Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2012)
Besigtiging van pornografiese foto’s en video’s op die Internet en selfone is ’n vinnig groeiende gebruik in die hele wêreld, en het ’n verslawende gewoonte geword in die lewens van miljoene mense. Lede van alle sosiale en ekonomiese klasse is hierby betrokke, van adolessente af tot by oumense.
Groot besorgdheid word in artikels op ’n hele aantal webwerwe uitgespreek oor die vinnige toename in die besigtiging van pornografiese materiaal. Sommige van hierdie webwerwe is Christelik; ander is nie primêr godsdienstig van aard nie, maar nogtans toegewy aan die handhawing van morele waardes in die samelewing. Blootstelling aan pornografie het nie net godsdienstige gevolge nie, maar het ook sosiale en sielkundige implikasies in die lewens van slagoffers.
Aanlynseks, wat ook as kuberseks bekend staan, het al ’n epidemie geword. Verskeie kenners sê dat die skade wat deur kuberseks aan huwelike aangerig word, vernietigend is. Maklike toegang tot pornografiese webwerwe op die Internet is hoofsaaklik verantwoordelik vir die vinnige verspreiding van hierdie euwel. Die volgende statistiek spreek vanself:
· Tot soveel as een uit elke drie tot vier soektogte aanlyn is vir pornografie.
· Elke sekonde is daar 30 000 persone wat na pornografie kyk. Die gemiddelde ouderdom van die eerste blootstelling hieraan is slegs 11 jaar.
· In 56% van alle egskeidings in die VSA het een van die partye ’n obsessiewe belangstelling in pornografiese webwerwe gehad.
In sommige gevalle word persoonlike e-posgesprekke van ’n baie intieme aard tussen twee “anonieme vriende” gevoer, wat dan dikwels na geheime ontmoetings met mekaar lei, gevolg deur die seksuele misbruik van meisies waardeur hulle verneder word. Baie van hulle word ná sulke episodes verwerp.
Die volgende is ’n uittreksel uit ’n artikel wat in Mei 2000 in die New York Times verskyn het (http://partners.nytimes.com/library/national/science/health/051600hth-behavior-cybersex.html):
Cybersex Gives Birth to a Psychological Disorder (Kuberseks Veroorsaak Psigologiese Versteuring), deur Jane E. Brody:
Seks is die mees gewilde onderwerp onder volwasse gebruikers van die Internet. Daar is studies wat aandui dat ’n derde van alle besoeke op die Internet gerig is op seksueelgeoriënteerde webwerwe en gespreksforums.
Die meeste mense wat by die stormloop na kubersekswebwerwe betrokke is, beskou dit as skadelose ontspanning. Kenners is egter ’n heel ander mening toegedaan. Volgens hulle is die bekostigbaarheid, maklike toegang en anonimiteit van die Internet besig om ’n heeltemal nuwe sielkundige afwyking te bevorder, naamlik kuberseksverslawing. Dit neem teen ’n verbysterende tempo toe en veroorsaak verwarring in die lewens van diegene wat daarby betrokke is.
Volgens ’n navorsingsverslag in die tydskrif Sexual Addiction and Compulsivity ontken baie van die mans en vrouens wat elke week baie ure lank voor hulle rekenaars deurbring om seksuele stimulasie te soek, dat hulle ’n probleem het. Hulle weier gevolglik om hulp te soek totdat hulle huwelike en/of werk ernstig in die gedrang kom.
Vir sommige mense is die pad na die kompulsiewe gebruik van die Internet vir seksuele bevrediging kort en vinnig, sê dr. Mark Schwartz van St. Louis, en voeg by: “Seks op die Internet is soos heroïen. Dit neem besit van mense en beheer hulle lewens. Dit is baie moeilik om hierdie probleem te behandel omdat die betrokke persone nie daarmee wil ophou nie.”
