Die Aardse Bruid en haar Hemelse Bruidegom

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2014)

Die ware kerk van Christus word nie net sy dissipels en getuies genoem nie, maar ook sy bruid. Al hierdie hoedanighede plaas ’n groot verantwoordelikheid op Christene om heilig te leef en hulle hoë roeping met toewyding te vervul. Die opdrag tot heiligmaking staan veral baie duidelik in verband met ons posisie as bruid van Christus. Paulus sê aan die gemeente in Korinte: “Ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Ons moet sorg dra dat sonde nie in die vorm van louheid, vleeslikheid of geestelike misleiding intree nie, daarom moet ons nougeset ons roeping as lede van die Here Jesus se bruidsgemeente uitleef. Maak seker dat jy ’n getuienis van regverdigmaking én heiligmaking het.

Die voorbereidings wat die bruid moet tref om vir die Bruidegom se koms gereed te wees, vereis ’n afgesonderde lewe onder die volle beheer van die Heilige Gees. Die olie in die lamp (Matt. 25:1-13), asook die helder lig daarvan, simboliseer die Here se teenwoordigheid in ons lewe. Dit stel ons in staat om in Christus se voetspore te volg en aan Hom gelykvormig te word: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh. 2:6).

Geestelike waaksaamheid en diensbaarheid is kenmerke van die bruid se lewe – so ook ’n bruilofskleed wat onbevlek is deur die sonde (Ef. 5:25-27). Ons moet met die Here Jesus beklee wees en sy lieflike geur oral versprei, sodat andere nader getrek kan word aan Hom met koorde van liefde. Ons groot belangstelling moet Bybelstudie onder die leiding van die Heilige Gees wees, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God (1 Kor. 2:10). Dawid het gereeld die teenwoordigheid van die Here opgesoek en in die skatkamer van die Woord ’n rykdom van genade ontdek waardeur hy geestelik opgebou is: “Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Ps. 27:4). Ware geluk is net in sy teenwoordigheid te vinde: “Versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand vir ewig” (Ps. 16:11).

Almal wat met onverdeelde harte na die Here en sy volheid soek, sal dit vind: “U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge. Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig” (Ps. 36:9-10). Die Seun van God het hierdie stroom van Goddelike seëninge tot ons beskikking kom stel: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39). Nadat ons die Heilige Gees tydens wedergeboorte ontvang het, moet ons ook deur Hom vervul word sodat Hy volle beheer oor ons lewe kan verkry. Paulus het besef dat die krag en volheid van Christus se teenwoordigheid deur sy Gees nog ontbreek het in baie van die gemeentes wat hy gestig het, daarom het hy hulle toegebid:

“Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus ... dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God” (Ef. 3:14-19).

Wanneer ons die grootheid van die skepping daarbuite aanskou, moet die besef by ons opkom dat die Here Jesus se liefde vir ons ook grensloos en onpeilbaar is. Ons moet kan sing: ”Breed, breed soos die wêreld, hoog soos die hemel daarbo; diep, diep soos die diepste see, is sy liefde vir my.” Die groot doel waarna ons moet streef, is om in Goddelike liefde gewortel en gegrond te wees sodat dit die basiese karakter van ons denke en optrede na buite sal bepaal. Dit is die hoë roeping van God in Christus Jesus wat na elkeen van sy kinders uitgaan.

Net hulle wat hierdie roeping reg verstaan en ook met onverdeelde harte uitvoering daaraan gee, is besig om in hulle lewens met goud, silwer en kosbare gesteentes op die fondament Jesus Christus te bou. Hulle sal lof van die Here ontvang wanneer die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal. Diegene by wie hierdie volheid ontbreek, bou met verganklike dinge op die fondament van hulle bekering. Hulle lei geestelik gesproke ’n nuttelose en onvervulde lewe en loop gevaar om eendag met leë hande voor Christus se regterstoel te verskyn (1 Kor. 3:11-15).

So moet dit nie met lede van Christus se bruidsgemeente gesteld wees nie. In Psalm 45 word ons daaraan herinner dat ons in ’n ivoorpaleis voor die Koning van die konings sal verskyn as sy bruid: “U is veel skoner as die mensekinders; genade is uitgestort op u lippe; daarom het God U geseën vir ewig. ... U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. ... Uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. ... Die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir. ... Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei.”

