Aanbod van Boeke oor die Eindtyd

ʼn Nuwe boekelys is op die webblad geplaas. Ons het weer voorraad van Johan Malan se jongste boek oor die eindtyd (“Die Laaste Dae”) gekry, en bied dit teen ʼn verlaagde prys aan. Dit is ʼn goeie gebruik om evangeliese, chiliastiese lektuur in u huis aan te hou, want een of ander tyd in die toekoms (ná die wegraping) sal dit in geweldige groot aanvraag wees. Hier is die skakel na die nuwe lys:

http://www.bibleguidance.co.za/Boekelys.htm

In die meeste boekwinkels is leesstof van hierdie aard ʼn seldsame verskynsel omdat die moderne neiging in die rigting van positiewe denke, tekens, wonderwerke, buite-Bybelse openbarings en Calvinistiese antichiliasme is (in laasgenoemde dogma word eindtydse oordele tydens ʼn verdrukking van sewe jaar ook ontken). ʼn Valse scenario van groot herlewings, voorspoed en beter tye word aan gelowiges voorgehou. Die idee word al hoe minder gehuldig dat daar ʼn groot verdrukking gaan aanbreek waarin die Antichris en valse profeet oor ʼn misleide wêreld sal regeer. Om dieselfde rede word die eindtydse oordele van die Here tydens die groot verdrukking (die dag van die Here se toorn oor sondaars) ook weggeredeneer deur onder meer te verklaar dat dit op historiese rampe en oordele dui – nie op die eindtyd nie.

As gevolg van die wegbeweeg van hierdie profetiese waarhede af, word ander Bybelse leerstellings (bv. oor wedergeboorte, heiligmaking en ʼn lewe van oorwinning) later ook die slagoffers van moderne, humanistiese denke. Die noodwendige gevolg hiervan is onkunde oor die tekens van die tye, ʼn gebrek aan gereedheid vir die koms van Christus, en ʼn valse gerustheid te midde van dreigende onheile in ʼn vinnig vervallende wêreld.

Die geledere van die dwase maagde in die gelykenis oor Christus se geheime koms vir sy bruid word in die laaste dae al hoe groter (vgl. Matt. 25:1-13). In die tyd toe hulle moes waak en bid, het hulle geestelik aan die slaap geraak en was gevolglik totaal onbetrokke by die werk wat die Here aan sy volgelinge opgedra het. Hulle het nie genoeg olie (ʼn simbool van die Heilige Gees) in hulle lewens gehad nie, en kon dus nie skyn soos ligte te midde van ʼn krom en verdraaide geslag nie. In die eindtyd sal ʼn soortgelyke groep dwase maagde (vleeslike kerklidmate) eers wakker skrik wanneer dit té laat is om gereed te maak vir die koms van die Bruidegom.

Hulle groot ontnugtering as gevolg van die feit dat hulle agtergebly het, sal gevolg word deur die openbaring van die Antichris, ʼn misleidende, valse vrede en eenheid op aarde, en dan die begin van God se oordele oor ʼn onbekeerlike wêreld. Hierdie mense sal dan nog steeds gered kan word, maar hulle sal die vervolging, pyn en rampe in die gesig moet staar van ʼn groot verdrukking soos daar nog nooit sedert die grondlegging van die wêreld was nie (Matt. 24:21). Ongekende aardbewings sal voorkom, hoë geboue sal intuimel en mense sal vreesbevange na die berge vlug om uit die digbewoonde stedelike rampgebiede te probeer wegkom. Die wankelende berge sal egter ook nie aan hulle enige skuiling bied nie, maar eerder hulle ondergang verhaas:

“... en daar het ʼn groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie so ʼn geweldige groot aardbewing. En die groot stad [Jerusalem] is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ʼn talent swaar [sowat 50 kg.], het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was” (Op. 16:18-21).

Ná die wegraping sal mense weet dat die Bybel waar is, en dat die eindtydse oordele waarteen die Here die mensdom al duisende jare lank in sy Woord waarsku, aangebreek het. Sommiges sal hulle tot die Here bekeer en hulle saak met Hom regmaak (Op. 7:9-14). Die heel eerste groep bekeerlinge sal 144 000 Jode wees, wat die evangelie tydens die verdrukking sal verkondig (Op. 7:1-8; Matt. 24:14). Die meerderheid mense sal egter misleide volgelinge van die Antichris wees (Op. 13:3-4, 8). Hy sal die Drie-enige God aanhoudend belaster (Op. 13:5-6) en sy volgelinge leer om God ook te laster oor al die plae wat oor hulle kom. Nadat hulle die merk van die dier ontvang en hom begin aanbid het, sal hulle nie tot bekering kan kom nie en net aanhou om God te laster (Op. 9:20-21). Selfs te midde van die ergste hittegolwe wat oor die aarde kom, sal hulle steeds aanhou om God te laster: “En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ʼn groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie” (Op. 16:8-9).

Hoeveel meer uitnemend is dit nie om die Here Jesus se raad oor geestelike voorbereidings vir ontvlugting uit hierdie tyd van vernietigende oordele te volg nie: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Soos Noag en Lot die oordele van God ontvlug het, kan ons dit in die eindtyd ook doen. Paulus sê dat ons God se “Seun uit die hemele [moet] verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). Christene is nie vir die oordele bestem nie (1 Thess. 5:9).

Diegene wat nie hierdie verwagting het nie, en dus nalaat om gereed te maak om Christus in die lug te ontmoet en sodoende die Goddelike toorn te ontvlug, sal deur onbeskryflike vrees en paniek oorweldig word as die oordele van die dag van die Here hulle tref. Wanneer hulle na die berge probeer vlug, weg van stede af wat in puin gelê is, sal hulle deur net sulke groot rampe bedreig word sodat hulle uiteindelik sal wens om te sterf. Hulle sal tot die berge en kranse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Diegene wat weet dat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het, en dat Hy behae daarin het dat sondaars hulle bekeer eerder om as onbekeerlike sondaars geoordeel te word, sal hulleself haas om hulle saak met Hom reg te maak. Dit is oneindig beter om Hom as Verlosser en Bruidegom te ontmoet as om Hom eers te sien as Regter wat op die groot wit troon alle sondaars tot die ewige hel sal verdoem. Diegene wat in die regte verhouding met Hom is, is daarop ingestel om deur die geklank van ʼn hemelse basuin opgeroep te word om hulle Verlosser in die lug te ontmoet:

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Die Bybelse belofte van die wegvoering voor die verdrukking is ʼn boodskap van hoop en bemoediging – nie van vrees oor die naderende oordele van God nie. Die vrees sal net besit neem van diegene wat die saligheid veronagsaam het (Heb. 2:3) en nagelaat het om die Here Jesus se reddende genade aan te neem.