Waarom Verkry so Min Mense die Belofte van Vervulling met die Heilige Gees?

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2015)

Die afsterwe van die mens se ou, sondige natuur, vereis ʼn voortgaande proses van identifisering met die kruis van Christus (om jouself dood te reken vir die sonde) en veronderstel dus ʼn bepaalde lewenswyse waarin gelowiges sal wandel volgens die beginsels van die nuwe lewe en nie volgens die beginsels van die ou lewe nie. Hulle moet dus na die Gees wandel en nie na die vlees nie. Paulus sê:

“Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. ... So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. ... Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking. ... Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 6:5-8, 11-13, 19; 8:1).

Die rede waarom so min mense die volheidslewe van vervulling met die Heilige Gees verkry, is omdat hulle nie die voorwaardes wat die Here hiervoor stel, reg verstaan en eerbiedig nie. Die volgende drie denkrigtings staan in verband met verskillende maniere waarop die probleem van die sondige, vleeslike natuur hanteer word (net die derde een is reg):

·         Eerstens is daar gelowiges wat die ontwortelingsteorie huldig en redeneer dat die sondige natuur van die mens tydens wedergeboorte en heiligmaking heeltemal ontwortel en vernietig word. Hierna kan die vlees nooit weer vir jou ʼn probleem wees nie omdat dit na bewering nie meer bestaan nie.

·         Tweedens is daar ʼn groot groep gelowiges wat die onderdrukkingsteorie huldig. Hulle meen dat die sondige natuur deel is van menswees, dat ons maar moet leer om saam met dit te leef en die sondige neigings net altyd onder bedwang te hou.

·         Derdens is daar die Bybelse beginsel van die voortgaande kruisiging van die ou lewe. Die vlees kán afgesterwe word deur dit oor te lewer om gekruisig te word, maar dit vereis voortgesette toewyding omdat dit weer kan herleef indien die gelowige sou swig voor versoekings en weer bewustelik in sonde begin leef.

Ons kyk in meer besonderhede na hierdie drie beskouings:

Die ontwortelingsteorie

Daar was veral in herlewingstye ʼn groep mense wat die leer van Christelike perfeksionisme, of sondelose volmaaktheid, verkondig het. Hulle het egter Romeine 6:6 verkeerd verstaan, waarin Paulus sê: “... aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.” Die omstredenheid gaan hier oor die begrip “tot niet maak”. Die hele verband Romeine 6 dui egter daarop dat die ou natuur gekruisig moet word, dat dit voortdurend gekruisig moet bly, en gevolglik nie toegelaat word om weer sy verlore beheer oor jou lewe terug te kry nie. Die Griekse woord “katargeyo” wat hier vertaal word as “tot niet gemaak”, beteken ook “om kragteloos gemaak en van sy invloed ontneem te word”. Dit is ʼn proses waarin ek met Christus saamgroei in die gelykvormigheid aan sy dood, asook in ingesteldheid waarin ek myself as dood reken vir die sonde. As ek voortdurend my kruis opneem waaraan ek vir die wêreld gekruisig is en die wêreld vir my, sal ek die ou, vleeslike natuur later heeltemal afsterf. Ek moet dus aanhou om die ou, menslike natuur te kruisig solank as wat ek in ʼn menslike liggaam leef.

Dit is dus belangrik om die voortgaande proses van heiligmaking te verstaan. Wanneer God sê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16), of wanneer die Here Jesus sê: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is” (Matt. 5:48), dan dui dit slegs die rigting aan waarin ons lewens moet ontwikkel. Die betrokke werkwoorde is in die onvoltooide tydvorm geskryf, en dui dus ʼn proses aan en nie ʼn finale toestand nie. Ons is nie nou al volmaak en heilig in die absolute sin van die woord nie, daarom sê Paulus: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12). Bereik ons ʼn toestand van perfeksionisme en sondelose volmaaktheid in hierdie lewe? Nee! Word ons geroep tot toenemende heiligheid waarin ons opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus? Ja! Hoe ver het jy op hierdie pad gevorder?

Die onderdrukkingsteorie

Die grootste aantal lidmate in Protestantse kerke huldig die onderdrukkingsteorie met betrekking tot die vlees en sonde. Hulle redeneer dat wedergeboorte én heiligmaking in een pakket ontvang word wanneer ʼn persoon gered word. Volgens dié mense word die sondige vlees beskou as ʼn inherente deel van menswees, en kan gevolglik nie oorwin of uitgeskakel word nie – almal moet maar hulle bes probeer om hulle sondige neigings onder bedwang te hou en saam met dit te leef. Die feit van hulle vleeslikheid en geestelike onvolwassenheid pla sulke lidmate nie baie nie, omdat hulle redeneer dat ons as Christene nog maar steeds sondaars is net soos al die ander mense.

