Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2012)
Twee van die baie belangrike hoedanighede waarin die Here Jesus Homself aan ons openbaar, is dié van Verlosser en Voorspraak (of Advokaat). Dit staan in verband met ons aanvanklike redding en ook ons voortgesette reiniging van sonde daarná. Die volgende is die belangrikste sake wat hiermee in verband staan:
Ons moet ’n duidelike begrip hê van ons verlossing uit die mag van sonde, en veral van die feit dat alle sondaars die doodstraf skuldig is. Die Bybel sê: “Want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Israel het lank gelede dieselfde boodskap gekry: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4).
Hierdie straf is nooit ter syde gestel nie, maar die Vader het deur die kruisdood van sy Seun ’n soenoffer vir die sonde van die hele wêreld voorsien. Paulus sê: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Hy was onskuldig en sondeloos, maar het plaasvervangend namens alle mense die doodstraf vir die sonde uitgedien.
Die oomblik toe Jesus aan die kruis sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy ’n baie belangrike sterwenswoord uitgespreek, naamlik tetelestai (dit is volbring, of die prys is betaal – Joh. 19:30). In daardie tyd het die woord tetelestai ’n besondere betekenis gehad, wat in ag geneem moet word as ons ten volle wil begryp wat Christus daarmee bedoel het. In die moderne tale is daar nie geskikte sinonieme vir dié woord nie, gevolglik het baie van die betekenis daarvan verlore gegaan. In Bybelse tye is die woord tetelestai as die sleutelwoord op ’n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal. Soms is daar net bo-oor ’n rekening tetelestai geskryf om aan te toon dat dit betaal is.
Paulus herinner die kerk van Christus aan hierdie groot waarheid wanneer hy vir hulle sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Petrus sê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Die getuienis van die ouderlinge in die hemel bevestig die feit dat hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle lewens deur die bloed van die Lam vrygekoop is, en dat hulle dus net op grond van sy verdienste in die hemel is: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).
Verder was dit ook in die Bybelse tyd algemene praktyk om die klagstaat van ’n gevangene aan sy seldeur vas te spyker. Die oortredings waarvoor hy veroordeel is, is daarop aangeteken, asook die vonnis wat hom opgelê is. Nadat hy sy tronkstraf uitgedien het, is die klagstaat van die seldeur verwyder en gekanselleer deur in groot letters daaroor te skryf: Tetelestai (Ten volle uitgedien). Daarna is dit aan die betrokke persoon oorhandig, en niemand kon hom ooit weer vir dié oortredings aankla nie – hy het die vonnis uitgedien en daardeur die prys vir sy misdade betaal.
In ’n geestelike sin is alle mense gevangenes van Satan, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Aangekla deur hulle sonde is hulle in die mag van Satan waar hulle in sy dodeselle hulle verhoor en veroordeling tot die ewige dood voor die groot wit troon afwag. Die tronkbewaarder is die duiwel self, en geen persoon kan homself uit sy mag bevry en die doodstraf wat op hom wag, vryspring nie.
Om verlore sondaars te kan red, het Jesus Christus gewillig die doodstraf uitgedien wat reeds deur God oor alle sondaars uitgespreek is. Ná sy opstanding uit die dood is Jesus in ’n posisie om die klagstaat van elke verlore sondaar te kanselleer deur met sy bloed daaroor te skryf: Tetelestai – die vonnis is betaal. Paulus sê: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief [of klagstaat] teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol. 2:13-14). Die straf vir alle sonde is ten volle aan die kruis betaal.
Is al die sondes waarvoor die duiwel jou by die troon van God aangekla het, uitgewis deur die bloed van die Lam? Indien wel, dan kan niemand jou ooit weer hiervoor aankla of beskuldig nie. Dit maak nie saak hoe ernstig hierdie oortredings was nie, want die straf daarvoor is reeds ten volle betaal. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygekoop het (Gal. 5:1).
Daar is bepaalde voorwaardes waaraan ons moet voldoen indien ons ons lewe rein wil bewaar voor die Here. Johannes sê: “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7). Wanneer die tydvorm van die betrokke werkwoorde in ag geneem word, kan hierdie teks só geparafraseer word: “As ons onafgebroke in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan is ons daagliks in verbinding met God; en die bloed van sy Seun, Jesus Christus, reinig ons voortdurend van alle sonde.”
