Die Gees van Profesie

Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2016)

Skriflesing: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei ... en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Joh. 16:13-14). Die Here Jesus het oor die eindtyd gesê: “Let op die vyeboom [Israel] en al die bome [veral die volke rondom Israel in die Midde-Ooste]. Net soos hulle bot [as volke herstel word en sterk op nasionale identiteit aanspraak maak], weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer [van God se geopenbaarde koninkryk op aarde] al naby is” (Luk. 21:29-30).

Die herstel van Israel is die groot eindtydse teken dat die kerkbedeling sy einde nader en dat Jesus Christus spoedig as Koning van die konings sal terugkeer en sy koninkryk op aarde ten volle sal openbaar. Het jy ʼn vaste geloof en duidelike toekomsverwagting?

Alle Bybelse profesieë is onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees geskryf, en net Hy kan aan ons verligte oë van die verstand gee om dit reg te verstaan. Bybelse profesieë is deel van die absolute waarheid van God, daarom staan elke woord vas. Petrus sê: “Ons het die profetiese woord, wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn ... terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21). Die profetiese woord help ons nie net om die salige hoop te koester dat die hemelse Bruidegom ons sal kom haal om ons ewige bestemming te bereik nie, maar ook om donker tye van oordele beter te kan verstaan en mense daarteen te waarsku.

Die oordele van God is bedoel vir dié mense wat nie sy genade-aanbod deur die Here Jesus wou aanvaar nie – dit is waarom die Heilige Gees ook oordele en strafgerigte aankondig (vgl. Jes. 4:4). ʼn Wêreld wat die liefde en reddende genade van God minag en verwerp, moet noodwendig die boodskap van God se toorn oor die sondaars hoor. Hy sal nie die sonde ongestraf laat bly nie. As mense weier om hulle sondes voor die genadetroon te bely en te laat staan, sal hulle self die straf daarvoor moet betaal. Hulle sal dan uitvind dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10:31). Ondenkbare oordele wag op hulle.

Elke persoon wat daarna streef om ʼn Geesvervulde lewe te lei, sal ervaar dat die Heilige Gees hom of haar ʼn liefde vir Bybelse profesieë gee en ook die wysheid om dit te verstaan. Baie van die Bybelse profesieë het op die volk Israel betrekking, op hulle roeping as volk van God, hulle vestiging in die Beloofde Land, die geboorte van die Messias in die huis van Dawid, Israel se internasionale verstrooiing weens ongeloof, hulle eindtydse herstel en geestelike loutering tydens die verdrukking, die wederkoms van die Messias, die redding van die hele oorblyfsel van Israel, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, en die duisendjarige vrederyk daarna. Dan sal die ten volle herstelde Israel die geleentheid hê om hulle roeping te vervul om die hele wêreld te evangeliseer (Jes. 27:6). Hierdie volk speel so ʼn sentrale rol in die Bybel se profetiese program dat hulle tereg “die horlosie van God” genoem word.

Israel en die verborgenheid van die kerkbedeling

Wanneer Ou-Testamentiese profesieë oor Israel se toekoms gelees word, moet altyd in gedagte gehou word dat die kerkbedeling ʼn verborgenheid was wat nie aan die Ou-Testamentiese profete geopenbaar is nie, daarom het hulle nie oor die kerk onder alle nasies geprofeteer nie (vgl. Rom. 16:25-26). Dit is die rede waarom Ou-Testamentiese profesieë oor die eerste en tweede koms van die Messias dikwels saam met mekaar genoem word, asof hulle direk op mekaar volg, sonder enige verwysing na die lang kerkbedeling wat tussen hulle verloop.

In Sagaria 9:9-10 staan daar: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ʼn oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ʼn esel. ... Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes van die aarde.” Daar het beslis ʼn lang tyd verloop (nou al byna 2 000 jaar) vandat Jesus op ʼn esel Jerusalem binnegery het totdat sy wêreldwye vrederyk tydens sy wederkoms met Jerusalem as hoofstad gevestig sal word.

Die 70 jaarweke van Israel se heilsgeskiedenis ná die Babiloniese ballingskap word ook in Daniël 9:24-27 só beskryf dat dit voorkom asof dit ʼn aaneenlopende tydperk is. Die kruisiging van die Messias ná 69 jaarweke en die regering van die Antichris gedurende die 70ste jaarweek lyk of dit direk opeenvolgend is. Dit is egter nie aan Daniël geopenbaar dat die kerkbedeling sou volg nadat Israel hulle Messias verwerp het nie. Jesus het vir sy dissipels gesê dat Israel uit hulle land verstrooi sou word na alle nasies en dat Jerusalem vertrap sou word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24). Die onderbreking in die heilsgeskiedenis van Israel het reeds byna twee millennia lank voortgeduur en hulle (byna 50% van die volk) is nou eers weer terug in hulle land. Die 70ste jaarweek kan enige tyd begin nadat die valse messias verskyn en vir sewe jaar lank ʼn verbond met Israel en die nasies gesluit het (Dan. 9:27).

