‘Demokratiese Onrus’ in die Arabiese Wêreld (Deel 1)
Kan Westerse Demokrasie Hier ‘n Opsie Wees?

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2011)

Die wydverspreide onrus in die Arabiese wêreld het ongekende politieke onstabiliteit in Noord-Afrika en die Midde-Ooste veroorsaak, en dreig om die hele streek in ‘n toestand van anargie te laat verval. Hierdie skielike verwikkelings was ‘n groot skok vir mense wat hulleself begin aanpas het by ‘n politieke landskap wat gekenmerk word deur gematigde diktatorskappe, en ook ‘n paar radikales wat wel ‘n rede tot kommer is. Dit het reeds duidelik geword dat ‘n ernstige mate van openbare onrus, ekonomiese ontwrigting en politieke onbestendigheid op die skielike verbreking van bestaande gesagstrukture kan volg. Sulke veranderings is nie evolusionêr nie maar revolusionêr, en kan politieke en ekonomiese wonde veroorsaak wat baie lank sal neem om te genees.

Die belangrikste vrae wat in hierdie reeks artikels beantwoord sal word, is die volgende: Wat is die ware aard van demokrasie? Het hierdie betogings basies ontstaan as gevolg van ontevredenheid met outokratiese regerings, of is hulle doelbewus veroorsaak deur eksterne druk vir demokratiese hervormings in die Midde-Ooste? Wat is die agenda van die hervormers? Wat is die kanse dat daar aan hulle eise toegegee sal word? En verder: Wat sal die gevolge van hierdie opstande en druk vir hervorming wees? Wat die moontlike uitkomste daarvan betref, is daar een of twee ontstellende scenario’s wat uit die bestaande onrus kan voortvloei.

In hierdie eerste artikel sal ons in breë trekke die oorsprong en verdere ontwikkeling van demokrasie as ‘n politieke filosofie in oënskou neem, en veral kyk na die gevolge daarvan wanneer dit op gemeenskappe in Afrika en die Midde-Ooste toegepas word.

Definisies

As vertrekpunt sal ons kortliks die politieke en staatkundige begrippe definieer wat vir hierdie artikel ter sake is:

Stamme of kapteinskappe is op die beginsel van senioriteit gebaseer. Dit beteken dat sommige van die familiegroepe of sibbes in die stam, asook die individue van hierdie groepe, ‘n hoër of laer status as ander het. Die hele samelewing vorm ‘n hiërargiese struktuur waarin die kaptein die mees senior posisie beklee. Erflike kapteins is genealogies die senior lede van hulle families. Die administrasie van die stam word behartig deur ampsdraers wat op grond van hulle sosio-politieke status aangestel word. Die beginsel van respek vir gesag word hierdeur gevestig. Ten spyte daarvan dat lede van die stam geen keuse in die verkiesing van hulle leier het nie, laat hierdie stelsel van beheer tóg ‘n mate van openbare deelname toe deur die aanstellings van raadgewers, asook gesprekke wat op stamvergaderings toegelaat word. Sommige leiers tree meer outokraties op, terwyl ander meer waarde heg aan die opinies van hulle raadgewers en volwasse stamlede. Op hierdie manier kan die spanning wat uit ontevredenheid voortspruit, verlig word. In sekere tradisionele samelewings funksioneer ‘n aantal verwante stamme polities saam onder die heerskappy van ‘n opperhoof of koning.

‘n Koninkryk of monargie. Koninkryke wat onder die beheer staan van ‘n koning of koningin wat die senior lid is van ‘n koninklike dinastie in ‘n bepaalde samelewing, staat of ryksgebied, het in ‘n stadium wydverspreid in die wêreld voorgekom. In sommige gevalle is ‘n koning ‘n outoritêre leier, of tiran, wat absolute gesag oor sy onderdane uitoefen. In ander gevalle laat konings politieke deelname deur magsdeling en die devolusie van gesentraliseerde gesag toe. Dit kan gedoen word deur die instellings van adviesrade, volksvergaderings, parlemente, en selfs kabinetsministers wie se pligte in ‘n grondwet beskryf word. Demokratiese veranderings kan selfs plaasvind tot op ‘n punt waar die monarg van alle wetgewende en uitvoerende magte gestroop word, en hy dan niks meer is nie as ‘n nominale leier sonder enige gesag (soos bv. in die geval van Brittanje). Dit staan as ‘n konstitusionele monargie bekend, waarin die magte van die koning deur ‘n grondwet bepaal word. Hoewel die monargie dan kan voortbestaan, is die effektiewe beheer van die land in die hande van ‘n verkose parlement.

