Program 94. Die Kerk op Aarde

Deur middel van sewe briewe stuur die Here Jesus boodskappe van bemoediging en vermaning aan die kerk van die Nuwe Testament. In die jaar 95, toe daar reeds meer as 100 gemeentes was, kies Hy sewe uit wat die tipiese kenmerke van die ganse kerk vertoon – nie net op daardie oomblik nie, maar ook dwarsdeur die hele kerkbedeling totdat dit beëindig sal word en die Antichris se regering daarna sal aanbreek. Openbaring 2 en 3 gee dus twee aanvullende perspektiewe op die Christelike kerk, naamlik ‘n eietydse een en ‘n profetiese een. Op enige tydstip in die geskiedenis vertoon die Christelike kerk die eienskappe wat tipies van die sewe gemeentes is. Dit was kenmerkend van die vroeë Christelike kerk toe hierdie briewe geskryf is, en is nog steeds kenmerkend van die 21ste eeu se kerk.

Hierbenewens kan daar in ‘n profetiese toepassing van die sewe briewe ook ‘n chronologiese opeenvolging van sewe tydperke in die kerkgeskiedenis gemaak word. Hoewel die verskillende gemeentetipes nog altyd saam bestaan het, het die algemene karakter van die Christelike kerk oor tyd heen deur hierdie sewe tipes beweeg. Daar is dus sewe duidelik onderskeibare tydperke in die kerkgeskiedenis. Ons leef tans in die periode van Laodicéa, die laaste van die sewe gemeentes. Die ander ses kerktipes kom ook nou voor, maar in die Laodicéa tydperk speel hulle nie die oorheersende rol nie.

Aan die einde van die eerste eeu toe Johannes hierdie boodskappe ontvang het, was daar reeds aansienlike veragtering in die vroeë Christelike kerk bespeurbaar. Die aktiewe, Geesvervulde gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, het verflou in hulle ywer. Mettertyd het die meeste van hulle net ‘n leë vormgodsdiens oorgehou waarin Jesus Christus nie meer die sentrale plek beklee het nie. Afgodediens en kompromie met die wêreld het oral kop uitgesteek. Daar was nog baie gemeentelike aktiwiteite, maar die liefde vir die Here Jesus was nie meer die basiese motivering nie. Christus kan nie met hierdie vorm van kerkisme en hartelose lippediens genoeë neem nie, al is die lidmate ook baie aktief in wat hulle doen. Hy lê in elke geval sy vinger op die kern van die probleem en roep kerkgangers tot bekering en ‘n nuwe toewyding aan Hom op.

Soos dit uit die briewe sal blyk, is daar ‘n groot verskil tussen die ware kerk van Christus en die algemene Christelike kerk. Die eersgenoemde sluit net diegene in wat werklik aan Jesus Christus behoort omdat hulle weergebore en dus lede van sy liggaam op aarde is. Die tweede kategorie sluit alle mense in wat aan Christelike denominasies behoort, ook die miljoene naamchristene wat nog nie gered is nie. In die geestelik erg vervalle toestand waarin baie van die kerke vandag verkeer, is by verre die meeste lidmate nominale Christene wat net ‘n gedaante van godsaligheid het. Dit is met die oog op hulle dat die Here aan vyf van die sewe gemeentes bekeringsboodskappe rig. Dit behels bekering uit dooie vormgodsdiens, leerstellige dwalings, morele verval, afgodediens en ‘n selfregverdigende kompromie met die wêreld.

Die sewe gemeentes, in ‘n chronologiese profetiese perspektief, is die volgende:

1. Éfese – die teruggevalle kerk

Éfese is kenmerkend van die geestelik veragterde kerk wat ná die Handelinge-tydperk bestaan het. Daar was nog baie gemeentelike aktiwiteite, maar die liefde vir die Here Jesus was nie meer die basiese motivering nie. Christus kan nie met hierdie vorm van kerkisme genoeë neem nie, al is die lidmate ook baie aktief in wat hulle doen. Hy lê sy vinger op die kern van die probleem wanneer Hy sê: "Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie" (Op. 2:4-5).