Die dissipels het ook die verwagting gekoester dat die koninkryksbedeling, met Jesus wat van die herstelde troon van Dawid af regeer, direk op die Here Jesus se eerste koms sou volg: “En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy hulle nog ʼn gelykenis by, omdat hulle naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn” (Luk. 19:11). In die gelykenis het Jesus verduidelik dat Hy na ʼn ver land (die hemel) sou vertrek om sy koningskap te ontvang. Tydens sy vertrek op hierdie lang reis sou Hy sy dissipels bemagtig om die sake van sy verborge (geestelike) koninkryk te behartig en dit wêreldwyd te vestig (Mark. 16:15). Wanneer Hy terugkeer sal Hy sy dissipels vir hulle arbeid beloon, sy vyande wat nie sy koninkryk wou aanvaar nie, straf, en dan sy koninkryk ten volle openbaar (Luk. 19:11-27).

Pas voor die hemelvaart van Christus was sy dissipels steeds onder die indruk dat Israel se koninkryk dadelik herstel sou word as die begin van die Messias se vrederyk op aarde. Hulle het nog nie besef dat die hele wêreld eers geëvangeliseer moes word sodat lede van alle nasies die geleentheid kon kry om deel van God se koninkryk te word, en dat hierdie koninkryk dan eers geopenbaar sal word nie. Weens hulle onsekerheid het hulle ʼn verdere vraag hieroor gevra om finaal uitsluitsel te kry: “Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:6-8). Die dissipels het toe eers werklik verstaan dat die koninkryk nie dadelik geopenbaar sou word nie, omdat hulle reg aan die begin van ʼn klaarblyklik lang tydperk van wêreldevangelisasie gestaan het.

Die Here Jesus sal wél terugkom as Koning van die konings om al die Bybelse profesieë oor die openbaring van sy koninkryk te vervul, en dan sal Israel se koninklike troon in Jerusalem ook herstel word. Dit sal eers gebeur wanneer Hy na Jerusalem terugkeer in mag en majesteit. Tydens sy hemelvaart het twee engele aan die dissipels verskyn en vir hulle gesê: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11). Hy keer weer na die Olyfberg in Jerusalem terug, dan sal Hy sy vyande oordeel en die wêreldwye koninkryk openbaar met Jerusalem as hoofstad (Sag. 14:4-5, 9, 12-13, 16).

Dit is dus baie belangrik om duidelikheid te verkry oor watter profesieë tydens Christus se eerste koms in Israel vervul is, asook die volle implikasies van dié volk nasionale verwerping van die Messias. Die gevolg hiervan was Israel se internasionale verstrooiing, en gelyklopend daarmee die uitvoering van die opdrag van wêreldevangelisasie (Luk. 21:24; 24:46-47). Israel se diaspora beteken hoegenaamd nie dat God sy verbonde met hulle beëindig en dit aan die kerk oorgedra het nie (Lev. 26:44-45). Bybelse profesieë is baie duidelik dat Israel aan die einde van die bedeling van wêreldevangelisasie fisies en staatkundig in hulle eie land herstel word as ʼn voorspel tot hulle nasionale geestelike herstel wanneer die Messias weer kom (Eseg. 11:17; 36:24-28; Sag. 12:10; Matt. 23:39; Rom. 11:25-26).

Israel se geestelike ontwaking as volk

Kom ons kyk na ʼn aantal profesieë oor Israel se geestelike ontwaking in die eindtyd, en wat die gevolge daarvan sal wees. Op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, het Israel nóg ʼn geleentheid gehad om as volk tot bekering te kom deur die Messias te aanvaar. Hulle het dit egter nie gedoen nie, en net ʼn klein minderheid het positief op die evangelie gereageer. Petrus het die volk kragtig tot bekering opgeroep. Met verwysing na die uitstorting van die Heilige Gees en al die tekens wat daarmee gepaard gaan, het hy gesê:

“… dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Hand. 2:16-21; vgl. Joël 2:28-32).

