Johan Malan, Mosselbaai (November 2015)
In die laaste boek van die Bybel sê die Here Jesus van Homself: “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste” (Op. 22:13). Die alfa en omega is die eerste en laaste letters in die Griekse alfabet, maar dié stelling impliseer ook progressiewe openbarings van die een punt na die ander: Jesus was, Hy is en sal wees. Hy begrens ons tydsbegrip want Hy bestaan van voor die skepping af en sal tydens die vernietiging van die huidige hemel en aarde nog steeds bestaan, en ook daarna om alles weer nuut te maak. Hy is die Ewige Een “wat is en wat was en wat kom” (Op. 1:4, 8, 17; 2:8; 21:6). Johannes verwys na Jesus Christus as die Woord (“Logos”) wat van die begin af bestaan, self God is en ook alle dinge geskape het: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. ... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1-3, 14). In die volheid van die tyd is Hy in ʼn menslike liggaam as die Verlosser van die mensdom geopenbaar om lig en lewe te bring waar geestelike duisternis en die dood geheers het.
Dit is van die allergrootste belang om volkome te begryp waarom Jesus Christus Homself as die eerste of die begin van alle dinge openbaar, want dit verklaar wie Hy is, wat die gesag is waarmee Hy beklee is, wat sy rol in die bestuur van die geskape werklikheid is, en hoedat Hy in die eeue wat kom alle verganklike dinge sal beëindig en weer onverganklik nuut sal maak. As ons in ons denke die korrekte Bybelse begrip het oor wie Jesus is, sal ons nie net sy huidige posisie en Goddelike attribute verstaan en ten volle aanvaar nie, maar ook vaste oortuigings hê oor die verdere hoedanighede waarin Hy Homself in die eindtyd gaan openbaar. Ons móét Hom as die Alfa ten volle ken indien ons ook sy rol as die Oméga wil verstaan.
Paulus bevestig die verhewe betekenis van Jesus Christus as die eerste in die skepping én ook in die verlossingsplan vir die mens: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis” (Kol. 1:15-20).
Die uitnemende posisie en voorrang van die Here Jesus moet in sy noue assosiasie en eenheidsverband met die Vader en die Heilige Gees verstaan word: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Jesus word ook elders aan ons bekend gestel as “Die Woord van God” (Op. 19:13; vgl. Joh. 1:1, 14). God die Vader spreek tot ons deur God die Seun, “wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het” (Heb. 1:1-2; vgl. Ef. 3:9). Die Vader en die Seun openbaar hulleself op ʼn geestelike vlak aan ons deur die “ewige Gees” (Heb. 9:14; Joh. 14:23, 26) wat in ons harte werk en woon.
Daar is verskillende verbande waarin Christus die eerste en laaste is. In die breedste sin van die woord is Hy die begin en einde van die hele skepping soos ons dit ken (die hemel en die aarde). Aan die begin het Hy dit geskape en aan die einde sal Hy dit in oordele verwoes en weer volmaak herskep. In elke onderafdeling van God se plan vir die mens is Jesus die eerste en laaste, daarom is Hy ook die begin en einde van die kerkbedeling. Tydens sy eerste koms en die uitstorting van die Heilige Gees was Hy die begin van die kerkdispensasie, en tydens sy wederkoms sal Hy dit afsluit. Daarna sal Hy die begin en einde van die koninkryksfase wees gedurende die duisendjarige vrederyk, sodat Hy die begin, die onderhouer en ook die einde van al sy skeppingswerke kan wees.
In die huidige kerkbedeling moet elke gelowige sy lewe lei binne die perspektief van Jesus as die eerste en laaste. Ons moet terugkyk na die begin van die kerkbedeling waar die Here Jesus se reddende genade geopenbaar is, maar ook vorentoe kyk na sy wederkoms en die afsluiting van hierdie bedeling. Die eksistensiële ruimte waarbinne ʼn Christen sedert sy wedergeboorte leef, strek dus van Jesus se eerste koms af tot by sy wederkoms. Daarna sal ʼn nuwe dispensasie van die geopenbaarde koninkryk volg waarvan Christus ook die eerste en laaste sal wees voordat die ewigheid aanbreek. Wat ons huidige posisie betref, is ons vir die begin en voortsetting van ons nuwe lewe in Christus afhanklik van ʼn volle belewenis van die heilsgebeure wat tydens sy eerste koms plaasgevind het, want net dit stel ons in staat om volkome toegerus te wees vir die eise van die Christelike lewe. Die volle aanvaarding van die nuwe lewe in Christus is die enigste vaste basis vir die geestelike en morele voorbereidings wat ons moet tref vir sy wederkoms.
