‘Demokratiese Onrus’ in die Arabiese Węreld (Deel 2)
E-Demokrasie en Saoedi Arabië

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)

Die węreldwye najaging van demokrasie het ‘n nuwe fase betree met die grootskaalse gebruik van die elektroniese media – veral die TV, internet en selfone. Hierdie middele laat uitgebreide openbare deelname toe aan sake van algemene belang, veral ook politieke en sosio-ekonomiese sake. Die elektroniese media verhaas die verspreiding van inligting, foto’s, klankopnames en videomateriaal in die hele węreld, ook in beperkte gebiede. Op hierdie manier word baie meer openbare steun vir ‘n bepaalde saak verkry, en die intensiewe gebruik van sulke hulpmiddels het selfs die potensiaal om internasionale bewegings aan die gang te sit en groter momentum te laat kry.

Wanneer die organisering van deelnemende demokratiese bewegings intensief gedryf word deur die gebruik van elektroniese media, kan só ‘n beweging beskryf word as ‘n “e-demokrasie”. Hierdie term verwys na die gebruik van inligtingstegnologie en kommunikasietegnologie in die uitvoering van die doelstellings van politieke en regeringsinstellings. Uit die aard van die saak kan hierdie kommunikasiekanale ook gebruik word om inligting onder afvalliges en strydende partye uit te ruil ten einde hulleself vir een of ander demokratiese saak te beywer.

In vandag se geďntegreerde węreld het politieke en ander aktiwiteite in een deel van die węreld dikwels gevolge ver buite die gebied waar dit plaasvind, en hieruit kan uitgebreide internasionale reaksie volg op gebeure in een of ander land. Dit is weer bewys in die geval van die onrus en opstande in verskeie Arabiese lande. E-demokrasie maak dit moontlik om internasionale ondersteuning vir feitlik enige saak te verkry.

Twitter maak kort, tydige boodskappe oor e-demokrasie bekend (www.twitter.com/edemocracy). Dit is ‘n ryk bron van gereeeldopgedateerde inligting oor ‘n wye reeks onderwerpe. Hulle bied ook ‘n węreldwye e-demokrasie gespreksforum aan.

Globalisasie

Dit is baie duidelik dat inligtingstegnologie ‘n groot potensiaal vir die globalisasie van, onder meer, die prosesse van demokratisering en vereniging het. Die Węreld E-demokrasie Forum (www.edemocracy-forum.com/) sę die volgende op hulle webtuiste:

“Die revolusie in Egipte het weer eens bewys dat die internet die węreld kan verander. Ná die verkiesing van Barack Obama en die val van Ben Ali in Tunisië, het die val van Hosni Moebarak in Egipte verskeie nuwe insigte opgelewer. Ten eerste is dit nie langer moontlik om ‘n land van die res van die węreld af te sny nie. In die verlede kon dit gedoen word deur die grense te sluit, die telekommunikasiestelsel af te skakel en dan in die geheim met onderdrukking voort te gaan. Nog nie een regering het egter na die volledige blokkering van die internet oorgegaan nie. Beperkings is wel ingestel in Burma, Iran, Nepal en selfs in Sjina, maar die internet is nog nooit vir meer as agt dae afgesluit nie. Ten spyte van die afsluiting van die internet, het kommunikasie voortgegaan danksy die rol van multinasionale maatskappye soos Google, asook Twitter met hulle ‘speak-to-tweet’ diens. Hierdie diens laat vir enigeen skakeling toe met internasionale nommers deur hulle stemboodskappe as ‘tweets’ uit te stuur. Die rol van Facebook om die regering se sensuur in Tunisië te omseil, het ook op die groot rol gedui wat die internet in hierdie gebeure kan speel.”

