Geestelike Misleiding, Herlewing en Angus Buchan

Prof. Johan Malan, Mosselbaai, Mei 2010

Namate ons dieper in die eindtyd in beweeg, neem geestelike dwalings en afvalligheid geweldig toe. Ons weet dat die Gees van die waarheid ons in die hele waarheid van God se Woord wil lei – ook wat die regte verstaan van profesieë oor die eindtyd betref (Joh. 16:13). Aan die ander kant is daar die gees van die dwaling wat daarop uit is om mense geestelik te mislei en op die koms van die Antichris voor te berei (1 Joh. 4:1-6). Ons het meer as ooit tevore onderskeidingsvermoë nodig om in die volle raad van God te wandel en die Heilige Gees toe te laat om ons te onderrig en van alle dwalings te bewaar.

Dit is nie maklik om jou pad in alle opsigte suiwer te hou en altyd tussen hierdie twee opponerende geestelike invloede te kan onderskei nie, want deur die duiwel se toedoen is daar ‘n grys area tussen hulle. Satan het die vermoë om homself as ‘n engel van die lig voor te doen en op dié manier ook welmenende Christene te mislei (2 Kor. 11:13-15; Matt. 24:4-5, 24). Hy spits hom juis daarop toe om gelowiges te laat dwaal deur valse sienings oor Christus en die Bybel te huldig. Daar is baie voorbeelde hiervan in die Bybel.

Petrus was bewus van die feit dat Jesus die Messias en Seun van God is en het eerlik gedink dat hy ‘n baie behoudende stelling maak toe hy homself téén die idee van Christus se kruisdood uitgespreek het. Dit het egter geblyk dat hy deur Satan self mislei was om hierdie uitspraak te maak (Matt. 16:14-23). Petrus kon miskien oor sy daad verskoon word omdat hy toe nog nie die volle verligting van die Heilige Gees gehad het nie.

Later het Petrus as ‘n Geesvervulde apostel egter weer ‘n keer gedwaal toe hy nie die genade van Christus tot regverdigmaking duidelik genoeg onderskei het van Joodse wetsnakoming nie. Hy het selfs gelowiges uit die heidendom gedwing om soos Jode te leef. Paulus het hom in die openbaar hieroor berispe (Gal. 2:11-21). Dwalings van hierdie aard is ook deur die  gemeente in Galasië beoefen, en dit het hulle geloof in Christus se genadewerk ernstig ondermyn (Gal. 5:4). Soortgelyke dwalings neem geweldig toe in ons tyd omdat baie Christene hulleself onder die wet plaas.

Verskeie van die vroeë Christelike gemeentes het ernstig gedwaal en dit kan alles aan die werk van Satan en sy handlangers toegeskryf word (vgl. Hand. 20:29-30). Éfese het in ‘n vorm van kerkisme verval wat hulle heeltemal van hulle vroeëre liefde vir die Here Jesus laat wegdryf het (Op. 2:4-5). Pérgamus het na valse profete geluister, kompromie met die bose wêreld gemaak en só aan die duiwel ‘n vastrapplek in hulle kerk gegee (Op. 2:13-15). Die enkele persoon wat homself teen die stroom van vervalsings uitgespreek het, moes met sy lewe daarvoor boet (Op. 2:13). Thiatíre was onder die invloed van ‘n valse profetes en dit het hulle heeltemal laat verval en op koers na die groot verdrukking geplaas (Op. 2:20-23). Slegs ‘n klein groepie lidmate het getrou aan die Here Jesus gebly en hulle waardig gedra vir sy koninkryk (Op. 2:24-29). Sardis het die naam gehad dat hulle leef, maar hulle was geestelik dood en het geen evangelisasiewerk gedoen nie (Op. 3:1-3). Ook in dié gemeente was daar net enkele persone wat op die regte pad volhard en nie saam met die meerderheid geestelik gestagneer het nie (Op. 3:4-5). Laodicéa het totaal in materialisme, selfregverdiging en vormgodsdiens verval, en het nie eers agtergekom dat die Here Jesus Homself van hulle gedistansieer het en buitekant die kerkdeur staan nie (Op. 3:15-17).