Dit is ’n baie belangrike riglyn vir ons lewe ná bekering. Ons moet in die lig van die Here Jesus se teenwoordigheid wandel. Dit beteken dat ons in Hom moet bly en nie van Hom af moet afdwaal nie. Hy is die vleesgeworde Woord, en deur die bestudering van die Woord kan ons verseker dat ons noue voeling met Hom behou. Paulus sê: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid” (Kol. 3:16). As ons dit eerbiedig, sal ons nie sonde doen nie. Die psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11).
Die doel waarna ons moet strewe is om nie te sondig nie. Weens ons menslike feilbaarheid kán ons egter sondig, maar dan moet die saak dadelik weer reggestel word: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9). Sonde besoedel ons lewe en ons moet so gou as moontlik weer daarvan gereinig word: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13).
Dit moet ’n ernstige ingesteldheid by Christene wees om nie te sondig nie, maar indien dit wel gebeur moet ons so gou as moontlik reiniging verkry. Johannes beskryf die noodsaaklikheid van voortgesette reiniging so: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:1-2).
Christene moet onthou dat daar gedurig pogings deur Satan aangewend word om hulle voor die Vader se troon in die hemel aan te kla wanneer hulle sondig. Die duiwel word in Openbaring 12:10 beskryf as “die aanklaer van die broeders” wat ons dag en nag voor God aankla. Wanneer Hy dit doen, tree Jesus Christus egter as Voorspraak of Advokaat namens ons op om die aanklagte te verwerp, mits ons reeds van daardie oortredings gereinig is.
Die Here Jesus behartig dus Christene se verdediging wanneer hulle by die Vader aangekla word. Die King James en New King James Bybels sê: “And if anyone sins, we have an advocate with the Father, Jesus Christ the righteous.” Die Amplified Bible sê: “But if anyone should sin, we have an Advocate (One Who will intercede for us) with the Father; it is Jesus Christ the all righteous.” Die NIV sê: “But if anybody does sin, we have one who speaks to the Father in our defence – Jesus Christ the Righteous One.”
Om egter die voorreg te kan geniet van ’n Advokaat wat namens ons by die Vader intree, moet ons elke dag in die lig wandel en gereeld alle sondes waarvan die Heilige Gees ons oortuig, bely en laat staan. Ons moet dus in die versoening leef – dan alleen sal Satan se aanklagte verwerp word.
Wat gebeur in die geval van moedswillige en volhardende sondes waarin kinders van die Here soms verval? Sal die hemelse Advokaat ook vir sulke oortreders voorspraak doen? Beslis nie, want daardie sondes word nie bely en laat staan nie, maar inteendeel oor en oor gedoen. Die betrokke persoon kom weer onder die mag van sonde, en mettertyd word daar ’n skeidsmuur van sonde tussen hom en die Here opgebou.
As gevolg van hierdie situasie val die persoon geestelik terug en hy bedroef nie net die Heilige Gees deur sy sonde nie, maar weerstaan Hom ook omdat hy nalaat om sy sonde te bely en te laat staan. Gaandeweg kry die sonde (en die duiwel) ’n groter mate van beheer oor die persoon se lewe, en kom daar ook ander sondes by. Sulke opsetlike sondes het verwoestende gevolge in ’n Christen se lewe: “As ons opsetlik sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie” (Heb. 10:26).
Die moedswilligheid of opset wat hier aanwesig is, is ’n aanduiding dat die persoon onder die invloed van verleiding daartoe beweeg is om in stryd met sy gewete én die Woord van die Here met die sonde voort te gaan. Hy voldoen dus nie aan die Here se voorwaarde van belydenis en bekering, sodat hy vergewe en ook daarvan gereinig kan word nie.
Sulke Christene raak soms vasgevang in sondes soos buite-egtelike verhoudings, korrupsie, dobbelary, geldgierigheid, hoogmoed, ens. Hulle laat die sondige vlees toe om weer ’n vastrapplek in hulle lewe te kry, en mettertyd raak dit die dominante mag in hulle lewe.
Koning Dawid het ook by sulke moedswillige en opsetlike sondes betrokke geraak. Hy het sy buurman se vrou begeer, terwyl die wet van die Here uitdruklik sê dat hy dit nie mag gedoen het nie. Hy het ook moord gepleeg om van haar man ontslae te raak, terwyl die wet van die Here dit ook ten sterkste verbied.