Op die webblad van e-demokrasie is daar ook verwysings na verskeie ander toepassings van die internet en selfone, veral in verband met die uitbring van e-stemme:

“2011 sal ‘n belangrike stap in die verdere ontwikkeling van elektroniese verkiesings oplewer. Drie Europese lande sal direk deur hierdie metode van stem geraak word. Die Estlanders sal vir die tweede opeenvolgende keer van e-stemme in ‘n algemene verkiesing gebruik maak, en in Switserland sal daar voortgegaan word om te debatteer of hulle e-stemme in sekere van hulle kantons sal toets gedurende hulle algemene verkiesing. Noorweë sal ook in September gedurende hulle munisipale verkiesings e-stemming op die proef stel... Volgens ‘n opname wat gepubliseer is deur die Pew Research Center’s Internet & American Life Project, het meer as ‘n kwart van Amerikaanse volwassenes hulle selfone gebruik om inligting oor die 2010 midtermyn verkiesingsveldtog te verkry, en ook daaraan deel te neem. Van daardie selfooneienaars gebruik 71% hulle fone om teksboodskappe te ontvang, en 39% gebruik dit om toegang tot die internet te verkry.”

E-demokrasie sal politieke prosesse en kommunikasie in die węreld ingrypend verander.

Die stryd om Saoedi-Arabië

E-demokrasie speel ‘n betekenisvolle rol in die organisering en verspreiding van revolusies in die Midde-Ooste. Die Seattle Times van 27 Feb. 2011 berig soos volg:

“’n Groep van 119 Saoedi akademici en aktiviste het ‘n oproep gedoen vir die vervanging van die land se huidige regering deur ‘n konstitusionele monargie wat die erflike magte van die koninklike gesin drasties aan bande sal lę. Hierdeur het hulle die gees van onrus toegelaat om na die węreld se grootste olieprodusent te versprei. Op Twitter en Facebook het aktiviste vir demonstrasies op 11 en 20 Maart gevra om hervormings te eis. Hierdeur het hulle ook, soos aktiviste elders, gevra vir ‘n Dag van Woede (Day of Rage).”

Die verbeterde kommunikasienetwerke wat deur e-demokrasie verleen word, sal ‘n belangrike rol speel in die komende konfrontasie wat nou oor Saoedi-Arabië opdoem. Die Saoediese joernalis, Mai Jamanai, het die volgende gesę in ‘n artikel, Why a king’s ransom is not enough for Saudi Arabia’s protesters, wat op 27 Feb. 2011 gepos is na The Guardian se webblad (www.guardian.co.uk):

“Geen koninkryk is ‘n eiland nie, veral wanneer dit omring word deur ‘n see van revolusies. Koning Abdoellah van Saoedi-Arabië, wat met die gewone selfvoldaanheid van sy monargie kyk na die aanslag op Libië se sterkman, Muammar Gaddafi, dink hy kan die proteste afkoop deur die belofte van geskenke.

Natuurlik is die skaal van die omkoopgeskenk wat die koning aan sy land se vervreemde jeug gemaak het – 22 miljard Britse pond – iets wat net ‘n olieryk monarg kan doen. Die Saoedi koning praat soos ‘n vader met die jong geslag – dit is per slot van sake net hierdie koninklike familie wat sy naam aan sy volk gee – en hy verwag van hulle om die naam al-Saoed te gehoorsaam net soos hulle met hul eie pa sou doen... Nęrens word daar aan mense sulke groot geskenke aangebied om nie die boot te laat kantel nie.

Regdeur die Arabiese ontwaking wat in Tunisië begin het, het die 86-jarige monarg en verskeie van sy bejaarde broers in die koninklike familie na die opstande in die Arabiese węreld gekyk, oortuig daarvan dat die tradisionele pilare van hulle politieke beheer hulle sal deursien: oliereserwes, Amerikaanse beskerming en hulle beheer oor heilige plekke.

Abdoellah se koninkryk word egter omring deur revolusionęre golwe wat teen hulle vesting slaan: Jemen in die suide, Bahrein in die ooste, Egipte, Tunisië en Libië in die weste. Selfs die gematigde koninkryk van Jordanië word deur ‘n gees vir verandering geteister. Saoedi-Arabië se koninklikes is ongetwyfeld erg geskud deur hierdie onrus en voel bedreig deur die vinnig opeenvolgende revolusies wat ‘n einde aan hulle ‘broers’ in Kaďro en Tunisië gebring het. Hoe is dit moontlik, vra hulle, vir ‘n paar honderd martelare [shahids] om in net twee of drie weke hulle mede-outokrate so vinnig tot ‘n val te bring?