‘n Diktator of tiran is ‘n absolute heerser met onbeperkte gesag. Hy kan sy mag deur geweld verkry (gewoonlik deur ‘n militêre staatsgreep) of deur oorerwing in ‘n koninklike familie. Hy is daartoe geneig om ‘n totalitêre styl van regering te volg, waardeur hy die lewens van sy onderdane in omtrent alle opsigte bepaal.

‘n Diktatorskap of outoritêre regering word of deur een persoon beheer, of deur ‘n relatief klein groepie mense wat hulle onderdane nie alleen van hulle vryheid beroof nie, maar hulle ook ekonomies uitbuit en arm hou. ‘n Diktatorskap onder die beheer van ‘n klein, bevoorregte groep adellikes word ook as ‘n aristokrasie beskryf. Hulle kan hulle posisie op grond van hulle afkoms, rykdom, geleerdheid, sosiale stand of militêre mag verkry, of deur ‘n kombinasie van hierdie faktore.

Demokrasie is ‘n stelsel van regering deur die hele samelewing, gewoonlik deur verkose verteenwoordigers. Demokrasieë is sensitief vir persoonlike menseregte, vryheid van assosiasie, vryheid van godsdiens en vryheid van uitdrukking, en is gevolglik op die ideaal van ‘n klaslose en verdraagsame samelewing ingestel. ‘n Vryemarkstelsel en ‘n veelparty parlementêre stelsel wat op algemene stemreg gebaseer is, is tipies van moderne demokrasieë. Die woord “demokrasie” is afgelei van die Griekse woord demokratia (demos=volk en kratos=mag) en beteken dus “die mag van die volk” (Eng. people power).

Die oorsprong van demokrasie

In die Wikipedia artikel, The History of Democracy, word onder meer die volgende gesê:

“Dit word algemeen aanvaar dat die begrippe demokrasie en konstitusie in ‘n spesifieke plek en tyd ontstaan het, naamlik antieke Athene in 508 v.C. ... Sokrates was die eerste persoon wat hom hieroor uitgelaat het. Sy student, Plato, het verder uitgebrei oor die aard van die verhouding tussen die individu en die gemeenskap. Aristoteles het die werk van sy leermeester, Plato, voortgesit en die grondslag vir ‘n politieke filosofie gelê... Hy het die verskillende stelsels van gesag in die Griekse stad-state geanaliseer en hulle in drie kategorieë geplaas, afhangende van hoeveel mense by die regering betrokke was: baie mense (demokratiese staatsvorm); ‘n klein groepie (oligargie of aristokrasie); of net ‘n enkele persoon (tirannie of, in vandag se terme, ‘n outokrasie of ‘n monargie). Aristoteles het die onderliggende beginsels van demokrasie só in sy boek oor politiek verduidelik: ‘Vryheid is ‘n fundamentele beginsel in ‘n demokratiese konstitusie... Een van die gevolge van vryheid is om te regeer en self ook regeer te word. Die populêre beginsel van geregtigheid is om gelykheid op getalle te baseer en nie op mense se relatiewe waarde nie. Wanneer hierdie beginsel van geregtigheid eerbiedig word, is die massa altyd soewerein, daarom moet die besluit van die meerderheid finaal wees en as die uitdrukking van geregtigheid beskou word... In demokrasieë is die arm mense magtiger as die rykes omdat hulle in die meerderheid is, en wat ook al deur die meerderheid besluit word, is soewerein’.”

Hierdie vorm van demokrasie is egter deur die Hellenistiese en Romeinse Ryke onderdruk, en net tot sake van plaaslike belang beperk. Dit het eers weer in die 18de eeu herleef en sedertdien ‘n toenemende rol in baie dele van die wêreld gespeel.

Die historiese afname in demokrasie is nie net deur eksterne magte veroorsaak nie, maar dit is ook op praktiese gronde bevraagteken. Dit is onder meer beskryf as “’n stelsel van regering waarin die laer klas, die gepeupel (as ‘n kollektiewe tiran) of die arm mense, die mag in hulle hande het... Dit was eers baie eeue later dat die Atheense demokrasie weer ernstig opgeneem is deur politieke denkers. Gedurende die laaste twee dekades het geleerdes die Atheense stelsel opnuut bestudeer as ‘n model vir die bemagtiging van landsburgers, en as ‘n postmoderne voorbeeld vir gemeenskappe én organisasies” (Hansen, M.H., 1992: “The Tradition of the Athenian Democracy AD 1750-1990”. Greece & Rome 39 (1): 14-30).

