’n Demoniese Strategie vir die Misleiding van Israel

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2013)

Inleiding

Ons is om verskillende redes dank verskuldig aan Israel, maar hoofsaaklik omdat hulle die Woord van God ontvang en opgeteken het, en dit tot ons beskikking gestel is deur die bediening van eerste geslag Joodse evangeliste. Die verbondsvolk Israel is egter, net soos die nie-Joodse volke, blootgestel aan intensiewe, demoniesgeïnspireerde misleiding – om ons almal van ons geestelike erfenis in die Messias, Jesus Christus te beroof. Alle volgelinge van die Messias behoort dit as hulle hoogste roeping te aanvaar om: (a) die ware evangelie met sy vrymakende krag aan alle volke te verkondig, beginnend by die Jode; en (b) om alle mense te waarsku, maar veral ook vir Israel, teen die vernietigende gevolge van geestelike misleiding. In hierdie artikel word die duiwel se strategie vir die geestelike verblinding van Israel bespreek. Slegs die lig van die ware evangelie kan die duisternis van misleiding verdryf. Die Messias is vol van genade en waarheid (Joh. 1:14) en sy Woord is die enigste tydlose standaard vir Goddelike waarheid.

Die doel met misleiding

Geestelike misleiding is ’n baie algemene kenmerk van die laaste dae in die kerkbedeling. Een van die belangrike redes vir hierdie verskynsel is dat die wêreld deur godsdienstige bedrog voorberei word om ’n valse Messias in plaas van die ware Messias te aanvaar. Sodoende onderwerp hulle hulself, sonder dat hulle dit altyd besef, aan oorheersing deur die valse teologie van die renegaatkoninkryk van “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Dié soort misleiding vind plaas onder alle nasies, en spesifiek ook onder die volk Israel. Foutiewe idees oor die persoon en identiteit van die Messias is baie populêr onder oningeligte, postmoderne samelewings waarin mense van die Woord van God vervreem geraak het. Volgens alle aanduidings sal godsdienstige misleiding uiteindelik na ’n wêreldwye beweging lei waarin feitlik alle mense verwonderd agter die Antichris sal aangaan en hom ook as die “verlosser” van die wêreld sal aanbid (Op. 13:3-4).

Die Joodse volk, by uitstek, word aan intensiewe demoniese misleiding blootgestel omdat ’n gelowige oorblyfsel van hulle volgens die Bybel bestem is om met die ware Messias versoen te word, en daarna as God se volk ’n belangrike rol in die duisendjarige vrederyk te vervul. Die sinistere doel met die veldtog van misleiding is dat die Jode steeds die ware Messias, Jesus Christus, sal verwerp en hardkoppig sal aanhou om te wag vir ’n ander Messias, wat Satan se vervalsing is.

Die ernstige implikasies daarvan om Hom as Messias en Verlosser te verwerp, is deur die Here Jesus aan Israel uitgewys, naamlik dat hulle geestelik ’n verkeerde weg sou inslaan wat sou lei tot die navolging van valse profete en valse christusse, en uiteindelik ook van die valse Messias: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Die duiwel se oogmerk is om saam met Israel ook die ganse Christelike kerk van die ware Christus afvallig te maak, sodat hy die hele misleide wêreld onder die gesag van sy valse Christus kan plaas (2 Kor. 11:2-4). In hierdie artikel kyk ons egter spesifiek na die misleiding waaraan Israel onderwerp word, omdat hierdie volk volgens ’n groot aantal profetiese beloftes ’n sentrale rol in die openbaring en funksionering van God se koninkryk op aarde gaan speel. Die volgende is die vier belangrikste beloftes wat in die eindtyd in verband met Israel in vervulling sal gaan:

·        Die hele oorblyfsel van Israel sal gered word wanneer Christus aan die einde van die verdrukking na Jerusalem terugkeer en sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5; Rom. 11:26; Sag. 12:10; 13:9; Jer. 31:31-34).

·        Die geredde Israel sal almal in hulle eie land herstel word en veilig daar woon (Jes. 11:11-12; Jer. 23:6; 31:7-8; Eseg. 39:25-29).