Die Saoedi koninklikes wil hierdie eise vir politieke verandering teëstaan én afkoop. Die probleem is egter dat hulle nie verstaan wat hulle mense eis nie. Die internet, Facebook, Youtube en Twitter is vreemdelinge vir manne wat grootgeword het in ‘n tyd toe ‘n telefoon ‘n nuwigheid was. Die feit dat 70% van die koninkryk se bevolking jonger as 30 jaar is, kompliseer die probleem. Dit is nie verbasend nie dat hulle die eise vir menswaardigheid en ‘n werklike stem in die regering, verwar met lastige oproepe wat deur omkoopgeskenke, brood en sirkusse stilgemaak kan word.

Die koning en sy broers het dit nie oorweeg om enige betekenisvolle politieke toegewings te maak, soos wat baie mense gehoop het nie. Hulle wil die skepping van ‘n konstitusionele monargie hę, parlementęre verkiesings, die vrylating van omtrent 8 000 politieke gevangenes wat sonder vervolging of verteenwoordiging aangehou word, die einde van koninklike korrupsie, hervorming in die regstelsel, die vermindering van voordele aan 22 duisend lede van die huis van Saoed, en ook die beperking van die invloed van geestelikes.

In plaas hiervan bied hulle omkoopgeskenke aan die rusteloses en moeilikheidmakers aan: ‘n 15% verhoging vir staatsamptenare, finansiële hulp aan studente, werkloses en sportklubs. ‘Laat hulle sokker speel’, is klaarblyklik die koninklike leuse! Geldelike hulp is egter nie ‘n plaasvervanger vir werklike hervormings nie.

Die eise wat nou deur die land se jeug gemaak word, is van ‘n heel ander aard. Die Saoediese jeug stel op hulle webtuistes en op Faceboek baie duidelike eise vir werklike burgerregte, en ook om met waardigheid deur die regering behandel te word. Baie van hulle het 11 Maart tot ‘n dag vir ‘revolusie’ verklaar. Indien die beplande openbare protesoptrede wel plaasvind, sal dit ‘n teken van uiterste minagting wees omdat alle politieke demonstrasies in Saoedi-Arabië onwettig is en die betrokkenes aan lyfstraf en tronkstraf blootstel. In 1979 het die koninkryk se grondmagte en lugmag op Sjiďtiese betogers in die ooste van die land losgebrand, dosyne doodgeskiet en honderde gewond.

Weiering is grondliggend aan die Saoedi heersers se denkwyse. Die koninklikes dink hulle het ‘n spesiale status in die Arabiese węreld en dat geen revolusie hulle kan aantas nie. Indien iemand sou probeer, sal hulle die uitspraak van prins Naif volg: ‘Wat ons deur die swaard verower het, sal ons deur die swaard behou.’

Die verskillende tegnologieë van globalisasie het ‘n sterk impak op Saoedi-Arabië. Wanneer mense op hierdie manier ontwaak het, word die beskouing dat ekonomiese ontwikkeling vanself politieke stabiliteit verseker, deur die gebeure in Tunisië, Kaďro, Bahrein en veral Libië, as ‘n leuen ontmasker. Daar is geen outomatiese stabiliserende faktor in die ekonomie óf die sosiale omkopery waarby koning Abdoellah nou betrokke is nie.

Indien hulle die troon wil beskerm, sal die Saoedi koninklikes ‘n proses van politieke evolusie aan die gang moet sit wat gelykstaande is aan die land se toevallige ekonomiese modernisasie. Die onrus wat pas begin het, kan nog ontwikkel in die rigting van ‘n konstitusionele monargie. Dit is nou die tyd vir koning Abdoellah om daadwerklik op te tree en nie omkoopgeskenke aan te bied nie.” (Einde van Mai se artikel).

E-reaksies

Op die webtuiste van The Guardian is reaksies op Mai se artikel gevra. ‘n Bespreking van hierdie aard gee aan ‘n mens ‘n redelik verteenwoordigende beeld oor hoe ander mense oor hierdie belangrike saak voel. Dit is hierdie soort e-gesprek wat wye en selfs węreldwye deelname aan ‘n bepaalde saak of veldtog in die hand werk. Nie net in Saoedi-Arabië nie, maar ook uit verskeie ander lande, raak mense by die konflik betrokke en oefen druk uit vir wat hulle as ‘n eerbare uitslag beskou. Op hierdie manier word kragte in beweging gebring wat die meeste leiers nie reg kan hanteer tydens hulle oorlewingstryd nie.

