Johan Malan, Mosselbaai (Junie 2016)
Skriflesing: “Weet julle nie dat julle ʼn tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Kor. 3:16-17).
Ná die eerste koms van die Here Jesus het ʼn baie belangrike klemverskuiwing plaasgevind vanaf die Ou-Testamentiese tempeldiens na Nuwe-Testamenties Christene wat individueel én gesamentlik die opdrag het om as ʼn tempel van God te funksioneer. Die volgende sewe basiese doelstellings van die vroeëre tempel in Jerusalem moet in die nuwe dispensasie vervul word:
1. ʼn Heilige woonplek van God. Die tempel was ʼn huis van die Here in Jerusalem waarin Hy deur sy Heilige Gees in die Allerheiligste deel agter die voorhangsel sy woning gemaak het. In die Nuwe Testament is alle gelowiges wie se harte deur die Here gereinig en geheilig is, self tempels waarin die Drie-enige God woon. Jesus het gesę: “As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhę, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23). Die kommunikasie met die Vader en die Seun vind plaas deur die Heilige Gees, wat die twee ander Persone van die Godheid verteenwoordig: “... die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesę het” (Joh. 14:26). Die heiligheid van God se woning vereis nie net ʼn gereinigde hart waarin Hy woon nie, maar ook uiterlik ʼn heilige lewenswandel.
2. ʼn Daaglikse ontmoetingsplek tussen God en die mens. Die volk het God op ʼn daaglikse basis in die tempel geraadpleeg. Hulle het die Here met hulle probleme genader en Hy het hulle deur die diens van die profete en priesters geantwoord. Ons moet die Here ook raadpleeg en ken in al ons weë. Hy sal ons deur sy Woord antwoord en ook deur sy Heilige Gees in die hele waarheid lei. Ons moenie van Hom vervreemd raak deur na te laat om sy teenwoordigheid op te soek nie. Die Here Jesus se opdrag is: “Bly in My, soos Ek in julle” (Joh. 15:4).
3. ʼn Plek van voortgesette versoening. Sondes is gereeld bely om voortgesette reiniging te ervaar en gebroke verhoudings met God én met mense te herstel. Die daaglikse offers van die Ou Testament het egter verval, omdat die eenmalige offer van Jesus as die Lam van God tot ons beskikking is vir voortdurende vergifnis en reiniging. Dit help ons om onafgebroke in die lig van God se teenwoordigheid te lewe en die voortdurende reiniging deur die bloed van Christus te ervaar (1 Joh. 1:7).
4. ʼn Plek van voortdurende lofprysing aan die Here. Voltydse musikante is aangestel om altyddeur die lof van die Here te besing (1 Kron. 9:33). Sang is ʼn belangrike manier om God te loof en ook sy verlossingswerk aan ander te verkondig. As Christene is ons daartoe verbind om hierdie gebruik van die tempeldiens voort te sit: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here” (Kol. 3:16).
5. ʼn Sentrum vir intersessie. Die tempel was die plek waar voorbidding (intersessie) gedoen is vir almal wat in geestelike en materiële nood was, en veral ook vir beskerming teen Israel se baie vyande. Dieselfde opdrag geld eweneens vir ons: “Bid sonder ophou” (1 Thess. 5:17). Paulus sę ons moet “by elke geleentheid bid in die Gees” (Ef. 6:18). Biddelose Christene raak geestelik verarm omdat hulle nie meer die Here vir al hulle behoeftes vertrou nie: “... julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2).
6. Die lig van die węreld. Die tempel was soos ʼn ligtoring en baken van hoop in ʼn donker en sondige węreld. Tydens die Loofhuttefees is vier reuse kandelaars, 50 el hoog (22 meter), in die voorhof opgerig en suiwer olie gegooi in goue bakke bo-op die kandelaars. Verslete klere van die priesters en Leviete is as lamppitte gebruik. Die helder lig het die hele Tempelberg en nabygeleë dele van Jerusalem verlig, en die ligglans kon van ver af gesien word. Net voor die aanbreek van die kerkbedeling het die Here Jesus vir sy dissipels gesę: “Julle is die lig van die węreld. ʼn Stad wat bo-op ʼn berg lę, kan nie weggesteek word nie ...” (Matt. 5:14 e.v.). Ons moet ʼn duidelike getuienis van lig en hoop na ʼn verloregaande węreld laat uitgaan.
