Verwerp Calvyn se dwalings

Wanneer daar in die Bybel van verval in die laaste dae gepraat word, verwys dit duidelik na die proses van geestelike en morele verval onder Christene, en ook na verval in die standaarde en leerstellings van kerke. Sondaars kan nie verval nie omdat daar nie ‘n standaard is van waar hulle kan verval nie. Die sonde kan wél intensiveer en in gruwelikheid toeneem, maar dit, as sodanig, is nie verval nie. Verval tree in onder hulle wat veragter in die genade (Heb. 12:15) of selfs totaal uit die genade verval (Heb. 10:26). Paulus sê dat sulke mense aan die geloof skipbreuk ly (1 Tim. 1:19). As gevolg van die doelbewuste en aanhoudende sonde wat hulle weer in ongeloof pleeg, kry hierdie voormalige “broeders” bose en ongelowige harte (Heb. 3:12-13).

Kan ‘n Christen regtig van die genade verval? Kan hy die Gees uitblus, die Here verloën, opsetlik sondig en uiteindelik verlore gaan? Een van die leerstellige beginsels van die Calvinisme is dat as ‘n mens een maal gered is, jy nooit weer van die genade kan verval nie. Die apostel Petrus is egter een van die baie stemme wat opgaan om die leer van die Calvinisme in hierdie opsig te weerlê. In 2 Petrus 2:1-22 vind ons duidelike bewyse van mense wat “valse leraars” genoem word. Volgens die kontekstuele verband van die hoofstuk was hulle vroeër ware Christene gewees! Die volgende stellings deur Petrus bevestig hulle Christenskap én latere verval:

·       “…die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring” (v.1).

·       “Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal…” (v. 15).

·       “...verdorwenheid… waar ‘n mens deur oorwin is…” (v. 19).

·       “Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste” (v. 20).

·       “…Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod” (v. 21).

Petrus beskryf in geen onduidelike terme nie dat hierdie valse profete van die genade verval het. Hulle is deur die Here “gekoop” en is later weer deur die sonde “verstrik en oorwin”. Hulle het die besmettinge van die wêreld ontvlug en die regte pad bewandel, en tóg daarna die Here verloën.

Ook die voorbeelde wat Petrus noem, bewys dat die valse leraars waarvan hy praat, eers gered was. Hy vergelyk hulle met die engele wat voor hulle val heilig was, en ook met Bileam wat aanvanklik ‘n ware profeet van God was.

Net soos wat God die eens heilige engele in die hel werp of in “kettings van duisternis” bewaar, só sal Hy mense oordeel as hulle die regte pad verlaat en verdwaal het. Dit is hierdie mense wat “die reiniging van hulle eerste sondes vergeet het” (2 Pet. 1:9). Dit is hulle wat van die genade verval het (Gal. 5:4). Dit is hulle wat opsetlik sondig nadat hulle die kennis van die waarheid ontvang het” (Heb. 10:26).

Die stelling in 2 Petrus 2:1 is ‘n duidelike weerlegging van ‘n eeue oue onbybelse standpunt. Uit die verband van die hele hoofstuk is dit duidelik dat hier mense beskryf word wat eers gered was. Hierdie gedagte weerspreek die laaste punt van Calvinisme, naamlik die volhardingsleer (een maal gered, altyd gered). Indien die Calviniste sou beweer dat hierdie persoon nooit gered was nie, maar bloot ‘n kopbekering gehad het, dan val die derde punt van Calvyn, naamlik die beperkte versoening (die leer dat Jesus nie vir alle sondaars gesterf het nie, maar net vir uitverkorenes).

Petrus sê egter dat die Here hulle met sy bloed gekoop het (1 Pet. 1:18-19; 2 Pet.2:1). Hy het nie net vir sy dissipels gesterf en vir diegene wat Hom verloën het nie, maar vir die hele wêreld (2 Kor. 5:19). Dit maak dus nie saak watter kant die Calviniste kies nie, hulle fondament verbrokkel as dit aan ‘n Skriftoets onderwerp word. Hulle vyf punte is soos volg:

1.    Totale verdorwenheid. Die mens het geen vrye wil nie, en kan nie ‘n besluit ten gunste van redding neem nie.

2.    Onvoorwaardelike verkiesing. Die Here het net sekere mense volgens sy eie besluit tot die saligheid voorbestem.

3.    Beperkte versoening. Jesus het net vir die uitverkorenes gesterf, en nie vir die massas wat verlore gaan nie.

4.    Onweerstaanbare genade. God sal almal red wat Hy uitverkies het, ongeag hulle houding of omstandighede.

5.    Volharding van die heiliges. As jy een maal gered is, bly jy altyd gered, en kan nie uit die genade verval nie.

In 2 Petrus 2 het ons gesien dat ‘n kind van God wat weer na die sonde terugkeer en homself doelbewus daarin dompel, uit die genade kan verval. As hy homself uit die geloof onttrek, het God geen behae in hom nie (Heb. 10:38). Paulus het vir die gelowige Galásiërs gesê dat as hulle na die wet terugkeer, hulle uit die genade sou verval (Gal. 5:2-4). In die lig hiervan is dit duidelik dat punte 3 en 5 van Calvyn deur die Bybel verkeerd bewys is. Die interafhanklikheid van hierdie stellings bring mee dat die ander ook val as hulle aan ‘n Skriftoets onderwerp word. Nie een van Calvyn se punte kan dus bly staan nie.

Dit is onredelik en onlogies om in een punt te glo en die res te verwerp. ‘n Mens moet verstandig wees en die oorsprong van alle mensgemaakte leringe opspoor en verwerp. Sommige mense verbuig die dwalings deur dit ‘n bietjie aan te pas sodat dit nie so hard op die oor val nie. In sy sagste vorm bly ‘n dwaling egter nog steeds verwerplik.

Elke punt van Calvinisme berus op die opskorting van die vrye wil van die mens:

1.    Met totale verdorwenheid bedoel Calvyn dat die sondeval die mens se wil so volkome opgeskort het, dat hy selfs nie op grond van die Here se roeping ‘n wilsbesluit kan neem om Jesus as Verlosser te ontvang nie.

2.    Omdat die mens nie kan besluit nie, besluit God alleen wie hemel toe en wie hel toe moet gaan.

3.    Jesus het aarde toe gekom om versoening te doen vir diegene wat ooreenkomstig God se wil uitverkies is.

4.    Die Here wederbaar die harte van die uitverkorenes wat nie self ‘n besluit tot dié effek kan neem nie, en eers hierna kan hulle hul bekeer.

5.    Die gereddes kan nooit verlore gaan nie omdat God hulle uitverkies het, gered het en ook geestelik in stand hou. Hulle het dus geen verantwoordelikheid en ook nie ‘n duidelike motivering tot heiligheid nie.

Volgens hierdie teologiese raamwerk is alles wat die mens by God kry, toegerekende genade waarin menslike reaksies geen rol speel nie. Die Here het alles vir sy kinders voorbestem en sal dit op sy tyd en sy manier vir hulle doen. Hy sal ook die toegerekende saligheid in hulle lewens in stand hou, daarom kan hulle nooit verlore gaan nie, al verval hulle ook in sonde. In die lig hiervan is daar in die meeste Calvinistiese kerke ‘n baie verdraagsame houding teenoor sondes soos rook, drankgebruik, onsedelikheid, egbreuk, homoseksualisme, dobbelary en materialisme.

Heilsorde

Wanneer die mat onder die valse en onbybelse aannames van die Calvinisme uitgetrek word, stort die hele heilsorde van hulle leer in duie. Volgens hierdie heilsorde moet wedergeboorte eers plaasvind, en daarna bekering. Hierdeur word uitdrukking gegee aan die aanname dat die Here, wat net sekere mense vir redding uitverkies het, eers daardie persone se harte deur die wedergeboorte moet verander sodat hulle daarna deur ‘n proses van voortdurende bekering hulle lewenspatroon van liefdeloosheid kan verander. Volgens hierdie uitgangspunt kan mense wat nie uitverkies is nie, glad nie tot bekering kom nie omdat God voor die grondlegging van die wêreld al besluit het dat hulle hel toe sal gaan.

Die stelling van die Here Jesus dat verreweg die meeste mense verlore gaan (Matt. 7:13), is volgens die Calviniste daaraan te wyte dat die Here die meeste mense nie liefhet nie en hulle derhalwe nie tot redding uitverkies het nie. In sy boek What love is this? Calvinism’s misrepresentation of God, 2002, beoordeel Dave Hunt die onbybelse uitgangspunte van die Calvinistiese teologie volledig. In die lig van die Skrif word dit verwerp. Kry vir u ‘n kopie van hierdie boek by: The Berean Call, Suite 368, Privaatsak X043, Benoni 1500. U kan ook vir Helen Gevers skakel by 011 425 2938.