Die volgende is ‘n seleksie van die reaksies op hierdie artikel, en dit kom van sowel binne as buite Saoedi-Arabië:

Ibneadam: “Die Saoedi koning en sy familie mag dalk in staat wees om ‘n bietjie tyd te koop om die revolusie van die volk tydelik af te weer, maar hulle kan nie verstaan nie, of weier doelbewus om te verstaan, dat daar verskillende redes vir revolusies in verskillende lande is. In sommige lande mag dit oor geld en werkgeleenthede gaan, maar in alle gevalle gaan dit oor vryheid – vryheid van despotiese heersers, vryheid van afkoms, vryheid om hulleself uit te druk, vryheid van onderdrukkende wette. Baie van die griewe mag niks met godsdiens te doen hę nie, maar met kultuur. Hoe gouer die Saoedi heersers dit besef, hoe beter sal dit vir die regerende familie én die onderdane wees. Wat elkeen ten diepste vra, eis, voor veg en selfs bereid is om voor te sterf, is basiese menseregte.”

SalehAlamer: “…wanneer jy ‘n absolute monargiese koninklike gesin het, is respek vir meerderes belangriker as respek vir die volk. Niks sal hierdie hooggeplaastes oortuig om van hulle mag af te sien en aan ‘n verkose parlement oor te dra nie. Daar is dus geen oplossing in sig nie, behalwe net hulle verwydering. Die aantal Saoedi’s wat ten gunste van hulle absolute verwydering is, neem elke dag toe terwyl politieke hervormings vertraag word. Ek speel ook met hierdie idee, maar wat my en baie Saoedi’s laat huiwer, is vrees vir die onbekende!”

GiordanoBruno: “Ek hoop dat omkoopgeskenke en ‘laat hulle sokker speel’ in Saoedi-Arabië sal misluk. Saoedi-Arabië met sy ondersteuning vir godsdienstige reaksionęres en outokrate in die Arabiese węreld moet ondergaan. Die gerespekteerde Palestynse joernalis, Abdel Bari Atwan, het in die Glasgow Sunday Herald voorspel dat Saoedi-Arabië die volgende ná Libië kan wees. Dit sal interessant wees om te sien hoedat Westerse leiers in Brittanje en die VSA stomgeslaan sal wees, anders as hulle grootdoenerige houding teenoor Libië, wanneer die Saoedi’s wapens gebruik wat in Amerika en Brittanje vervaardig is om die opstande te onderdruk. Sal hulle sanksies teen Saoedi-Arabië instel? Sal hulle die bates van die Saoedi koninklike gesin bevries? Ek dink nie so nie!”

MoMustafaMD: “...Die koning se omkoopgeld sal werk, en die jeug sal deur die geld tevrede gestel word. Dit is nie reg nie, maar dit is die waarheid. Die krag en oorredingsvermoë van die Saoedi monargie is nie net in hulle rykdom geleë nie, maar in hulle politieke stabiliteit, alliansies en ferm greep op hulle mense.”

Mangadan: “Dit sal wonderlik wees om te sien dat die Huis van Saoed platval, maar wees versigtig waarvoor jy wens. Die geopolitieke betekenis van ‘n volgende regime wat dalk onvriendelik teenoor Amerikaanse belange is, sal groot wees. Weens die moontlikheid van die skielike ineenstorting van die petrodollar, is dit moeilik om te sien wat die Amerikaners anders kan doen as om in te val en by die konflik betrokke te raak. Hulle het stil-stil die afgelope twee weke die teenwoordigheid van hulle vloot in die gebied opgebou. Dit maak my baie bang.”

Tonyone: “Dit wat in die Midde-Ooste gebeur, kan netsowel ook in die res van die węreld gebeur. Politici moet hiervan kennis neem, want die mense het meer krag as hulle...”

Bikhair: “Ek dink ons moet die situasie in Saoedi-Arabië versigtig hanteer. Dit is nie Egipte nie, dit is nie Tunisië nie, en dit is beslis ook nie Iran nie. Hierdie is ‘n ander soort monster met ‘n klomp skuldige Moslems wat bereid is om die onverdedigbare te verdedig wanneer dit by die koninkryk van Saoedi-Arabië kom.”