Hoewel Petrus gesê het dat die uitstorting van die Heilige Gees byna 2 000 jaar gelede die vervulling van Joël se profesie was, was dit net ʼn gedeeltelike vervulling daarvan. Die finale vervulling van hierdie profesieë sal eers tydens die dag van die Here plaasvind, wat die tyd van oordele tydens die komende verdrukking van sewe jaar sal wees. Dan sal daar dramatiese tekens op aarde en in die hemelruim wees, die son sal verduister en die maan soos bloed word voordat die groot dag van die Messias se wederkoms aan die einde van die groot verdrukking sal aanbreek. In daardie tyd, nadat die ware kerk wat die tempel van die Heilige Gees is, weggeneem is, sal daar ʼn nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees, en dit sal met buitengewone tekens en groot openbarings gepaard gaan.

Dit is belangrik om te begryp dat daar tydens die wegraping ʼn duidelike dispensasionele verandering sal plaasvind. Die kerkbedeling sal dan verby wees, waartydens ons die volle openbaring van God se Woord gehad het, die Heilige Gees ons in die hele waarheid gelei het, en elke Christen individueel, asook gemeentes gesamentlik, as tempels van die Heilige Gees gefunksioneer het om getuies vir Christus te wees. In hierdie bedeling was daar dus nie ʼn behoefte aan buite-Bybelse openbarings nie, daarom moet dit nie gesoek word nie (vgl. Op. 22:18-19). Bonatuurlike tekens wat op oordele dui, het ook nie in die kerkbedeling plaasgevind nie, omdat dit die bedeling van genade vir die wêreld was – nie van oordele nie. Die oordele van God sal eers ná die kerkbedeling tydens die verdrukking oor ʼn ongelowige wêreld uitgestort word.

Wanneer die kerkbedeling egter verby is, sal die tempel van die Heilige Gees en die getuies van Christus nie meer hier wees nie. Almal wat sal agterbly, insluitend die grootste deel van die volk Israel, sal van God en sy Woord vervreem wees en aan die Antichris se geweldige misleidingsmag blootgestel wees. In daardie tyd sal die Here weer van profete gebruik maak. Aan die einde van die Ou Testament het Hy aan ongelowige Israel gesê: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek” (Mal. 4:5). Die Here sê dat Elia ʼn belangrike bediening in Israel sal hê, “sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie” (Mal. 4:6). Dit is moontlik dat die eindtydse Elia een van die twee spesiale getuies van Openbaring 11 sal wees, wat sterk teëstand teen die valse messias sal bied en mense sal probeer oorreed om in die ware Messias te glo.

Die gevolg van die nuwe uitstorting van God se Gees, wanneer die profesieë in Joël 2 finaal vervul sal word, sal wees dat ʼn oorblyfsel in Israel voorberei sal word om met die Messias versoen te word wanneer Hy weer kom. Die Here sê: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ʼn mens rouklaag oor ʼn enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ʼn mens bitterlik ween oor ʼn eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo. En die land sal rouklaag by geslagte” (Sag. 12:10-12).

Die Here voeg hierby: “In dié dag sal daar ʼn geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:1-2). Die Here gaan dus in die nabye toekoms ʼn groot en wonderlike doel met Israel bereik deur hulle ook geestelik as sy volk te herstel. Hulle fisiese en staatkundige herstel was net ter voorbereiding op hulle geestelik ontwaking en lewendmaking. Só het Hy dit ook deur die diens van Esegiël belowe:

“Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: … Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in jul binneste gee. ... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ʼn volk en Ek sal vir julle ʼn God wees” (Eseg. 36:22, 24-28).

God se doel met die geestelike herstel van Israel is dat hulle Hom van harte sal dien. Hulle geestelike ontwaking as volk sal progressief dwarsdeur die sewe jaar van die verdrukking plaasvind. Kort ná die wegraping en die openbaring van die Antichris sal die Gees van God kragtig onder hulle begin werk. Van daardie oomblik af sal Jode spesifiek binne volksverband gered word sodat die “geestelike Israel” – die ten volle geredde Israel wat in die Millennium God se spesiale getuies sal wees – gestalte kan begin verkry. Kort ná die beëindiging van die kerkbedeling sal die Here 144 000 Jode se siele red – 12 000 uit elkeen van die 12 stamme van die kinders van Israel (Op. 7:2-8). Hierdie kerngroep sal verteenwoordigend van die hele volk wees, en hulle sal spesiaal afgesonder word om die Here gedurende die eerste helfte van die verdrukking te dien. Hulle sal openlik standpunt teen die valse messias inneem en baie Jode én nie-Jode na Christus lei.