‘n Fundamentele swakheid van die demokratiese stelsel blyk uit bogenoemde aanhaling, veral in multi-etniese samelewings waar daar nie ‘n sterk samehorigheidsgevoel en onderlinge respek is nie, en ook in onderontwikkelde samelewings waar die vlakke van onderwys en professionele kundigheid laag is. ‘n Demokrasie kan in sulke gevalle inderdaad volgens Hansen “’n stelsel van regering [word] waarin die laer klas, die gepeupel (as ‘n kollektiewe tiran) of die arm mense, die mag in hulle hande het.” Dit is ‘n ontnugterende feit.

‘n Ander toepassing van demokrasie wat vir denkende mense ontstellend is, is Hansen se verwysing daarna as ‘n handige instrument om postmoderne hervormings in die samelewing te bevorder. Sulke hervormings lei dikwels na wanordelikheid, onderbeklemtoning van morele beginsels, en swak regering.

Postmodernisme

Postmodernisme is ‘n term wat redelik onlangs geskep is om die verreikende veranderings uit te druk wat sedert die laaste deel van die 20ste eeu begin intree het. Hierdie begrip het wye en dikwels uiteenlopende toepassings op die politieke terrein, maar ook in die filosofie, godsdiens en letterkunde. Dit word as ‘n bevrydende beweging gesien om van die totalitêre strukture en ideologieë af weg te breek wat gedurende die moderne era gevestig is. Afhangende van watter moderne instellings gedekonstrueer en verwerp word, kan postmodernisme in verskillende situasies ervaar word as post-koloniaal, post-apartheid, post-kommunisties, post-kapitalisties, en selfs ook post-Christelik. Die idee van ‘n nuwe, postmoderne orde wat die ou orde moet vervang, is redelik vaag omskrewe en kan maklik in ‘n samelewing of staat tot wanorde en chaos lei indien dit nie behoorlik beheer word nie.

Postmoderne hervormings in Afrika, en spesifiek post-koloniale hervormings, lei dikwels tot diep teleurstellings en vernietigende sosio-ekonomiese en politieke gevolge. ‘n Groot aantal voormalige kolonies in Afrika het in die tweede helfte van die 20ste eeu politieke onafhanklikheid verkry, en daardeur die postmoderne stadium van hulle ontwikkeling betree. Vir die meeste van hulle was dit egter geen utopia nie. ‘n Swart akademikus van die Harvard Universiteit in Amerika het die volgende in ‘n lesing oor regerings in Wes-Afrika gesê:

“Die post-koloniale Afrikastaat is al in verskillende hoedanighede beskryf as korrup, persoonsgebonde, kleptokraties en selektief begunstigend. Verskeie Afrikastate word regeer deur ‘n sterk man wat despoties en korrup is en oormatige afhanklikheid van die staat skep. Leiers reken nie op die vrywillige onderdanigheid van hulle volgelinge nie. In plaas daarvan koop hulle invloedryke individue se guns, of maak van hulle mag gebruik om landsburgers tot onderdanigheid te dwing. Politieke opposisie word nie geduld of aangemoedig nie, en militêre staatsgrepe, eerder as verkiesings, is die manier waarop gesag van een persoon na ‘n ander verwissel. Afhanklikheid van die staat geskied ten koste van die privaatsektor. Die meeste Afrikastate het die weg van die sentralisering van mag gevolg en die burokrasie sterk uitgebrei. Hierdeur het hulle die meeste groepe in die samelewing van deelname aan openbare sake uitgesluit. Die chaotiese aard van politieke omstandighede het daartoe gelei dat die meeste burgerlikes vertroue in die stelsel verloor het, hulleself van die regering gedistansieer het en nou die staat as hulle vyand beskou” (Zine Magubane, Harvard Univ., “Colonisation and the state society struggle in West Africa”, aangehaal deur Malan, J.S., in Cultural Anthropology: an African Perspective. Univ. van Limpopo, 1998:87).