Finisterre: “Dit mag dalk heeltemal onsinnig wees, maar hierdie opstande is ‘n klein liggie in ’n baie donker tonnel. Ek het nooit gedink ons sal mense sien wat in genoegsame getalle saamkom om te protesteer en regerings wat onaantasbaar voorgekom het, omver te werp nie. Saoedi-Arabië is een van die ergstes – ‘n moderne, ware verhaal van afgryse vir sy vroulike inwoners. Hoe wonderlik sal dit nie wees om te sien hoe sy heersers onttroon word nie. Mai, woon jy in Saoedi-Arabië terwyl jy hierdie dinge skryf? Sal jy self ook aan die betogings deelneem, met die oog op wat dit alles behels?”

Taku2: “Mai! Ek dink nie daar is tyd vir die Saoedi regerende elite om die toestand te los om self verder te ontwikkel nie. Hulle moet doelgerigte en verreikende verandering beplan en instel. Dit sal vreeslik wees indien die Saoedi regerende elite hulleself sal mislei om te dink dat die revolusionęre gees of dwarrelwind hulle samelewing ongeskonde sal laat bly. Libië het bietjie tyd gehad, maar nie baie nie, maar het niks geleer uit dit wat in Egipte en ander lande gebeur het nie. Toe hulle deur die onvermydelike gekonfronteer is, het die regering op ‘n onwyse manier geweld gebruik, waardeur hulle tot dusver net hulle val uitgestel het. Dit sal ‘n uitstaande voorbeeld wees indien Saoedi, wat so ‘n tradisionele en konserwatiewe samelewing is, met ‘n model vir verandering na vore kom wat sal voldoen aan die verwagtings van die konserwatiewes sowel as die volk se begeerte na meer vryhede en demokrasie. Indien hulle hierin sou slaag, sal die Saoedi heersers hulle land die vernietiging spaar wat in baie ander Arabiese lande plaasgevind het, waar hulle besig is om van die ou, onproduktiewe en verstokte orde ontslae te raak. Indien Saoedi-Arabië daarin sou slaag om vreedsame veranderings in te stel, sal hulle ook die węreldekonomie en sosio-politieke bestel waarin ons leef, die skade spaar wat sal plaasvind indien revolusionęre veranderings in ‘n sleutelland soos Saoedi-Arabië plaasvind.”

VancouverTheory: “Die huis van Saoed het ‘n plan vir verkiesings in hulle agtersak. Hulle het hierdie ding vir ‘n tyd lank sien kom, en dit sal interessant wees om te sien hoe hulle dit hanteer. Ek dink nie die regering sal die internet blokkeer nie, omdat privaatheid in jou huis ‘n erkende leerstelling van hulle weergawe van Islam is.”

Insightful: “Die feit is dat baie van die Arabiese węreld kleptokrasieë het (steelregerings) wat hulleself op verskillende maniere verbloem – van pseudo-demokraties af soos in Egipte tot ‘n paar weke gelede, na totaal outoritęre regerings soos in Libië en Sirië, tot ‘n Middeleeuse monargie soos in Saoedi-Arabië. Hierdie heersers het gedurende die afgelope 70 jaar of so hulle bevolkings probeer oortuig dat al hulle probleme deur die Weste, die VSA en Israel geskep word – hulle armoede, hulle totale gebrek aan ontwikkeling, hulle uiters swak opvoedkundige prestasies, en nog meer. Hulle het altyd na hierdie vyande verwys wanneer daar enige frustrasie onder hulle mense was, want in die oë van hulle ongeleerde volgelinge word hulle dan vrygespreek van die werklike rede vir die volk se desperate situasie, naamlik die leierskap se misbruik en onregmatige toeëiening van hulle land se rykdom.”

Knowles2: “Gegewe die probleme wat die huidige revolusionęres ervaar om kolonel Gaddafi uit te skop, gee ek hulle nie veel van ‘n kans teen Saoedi-Arabië nie... Die Saoedi veiligheidsmagte het meer as genoeg tyd om hulleself te organiseer en al die leiers van die protesmarse uit te haal. Ek vermoed dat Gaddafi die laaste diktator sal wees wat in die huidige rondte van Midde-Oosterse revolusies sal val.”

