Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)
Die Bybel bevat baie inligting oor die eindtyd, en veral oor toestande in die Midde-Ooste. Die herstel van Israel in hulle godgegewe land is ‘n belangrike tema in die Bybel. Die vyandigheid wat hulle hier van hulle buurnasies sal ervaar (spesifiek die Arabiese volke), word breedvoerig in die Bybel beskryf. Dit word selfs daarop gewys dat Israel in ‘n stadium deur ‘n węreldmag omsingel en beleër sal word. Volgens die Bybel is Israel en Jerusalem nie slegs die fokuspunt vir Christus se eindtydse węreldregering nie, maar voor daardie tyd ook vir dié van die Antichris, wat deur al die nasies nagevolg en aanbid sal word (Op. 13:3-4,7). Groot oorloë word vir hierdie tyd voorspel, asook geweldige natuurrampe (Matt. 24:6-7). Ernstige godsdienstige misleiding en ‘n venynige haatveldtog teen Jode en Christene sal voorkom en veral sterk in die Midde-Ooste manifesteer (Matt. 24:4-5, 23-27; Sag. 12:2-3).
In die lig van hierdie scenario moet ons nie voeling met die Bybel verloor nie – ook nie met die verloop van godsdienstige, politieke en militęre toestande in die Midde-Ooste nie. Al die aspekte van hierdie belangrike saak moet noukeurig ondersoek word as ons dit reg wil vertolk en ook seker wil maak dat ons lojaliteite altyd reg bepaal word. Die węreld se toekoms is in historiese tye in die Midde-Ooste bepaal, en in die eindtyd sal dit in nog meerdere mate die geval wees. Die Bybel verwys na die volgende belangrike gebeurtenisse in dié gebied:
God het die land Israel in ‘n plegtige verbond aan Israel se stamvaders, Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag gegee as ‘n ewige woonplek (Gen. 13:14-15; 26:3; 28:13). Voordat die volk Israel die land in besit geneem het, is dit Kanaän genoem (Gen. 17:7-8), maar daarna Israel – nie Palestina nie. Dikwels word daar net na die streke of provinsies van Israel verwys, nl. Judéa, Samaría en Galiléa.
Wanneer Israel in die eindtyd in hulle godgegewe land herstel word, kom hulle spesifiek terug na Israel, ongeag wat vreemde besetters ook al die land mag noem. Die Here sę: “Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17; vgl. Eseg. 20:42).
Israel se lang tye van verstrooiing uit die land as gevolg van geestelike afvalligheid, het nooit die ewige verbond tussen God en hulle ongedaan gemaak nie. Al is hulle ontrou, God bly getrou (Lev. 26:44-45). Die Here bring Israel in die eindtyd na hulle land terug, sodat hulle hier gelouter en ‘n oorblyfsel van hulle geestelik herstel kan word (Eseg. 22:18-22; Jer. 30:7; Sag. 13:1,8-9; Rom. 11:25-28). Hulle sal beslis nog ten volle as God se volk herstel word:
“Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste... En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:24-28).
Wanneer Israel ná die donker dae van die groot verdrukking tydens die koms van die Messias almal gered word (Sag. 12:10-12; Jer. 31:31-34), sal hulle hoog aangeskrewe wees en geëer word deur al die nasies van die węreld (Sag. 8:23; Jes. 60:11-15).
Die woord “episentrum” beteken “middelpunt”. Die Messiaanse Jood, Joel Rosenberg, gebruik hierdie begrip in sy boek Epicenter om aan te toon dat Israel die middelpunt van die aarde is, dat Jerusalem die middelpunt van Israel is, en dat die Tempelberg wat deel van die berg Sion is, die middelpunt van Jerusalem is. Jerusalem is ‘n absolute fokuspunt vir die hele węreld: Hier het Christus die losprys vir die sonde van die hele węreld betaal, van hierdie stad af het Hy na die hemel toe opgevaar, hier is die Heilige Gees uitgestort en die Christelike kerk gevestig, van hier af is die boodskap van verlossing na die hele węreld uitgedra, na hierdie stad toe gaan Jesus Christus terugkom, sy vrederyk vestig en dan die hele węreld van die herstelde troon van Dawid af regeer.