Alle mense kán mislei word – selfs ook die beste Christene – daarom die Here Jesus se waarskuwing: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4). As ons egter die Woord van die Here ken, in die geloof aanneem en streng daarvolgens wandel, sal ons nie dwaal nie: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid., sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16-17). As ons nie streng by die Bybel bly nie, sal ons dwaal en ook die Heilige Gees se werk in ons lewe beperk. “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Die Heilige Gees is bereid om Bybelse beloftes te vervul wat ons in geloof aanvaar.

Eindtydse misleiding

In die laaste dae neem geestelike misleiding veel erger afmetings aan as in die verlede – nog steeds onder die direkte beïnvloeding van die duiwel en sy gees van dwaling. Die postmoderne mens bevry homself van Bybelse voorskrifte deur die geldigheid daarvan te bevraagteken of dit bloot net te ignoreer asof dit nie bestaan nie. In die plek daarvan word duiwels-geïnspireerde, humanistiese filosofieë aangehang wat deur valse leermeesters gepropageer word. Hierdie nuwe sienings druis teen die Heilige Gees se leiding en oortuigingswerk in en loods ‘n aanslag op mense se geloof, daarom waarsku Hy self hierteen: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim. 4:1-2). Die duiwel gebruik valse leraars wie se gewete toegeskroei is, en hulle verkondig skaamteloos leuens aan hulle gemeentes en volgelinge. Die uiteinde van hierdie misleiding is dat baie mense se geloof totaal vernietig word. Hulle raak van die waarheid afvallig en bewandel dan ‘n weg wat wel uit die oogpunt van menslike rasionalisering reg mag lyk, maar dit is ‘n verkeerde pad wat na die ewige dood lei (Spr. 16:25).

Daar is verskillende groepe valse leerstellings waarvoor ons op ons hoede moet wees. Sommige daarvan word selfs verkondig deur ware gelowiges wat in sekere areas ten opsigte van hulle kennis en geestelike lewe onkundig of mislei is. Ander leerstellings verteenwoordig ‘n meer gevorderde graad van misleiding en word net deur valse profete verkondig. Die volgende is die tien mees algemene kategorieë van misleiding wat in ‘n groot aantal Christelike kerke en interkerklike bewegings aangetref word:

Multigodsdienstige denke: Dit is die leuen dat die Christendom nie uniek is nie, maar slegs een groep in ‘n groot familie van gelykwaardige wêreldgodsdienste. Die saligheid kan volgens hierdie siening deur die lid van enige geloof verkry word. Die intergeloofsdogma verwerp ook die idee van die Drie-enige God. God die Vader word as die universele God van alle gelowe voorgestel, en verskillende paaie kan gevolg word om by hom uit te kom. Jesus word net as ‘n gewone profeet beskryf wat op ‘n gelyke vlak met Mohammed, Krishna, Boeddha en ander middelaars na God funksioneer. Die Heilige Gees word aan alle vorms van bonatuurlike ervarings verbind, insluitende towery en waarsêery en ander vreemde verskynsels. Multigodsdienstige denke word deur die universele god van hierdie wêreld, Satan, bevorder en deur sy valse profete ook in Christelike kerke verkondig (2 Kor. 4:4; 11:13-15; 2 Pet. 2:1-2).

