Program 8: Profetiese Futurisme

Profesieë oor die Antichris en groot verdrukking moet nie histories verklaar word nie, maar futuristies. Ten spyte van die opbouende militêre konflik in die Midde-Ooste, is daar baie mense wat steeds beweer dat die groot verdrukking iewers in historiese tye plaasgevind het. Hulle huldig die onbybelse siening dat ons nou op ‘n utopia afstuur, en dat die wêreld gevolglik nie op die vooraand van die openbaring van die Antichris is nie.

Die meeste kerke en Christelike organisasies het as gevolg van die historiese interpretasie van Bybelse profesieë oor die eindtyd, geen duidelike toekomsverwagting nie. Hulle meen dat ons iewers in die vroeëre of latere kerkgeskiedenis na die Antichris en die groot verdrukking moet soek. Sommiges van hulle beweer dat die verdrukking in die eerste eeu tydens die bewind van keiser Nero [as die Antichris] plaasgevind en op die vernietiging van Jerusalem in die jaar 70 n.C. uitgeloop het. Ander beweer dat die donker Middeleeue die groot verdrukking was, en dat die rol van die Antichris deur verskeie van die pouse vervul is. Dan is daar ook diegene wat Wêreldoorlog II as die groot verdrukking sien, en Hitler as die Antichris. Al hierdie sienings is egter hoogs subjektief en situasiegebonde omdat elke groep vir hulleself ‘n antichristelike diktator [bv. Nero, die pous of Hitler] uitsonder en dan al die profesieë oor die Antichris aan hom toeskryf.

Die historiese skool maak ook die wederkoms van Christus van die groot verdrukking los, terwyl dit uit die Bybel duidelik is dat Christus se sigbare verskyning op die Olyfberg op die laaste dag van die groot verdrukking sal plaasvind: “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn…” (Matt. 24:29-30).

Op daardie dag sal die Antichris en die valse profeet lewende persone wees. Die Antichris sal volgens 2 Thessalonicense 2:8 deur die verskyning van Christus se wederkoms verdelg word. Volgens Openbaring 19:20 sal hy sal saam met die valse profeet lewendig in die vuurpoel gegooi word (Op. 19:20). Johannes sê: “En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat… [die mense] verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swael brand.” Die Antichris is dus nie ‘n historiese persoon iewers uit die kerkbedeling nie, maar baie duidelik ‘n eindtydse wêreldleier.

Die historiese siening van Bybelse profesieë sal nou aan ‘n skriftoets onderwerp word. Hieruit sal dit blyk dat die komende verdrukking van sewe jaar ‘n goed ontwikkelde tema in Bybelse profesieë is, wat nie met Wêreldoorlog II of enige vroeër tydperk in die geskiedenis van die mensdom gelykgestel kan word nie. Die volgende sewe Bybelse redes kan ten gunste van ‘n toekomstige verdrukking en regering deur die Antichris aangevoer word:

1. Die herstel van Israel

Israel moet na hulle land terugkeer voordat die eindtydse handelinge van God met hulle as volk kan begin: “Daarom, sê vir die huis van Israel… Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in julle land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig” (Eseg. 36:22, 24-25). Uit hierdie verse is dit duidelik dat Israel in ongeloof uit hulle internasionale verstrooiing herstel sal word. Terug in hulle land, sal hulle dan vir een jaarweek ‘n verbond met die valse messias sluit. Israel is eers in 1948 staatkundig in hulle land herstel en kan dus eers ná hierdie datum ‘n verbond met die valse messias sluit. Dusver het dit nog nie gebeur nie.

2. Die wegraping en die dag van die Here

‘n Ander voorwaarde vir die begin van die verdrukking is die wegraping. De kerkbedeling sal formeel deur die wegraping beëindig en deur die bedeling van die Antichris se regering op aarde gevolg word. Volgens 2 Thessalonicense 2:6-8 moet die teëhouer teen die Antichris se verskyning – dit is die kerk as die tempel van die Heilige Gees – eers uit die weg geruim word voordat die ongeregtige geopenbaar kan word. Die sewe jaar-tydperk wat direk ná die wegraping sal aanbreek, vorm ook deel van die dag van die Here wanneer Hy as Regter aan die wêreld geopenbaar sal word. God sal sy toorn oor die bose en onbekeerlike nasies uitstort, waaronder ook die herstelde Israel. Daar is geen plek vir die ware kerk in hierdie tyd van oordeel nie, want daar is “geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). “God het ons nie bestem tot toorn nie” (1 Thess. 5:9). Soos in die tyd van Noag en Lot, sal die Here eers die gelowiges uit die rampgebied van goddelike oordele wegneem.