Toestand waaronder demokrasie kan slaag

Die geskiedenis van demokrasie toon duidelik dat hierdie ideologie en politieke sisteem slegs geskik is vir redelik goed ontwikkelde samelewings. Sedert die vroeë 18de eeu het die Westerse wêreld (die sogenaamde Eerste Wêreld) ‘n fase binnegegaan van aansienlike kulturele, ekonomiese, opvoedkundige en godsdienstige ontwikkeling, sowel as groot vooruitgang op mediese gebied. Die godsdienstige herlewings van die 18de en 19de eeue het gelei na wye belangstelling in geletterdheidsprogramme onder mense wat graag self die Bybel wou lees. Dit was tot die voordeel van onderwys in die algemeen, en het na navorsing op verskeie ander terreine gelei. Die aantal skole, kolleges en universiteite in Europa het eksponensieel toegeneem. Industriële en tegnologiese ontwikkeling het ook aansienlik uitgebrei, met die gevolg dat werksgeleenthede vir ‘n groot aantal mense geskep is.

‘n Wydlopende renaissance van hierdie aard lewer natuurlike leiers op al die verskillende terreine van die openbare lewe op. Dit vereis ‘n devolusie van gesentraliseerde mag sodat die nuut gevestigde belangegroepe volgens hulle eie beginsels en groepsdinamika kan funksioneer, en hiervoor moet regeringsintervensie tot ‘n minimum beperk word.

Hervormings van hierdie aard is die rasionaal vir demokratisering: onderwys, veral op die tersiêre vlak, moet toegelaat word om onafhanklik te funksioneer sonder om gedwing te word om ‘n propaganda-instrument vir die staat te word; die kerk moet toegelaat word om sy roeping sonder staatsinmenging te vervul; op ekonomiese gebied moet ‘n vryemarkstelsel toegelaat word om te ontwikkel; en op juridiese terrein moet vrye regspraak die ideaal wees.

In ‘n ontwikkelde situasie soos hierdie moet leierskapsposisies verdien word op die betrokke terrein waar ‘n persoon sy bydrae tot ontwikkeling lewer. Leiers word nie gebore nie, hulle word gevorm, en hierdie beginsel is in botsing met die tradisie van erflike leierskap in ‘n koninklike familie. ‘n Koninklike dinastie moet verkieslik deur ‘n veelparty-demokrasie vervang word, wat aan die mees bekwame mense die geleentheid bied om tot regeringsposisies verkies te word. ‘n Kompromie tussen die twee stelsels is ook moontlik, naamlik ‘n konstitusionele monargie, en dit word deur verskeie nasies of volke verkies.

Wat gebeur indien demokratiese verkiesings op onderontwikkelde gemeenskappe afgedwing word waar daar nie uitgebreide kulturele diversiteit is wat vir die ontwikkeling van natuurlike leierskap nodig is nie? In die afwesigheid van sulke toestande word sogenaamde ‘bevrydingsbewegings’ gevorm met die oog daarop om die mag in ‘n land of voormalige kolonie oor te neem. Hulle sterkte is nie in opvoeding of die professionele kundigheid van hulle lede geleë nie, maar in hulle getalle of in die militêre mag wat hulle kan monster. ‘n Gewelddadige bevrydingstryd, militêre staatsgrepe, asook intimiderende massa-aksies of openbare demonstrasies, is sommige van die metodes wat hulle gebruik om hulle saak te bevorder.

Hierdie mense is dikwels baie swak opgelei, werkloos of slegs op toetreevlakke werksaam, en beskou hulleself op verskeie terreine as benadeel deur die staat. Hulle mag ook ‘n etniese meerderheid verteenwoordig, en as gevolg van hulle getalsterkte die vraag oor politieke bevoegdheid vermy. Die positiewe internasionale klimaat ten gunste van meerderheidsregering word dan deur hulle uitgebuit om demokratiese verkiesings in hulle land te hou.

Wanneer hulle in hul doel slaag en die nuwe regerende party word, vaar hulle feitlik sonder uitsondering swakker as die vorige onderdrukkende regime. Afgesien van die skaarste aan bekwame politieke leiers en amptenare in hulle geledere, vind hulle dit ook onmoontlik om hulle verkiesingsbeloftes uit te voer. In die meeste gevalle belowe hulle werk, huise en goeie salarisse aan al hulle ondersteuners. Omdat dit onmoontlik is om aan hierdie verwagtings te voldoen, besef die nuwe leiers gou dat hulle op ‘n plofbare kruitvat sit. Hulle oorweeg dan verskeie opsies, bv. kompromieë met opponente, outokratiese regering, dwang deur middel van die weermag en polisie, asook ander metodes van intimidasie of omkopery.