7. Strategiese ligging van die tempel in die middelpunt. Israel is die geestelike en geografiese middelpunt van die węreld (tussen oos, wes, noord en suid), Jerusalem is die geestelike en staatkundige middelpunt van Israel, en die tempel is die hart, of geestelike middelpunt, van Jerusalem. Uit die oogpunt van God se koninkryk was die tempel die absolute middelpunt van alles in die węreld. Die Here Jesus is tydens sy eerste koms in hierdie stad as Verlosser van die węreld geopenbaar; met sy wederkoms sal Hy na Jerusalem terugkeer, sy koninkryk hier vestig en as Koning die hele węreld van dié stad af regeer. Alle nasies sal na Jerusalem optrek om die HERE te eer en deur Hom onderrig te word (Jes. 2:2-4; Sag. 8:22-23). Tydens die kerkbedeling is Israel egter verstrooi en word Jerusalem deur die nasies vertrap (Luk. 21:24). In hierdie tyd het dissipels van Jesus die opdrag om die evangelie van verlossing aan alle nasies te verkondig en plaaslike gemeentes te stig wat die boodskap van redding verder kan uitdra. Elke Christen (en gemeente) moet in hierdie tyd soos ʼn tempel van die Here funksioneer, sodat sy teenwoordigheid en krag tot redding in alle uithoeke van die aarde ervaar kan word. In dié tyd hoef geen pelgrimsreise na die tempel in Jerusalem onderneem te word om die Woord van die Here te verneem nie. Die vraag wat elke Christen hom- of haarself moet vra, is of die Nuwe-Testamentiese tempel van die Here wel sy strategiese posisie as die middelpunt van sy/haar lewe inneem. As dit nie die geval is nie, dan is die vlees (eie-ek) nog op die troon van jou hart en kan die Here jou nie in sy diens gebruik nie (Gal. 5:17).
Die daaglikse funksionering van die Ou-Testamentiese tempel, en selfs ook die plasing van die meubelstukke en verskillende altare, het ʼn duidelike korrelasie met ons pligte en funksies as Nuwe-Testamentiese weergawes van God se tempel. Baie van die skaduagtige rituele van die tempel is uitgedien en word slegs in hulle vervulde vorm beoefen. Die brandofferaltaar waarop herhalende offers vir die sondes van die volk gebring is, is nie meer nodig nie omdat Jesus as God se Lam ʼn eenmalige offer aan die kruis gebring het vir die sondes van die hele węreld. Die reukofferaltaar is nie meer nodig nie omdat Christene se gebede węreldwyd ʼn lieflike geur voor die aangesig van die Here is. Die verbondsark in die Allerheiligste is ook nie meer nodig nie omdat Christus nou op sy genadetroon in die hemel sit waar Hy voortdurend by die Vader vir ons intree.
Ons het vrye toegang tot die genadetroon so dikwels as wat ons wil, want die voorhangsel het geskeur toe Christus versoening vir die węreld se sonde gedoen het. Ons het nie meer priesters nodig om namens ons te bid en offers te bring nie. Verder is die kandelaar in die tempel nie meer nodig nie omdat die Christene nou die lig van die węreld is. Die tafel met die toonbrode is ook uitgedien omdat Christene die water en brood van die lewe aan ʼn sterwende mensdom moet bedien. Daar het dus ʼn totale klemverskuiwing gekom van ʼn ritualistiese tempeldiens in Jerusalem, na Christene wat elkeen in sy eie reg geroep is om ʼn tempel van God te wees waarin die Heilige Gees woon. Dit is noodsaaklik dat ons noukeurig sal vasstel wat die Here van ons verwag om geestelik gesproke doeltreffend as tempels te funksioneer waardeur sy doel op aarde bereik kan word.