Mistisisme: Vreemde tegnieke uit die Oosterse godsdienste word dikwels gebruik om kontak met die bonatuurlike te maak en geestelike verligting te verkry. Een van die mees algemene mistiese gebruike is transendentale meditasie. Dit is ‘n vorm van selfinkering waarin daar tydens lang tydperke van stilte en afsluiting van die wêreld, na die sg. kreatiewe vlakke van die onderbewussyn afgedaal word om met die bonatuurlike, kosmiese wêreld in verbinding te tree. Mantras (kort gedagtes of woorde) word oor en oor herhaal totdat die persoon ‘n alternatiewe bewyssynstoestand ervaar – dit is ‘n tipe hipnotiese transtoestand. Die Bybel verbied mantras as ‘n heidense gebruik. Dit is duidelik nie ‘n Christelike gebedsvorm nie (Matt. 6:7). ‘n Mistiese oriëntasie lei na die siening dat daar nie ‘n persoonlike God is nie, maar slegs ‘n onpersoonlike, panteïstiese god binne-in alle mense én ook in die natuur. Sulke mense glo nie in die hemel of hel as aanduibare plekke nie, en ook nie in ‘n persoonlike duiwel nie. Daar is volgens hulle net ‘n element van kwaad in die kosmos (ook in alle mense) wat bestry moet word. Hulle streef na ‘n toestand van hemel op aarde.

Die verkondigers van ‘n ander Jesus: Hierdie mense verloën nie die Bybelse Jesus in naam nie, maar bevraagteken en verander wel sy persoonlike attribute en werke. Onder hulle is ‘n groot groep afvallige teoloë en predikante wat openlik beweer dat Jesus nie maagdelik gebore is nie, nie Christus, God of die Seun van God is nie, nie uit die dood opgestaan het en ook nie na die hemel opgevaar het nie. In die postmoderne dekonstruksie van die Skriftuurlike beeld van Jesus word die naam “Jesus” nog altyd behou, maar aan ‘n “ander Jesus” toegeskryf wat ‘n vervalsing van Satan is (2 Kor. 11:2-4). ‘n Persoon wat sy rug op die ware Jesus draai, word noodwendig ‘n navolger van die Antichris: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh. 2:22). Diegene wat ‘n ander Jesus verkondig, steur hulle nie aan die uitsprake van die ware Jesus nie en skep hulle eie scenario vir die toekoms. Die Here Jesus het gesê dat die wêreld op ‘n groot verdrukking afstuur, maar dat ware gelowiges dit deur die wegraping kan ontvlug (Matt. 24:21; Luk. 21:36). Navolgers van die “ander Jesus” ontken die toekomstige toorn en beywer hulle vir die vestiging van ‘n vreedsame menslike koninkryk op aarde.

Die bevordering van ‘n ander gees en ‘n ander evangelie: Saam met die vervalsing van Jesus gaan ook, volgens 2 Kor. 11:4, die vervalsing van die Heilige Gees én die evangelie van verlossing. Wanneer mense van die Here Jesus ‘n blote menslike profeet maak en Hom nie as die enigste Middelaar en Seun van God aanbid nie, is hulle onder die invloed van ‘n vreemde gees wat van die duiwel af uitgaan. Hierdie gees sal hulle nie van sonde oortuig nie, maar ‘n valse vrede in hulle harte vestig. Soms maak hy sy slagoffers deelnemers aan vreemde manifestasies, soos om in onbeheerde lagbuie op die vloer te val. Binne die verband van hierdie vreemde gees se valse evangelie beskou hulle wedergeboorte as een of ander bonatuurlike krag wat voelbaar op hulle geval het. Hulle lewens is dan op die fondament van ‘n valse bekering gebou, en baie van hulle sal eers die valsheid daarvan ontdek wanneer dit té laat is om die saak reg te stel (Matt. 7:22-23).

Diskreditering van die Bybelse boodskap: Dit het ‘n moderne neiging geword om die Bybel as die geïnspireerde Woord van God te verwerp deur dit te reduseer na die vlak van ‘n menslike geskrif wat na bewering vol teenstrydighede en mitologiese verhale is. Geen Bybelse profesieë oor die eindtyd word letterlik aanvaar nie – dus ook nie profetiese boeke soos Daniël, Sagaria en Openbaring nie. Teoloë wat só onverskillig en subjektief met die Bybel omgaan deur alles te vergeestelik, te allegoriseer of histories te verklaar, word antichiliaste of preteriste genoem. Die meeste van hulle beweer dat alle sg. eindtydse profesieë oor goddelike oordele, die Antichris en die groot verdrukking in die eerste eeu tydens die bewind van Nero en die verwoesting van Jerusalem vervul is. Vir hulle het die letterlike boodskap van die Bybel tot ‘n groot mate verval – ook die talle profesieë oor Israel se eindtydse herstel. Geen wonder nie dat baie van hulle voortgaan om die Bybel af te takel deur ook ander leerstellings te bevraagteken en selfs te verwerp, soos bv. die Here Jesus se Godheid, sy opstanding uit die dood en die betekenis van sy kruisdood. Hiermee saam word Bybelse moraliteit ook nie ernstig opgeneem nie, maar as tydgebonde riglyne vir mense in historiese tye bestempel. Op hierdie manier “bevry” die postmoderne mens homself om vrye teuels aan sy vleeslike hartstogte te gee en selfs ook gruwelike sondes soos dronkenskap, owerspel en homoseksualiteit goed te praat.