·        Israel sal die Here se spesiale getuies onder die nasies wees en die wêreld vol vrugte maak vir God se koninkryk (Jes. 27:6; Rom. 11:12).

·        Die troon van Dawid sal in Jerusalem herstel wees, die Messias sal daar regeer en al die nasies sal daarheen optrek om deur Hom geleer te word (Hand. 15:16-17; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:22-23; 14:16).

Bogenoemde is almal belangrike kenmerke van die geopenbaarde koninkryk van God op aarde, en dit is duidelik dat Israel ’n sentrale rol daarin sal speel. Dit sal alles ten koste van die Antichris se valse koninkryk tydens die sewe jaar-lange verdrukking gebeur, en dit is die groot rede waarom die duiwel alles moontlik in werking stel om die vervulling van die beloftes oor Israel se herstel en Christus se wederkoms te voorkom. Hy besef baie goed dat as hy Israel se fisiese én geestelike herstel in hulle land kan verhoed, en ook hulle Messias kan oorwin en doodmaak wanneer Hy weer kom (Op. 19:19), hy die Bybel verkeerd sal bewys en dan die Antichris se sataniese koninkryk onbepaald sal kan voortsit. Ons nader nou ’n baie intensiewe en deurslaggewende fase in Satan se rebellie teen die koninkryk van God.

’n Tweeledige aanslag

Daar word duidelik twee verskillende strategieë in die stryd teen Israel gebruik.

Die eerste een is op hulle vernietiging ingestel, en met die oog hierop hits die duiwel Israel se vyande aan om hulleself te bewapen en Israel as volk te verdelg. Ons lees oor hierdie bose plan in Psalm 83:5: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” Israel is onophoudelik by vyandighede en oorloë teen die volke rondom hulle gewikkel. Dit is inderdaad ’n stryd om oorlewing, en as gevolg van hierdie bedreiging het hulle ’n verhoogde verwagting op die koms van die Messias sodat Hy hulle finaal kan verlos.

Die tweede strategie is baie subtiel maar net so vernietigend vir die voortbestaan van die volk. Hierdie strategie het betrekking op geestelike misleiding en is daarop gerig dat Israel nie geestelik moet ontwaak om gered te word sodat hulle hul roeping as God se volk kan vervul nie. Op hierdie terrein benader die duiwel Israel nie as ’n wraakgierige vyand nie, maar kom soos ’n engel van die lig om ’n (valse) messias aan hulle te bied, saam met die herhalende beoefening van uitgediende godsdienstige gebruike. Op hierdie manier, hoop hy, sal hulle sy valse messias aanvaar en aanbid en sodoende totaal van die ware God vervreemd raak. ’n Omvattende program is ingestel vir die geestelike misleiding van Israel. Dit behels die volle herlewing van hulle Ou-Testamentiese, wettiese godsdiens, want dit sal verseker dat die meerderheid Jode nie Jesus Christus se evangelie van genade wat in die plek van die wet gekom het, sal aanvaar nie. Die volgende is aspekte van Israel se tradisionele geloof, waarin Christus glad nie as die vervulling van Messiaanse profesieë erken word nie:

Die tempeldiens

Israel se tradisionele godsdiens is rondom die tempeldiens gebou en kan nie tot sy reg kom sonder dat daar ’n ten volle funksionerende tempel in Jerusalem is nie. Moderne Israel is op die drumpel van die herlewing van hulle Ou-Testamentiese tempelkultuur en die terugkeer na hierdie gebruike sal verreikende gevolge hê vir die hele Joodse volk – insluitend hulle regeringsvorm. Die volgende hervormings word deur die leiers van die tempelprojek in die vooruitsig gestel:

·       Die wortels van die Joodse kultuur moet volgens godsdiensleiers na die tempeldiens herlei word, daarom móét daar ’n tempel in die voorgeskrewe plek op die Tempelberg in Jerusalem wees. Die eindtydse herstel van Israel in hulle eie land word nie as volledig beskou voordat die tempel as die hoogste politieke, godsdienstige en kulturele instelling herbou en in bedryf gestel is nie. Die tempel word as die hart van Bybelse Jerusalem en die hele volk beskou. Hierdie sentiment word deur baie Jode gedeel, soos onder andere uit ’n groot aantal Joodse Facebook-inskrywings blyk.

