Aftelling na die Messias se Eerste én Tweede Koms

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2014)

Israel is ’n volk wat deur God geroep, afgesonder en geheilig is om sy Seun deur hulle aan die wêreld te openbaar, en ook van Israel spesiale getuies van die Messias te maak. Dit is die rede waarom Johannes die Doper Hom só bekendgestel het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Jesus het in die eerste eeu as Verlosser gekom toe Hy aan die kruis versoening gedoen het vir die sonde van ’n verlore mensdom.

Die Seun van God is egter ook bestem om die koninkryk van die hemel sigbaar op aarde te openbaar, daarom is Hy nie net die Verlosser nie maar ook die Koning van die wêreld. Voor sy geboorte het die engel aan Maria gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word: en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Jesus het ook mens geword in die huis van Dawid om die hoof te wees van ’n Israelgebaseerde koninkryk en as Koning die wêreld uit Jerusalem te regeer. Dit sal Hy egter eers tydens sy tweede koms doen, nadat die mensdom die geleentheid gehad het om deur geloof in Hom (bekering en wedergeboorte) op ’n geestelike vlak deel van God se koninkryk te word.

Ongekende seën sou deur Israel ervaar word indien hulle getrou aan die Here bly en Hom van harte dien – veral ook as heelhartige navolgers van die Messias. Die teendeel is egter net so waar: hulle sou van hulleself vyande van God maak indien hulle van Hom wegdwaal en afgode aanbid of in vormgodsdiens verval. Dit het ongelukkig gebeur, en daartoe gelei dat hulle die Messias as die Seun van God verwerp het. In plaas van Israel se veilige verblyf in hulle land, asook die aansien wat hulle onder die leiding van hulle Messias-Koning sou geniet het, is hulle weens ongeloof uit die land verdryf en het die Messias die kerk onder die nasies (waarin daar ook geredde Jode is) gebruik om sy getuies en diensknegte op aarde te wees.

Hierdie gebeure beteken egter nie dat die Here sy verbond met Israel verbreek het en dat hulle glad nie meer die beloofde seëninge van die Messiasryk sal geniet nie (vgl. Lev. 26:44-45). Hulle sou wel vir ’n baie lang tyd in verstrooiing onder die nasies woon, maar tydens Jesus se tweede koms sal hulle terug wees in hulle land en weer ’n geleentheid kry om Hom as Messias te aanvaar. Hierdie keer sal hulle ten volle daarvan gebruik maak (Matt. 23:39; Sag. 12:10).

Die 70 jaarweke

Omdat dit so absoluut noodsaaklik is dat Israel die Messias sal aanvaar ten einde uitvoering te gee aan hulle roeping as ’n Messiaanse volk, het die Here aan hulle verskeie profesieë oor sy koms gegee. Die profesie oor die 70 jaarweke in Daniël 9 sluit ’n aftelling in na sowel die eerste as die tweede koms van die Messias. Diegene onder hulle wat in die eerste eeu hierop ag geslaan het, kon sonder enige twyfel die tyd van die Messias se eerste koms bepaal, terwyl die Jode in die komende verdrukking ook ’n profetiese aftelling sal hê op grond waarvan hulle die spesifieke dag van Christus se wederkoms sal kan bepaal. Hierdie profesie lui só:

“Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ’n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ’n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:24-27).

Daar is verskeie duidelike verwysingspunte in hierdie profesie, waarvan die eerste 69 jaarweke reeds verstreke is en bo enige twyfel histories geïdentifiseer kan word, soos hieronder aangedui:

·       Aan die begin van die 70 jaarweke, in Maart 445 v.C., is toestemming deur die Persiese koning Artasásta aan die Jode in ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te gaan herbou. Die aanvanklike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi. In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid en vyandskap verder uitgebrei en bewoon.

·       Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verstoot en gekruisig. Die NKJV sê: “And after the 62 weeks Messiah shall be cut off ...” (Jesaja 53:8 sê: “Hy [is] afgesny uit die land van die lewendes”). Omdat Israel die Messias verwerp het, is God se heilsplan met hulle tydelik ter syde geskuif. Die 70ste jaarweek is van die voorafgaande 69 “afgesny” sodat die evangelie na die ganse nie-Joodse wêreld uitgedra kon word. Gedurende hierdie tyd sou die verloop van Israel se verdere heilsgeskiedenis uitgestel word terwyl hulle in internasionale verstrooiing onder die nasies is (Luk. 21:24).