Jones1: “Indien die koning moet gaan, sal daar ‘n fundamentele Islamitiese regering kom, en dit sal van Saoedi-Arabië ‘n skuilplek vir terroriste maak. Dit is beter om saam te leef met die duiwel wat jy ken, maar hy moet die kultuur moderniseer sodat dit vir die 21ste eeu geskik is.”

Peart: “Laat ons die feit aanvaar dat voordelige diktatorskappe iets van die verlede is. Die anachronistiese Saoedi monargie gly teen ‘n vetgesmeerde paal af. Hulle lot is verseël.”

Spaghettimonster: “Daar sal geen proteste in Saoedi-Arabië wees nie. Solank as wat die Amerikaners elke vat ruolie in die hande kan kry, met Engeland kort op hulle hakke, sal hulle elke protesteerder onderdruk. Indien Saoedi-Arabië se ekonomie sou knak, kan die olieprys na meer as $300 per vat styg. Wanneer die olie weg is, sal daar ‘n interessante situasie ontstaan.”

Feite oor Saoedi-Arabië

Die volgende is ‘n paar basiese feite oor Saoedi-Arabië wat die moeite werd mag wees om in ag te neem wanneer ons ‘n opinie oor hierdie land vorm. Die oorsprong van die artikel is die webtuiste van die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake (www.state.gov/r/pa/ei/bgn/3584.htm), asook die Wikipedia artikel, Saudi Arabia:

Bevolkingsgetal (Julie 2010 skatting): 28.7 miljoen (23.1 miljoen Saoedi’s, 5.6 miljoen buitelanders).

Die koninkryk van Saoedi-Arabië is in 1932 gestig deur Abdul-Aziz bin Saud, wat soms net as Ibn Saud bekend was. Die veroweringstogte wat uiteindelik tot die stigting van die staat gelei het, het reeds in 1902 begin toe hy Riad ingeneem het, die voorvaderlike tuiste van sy familie, die Al Saud. Saoedi-Arabië se regering neem die vorm aan van ‘n absolute Islamitiese monargie. Daar word ook soms van die koninkryk gepraat as “Die Land van die Twee Heilige Moskees”, verwysend na Mekka en Medina, die twee heiligste plekke in Islam.

Ná die dood van koning Fahd op 1 Augustus 2005, het Abdoellah die troon as koning bestyg. Hy is beide koning en eerste minister. Daar is geen wetgewende liggaam nie, en die koning regeer deur koninklike dekrete. Die Koran is die konstitusie van die land, wat volgens die Sharia wette van Islam regeer word. Daar is geen politieke partye of nasionale verkiesings nie. Die koning se gesag word slegs deur die Sharia wet beperk, asook deur ander Saoedi tradisies wat hy verplig is om te eerbiedig.

Saoedi konings het geleidelik ‘n sentrale regering ontwikkel. Sedert 1953 was daar ‘n Raad van Ministers wat deur die koning aangestel word. Hulle adviseer aangaande die formulering van nasionale beleid en bestuur ook die aktiwiteite van die groeiende burokrasie. Hierdie raad bestaan uit die eerste minister (die koning), die eerste en tweede adjunk eerste ministers, twintig ministers, twee ministers van buitelandse sake, asook ‘n klein aantal adviseurs en hoofde van onafhanklike organisasies.

Menseregtegroepe soos Amnesty International en Human Rights Watch het verskeie kere al kommer uitgespreek oor die stand van menseregte in Saoedi-Arabië, as gevolg van die rigiede toepassing van Sharia wette.

Olie is in die 1930s deur ‘n Amerikaanse geoloog in Saoedi-Arabië ontdek, hoewel die grootskaalse ontginning daarvan eers ná die Tweede Węreldoorlog begin het. Olierykdom het vir vinnige ekonomiese groei gesorg, wat in alle erns in die 1960s begin en skouspelagtig in die 1970s toegeneem het. Dit het die hele koninkryk van gedaante laat verander.

Die Saoedi oliereserwes is die grootste in die węreld, en Saoedi-Arabië is die węreld se grootste olieprodusent en uitvoerder. Olie sorg vir meer as 90% van die land se uitvoere en amper 75% van die regering se inkomste. Bekende oliereserwes is 263 miljard vate, wat omtrent ‘n kwart van die węreld se totale oliereserwes is.