Dit is duidelik dat daar twee vaste verwysingspunte in die lewens van alle gelowiges moet wees, naamlik ʼn terugwaartse perspektief op die eerste koms van Jesus toe Hy vir die versoening van ons sonde gesterf het, asook ʼn toekomsgerigte perspektief wanneer ons verheerlikte liggame sal kry, met Hom verenig sal word by die Bruilof van die Lam, en ook as konings saam met Hom sal regeer. Die noue verband tussen Christus se eerste en tweede koms word elke keer beklemtoon wanneer ons die Nagmaal vier. Paulus sê: “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:23-26). Ons moet in die voetspore van die Verlosser volg totdat Hy as Bruidegom en Koning geopenbaar is.
Daar moet ʼn deurlopende lyn wees tussen Christus as die begin én die einddoel van ons lewens. Ons moet sy soendood verkondig én ook daarin lewe totdat Hy weer kom. Dit bring mee dat Jesus in ons alledaagse lewe die begin en einde moet wees van alles wat ons bedink of doen as ons Hom getrou wil navolg. Die begin, voortsetting en voleindiging van elke onderneming moet in sy Naam en met die oog op sy verheerliking gedoen word. Dit vereis dat ons ʼn Christelike beweegrede en vertrekpunt vir al ons aktiwiteite en beplanning sal hê, sodat die Here se eer ook die einddoel van ons aardse lewens kan wees. Ons moet onsself bewustelik daaraan verbind om altyd in die lig van sy teenwoordigheid te wandel en geen ruimte te maak vir sondige doelstellings en die onvrugbare werke van die duisternis nie (vgl. Ef. 5:11).
ʼn Lewe wat by die kruis van Jesus en die ervaring van wedergeboorte begin het, moet konsekwent op sy wederkoms ingestel word. Sodoende alleen sal Jesus ook vir elkeen van ons nie net die Alfa nie maar ook die Oméga wees. Indien gelowiges by wedergeboorte volstaan en nalaat om geestelik verder te groei, dan verloor hulle perspektief wat hulle roeping en taak as Christene betref en begin om ander wêreldse doelstellings na te jaag. Sulke persone sal nie met vrymoedigheid aan die einde van hulle lewe voor Jesus as die Omega kan verskyn nie. Is jou oog elke dag op Hom gevestig en berei jy voor om in ʼn onberispelike toestand voor Hom te staan? Paulus sê: “Daarom dan, terwyl ons so ʼn groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Daar is hindernisse wat ons moet aflê en ʼn wedloop om te voltooi.
Hy wat ʼn goeie werk in ons begin het, sal dit ook voleindig op die dag van Jesus Christus (Fil. 1:6), maar dan moet ons ons volle samewerking gee om dit te laat realiseer. Die Here Jesus sal getrou bly om ons te lei, te seën en te versorg, maar ons kan maklik ontrou aan Hom raak. Christene verloor nie hulle vrye wil nie, daarom kan hulle steeds versoek word en ook weens onkunde verkeerde besluite neem. As gevolg van die moontlikheid van geestelike veragtering en verval het ons die duidelike opdrag om voortdurend in Christus te bly (Joh. 15:4-6). Net diegene wat onafgebroke in Christus bly en wandel deur die Gees, word in Openbaring 2 en 3 as oorwinnaars beskryf wat groot seëninge sal beërf wanneer sy koninkryk van geregtigheid ná sy wederkoms geopenbaar sal word.
