukking ’n aanvang neem. In daardie tyd, net ná die wegraping, sal Paulus voor Jesus as die Regter verskyn om loon vir sy arbeid in die Here te ontvang. Alle gelowiges is by hierdie afspraak ingesluit: “Ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. … So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10-12).

Petrus bevestig ook die feit dat Christus se eerste afspraak met sy kerk sal wees: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?” (1 Pet. 4:17-18). Hierdie oordeel is nie ’n saak wat ons ligtelik moet opneem nie, want baie Christene gaan nouliks gered word. Hulle sal net-net aan die basiese eis van redding voldoen, maar sal nagelaat het om tot geestelike volwassenheid op te groei en hulle daaraan toe te wy om vir die Here te werk.

As gevolg hiervan sal die loon wat Christene gaan ontvang, aansienlik van persoon tot persoon verskil. Paulus sê aan die Korinthiërs: “Elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang … maar elkeen moet oppas hoe hy op [die fondament Jesus Christus] bou. … As iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels, elkeen se werk sal aan die lig kom … hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:8-15). Christene het ’n ernstige opdrag om werke te doen wat by die bekering pas (Matt. 3:8), sodat hulle nie met leë hande voor die Here sal verskyn nie. Die Here het ons nie net gered om ons eendag hemel toe te neem nie, maar veral ook om vir Hom te werk op aarde sodat siele gered en sy koninkryk uitgebrei kan word (Joh. 20:21).

Die Here beklemtoon hierdie belangrike beginsel van diensbaarheid in verskeie gelykenisse. In Lukas 19:11-28 sê Hy dat Hy aan elkeen van sy diensknegte ’n pond gegee het om daarmee handel te dryf in sy koninkryk. Die pond dui op ’n Goddelike werkvermoë, m.a.w. op die instaatstellende krag van die Heilige Gees. Uit hierdie gelykenis is dit duidelik dat die Here se diensknegte nie dieselfde ywer in sy diens aan die dag lê nie, want sommige maak baie wins, ander maak minder wins, en nog ’n groep maak geen wins nie. Die lui dienskneg wat glad nie vir sy Heer gewerk het nie en net verskonings vir sy versuim aangebied het, het selfs dit wat hy gehad het, verloor: “Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het” (Luk. 19:26).

As jy nalaat om die geleenthede te gebruik wat die Here aan jou bied, dan word dit van jou af weggeneem en aan ander gegee wat bereid is om hulle Christelike plig na te kom. Hierdeur rangeer jy jouself uit op ’n syspoor en groei nooit op tot geestelike volwassenheid nie. In hierdie toestand sal jou kennis van die Here se Woord ook nie toeneem nie, daarom sal jou insig en onderskeidingsvermoë nie ontwikkel nie. Paulus sê sulke mense groei nie op tot die statuur van ’n volwasse man of vrou in Christus nie, maar bly kinders “wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:14).

Die regterstoel-oordeel gaan glad nie oor redding nie, want net geredde mense sal by hierdie geleentheid voor Christus verskyn – dit gaan oor die aard van jou lewe ná bekering. Het jy net van die Here se genade gebruik gemaak vir redding en toe daarby volstaan, of het jy Hom ook vertrou vir genade om jou met sy Heilige Gees te vervul en diensbaar te maak in sy koninkryk? Die doel met jou redding is immers nie net om die oordele van God te ontvlug nie, maar ook om heilig te lewe, ’n aktiewe wederkomsverwagting te hê en die Here met alle ywer te dien:

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke“ (Tit. 2:11-14; vgl. Ef. 5:25-27).

Paulus het ten volle van die Here se veelvuldige genade gebruik gemaak om in elke behoefte van sy lewe en Christelike bediening te voorsien. Hy het gesê: “Deur die genade van God is ek wat ek is, en sy genade aan my was nie tevergeefs nie; maar ek het oorvloediger gearbei as hulle almal; nogtans nie ek nie, maar die genade van God wat met my is” (1 Kor. 15:10). Put jy ook uit hierdie groot bron van genade, en deel jy dit mee aan andere? “Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10).

Ons word nie deur werke gered nie, want ons word op grond van Christus se genade sonder verdienste gered. Werke is egter die bewys en uitvloeisel van ons redding, want die vrug van die Heilige Gees moet tot die eer van die Here oorvloedig in ons lewens teenwoordig wees. Ná ons redding stuur die Here ons almal uit om in sy wingerd te werk en sy getuies te wees – sommige voltyds en ander deeltyds. Ons moet egter almal sy getuies wees oral waar ons gaan. As ons dit nie doen nie, dan het ons ’n dooie geloof, want geloof sonder werke is dood (Jak. 2:17). Geloof in die Here Jesus is ’n dinamiese krag wat deur ons werk om na ’n verloregaande wêreld uit te reik en Christus se genade aan hulle te bied.