Wanneer ons na die tempeldiens kyk, asook ander openbarings van God aan die mensdom, dan is dit opvallend dat daar altyd twee perspektiewe is wat beklemtoon word, naamlik eerstens die mens-God-verhouding en tweedens die mens-medemens-verhouding. Die wette wat by Sinai aan Israel gegee is, is op twee kliptafels geskryf – op die een word ons verhouding met God beskryf, en op die ander een ons verhouding met ons medemens. Dié twee perspektiewe blyk ook duidelik uit Jesus se opsomming van die wet in twee basiese wette: liefde tot God en liefde tot ons medemens. Die kruis waaraan Christus gesterf het, vertoon ook hierdie twee perspektiewe. Die een balk wys op na die hemel en ons verhouding met God, en die dwarsbalk simboliseer ʼn uitreiking na die geestelike nood van die węreld.

Hierdie twee aspekte van ons geloofslewe is interafhanklik, daarom kan die een nie sonder die ander bestaan nie. Ons móét almal ʼn verhouding met die Vader hę deur Jesus Christus, want daarsonder is ons nie gelowiges nie. Hierdie verhouding moet deur die vervulling met die Heilige Gees versterk en daagliks vernuwe word. Wanneer my siel versadig is met die goeie, het ek die verpligting om die evangelie met ander te deel. Die liefde van Christus sal my dring om dit te doen, want dit is die uiterlike bewys dat ek ʼn ware geloof in my hart het. Geloof sonder werke is dood, en as ek nie na ander uitreik met die evangelie nie, bestaan daar ʼn baie groot vraag oor die aard van my eie geestelike lewe. Die Here verwag dit van al sy kinders om die lig van ʼn donker węreld en die sout van ʼn bedorwe aarde te wees.
Ons Christelike dienswerk na buite is uiters afhanklik van sterk geloofsoortuigings en ʼn intieme verhouding met die Here. As dit ontbreek, is ons werke nie geďnspireer deur die Heilige Gees nie, maar slegs menslike pogings wat in die krag van die vlees gedoen word. Sulke werke wat nie deur die Gees gedrewe is nie, is uit God se oogpunt nutteloos. Dit is belangrik dat ons verhouding met die Here reg sal wees as ons wil hę dat dit met ons bediening daarbuite goed moet gaan. “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde” (Matt. 6:6). As jou verhouding met die Here reg is, sal jy ʼn verborge kragbron in jou lewe hę wat duidelik sal blyk in jou getuienis en optrede onder mense met wie jy in aanraking kom. Hulle sal kan sien dat die Here se seën op jou lewe rus.
Om doeltreffend as ʼn tempel van God te kan funksioneer, moet albei hierdie perspektiewe tot hulle volle reg kom. Dit is opvallend dat die toerusting in die Ou-Testamentiese tempel in die vorm van ʼn kruis gerangskik is, met die vertikale en horisontale lyne wat mekaar in die Heiligdom sny. Die tempel was dus ʼn skadubeeld van toekomstige dinge omdat die simboliek daarvan op die toekomstige verlossingswerk van die Messias aan die kruis dui. In die lig daarvan kan ons vasstel hoedanig ons as tempels van God behoort te funksioneer.
Die eerste lyn in hierdie kruis stel die mens-God-verhouding voor. Dit begin by die poort wat na die voorhof (of binneplein) lei en loop reguit deur tot in die Allerheiligste by die Ark van die Getuienis. Dit is die vertikale balk van die kruis. Die tweede lyn is in die Heilige tussen die kandelaar en die tafel met die toonbrode. Dit is die dwarsbalk van die kruis en dui op ons verpligting om verkondigers van God se genade in die węreld te wees. Jesus Christus het dit alles deur sy kruisdood moontlik gemaak – ons moet net in die regte verhouding met Hom wees en ook erns maak met die opdrag om sy getuies oral in die węreld te wees.