Wettisisme: Omdat die godsdiens van baie mense nie meer uit die beoefening van ‘n sinvolle geloofsverhouding met die Here Jesus bestaan nie, keer groot getalle van hulle terug na die Ou Testamentiese wet om inhoud aan hulle godsdienstige aktiwiteite te verleen. Hulle beskou hulleself as “geestelike Israeliete” en begin weer om sabbatte en Joodse feeste te onderhou. Sommige laat hulleself ook besny, sodat hulle nie as deel van die “onbesnede heidenwêreld” beskou kan word nie. Dit is duidelik dat hulle baie min begryp van die genadeverbond met God deur sy Seun, Jesus Christus. Trouens, deur die waarde wat hulle aan wetsnakoming verleen, ondermyn hulle hul verhouding met die Here Jesus totaal omdat hulle nie volkome op sy genadewerk vertrou nie (Gal. 5:4). Aan die ekstreme kant van die beweging terug na die Ou Testament, is daar die Israelvisie wat sterk in Suid-Afrika verteenwoordig is. Hulle sien die blanke nasies as die voortsetting van die Israelse verbondsvolk van die OT en lê sterk klem op die posisie van konfrontasie waarin hulle teenoor die gekleurde heidenwêreld staan. Hulle het hulle eie profete, soos bv. Siener van Rensburg, en verwag dat die moderne heidendom in ‘n rasse-oorlog wreed en genadeloos op die blanke Israeliete gaan toeslaan om hulle te  probeer uitwis. Feitlik alle aanhangers van die Israelvisie het ‘n baie harde en ongenaakbare gees weens die feit dat hulle die Jode as ‘n sogenaamde bastergeslag haat, en ook ‘n grenslose afkeer in die gekleurde nasies het. Hulle verwag dat al hierdie onredbare heidene met die banvloek getref gaan word en dat net die “blanke Israeliete” die koninkryk van God sal beërf. Dit is kenmerkend van hierdie groep dat hulle deur ‘n vreemde gees van uiterste rassisme, haat, vrees en wraaksugtigheid oorheers word. Daar is geen vrede in hulle harte nie, daarom sweep hulle mekaar geweldig op en verval ook maklik in paniek en moedeloosheid as daar nie vir hulle spoedige uitkoms in sig is nie.

Ritualisering en morele regverdigheid: Die meeste mense wil graag op ‘n maklike manier salig gespreek word sonder om aan die Bybelse eis van wedergeboorte te voldoen. Die Here waarsku dat daar veral in die eindtyd groot getalle predikers sal wees wat ter wille van geld en populariteit bereid sal wees om die fabels van valse bekerings te verkondig (2 Tim. 4:3-4). Een van die populêre fabels wat binne die raamwerk van Calvinisme verkondig word, is dat mense nie ‘n vrye wil het nie en dat alle Christene deur die Here tot saligheid uitverkies is. Hulle verkiesing en redding word by die ritueel van die kinderdoop bevestig en daarna kan niemand hulle uit die hand van die Here ruk nie. Hulle word dus sonder wedergeboorte in die hemel “ingedoop” en verseker dat geen sonde of afvalligheid hulle status as Christene kan verander nie. Die Bybel verkondig egter nie hierdie valse leer nie en eis van alle mense (ook “verbondskinders”) dat hulle weergebore moet word (Joh. 3:3). Dit is ‘n duidelike opdrag van die Here dat almal van ons ‘n wilsbesluit moet neem om tot bekering te kom (Hand. 17:30; 2 Pet. 3:9; Op. 22:17). In die meeste godsdienste – ook in die vervalle Christendom – word die siening gehuldig dat ons net moreel en sosiaal aanvaarbare lewens moet lei, dan sal ons hemel toe gaan. Dit is egter ook ‘n fabel omdat die kruis van Christus geen rol in hierdie selfverlossingsleer speel nie.