Volgens dr. Al Cooper wat verbonde is aan die Sentrum vir Huwelike en Seksualiteit in Santa Clara, Kalifornië, is kuberseksverslaafdes net soos dwelmverslaafdes: hulle gebruik die Internet as ’n belangrike deel van hulle seksuele aktiwiteite, soos wat dwelmverslaafdes ook ’n dwelm van hulle eie keuse gebruik. Dit gebeur dikwels met ernstige skade aan hulle persoonlike én gesinslewe. Dr. Cooper sê verder: “Veral diegene wie se seksualiteit hulle lewe lank beperk of onderdruk was, en wat nou skielik ’n onbeperkte bron van seksuele geleenthede op die Internet vind, is blootgestel daaraan om aan Internetseks verslaaf te raak.”
Dr. Dana Putnam, ’n sielkundige in San Luis Obispo, Kalifornië, sê dat daar ook verdere faktore is wat ’n persoon se vatbaarheid vir verslawing aan kuberseks kan verhoog, naamlik depressie en emosionele spanning, verhoudingsprobleme, asook ’n onvermoë om hulle seksuele behoeftes te kan bevredig.
Uit ’n ander ondersoek wat deur dr. Schneider gedoen is onder 94 gesinslede wat deur kuberseksverslawing geaffekteer word, het dit egter geblyk dat hierdie probleem ook kan ontstaan in liefdevolle huwelike waarin daar genoeg seksuele geleenthede is. Sy sê: “Seks op die Internet is só verleidelik en só maklik om raak te loop dat mense daardeur vasgevang kan word nog voordat hulle goed besef wat gebeur.”
Kuberseksverslaafdes kan so betrokke raak by hulle aanlynaktiwiteite dat hulle hul huweliksmaats en kinders afskeep en ook hulle werk verwaarloos. Uit dr. Cooper se verslag blyk dit dat 20% van die mans en 12% van die vrouens rekenaars by hulle werk het met die oog op seksuele oorwegings. Verskeie maatskappye monitor nou hulle werknemers se aktiwiteite op die Internet. In baie gevalle het besoeke aan seksueelgeoriënteerde webwerwe al tot die ontslag van werknemers gelei.
Daar is diegene wat steeds volhou dat hulle geen skade hierdeur doen nie en hulleself nie aan siektes of die dood blootstel nie. Aan hulle sê dr. Schneider, wat instensief oor seksuele verslawing navorsing gedoen het, dat die skade wat ’n kuberseksverslaafde aan sy eie lewe en dié van sy gesin aanrig, net so erg kan wees as dit dié wat deur kompulsiewe dobbelaars, alkoholiste en dwelmverslaafdes veroorsaak word. In haar ondersoek het 91 vrouens en drie mans wat voorheen gesonde vaste verhoudings gehad het, gesê dat hulle maats se kuberseksverslawing ernstige nadelige gevolge gehad het, insluitend verbrokkeling van verhoudings. Die lydende persone het algemeen gekla oor gevoelens van verraad, minagting, misleiding, ignorering, verwerping en ’n onvermoë om met die ander persoon se fantasieë te kompeteer.
Onder hierdie persone was ’n 34-jarige vrou wat 14 jaar lank met ’n predikant getroud was, en sy het bewus geraak van sy kompulsiewe soektog na seksuele bevrediging deur pornografiese webwerwe op die Internet te besoek. “Hoe kan ek kompeteer met honderde anonieme meisies wat nou in ons bed en in sy kop is?” het sy geskryf. “Ons bed, waarop ons eens op ’n tyd intiem verkeer het, word nou beset deur ontelbare gesiglose vreemdelinge.”
Kinders kan ook ly as gevolg van toenemende konflik tussen hulle ouers, wat in baie gevalle tot egskeiding lei. Selfs indien die huwelik voortgesit word, geniet kinders dikwels nie genoegsame ouerlike sorg nie wanneer een van die twee ouers by aanlynseks betrokke is en die ander ouer dan die taak het om die verslaafde te probeer beheer.
Wanneer ’n kuberverhouding aangeknoop is of kuberseks beoefen word, kan ’n voormalige liefdevolle man ontwykend begin raak en op sy privaatheid op die Internet aandring. Dr. Young sê: “Hierdie nuwe “terrein” in verhoudingsdinamika kan daartoe lei dat ’n warmhartige en toegeneë vrou en moeder ook haarself tot die rekenaar en sy kubersekseskapades kan wend, en dit sal haar aandag heeltemal wegvoer van haar plig om na haar kinders om te sien.” Dr. Putnam stel dit só: “Wanneer mense verslaaf raak aan kuberseks, loop hulle gevaar om dinge te doen wat hulle andersins nooit sou doen nie.” (Einde van aanhaling uit The New York Times).