In die komende bedeling sal Jerusalem verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:6-7). Al die nasies sal optrek na “die stad van die groot Koning” (Ps. 48:3) om die Here te eer en te raadpleeg, en hulle sal almal in vrede leef sonder om hoegenaamd enige oorloë te voer (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:20-22).
Dit is vanselfsprekend dat, in die lig van Jerusalem se belangrike historiese en profetiese betekenis, die alternatiewe koninkryk van die duisternis ook op hierdie stad en land in die middelpunt van die aarde beslag sal probeer lę. Hulle sal die land aan ‘n volk van hulle eie keuse toeken, hulle eie ‘Christus’ as verlosser aan die węreld bied, en ook ‘n węreldregering aan die mensdom bied wat sal poog om die vyandige en godsdienstig verdeelde nasies te verenig.
Dit verklaar die groot vyandigheid waarmee Israel sedert hulle herstel in 1948 begroet is. Tydens hulle lang afwesigheid het die koninkryk van die duisternis genoeg tyd gehad om ‘n alternatiewe monoteďstiese godsdiens in die Midde-Ooste te vestig waarin ‘n valse god in die plek van die Bybel se Drie-enige God aanbid word, die land se naam van Israel na Palestina te verander, ‘n aantal rondtrekkende Arabiere te versamel en tot ‘n Palestynse volk te verklaar, en ook op die Tempelberg beslag te lę en drie moskees tot die eer van hulle god en sy profeet daar te bou.
Die groot invloed wat Israel se Arabiese en Islamitiese vyande in die Midde-Ooste en die hele węreld geniet, is hoofsaaklik aan hulle olierykdom te danke. Die węreld kan nie eers ‘n maand lank sonder die volgehoue lewering van hierdie “swart goud” klaarkom nie, daarom sal hulle alles doen om die oliebaronne gelukkig te hou. Hulle is selfs besig om aan Islam se eis te voldoen om die land Israel – en die stad Jerusalem – tussen die Jode en Palestyne te verdeel.
Amerika sing voor in die koor met sy tweestaatoplossing. Hierdie idee word nou deur die hele węreld aanvaar, en groot druk word op Israel toegepas om uitvoering daaraan te gee. Indien hulle dit nie spoedig doen nie, is daar planne in plek om Palestina in September 2011 met die volle steun van die internasionale gemeenskap eensydig onafhanklik te verklaar.
Dit is hierdie ongeregverdigde haatveldtog teen Israel wat daartoe gaan lei dat die Here in die eindtyd alle nasies sal toelaat om teen Jerusalem op te trek, sodat Hy daar met hulle in die gerig kan tree (Sag. 12:2-3; 14:2-3; Joël 3:2).
Israel se Arabiese bure (die gematigdes én radikales) vorm ‘n verenigde front teen Israel en is op die totale vernietiging van die Joodse staat ingestel. Verskeie van die oorloë wat sedert 1948 in die Midde-Ooste gevoer is, was tussen Israel en sy Arabiese bure. Dié nasies het nog nie hulle sinistere doel bereik nie, want die Here het Israel in sy oorlewingstryd gehelp. Dit het hierdie vyande net nog meer fanaties gemaak, en hulle haat vir die Jode sal voortgaan tot op die stadium dat hulle sal saamsweer om Israel van die aardbodem af te verdelg:
“o God, hou U nie stil nie, swyg nie en rus nie, o God! Want kyk, u vyande maak rumoer, en u haters steek die hoof op. Teen u volk smee hulle listig ‘n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes. Hulle sę: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ‘n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Amalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ‘n arm vir die kinders van Lot” (Ps. 83:2-9).
In hierdie gedeelte word die antieke volke genoem waaruit die moderne Arabiese volke afgestam het. Die noordelike Arabiere, waaronder ook Mohammed en sy volgelinge, stam van Ismael af en beskou hulleself as Ismaeliete. Volgens hulle vererf die beloftes aan Abraham deur sy oudste seun, Ismael, na Mohammed en sy opvolgers. Die suidelike Arabiere (Egipte en naburige volke) beweer dat hulle van Kagtan afstam, wat waarskynlik op Joktan dui (Gen. 10:25-30). Al die Arabiere, soos die Jode, stam van Sem af en is dus Semitiese volke. Dit is dus teenstrydig om te beweer dat die Arabiere anti-Semities is wanneer hulle die Jode haat, omdat hulle self Semiete is. Hierdie term is voor die Tweede Węreldoorlog deur Hitler geskep toe die Jode as die belangrikste verteenwoordiger van die Semitiese volke beskou is.