Verswyging van die Bybelse boodskap van heiligmaking: Dit is ‘n groot onreg aan Christene om die boodskap van heiligmaking as ‘n tweede genadewerk van hulle te weerhou. Die gevolg hiervan is dat hulle tot die kategorie van vleeslike Christene beperk word wat as klein kindertjies in Christus beskryf word (1 Kor. 3:1-3; Ef. 4:13-14). Hulle lei ‘n lewe van val en opstaan en het geen insig in die dieper dinge van die Here se Woord nie (Gal. 5:17; Heb. 5:12-14). Sulke mense is nie met die Heilige Gees vervul nie en kan dus nie daarop aanspraak maak dat hulle deur die Gees in die volle waarheid gelei word nie (Joh. 16:13). Hulle is maklike slagoffers van geestelike misleiding. Omdat hulle nie met die krag van die Heilige Gees toegerus is nie, verval hulle ook maklik in vleeslike sondes soos drankmisbruik en onsedelikheid (Ef. 5:18; 1 Thess. 4:3,7-8). Ons het ‘n opdrag om deur die Heilige Gees kragtig te word in die Here, sodat ons staande kan bly in die stryd teen die sonde (Ef. 6:10-11). Hierdie krag help ons nie net om oorwinnend oor sonde en versoekings te leef nie, maar ook om vrymoedigheid te verkry sodat ons suksesvolle getuies vir Christus kan wees. Die Here Jesus het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees ...” (Hand. 1:8). Ontledig jouself van die wêreld en alle vorms van sonde en vleeslikheid, wag op die Here en Hy sal jou met sy Heilige Gees vervul. Dit sal ‘n baie groot verskil in jou lewe maak, en jy sal ook in staat wees om geestelike dwalings te kan identifiseer en te weerstaan. Sonder hierdie ervaring en geestelike verligting sal jy soos ‘n golf van die see heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:14).

Tekens en wonders as deel van ‘n geloof wat op fisiese ervarings gebou is: Daar is in die eindtyd ‘n groot oplewing in bonatuurlike manifestasies as voorbereiding op die koms van die Antichris (Matt. 24:24). Groot getalle mense hardloop agter predikers en profete aan wat na bewering deur die Here bemagtig is om siekes gesond te maak en selfs dooies op te wek. Groot geloofwaardigheid word aan sulke predikers geheg, bv. Benny Hinn en TB Joshua, en alles wat hulle sê en doen word blindelings geglo. Die Antichris en die valse profeet gaan dieselfde doen (2 Thess. 2:8-10; Op. 13:13-14). Deur Sataniese kragte sal hulle groot tekens doen waardeur die hele wêreld verbyster sal word. Hulle sal halsoorkop besluit om hierdie twee towenaars en misleiers as spesiale gesante van God te aanvaar en te aanbid (Op. 13:3-4). Ons moet daarteen waak om agter wonderwerke aan te hardloop en sodoende materiële en sensuele ervarings tot bokant die vlak van ‘n geloofsverhouding met die Here Jesus te verhef. Die duiwel gaan wonderwerke toenemend gebruik om mense in sy mag en invloedsfeer te kry.