Pat Fagan van die Family Research Council in Washington DC, bevestig die bogenoemde bevindings. In ’n artikel, Die gevolge van pornografie op individue, die huwelik, die gesin en die gemeenskap (Julie 2010) sê hy onder andere:
“Pornografie is ’n groot bedreiging vir huwelike, die gesin, asook die breër gemeenskap. Betrokkenheid hierby is nie ’n persoonlike keuse wat sonder sosiale gevolge is nie. Pornografie verander ’n persoon se seksuele houdings en gedrag; dit ondermyn sy huwelik, en op sy beurt oefen ontwrigte huwelike ’n invloed uit op die hele samelewing.
· Getroude mans wat by pornografie betrokke is, raak ontevrede met hulle huweliksverhouding en gevolglik emosioneel minder geheg aan hulle vrouens.
· Die gebruikmaking van pornografie lei na ontrouheid en egskeiding, en is dikwels ’n belangrike faktor in gesinskrisisse van dié aard.
· Paartjies wat beïnvloed word deur een van die twee partye se verslawing ervaar gewoonlik ’n gebrek aan belangstelling in seksuele gemeenskap en die handhawing van goeie gesinsverhoudings.
· Beide mans en vrouens beskou die besigtiging van pornografiese materiaal as gelykstaande aan huweliksontrouheid.
Shane Morris van Life Site News (www.lifesitenews.com/) het die volgende uittreksels van ’n onderhoud gepubliseer wat John Stonestreet van Breakpoint (www.breakpoint.org) in November 2012 met die bekende Christelike apologeet, Josh McDowell, gevoer het:
Pornografie is ’n harde werklikheid en gaan nie gou verdwyn nie. Jy sal jou kinders moet voorberei om hulle daarteen te beskerm. Volgens Josh McDowell, die outeur van boeke soos Evidence which Demands a Verdict en More than a Carpenter, het onlangs begin aandag gee aan die vernietigende gevolge wat pornografie op ons kultuur en die kerk het. Hy beskou dit as een van die grootste bedreigings wat die Christendom nog ooit ervaar het.
Josh het in bogenoemde onderhoud met John Stonestreet van Breakpoint sy besluit verduidelik om die onderwerp van pornografie prominent aan te spreek. Hy het gesê dat hy in sy apologetiese werk (die verdediging van die Christelike geloof) ’n hindernis ervaar het wat niks met die geloof self te doen het nie.
“Ek is ’n apologeet,” sê Josh. “Ek bied positiewe redes aan waarom mense moet glo, sodat veral jongmense na Christus kan kom. Omtrent vyf of ses jaar gelede het ek van ’n groot probleem bewus geraak toe ek sigbare weerstand ervaar het wanneer ek met jongmense gepraat het. Dit het vir my duidelik geword dat die intensiewe en wydverspreide seksuele immoraliteit en pornografie op die Internet hiervoor verantwoordelik was. Hierdie een ding wat alles kan ondermyn wat ek as apologeet onderrig, is nie op die terrein van die apologetiek self geleë nie, maar op die terrein van moraliteit. As jy nie aan dié saak aandag gee nie, sal jy nie jou rol as ’n Bybelse apologeet kan vervul nie.
Josh se seun, Sean McDowell, is die hoof van die Departement Bybelkunde aan die Capistrano Valley Christian College, asook ’n skrywer, spreker en apologeet in sy eie reg. Hy werk voltyds met die jeug en het in die proses ’n groot aantal hartseer verhale opgeteken van voorbeeldige en belowende Christelike jongmans en dames wat in die strikke beland het van ’n kultuur wat deurtrek is met seks en wellus.