Die evangeliese heilsweg

‘n Evangeliese heilsweg het verskeie stappe wat gevolg moet word, en stel die mens voor duidelike keuses. Deur ‘n keuse te maak, word daar aan God se voorwaardes vir redding voldoen. Keuses moet voortdurend vir groter gehoorsaamheid gemaak word, anders sal ons die Heilige Gees bedroef. Die sewe stappe is die in die Bybelse heilsweg volgende:

1.    Roeping. Die evangeliese weg van verlossing begin by God se roeping tot redding wat na alle mense uitgaan, omdat Hy wil hê dat almal gered moet word (Joh. 3:16; Hand. 17:30; 1 Tim. 2:3-4; 2 Pet. 3:9). Mense tree in stryd met God se wil op as hulle verlore gaan (Matt. 23:37), en hulle kán dit ook doen omdat elkeen ‘n vrye wil het (Op. 22:17). Ons is nie robots wat geprogrammeer is om net op ‘n sekere manier te reageer nie. Omdat ons ‘n vrye wil het, is ons aanspreeklik teenoor God as ons sy genade-aanbod verwerp (Heb. 2:3; 10:31). Mense wat verlore gaan, sal nie agter die verskoning kan skuil dat hulle nie uitverkore was nie, en derhalwe geen kans gehad het om gered te word nie. God roep almal tot bekering op.

2.    Berou. ‘n Persoon wat op die Here se roeping reageer, het berou oor sy sonde en verlore toestand. Hierdie berou sal na ‘n ware bekering lei (2 Kor. 7:10).

3.    Bekering. Dit behels ‘n omdraai op jou lewenspad wat weg van die Here af gelei het, en gaan met die belydenis van jou sonde gepaard (Jes. 55:7; Luk. 24:46-47; 1 Joh. 1:9).

4.    Regverdigmaking. Dit vereis voldoening aan God se wet wat die doodstraf oor sondaars bepaal (Rom. 6:23). Christus het namens ons hierdie straf uitgedien (Rom. 3:23-25), en ons moet dit in die geloof aanvaar.

5.    Wedergeboorte. Dit is die nuwe lewe in Christus wat almal ontvang wie se sonde vergewe is (1 Pet. 1:3). Sonder dit sal niemand in die hemel toegelaat word nie (Joh. 3:3).

6.    Heiligmaking. Die vlees moet gekruisig word (Gal. 6:14) sodat ons met die Gees vervul kan word (Ef. 5:18) en in ons hele lewenswandel heilig word (1 Pet. 1:15-16; Ef. 4:22-24).

7.    Verheerliking. Dit sal gebeur wanneer Christus weer kom, die ontslape heiliges opgewek en die lewende heiliges in ‘n oogwink met verheerlikte liggame beklee (1 Kor. 15:51-52; Fil. 3:20-21).

Ons moenie die leerstellings en gebooie van mense soos Calvyn en Augustinus navolg as ons in die regte verhouding met die Here wil kom nie, maar net die duidelike voorskrifte van die Bybel self. Die gebooie van mense kan ons ernstig laat dwaal, omdat daar dikwels net ‘n kopbekering hieruit voortvloei (Matt. 15:8-9; Mark. 7:9). Moenie daarna streef om deur mense salig gespreek te word nie, maar soek die Here deur bekering, sondebelydenis en die geloofsaanvaarding van die Here Jesus se plaasvervangende dood aan die kruis, totdat jy die getuienis van die Heilige Gees in jou hart ontvang het dat jy ‘n kind van God is (Rom. 8:14,16).

Neem dan die kruis van selfverloëning op (Luk. 9:23; Gal. 6:14) en volg die gekruisigde en opgestane Here Jesus wat steeds deur die wêreld verwerp word. As jy bereid is om saam met Hom te ly en verwerp te word, sal jy eendag saam met hom regeer (Rom. 8:17; Fil. 1:29; 2 Tim. 2:12 en 3:12). Ons is nie navolgers van kerkvaders, teoloë, predikers of kerke nie, maar net van die Here Jesus. Enigeen wat ‘n evangelie bring wat in stryd met die suiwer Bybelse leer is, word deur Paulus anatema genoem (Gal. 6:8-9) omdat dit onder die aanstigting van Satan verkondig word (2 Kor. 11:2-4,13-15).

Daar is oneindig veel op die spel wat jou ewige sieleheil betref, daarom kan jy hoegenaamd nie bekostig om mislei te word nie. Wat gaan van die miljoene misleides word? Neem die ernstige waarskuwing oor godsdienstige misleiding deeglik in ag (Matt. 24:4,24; 2 Tim. 4:3-4; 2 Pet. 2:1-2; 1 Joh. 4:1) en soek na die volle waarheid (Joh. 8:32; 16:13-14; 17:17). Dien die Here in Gees en waarheid, en volhard op die weg van heiligmaking totdat Hy ons kom haal.