Program 93. Inleiding tot Openbaring

Hierdie Bybelboek se volle titel is: “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Op. 1:1). God openbaar sy toekomstige raadsplan deur Jesus Christus aan die apostel Johannes op die eiland Patmos, en deur hom aan die ganse kerk op aarde. Om die boek reg te kan verstaan, moet ons eers kyk hoedat Jesus Christus self aan ons geopenbaar word, en daarna die ander profesieë in die lig daarvan bestudeer. In hierdie boek word Hy in die volgende agt hoedanighede aan ons geopenbaar:

1.      Hy is die Skepper van die wêreld. Die eerste én laaste hoofstukke van Openbaring beskryf Jesus as die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Hy is die begin van die skepping van God. Dit sluit aan by wat Johannes vroeër reeds oor Hom geskryf het: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Aan die einde, wanneer die huidige hemel en aarde deur vuur sal vergaan, sal die Here Jesus ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Dit is die rede waarom Hy sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:5).

2.      Hy is die lydende Christus wat vir ons sonde gely en gesterf het. Hy word 26 keer in Openbaring die Lam genoem, met die uitdruklike bedoeling dat ons moet besef dat Hy vir die sondes van die hele wêreld geoffer is. Die ouderlinge in die hemel sê dat Hy geslag is en ons vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Op. 5:9). Wanneer Hy weer kom, sal elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het (Op. 1:7).

3.      Hy is die verrese Christus wat die dood oorwin en opgestaan het. Hy sê: “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid” (Op. 1:18). Hy stel Homself ook aan die martelaarsgemeente in Smirna voor as die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het (Op. 2:8). Ons aanbid ‘n lewende Christus wat die graf en die dood oorwin het, daarom verkry almal wat in Hom glo, die ewige lewe.

4.      Hy is die verheerlikte Christus wat ‘n lang kleed met ‘n goue gordel aan het. Hierdeur word sy hoëpriesterlike en koninklike rol weerspieël. Sy hare is wit soos wit wol, wat op sy wysheid dui, en sy oë soos ‘n vuurvlam wat deur alles kan sien. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge – Hy weet alles en ken selfs ons gedagtes van ver. Sy voete is soos gloeiende koper in ‘n oond en sy stem soos dié van baie waters. Sy aangesig blink soos die son wat skyn in sy krag (Op. 1:13-16). In sy heerlikheid is Hy ver bo sy skepping verhewe.

5.      Hy is die Regter van die kerk wat nou reeds deur die Heilige Gees in die midde van sy gemeente op aarde is om te waarsku, te lei, te bemoedig en te oordeel waar nodig. Elk van die sewe gemeentes kry ‘n boodskap van die Here Jesus waarin Hy sê: “Ek ken jou werke.” Hy sê dat Hy die afvallige en vormgodsdienstige gemeentelede wat nie op sy vermanings ag slaan nie, in ‘n groot verdrukking sal werp as hulle hul nie van hul werke bekeer nie (Op. 2:22). In die hemel sal Hy aan sy getroue diensknegte voor sy regterstoel loon in die vorm van krone toeken, daarom tref ons die ouderlinge in Openbaring 4 en 5 met goue krone op hulle hoofde aan – hulle het dan al reeds voor die Regter verskyn.

6.      Hy is die Regter van die wêreld wat in die sewe jaar lange tyd van verdrukking wat van Openbaring 6 tot 19 beskryf word, groot oordele oor ‘n sondige wêreld sal uitstort. Die sondaars sal vreesbevange uitroep: “Die groot dag van die Lam se toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:17). Hulle sal weet dat al hierdie dinge oor hulle kom omdat hulle die soenoffer van die Lam op Gólgota verwerp het. Die gevolge van die verwerping van die Here Jesus sal vir ewig afgryslik wees, want dit lei na die ewige dood. Ná sy vrederyk op aarde sal Hy by die eindoordeel die Regter van al die goddeloses wees.