·       Volgens die ortodokse Joodse geloof kan daar geen versoening tussen God en die mens wees sonder dat daar gereelde offers in die tempel vir die vergifnis van die volk se sondes gebring word nie: “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22; Lev. 17:11). Ortodokse Jode wat nie die finale offer van die Messias as die Lam van God aanvaar nie (vgl. Joh. 1:29; Heb. 10:1-18), sien vir hulleself geen alternatief as om na die Ou-Testamentiese offerdiens terug te keer nie. Jode wat nie hierdie siening met hulle deel nie, word as afvalliges en selfs vyande van Israel beskou. Dit sluit al die Messiaanse gemeentes in waarin Jesus Christus as Messias en Verlosser verkondig word, en hulle ervaar groot teëstand van ortodokse Jode.

·       ’n Nuwe vorm van internasionale verhoudings word deur die tempeldiens en sy geassosieerde teokratiese regeringsvorm in die vooruitsig gestel. Jesaja 2:2-4 word dikwels ter ondersteuning van hierdie visie aangehaal, omdat Jerusalem in dié gedeelte as ’n wêreldhoofstad beskryf word waarin ’n regering van geregtigheid vir alle nasies gevestig sal word. God sal regeer en dit sal daartoe lei dat alle vyandigheid tussen nasies gestaak word. Die bou van die sogenaamde “derde tempel” word met die koms van die Messias geassosieer en Hy sal Israel tot ’n seën vir alle nasies maak. Ortodokse Jode ontken egter dat Jesus die Messias is, daarom wag hulle noodwendig vir die valse Messias.

Voorbereidings vir die herbouing van die tempel is in ’n gevorderde stadium, en dit lei na groot verwagtings vir die spoedige koms van die Messias – dié een wat volgens ortodokse Jode die tempeldiens en die wet in ere sal herstel. Verskeie godsdienstige liggame wat tydens Israel se verstrooiing in onbruik geraak het, herleef nou om die tempelkultuur te help herstel.

Die nuwe Sanhedrin

Die Sanhedrin is ’n tradisionele Joodse raad van godsdiensleiers wat in Bybelse tye in Israel die hoogste regsplegende liggaam binne die raamwerk van die Tora was. Op 13 Oktober 2004, ná byna twee millennia, is daar weer ’n Sanhedrin in moderne Israel saamgestel. Hierdie liggaam geniet egter nie amptelike status in die land nie en word net deur ortodokse Jode erken. Die nuwe Sanhedrin bestaan uit 71 vooraanstaande rabbi’s en ander Joodse geleerdes.

Die stigters van die moderne Sanhedrin sê hulle doen net hulle plig om só ’n raad saam te stel. Gedurende die tyd van die tweede tempel (die tempel van Herodes in die eerste eeu) was daar ’n Sanhedrin wat in Joodse regspraak uit ’n godsdienstige oogpunt, met die hoogste gesag beklee was. Die 71 lede van die Raad het in ’n spesiale vertrek op die tempelterrein in die vorm van ’n halwe sirkel gesit.

Op byeenkomste van die huidige Sanhedrin word onder andere die moontlikheid van die herbouing van die tempel in Jerusalem bespreek. Rabbi Chaim Richman, een van die uitvoerende raadslede, het gesê dit is paslik dat die nuwe Sanhedrin met besinning oor die tempel begin, omdat die tempel van groot belang vir die kulturele en godsdienstige identiteit van die Joodse volk is. Hy het dit betreur dat die Joodse regering uit sekere gedeeltes van Israel se grondgebied onttrek en sodoende van Israel se droom van volle herstel afgesien het. Die Sanhedrin soek egter na maniere om die wortels van die Joodse geloof te versterk en Israel weer as die uitverkore volk rondom die tempeldiens en die Tora te verenig.

Die Sanhedrin erken glad nie die huidige demokratiese regering van Israel nie, en het dit vir hulleself ten doel gestel om vir die land ’n koning te kies. Dit plaas hierdie ortodokse leiers op ’n gevaarlike pad, omdat die valse messias homself as ’n afstammeling van koning Dawid sal voordoen en op Israel se koninklike troon aanspraak sal maak.