Jesus Christus moet dus nie net die vertrekpunt van jou geestelike lewe wees nie, maar ook die einddoel daarvan. Die duiwel sal langs die pad probeer om jou in ʼn vleeslike toestand van sonde te laat beland en ook selfsugtige belange na te jaag, sodat jy jou geestelike perspektief kan verloor en daarmee saam ook die kroon vir getroue diens wat jy kon gekry het. Moet egter nie jou toekomsverwagting op die wederkoms van Christus laat vervaag, of jou verbintenis tot ʼn heilige lewenswandel nie. Die Here Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). As Christus waarlik die begin en einde van jou lewe is, sal jy nougeset daarteen waak om van die nou pad af weg te draai op een van Satan se baie afdraaipaadjies – al lyk hulle ook na skadelose en voordelige roetes. Wanneer jy van die waarheid afwyk, verloor jy jou geestelike visie en Christelike bestemmingsbewustheid: “Daar is weg wat vir ʼn mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25).
Die beloning vir voortgesette getrouheid en koersvastheid tot die einde toe is groot: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee. ... En Ek sal hom die môrester gee” (Op. 2:25-28). Die môrester is die profetiese belofte van ʼn nuwe dag wat weldra oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Dit sal gebeur wanneer Jesus Christus met sy wederkoms as die Son van Geregtigheid sal verskyn om die hele wêreld te verlig. Hy is self in hierdie donker tye die Môrester wat die belofte van sy wederkoms in ons harte bevestig: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Op. 22:16).
Deur hierdie stelling vestig die Here Jesus terselfdertyd die aandag op sy posisie as die Alfa en Oméga van Israel. Hy is die wortel of oorsprong van Dawid omdat Hy, in sy hoedanigheid as God, die Heilige van Israel is wat hulle stamvaders, Abraham, Isak en Jakob, geroep en geestelik toegerus het (vgl. Joh. 8:58). Hy is egter ook die geslag (of nageslag) van Dawid omdat Hy in die koninklike huis van Dawid as die Seun van Dawid gebore is en ook dikwels aangespreek is as die “Seun van Dawid” (vgl. Matt. 20:30; 21:9; 22:41-42). Ná sy wederkoms sal Hy op die troon van sy aardse vader Dawid in Jerusalem regeer (Luk. 1:31-32; Hand. 15:16-17).
Jesus Christus is die Seun van God én die Seun van die mens – die volmaakte God-Mens wat deur sy soendood aan die kruis die gevalle mensdom met die Drie-enige God versoen het. Sy werke van redding, oordeel en vernuwing sal voortgaan totdat ewige geregtigheid sonder enige teken van sonde, verdorwenheid en verganklikheid in die nuwe hemel en aarde sal heers (Op. 21:1-8, 27). Wanneer die dispensasies van die gevalle mens deur Christus as die Oméga afgesluit word, sal net die oorwinnaars wat uit die fontein van die lewende water gedrink het, die nuwe skepping beërwe. In sy profesie oor die eindtyd het Hy vir Johannes gesê: “Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe” (Op. 21:6-7)
Waarom is daar relatief so min mense wat hierdie heerlike eindbestemming gaan bereik? (vgl. Matt. 7:13-15; Luk 13:24). Daar is verskeie redes hiervoor. Die pad wat ons daagliks moet bewandel tussen Christus as die beginpunt en die einddoel van ons geestelike lewe, is veeleisend en vol openlike én subtiele afdraaipaaie. Die oorsaak hiervan is die bestaan van ʼn alternatiewe, vyandige koninkryk op aarde wat daarop ingestel is om die Christendom te vernietig en deur ʼn multigodsdienstige, sataniese koninkryk te vervang. Die duiwel is aan die hoof van hierdie opponerende koninkryk, en streef vir eeue lank al daarna om God se koninkryk te verswak en te vernietig deur die aanhangers daarvan te mislei en uiteindelik na die breë pad te lei waarop hy deur middel van ʼn valse christus volle beheer oor hulle sal probeer verkry.