Die verhewenheid van hierdie geleentheid word beklemtoon deur die feit dat God se Seun self ook as “God” aangespreek word: “Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle” (Ps. 45:8). Die woord “Elohim” word hier vir die Vader sowel as die Messias-Koning gebruik. Dit is die eerste benaming van God in die Bybel, en dui op die Drie-enige God. Hierdie naam kan enkelvoudig én meervoudig toegepas word: “En God [Elohim] het gesê: Laat Ons [Vader en Seun] mense maak na ons beeld, na ons gelykenis. ... Man en vrou het Hy [die Drie-enige God] hulle geskape” (Gen. 1:26-27).

Dit is God die Vader se begeerte dat die beeld van God die Seun in alle gelowiges se lewens gestalte sal aanneem. Hoe anders sal louter heerlikheid die deel van die bruid kan wees? Ons moet in hierdie lewe reeds geheilig en voorberei word om sonder gebrek voor die hemelse Bruidegom te verskyn. Dit sal alleen gebeur as ons ’n aktiewe wederkomsverwagting het en daagliks onsself ondersoek sodat ons van alle besoedeling van die vlees en die gees gereinig kan word (2 Kor. 7:1). Elkeen wat die hoop op Jesus se verskyning het, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Reinheid is die sleutel tot ’n lewe van diensbaarheid aan die Here, en terselfdertyd versier dit ook ons toekomstige bruilofskleed: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Regverdige dade kan net onder die leiding van die Heilige Gees gedoen word, en dit vereis ’n volle oorgawe tot heiligmaking van ons kant af.

Ons moet volhard in heiligmaking en nie moedeloos word te midde van al die stryd en aanvegtinge nie: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Lê jy die nodige volharding aan die dag? Dink aan die toewyding van al die geloofshelde in Bybelse tye (Heb. 11), én ook gedurende die 20 eeue van kerkgeskiedenis, en put inspirasie uit hulle voorbeeld: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2).

Wanneer ons in die hemelse ivoorpaleis voor die Bruidegom staan, sal geloof oorgaan in aanskoue. Dan sal ons nie meer in die geloof lewe in dié sin dat ons die onsienlike wêreld net as ’n geestelike werklikheid aanvaar en beleef nie, want ons oë sal die ten volle geopenbaarde heerlikheid van die Here en sy koninkryk aanskou. Eers dan sal ons ten volle ken soos ons ook ten volle geken is. Ons sal soos Christus ook verheerlikte liggame hê (Fil. 3:20-21; 1 Joh. 3:2).

Die wêreld daarbuite is besig om elke dag in groter geestelike en morele duisternis verstrik te raak, en al hoe verder van die Here en sy geregtigheid af weg te dryf. Onbekeerlike sondaars stuur deur hulle eie toedoen op die oordele van God af, wat in die komende verdrukking oor die ongelowige wêreld uitgestort sal word (Matt. 24:21; Jes. 13:9). Hierdie oordele is beslis nie vir die bruidsgemeente van Christus bedoel nie, daarom moet ons seker maak dat ons dit sal ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Is jy besig om te waak en te bid en jouself van al die besoedeling van die wêreld af te sonder? Terwyl die onreg oral toeneem en dié wat vuil is, besig is om vuiler te word, moet toegewyde lede van die bruidsgemeente in heiligheid en regverdigheid toeneem (Op. 22:11). Hoewel ons ín die wêreld is, is ons nie ván die wêreld nie. Ons het ’n heel ander roeping in die lewe, daarom het ons ook ander waardes en doelstellings as diegene vir wie aardse geluk en rykdom die hoogste doel in die lewe is.

As kinders van die lig is daar aan ons ’n onverganklike koninkryk belowe waarvan die heerlikheid nie eers in menslike taal beskryf kan word nie (1 Kor. 2:9). Om mede-erfgename van hierdie koninkryk te kan wees, moet ons waardig wees om as die bruid van die Christus vir ewig met Hom verenig te word by die bruilof van Lam. Slegs dan sal ons ook as konings saam met Hom kan regeer wanneer sy koninkryk tydens sy wederkoms geopenbaar word. Hy het die volle prys betaal om dit moontlik te maak, daarom sal die verheerlikte kerk Hom ná die wegraping in die hemel toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir ons God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).