Onseker politieke leiers raak ook korrup en probeer om hulleself maksimaal te verryk terwyl hulle die geleentheid het. Hulle verander die regering in ‘n kleptokrasie waarin die diefstal van geld en staatseiendom aan die orde van die dag is op alle vlakke van die regering. Dit ondermyn vertroue in die regering en is die teelaarde vir demonstrasies, stakings, gewelddadige optredes, en selfs burgeroorloë. Uit vrees vir vergelding klou hulle aan gesag vas en pleeg selfs onbeskaamde verkiesingsbedrog net om langer aan die bewind te bly.

Die prys vir ongeregverdigde demokratisering

Met die oog op die basiese voorwaardes waaraan voldoen moet word om ‘n demokratiese stelsel behoorlik te laat werk, is dit uiters dwaas om dié stelsel op onderontwikkelde gemeenskappe toe te pas. Dit kan vergelyk word met ‘n situasie waarin ‘n Graad 6 leerling geneem en onmiddellik na die posisie van hoof van ‘n sekondêre skool bevorder word. Dit kan eenvoudig nie werk nie.

Die VSA het hierdie benadering al in verskeie lande gevolg en klaaglik misluk. Hulle intensiefste en duurste eksperiment tot op datum was in Irak. ‘n Diktatorskap in Irak is vervang deur ‘n demokratiese regering wat totaal onbevoeg is om die onderontwikkeldheid, gebrek aan kennis en vaardighede, sektariese geweld en ernstige godsdienstige verskille tussen die Soenniete en Sjiïete te oorkom. Inteendeel is die bloedvergieting, onsekerheid en menslike lyding in die post-Saddam era baie erger as voor die tyd. Die korrupsie en swak prestasie van die huidige regering is seker tekens van verdere agteruitgang en moontlike ineenstorting.

Die Amerikaners het gou van hulle mislukte poging in die voormalige Suid-Viëtnam vergeet, toe hulle hulself tot oorwinnaars verklaar en hulle gewapende magte uit die land onttrek het. Hulle het hierdie benadering in Irak herhaal, maar dié keer was die koste astronomies en het byna tot die vernietiging van die Amerikaanse ekonomie gelei. Steeds gaan hulle egter voort om dieselfde oplossing vir politieke probleme oral aan te bied – demokratiseer of sterf! Dit was ‘n naïewe droom van hulle om te verwag dat hulle Irak spoedig as ‘n uitnemende voorbeeld van demokratiese hervormings aan alle Arabiese state sou kon voorhou.

Ten spyte van hierdie mislukkings het hulle obsessie met demokrasie as die enigste werkbare oplossing nog nie afgeneem nie – soos nou weer in Egipte bewys is. In plaas daarvan om die gematigde diktatuur van Hosni Moebarak te probeer red deur hom betyds te beïnvloed het om  mag te deel en die gesag aan ‘n meer aanvaarbare opvolger in sy party te oorhandig, het die VSA gewag totdat die opposisie teen sy bewind ‘n plofbare vlak bereik het. Toe eers versoek hulle hom om dadelik af te tree, en daardeur het hulle die brug na ‘n meer werkbare oplossing in die Egiptiese politiek verbrand. Wie sal nou die volgende farao wees?

Die VSA het openlik die kant gekies van die betogers in Egipte, waaronder ook die baie ondersteuners van die Moslem Broederskap. Sal hulle Amerikaanse belange in die Midde-Ooste beskerm indien hulle die regering oorneem, en sal hulle die vorige bewind se vredesverdrag met Israel eerbiedig? Hierdie is ‘n gevaarlike dobbelspel.

Dit is sekerlik nie ‘n maklike taak vir ander lande om buitelandse beleid vir die Midde-Ooste te bepaal nie, en veral nie vir lande soos Libië nie. Met die voordeel van wysheid agterna, besef ons nou dat Gaddafi lankal deur die Arabiese Bond, die VSA, die VN en ander belanghebbendes teëgestaan en tot ander insigte gebring moes word. Om hom vir meer as 40 jaar lank aan bewind te laat bly, was die resep vir ‘n ramp. Die openlike ondersteuning vir die revolusionêre dade van die betogers, lei na aandadigheid aan die ekonomiese vernietiging van ‘n belangrike olieproduserende staat. Duisende mense uit verskeie lande het hulle werk verloor, en dit sal Libië baie lank neem om te herstel.