Hulle terugkeer na die eise van die Tora het die Raad vroeg in 2007 daartoe gelei om briewe aan alle regerings te skryf waarin hulle aandui dat die wêreld op ’n rampspoedige koers is. Hulle stel voor dat die tempel na aanleiding van Jesaja 2:2-4 in Jerusalem herbou word sodat God se teenwoordigheid weer ervaar kan word om vrede op aarde te verseker.

Om begryplike redes sal die Sanhedrin baie bly wees wanneer die valse messias op die toneel verskyn, want hy sal homself as die ware Messias voordoen en tot hulle harte spreek deur aan Israel die reg te gee om die tempel te bou. Groot ontnugtering sal egter hierop volg.

Die Tempelinstituut

Rabbi Chaim Richman van die Sanhedrin is ook hoof van die Tempelinstituut in Jerusalem. Hierdie Instituut is besig met die versameling en vervaardiging van meubelstukke, altare, en spesiale toerusting en kledingstukke vir priesters, wat vir die hervatting van die tempeldiens nodig is. Hulle het reeds ’n goue kandelaar en koperwaskom laat maak, asook ’n goue kroon vir die hoëpriester. Die kleed en mus van die hoëpriester is gereed, asook uitrustings vir 120 van die gewone priesters.

Al hierdie items moet nog gereinig word deur dit met spesiaal voorbereide reinigingswater te besprinkel (vgl. Num. 19:1-9). Hiervoor is dit nodig om eers ’n rooi vers te vind waaraan geen haar van ’n ander kleur is nie. Die vers moet dan geslag en verbrand word, sodat daar telkens ’n bietjie van die as vir die bereiding van heilige water gebruik kan word. Die probleem is egter dat die oorblyfsels van die vorige rooi vers se as eers gevind moet word en ter wille van kontinuïteit bo-op die huidige vers geplaas moet word wanneer dit ritueel verbrand word.

Argeoloë soek steeds na ’n houer met as uit die tyd van die tweede tempel, asook na die ark van die getuienis (die verbondsark) wat op ’n onbekende plek versteek is. Indien die as van die vorige rooi vers nie betyds gevind word nie, en daar ook nie in Israel ’n rooi vers gebore word wat aan die voorskrifte van die wet voldoen nie, kan die tempeltoerusting nie gereinig word nie.

Chaim Richman sê: “Die tempeltoerusting is in ’n toestand van onreinheid vervaardig, omdat almal van ons tans onrein is. Ons sal ook onrein bly totdat ons ’n rooi vers kry waarvan die as op die wyse wat deur die Tora voorgeskryf is, vir reinigingseremonies gebruik kan word. Indien geen rooi vers gevind kan word nie, beteken dit dat die hoëpriester op die Groot Versoendag die Allerheiligste in ’n toestand van onreinheid sal betree.”

Watter groot voordeel het ons nie in die Nuwe Testament nie, om deur die bloed van die Lam gereinig te word wanneer ons deur die geskeurde voorhangsel na die genadetroon van die Here toetree. Ons het nie aardse priesters as middelaars nodig nie, omdat ons ’n groot Hoëpriester het wat vir ons die weg berei het (Heb. 10:19-22). Ortodokse Jode verbeur deur hulle eie toedoen die voorreg om deur die bloed van die Lam besprinkel en van sondes gereinig te word.

Priesterskole

Verskeie Jode uit die stam van Levi word as priesters in spesiale priesterskole in Jerusalem en New York opgelei. Daar is 613 Ou-Testamentiese wette waarvan hulle kennis moet dra. In Julie 2007 is daar ’n groot konferensie vir priesters en Leviete in Jerusalem gehou. Jode met die van Cohen stam almal af van die heel eerste priester, Aäron, en mag dus as priesters opgelei word.

Nuwe brandofferaltaar

Die moderne Sanhedrin is só sterk ingestel op versoening met God deur middel van Israel se Ou-Testamentiese offerdiens, dat hulle in November 2009 volgens Bybelse voorskrifte met die oprigting van ’n brandofferaltaar begin het. Ná die voltooiing daarvan is uitnodigings aan Jode oral in die wêreld gestuur om die Paasfees van 29 en 30 Maart 2010 (’n rabbynse datum) in Jerusalem by te woon wanneer paaslammers geslag en offers op die nuwe altaar gebring sou word. Genoeg lammers sou aan Jode voorsien word om hierdie offers in ooreenstemming met Exodus 12 te bring.