Grootskaalse Arabirisering het in die 7de en 8ste eeue plaasgevind tydens die veroweringstogte van Islamitiese Arabiere. Taalkundige en kulturele assimilasie het plaasgevind, met die gevolg dat baie mense van ander volke hulleself daarna ook as Arabiere beskou het. Daar is tans sowat 286 miljoen Arabiere in die Midde-Ooste en Noord-Afrika en nog 14 miljoen wat verstrooid in ander lande van die węreld woon – saam is hulle 300 miljoen. Die Arabiese Bond wat in 1946 gestig is, beskou ‘n Arabier as ‘n persoon wat in ‘n Arabiese land woon, of wie se taal Arabies is, en wat met die aspirasies van die Arabiessprekendes identifiseer. Baie van die afstammelinge van Nimrod in die huidige Sirië (die antieke Assiriërs) beskou hulleself ook as Arabiere. Die psalmis sę Assur het by die ander Arabiese groepe aangesluit (Ps. 83:9).
Israel word deur ‘n reuse oormag Moslemgesinde Arabiere in die Midde-Ooste omring. Baie van hulle soek Israel se ondergang en beplan om ‘n oorhoofse Moslemstaat in die grondgebied van Israel te vestig met Jerusalem as hoofstad. Sjeik Riyad Salah, die hoof van die Islamitiese Beweging in Israel, verkondig aktief die beginsels van ‘n Islamitiese revolusie: “Ons is voor die poorte van ‘n Islamitiese revolusie,” sę hy aan die Arabiere van Israel. “Die węreldwye magte van boosheid sal in ‘n Islamitiese revolusie uitgeskakel en deur ‘n Islamitiese węreldstaat vervang word, met Jerusalem as hoofstad.” Voordat dit kan gebeur, moet daar van Israel ontslae geraak en die Palestyne in hulle plek gestel word. Jodehaat is ‘n wesenlike deel van Islam se węreldbeskouing en word van jongs af by hulle kinders ingeskerp.
Volgens Esegiël 38 en 39 gaan verskeie Arabiese lande, saam met ander Moslemlande onder die aanvoering van Rusland, ‘n geweldige aanslag op Israel loods om hierdie land tot ‘n val te bring en van die węreldkaart af uit te wis. Gog in die land Magog (dit is die land ten noorde van die Kaukasusgebergte, m.a.w. die moderne Rusland) sal Israel aanval saam met Persië (Iran), Togarma (Turkye), Kus (Ethiopië), Put (Libië), en Gomer (Duitsland of dalk een of ander Oos-Europese volk). Ander lande sal ook by hulle aansluit om ‘n baie groot mag te vorm.
Israel se vyande beplan om Rusland se betrokkenheid vir hierdie groot oorlog te verkry. Vir Rusland is daar die voordeel van belange in die Midde-Oosterse olievelde. Hulle sou ook die moontlikheid wou voorkom dat Sjina die Arabiere militęr help indien Rusland self sou weier om dit te doen. Hoewel teësinnig, sal Rusland volgens die Bybel instem om aan ‘n uitwissingsoorlog teen die Joodse staat deel te neem (Eseg. 38:4).
Die oorlog van Esegiël 38 en 39 kom onwrikbaar nader. Die Here gaan Homself op ‘n besondere manier deur die voorkoming van hierdie oorlog openbaar (Eseg. 38:16). Die skielike en bonatuurlike verdelging van die invalsmagte deur vuur word duidelik genoem (Eseg. 39:4-6). Daar sal ook ‘n baie groot aardbewing in Israel wees (Eseg. 38:19).
Rusland, Israel én al die nasies sal God op grond van hierdie duidelike, bonatuurlike ingryping erken. Dit sal ‘n groot verandering in denke meebring, want die meeste volke van die węreld, ook Israel, het tot ‘n groot mate in ongeloof, materialisme en humanisme verval en as gevolg daarvan die Drie-enige God en sy Woord verwerp, geďgnoreer of gedegradeer. Omtrent almal van hulle het die Christendom met die heidense gelowe gelykgestel. Op ‘n tipies postmoderne manier beskou hulle die godsdienstige aansprake en morele riglyne van die Bybel as oudmodies, irrelevant en uitgedien.
