Program 75: Die Godheid van die Here Jesus (3)

Dit is van die uiterste belang om die godheid van die Here Jesus te erken en te bely, want as gevolg daarvan kon Hy as die sondeloos volmaakte Lam van God op aarde as ‘n mens gebore word om die enigste aanvaarbare prys vir ons sonde te betaal. Geen sterflike mens wat in sonde ontvang en gebore is, kan die losprys wat God vereis, vir ander sondige mense betaal nie. Dit móét ‘n volmaakte offer wees. Die Here Jesus het hierdie volmaakte offer gebring, en ná sy hemelvaart leef Hy net om as ons Middelaar en Hoëpriester by die Vader vir ons in te tree: “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het” (Heb. 7:25-27). Hy het Homself eenmalig aan die kruis op Gólgota vir die sondes van die hele wêreld geoffer, daarom kon Johannes die Doper Hom só aan Insrael voorstel: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29).

Daar is geen losprys wat ons vir die sonde van onsself óf ander mense aan God kan bied buiten die volmaakte offer van die Lam nie. Psalm 49:7-10 sê dat nie een mens op grond van sy rykdom ooit ‘n broer kan loskoop dat hy vir ewig sou voortlewe en vernietiging in die hel nie sou sien nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie, want die losprys van sy lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend. Die Living Bible parafraseer hierdie gedeelte só: “They trust in their wealth  and boast about how rich they are, yet not one of them, though rich as kings, can ransom his own brother from the penalty of sin! For God’s forgiveness does not come that way. For a soul is far too precious to be ransomed by mere eathly wealth. There is not enough of it in all the earth to buy eternal life for just one soul, to keep it out of hell.” Net God wat mens geword het, kon die hoë prys vir ons sonde betaal het.

Die verwerping van Jesus se Godheid

Daar is ongelukkig baie mense wat nie die godheid en genadewerk van die Here Jesus verstaan nie, en dit gevolglik tot hulle eie ondergang verwerp. Die Joodse volksleiers het baie duidelik van Jesus se aanspraak kennis geneem dat Hy en die Vader gelyk is, maar het dit verwerp. Hulle het die Vader nie regtig geken nie, al het hulle ook gedink hulle ken Hom, en hierdie onkunde het tot hulle aanmatigende gedrag, selfregverdiging en geestelike verdorwenheid gelei. Die kennis van die Drie-enige God is deur ‘n mensgemaakte teologie en Joodse godsdienstige tradisies vervang. Jesus het vir hulle gesê: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:9). Dit was vir hulle belangriker wat ander rabbi’s gesê het as wat in die Woord van God staan.

Die godsdienstige verblinding wat deur onkunde en mensgemaakte gebooie oor die Jode gekom het, was só erg dat hulle die Messias wat van die Vader af uitgegaan het, verwerp en onskuldig ter dood veroordeel het. Hulle teologie was só ver van die waarheid af verwyder dat hulle glad nie vir Jesus binne daardie raamwerk as die beloofde Messias kon aanvaar nie. Hulle kon Hom nie eers uit die profetiese woord as die Messias herken nie, en daarom het hulle effektief die poort tot die koninkryk van die hemel vir die volk toegesluit. Jesus het vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemel toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Matt. 23:13).

Dit was omdat hulle die Drie-enige God (Elohim) nie geken het nie, dat hulle nie binne die verband van hulle tradisionele godsbegrip vir Jesus as Messias kon aanvaar nie. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. En julle ken Hom nie… maar Ek ken Hom en bewaar sy woord” (Joh. 8:54-55). Die Joodse leiers het God se Woord nie bewaar nie, en Jesus het hulle daaroor verwyt: “Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie” (Joh. 8:47). Tot hulle skok moes hulle by Jesus hoor dat hulle eintlik die duiwel as vader het (Joh. 8:44). Dit kon verwag word dat die Joodse leiers vir Jesus sou verwerp, omdat Hy die vleesgeworde Woord is wat getuig het van die Vader wat nie deur hulle geken word nie.

Die ongelowige Jode het vir Jesus gesê dat die groot beswaar teen Hom die feit is dat Hy wat ‘n mens was, Homself God gemaak het: “Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak” (Joh. 10:31-33). Waarom het hierdie ortodokse Jode nie vir Jesaja geglo wat vir hulle gesê het dat God binne die verband van die Joodse volk mens sou word nie? “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors” (Jes. 9:5). Hierdie Kind wat gebore is, was Immánuel – God met ons.

Die ongeredde, ortodokse Jode was só erg in hulle verwerping van Jesus dat hulle mense wat Hom as die Messias bely het, uit die sinagoges geban het (Joh. 9:22). Jesus het sy dissipels ook teen hierdie vervolging wat uit ‘n gebrek aan kennis van God voortspruit, gewaarsku: “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie” (Joh. 16:2-3). Dit is die bittere, antichristelike gevolge wat intree as mense nie waarlik vir God die Vader en sy Seun ken nie.