Die Israelse regering het egter nie toestemming vir hierdie beplande offers verleen nie, uit vrees dat dit kon lei na hernude onluste onder die Palestyne wat steeds beheer oor die Tempelberg het en sterk teen die herbouing van die Joodse tempel gekant is.

’n Nuwe benadering

Die opspraakwekkende nuus vanaf die Sanhedrin uit Jerusalem is dat die derde tempel ’n huis van gebed sal wees vir al die monoteïstiese gelowe, waarvan Judaïsme, die Christendom en Islam die belangrikste is. Die Here se woorde in Jesaja 56:7 word as regverdiging hiervoor aangehaal: “... want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.” Hierdie stelling word verkeerdelik op ’n multigodsdienstige manier vertolk om ook erkenning aan die groot nie-Bybelse gelowe soos Islam te gee.

Daar is ’n Joodse webtuiste wat die idee van “God se heilige berg” vir alle gelowe aktief bevorder, naamlik www.godsholymountain.org/. Volgens huidige beplanning sal die tempeldiens met godsdienstige aktiwiteite in nabygeleë moskees en Rooms-Katolieke aanbiddingsplekke verenig word. Die uitvoerende direkteur van die Tempelinstituut, Jehuda Glick, sê dat daar op die koms van die Messias gewag word, want net Hy kan aan Israel toestemming verleen om die tempel te bou.

Die multigodsdienstige denke wat ten grondslag lê van die veldtog vir die herbouing van die  tempel in Jerusalem, is presies in ooreenstemming met dit wat die Bybel oor die tempel van die komende verdrukking sê. Volgens Johannes sal daar in die eindtyd ’n valse messias op die toneel verskyn wat deur alle gelowe nagevolg en aanbid sal word: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:2-7).

Die belofte in Haggai 2:9 word ook oor die herboude tempel aangehaal: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre ... en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.” Hierdie belofte word deur die Sanhedrin aan alle nasies voorgehou, maar sonder dat hulle van hul eie geloofsvorm afstand hoef te doen. Vooraanstaande ortodokse Jode het die multigodsdienstige idee van ’n tempel vir alle gelowe aanvaar. Dit is baie duidelik dat die valse Messias een of ander tyd sal opdaag om toestemming vir die bou van die derde tempel te verleen.

Regering van die Antichris

Die Antichris sal nie net deur Israel as hulle Messias-Koning erken word nie (vgl. Joh. 5:43), maar ook deur al die nasies van die wêreld. Hierdie valse vredevors sal internasionaal aanvaar en deur middel van formele verbonde as godsdienstige en politieke wêreldleier erken word. Die verbond met hom sal geldig wees vir ’n tydperk van sewe jaar, wat in Israel as ’n jaarweek bekend is. “Hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan 9:27).

Die verdrukking van sewe jaar word duidelik in twee helftes verdeel. Die eerste helfte word deur ’n valse vrede gekenmerk, wanneer al die misleide gelowe die Antichris as hulle gemeenskaplike Messias sal erken. Die tweede helfte van die verdrukking word deur ’n militêre diktatuur gekenmerk, asook die gedwonge aanbidding van die Antichris as die God van hierdie wêreld. Alle nasies sal aan die begin van die jaarweek toegelaat word om met hulle eie godsdiens voort te gaan, op voorwaarde dat almal van hulle die nuwe wêreldleier as hulle gemeenskaplike messias erken, aanbid en navolg. Die Antichris sal dus die Messias vir die Jode wees, Christus vir die misleide Christene, Krisjna vir die Hindoes, die vyfde Boeddha vir die Boeddhiste en die Imam Mahdi vir die Moslems.