Die Here roep die gemeente tot bekering uit hulle teruggevalle toestand op. Die menslik-geïnspireerde werke wat lidmate vir hulle kerke doen, is nie vir Hom aanvaarbaar nie. 'n Lewende gemeente is een waarin lidmate onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees die Here dien. Dit is die "eerste werke" waarheen hulle hul moet bekeer. Indien hulle dit nie doen nie, sê die Here Jesus, sal Hy sy Heilige Gees aan hulle onttrek. Hulle kandelaar sal dan geen lig gee nie en geestelike duisternis sal oor die gemeente toesak. As menslike organisasie sal hulle nog kan voortbestaan, maar hulle sal geen spreekbuis vir die Here wees nie. Hy sal sy kandelaar aan 'n ander gemeente gee wat bereid is om Hom op 'n toegewyde en selfverloënende wyse in die krag van die Heilige Gees te dien. Wat is die aard van jou godsdiensbelewenis? Dien jy die Here onder morele dwang en uit eie krag omdat dit ‘n gevestigde gewoonte van jou familie of volk is, of is jy weergebore en dring die Heilige Gees jou om die lof van jou Verlosser te verkondig?

Ongeredde naamchristene hou hulleself gewoonlik met kerklike dogmas besig en is navolgers van ander mense – nie in die eerste plek van Jesus Christus nie. Toe Paulus in Éfese gearbei het, het hy juis hierteen gewaarsku en gesê: “Uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie" (Hand. 20:30-31). Is jy dalk deur ander mense van die ware pad van die Here af weggetrek? Bekeer jou dan en doen die eerste werke! Wees net ‘n volgeling van Jesus Christus!

Die opset in Éfese is kenmerkend van die vroeë Christelike kerk tot omstreeks die jaar 100. Dit geld sowel hulle aanvanklike liefde vir die Here Jesus as hulle latere veragtering in die geloof.

2. Smirna: die vervolgde kerk

Smirna beteken bitterheid en is 'n aanduiding van die genadelose vervolging en bittere lyding wat die kerk onder die Romeinse juk moes verduur. Onteiening, tronkstraf en marteling was aan die orde van die dag. Dikwels is die gevangenes in groot arenas gejaag om deur leeus en ander roofdiere verskeur te word. Hulle lewens is as niks gereken nie, en toeskouers het die arenas ter wille van vermaak besoek om met genoegdoening na hierdie barbaarse dade te kyk.

Die Here Jesus het innige meegevoel met die martelare, omdat Hy self die Een is wat die lydensweg bewandel en die bitter beker van vervolging tot die laaste druppel geledig het. Hy stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat dood was en lewend geword het. Hy bemoedig hulle om te midde van die lyding vas te staan, want as hulle getrou bly tot die dood toe, sal hulle onverganklike opstandingsliggame kry en vir ewig lewe: "Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Op. 2:10).

Die tien dae is waarskynlik 'n verwysing na die vervolging van die Christene wat tydens die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers plaasgevind het; dit is vanaf Nero in 64 n.C. tot met Diocletianus in die jaar 305. Met die aanvang van die Smirna tydperk was die vervolging reeds aan die gang en sou dit vir nog meer as twee eeue lank voortduur. Die laaste paar jaar onder keiser Diocletianus was die bloedigste. Hierdie tiran het homself ook, soos die meeste van sy voorgangers, vergoddelik. Hy het dit egter nog verder gevoer sodat mense voor hom op hul knieë moes val, die soom van sy kleed soen en uitroep: "Dominus et Deus!" ("My Here en my God!"). Die gepaardgaande vervolging word as die bloedigste van alle Christenvervolgings bestempel, en het ná Diocletianus se abdikasie in 305 nog tot in die jaar 312 n.C. voortgeduur.

3. Pergamus: die verleide kerk

'n Belangrike wending het in 312 n.C. plaasgevind toe keiser Konstantyn die vervolging van Christene verbied en self die Christelike geloof aanvaar het. Op een van sy veroweringstogte het hy na bewering 'n kruis aan die hemel gesien met die volgende woorde daarby: "In dié teken sal jy oorwin. Sedert hierdie gebeurtenis het hy aansienlike militêre welslae behaal en as gevolg daarvan die Christendom aangehang. Deur die Edik van Milaan het hy in 313 n.C. aan die Christendom gelyke regte met die ander godsdienste verleen. Sy persoonlike betrokkenheid was egter twyfelagtig omdat hy nie die heidense godsdienste veroordeel het nie en homself eers kort voor sy dood laat doop het.

Die veranderings in die Christelike kerk was nogtans geweldig. Skielik is die vervolgde kerk amptelik erken en moes dit sy deure vir hoë amptenare en gesiene burgers oopgooi. Hulle het, soos Konstantyn, besluit om ook 'Christene' te word. Die eise van die evangelie is afgewater om die boodskap vir die nuwe gehore meer aanvaarbaar te maak. Die keiser het finansiële hulp vir die oprigting van indruk­wek­ken­de geboue aan die kerk geskenk. Op die ekumeniese konsilie van Nicea in 325 n.C. het 'n orde van biskoppe hulle houvas op die kerk gekry en openlik kompromie met die wêreld én met ander gelowe gemaak.