Wanneer daar besluit moet word wie die blaam vir die gebeure in Libië, Egipte en ander lande moet kry, moet die Arabiese Bond as die belangrikste liggaam uitgesonder word. Daar is egter ook die belangrike aandeel van die elektroniese media, en veral die Aljazeera TV netwerk in Qatar met sy Engelse en Arabiese uitsendings, wat in berekening gebring moet word. Hulle is so sterk aan demokratiese hervormings verbind dat hulle nooit na die betogers in Egipte en Libië as anti-regerings betogers verwys het nie, maar as pro-demokratiese betogers. Die opstandelinge se dade is ongekwalifiseerd goedgekeur en geprys as ‘n eerbare poging om hulle vryheid en basiese menseregte te bevorder. Die onafwendbare anargie is nie veroordeel nie, en daar word ook nie ander politieke oplossings voorgehou as net die Amerikaanse model vir demokratisering nie.

Opstandiges in baie ander lande het sekerlik kennis geneem van die sukses wat die rebelle in die Midde-Ooste bereik het, en ook van die oorweldigende steun wat die internasionale gemeenskap aan hulle gewelddadige metodes vir politieke verandering gegee het. Die kanse is baie goed dat hierdie selfde metodes en openbare druk vir verandering spoedig na verskeie ander lande van die wêreld sal versprei.

Die eise van Islam

‘n Bespreking van demokrasie in die Arabiese wêreld sal nie volledig wees sonder om die standpunte van Moslem geestelikes in ag te neem nie – beide die gematigdes en die radikales. Die toewyding van die Arabiese state aan die Islamse geloof is onwrikbaar, hoewel nie almal van hulle fundamentele hervormings voorstaan soos dié in Iran nie. Die meeste van hulle het nietemin hoë agting vir hulle koninklike families wat na bewering afstammelinge van die profeet Mohammed is. Die regerende emirs en konings, tesame met die geestelikes, word as die beskermhere van die Moslem samelewing gesien.

Die hiërargiese struktuur van hulle samelewings is slegs geskik vir monargieë en aristokrasieë – nie vir demokratiese regeringstelsels nie. Die Islamitiese Shariah wet word volgens verskillende grade van strengheid eerbiedig. Dié geestelikes wat op die volle en absolute onderwerping aan Shariah aandring, het altyd ‘n wêreldwye doelstelling vir die implementering daarvan in alle lande. Volgens hulle is Islam ‘n wêreldgodsdiens en hulle eis dat alle mense hulle daaraan sal onderwerp. Hulle is by ‘n wêreldwye jihad betrokke om hulle saak te bevorder, en spreek dikwels dreigemente uit teen lande en regerings wat dit waag om teen Islam te veg.

WorldNetDaily van 28 Feb. 2011 het ‘n artikel gepubliseer onder die opskrif: Global Jihad – Obama to face Sharia Court? Anjem Choudary, stigter en voormalige hoof van twee Islamitiese groepe wat in Brittanje verbied is ingevolge hulle anti-terrorisme wetgewing, beplan ‘n protesoptog in Washington. Hy wil ‘n beroep doen op Amerikaanse Moslems om teen hulle land in opstand te kom en die Shariah wet daar in te stel. In ‘n onderhoud met die joernalis Aaron Klein het Choudary beweer dat Obama ‘n oorlog teen Islam voer:

“Obama het belowe om alle Moslems in Guantanamobaai vry te laat. Hulle kwyn nog steeds daar weg, hoewel hy weet dat hulle heeltemal onskuldig is. Hierbenewens het hy die aantal Amerikaanse soldate in Afghanistan vermeerder, wat hom net so oorlogsugtig as sy voorganger maak. En in die derde plek, wat die belangrikste is: Moslems wil nie demokrasie en vryheid hê nie. Demokrasie en vryheid is ‘n vervloeking (anathema) vir Islam en Shariah.” Choudary sê hy sal ‘n beroep op Obama en alle Amerikaners doen “om Islam nie net as ‘n godsdiens te aanvaar nie, maar as ‘n lewenswyse.”