Dit is juis die probleem. Die belangrike feit wat Josh en Sean McDowell aan ouers, leraars en onderwysers in die wêreld van vandag wil oordra, is dat die meeste kinders en studente nie na pornografie soek nie – pornografie soek na hulle. Josh sê: “Van die tieners wat na pornografie gekyk het, het tussen 78% en 91% nie self daarna gesoek nie. Volgens navorsing sal 38% van hulle egter daaraan verslaaf raak.”
Die vraag is aan Josh gestel oor hoe belangrik hierdie inligting vir die liggaam van Christus is. Hy het geantwoord: “Die statistiek wat ek gedokumenteer het, toon aan dat meer as 50% van alle predikante ’n probleem met pornografie het. 62% van die mans wat evangeliese kerke besoek, het gereeld probleme met pornografie, asook meer as 65% van alle tieners. Dit is waarskynlik die grootste bedreiging vir die saak van Christus in die 2 000 jaar van kerkgeskiedenis omdat dit mense se lewens, hulle geloof en hulle wandel met Christus ondermyn. Ek vrees dat baie van die predikers nie hierdie probleem aanspreek nie omdat hulle self daarby betrokke is. Op een of ander manier moet ons die leierskap in die liggaam van Christus oorreed om die probleem aan te spreek.”
John Stonestreet wou nog groter duidelikheid oor die probleem hê en het gevra: “Wees meer spesifiek. Hoe ondermyn dit die Christene; hoe ondermyn dit Christelike groei en huwelike?”
“Afgesien van die skande en eensaamheid,” het Josh verduidelik, “gee pornografie aanleiding tot vrae oor die gesag van die Skrif, oor Christus, oor die opstanding, oor die kerk en oor ouerskap. Dit verduister die sinne van mense sodat hulle nie die waarhede van die Christelike geloof kan verstaan nie. Wanneer jy by pornografie betrokke raak, neem dit beheer oor jou denke, jou morele waardes en jou hele lewe. Jy moet verstaan dat pornografie net eenvoudig besit neem van jou lewe. Dit bepaal jou verhoudings – jou beskouings van mense, van vrouens en kinders. As gevolg hiervan laat dit aan jou geen ruimte om met Christus te wandel nie. Jy kan nie by pornografie betrokke raak en steeds ’n gesonde wandel met Christus handhaaf nie.”
Dit, sê Josh, is waarom hy met Just 1 Click Away begin het – ’n webblad wat daarop ingestel is om jonk en oud by ’n netwerk te betrek waarin hulp en goeie bronnemateriaal tot hulle beskikking gestel word. Sean McDowell bied ook ’n lesing hieroor aan waarin hy verwys na die belangrike werk wat dr. Joe McIlhaney jr. en dr. Freeda McKissic Bush gedoen het in hulle boek, Hooked. Hierin word beskryf hoedat pornografie en seksuele losbandigheid selfs die chemiese stowwe in ’n persoon se brein kan aantas waardeur dit vir hom moeiliker gemaak word om lief te hê, en om ’n intieme band en gesonde seksuele verhoudings met sy huweliksmaat te handhaaf.
’n Ander baie belangrike saak wat die McDowells in hierdie nuwe veldtog teen pornografie wil aanspreek, is die gevreesde taak wat ouers het om hulle kinders op te voed en op die lewe voor te berei. Josh en Sean sê daar is feitlik geen kans dat ons kinders onder die gelukkige paar sal wees wat nooit met pornografie in aanraking kom nie. Die moontlikheid hiervoor is volgens hulle statisties onbeduidend.
“Julle kinders sal pornografie raakloop,” sê Josh. “Dit is jammer, maar dit is waar.” Selfs al isoleer ons ons jong kinders van kontak met die buitewêreld deur die moderne tegnologie van hulle af weg te hou, sal hulle steeds volwassenes word en dan skielik deur die sekskultuur gekonfronteer word waarteen ons hulle so lank probeer beskerm het. Josh glo dit is ons taak as ouers en mentors om ons kinders voor te berei om op ’n godvresende manier te reageer wanneer hulle met pornografie in aanraking kom.