Met die bonatuurlike vernietiging van Israel se vyande sal die nasies erken dat die God van Israel en die Bybel die ware God is wat gevrees en gedien moet word. Hierdeur sal die ideologieë van ateďsme, agnostisisme en sekularisme nietig verklaar word. Daar sal egter so min kennis van God wees dat hulle die verkeerde persoon, die Antichris, as Christus en gesant van God sal aanvaar. Hy sal die nasies se ontsag vir bonatuurlike tekens uitbuit en saam met die valse profeet vir ‘n skouspel van tekens en wonderwerke sorg (2 Thess. 2:9-10; Op. 13:12-14). Die mensdom sal dit in verbystering aanvaar.
Die Antichris en valse profeet se tekens en wonderwerke sal só verbysterend wees, en die Antichris se aanspraak dat hy van koning Dawid afstam en namens alle gelowe na die aarde gestuur is, so oortuigend klink, dat selfs Israel mislei sal word om hom as hulle beloofde Messias aan te neem (Joh. 5:43). Hy sal krediet opeis vir die skielike beëindiging van die dreigende oorlog in Israel, en dit sal oornag van hom ‘n vredevors en onbetwiste węreldleier maak. Die nie-Joodse nasies sal saam met Israel ‘n sewe-jaar lange verbond met hom sluit en hom as hulle leier erken. Hulle sal verwonderd agter hom aangaan (Op. 13:3-4) en groot eer aan hom betoon omdat hy die mensdom uit ‘n dreigende węreldoorlog gered, ‘n besliste ekonomiese ineenstorting voorkom, en die sukkelende węreldekonomie herstel en weer op dreef gekry het.
Die Antichris sal ruim van elektroniese hulpmiddels gebruik maak om sy węreldregering te bedryf. Hy sal onder meer ‘n rekenaarbeheerde, kontantlose monetęre stelsel instel, waarin niemand sonder ‘n nommer sal kan koop of verkoop nie (Op. 13:16-18). Die tegnologie is reeds ontwikkel om aan elke ekonomies aktiewe persoon ‘n klein silikonskyfie met ‘n mikroprosesseerdertjie daarin te voorsien. Dit sal in ‘n glaskapsule gesit en onder ‘n persoon se vel ingespuit word – op sy hand of sy voorkop.
Elkeen sal ‘n unieke identiteitsnommer hę wat op ‘n węreldwye rekenaarnetwerk geregistreer sal wees en ook sy bankrekening elektronies sal debiteer wanneer aankope gedoen word. Die oomblik wanneer die persoon sy hand of voorkop naby ‘n skandeerder hou, sal al sy besonderhede bekend wees en sy rekening dadelik gedebiteer word. Terselfdertyd sal sy presiese bewegings ook bekend wees en niemand sal veel vryheid geniet nie.
Die nommer waarvan Openbaring 13:16-18 praat, word spesifiek “die nommer van die dier” (die Antichris) genoem. Om dit te kan kry, sal ‘n persoon eers ‘n eed van getrouheid aan hierdie heerser moet aflę. Dit sal die erkenning van sy węreldregering behels, asook die bereidwilligheid om hom as węreldmessias te aanbid. Dit sal eers in die middel van sy sewe- jaar lange regering op almal afgedwing word. Mense wat aan hierdie voorwaardes voldoen net om ‘n nommer te kry, sal in werklikheid hulle siele aan die duiwel verkoop omdat hulle ook verplig sal wees om die Antichris en sy beeld te aanbid. Die oordele van God is reeds oor sulke mense uitgespreek (Op. 14:9-11).
Die toekomstige e-regering van die Antichris sal mense van alle basiese vryhede beroof: vryheid van geloof, vryheid van politieke lojaliteit en ook ekonomiese vryheid. Selfs hulle bewegings sal bekend wees – nie net na aanleiding van inligting oor die plekke waar hulle e-betalings maak nie, maar ook deur satellietgekoppelde opsporingstelsels wat deur selfone werk. Die e-boodskappe wat aan ander mense gestuur word, sal ook op rekord gehou word, daarom sal dit baie moeilik wees om ‘n propagandaveldtog teen die komende nuwe węreldorde en sy leiers te voer. Hulle bewind sal dus nie deur ‘n volksopstand omver gewerp kan word nie.