·       Die eindtydse herstel van Israel impliseer volle beheer oor Jerusalem, sodat hulle die tempel kan herbou en weer hulle Ou-Testamentiese offerstelsel kan laat herleef. In daardie stadium sal hulle ’n baie sterk verwagting op die verskyning van die Messias-Koning hê om die finale fase van hulle politieke en geestelike herstel in te lui.

·       Weens die gevorderde stadium van Israel se eindtydse herstel is die toneel nou gereed vir die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wanneer die valse messias vir een week lank met Israel en die nasies ’n verbond sal sluit. Hy sal deur Israel as Messias erken word en ook aan hulle die reg verleen om die tempel te herbou en weer die offerdiens in te stel.

·       In die middel van die laaste jaarweek, na 3½ jaar, sal die Antichris die offerdiens afskaf en die tempel ontheilig deur homself daarin tot God verklaar en ook ’n afgodsbeeld van hom in die Allerheiligste te laat oprig. In die laaste 3½ jaar van hierdie week sal hy as ’n geweldenaar optree om sy beleid en eis tot aanbidding op alle mense af te dwing.

·       Aan die einde van die 70ste jaarweek sal die ware Messias kom, die valse messias en sy magte verdelg en die hele oorblyfsel van Israel fisies uitred én ook geestelik lewend maak. Hierna sal die Messiasryk aanbreek en ewige geregtigheid in Israel heers – dit wat in Daniël 9:24 in die vooruitsig gestel is.

·       Daar is drie aftellings in Daniël se profesie oor die 70 jaarweke. Die eerste een is die 69 jaarweke tussen die bevel om Jerusalem te herbou en die kruisiging van die Messias. Die tweede een is die 3½ jaar (42 maande) tussen die verbond met die valse messias en die dag wanneer hy die tempel sal ontheilig deur homself daarin met God gelyk te stel. Die derde aftelling is die 3½ jaar tussen die valse messias se gruwelike daad van selfvergoddeliking en die wederkoms van die ware Messias.

Profetiese jaarweke

Daar moet eers duidelikheid verkry word oor die presiese lengte van profetiese jaarweke. ’n Jaarweek (Heb. “Shabua”) verwys na ’n sewetal – in dié geval ’n week bestaande uit sewe jaar. Jaarweke is bekende periodes in Israel en word ook in moderne Israel gebruik om jare in groepe van sewe saam te voeg (Lev. 25:3-4). Ná elke ses jaar vier ortodokse Jode die sewende jaar as ’n sabbatsjaar wanneer die land rus. ’n Jubeljaar word elke 50ste jaar gevier, ná sewe jaarweke (Lev. 25:8-10). Die profesie in Daniël verwys na 70 jaarweke, m.a.w. ’n tydperk van 490 jaar.

Die gedeelte in Daniël 9 is gebaseer op ’n profetiese kalender met jare van 360 dae wat saamgestel word uit 12 maande van 30 dae elk. Dit verskil van die seisoens- of sonkalender wat op jare van 365¼ dae elk gebaseer is, asook die Joodse maankalender wat jare van 254 dae elk bevat. Israel het egter ’n komplekse stelsel van skrikkeljare waarin soms ’n dertiende maand bygevoeg word, sodat verseker kan word dat hulle jaartelling nie uit siklus raak met die seisoene nie. Die maand Nisan, waarin die Pasga gevier word, moet altyd met die lente saamval, terwyl Tisjri, waarin die oesfeeste gevier word, altyd in die herfs moet aanbreek.

Wanneer ’n tydperk in die profetiese kalender van die Bybel in dae omgereken word, kan dit in enige ander kalender verwerk word om by ’n bepaalde datum uit te kom. Dit is die rede waarom profesieë en tydperke wat vir die 70ste jaarweek van Daniël bestem is (dit is die verdrukking van sewe jaar) dikwels in terme van dae of maande aangedui word, sodat die lengte daarvan bo enige twyfel vasgestel kan word. Die twee helftes van hierdie jaarweek word dikwels in Openbaring as 1 260 dae beskryf, en ook as 42 maande. Dit alleen is ’n vaste bewys dat daar ’n regstreekse verband is tussen profesieë in Openbaring en Daniël.