As gevolg van ‘n skerp styging in petroleuminkomste ná die Arabies-Israelse oorlog van 1973, het Saoedi-Arabië een van die vinnigste groeiende ekonomieë in die węreld geword. Hulle het ‘n baie groot handelsoorskot met ander lande gehad, invoere het drasties toegeneem en genoeg geld was beskikbaar vir ontwikkeling, verdediging, en hulp aan ander Arabiese en Islamitiese lande.

Die wanverhouding tussen die professionele kundigheid van Saoedi gegradueerdes en die aanvraag in die arbeidsmark op alle vlakke, bly steeds die grootste probleem vir die diversifikasie van ekonomiese ontwikkeling. Sowat 4.6 miljoen nie-Saoedi’s word in die landsekonomie in diens geneem.

Gevolgtrekkings

Alle dele van die węreld word toenemend aan die magte van globalisasie onderwerp. Die nasies is nie net ekonomies interafhanklik nie, maar hulle moet ook, as ‘n saak van dringendheid, ‘n gemeenskaplike plan vir oorlewing uitwerk met die oog op verskeie bedreigings vir volhoubare ekonomiese groei en vreedsame naasbestaan. Ons leef op ‘n digbevolkte planeet wat grootliks gebuk gaan onder die las van die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, die ongelyke verspreiding van rykdom en voedsel, ‘n sterk styging in verbruikersvraag, asook die onbeheerde besoedeling van die atmosfeer, die oseane en varswaterbronne.

Donker wolke van dreigende revolusies en oorloë verswak ons hoop op die samevoeging van die nasies in ‘n harmonieuse internasionale gemeenskap. Daar is bloot net te veel ideologiese en godsdienstige radikales, magshonger diktators en krygsmanne (war-lords), seerowers op die oop see, moordenaars en rowers, immorele aktiviste met geen sin vir ordentlikheid nie, gevoellose vernietigers van skaars hulpbronne, asook skatryk mense wat só ‘n obsessie met die opbou van rykdom het dat hulle by enige korrupte praktyke betrokke sal raak, bv. omkopery, valse beleggingskemas, die hoogs onetiese uitbuiting van duisende mense in die arm werkersklas, en selfs die verarming van hele volke deur korrupte staatshoofde.

Die dae van toesmeer en die doen van dinge in die donker is egter verby. Daar is in ons tyd net te veel metodes vir waarneming beskikbaar – veral in die elektroniese veld. Ons het nie meer spioene nodig om in vyandige lande in te sluip en amptenare om te koop om inligting oor beleidsrigtings en strategieë te kry nie. Daar is baie ander maniere om te vas te stel wat mense doen. Ons het ook die tegnologie om inligting vinnig, selfs binne ‘n paar minute, na miljoene mense rondom die węreld te stuur.

In die moderne samelewing hou mense toenemend hulle leiers aanspreeklik vir hulle beleidsrigtings en dade. Wanneer daar ‘n dooiepunt in normale kommunikasie ontstaan, word daar verskeie metodes deur die bevolking oorweeg om hulle ontevredenheid te kenne te gee. Sommige van hierdie metodes mag baie gewelddadig en ontwrigtend wees, en kan ’n land groot skade berokken. Dit is jammer dat so baie leiers wettige eise ignoreer, en eerder van harde, outokratiese metodes gebruik maak om die onrus te onderdruk, selfs al lei dit na ‘n revolusie of ‘n burgeroorlog.

Sekere leiers is bloot nie waardig om leiers genoem te word nie. Na baie jare waarin hulle ‘n koning of onstuitbare despoot was, het sommige van hulle só onsensitief vir die behoeftes van hulle mense geword, só onleerbaar in hulle eie ‘wysheid’, ontoeganklik in hulle hoë posisies, en onveranderlik in hulle styl van regering, dat hulle blindelings die weg na selfvernietiging bewandel en soms ‘n hele volk saam met hulle aftrek.

In die weke en maande wat kom, sal meer Arabiese leiers aan ‘n toets onderwerp word. Hopelik sal die oorblywendes uit die foute van hulle eweknieë in minder gelukkige lande leer, en die beweging na anargie suksesvol probeer stuit. ‘n Werkbare oplossing kan steeds gevind word deur diegene in magsposisies, maar dan moet hulle dit op ‘n eerlike en deursigtige manier nastreef.

Word vervolg op www.bibleguidance.co.za