Vleeslike Christene is gelowiges wat verdeelde harte het, soos Israel in die woestyn – hulle is wél uit Egipte gered, maar nog nie in die Beloofde Land van oorwinning nie. As dit ʼn bietjie slegs gaan met hulle, verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte. Hierdie vleeslike ingesteldheid lei tot eindelose swerftogte in ʼn geestelike woestyn. Sulke gelowiges is op ʼn reis na nêrens en verkry nooit die oorwinningslewe nie. Hulle berus later by die feit dat hulle maar sondaars bly, en dat die Here in elk geval voorsiening gemaak het vir die vergifnis van al hulle sondes. Hulle probeer hulle bes om die ou, vleeslike natuur mak te maak en te onderdruk, maar dit werk nie, “want die vlees onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Dit is teen sy natuur, en hy kan nie by ʼn Christelike leefwyse aanpas nie. Vleeslike Chris­tene het verdeelde harte en leef in twee wêrelde – dié van die vlees en dié van die Gees. Hulle is net so tuis in ʼn wêreldse partytjie as in die kerk.

Weens vleeslike gelowiges se dubbele lewe is hulle nie bruikbaar in die koninkryk van die hemel nie, omdat die Heilige Gees hulle nog nie bekwaam gemaak het nie. Die Heilige Gees wat reeds in hulle is, word egter nie toegelaat om die werk van volle reiniging, vervulling en instaatstelling te doen nie, want die blokkasie van die ongekruisigde vlees staan in sy pad. Paulus beskryf hierdie geestelike doodloopstraat só: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

ʼn Verdere rede waarom ʼn vleeslike leefwyse goedgepraat word, is omdat die begrip “vlees” soms net ten opsigte van ons menslike liggaam gebruik word, ongeag die aard van die geestelike beheer waaronder dit staan. In dié sin is alle lewende mense in die vlees – sondaars sowel as Geesvervulde Christene – omdat almal van hulle brose en verganklike liggame het. Wanneer Paulus sê: “Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees” (Rom. 6:19) dan verwys hy bloot na die feit dat Christene nog steeds swak liggame het. Ons het nie volmaakte kennis nie, daarom moet ons oppas dat ons nie mislei word en begin dwaal nie. Ons het ook net beperkte kragte en is as mense traag in ons ywer, daarom moet ons ons vlees kasty en diensbaar maak. Gelowiges tree heeltemal in stryd met die Bybel op wanneer hulle regverdiging probeer soek om hulle vleeslike liggame steeds onder die beheer van die sondige, vleeslike natuur te laat funksioneer. Ons liggame moet van hierdie sondige oorheersing bevry en onder die volle beheer van die Heilige Gees gestel word. As ons dit nie doen nie, sal dubbelhartigheid en geestelike onvrugbaarheid ons voorland wees.

Die kruisigingsbeginsel

Die evangeliese reël van heiligheid is nie ʼn mensgemaakte teorie nie, maar ʼn vaste Bybelse beginsel. Dit is gebaseer op die opdrag om die vlees, of oue mens, te kruisig sodat dit nie meer jou lewe kan oorheers nie. Slegs dan kan die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe neem sonder dat dit deur die vlees teëgestaan word. ʼn Volle oorgawe moet hiervoor gemaak word, en daarna moet toegesien word dat die vlees gekruisig bly.

Ons moet altyd onthou dat ons vleeslike liggaam vry moet bly van oorheersing deur die sondige natuur van die ou lewe, en diensbaar gestel moet word aan die koninkryk van Christus. Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, sondige Paulus] leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek [die nuwe geredde Paulus] nou in die vlees lewe [in sy menslike liggaam] leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het” (Gal. 2:20).

In ʼn Engelse kommentaar sê Charles Ellicott: “The followers of Christ must consider themselves cut off irrevocably – as if by death itself – from sin, and living with a new life dedicated and devoted to God, through their participation in the death and life of Jesus Christ their Lord.” In heiligmaking neem ons dus deel aan die dood en opstanding van Jesus, totdat dit ʼn volle werklikheid in ons lewe word.