Koninkryksteologie, transformasie en valse herlewings: Die bevordering van ‘n mensgemaakte koninkryk op aarde (dominionisme) is ‘n baie algemene kenmerk van ons tyd. Alle kerke wat nie glo in die toekomstige openbaring van Christus se koninkryk op aarde ná sy wederkoms nie, verskuif koninkryksbeloftes in die Bybel na die kerkdispensasie en beywer hulle vir die vestiging van ‘n Christelike koninkryk hier en nou. Volgens hulle sal ‘n verenigde (ekumeniese) kerk oor hierdie koninkryk regeer en sodoende die hele wêreld onder Christelike beheer stel. Hulle gebruik verskeie tegnieke om hierdie koninkryk wat dispensasioneel heeltemal op ‘n verkeerde plek in God se raadsplan geplaas word, te bevorder:

1.   Transformasiebyeenkomste word gehou om kerke in dieselfde dorp of stad bymekaar te bring en aan hulle ‘n koninkryksvisie voor te hou. Hulle word op dié manier uitgedaag om saam te staan en saam te werk tot die voordeel van die hele samelewing. Die leiers van die beweging spreek hulle uit teen alle vorms van misdaad en menslike ellende, vat hande met politieke leiers, en wend berekende pogings aan om ‘n wêreld te skep waarin geregtigheid en voorspoed sal seëvier.

2.   Goddelike intervensie ter wille van vrede en voorspoed in die hele land word in terme van 2 Kronieke 7:14 belowe aan elke gasheerland waar transformasiebyeenkomste gehou word. Volgens hierdie belofte wat in die Ou Testament aan Israel gemaak is, sal die Here al die volk se sondes tydens ‘n nasionale bekering vergewe en ook hulle land genees.

3.   ‘n Belofte van groot herlewings word aan die hele gemeenskap voorgehou. Daar word gesê dat die Here se Gees só kragtig sal werk dat omtrent alle mense in ‘n land tot bekering sal kom en na die ekumeniese stadskerke sonder grense sal stroom. Uiteindelik sal alle sleutelposisies in die samelewing én regering deur Christene gevul word, en hulle sal vir almal reg en geregtigheid laat geskied.

Bybelse beoordeling van die transformasiebeweging: Die Bybel belowe nêrens ‘n posisie van heerskappy aan gelowiges tydens die kerkbedeling tussen Christus se eerste en tweede koms nie. Die kerk is inteendeel in ‘n posisie van konflik teenoor ‘n verdorwe wêreld, en moet eerder op verwerping en vervolging deur die ongelowige meerderheid ingestel wees. In die Bybel word dit telkens bevestig dat diegene wat waarlik gered is, altyd ‘n klein minderheid sal wees. Hulle moet soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag skyn. Hoe kan hulle ‘n demokratiese verkiesing wen en posisies van heerskappy in die wêreld oorneem? Eers wanneer Christus as Koning van die konings kom, sal sy koninkryk op aarde geopenbaar word en die heiliges saam met Hom daaroor regeer. In hierdie koninkryk sal die geredde Israel ‘n baie belangrike rol vervul en vir die hele wêreld tot seën wees. Tydens die kerkbedeling was Israel egter oor die aarde verstrooi, Jerusalem vertrap, en die meerderheid Jode verwerp steeds vir Jesus as Messias. Israel word nou eers, aan die einde van die kerkdispensasie, in hulle land herstel ter voorbereiding op hulle nasionale bekering.

Die belofte in 2 Kronieke 7:14 is in die Ou Testament aan Israel gegee. Hulle het egter, afgesien van kort tydperke van spesiale toewyding, nooit aan die Here se voorwaarde van ‘n nasionale bekering voldoen nie. Uiteindelik is Israel weens ongeloof oor die hele aarde verstrooi. Die geestelike toestand van die nasies is dieselfde, waar net ‘n klein minderheid (‘n oorblyfsel) waarlik die Here dien. As gevolg hiervan moet die nasies eerder teen die oordele van die Here tydens die komende verdrukking gewaarsku word. Daar is nêrens op aarde eers die vaagste aanduiding van ‘n nasionale bekering wat in wording is as gevolg van die transformasiebeweging nie. Dit is een van die groot swakhede en dwalings van die transformasiebeweging dat hulle nie die afvallige nasies waarsku teen die toorn nie wat, as gevolg van hulle geestelike hardnekkigheid, aan die kom is. Die nasies en hulle regerings word ook nie gewaarsku teen die Antichris en valse profeet nie, wat tydens die verdrukking van sewe jaar oor hulle sal regeer indien hulle op hulle huidige koers volhard. Multigodsdienstige grondwette is aan die orde van die dag, en in hierdie beleidsdokumente word geen erkenning aan die posisie en gesag van die Drie-enige God gegee nie.