Deur middel van Just 1 Click Away bespreek die McDowells hierdie probleem. Hulle bied ook aan ouers en volwassenes die opleiding en hulpmiddels wat hulle nodig het om vroeg reeds met hulle kinders in gesprek te tree en hulle toe te rus vir die stryd wat voorlê. Hulle moet geleer word om vasberade en aanhoudend “nee” te sê vir ons kultuur se mees vernederende en afbrekende verslawing.
Op hulle webwerf www.just1clickaway.org/ sê Josh en sy seun:
· Seks en versoekings wag aanlyn vir almal, net een klik weg, en dreig om ons huise en skole binne te dring waar dit die harte en denke van jongmense wil oorneem – en miskien ook jou eie hart en gedagtes wil besoedel.
· God, geloof en sterk morele waardes kan mense se lewens teen hierdie gevaarlike afdraandepad beskerm, maar dan moet ons nou wakker skrik en morele oortuigingskrag in ons jeug vestig.
· Waarheid en kennis kan ons vrymaak. Ook dit is beskikbaar met net een klik. Begin jou reis met die hulpmiddels op hierdie webblad en deel dit ook met jou geliefdes.
Dit is belangrik om daarop te wys dat Josh nie sy toevlug neem tot ’n vorm van godsdienstige krisisbestuur waarin net die gevare van skadelike en skandelike seksuele gebruike beklemtoon word in ’n poging om mense van slegte gewoontes af te skrik nie. Onweergebore mense (“die natuurlike mens” – 1 Kor. 2:14) het ’n sterk geneigdheid tot boosheid en geniet dit intens om te sondig. So ’n persoon moet eers na Christus gelei word om geestelik weergebore te word en ’n nuwe natuur te verkry, voordat sy lewenswyse en morele waardes grondig sal verander (2 Kor. 5:17).
Daar is ook ander bedienings wat hulleself daaraan toewy om weerstand te bied teen hierdie bose praktyk. Die hulpmiddels wat gebied word deur Eevery Man’s Battle (http://everymansbattlevideo.com) is uitstekend en sluit praktiese hulp en raad in.
Seksperversie is een van verskeie vorms van sonde en losbandige gedrag wat kenmerkend van die gevalle mens is. Die meerderheid mense sal geensins van bose gewoontes afgeskrik kan word nie – nie eers deur die plae van God wat in die groot verdrukking oor hulle uitgestort gaan word nie: “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie” (Op. 9:20-21).
Seksuele immoraliteit is tipies van ’n bose lewe waarin God en sy Woord totaal verwerp word. Volgens The New Testament Greek Lexicon word die Griekse woord vir seksuele immoraliteit (porneia) gedefinieer as “adultery, fornication, homosexuality, lesbianism, intercourse with animals, etc.” (owerspel, hoerery, homoseksualiteit, lesbinisme, gemeenskap met diere, ens). Porneia verwys dus na verskeie vorms van seksuele immoraliteit en seksperversie. Mense wat hulleself aan hierdie sondes oorgee, sal ook blootgestel word aan die verwante sondes van afgodediens, gewelddadigheid en betrokkenheid by die okkulte.
Indien God en sy geregtigheid nie die hoofdoel van ons lewens is nie, gee ons onsself willens en wetens oor aan die duiwel se alternatiewe sondekultuur. Ons moet dit egter nie doen nie, maar dit met alle mag weerstaan: “Beproef wat die Here welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:10-11). Mense wat die werke van die duisternis verkies bo ’n lewe van heiligheid, stuur af op heerskappy deur “die mens van sonde” (2 Thess. 2:3; 2 Kor. 4:4) en sal uiteindelik gedwing word om die valse christus in plaas van die ware Christus te aanbid (vgl. Joh. 5:43; Op. 13:3-4).
Daar is ’n oplossing vir die wydverspreide probleem van sonde en losbandigheid: die Here Jesus het gekom om ons van ons sonde te verlos (Matt. 1:21). “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie” (Rom. 6:12). Jy moet ’n duidelike keuse maak om van die bande van sonde en boosheid verlos te word, en jou dan verbind aan die uitdaging om vas te staan in die vryheid waarmee Christus jou vrygemaak het (Gal. 5:1).