In die lig hiervan moet die tweeledige betekenis wat die kruis van Christus vir ons het, goed begryp word. Hy het gesterwe en die straf vir ons sonde betaal sodat ons gered kan word – dit is die eerste genadewerk. Hierna moet ons volkome met die kruis van Christus identifiseer sodat die eie-ek van die ou lewe saam met Hom vir die wêreld kan sterf. Dit geskied tydens ʼn volle oorgawe, en is die begin van ʼn lang proses waarin ons toenemend die wêreld afsterf en al hoe meer aan die beeld van Christus gelykvormig raak. Paulus som die hoofdoel van sy lewe en godsdiensbeoefening só op: “Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10).

Om met Christus gekruisig te wees, beteken wel om van die ou natuur verlos te wees, omdat die kruis ʼn doodsinstrument is. Die vlees moet egter dood bly, aangesien dit die vermoë het om weer te herleef indien daar vir hom ruimte geskep word. Ek moet dus voortdurend toesien dat die vlees gekruisig bly, en myself vir die sonde dood reken – dit moes ʼn vaste ingesteldheid in hierdie nuwe koers van my lewe wees. Solank ek ʼn sterflike liggaam het, sal die vlees probeer om dit weer te beheer. Die swak liggame wat ons almal het, beteken onder meer dat ons deur middel van ons vyf sintuie steeds versoek kan word om te sondig.

God die Vader het nie ʼn menslike liggaam nie, daarom kan Hy nie versoek word om sonde te doen nie: “Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie” (Jak. 1:13). Jesus het egter ʼn menslike liggaam aangeneem toe hy vlees geword het, daarom kon Hy deur die duiwel versoek word. Hy het egter nie ʼn sondige natuur gehad nie en nooit aan versoekings toegegee nie. Hy het begrip vir ons probleme en wil ons help om oor versoekings te triomfeer: “Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. ... Want ons het nie ʼn hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 2:18; 4:15-16).

Ons moet onsself as dood beskou vir die ou, sondige lewenswyse en hierdie versoekings in die naam van Jesus Christus teëstaan: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie” (Rom. 6:11-12). Dit is oorwinning oor sonde, en dit is heiligmaking in die praktyk.

Die kruis van Christus bly dus die grondbeginsel van ons geestelike lewe. Ons roem in die kruis vir vryspraak en redding, maar ons roem ook in die kruis as deel van ons lewenswyse ná redding, omdat ons gekruisigde lewens moet lei waarin ons dood is vir sonde: “Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:24-26).

As jy sê jy behoort aan Christus, dan wil ek jou vra: “Het jy die vlees oorgelewer om gekruisig te word en wandel jy daagliks deur die Gees?” Indien jy nagelaat het om die stap van heiligmaking te neem en die vlees te kruisig sal die ou, verdorwe natuur met sy sug na hoogmoed en eer nog die botoon in jou lewe voer. Jy sal dan soek na ydele eer, en in die proses ander beny wat in aardse terme beter daaraan toe is jy. Dit is beslis nie die kenmerk van ʼn geheiligde kind van die Here nie.

Die groot vraag is dus: Indien jy Christus as jou Verlosser aangeneem het, het jy Hom ook reeds as jou Heiligmaking aangeneem? Christus verwag dat nadat jy Hom aangeneem het, jy ook jou vlees met sy hartstogte en begeerlikhede sal oorlewer om gekruisig te word. Indien wel, dan sal die vrugte van die Gees in jou lewe sigbaar word vir almal om te sien.

Die mag en invloed van die vlees is die groot rede waarom so min mense die stap van heiligmaking neem en werklik daarmee deurgaan. Hulle is net nie bereid om van ʼn lewe van eiebelang, asook die rykdom en plesier wat die wêreld bied, af te sien nie. In die proses bedroef hulle die Heilige Gees en beland in ʼn geestelike woestyn waarin hulle vir die saak van die Here niks beteken nie. Sulke mense besef egter nie hoe ernstig hulle hulself benadeel nie, want hulle sal eendag met leë hande voor die Here staan, gered, maar nie geheilig nie. Dit wat die vlees aan hulle bied, kan nooit opweeg teen die geestelike rykdomme wat daar in ʼn lewe van godsvrug en oorwinning is nie, en sal die oorsaak wees waarom hulle eendag as mislukte dissipels voor die Here sal staan.

Die Here roep elke Christen om Hom te dien en die lig van ʼn donker wêreld te wees. Hy beloof aan elkeen van ons die instaatstellende krag van die Heilige Gees sodat ons oor sonde kan triomfeer en ook vrymoedigheid kan hê om sy lof in ʼn vyandige wêreld te verkondig. In Pinkstertyd het ons opnuut die geleentheid om ons verhouding met die Here in oënskou te neem – nie net wat redding betref nie, maar ook wat heiligmaking betref.