3. Die 144 000 geredde Jode

Die redding van 144 000 spesiale diensknegte van God uit die twaalf stamme van Israel (Op. 7:3-8) is ‘n onweerlegbare bewys dat hulle nie deel van die kerkbedeling vorm nie, maar van die toekomstige 70ste jaarweek van Daniël. Gedurende die kerkbedeling word geredde Jode deel van die kerk, wat die liggaam van Christus onder alle nasies is (Gal. 3:27-28; Kol. 3:11). Ná die beëindiging van die kerkbedeling sal Israel se nasionale geestelike herstel in die sewe jaar tydperk van Daniël 9:27 begin. Geredde Jode sal dan uitdruklik as lede van ‘n bepaalde stam van Israel geïdentifiseer word. Hulle sal die eerste groep in die geestelike herlewing van Israel wees. Ons is steeds in die kerkbedeling, daarom is hierdie besondere Joodse herlewing nog toekomstig.

4. Fokus op Jerusalem

Die komende groot verdrukking sal ‘n wêreldwye verskynsel wees (Luk. 21:25-26), maar een van sy fokusgebiede sal die Midde-Ooste wees en, spesifiek, die stad Jerusalem. Gedurende die tyd van die benoudheid van Jakob sal die geestelik verblinde volk van Israel aan hewige verdrukking onderwerp word, sodat ‘n oorblyfsel van die volk gered kan word. Die Bybel verwys uitdruklik na hierdie tyd van beproewing en loutering in Jerusalem en omstreke:

“…die huis van Israel het vir My skuim geword… Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:18-22).

Aangesien Bybelse Jerusalem [die Ou Stad] eers in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 deur Israel verower is en in Augustus 1980 tot Israel se hoofstad verklaar is, is dit duidelik dat die bogenoemde profesieë van Eségiël slegs ná hierdie datums vervul kan word.

5. Verbond met die Antichris

Israel sal vir een jaarweek ‘n verbond met die valse messias sluit. Hierdie verbond sal egter net vir 3½ jaar lank hou, tot in die middel van die week. Die Here Jesus het hulle teen hierdie ernstige oordeelsfout gewaarsku toe Hy gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In die middel van die week sal die Antichris in ‘n sluipmoordaanval sterf, maar hy sal deur sataniese magte uit die dood opgewek word (Op. 13:3, 12). Hy sal ‘n beeld van homself in die herboude tempel laat oprig, en die doodstraf aankondig oor alle mense wat weier om hom as God te aanbid. Niks wat selfs eers vaagweg met Israel se toekomstige verbond met die Antichris ooreenstem, of met die Antichris se optrede in die tweede helfte van die jaarweek, het gedurende Wêreldoorlog II, of in enige ander tydperk in die geskiedenis, gebeur nie.

6. Herbouing van die tempel

Die eerste helfte van die verdrukking sal ook deur die herbouing van die tempel in Jerusalem gekenmerk word. Daar is verskeie verwysings in die Bybel na die bou van die derde tempel wat deur die Antichris ontheilig sal word. Daniël 9:27 sê dat in die middel van die week [die sewe jaar van die verdrukking] sal die Antichris “slagoffer en spysoffer laat ophou.” Daniël 11:31 sê die magte van die Antichris sal “die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” Daarna sal net die aanbidding van die Antichris as God toegelaat word. Die Here Jesus het teen hierdie bose sameswering gewaarsku toe Hy gesê het: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan sal daar groot verdrukking wees” (Matt. 24:15, 21).

Paulus het na dieselfde scenario verwys toe hy die Antichris beskryf het as “die mens van sonde… die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Openbaring 11:1-2 sê dat die herboude tempel vir 42 maande [dit is 3½ jaar lank] deur die heidene vertrap sal word. Die derde tempel word hierdeur duidelik binne die raamwerk van Daniël se 70ste jaarweek geplaas. Ná die ontheiliging daarvan sal die tempel vir die oorblywende 3½ jaar tot by die wederkoms van Jesus misbruik en vertrap word. Hierdie getuienis alleen weerlê enige teorie dat Wêreldoorlog II en die vervolging van die Jode deur Hitler se Nazi-magte die groot verdrukking vir Israel was. Sedert die vernietiging van die tweede tempel in 70 n.C. is die Joodse tempel in Jerusalem nog nooit weer herbou nie.