Die groot welvaart wat veral in die ryk oliestate opgebou word, word nie tot die voordeel van die gewone landsburgers aangewend nie. Mammon (die duiwel) is die geldgod, en almal wat met hom vriende maak, sal in sy ewige tente deur hom ontvang word (Luk. 16:9,13). Jakobus skryf ook oor die gevaar van die opbou van groot rykdom, veral in die eindtyd:
“Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ’n slagdag” (Jak. 5:1-5).
Dit is die groot probleem wat die Arabiese volke ook met die ryk miljardęrs in hulle lande het. Hulle buit hulle eie mense skaamteloos uit, maar vir hulleself versamel hulle skatte wat hulle gesinne nie eers in ’n hele leeftyd sal kan bestee nie, al koop hulle ook alles wat hulle oë sien. Hierdie ryk elite se kinders is so bedorwe dat hulle nie hard wil studeer om goeie kwalifikasies te verwerf nie, daarom word buitelanders gehuur om die werk in hulle land te doen. Voeg nog by hierdie rykdom Islam se sterk verbintenis tot magsuitbreiding, asook hulle godsdienstige haat vir Jode en Christene, en jy het ’n probleem van ’n węreldwye omvang.
Koning Dawid was deur ryk heidene omring en hy het sy lot in onder andere Psalm 17 by die Here bekla. Hierdie psalm het beslis ook ’n profetiese toepassing op eindtydse Israel. Omring deur ryk Moslemlande wat hulle ondergang soek, kan Israel niks anders doen nie as om ook tot die Here te roep oor die gewelddadige optrede van die gevoellose en ryk heidene:
“Hulle het hul gevoel afgesluit; met hul mond spreek hulle hoogmoedig. Nou het hulle ons in ons gang omsingel; hulle rig hul oë daarop om ons op die grond uit te strek. Hy is soos ‘n leeu wat begerig is om te verskeur, en soos ‘n jong leeu wat in skuilplekke klaar lę. Staan op, Here, gaan hom tegemoet, werp hom neer; red my van die goddelose met u swaard; met u hand van die manne, o Here, van die manne wie se deel in die lewe uit die węreld is en wie se buik U vul met u verborge skat; wie se seuns daarvan nog sat is, wat weer hul oorskot aan hulle kinders laat agterbly. Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word” (Ps. 17:10-15).
Die verborge skatte wat Israel se vyande het, kan in ons tyd niks anders wees nie as die olierykdomme wat lank onder die grond verborge gebly het. Hulle het so baie daarvan dat hulle sat is van al die geld en alles vir hulle kinders nalaat. Proff. Walvoord & Zuck (Bible Knowledge Commentary, bl. 804) sę die volgende in hulle inleiding oor Psalm 17:
“In hierdie psalm was Dawid bewus van sy eie geregtigheid terwyl hy omring was deur vyande wie se deel net in hierdie lewe was. Hy het gebid om van die bose węreld bewaar te word wat hom onderdruk terwyl hy na die wonderlike toekoms in die Here se teenwoordigheid uitgesien het. Hierdie psalm is in verskeie opsigte soortgelyk aan Psalm 16, maar daar is ‘n belangrike verskil. In Psalm 16 was Dawid bewus van gevaar in die agtergrond, maar sy geloof het hom bemoedig om nie te vrees nie. In Psalm 17 het die gevaar hom egter van alle kante af ingesluit, daarom het hy dringend hulp van die Here af nodig gehad.”
Moderne Israel is in groot benoudheid, omring deur talryke vyande, terwyl baie van sy voormalige vriende soos Amerika besig is om hom in die steek te laat en met sy vyande te heul. As gevolg van Israel se geestelike blindheid, sal daar nie nou al totale verlossing vir hulle kom nie. Eers sal daar die tyd van benoudheid vir Jakob wees (Jer. 30:7) wat die verdrukking van sewe jaar sal wees. Daaruit sal ‘n oorblyfsel gered word wanneer die Messias kom, maar eers nadat hulle baie swaar gely het (Sag. 13:8-9).