In Openbaring 11:3-12 word twee besondere getuies beskryf wat gedurende die eerste helfte van die verdrukking in Israel sal optree. Johannes sê hulle sal 1 260 dae (3½ jaar lank) profeteer, totdat hulle in ’n konfrontasie met die Antichris om die lewe gebring sal word. Dit sal saamval met die tyd wanneer die Antichris die offerdiens in die tempel saam met die aanbidding van Jahweh sal verbied, homself tot God verklaar, en getuies van die ware God aan doodstraf sal onderwerp. Dit sluit ook Israeli’s in wat sal weier om die valse messias en sy beeld te aanbid.

As gevolg van hierdie situasie sal Jode wat weier om die valse messias te aanbid, vinnig vir oorlewing uit Jerusalem en omstreke moet wegvlug. Jesus het in sy profetiese rede na die erns van hierdie situasie verwys:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Hierdie Jode sal waarskynlik na Petra suid van die Dooie See vlug om buite die bereik van die Antichris te probeer kom. Hier sal hulle die laaste 42 maande van die verdrukking vertoef. Johannes sê: “en die vrou [verwysend na Israel] het na die woestyn gevlug waar sy ’n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank” (Op. 12:6). Dit is die 42 maande waartydens die selfvergoddelikte Antichris totaal godslasterlik sal optree, ’n skrikbewind oor alle nasies sal voer en ook teen die heiliges oorlog sal voer en hulle oorwin (Op. 13:5-7).

Die aftelling in Daniël

Wat die eerste deel van die profesie tot met die Messias se verwerping betref, het daar inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemía toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Die 483 profetiese jare van 360 dae elk is saam 173 880 dae lank. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke verloop tussen 23 Maart 445 v.C. (1 Nisan op die Joodse kalender) en Vrydag 11 April 32 n.C. (14 Nisan op die Joodse kalender), en is beëindig op die dag waarop Jesus gekruisig is. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die 70ste jaarweek van Daniël, wat deur die volk se verbond met die valse messias ingelui sal word. Dit is bo enige twyfel duidelik dat die 70ste week in hierdie profesie net so letterlik sal verloop as die eerste 69, en dus glad nie vergeestelik of allegories verklaar kan word nie.

Die groot gaping tussen die 69ste en 70ste jaarweke word deur die kerkdispensasie ingeneem, waartydens die hele wêreld geëvangeliseer moet word. Hoewel individuele Jode in hierdie tyd gered kan word, en baie van hulle ook ’n groot rol in die kerkbedeling gespeel het, leef die meerderheid Israeliete in hierdie tyd in hulle geestelik verharde toestand voort. As volk sal hulle eers aan die einde van die tyd van wêreldevangelisasie gered word. Paulus sê: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend“ (Rom. 11:25-26).

Wat die kerkbedeling self betref, het ons nie ’n aftelling tot op die oomblik wanneer die hemelse Bruidegom sy bruid tydens die wegraping sal kom haal nie. Ons kan die tyd by benadering vasstel na aanleiding van die vervulling van profesieë oor die herstel van Israel, asook hulle hoofstad Jerusalem, maar geen pertinente datumbepaling kan op grond hiervan gedoen word nie. Die Here Jesus koppel die begrip van imminensie aan beloftes oor sy koms deur aan te dui dat Hy op ’n onverwagte oomblik soos ’n dief in die nag sal kom. Hy wil hê dat alle gelowiges van alle tye op sy spoedige koms ingestel sal wees en in die lig daarvan voorbereidings sal tref vir hulle hemelse bestaan deur dinge te doen wat ewigheidswaarde het. Eers wanneer die kerk weggevoer is, sal die tyd vir die finale aftellings in Daniël 9 en 12 aanbreek.

Heel eerste sal daar die aftelling van 1 260 dae wees tussen die dag waarin Israel ’n verbond met die valse messias sluit, en die middel van die verdrukking wanneer hy die tempel sal ontheilig. Daniël verskaf verdere besonderhede oor hierdie groot krisis in die middel van die 70ste week, wanneer die finale aftelling na die koms van die ware Messias begin. In Daniël 11:31 staan daar: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Die beeld wat die Antichris van homself sal laat maak, sal met sy selfvergoddeliking verband hou: “En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en groot hou bo enige god” (Dan. 11:36). Dit sal die begin wees van die groot verdrukking, wat die laaste helfte van die jaarweek sal wees (Matt. 24:21).