Choudary se stelling dat demokrasie en vrede vir Islam ‘n vervloeking is, is ‘n redelik algemene siening onder die moderne Islamitiese elite. Dit geld egter nie vir die arm mense en die opkomende middelklas nie, omdat hulle nie die weelderige lewenswyse van die koninklike gesinne en ryk aristokrate geniet nie. Hulle wil die verdwyning van die tradisionele hiërargie sien deur middel van demokratiese hervormings in die samelewing, sodat alle mense ‘n gelyke deel van die voorregte en rykdom van die staat kan geniet. Andersins bly hulle egter toegewyd aan Islam as ‘n godsdiens.

Hierdie ideologiese krisis is ‘n interne probleem wat Islamitiese samelewings onderling moet oplos. Die rykdom wat verkry word deur olie-uitvoere, asook die daaropvolgende ekonomiese ontwikkeling en die invloed van moderne kommunikasie, bied aan mense ‘n lewenstyl wat verskil van dit waaraan hulle gewoond was. Dit is vir hulle om te besluit hoeveel van hulle ou tradisies hulle wil bewaar. Dit is natuurlik altyd moeilik vir die bevoorregte klas om aan die eise van die minderbevoorregte meerderheid te voldoen, en dit is waarom hulle nie daaraan toegee sonder om met alle mag weerstand te bied nie.

Gevolgtrekkings

Die olieproduserende Arabiese state het té vinnig té ryk geword sonder om regtig daarvoor te werk. Hulle finansiële voorspoed is ver verby die vlak van hulle samelewings se sosiale, opvoedkundige, ekonomiese en politieke ontwikkeling. Hulle het ook op die gebied van sport agtergebly. Omdat hulle nie in die moderne wêreld kompeterend is nie, het hulle dit geriefliker geag om duisende buitelandse maatskappye, werkers en professionele lui in te voer om Arabiese stede te bou en te onderhou, en ook fasiliteite en dienste daar te stel wat met die beste in die wêreld kompeteer – en dit selfs oortref.

Dit is net hier waar die Arabiese lande se probleme begin het. In plaas daarvan om die stadige en moeilike pad van ontwikkeling en die opleiding van hulle eie mense te volg, sodat hulle ook in die rykdom van hulle land kon deel en dit self bestuur, is hierdie geweldige rykdom deur ‘n klein elitegroep Arabiese leiers vir hulleself toegeëien. Hulle bestee die geld met die hulp van buitelandse kundiges om hulleself en hulle stede na die voorpunt van die tegnologiese eeu te verplaas. Op hierdie manier hoop hulle om die rykes van die wêreld te lok om in hulle lande te belê en self ook daar te kom woon. Die klante van hulle reuse inkoopsentrums is ook hoofsaaklik buitelanders. Indien politieke opstande, godsdienstige demonstrasies en anargie hierdie buitelanders sou wegdryf, sal sommige van die Arabiese lande die eienaars van die grootste en duurste spookstede in die wêreld wees.

‘n Aristokrasie het in hierdie lande ontwikkel, waarin die koninklike gesinne saam met ‘n geselekteerde groep ryk Arabiere die beheer oor hulle lande se ekonomiese bates verkry het. Die meerderheid van die bevolking is nie goed genoeg en intensief genoeg opgelei nie, en dit lei na ‘n groot onderontwikkelde sektor van die samelewing waaruit daar nie natuurlike leiers van formaat kan kom nie.

Wanneer demokratiese hervormings op sulke samelewings toegepas word, verskuif die mag gewoonlik na godsdienstige drukgroepe, vakbonde, of gewelddadige bevrydingsbewegings. Onder sulke omstandighede sal dit nie die mees kundige mense in die samelewing wees wat die regering oorneem nie, maar die magtigste en mees invloedryke groepe. Hulle mag en invloed is bloot gebaseer op hulle getalle, hulle revolusionêre inisiatief of hulle godsdienstige affiliasie. Godsdienstig-geïnspireerde radikalisme is baie algemeen in die Arabiese wêreld. Dit is moeilik, indien nie onmoontlik nie, om sulke groepe in konstruktiewe politieke partye te omskep.

Daar is nie ‘n maklike oplossing vir die huidige onrus in die Midde-Ooste nie. Om bloot ‘n stembriefie in ‘n stemlokaal in te vul ten einde ‘n basiese mensereg uit te oefen, sal nie eers naastenby hierdie komplekse probleem oplos nie.

Word vervolg op www.bibleguidance.co.za