Deur hierdie hervormings is die leer van die Nikolaïete ingevoer, wat in die Éfese tydperk reeds sy kop uitgesteek het. Gewone lidmate se regte en inisiatief vir selfstandige optrede is geleidelik onderdruk, en hulle het later slegs volgens die voorskrifte van die afvallige biskoppe en priesters gehandel. Hierdeur is growwe inbreuk op die gesag van die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges gemaak. Die kompromie wat die kerk met die sekulêre wêreld aangegaan het, het noodwendig tot geestelike afvalligheid en ontrouheid teenoor die Here gelei. Hierdie verskynsel word ook duidelik deur die naam “Pergamus” weerspieël, wat “troue” beteken. Tydens die bewind van Konstantyn is 'n huwelik tussen die kerk en die staat gesluit, maar in die oë van die Here kom vriendskap van hierdie aard op geestelike hoerery neer: "Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" (Jak. 4:4).

Heidense afgodediens het in die Christendom ingesluip, en onder andere tot die vergoddeliking van Maria in 381 ná Christus gelei, asook tot die vermenging van Kersfees en die heidense fees vir songod (Invicti Solis) wat op 25 Desember met die draai van die son gevier is. Sodoende het Christelike en heidense feeste vermeng geraak. Hierdie kerkperiode het in die vierde, vyfde en sesde eeue voortgeduur.

4. Thiatire: die afvallige kerk

In die jaar 606 is Bonniface III as universele biskop gekroon. Hierdeur is die lang tydperk van rigiede oorheersing deur ‘n afvallige kerk ingelui. Hierdie kerk is deur 'n magsbehepte hiërargie van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse regeer is. Die gesag van die kerk se leerstellings is verhef tot bokant dié van die Bybel. Jesus Christus se middelaarsposisie is deur dié hervormings aangetas en ondermyn. Later het die kerklidmate selfs voor die priesters oor hulle sondes gebieg en geld vir die vergifnis van hulle oortredinge aan die kerk betaal.

Die gevolg van die magsgreep wat die kerk oor samelewings én regerings verkry het, was dat geestelike én kulturele ontwikkeling heeltemal onderdruk is. Hierop het die duisend jaar van die Donker Middeleeue gevolg, waarna soms as Satan se millennium verwys word. In hierdie tyd is ‘n groot deel van die tradisionele Christelike wêreld deur ‘n dooie, vormgodsdienstige kerk oorheers. Dié kerk was daarop ingestel om homself te verryk, sy invloed ten koste van evangeliese kerke uit te brei, beheer oor regerings en lande te verkry en in die proses die enigste bepaler van godsdienstige kennis te word. Die ware Christene is erg deur hulle vervolg, en groeiende opposisie teen hulle het uiteindelik na die Kerkhervorming van die vroeë 16de eeu gelei. Dit sou egter ‘n lang pad wees om weer die volle waarheid van die Woord te herontdek.

5. Sardis: die dooie kerk

In die profetiese toepassing van hierdie brief dui die Sardis periode op die kerk van die Hervorming, wat in die 16de eeu sy beslag gekry het. Baie Christene slaan hierdie kerkperiode baie hoog aan, maar die Here doen dit nie. Hy sê vir Sardis: "Ek ken jou werke dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood" (Op. 3:1). Hulle het wél ‘n groot aantal uiterlike dwalings van Rome verwerp, maar geestelik was hulle steeds dood. Hierdie gemeente is nie as gevolg van afgodediens of kompromie met die wêreld verkwalik nie, maar weens hulle lewelose vormgodsdiens. ‘n Dooie kerk is vir die Here nét so verwerplik as ‘n valse of ‘n wêreldgelykvormige kerk. Voordat die lidmate nie waarlik weergebore en met die Here se Gees vervul is nie, is hulle nie deel van sy koninkryk nie en beteken vir Hom niks nie. Hulle is geestelik dood en het iets meer as net die reputasie en goeie naam van die stigters van die gemeente nodig gehad om uit God se oogpunt ‘n sukses te kon maak. Teologiese hervormings sonder ‘n gepaardgaande geestelike verootmoediging voor die Here, asook ‘n absolute toewyding tot heiligheid, lei nie na innerlike vernuwing en geestelike groei nie.