7.      Hy is die hemelse Bruidegom wat ná die wegraping met sy bruidsgemeente verenig sal word sodat hulle in sy heerlikheid kan deel en saam met Hom regeer. Daar gaan dus ‘n huwelik in die hemel bevestig word, en ná die sewe jaar van verdrukking ‘n bruilofsfees op aarde. Openbaring 19:7 sê: “Die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”

8.      Hy is die Koning van die konings wat in Openbaring 19 terugkeer aarde toe om sy vyande te verdelg en, volgens Openbaring 20, sy duisendjarige vrederyk op aarde te vestig. In Handelinge 15:16-17 sê Hy dat Hy met sy wederkoms die vervalle troon van Dawid sal herstel, wat beteken dat Hy uit Jerusalem oor Israel én oor die hele wêreld sal regeer. Hy sal ook volgens Openbaring 21 en 22 as die Ewige Koning in die nuwe hemel en op die nuwe aarde regeer. Ewige heerlikheid sal daar heers en daar sal nooit weer enige ongeregtigheid, sonde of droefheid inkom wat dié heilige toestand kan besoedel nie.

Die dispensasionele aanbieding van Openbaring

Jesus Christus is die begin en die voleinding van alle dinge. Die eerste dispensasie ná die eerste koms van Jesus is die bedeling van die kerk, en dit is presies waar die boek Openbaring begin – by die verheerlikte Christus net ná sy hemelvaart. Die Heilige Gees is uitgestort en Jesus het deur sy Gees in die midde van sy gemeente op aarde gewandel.

Direk ná die kerkbedeling wat in Openbaring 2 en 3 beskryf word, kry ons in Openbaring 4:1 die uitdrukking: “Ná hierdie dinge…” Dit dui baie duidelik aan dat alle dinge wat van hierdie oomblik af bespreek word, ná die kerkdispensasie sal plaasvind. In die hemel sal Christus as Regter aan sy gemeente geopenbaar word, waar hulle voor sy regterstoel hulle genadeloon sal ontvang (vgl. 2 Kor. 5:10). Hierna tref ons die verheerlikte kerk in Openbaring 4-5 in die hemel aan. Op aarde sal die dispensasie van die Antichris se sewe jaar lange regering aanbreek. Gedurende die sewe jaar van verdrukking sal die Here Jesus as Regter God se oordele oor die wêreld voltrek.

Ná die regering van die Antichris sal Christus terugkeer aarde toe, die Antichris en sy meelopers verdelg, en dan die bedeling van God se geopenbaarde koninkryk op aarde vestig (Op. 20:1-6). In die Onse Vader-gebed is ons geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom…” Hierdie koninkryk wat tans verborge is, sal met die wederkoms sigbaar geopenbaar word (Op. 11:15).

Ná die duisendjarige vrederyk sal die laaste bedeling van volmaakte geluk vir die regverdiges op die nuwe aarde en in die nuwe hemel aanbreek (Op. 21:7), asook die ewige straf vir die goddeloses in die poel van vuur (Op. 21:8). Hierdie bedeling sal ewigdurend wees.

Johannes gee in die eerste hoofstuk van sy boek aan ons ‘n duidelike aanduiding dat ons die beskrywing chronologies en dispensasioneel moet verstaan. Hy het die duidelike opdrag gekry: “Skryf die dinge op wat jy gesien het, die dinge wat is sowel as die wat gaan gebeur” (Op. 1:19). “Die dinge wat hy gesien het,” is die verheerlikte Christus aan die begin van die kerkbedeling. “Die dinge wat is,” dui op die kerkbedeling waarin Johannes in die jaar 95 was toe hy die visioene ontvang het. Hierdie bedeling sal tot met die wegvoering van die gemeente voortduur. “Die dinge wat gaan gebeur,” is alles wat ná die wegraping sal plaasvind. Dit sluit die verdrukking, die vrederyk én die skepping van die nuwe hemel en aarde ná die vrederyk in.

Daar moet verder ook in ‘n studie van hierdie boek daarop gelet word dat dit nie net Jesus Christus en sy hemelse koninkryk is wat geopenbaar word nie, maar ook die Antichris en sy koninkryk van geestelike duisternis. Die valse profeet, asook die valse, ekumeniese wêreldgodsdiens (die moeder van die hoere) is deel van die verborgenheid van die Antichris wat geopenbaar gaan word. Die Antichris word as ‘n dier met sewe koppe beskryf, terwyl die valse godsdiens­organisasie as ‘n ontugtige vrou op sy rug voorgestel word. Die engel het vir Johannes gesê: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel, en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra” (Op. 17:7).

Israel in die verdrukking

‘n Verdere perspektief in verband met Openbaring wat baie goed begryp moet word, is die rol wat Israel in hierdie gebeurtenisse vervul. Oor die sigbare verskyning van Christus sê Johannes: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf” (Op. 1:7).