Groot benoudheid sal oor die Jode kom terwyl hulle uit Jerusalem wegvlug na die berge: “En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie” (Dan. 12:1). In hierdie tyd van hewige vervolging sal hulle egter ’n vaste aftelling hê tot die tyd wanneer hulle met die ware Messias versoen sal word, en daarna ook mede-erfgename van sy koninkryk sal wees: “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik“ (Dan. 12:11-12).

Daar is goeie redes waarom Daniël eers 30 dae by die 1 260 dae van die groot verdrukking voeg, en daarna nog 45 dae, want van die oomblik af dat die Messias sy voete op die Olyfberg sit totdat die Messiasryk ingestel is, is daar ’n hele aantal dinge wat moet gebeur. Om die verband van die verskillende fases van hierdie aftelling goed te begryp, moet ons ’n geheelbeeld verkry van die gebeure wat op die laaste jaarweek betrekking het.

Israel se tydelike verbond met die valse messias

Israel se jaartellings – en dus ook hulle siklus van jaarweke – begin op die Rosh Hashana (Nuwejaarsfees) in die maand Tisjri op hulle sekulêre maankalender (dit val gewoonlik saam met ’n datum in September op die Gregoriaanse sonkalender). In hierdie maand vier die Jode hulle oesfeeste, wat die laaste drie van hulle sewe groot jaarlikse feeste is (Lev. 23). Die drie feeste is die Fees van Basuine (Rosh Hashanah), die Groot Versoendag (Yom Kippur) en die Loofhuttefees (Sukkoth). Daar is ’n groot verwagting onder gelowige Jode dat die Messias tydens een van hierdie drie feeste sal verskyn.

In die lig van die feit dat die valse messias die plek van die ware Messias sal probeer inneem (vgl. Joh. 5:43), en aangesien hy vir ’n volle jaarweek ’n verbond met Israel sal sluit, word algemeen verwag dat hy tydens een van die oesfeeste sy verskyning sal maak, wat naby aan die begin van ’n jaar (en potensieel ook van ’n jaarweek) sal wees. Sy aanvaarding deur Israel en die sluit van ’n verbond met hom, sal ’n aftelling van 1 260 dae inlui totdat hy homself in die herboude tempel tot God verklaar. Die middel van ’n jaarweek in Israel is altyd in Nisan, wat die lentemaand is – dan word die Pasga gevier. Dit is dan wanneer die Antichris sy uiterste daad van godslastering sal pleeg en die meerderheid ortodokse Jode hulle verbond met hom sal verbreek omdat hy daarop sal aandring dat almal voor sy beeld neerbuig en dit aanbid.

Israel word in die Tien Gebooie verbied om enige afgode te aanbid: “Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie” (Ex. 20:5). Tydens die Babiloniese ballingskap het Daniël se drie vriende volstrek geweier om voor die beeld neer te buig wat Nebukadnésar laat maak het, en dit is nog steeds ’n sterk ingesteldheid by gelowige Jode. Hulle sal die valse messias se opdrag summier verwerp om hom as God te aanbid, en as gevolg daarvan hulle verbond met hom verbreek. Dit sal groot woede by die Antichris ontlok en hy sal ’n Joodse volksmoord gelas. Dit is dan dat hulle vinnig sal moet vlug na die berge. Van hierdie oomblik af begin die aftelling van 1 260 dae na die koms van die ware Messias, en dit sal met die grootste benoudheid in die geskiedenis van die volk Israel gepaard gaan.

Die Here Jesus het die Jode gewaarsku dat hulle vinnig sal moet vlug, en juis daarom moet hulle bid dat hulle vlug nie op die Sabbat of in die winter plaasvind nie (Matt. 24:20). Op die Sabbat mag ortodokse Jode net omtrent twee kilometer stap (Hand. 1:12), dan sal die Antichris se magte hulle maklik inhaal en doodmaak. In die winter sal hulle vordering stadig en moeisaam wees. Indien hulle in die lentemaand moet vlug, is dit moontlik dat daar laat koue van die voorafgaande winter kan intree. Hulle moet egter bid dat dit ’n warm lentedag sal wees sodat hulle vinnig kan wegkom en ook makliker in die opelug kan vernag. Hulle sal waarskynlik langs die Dooie See af vlug tot by die verlate en rotsagtige canyon by Petra in Jordanië. Dit is ’n ruwe en moeilik toeganklik plek wat intussen tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar is. Daar mag geen oorlogvoering of enige vernietiging van die terrein hier plaasvind nie.