Wanneer die Here Jesus direk ná die donker dae van die groot verdrukking met sy wederkoms sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5), sal die oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Paulus sę: “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Dan sal Israel ten volle met God versoen wees deur die Messias: “Hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).
Die Messias sal van die herstelde troon van Dawid af regeer (Hand. 15:16-17) en Jerusalem sal verhef word tot ‘n lof op aarde (Jes. 62:6-7). Die duiwel sal gebind wees (Op. 20:1-3) en daar sal oral op aarde vrede heers: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).
Israel sal dan hulle roeping vervul waarvoor hulle as volk tydens die eerste koms van die Messias onwaardig was. Die Here Jesus het voor sy hemelvaart vir hulle gesę dat hulle Hom tydens sy wederkoms sal aanvaar: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sę: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dan sal hulle vir die hele węreld tot seën wees (Rom. 11:11-12). Jesaja sę: “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die węreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).
Op die dag van Christus se wederkoms sal daar nie net ‘n oorblyfsel van Israel gered word nie, maar ook ‘n oorblyfsel van die nasies. Ongelukkig sal die meeste van die ongeredde mense dan reeds dood wees, omdat die voorafgaande sewe jaar beskryf word as “’n groot verdrukking soos daar van die begin van die węreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:21-22; vgl. Jes. 13:9-13). Wanneer die oorlewendes Christus sien kom, sal hulle rouklaag oor hulle sonde en Hom as Verlosser aanneem:
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemel sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).
Johannes sę dat ‘n węreldmag onder die leiding van die Antichris en valse profeet sal saamtrek om teen Christus en sy hemelse leër te veg op die dag van sy wederkoms. Hierdie konfrontasie sal na die verdelging van die antichristelike magte lei (Op. 19:19-21). Die Here sal die nasies oordeel wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg (Sag. 14:2-5,12-13). Diegene onder hulle wat dit oorleef, sal gered word en daarna elke jaar optrek na Jerusalem om die Here te dien (Sag. 14:16). Die vyandigheid van die verlede sal gestaak word.
’n Toekomstige seën word uitgespreek oor sommige van Israel se vyande wat nou nog sy ondergang soek, veral Sirië en Egipte. Diegene onder hulle wat die groot verdrukking oorleef, sal almal die Here Jesus as Verlosser aanneem en Hom van harte dien. Daar sal dus nie meer ‘n Islamitiese geloof wees nie: “In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:2). Daar sal oral, in alle lande, Christelike hervormings wees, maar die sterkste getuienis vir die Messias sal van die Midde-Ooste af uitgaan:
“In dié dag sal daar ‘n grootpad wees van Egipte na Assirië en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien. En in dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ‘n seën in die midde van die aarde, omdat die Here van die leërskare hom geseën het met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25).
In Jerusalem, in die middelpunt (episentrum) van die aarde, sal die Messias se troon van geregtigheid opgerig wees. Al die nasies sal na Jerusalem optrek om die Here te aanbid en deur Hom onderrig te word, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie (Jes. 2:2-4).
Die wonderlike boodskap aan ware Christene onder alle nasies is dat hulle nie vir die donker dae van God se oordele oor ‘n sondige węreld tydens die verdrukking bestem is nie. Soos wat Christene in die eerste eeu die beleëring en vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse magte vrygespring het omdat dit ‘n oordeel van God weens Israel se ongeloof was (Luk. 19:41-44; 21:20-24), sal hulle die eindtydse oordele wat oor die hele węreld gaan kom, ook vryspring: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Dié ontvlugting is die wegraping, soos in Johannes 14:2-3 beloof en in 1 Thessalonicense 4:16-17 verduidelik is.
Die belofte in Lukas 21:36 dat ons “al hierdie dinge wat kom [sal] ontvlug”, is tog baie duidelik in die verband waarin dit gegee is. Dit is deel van Christus se profetiese rede, wat handel oor sowel eerste geslag as laaste geslag oordele in die Christelike bedeling. In die eerste geslag ná Christus se kruisiging was daar ‘n letterlike, fisiese uitredding vir Christene uit God se oordele wat oor Jerusalem en die ongelowige Joodse volk gekom het. In die laaste geslag voor Christus se wederkoms sal daar net so ‘n letterlike, fisiese uitredding van Christene wees voor die verdrukking en oordeel oor ‘n sondige en God-verwerpende węreld.