Hierdie volgehoue aanslae is die rede waarom ons aanhoudend op die pad van die Here die goeie stryd van die geloof moet stry (vgl. Ef. 6:10-12; 1 Tim. 6:12; Jud. 1:3). Ons moet koersvas volhard op die regte weg en nie links of regs daarvan afwyk nie. Dit sal vereis dat ons spesiale tye vir selfondersoek sal inruim, sodat ons kan vasstel of ons nog steeds standvastig en onbeweeglik aan die grondbeginsels van ons geloof toegewy is (2 Kor. 13:5). Wandel ons nog deur die Gees en bly ons daagliks in Christus sodat ons met vrymoedigheid voor Hom kan verskyn wanneer Hy kom? Of het materialisme, eiebelang en hoogmoed dalk ingesluip en veroorsaak dat Christus nie meer waarlik die einddoel van ons lewens is nie? Dan is dit tyd vir hertoewyding sodat die Here Jesus weer waarlik die Alfa en Oméga kan wees.
Dieselfde beginsels van voortdurende selfondersoek en hertoewyding moet ook deur alle gemeentes, denominasies en Christelike organisasies eerbiedig word, want daar is ʼn daadwerklike gevaar van geestelike verval, veragtering in die genade en die afwatering van ʼn suiwer Christelike visie en doelstelling. Nadat die Here Jesus sy voorrang as die Begin en die Einde van ons geestelike lewe bevestig het, het Hy twee ernstige waarskuwings gerig aan mense wat nie aan sy woorde en opdragte getrou bly nie (Op. 22:18-19). Die een groep dwalendes neem dinge uit sy Woord weg, en die ander groep voeg weer dinge by. Op dié manier word daar groot skade aan die integriteit van God se Woord gedoen. Ontrouheid aan die Woord is ook ontrouheid aan die Here Jesus, want Hy is die vleesgeworde Woord. Hy het eers as die Alfa gekom om ons siele te red, en Hy kom weer as die Oméga om die ou dinge te laat verbygaan en ons sy ewige heerlikheid in die nuwe hemel en aarde deelagtig te maak. Mense wat aan Hom getrou bly, verlang sterk na sy wederkoms en sal in al die seëninge van die nuwe bedeling deel.
Die interafhanklikheid tussen die Alfa en Oméga aspekte van Christus se Nuwe-Testamentiese openbarings in die kerkbedeling is die belangrike rede waarom Christene na sy wederkoms uitsien en dit altyd as naby (imminent) beskou. Die heilswerk wat Jesus tydens sy eerste koms gedoen het, word in die lewens van gelowiges met ‘n verlowing vergelyk (Matt. 25:1; 2 Kor. 11:2), terwyl sy wederkoms gevolg sal word deur die sluiting van ʼn huwelik tussen die hemelse Bruidegom en sy aardse bruid (Op. 19:7-8). Tydens sy fisiese afwesigheid berei Hy vir sy bruid ‘n woonplek in die hemel voor (Joh. 14:2-3). Wanneer Christus weer kom, word hierdie huwelik volvoer, die kerkbedeling afgesluit en die bruid verheerlik. Dan sal die doelstellings wat tydens die begin van hierdie bedeling in die vooruitsig gestel is, afgehandel wees en al in die beloftes oor die openbaring van die koninkryk van God op aarde op alle lewensterreine in vervulling gaan. ‘n Sterk wederkomsverwagting is dus ‘n belangrike aspek van ‘n ware Christen se geloof.
Ons het reeds ver gevorder op die pad van wêreldevangelisasie, waarin die uitnodiging na die bruilof van die Lam aan alle nasies gerig moet word. Die versoeningswerk en inisiëring van die proses van wêreldevangelisasie wat Jesus tydens sy eerste koms gedoen het, het na die wêreldwye vestiging van die ware kerk van Christus gelei. Alle weergebore Christene ervaar egter verwerping deur ‘n goddelose wêreld: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here” (Ef. 5:11). Hulle besef dat die huidige wêreld nie hulle finale tuiste is nie, en sien sterk uit na die wederkoms van Christus om die sondaars te oordeel en sy geregtigheid op aarde te laat geskied. Die verwagting na sy imminente verskyning word uit verskillende oogpunte in die Bybel verduidelik.