Tydens Israel se vlug sal die Here hulle help om nie deur vyandelike magte ingehaal en oorrompel te word nie. Hierdie hulp kan selfs die vorm aanneem van ’n aardbewing waarin die grond oopskeur om die agtervolgingsmag te stuit: “En die slang [Satan] het uit sy bek water soos ’n rivier agter die vrou [Israel] aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Op. 12:15-16). Die Antichris sal ook besig gehou word met opstande wat elders in die wêreld teen sy militêre bewind sal uitbreek: “Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:44).

’n Oorblyfsel van Israel sal behoue deur die groot verdrukking van 3½ jaar kom, en voortgaan met hulle aftelling van 1 260 dae vanaf die aanvang van hulle vlug. Aan die einde van daardie jaarweek, rondom die oesfeeste in Tisjri, sal hulle na Jerusalem optrek om die koms van die Messias op die Olyfberg in te wag. ’n Hoogs dramatiese 2½ maande sal daar op hulle wag en dit sal deur die Here se toedoen ’n permanente keerpunt in die lotgevalle van Israel meebring.

Uitredding en versoening

Dit sal ’n lewensgevaarlike onderneming vir die Jode in ballingskap wees om te voet uit die berge na Jerusalem op te trek, want ’n baie groot magsopbou vir die slag van Armagéddon sal in daardie tyd in Israel plaasvind – spesifiek ook rondom Jerusalem. Daar is egter niks wat hierdie Jode daarvan sal weerhou om die reis te onderneem nie, want dit sal gedoen word onder die vaste oortuiging dat hulle die Messias op die Olyfberg sal sien kom, wanneer hulle fisies uitgered en geestelik met Hom versoen sal word. Die naderende Groot Versoendag (Yom Kippur) van daardie jaar sal vir hulle met ’n baie groot verwagting van ’n Goddelike ingryping gepaard gaan. Dit behels die koms van die Messias, die verdelging van hulle vyande en ’n nuwe begin van gehoorsaamheid en toewyding aan die Here vir Israel.

Die ballinge se geloof in die koms van die Messias sal baie sterk moet wees as hulle te midde van lewensgevaar en die moontlikheid van algehele uitwissing tot binne-in die beleërde Jerusalem sal optrek. Hulle sal die gevare van die volgende toneel in Sagaria 14 goed verstaan, maar dit sal ook hulle enigste hoop wees om die Messias daar in te wag:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder word. ... En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge – want die dal van die berge sal loop tot by Asal – en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees. En dit sal ’n enige dag wees wat aan die Here bekend is –geen dag en geen nag nie; maar teen die aand sal dit lig word. ... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde. ... En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ’n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:2-13).

Antichristelike magte sal Jerusalem begin inneem en ook die voortvlugtendes uit Petra omsingel. Die ballinge sal in benoudheid uitroep terwyl hulle desperaat en wanhopig na die hemel opkyk vir die koms van die Messias. Hulle sal sê: “Ons verwagting is verlore – dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11). Dan sal dit skielik gebeur: die Seun van God sal saam met ’n leërskare uit die hemel neerdaal tot op die Olyfberg in Jerusalem. Die Olyfberg in twee gesplit word en ᾿n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling sal soek teen hulle vyande. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug en daar, letterlik aan die voete van Jesus, die Messias, sal hulle veilig wees.

Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit byna 2 000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel oor die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is. Tussen 12-uur die middag en 3 nm. toe Jesus gesterf het, was dit donker oor die hele aarde (Matt. 27:45). ’n Soortgelyke verskynsel sal plaasvind op die dag van sy wederkoms, terwyl God se oordele by die slag van Armagéddon oor die sondaars uitgestort word. Eers teen laat die middag sal dit weer lig word (Sag. 14:7). Amos verwys ook na die duisternis wat sal heers tydens die oordele op die dag van die Here: “Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie … ja, donkerheid sonder ᾿n ligstraal” (Amos 5:18, 20).

In hierdie dramatiese en beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak. Die valse messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).

Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. Hulle sal na Hom opkyk en hulle verbasing sal baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).

Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaria, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Hulle sal opsien na Hom vir wie hulleself, as Joodse volk, deurboor het toe Hy tydens sy eerste koms Homself as die Lam van God bereid verklaar het om aan ᾿n kruis vasgespyker te word en vir die sondes van die hele wêreld te sterf. Ter wille van die getuieniswaarde van die wonde as ’n bevestiging van sy soendood aan die kruis, bevat Jesus se verheerlikte liggaam steeds die merke van sy kruisiging (Joh. 20:24-29).

Die ontmoeting tussen Israel en die Messias sal uiters gevoelvol en hartlik wees. Die volk wat kort tevore nog deur totale uitwissing in die gesig gestaar is, sal in aanbidding neerval aan die voete van hulle Verlosser. Hulle vreugde sal deur trane van berou afgewissel word terwyl elke lid van die oorblyfsel van Israel met Jeshua Ha Mashiach (Jesus die Messias) versoen word. Dit sal inderdaad vir hulle ’n Groot Versoendag wees, en die begin van die nasionale bekering van al die Jode wat die groot verdrukking oorleef het:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ᾿n mens rouklaag oor ᾿n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ᾿n mens bitterlik ween oor ᾿n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Haddat-Rimmon in die laagte van Megiddo. En die land sal rouklaag by geslagte. … In dié dag sal daar ᾿n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:10-12; 13:1-2).

Die nasionale roubeklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was (Num. 20:29; Deut. 34:8). Aan die einde van hierdie 30 dae sal die hele oorblyfsel van Israel gered wees (Rom. 11:26). Met inagneming van die 30 dae van rou sal daar 1 290 dae verloop sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse messias homself in die tempel in Jerusalem tot God verklaar het. ᾿n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-46). Die oordeel van Matthéüs 25 sal voor Christus se troon van heerlikheid plaasvind, wanneer almal wat die groot verdrukking oorleef het, voor Hom sal verskyn.

Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal daar 1 335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1 260 dae van die groot verdrukking die koms van die Messias aanskou. Ná 1 290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1 335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer.

Israel se posisie in die vrederyk

Eers aan die einde van die 70 jaarweke sal ewige geregtigheid vir Israel aanbreek en al die beloftes oor die millennium vir hulle in vervulling gaan. Dit is om die volgende redes duidelik dat die vrederyk nog nie vir dié volk of enige ander volk ter wêreld aangebreek het nie:

Israel word uitermate geseën: Israel sal in die Messiasryk ongekende seëninge geniet. Die Here sê: “Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde. ... Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel. ... Want so sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies. ... Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde. ... En Ek sal hulle rou in vreugde verander. ... En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle” (Jer. 31:3-4, 7-8, 13, 34). Die geredde Israel sal ten volle in guns wees by die Here, en die belangrikste nasie op aarde wees (Sag. 8:23). Die volk het nog nooit seëninge van hierdie aard beleef nie. Tydens hulle internasionale verstrooiing die afgelope 2 000 jaar was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode verduur het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem was hulle land ’n kookpot van onderlinge twiste, aanvalle van buite en opstande teen die Romeinse Ryk.

Christus regeer as Koning: In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17). Die feit is dat die Jode nog nooit as volk vir Jesus as hulle Koning en Messias aanvaar het nie, want hulle het nog nie die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te erken nie (Sag. 12:10). Tydens die millennium wanneer Jesus Christus oor die aarde regeer, sal die duiwel gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-3). Dit is nog ’n rede waarom die hele Israel die Here sal dien, asook die geredde oorblyfsel van die nasies: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Tans is die situasie heel anders, want die meerderheid mense in Israel én onder die nasies het nog verharde harte wat deur die god van hierdie wêreld (Satan) verblind word (2 Kor. 4:4). Die hele wêreld lê in hierdie stadium in sy mag (1 Joh. 5:19).

Jerusalem as die geestelike en politieke hoofstad van die wêreld: Die nasies van die wêreld sal na Jerusalem optrek om die Here daar te aanbid en sy genade af te smeek: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek” (Sag. 8:22). Hierdie situasie sal duidelik eers ná die wederkoms van Christus bestaan, wanneer afgevaardigdes van die nasies wat teen Jerusalem geveg maar daarna tot bekering gekom het, jaarliks na Jerusalem sal optrek om die Vredevors te eer en die Loofhuttefees te vier (Sag. 14:16). In die nuwe dispensasie sal die nasies Christus se gesag ten volle aanvaar, in vrede met alle ander nasies leef, en selfs nie eers meer nodig hê om militêre opleiding te verskaf en wapens te vervaardig en op te gaar nie. Inteendeel – wapens sal opgesmelt word om landbougereedskap te maak: “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:3-4). Hierdie toestand sal in skrille kontras wees met die huidige situasie waarin Jerusalem deur die nasies vertrap word, Israel se Goddelike mandaat oor die stad en die hele land Israel nie deur die internasionale gemeenskap erken word nie, en ’n koorsagtige wapenopbou in die wêreld voorkom.