7. Vlug na die woestyn

Wanneer die Antichris homself in die tempel tot God verklaar en Israel weier om hom in hierdie hoedanigheid te aanbid, sal hy die agtervolging en uitwissing van alle Jode gelas wat na die berge van Judéa wegvlug. Hulle sal dan na die woestyn vlug [waarskynlik na Petra in die Negev woestyn, suid van die Dooie See] waar hulle “uit die gesig van die slang onderhou [sal] word, ‘n tyd [een jaar] en tye [twee jaar] en ‘n halwe tyd [ses maande; dit is altesame drie jaar en ses maande]” (Op. 12:14). Gedurende hierdie laaste 3½ jaar, waarna as die groot verdrukking verwys word, sal die Here ‘n oorblyfsel van Israel beskerm en versorg om tot met die koms van die Messias op die Olyfberg aan die lewe te bly (Sag. 14:4-5). Hierdie tyd van ontvlugting na die woestyn is duidelik die laaste 3½ jaar voor die koms van Christus, en is beslis nog toekomstig.

‘n Mens verloor onteenseglik Bybelse perspektief indien die profesieë histories verklaar word en jy nie ‘n verstaanbare en goed omskrewe toekomsverwagting het nie. Die volgende is twee van die implikasies van die historiese vertolking van die profetiese woord:

Dit ondermyn die gesag van die Skrif

Wanneer duidelik gedefinieerde Bybelse profesieë oor die eindtyd histories vertolk word, word mense verplig om die betrokke profesieë tot ‘n groot mate simbolies te verklaar. Die rede hiervoor is dat verskeie besonderhede van die betrokke profesieë nie in die historiese konteks waarin dit geforseer word, inpas nie. In plaas daarvan dat sulke mense hulle eie vertolkings bevraagteken, neem hulle dan hulle toevlug tot vergeesteliking en sê dat ons nie die profesieë letterlik moet opneem nie. Sodoende word Openbaring en ander profetiese gedeeltes simbolies verklaar en van hulle letterlike betekenis beroof. Die gevolg is dat skrifgesag in die algemeen afgetakel word. Indien die profesieë nie ‘n letterlike betekenis het nie, waarom moet ander gedeeltes dan letterlik opgeneem word? Lang, ingewikkelde en teenstrydige verklarings word deur historiste aangebied om te probeer bewys dat die duiwel reeds aan die begin van die kerkbedeling gebind is en dat ons nou, vir byna 2000 jaar al,  in die duisendjarige vrederyk leef. Dit alles is onnodig as ons maar net wil aanvaar dat die duiwel volgens Openbaring 19 en 20 eers ná die wederkoms van Jesus Christus gebind sal word. Dan sal die sewende duisend jaar van heilsgeskiedenis aanbreek.

Dit bevorder koninkryksteologie

Persone wat geneig is om die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar met die kerkbedeling te integreer, vertoon geen dispensasionele onderskeidingsvermoë nie. Hulle trap dikwels ook in die strik om die komende koninkryksbedeling van die duisendjarige vrederyk met die huidige kerkbedeling te versoen. Dit lei tot pogings om nóú, voor die wederkoms, koninkrykstoestande op aarde te skep. Hulle wil nie meer vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld wees nie, maar absolute heerskappy voer en as konings regeer. Hulle eis ook die mag op om die duiwel te bind en hom selfs uit stede en hele lande te verdryf. Hulle wil ryk en voorspoedig wees, en na willekeur tekens en wonders doen terwyl hulle oor hul erfdeel op aarde regeer.

Evangeliese, chiliastiese Christene verwerp die historiese verklaring van profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking omdat dit in stryd met die duidelike, eskatologiese aard van die betrokke profesieë is. Watter reg het ons om profesieë oor ‘n eindtydse wêreldleier, wat as ‘n lewende persoon deur Christus by sy wederkoms verdelg sal word, te vergeestelik of iewers na die verlede terug te skuif sodat dit ons nie meer aanspreek nie? Wanneer profesieë in die Bybel ‘n logiese en voor-die-hand-liggende betekenis het – soos bv. dat Israel in hulle land herstel sal word en dat daar ‘n Antichris oor die wêreld sal regeer – het ons géén reg om dit te vergeestelik nie. Ons wil dit ook nie doen nie, want al hierdie dinge is duidelike tekens dat die koms van die hemelse Bruidegom vir sy bruidsgemeente voor die deur is.