Jesus Christus is nie net bestem om die Verlosser van die wêreld te wees nie, maar ook die Regter en Koning. Hy moes noodwendig eers as Verlosser aan die mensdom gebied word voordat Hy hulle Regter kan wees wat hulle op grond van hulle geloof of ongeloof sal oordeel: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ʼn dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ʼn Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31). Sy kruisiging en opstanding uit die dood het dit vir alle sondaars moontlik gemaak om tot bekering te kom en Christene te word. Die hele wêreld moet egter eers die evangelie hoor voordat hulle op grond van hulle reaksie daarop geoordeel kan word. ʼn Hele bedeling van wêreldevangelisasie sou dus op Jesus se eerste koms volg.
Omdat niemand weet wanneer die Here Jesus terugkeer as Regter en Koning nie, moet sondaars geen geleentheid laat verbygaan om in die regte verhouding met Hom te kom nie. Hulle moet besef dat genadetyd verbygaan en dat die oomblik van rekenskap enige dag kan aanbreek. Christene moet ook in die lig van Jesus se wederkoms leef en voorbereid wees om sonder enige verdere waarskuwing voor sy regterstoel te verskyn waar hulle werke en lewe ná bekering beoordeel sal word (Rom. 14:10-12). ʼn Aktiewe verwagting dat hierdie afspraak naby kan wees (imminensie) is vir alle Christene van alle tye nodig. Die wederkoms van Christus moet dus altyd ernstig opgeneem word, maar sonder om datums daarvoor te bepaal. Indien dit moontlik was om ʼn datum vir hierdie geleentheid te bepaal, dan beteken dit dat sekere groepe Christene nie altyd in die lig van sy koms sou leef nie, en dalk ander doelwitte in die plek daarvan sou begin najaag. Geen sekondêre sake mag die groot einddoel van Christus as die Oméga van die kerkbedeling oorheers nie, want dan verloor ons die regte perspektief op die toekoms.
Die openbaring van Jesus as Verlosser was ‘n noodsaaklike voorbereiding vir sy openbaring as Regter en Koning, en dit verbind ons daartoe om sy volle openbaring enige tyd te verwag. In die tussentyd is ons as sy geredde volgelinge lede van ʼn verborge, geestelike koninkryk omdat Jesus nog nie as Koning gekom het nie. Hy het ons in ʼn vyandige wêreld uitgestuur waarin Satan se koninkryk ook as ʼn geestelike werklikheid gevestig is. Dit is vir Christene ʼn baie belangrike geestelike leerskool om ten alle tye die Here Jesus se teenwoordigheid deur die Heilige Gees te ervaar (Matt. 28:20; Joh. 15:26). Uiterlik leef ons egter in ʼn vyandige wêreld waarin ons verdrukking en vervolging te wagte moet wees (Joh. 15:20; 16:33). Ons het nog nie ons volle bestemming in die koninkryk van die hemel bereik nie, omdat ons tans nog net geestelik daarby ingelyf is. Dit is die rede waarom ons aanhoudend moet uitsien na die dag wanneer Jesus as Regter en Koning sal terugkeer om sy vyande te oordeel en ʼn koninkryk van geregtigheid op aarde te vestig.
Gelowiges wat nie in die lig van Christus se wederkoms leef nie, is geneig om gedurende die kerkbedeling allerlei regte en voorregte op te eis, bv. om ryk, probleemvry en gelukkig te wees, die mag te hê om wonderwerke te doen en selfs ook as konings te regeer. Christus se beloofde koninkryk wat hy self sal inlui, is dan nie meer hulle Oméga waarvoor hulle wag nie, maar hulle is ingestel op dit wat hulle self op hierdie verdorwe aarde kan vermag. Dit is ʼn sekere resep vir geestelike verval, want sulke mense word die bepalers van hulle eie lotgevalle. Christus se wederkoms is nie meer vir hulle ʼn onmiddellike vooruitsig en verwagting nie, en dit vervaag spoedig agter hulle drome van ʼn “koninkryk-nou” tydens die kerkbedeling. Die Here Jesus moet baie duidelik nie net ons Alfa wees nie, maar ook ons Oméga. Ons moenie langs die pad ons visie en perspektief verloor en dan ander mensgemaakte ideale begin najaag nie. In sulke gevalle word die mens en sy humanistiese regte die belangrikste oorweging, en word selfs Bybelse uitsprake wat hiermee inmeng, as outyds en irrelevant verwerp – bv. Bybelse uitsprake in verband met oordele en sondes soos homoseksualiteit.