Israel evangeliseer die wêreld: In die vrederyk sal Israel hulle roeping as die volk van God uitleef en die wêreld evangeliseer (Jes. 27:6). Hulle sal dan op ’n besondere wyse ’n seën vir die hele wêreld wees. Paulus sê: “En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:12). Die feit dat Israel as volk die Messias tydens sy eerste koms verwerp het, het regstreeks daartoe gelei dat Hy ná sy opstanding beveel het dat sy dissipels die boodskap van verlossing na alle nasies moes uitdra (Mark. 16:15). Ons het die verlossing gekry wat hulle verwerp het. Die Here verwag nou van ons dankbaarheid en erkentlikheid, asook die bereidwilligheid om Israel jaloers te maak op dit wat ons ontvang het, sodat hulle ook vir die Messias gewen kan word (Rom. 11:11). Wanneer hulle die Messias van harte dien, sal hulle ’n voorbeeld en seën vir die hele wêreld wees. Tot dusver kon Israel nie die lof van die Messias onder die nasies verkondig nie, omdat hulle Hom nog nie as Verlosser aanvaar het nie.

In die nabye toekoms sal die Messias sy ware kerk wat ’n teëhouer teen die verskyning van die valse messias is, kom haal (2 Thess. 2:6-8). Daarna sal die valse messias geopenbaar word en die donker tyd van benoudheid vir Jakob én die ongelowige nasies in die verdrukking aanbreek (Jer. 30:7). In die middel van die verdrukking sal die valse messias homself op ’n aanmatigende wyse tot die God en Koning van Israel en al die nasies verklaar. Op daardie dag van groot onheil sal Israel se aftelling na die koms van die ware Messias begin – 1 260 dae totdat hulle Hom sal sien kom op die Olyfberg, 1 290 dae totdat hulle met Hom versoen sal wees, en 1 335 dae totdat hulle as volk die beloofde Messiaanse koninkryk sal beërf.

Dit sal die einde van die 70 jaarweke wees wat vir baie jare lank met groot ellende vir ongelowige Israel gepaard gegaan het, maar daarna breek die fase van ewige geregtigheid aan. Jesaja sê: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek. En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp” (Jes. 25:8-9).

Die wederkoms van Jesus Christus, die vernietiging van die Antichris en sy magte, die binding van Satan en sy demone in ’n put, die geestelike lewendmaking van ’n oorblyfsel in Israel, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, en die verheffing van Jerusalem tot ’n wêreldhoofstad onder die bewind van die Messias, volg alles aan die einde van die 70ste jaarweek van Israel se heilsgeskiedenis. Alle Christene behoort vir die aanbreek van hierdie wonderlike tydperk in die wêreldgeskiedenis te bid, en ons het ook ’n opdrag om dit te doen:

“o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7). Proff. Walvoord & Zuck sê in hulle Bible Knowledge Commentary, bl. 1117, die volgende oor hierdie Skrifgedeelte: “In die antieke wêreld is wagte op stadsmure geplaas (dikwels in torings) om op die uitkyk te wees vir vyande wat die stad mag nader. Terwyl hulle aan diens was, mag hulle nooit geslaap het nie. Regverdige Israeliete moet ook, soos die wagte, wakker wees ter wille van Jerusalem. Hulle moet hulleself én die Here geen rus gun nie totdat Hy Jerusalem bevestig – dit beteken dat hulle God voortdurend moet vra dat Hy die stad sal verhef tot ’n lof op aarde, só geseënd deur die Here dat al die volke hulle in die stad sal verbly en dit sal prys.”

Jerusalem as “die stad van die Groot Koning” (Ps. 48:3), sal ’n sentrale rol speel in die bedeling van ewige geregtigheid wat ná Israel se 70 jaarweke sal aanbreek.