Die grootste groep Jode sal ten spyte van die getuienis van die Messiaanse Jode in hulle midde (die 144 000 en die twee getuies), voortgaan om erkenning aan die valse messias te gee onder die valse indruk dat hy die ware Messias is (vgl. Joh. 5:43). In daardie stadium sal hulle nog nie die nommer van die Antichris hê nie, omdat dit eers ná die middel van die verdrukking verpligtend gemaak sal word. Hulle sal dus nog steeds hulle verbond met hom kan verbreek.

Dit is presies wat gaan gebeur wanneer die Antichris in die middel van die verdrukking in die herboude tempel in Jerusalem sal ingaan, ʼn afgodsbeeld van homself daar laat oprig en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4; Op. 13:15). Die meeste Jode sal as gevolg daarvan hulle verbond met hom verbreek en dan vinnig vir oorlewing na die berge moet vlug (Matt. 24:15-22). Daar word verwag dat hulle suidooswaarts na die berge langs die Dooie See sal vlug, en dan waarskynlik verder langs die see af tot by Petra suid van die Dooie See in Jordanië. Toestande vir oorlewing sal kritiek wees. Die Antichris sal ʼn Joodse volksmoord gelas en sy militêre magte beveel om die voortvlugtende Jode agterna te sit en uit te wis.

Dit sal weer wees soos toe Israel uit Egipte gevlug het en deur Farao se magte agtervolg is. Die moderne Farao, die Antichris, sal alles inspan om die Jode te vernietig. Soos wat die Here in antieke tye ingegryp en die Rooi See wat verdeel is, op sy beddings laat terugvloei het toe Farao se leërs probeer deurtrek het, sal die Here weer ingryp om die Antichris se magte te stuit. In Openbaring 12 word Israel as ʼn vrou voorgestel wat in die middel van die verdrukking na ʼn plek in die woestyn sal vlug waar sy vir 3½ jaar lank (1 260 dae) onderhou sal word (Op. 12:6, 14). Die duiwel word as ʼn slang of draak voorgestel wat die vrou agtervolg. Die slang het water uit sy bek laat stroom om die vrou te laat wegvoer, maar die aarde het oopgeskeur en die rivier opgesluk (Op. 12:15-16). ʼn Aardbewing sal waarskynlik voorkom wat die agtervolgende magte van die Antichris sal stuit, sodat die vrou haar bestemming by die skuilplek in die berge veilig kan bereik.

In hierdie onherbergsame plek sal die Here moontlik weer, soos tydens Israel se uittog uit Egipte, water en kos aan die vlugtelinge voorsien. Dit sal ʼn tyd van benoudheid wees soos wat Israel nog nooit beleef het nie (Dan. 12:1). Daniël sê: “Van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop” (Dan. 12:11). Vandat die Antichris die tempel ontheilig en sy afgodsbeeld opgerig het, sal 1290 dae (3½ jaar + 30 dae) verloop tot aan die einde van daardie jaarweek en Israel se geestelike ontwaking ná die koms van Jesus. Die ekstra 30 dae sal waarskynlik die tyd van Israel se nasionale roubeklag wees wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10–13:1; vgl. Deut. 34:8).

Gedurende die tyd wanneer Israel in die berge skuil, sal die Here ook buitengewone openbarings gebruik om hulle te onderrig en voor te berei vir dit wat die nabye toekoms vir hulle inhou. Dit is van hierdie tyd in die groot verdrukking, dat Joël geskryf het: “... en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.” Hierdie spesiale tekens en openbaringsmetodes is nie normatief vir die kerk nie en word nêrens aan ons voorgeskryf nie. Ons het die hele Bybel, en die Heilige Gees gebruik die Skrif om ons in die hele waarheid te lei.

Wanneer Israel aan die einde van daardie jaarweek uit hulle skuilplek na die Olyfberg optrek om die koms van die Messias in te wag, sal hulle deur die magte van die Antichris omring word en opnuut uitwissing in die gesig staar. Al die nasies wat volgelinge van die Antichris is, sal Jerusalem beleër om teen die komende Messias te veg, want hulle sal ook van sy wederkoms, vergesel van ʼn hemelse leër, bewus wees (Sag. 14:2; Op. 19:19). Dit sal egter ʼn slegte dag vir hulle wees, want die Messias sal wél kom en al die vyandelike magte verdelg (Sag. 14:4-5, 12-13; Op. 19:20-21).