Daar is geen Christelike koninkryk wat tydens die kerkbedeling aan enige nasie belowe kan word nie, omdat hulle almal deel van die huidige, bose wêreld en sy humanistiese instellings is. Selfs die ware Christene moet hulleself nie in die eindtyd voorberei om die koninkryke van die wêreld oor te neem nie, maar om die komende oordele van die verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug. Hierna sal hulle voor die regterstoel van Christus verskyn om genadeloon te ontvang (2 Kor. 5:10). Wederkomsprediking is egter totaal afwesig by die transformasiebyeenkomste, omdat die uitstorting van goddelike oordele lynreg in botsing is met hulle koninkryksvisie vir die laaste dae.

Die verwagting van groot herlewings is ook heeltemal onvanpas vir die einde van die kerkbedeling. Die Bybel verwys net na ‘n tyd van groot afvalligheid direk voor die wederkoms van Christus. Dit sal weer soos die dae van Noag en Lot wees (Luk. 17:26). Die meeste mense sal in hulle liefde vir die Here verkoel (Matt. 24:12) en groot geestelike en morele verval sal in die kerk voorkom (2 Thess. 2:3; 2 Tim. 3:1-5). Herlewing sal net onder klein groepies ware Christene plaasvind wat hulleself verder van die wêreld en van sonde sal afsonder om die Here heelhartig te dien (Op. 22:11).

Die enigste wêreldwye geestelike ontwaking waarvan die Bybel in die eindtyd praat, sal volgens Openbaring 7 tydens die sewe jaar van die verdrukking plaasvind. Eers sal daar 144 000 Jode gered en geestelik toegerus word om as evangeliste in hierdie uiters moeilike tyd op te tree. ‘n Groot oes van siele sal nie net in Israel ingesamel word nie, maar ook onder alle volke en nasies op aarde (Op. 7:9-14).

Ná die verdrukking sal Christus terugkeer om sy vyande te oordeel en die koninkryke van die wêreld op sy skouers te neem (Op. 11:15; 19:11-21). Sy heiliges sal dán eers saam met Hom regeer – nie nou al nie (Op. 2:25-27).  

Valse en ware profete

Hoe moet ons die talle profete, leraars en hulle boodskappe beoordeel? Soos hierbo aangedui, is daar valse profete wat hulle aan openlike kettery skuldig maak deur basiese Christelike leerstellings te ontken. Hulle moet teëgestaan en verwerp word. Om dit te kan doen, sal ons aansienlike kennis van die waarheid moet opdoen, anders word ons self ook mislei. Petrus sê: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Hierdie valse profete sal aan die evangeliese Christene ‘n slegte naam gee en hulle eng, Bybelse sienings totaal verwerp. Petrus waarsku ernstig dat ons nie onder hulle invloed moet kom nie: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid” (2 Pet. 3:17-18).

Dan is daar dié predikers wat wél ‘n saligmakende geloof in die Here Jesus het, alhoewel daar baie aspekte van God se raadsplan is wat hulle glad nie reg verstaan nie. Weens hulle onkunde oor sake soos die einde van die kerkbedeling, die wegraping, die oordele van God tydens die verdrukking, die Antichris en valse profeet, die wederkoms van Christus en die vrederyk daarna, raak hulle soms by ‘n totaal verkeerde eskatologie en koninkryksvisie betrokke, asook by die transformasiebeweging en sy geassosieerde ekumeniese beweging. Ons moet versigtig wees om nie sulke broeders as Christene te verwerp indien hulle ‘n getuienis van wedergeboorte het en werklik die Here Jesus eer en dien nie. Dit is egter ons plig om ter wille van die waarheid standpunt teen hulle verkeerde beskouings oor ander sake in te neem. Ons kan nie toekyk hoedat duisende mense agter verkeerde leringe oor die kerk se doel en roeping, asook oor die eskatologie, weggelok word nie.