Israel is die volk wat vir Jesus tydens sy eerste koms verwerp en op sy kruisiging aangedring het. Hulle sal dus in hulle land terug wees wanneer die Here Jesus terugkeer aarde toe, na dieselfde plek vanwaar Hy na die hemel opgevaar het – op die Olyfberg, net oos van die tempelberg in Jerusalem. Die profeet Sagaria het oor die Messias se koms in mag en heerlikheid gesê: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Die wederkomstoneel wat in Openbaring 19 beskryf word, sal dus in en om Jerusalem afspeel.

Op daardie dag sal die oorblyfsel van al die volke rou bedryf oor die feit dat hulle Jesus verwerp het, en dan met smeekbede en die belydenis van hulle sonde en rebellie voor Hom neerbuig. Onder hulle sal die hele oorblyfsel van Israel wees. Sagaria sê dat die Jode sal opsien na Hom vir hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun, en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind (Sag. 12:10).

In Openbaring 11:1-2 word na die tempel in Jerusalem verwys. In die jaar 95 toe Johannes hierdie visioene opgeteken het, was die tweede tempel in Jerusalem (die tempel van Herodes) reeds 25 jaar tevore deur die Romeine in puin gelê. Die tempel van Openbaring 11 kan dus slegs na ‘n toekomstige herboude tempel in Jerusalem verwys. In die derde tempel sal die Antichris homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4), en in hierdie tempel sal ook die afgodsbeeld van hom waarna Openbaring 13:14-15 verwys, opgerig word.

In Openbaring 12 is ook ‘n belangrike verwysing na Israel. Die beeld van ‘n getroude vrou met ‘n kind word hier gebruik, wat onteenseglik op Israel dui. Van haar manlike Kind word gesê dat Hy al die nasies met ‘n ystersepter sal regeer, en dat Hy weggeruk is na God en sy troon. Dit dui op die Here Jesus wat na die hemel opgevaar het, en aan die einde van hierdie bedeling sal terugkom om die nasies in die vrederyk te regeer. Sy moeder na die vlees is die volk Israel uit wie Hy gebore is. Christus is nie uit die kerk gebore nie, maar wél uit Israel. Romeine 9:5 bevestig die feit dat Israel ‘n volk is uit wie ‘n God gebore is. In Openbaring 12:13-14 word gesê dat die nakomelinge van hierdie vrou (die eindtydse Jode) vir 3½ jaar na die woestyn sal vlug waar die Here hulle van uitwissing sal red en tot aan die einde van die groot verdrukking sal onderhou.

Hoe moet hierdie boek verstaan word?

Die volgende vaste feite blyk uit Openbaring self, en moet in die bestudering en vertolking van hierdie belangrike profetiese boek in ag geneem en toegepas word:

·         Die kerkbedeling eindig by Openbaring 3, so ook die gebruik van die uitdrukking: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (vgl. Op. 3:22). Hierna spreek die Gees wél gelowiges in Israel én die nasies aan, maar nooit in gemeenteverband nie (vgl. Op. 14:13). Die ware kerk wat misterieus aan die einde van Openbaring 3 op aarde verdwyn, verskyn in sy verheerlikte gedaante in Openbaring 4 in die hemel.

·         Al die gebeurtenisse wat van Openbaring 6 tot 19 beskryf word, gebeur streng binne ‘n raamwerk van sewe jaar. Die twee helftes van hierdie jaarweek het elk 42 maande of 1260 dae (Op. 11:2-3, 13:5; vgl ook Dan. 9:27 en 12:11). Dit is dus ‘n tydperk wat duidelik geïdentifiseer is en onder geen omstandighede simbolies verklaar kan word nie.

·         Die Antichris en valse profeet verwys nie na abstrakte, simboliese begrippe nie, maar sal lewende persone wees wat op die dag van die wederkoms in die poel van vuur gewerp sal word (Op. 19:19-20). ‘n Onpersoonlike stelsel kan nie in die hel gegooi word nie.

·         In Openbaring 19, waar die wederkoms van Jesus beskryf word, maak die kerk weer sy verskyning saam met Christus op aarde (Op. 19:7-8). Dit is ‘n bevestiging van Kolossense 3:4 en Sagaria 14:5. Daar is geen sprake dat gelowiges nou soos konings saam met die Here Jesus oor die aarde regeer nie, want hulle is vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld.

·         Die duisendjarige vrederyk wat in Openbaring 20 beskryf word, kan eers ná die wederkoms van Christus aanbreek, want dan eers sal Satan vir ‘n duisend jaar in ‘n put gebind word. Op die oomblik loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8).