Toe die Here hom hard aangespreek het oor sy sondige toestand, het Dawid dadelik erken dat hy ’n groot probleem het. Hy het besef dat hy as ’n gesalfde van die Here in sonde geval het, dat sy hart as gevolg daarvan onrein geraak het, dat hy ’n wankelende gees gehad en voor die mag van ’n sondige begeerlikheid geswig het. Hy was terdeë daarvan bewus dat indien hierdie toestand sou voortduur, die Here selfs sy Heilige Gees van hom af kon wegneem. Dawid het homself egter verootmoedig en sy sonde só teenoor die Here bely:
“Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë. ... Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil, en ondersteun my deur ’n gewillige gees” (Ps. 51:6-14).
Hoeveel te meer is dit nie vir ons noodsaaklik om sulke situasies van toegee aan sondige begeerlikhede te vermy nie. Paulus waarsku gelowige Hebreërs dat sonde die vermoë het om ’n mens verhard, afgestomp en gevoelloos te maak, daarom moet Christene ook gedurig daarteen gewaarsku word: “Vermaan mekaar elke dag ... sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13).
Die verskynsel van ’n toenemende aantal teruggevallenes is ’n groot tragedie in die Christendom. Daar was ’n tyd in sulke mense se lewens toe hulle as bevrydes van die Here uit Satan se gevangenis gekom het. Hulle het in geloof die gekanselleerde klagstaat van hulle vorige sonde in besit geneem, waarop daar staan: telelestai (ten volle betaal). Hulle het daarna vir ’n tyd lank in die lig gewandel en die voortgesette reiniging deur sonde ervaar; hulle rekord het skoon gebly, en sonde is onmiddellik bely en laat staan soos wat die Heilige Gees hulle daarvan oortuig het.
Maar toe kom daar een of ander versoeking waaraan hulle geleidelik begin toegee. Dit kan ’n skielike sug na rykdom en roem wees, dit kan ’n verkeerde verhouding wees, of dit kan selfs broeiende ongeloof oor God of sekere aspekte van sy Woord wees. Dit pas baie mense om die Bybel te ignoreer, beheer oor hulle eie lewe te neem en dan volgens hulle eie begeertes en voornemens te begin leef. Dit gebeur baie geleidelik en feitlik onopsigtelik.
Bietjie vir bietjie, dag na dag, raak die sondige gedagte of voorneme in hulle harte gevestig. Hulle weet dat dit verkeerd is, maar die gedagte begin al hoe meer aanloklik lyk, daarom onderwerp hulle dit nie aan die gehoorsaamheid aan Christus nie (2 Kor. 10:5). Hierdeur bedroef hulle nie alleen die Heilige Gees nie, maar weerstaan Hom ook, en sodoende word daar vir die betrokke sonde ruimte geskep om in die persoon se lewe gevestig te raak.
Terwyl dit gebeur, kla die persoon se gewete hom aan oor sy voorgenome sonde, soos wat die Heilige Gees hom daarvan probeer weglei. Indien hy steeds die sondige voorstel akkommodeer, begin hy om geestelik af te koel, sy gebede raak korter en meer oppervlakkig, en hy raak haastig om van geestelike byeenkomste af weg te kom. Die uitgetrapte paadjie na die Advokaat se kamers word gaandeweg minder bewandel en die gras begin om dit toe te groei. In die geestelike klimaat waarin die persoon hom nou bevind, stel hy vir homself ander prioriteite en maak planne om sy lewenswyse daarby aan te pas.
Soos wat daar aan sondige voornemens uitvoering gegee word, raak hulle later ’n gevestigde sondige gewoonte. Alle sondes is gewoontevormend, daarom ontwikkel hulle mettertyd in sondige vestings wat daarop ingestel is om van hulle slagoffers willose slawe te maak. Hulle intensiteit neem toe, en uiteindelik oorheers hulle jou hele lewe. Die drinker begin om al hoe meer te drink, totdat die drank uiteindelik sy hele lewe verwoes. Die dobbelaar dobbel al hoe meer totdat hy bankrot is. Behalwe vir die feit dat sonde erger word, kom daar ook nuwe sondes by, omdat die een sonde die deur vir ander sondes oopmaak.
Dit wat by ’n enkele sondige gedagte of begeerlikheid begin het wat nie weerstaan is nie, eindig in ’n tragedie. Jakobus sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14-15).