Die oorblyfsel van Israel sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en dan bitterlik oor Hom ween. Die nasionale roubeklag van Israel sal groot wees en die hele oorblyfsel van die volk sal met die Messias versoen word. Hulle sal vir Hom vra watter wonde daar in sy hande is, en Hy sal antwoord: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6). Hulle sal met ʼn skok besef dat dit Jesus van Nasaret is wat lank gelede deur Israel verraai en aan die Romeine oorgelewer is om gekruisig te word. Hy sal al hulle ongeloof en oortredings vergewe en hulle volkome as sy volk aanvaar. Paulus sê: “... en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26).

Die vrederyk

Daar gaan dramatiese veranderings intree wanneer Christus as Koning van die konings teruggekeer: die hele Israel sal gered word, die duiwel sal gebind en dit bo hom verseël word sodat hy die nasies nie kan verlei nie, die troon van Dawid sal in Jerusalem herstel word en Christus se verheerlikte kerk sal saam met Hom in sy geopenbaarde koninkryk regeer. Hoe radikaal anders sal dit nie wees as die huidige, sondige wêreld wat in die mag van die Bose lê nie! (1 Joh. 5:19). Die Here wil hê dat ons van hierdie wonderlike beloftes en profesieë moet kennis neem, sodat ons nou reeds voorberei kan word om ook deelgenote van sy hemelse koninkryk van geregtigheid te wees. Uit die aard van die saak vereis dit ʼn hoë mate van toewyding aan die beginsels van God se koninkryk, asook persoonlike heiligheid as ʼn antwoord op die sonde, korrupsie, leuens en ongeregtigheid wat so oorheersend in die huidige wêreld is.

In hierdie oorsig het ons die soeklig hoofsaaklik op Israel laat val, tot en met die wederkoms van die Messias. Kom ons kyk kortliks ook na die belangrike en inspirerende rol wat hulle in die Messiasryk gaan speel. Jode wat tydens die kerkdispensasie gered is sal saam met die verheerlikte kerk regeer. Ou-Testamentiese heiliges sal deel van hierdie groep vorm, en dit verklaar die stelling dat “baie sal kom van die ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob aansit in die koninkryk van die hemele” (Matt. 8:11). Die res van die volk Israel (almal wat die groot verdrukking oorleef het en daarna gered is) sal gedurende die Millennium steeds sterflike mense wees. Hulle sal almal veranderde harte hê en die Messias volkome dien:

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ʼn nuwe verbond sal sluit. ... Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31, 34). In die dispensasie van die koninkryk (die komende vrederyk van Christus) sal Israel gebruik word om die wêreld te evangeliseer en na die Messias te lei, want kinders onder die verskillende volke sal steeds met ʼn sondige natuur gebore word en dus weergebore moet word om aan die Here te behoort. “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

As gevolg van hierdie belangrike rol sal Israel hoog in aansien wees by alle ander volke wat gereeld afvaardigings na Jerusalem sal stuur om in die weë van die Here onderrig te word: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek. So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ʼn Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

Omdat die duiwel in daardie tyd gebind sal wees, sal geen geestelike misleiding voorkom nie en slegs die Christelike geloof erken en beoefen word: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Jerusalem sal as hoofstad van die wêreld erken word, almal sal in vrede leef en daar sal geen oorlogvoering, militêre opleiding of wapenvervaardiging meer wees nie: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:2-4).

Selfs die Arabiese volke rondom Israel sal eenparig saam met God se volk die Messias, Jesus Christus, aanneem en net so ywerig as Israel die ware God dien. Hierdie diepgaande geestelike hartsverandering sal ook tot eensgesindheid onder al die Arabiere lei, wat tans so erg deur vyandige faksies van Islam verdeel word. Hulle is nou nog almal saam op die vernietiging van Israel ingestel. Tydens die regering van die Messias sal daar ‘n grootpad tussen Kaïro en Damaskus wees, en Egiptenaars en Siriërs sal gereeld in Jerusalem aandoen om eer aan die Messias te betoon (Jes. 19:23-25).

Dit is die toekomsvisie wat die Heilige Gees nou aan mense gee wat daarna streef om deur die Gees te wandel, die Bybel getrou te bestudeer en sodoende die Gees toe te laat om die toekomstige dinge aan hulle te verkondig. Het jy al van hierdie dinge kennis geneem wat steeds vir die ongelowige wêreld verborge is, en oordink jy dit in jou hart?

“Soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:9-10). Verdiep jouself hierin en verkry ʼn visie van die ewige koninkryk wat vir ons berei word nadat die Here ons deur sy groot genade uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.