Al die groot godsdienste sal hulle agter hierdie selfverklaarde God-mens skaar – insluitend die vervalste Christelike kerke wat ná die wegraping nog feitlik teen volle sterkte sal funksioneer. Dit is dié kerke wat voor die tyd reeds die maagdelike geboorte, Godheid en opstanding van die ware Christus ontken en saam met baie ander fundamentele Christelike leerstellings verwerp het. As gevolg van hulle geestelike verraad teen die evangeliese Christendom sal hulle ywerige navolgers van die valse Christus van alle gelowe wees en hulleself ten volle in sy wêreldwye sondekultuur uitleef. Die Bybel beskryf hierdie valse Christus in terme van sy werklike karakter as “die Antichris” (1 Joh. 2: 18) en “die mens van sonde” (2 Thess. 2:3).

Die bou van die derde tempel in Jerusalem sal 100% by die valse Messias se plan van aksie inskakel, omdat hy daardeur twee van sy doelwitte sal bereik: Eerstens sal hy verseker dat ortodokse Jode deur die herinstelling van diere-offers daarvan weerhou sal word om hulle toevlug na Christus en reiniging deur die bloed van die Lam te neem. Tweedens sal hy die Allerheiligste in die tempel gebruik om homself in die middel van die verdrukking tot God te verklaar en sodoende die finale stadium van sy rebellie teen God te bereik.

Só sterk sal die Antichris aangevuur word deur sy neiging tot selfvergoddeliking, dat hy homself uiteindelik as die onbetwiste God van alle mense sal verklaar. Hy sal homself dus bokant alle godsdienste verhef om nie net ’n messias vir hulle te wees nie, maar God self. Paulus beskryf hom as “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).

By hierdie geleentheid, ná 3½ jaar van verdrukking, sal die Antichris nie net Israel se daaglikse slagoffers en spysoffers in die herboude tempel verbied nie, maar ook alle ander godsdienste afskaf en selfs hulle aanbiddingsplekke laat afbreek of verbrand. Die dier en die konings wat saam met hom oor die wêreld regeer, “sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).

Die herlewing van Israel se ortodokse geloof tydens die bou van die derde tempel sal dus net 3½ jaar lank voortduur en in ’n groot tragedie vir hulle eindig. Die Here Jesus het duidelike raad aan Israel gegee oor wat om te doen op daardie onheilspellende dag wanneer die Antichris homself tot God verklaar en ’n afgodsbeeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat plaas. Israel sal onmiddellik besef dat hy ’n valse messias is en hulle verbond met hom verbreek. Hulle sal dan baie haastig uit Jerusalem en omstreke moet vlug, want die Antichris sal almal wat hom as God en Messias verwerp, met die banvloek probeer tref. Die ware Messias het hierdie vlug só beskryf:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [dit is die afgodsbeeld van die Antichris], waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Daniël het lank gelede reeds na hierdie eindtydse diktator verwys en gesê: “Deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel (die afgodsbeeld van die dier) opstel. ... En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en groot hou bo enige god. ... [Hy sal] met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:31, 36, 44).

Israel se voortgesette nasionale verwerping van Jesus se Godheid en Messiasskap baan die weg vir die sluiting van ’n verbond met die Antichris. Hulle sal eers in ’n laat stadium agterkom dat hulle weens hul eie leiers se verkeerde raad en keuse ’n baie duur fout gemaak het. Foutiewe godsdienstige persepsies kom natuurlik in die eerste plek van die vader van die leuen af (Joh. 8:44), maar mense wat hierdie leuens onnadenkend aanvaar, sal self die gevolge daarvan moet dra. Vir misleides in Israel wag daar die tyd van benoudheid van Jakob (Jer. 30:7) wanneer hulle selfaangestelde Messias hulle met die onmoontlike eis sal konfronteer om hom as God te aanbid.

Die ware Messias sal eers aan die einde van hierdie tyd van groot benoudheid kom en sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5). Op daardie dramatiese dag sal Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en bitterlik ween oor hulle sondes wat geslagte lank gepleeg is deur Jesus te verwerp (Sag. 12:10). Hy het hulle gewaarsku dat hulle huis (Jerusalem) woes gelaat sou word totdat hulle tydens sy wederkoms vir Hom sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39; vgl. Ps. 118:26). Eers dan sal die name van al die afgode en valse profete uit hulle land uitgeroei en slegs die ware Messias gedien word (Sag. 13:2).