Daar het dus nuwe inskrywings op hierdie teruggevalle persone se geestelike klagstate gekom, wat beteken dat hulle opnuut veroordeelde sondaars geword het. Die meeste van hulle ontken dit egter, en hou steeds ’n uiterlike gedaante van godsaligheid in stand. Hulle redeneer gewoonlik dat alle mense sondaars is en dat al die sondes wat hulle steeds doen, eendag vergewe sal word.
Die feit is egter dat sonde hier en nou, tydens ons aardse lewe vergewe moet word. Die klagstate wat ons verdoem, moet nou bely en aan die kruis vasgespyker word. Ons word nie eers eendag voor die regterstoel van Christus van sonde gereinig nie. Dáár ontvang ons slegs loon vir werke wat ewigheidswaarde het, en wat ons gedoen het toe ons volkome onder die versoening van Christus geleef het.
Indien ’n Christen tydens sy aardse lewe weer ’n slaaf van sonde word, dan sal hy vir seker die koninkryk van die hemel misloop. Paulus rig die volgende streng waarskuwing aan die gemeente in Korinthe, waarin daar ook teruggevallenes was: “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:9-11).
Sondaars gaan nie hemel toe nie. Geestelike Korinthiërs wat in die lig gewandel en in die versoening volhard het, sal wel hemel toe gaan. Hulle wás sondaars – in die verlede tyd – maar is intussen gewas en gereinig van hulle sondes. Wat gebeur dan met diegene wat weer na hulle vorige sondes terugkeer? As hulle nie opnuut daaruit verlos word nie, sal hulle beslis verlore gaan. Petrus sê die volgende van sulke teruggevallenes:
“Hulle het die regte pad verlaat en verdwaal. ... Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is” (2 Pet. 2:15, 20-21).
Die verlore seun het homself in hierdie situasie bevind. Hy sou in die hel beland het indien hy nie ’n baie vaste besluit geneem het om hom van sy sondige weë te bekeer en na sy Vader terug te keer nie. Hy het gesê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk. 15:18). Hy is weer ten volle herstel in die plek in sy Vaderhuis waarvandaan hy uitgeval het. Sy sonde is vergewe; sy skuldbrief is uitgedelg.
Die boodskap is duidelik: elke mens op aarde het ’n Verlosser nodig om sy sondeskuld uit te delg en sodoende aan hom toegang tot die koninkryk van die hemel te verleen. Selfs al gebeur dit dat hy ná sy bekering weer sondig, en die duiwel na aanleiding daarvan ’n saak teen hom in die hemelse hof aanhangig maak, moet hy seker maak dat Christus as sy Advokaat wel tot sy verdediging kan kom. Dit vereis dat hy daagliks in die regte verhouding met die Here Jesus sal lewe en die voortdurende reiniging deur sy bloed sal ervaar.
Ongelukkig bevind verskeie voormalige Christene hulleself onder die geledere van die toenemende aantal geestelike skipbreukelinge wat van die geloof afvallig geraak het. Paulus sê dat ons aan die geloof en ’n goeie gewete moet vashou, en wys daarop dat baie mense dit van hulle af weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely het (1 Tim. 1:19; 4:1). Sulke weerspannige gemeentelede wat in sonde geval het, moet tereggewys en opnuut tot bekering opgeroep word, sodat hulle “weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim. 2:25-26). Wat gebeur met die teruggevallenes wat hulleself nie uit hierdie toestand bekeer het nie?
“Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe” (Eseg. 18:24). Dit is egter nie nodig nie, want Jesus Christus is steeds bereid om sondes te vergewe en ook oor nuwe inskrywings op ons klagstaat van sonde tetelestai te skryf (Jes. 55:6-7).
Neem vrymoedigheid om by enige geleentheid tot sy genadetroon toe te tree op die weg wat Hy vir ons almal berei het (Heb. 10:19-22). Jou Verlosser is ook jou Advokaat wat by die Vader vir jou intree, en Hy het belowe om niemand wat na Hom toe kom, ooit uit te werp nie (Joh. 6:37). Jy hoef nie ’n afspraak te maak om na Hom toe te gaan nie, en ook niks te betaal nie, want Hy het reeds die volle prys vir alle sondes betaal. Al wat jy moet doen is om jou sondes te bely, daarmee te breek, en die vergifnis wat aan jou gebied word in die geloof aan te neem.