Die vertikale lyn, soos bo genoem, begin buite die tempel en lei na binne. Jesus het gesę: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word” (Joh. 10:9). Die duiwel probeer alles moontlik om mense daarvan te weerhou om deur hierdie poort toe te tree tot die Here se heiligdom waar hulle gered kan word. Sommige van hulle probeer om sonder sondebelydenis deur hierdie poort in te gaan, maar dit is onmoontlik omdat ʼn ongeredde persoon eers van sy sonde verlos moet word voordat hy met God versoen kan word: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sę Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Luk. 13:24). Verder op hierdie lyn kom ons eerste by die brandofferaltaar in die voorhof, waar offers vir die versoening van mense se sonde gebring is. Al hierdie offers was heenwysings na die Here Jesus se eenmalige offer vir ons sonde: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Voortgesette reiniging deur die bloed van die Lam moet ʼn lewenslange ervaring by Christene wees. “... as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons [voortdurend] van alle sonde” (1 Joh. 1:7).
Hierna kom ons by die koperwaskom waar die priesters hulle hande gewas het ná die offers, en die water gevolglik met bloed gemeng was. Dit was die bewys van ʼn volbragte offer. Nadat Jesus gesterf het, het daar water en bloed uit sy sy gekom, as ʼn bewys dat Hy klaar gesterf en sy lewe vir ons afgelę het (Joh. 19:34-35). Dit is belangrik om altyd te onthou dat Christus se offer volmaak, volkome en afgehandel is. Niks kan daarby gevoeg word in die vorm van menslike werke soos wetsonderhouding, of kerklike rituele soos die doop, om dit aan te vul nie. Ons moet net die versoening in die geloof aanvaar en voortgaan om dit in die krag van die Heilige Gees te verkondig, maar nooit probeer om enigiets daarby te voeg nie.
Hierna, steeds op dieselfde reguit lyn, word die Heilige betree en kom ons by die reukofferaltaar uit. Dit is met goud oorgetrek en word ook die goue altaar genoem. Die priester moes elke oggend en aand speserye hierop aan die brand steek as ʼn voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here. Die teëbeeld van die reukofferaltaar is die aanhoudende gebede van die Christene in die Nuwe Testament. In gebed tree ons toe tot die troon van God. Hierdie kommunikasie moet in stand gehou word, en ons moet “by elke geleentheid bid in die Gees” (Ef. 6: 18). Biddeloosheid lei tot gebrekkige kommunikasie met God en tot kragteloosheid in sy diens: “... julle het nie omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2). Wil jy meer seën op jou arbeid hę? “Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag” (Jak. 5:16).
Reg agter die reukofferaltaar was die voorhangsel wat skeiding gemaak het tussen die Heilige en die Allerheiligste waar die Ark van die Getuienis was. Hierdie ark stel die genadetroon van die Here voor, en is die verste punt op die reguit lyn van die mens-God-verhouding. Net die Hoëpriester alleen kon een dag per jaar, op die Groot Versoendag (Jom Kippoer), hier ingaan om versoening vir die volk se sondes te doen. Die werklike teenwoordigheid van die Here was dus uitgesluit van die gewone lede van die volk, asook die priesters, want hulle kon nie agter die voorhangsel ingaan om self vir die vergifnis van hulle sondes te bid nie – die hoëpriester moes dit namens hulle doen. Die skeiding tussen die Heilige en Allerheiligste is egter deur die kruisdood van ons Hoëpriester, Jesus Christus, uit die weg geruim.