Angus Buchan

Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse herlewingsprediker, Angus Buchan, wel ‘n verhouding met Jesus Christus as sy Verlosser het, en Hom as ‘n lewende werklikheid in sy lewe ervaar. Hy moedig ook duisende ander aan om tot bekering te kom, en help familielede om met mekaar versoen te raak ­– en dit is prysenswaardig. Hierteenoor is daar egter ook besorgde stemme wat opgaan oor die groot onkunde wat Angus toon in verband met verskeie aspekte van belangrike Bybelse leerstellings – tot só ‘n mate dat hy homself ook volledig begewe het op die pad van die koninkryksteologie, die ekumeniese beweging, en selfs die bevordering van bedenklike tekens en wonders. Hy het al meermale in ‘n positiewe sin na valse profete soos Benny Hinn en Kathryn Kuhlman verwys. Sy klaarblyklike mistasting aangaande hierdie sake is verontrustend en selfs verstommend.

Daar is ook kommer oor Angus se metode van massa-evangelisasie tydens kort sessies, waar hy gewoonlik net een of twee boodskappe bring en dan nie weer gesien word nie. Dit is onafwendbaar dat dit soos die saai van saad op vlak grond is, en laat baie vrae ontstaan: Kan daar werklik standhoudende werk gedoen word op hierdie manier? Wat van die verdere boodskap van heiligmaking wat aan alle bekeerlinge verkondig moet word? Wat word van jong gelowiges wat teruggestuur word na hulle huise en meestal dooie kerke, sonder die toerusting van ‘n Geesvervulde lewe en dus ook sonder ‘n goeie fundering in hulle geloofslewe? Dit wat die voor die hand liggende tekortkomings van Angus se metodes betref.

Die ander vrae wat wyd geopper word, het met die koninkryksdwalings te doen wat hy aan die massas verkondig. Hoe kan hy, volgens sy eie siening, aan mense belowe dat Suid-Afrika en Zimbabwe gaan regkom? In hierdie opsig tree hy regstreeks op in stryd met Jesus Christus self, wat oor die eindtyd gesê het daar kom ‘n groot verdrukking soos daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). Iemand wat die Bybelse boodskap oor die eindtyd reg verstaan, sal sy  volgelinge teen ‘n tyd van groot geestelike en morele afvalligheid waarsku, en hulle ook wys op die moontlikheid van die vervolging en verwerping van die evangeliese Christendom. Hierdie kwessies word glad nie deur Angus aangespreek nie. Hy hou ook nie die salige hoop van die wegraping aan Christene voor nie waardeur hulle bemoedig kan word om staande te bly totdat die Here ons kom haal en na ons hemelse tuiste wegneem (1 Thess. 4:16-18).

Die feit dat so baie mense na Angus se byeenkomste stroom, is ‘n bewys van die leierloosheid, of swak leierskap, wat die blankes in SA op sowel politieke as geestelike gebied ervaar. Hulle soek na iemand om die Boere te kom lei. Selfs die Israelvisie beweer dat Siener van Rensburg van ‘n leier gepraat het wat die Boere na hulle Utopia in ‘n Boerestaat sal lei. Kan dit die rede wees vir Angus se populariteit?

Baie teleurgesteldes merk op dat Angus nie, soos Paulus, die volle raad van God aan sy derduisende volgelinge verkondig nie. Dit is insiggewend, want indien hy dit wel sou doen, sou hy in konkrete terme veel meer vir God kon bereik het as wat nou die geval is. Ten spyte van sy aansien, kan hy nie eers naastenby in dieselfde asem as ‘n herlewingsprediker soos Andrew Murray genoem word nie. Dit is inderwaarheid hoogs te betwyfel of dit wat hy ‘n herlewing noem, werklik kwalifiseer om só beskryf te word.