Baie van die geestelike dwalings wat in die voorafgaande duisend jaar hulle beslag gekry het, en onder meer deur die geskrifte van Augustinus gepopulariseer is, het die kerk van die Hervorming gekniehalter. In die herlewings van die 18de eeu is eers volledig van dié dwalings af weggebreek. Die geskiedenis bevestig die feit dat die hoofstroom van die kerk van die Hervorming in die 200 jaar van sy bestaan minder evangelisasiewerk gedoen het as wat gedurende slegs 20 jaar in die daaropvolgende Filadelfia tydperk gedoen is. Geestelik was daar dus nog steeds groot probleme.

6. Filadelfia: die evangeliserende kerk

“Filadelfia” beteken “broederliefde,” en juis dit was die dryfkrag agter die herlewingsdienste en wêreldsendingaksies wat tussen 1750 en 1900 onderneem is. Vervul met die Heilige Gees het manne in die geloof uitgegaan om as pioniers die lig van die evangelie na haas onbekende gebiede in Asië, Afrika, Suid-Amerika en die eilande uit te dra. Vir sy getroue gesante sê God: "Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie" (Op. 3:8).

Onder die geloofshelde van hierdie tyd, wat die wêreld deur hulle prediking vir Christus aan die brand gesteek het, is manne soos George Whitefield, John Wesley, Charles Finney, R.A. Torrey, D.L. Moody, Jonathan Edwards, Hudson Taylor, William Carey, Andrew Murray en vele ander.

Dit is opvallend dat dit slegs die evangeliserende kerk van Filadelfia en die martelaarskerk van Smirna is wat geen teregwysings weens afdwalinge van die Here ontvang nie. Die martelare van Smirna het aangehou om die ware evangelie te verkondig, en selfs in gevangenskap nie daarvan afgewyk nie. Die sterk punt van die Filadelfia gemeente was dat hulle die Here se Woord bewaar en sy naam nie verloën het nie. Hulle het ‘n duidelike standpunt ter ondersteuning van die foutloosheid en goddelike inspirasie van die Bybel ingeneem, en ook die naam van die Here Jesus geëer deur sy Godheid en maagdelike geboorte te bely. Die ware kerk van Christus verkry gestalte in getrouheid en selfverloënende diens te midde van die antagonisme en teëstand van 'n vyandige wêreld.

7. Laodicéa: die kerk van menseregte

Die naam “Laodicéa” beteken “Menseregte.” Die lou, selfvoldane en selfgesentreerde gemeente van Laodicéa is kenmerkend van die kerk van die 20ste en 21ste eeue en verteenwoordig die laaste periode in die kerkgeskiedenis. Soos in die vorige periodes, is daar nou ook elemente van al sewe die gemeentes aanwesig, maar die oorheersende kenmerk is dié van Laodicéa.

Tevrede met slegs 'n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan hulle voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van hulle geestelike armoede nie. Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Sy Naam word wél gebruik, maar daar eindig dit ook (vgl. Matt. 7:21-23). Van só 'n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is, onttrek die Here Jesus Homself. Hy sê ook duidelik waarom Hy dit doen: "Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie" (Op. 3:16-17; kyk ook 1 Tim 6:7-12).

Die Here Jesus distansieer Homself van hierdie soort oppervlakkige vormgodsdiens. Nogtans maak Hy steeds met die geestelik "arm en blinde" lidmate bemoeienis deur voor die 21ste eeu se kerkdeur (d.m.v. buitekerklike roepstemme) met hulle te praat en hulle tot bekering op te roep: "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My" (Op. 3:20). As gevolg van sy selfgesentreerdheid en ingesteldheid op wêreldse kwessies, is die eindtydse kerk geestelik bankrot en profeties uitsigloos. Die wegraping van die bruidsgemeente sal dus vir sy teoloë, leraars en lidmate as 'n geweldige skok kom wat nie sonder 'n diepgaande herwaardering van Bybelse feite verklaar sal kan word nie.

Op hierdie donker noot sluit die kerkbedeling af. Nadat die Here die ware kerk kom haal het, sal die meeste denominasies verder van die waarheid af wegdwaal en die valse christus aanhang. Hieruit sal die valse kerk van die verdrukking gebore word. Dit sal die vervulling van die Here se waarskuwing aan die gemeente in Thiatire wees, naamlik dat Hy hulle in die groot verdrukking sal werp as hulle hul nie bekeer nie (Op. 2:22). Vir sy getroue kinders sê die Here dat hulle moet vasstaan en geen kompromie maak nie: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Hulle sal in die vrederyk saam met Hom oor die aarde regeer. Ons is baie naby aan die dag wanneer die ware en valse maagde van die kerkbedeling skielik van mekaar geskei gaan word.