Ons lees onder meer in Lukas 23:45 oor die oomblik toe die Here Jesus aan die kruis gesterf het: “... en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur.” Dit beteken dat die Ou-Testamentiese offerdiens en gebede deur die bemiddeling van priesters afgeskaf is en dat elke gelowige van toe af self in gebed tot by die genadetroon van die Here kan toetree. Paulus sę in Hebreërs 10 van vers 19 af: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen ... en ons ʼn groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ʼn waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid.” Van hierdie oomblik af het die noodsaaklikheid vir die tempeldiens verval omdat die Here Homself sonder tussengangers aan elke gelowige openbaar. Jesus Christus is ons Middelaar.
Die tweede lyn in die tempeldiens sny oor die eerste een wat van die voorhof af tot in die Allerheiligste gaan. Hierdie tweede lyn strek vanaf die goue kandelaar teen die suidelike muur van die Heilige in die tempel tot by die noordelike muur waar die tafels met die toonbrode staan. Die twee lyne vorm sodoende ʼn kruis. Hierdie tweede perspektief stel die mens-medemens-verhouding in ons geloofslewe voor. Die kandelaar is Jesus Christus as die lig van die węreld en die toonbrode is Christus as die brood (of onderhouer) van die lewe. Deur sy kruisiging het die Here Jesus op die vertikale vlak die weg geopen na sy genadetroon in die hemel sodat sondaars enige plek in die węreld vergewe en geestelik wederbaar kan word. As gevolg hiervan kon Hy sy arms horisontaal aan die kruis uitstrek om die lig van ʼn donker węreld en die brood van die lewe vir die sterwende mensdom te wees. Dit is sy uitdruklike wil dat beide hierdie perspektiewe in die lewens van sy dissipels nagestreef sal word. Ons moet in sy weë wandel waarin ons voortgesette reiniging deur sy bloed sal ervaar, sonder ophou sal bid, en ook sal uitbeweeg om Christus aan ʼn verloregaande węreld te verkondig. Alle Christene moet getuies van die Verlosser se reddende genade onder ʼn verlore mensdom wees, en hulle met die brood van die lewe voed wat die Woord van God is. Ons liefde vir God moet dus ook in liefde vir ons medebroeders én liefde vir ʼn verloregaande węreld tot uiting kom. Moenie net na jou eie geestelike lewe omsien nie, maar vervul deur middel van evangelisasie ook jou opdrag om die lig van die węreld te wees (Matt. 5:14).
Die kandelaar in die tempel het gereelde onderhoud nodig gehad sodat dit onafgebroke ʼn helder lig kon laat skyn. Dit moes elke dag met vars olie opgevul word, anders sou die lampies al hoe flouer begin brand en later heeltemal uitgeblus geraak het. Ons moet die Here ook gereeld vertrou vir ʼn vars salwing deur die Heilige Gees, sodat ons opnuut vervul en toegerus kan word met krag uit die hoogte. Die groot verskil tussen die wyse en dwase maagde in die gelykenis oor die bruidegom (Matt. 25:1-13), is dat die wyse maagde ekstra olie met hulle saamgeneem het. Dit dui op vervulling met die Heilige Gees – iets waarvan die dwase maagde nie kon getuig nie, daarom het hulle lampe uitgegaan.
Verder moes die pit van elke lampie in die kandelaar ook gereeld skoongemaak word, sodat dit nie begin rook en ʼn dowwe lig afgee nie. Hoeveel te meer het ons nie nodig om voortdurend die reinigende werking van die bloed van die Lam te ervaar nie: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Dit sal verseker dat ons “onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ʼn krom en verdraaide geslag onder wie [ons] skyn soos ligte in die węreld” (Fil. 2:15). Ons geestelike lewe moet dus op ʼn daaglikse basis in stand gehou word sodat daar nie dalk afkoeling, sonde en węreldgesindheid intree nie.