Die woord “ontvlug” (Gr. ekfugo; Eng. escape) beteken net een ding: om buite die terrein van goddelike oordele in ‘n plek van veiligheid gestel te word, in hierdie geval in die teenwoordigheid van die Seun van die mens. ‘n Fisiese ontvlugting is ook presies wat gedurende die uitstorting van goddelike oordele in die tyd van Noag en Lot gebeur het. Daar is ongelukkig teoloë en Bybelvertalers, asook almal wat deur hulle mislei is, wat nie in hierdie duidelike belofte wil glo nie. Dit is die rede waarom “ontvlug” in sekere van die nuwe vertalings van die Bybel uitvertaal is, soos bv. in die Nuwe Afrikaanse Vertaling en die Good News for Modern Man. In hierdie geval is dit beslis nie goeie nuus dat ware gelowiges deur die tyd van oordele en verdrukking sal gaan nie. Wat het van die “salige hoop” van die verskyning van Christus vir sy heiliges geword? (vgl. Tit. 2:13).
Dit sal ‘n groot getuienis vir Israel, hulle Moslem vyande én al die nasies en gelowe van die węreld wees dat net die ware Christene skielik verdwyn het. Wanneer hulle ondersoek instel deur die Bybel en goeie Christelike boeke of webtuistes, asook teruggevalle maar ingeligte Christene wat agtergebly het te raadpleeg, sal hulle gou agterkom dat die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal het. Hulle sal ook sien dat die Antichris te midde van groot geestelike misleiding geopenbaar is, hoewel aanvanklik as ‘n sogenaamde vredevors, en dat die oordele van die Here oor die aarde uitgegiet word (vgl. Op. 6:15-17).
Die oordele sal al hoe erger word namate daar dieper in die sewe-jaar lange verdrukking gevorder word. Naby aan die einde van hierdie tyd sal dit op sy ergste wees, maar dan sal mense weet dat Christus se openbare verskyning aan die einde van Daniël se 70ste jaarweek – ‘n sewe-jaar tydperk vanaf die openbaring van die Antichris – spoedig sal plaasvind, soos in Daniël 9:24-27 en 12:1-13 verduidelik. Die Antichris se diktatuur sal dan op sy ergste wees. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gesę:
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer die see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die węreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Luk. 21:25-27). Daarna kom Christus terug saam met al sy heiliges wat Hy vroeër kom haal het (Sag. 14:5; Kol. 3:4) en dan breek sy duisendjarige vrederyk aan (Op. 19:11-16; 20:6).
Die węreld is in beroering en die tyd vir die geheime koms van die Messias is op hande. Sy koms tydens die wegraping sal soos ‘n “strik” wees vir almal op aarde (Luk. 21:35). Hoewel daar verskeie tekens van die tye is, soos bv. die herstel van Israel en Jerusalem, ‘n opkomende nuwe węreldorde en gerugte van oorloë in baie plekke, sal die meeste mense nie Christus se wederkoms verwag nie. Die hemelse Bruidegom se koms in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, sal hulle soos ‘n strik oorval en dié wat nie gereed was nie, sal hulleself skielik in die uur van duisternis midde-in die verdrukking bevind. Selfs die wyse maagde sal in daardie tyd aan die slaap wees en dus nie meer ‘n aktuele wederkomsverwagting hę nie. Die meeste van hulle sal ook nie op die tekens van die tye ag slaan nie (Luk. 12:54-56).
Dit is om redes soos hierdie dat ons in węreldgebeure moet belangstel en sorg dat ons olie in ons lampe het, m.a.w. dat ons deur die Heilige Gees vervul is en onder sy leiding leef (vgl. Ef. 5:18; Gal. 5:16). Ons moet verby die vrees vir ‘n nuwe oorlog, die skerp styging in die brandstofprys, revolusies, opstande, wetteloosheid en aardbewings kyk, en besef dat ons in ‘n tyd soos hierdie geestelik waaksaam moet wees. Baie Christene se liefde verkoel wanneer die sonde en ongeregtigheid toeneem (Matt. 24:12), en hulle sal in ‘n baie laat stadium paniekerig begin rondskarrel om hulle vervalle geestelike lewe in orde te kry (Matt. 25:6-9). Geseënd is elkeen wat voorbereid sal wees.