Daar is ook ander maniere waarop daar groot skade berokken word aan die boodskap van Christus se imminente koms, en dit is om te beweer dat sekere ander dinge eers moet gebeur voordat Hy kan kom. Die aandag word dan op hierdie “ander dinge” gevestig, asook optredes wat as nodig beskou word om dit die hoof te bied. Op hierdie manier word die klem op ʼn subtiele wyse verskuif van die opdrag af om gereed te wees vir Christus onverwagte koms enige oomblik, en word gelowiges opgeroep om in die eerste plek kampvegters te word teen die opmars van die Antichris na ʼn posisie van wêreldleierskap. Sulke mense verskuif die wegraping na ʼn tyd in die middel of naby aan die einde van die verdrukking. Hulle volgelinge het primêr ʼn Antichris-verwagting met alles wat daaruit voortvloei, eerder as ʼn Christus-verwagting en die nodige voorbereidings om vlekkeloos en onberispelik voor Hom te verskyn.
Gelowiges wat die imminensie van Christus se koms op dié manier omseil, maak ongelukkig van hulle volgelinge groter kenners van die Antichris en van geestelike dwalings, as wat hulle kenners van die Here Jesus, sy reddende genade en sy opdrag tot heiligheid is. Hulle is meer betrokke by ʼn heksejag teen valse profete as wat hulle aan evangelisasiewerk toegewy is. Hulle is gewoonlik baie kras en veroordelend teenoor medegelowiges wat nie dink en optree soos hulle nie. Enigeen wat die beginsel van imminensie m.b.t. Christus se koms ondermyn, is egter besig om sy eie geestelike lewe te ondermyn en andere op ‘n dwaalspoor te lei.
Dit is altyd nodig om die bose werke van die duisternis te openbaar en te weerstaan, maar dit mag nooit ʼn belangriker doelwit word as evangelisasie en ʼn korttermyn verwagting op die koms van die hemelse Bruidegom nie. Hy is vir ons die begin en die einde, die eerste en die laaste. Geen ander saak moet vir ons van groter belang word as om ons verhouding met Hom te handhaaf en verder te versterk nie. Ons moet ook nooit toelaat dat die vooruitsig op die spoedige koms van Christus vervang word deur die verwagting van die spoedige koms van die Antichris nie. Mense wat dit doen, hou hulle met die beplanning van oorlewingstrategieë vir die komende verdrukking besig, in plaas daarvan dat hulle hul bruilofskleed in gereedheid kry en voorbereidings tref om voor Christus se regterstoel te verskyn.
Ons is baie naby aan die einde van die pad. Hoewel dit besig is om donkerder te word rondom ons, skyn die blink môrester helder bokant die horison van ʼn troebel wêreld om aan ons te toon wat ons eindbestemming is. Dit is ʼn groot aanklag teen die “maagde” van die kerkbedeling dat hulle in ʼn tyd soos hierdie geestelik aan die slaap raak en gevolglik nie meer waak en bid terwyl hulle op die skielike koms van die Bruidegom wag nie (Matt. 25:1-13). Mense wat belangrike verpligtinge van hierdie aard nalaat, sal beslis nie gereed wees om al die oordele en beproewinge wat tydens die verdrukking oor die aarde sal kom, te ontvlug en in die hemel voor die Seun van die mens te verskyn nie (Luk. 21:36). Hy wat as die Alfa die geloof in ons harte gevestig het deur sy Heilige Gees, sal spoedig ook as die Oméga die Voleinder van ons geloof wees wanneer ons Hom tydens sy wederkoms sal sien (Heb. 12:1-2).