Dieselfde beginsel geld vir die tafel met die toonbrode. Vars brood moet aan hongeriges bedien word, en dit vereis dat ons intensiewe Bybelstudie sal doen sodat ons uit die skatkamer van die Woord altyd nuwe boodskappe sal kry om vir mense voor te sit. Die bron is onuitputlik en ondeurgrondelik, daarom vereis dit baie toewyding om dit te ken en die Woord van die waarheid reg te sny sodat dit onder die leiding van die Heilige Gees reg verklaar en toegepas kan word. Terselfdertyd moet Bybelstudie ook tot verhoogde persoonlike heiligheid lei. Dit moenie net ʼn akademiese oefening wees waarin ons slegs verstandelik van die Woord kennis neem sonder dat dit enige verskil in ons lewe maak nie. Ons moet dit waarlik ter harte neem en saam met die psalmis kan sę: “Ek het u Woord in my hart gebęre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11). “Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. Ek is ʼn metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou” (Ps. 119:62-63). “Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (Ps. 119:133).
Wanneer die Woord eerste tot onsself spreek en ons eie lewe verander om aan die beeld van God se Seun gelykvormig te word, sal dit veel groter ingang vind by ons hoorders omdat hulle dit sal begeer wat ons reeds uit genade verkry het. Wanneer die lig van gelowiges se getuienis egter flou skyn, is hulle geneig om dit eerder onder ʼn maatemmer te verberg. Wanneer daar geen getuienis is nie, kan niemand kennis neem van geestelike waarhede nie.
Ons kom dus voor ʼn baie groot uitdaging te staan om ons roeping te vervul om ʼn tempel van die Heilige Gees te wees. Neem in ag dat hierdie opdrag vir alle gelowiges geld – nie net vir ʼn klein groepie wat voltyds in die Here se diens staan nie. Elke individuele gelowige is in sy eie reg, maar ook in groeps- of gemeenteverband, ʼn tempel van die Here in die Nuwe Testament. Om hiervoor geskik te wees het ons almal die opdrag om heilig te leef, “want die tempel van God is heilig, en dit is julle” (1 Kor. 3:17). Hoe funksioneer die tempeldiens in jou lewe? Maak seker dat altwee die perspektiewe daarvan tot hulle volle reg kom. In die mens-God-verhouding moet jy deur Jesus Christus in gebed tot die genadetroon nader om opnuut en voortdurend deur die bloed van die Lam van alle sonde gereinig te word. Jy moet ook gereeld voorbidding doen vir ʼn węreld in sy nood. Wanneer jy dit doen, sal jy die vrymoedigheid hę om jouself beskikbaar te stel om deur die verkondiging van die evangelie ander mense vir die Here se koninkryk te wen, sodat hulle ook tot tempels van die lewende God omskep kan word.
Let op hoe betreurenswaardig is die lewens van mense wat nog nie deur die wedergeboorte en vervulling met die Heilige Gees in tempels van God omskep is nie. Hulle sukkel om werklik sin en betekenis aan hulle lewens te verleen, en probeer gewoonlik om vir hierdie gebrek te vergoed deur soveel as moontlik aardse dinge te vergader. Oor godsdienstige sake is hulle meesal verward en val rond van een dwaling na die ander. Baie van hulle probeer om die geestelike leemte in hulle lewe te vervul deur na die Ou-Testamentiese wette, rituele en feeste terug te keer, maar dit kan aan niemand geestelike vervulling bied nie. Die skaduagtige gebruike van die ou verbond was bedoel om mense na Christus te lei vir verlossing (Gal. 3:24-25).
Die teken van die kruis in die grondplan van die tempel dui profeties op die Seun van God wat in die volheid van die tyd gekom het om die wet en die profete te vervul. Hoe wonderlik is dit dat daar tóg ʼn dag sal kom wanneer die oorblyfsel in Israel sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween (Sag. 12:10). Dan sal hulle deur die Messias ʼn nuwe verbond met die Here sluit en Hom nie meer deur die bemiddeling van priesters en aanhoudende offers dien nie, maar self deur die geskeurde voorhangsel tot by die genadetroon van die Here nader. Dit is slegs op grond van die soendood van sy Seun, dat ʼn persoon tye van verkwikking voor die aangesig van die Here sal ervaar.