Wanneer die struktuur en samestelling van Openbaring in ag geneem word, is hierdie boek verstaanbaar en logies. Dit is nie ‘n verborgenheid nie, maar ‘n Openbaring. Die boek se eie uitspraak dat die getuienis van Jesus die gees van die profesie is (Op. 19:10), bevestig die sentrale rol wat Jesus Christus daarin speel. Die lotgevalle van mense, in seën én in oordeel, staan in ‘n direkte verband met hulle verhouding teenoor Christus. Dit geld vir alle mense op aarde – Hy is óf die Redder van jou siel, of Hy sal die Regter van jou siel wees wat jou weens jou sonde en ongeloof tot die ewige poel van vuur sal veroordeel. Ons is nou nog in genadetyd en kan van die duisternis af oorkom na die Here se wonderbare die lig. Dan sal Jesus Christus nie vir ons tot ‘n val wees nie, maar tot ‘n opstanding in ‘n nuwe lewe.

Die nuwe hemel en nuwe aarde wat in Openbaring 21 en 22 beskryf word, asook die ewige poel van vuur in Openbaring 21:8, dui die finale bestemming van alle mense aan – sowel diegene wat hulle op die Here se smal weg bevind het as diegene op Satan se breë weg.

Jesus Christus is die poort na die ewige heerlikheid wat Hy gaan berei het vir dié wat Hom liefhet. Hy is die Een wat almal gaan oordeel wat sy reddende genade verwerp het omdat hulle die pad van die sonde bó Hom verkies het. Mense gaan aan die mag van die Antichris oorgegee word omdat hulle nie die gesag en koningskap van die ware Christus in hulle lewe aanvaar het nie. Die Here Jesus gaan ook terugkom om die troon van Dawid in Jerusalem te herstel en sy koningskap sigbaar op aarde te vestig. Voor Hom sal elke knie buig en elke tong bely dat Hy die Here is!

Johannes was in die Gees op die dag van die Here. Hy het met profetiese vleuels van verrukking opgestyg en oor ongebore eeue gereis om die ontvouing van God se plan in die ontsagwekkende gebeure van die groot en verskriklike dag van die Here te aanskou. Die dag van die Here is ‘n tydperk van ‘n duisend jaar waarin die Here Jesus Homself op ‘n baie besondere wyse aan die hele mensdom gaan openbaar:

·       By die regterstoel van Christus gaan Hy Homself net ná die wegraping aan sy diensknegte [die ware kerk] openbaar om aan hulle hul loon te gee. Paulus het uitgesien na die krone wat die Here, die regverdige Regter, hom in dié dag [van die Here] sal gee (2 Tim. 4:8).

·       In die sewe jaar lange verdrukking gaan die Here Jesus die seëls van God se oordele oor ‘n onboetvaardige wêreld breek. Die kragte van die hemele sal geskud word.

·       By sy wederkoms ná die groot verdrukking sal Hy as Koning van die konings geopenbaar word en sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig.

·       Aan die einde van die vrederyk sal Hy die Regter van die goddeloses wees wat in die tweede opstanding opgewek sal word om voor die groot wit troon te verskyn.

·       Hierna sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep waarin geregtigheid sal woon.

Ongelukkig beskou baie mense Openbaring as ‘n geslote, simboliese boek en doen nie moeite om dit te bestudeer en te verstaan nie. Hulle raai ander mense selfs daarvan af om die profesieë intensief te ondersoek. Daardeur doen hulle iets waarteen die Here ons juis waarsku: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby” (Op. 22:10).

Die Here beloof ‘n spesiale seën aan almal wat die profesieë van Openbaring bewaar (Op. 1:3; 22:7). Die beloftes en waarskuwings in die boek moet ter harte geneem word. Die vervulling van Bybelse profesieë sal aan ons insig in en die regte ingesteldheid teenoor ons tydsomstandighede verleen. Ons sal kan sien hoedat strukture vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie geskep word, en ook begryp dat ons as sy teëhouers alles moontlik moet doen om die goddelose hervormings en godsdienstige kompromie van ons tyd te verwerp. As ons dit nie doen nie, sal ons as oningeligte passifiste deur die krag van die dwaling meegesleur word om ook saam aan die Babiloniese samelewingsorde van die eindtyd te bou.

Die Here roep al sy kinders tot gereedheid op deur ‘n nuwe oorgawe aan Hom: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).