Moenie die Heilige Gees deur jou dade bedroef nie, maar laat Hom toe om jou voortdurend van sonde, geregtigheid en oordeel te oortuig. Geen Christen is volmaak nie, daarom moet ons sensitief wees vir sonde waarvan die Gees van God ons oortuig, en dit onmiddellik bely en laat staan. Ons moet ook nuwe begrip vir die geregtigheid van Christus verkry, en die Heilige Gees vertrou om ons só met die heiligheid van Christus te beklee dat die lig van sy teenwoordigheid onbelemmerd deur ons sal skyn. Verder moet ons die komende oordele van God as ’n werklikheid beskou en die ongeredde wêreld daarteen waarsku. Terselfdertyd moet ons ons eie afspraak voor die regterstoel van Christus met groot erns bejeën, sodat ons nie dalk daar as slegte of lui diensknegte bevind sal word wat gered word asof deur vuur heen nie.

Sal jy met vrymoedigheid rekenskap van jou lewe kan gee, of is daar dalk verkeerde dinge en vleeslike gesindhede wat nog nie reggestel is nie? Maak dan nóú daarmee erns, want jy sal groot skade ly as jou vleeslikheid en dubbele lewe eers geopenbaar word wanneer dit te laat is om ’n nuwe oorgawe te maak en die Here vir heiligmaking en geestelike groei te vertrou.

Die verdrukking

Nadat die kerkbedeling deur middel van die wegraping afgesluit is, sal daar ’n  tyd van Goddelike oordele op aarde aanbreek wat sewe jaar lank sal duur (Dan. 9:27; Op. 11:2-3; 12:6; 13:5). In die eerste helfte van die verdrukking sal daar ’n tyd van valse vrede onder die leiding van die Antichris wees. Dit sal gevolg word deur 42 maande van groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af nog nooit was en ook nooit daarna sal wees nie (Matt. 24:21; Op. 13:5). In dié tyd sal 21 oordele van God oor die aarde uitgestort word, naamlik die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae waarvan ons in Openbaring 6 tot 19 lees. Die Here Jesus het gesê dat as hierdie tyd van verdrukking nie verkort word nie, geen mens op aarde dit sal oorleef nie (Matt. 24:21-22). Hy het die oordele tydens sy wederkoms ook vergelyk met die tyd van Noag en Lot toe ’n groot menigte goddelose mense op aarde verdelg is:

“En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk. 17:26-30).

Die groot verdrukking sal ’n tyd van Goddelike wraak oor die sondaars wees wat onvergelyklik in die wêreldgeskiedenis is. Jesaja praat ook oor hierdie tyd: “Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg” (Jes. 13:9). Die Here voeg hierby: “En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid” (Jes. 13:11). Dit sal ’n tyd wees van die grootskaalse verdelging van sondaars wat die Drie-enige God, sy Woord en sy geregtigheid verwerp en sy volgelinge verdruk en doodgemaak het.

Ontsettende plae sal in hierdie tyd oor die aarde uitgegiet word. Die Here Jesus het gesê: “En daar sal tekens wees aan die son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Mense sal so verskrik wees deur uiterste natuurrampe dat hulle na die berge sal vlug en tot die rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hierdie dag van toorn verwys na God se oordele oor ’n onbekeerlike mensdom.

Min mense sal hierdie tyd van verskrikking oorleef: “Die aarde is ontheilig onder sy bewoners. ... Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy inwoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur ’n gloed verteer en bly daar min mense oor” (Jes. 24:5-6).

Nadat die aarde van goddelose mense gesuiwer is, die Antichris en valse profeet verdelg en die duiwel in ’n put gebind is, sal Christus sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig. Eers aan die einde daarvan sal die tweede opstanding plaasvind, wanneer al die goddeloses van alle tye in die eindoordeel voor die groot wit troon sal verskyn (Op. 20:5-6, 11-15).

Die keuse

Jy moet self die keuse maak oor jou ewige toekoms, want die Here het ’n soewereine besluit geneem om aan elke mens ’n vrye wil te gee. Niemand is vir die hemel of die hel gepredestineer nie, want die Here “wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9). As Hy jou Verlosser is, het Hy reeds die straf vir jou sonde betaal en aan jou sy kleed van geregtigheid geskenk. Indien Hy egter nie jou Verlosser is nie omdat jy Hom vermy het en nie die knie voor Hom wou buig nie, sal jy self die noodwendige straf vir jou sonde moet dra. Dit behels niks minder nie as die ewige dood saam met die duiwel en sy engele (Op. 20:10-15).

Elke mens oefen ’n keuse uit tussen die smal pad van die Here en die breë pad van sonde. Dit is nodig dat die uiteinde van hierdie twee paaie duidelik aan mense verkondig word, sodat hulle die volle erns van die saak sal besef om die regte keuse te maak en daarby te bly.