Ons leef in die eindtyd, pas voor die openbaring van die Antichris en die wederkoms van Christus. Voordat Satan en sy trawante wêreldwyd aanvaar kan word, sal hulle poog om die kennis van die Drie-enige God en sy Woord in die grootste kringe van menslike samelewings te laat verdwyn. Hulle doelwit is dat regerings nie Christelike grondwette moet hê nie, maar multigodsdienstige grondwette waarin alle gelowe erken word. Christelike onderwys moet heeltemal uitgefaseer word sodat die jong geslag sonder die kennis van die Bybel kan opgroei en dus maklike slagoffers van die valse, kosmiese christus van alle gelowe kan wees. Om hierdie rede word die waarheid van die Bybel deur afvallige teoloë bevraagteken, wat dieselfde multigodsdienstige motiewe het.

Soos wat baie kerkvaders in die vroeë eeue die knie voor die afgod van die Griekse filosofie van Plato gebuig het, is daar ook baie moderne teoloë wat in geestelike sake eerder deur die wysbegeerte, sielkunde, natuurwetenskappe en die nie-Christelike gelowe as deur die Bybel gelei word. Hulle verhef die rede bo geloof en aanbid die humanistiese wetenskappe. Die belangrikste oogmerk van sulke vervalle teoloë is die verwerping van die Here Jesus se godheid, sy uniekheid en verhewenheid bo die valse gode van die nasies, die heilsbetekenis van sy kruisdood, die waarheid van sy Woord en die werklikheid van die hemel en die hel.

As gevolg van die wye aanvaarding van hierdie en ander dwalings is daar ‘n groot en wêreldwye proses van geestelike verval aan die gang, sodat die leuens van Satan in die plek van die waarheid van God se Woord bevorder en verkondig kan word: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Valse profete wat hulleself in ‘n Christelike gewaad tooi, verkondig die mees vergesogte drogredes van Satan (2 Kor. 11:13-15), en probeer ook om wetenskaplike en “teologiese” geloofwaardigheid daaraan te verleen.

Ons leef baie duidelik nou in die tyd van intensiewe blootstelling aan duiwelse leerstellings, en sal as ‘n saak van groot erns moet seker maak dat die ware kennis van God nie in ons eie lewens en dié van ons kinders ‘n verdwynende verskynsel word nie. Ons sal geen verskoning hê as ons deur dwaalleraars mislei word nie, want ons hét die openbaring van die Drie-enige God en sy verslossingsplan vir ‘n verlore mensdom in die Bybel. Ons moet dit net glo, bely, verdedig en uitleef, al het die wêreld ook sy rug daarop gedraai. Jesus Christus word steeds openlik versmaai en verloën, en wie is bereid om buitekant die laer van teologiese belangegroepe na Hom toe te gaan en sy smaad te dra? (Heb. 13:13).

Die herbevestiging van Jesus se godheid

Dit is uit die Bybel baie duidelik dat daar drie ewige, gelyke en mede-selfbestaande Persone in die Godheid is: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Met sy inkarnasie as Seun van God en Seun van die mens het die Woord, wat self ook God is, in wonderbare, neerbuigende liefde Homself verneder om die gestalte van ‘n mens aan te neem en sodoende sy amp as Seun en Lam van God te vervul. In sy vernedering het Hy gehoorsaam geword tot die dood toe, ja die dood van die kruis (Fil. 2:6-8).

Die groot dwaling dat die ewige Woord, wat self die Skepper van die wêreld is, ‘n geskape wese is wat ’n trappie laer as God die Vader is, is deur Origenes, Arius en ander kerkvaders verkondig. Hierdie dwaling lê aan die wortel van verdere pogings om Jesus van sy godheid en ewige selfbestaan te ontneem en van Hom ‘n “ander Jesus” te maak wat niks meer as ‘n gewone mens met goddelike eienskappe is nie. Só ‘n persoon, wat nie uit die hemel neergedaal en deur die beskikking van God die Vader maagdelik gebore is nie, sou, soos alle ander mense, met ‘n sondige natuur gebore word. Hy sou beslis nie as die vlekkelose en volmaakte Lam van God beskryf kon word wat die sonde van die wêreld op Homself geneem het en nou as Hoëpriester en Middelaar vir ons intree nie (Heb. 7:24-26; 1 Pet. 1:18-19).

Al het Jesus die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem toe Hy sy amp as Seun aanvaar het, het Hy nie van sy essensiële godheid afstand gedoen nie – daarom kon Hy Homself uitdruklik as die ewige EK Is beskryf (Joh. 8:24,28,58). Hierdeur word sy tydlose selfbestaan en eenheid met die ewige Ek Is van die Ou Testament bevestig. As gevolg van hierdie eenheidsverband kan net Hy ons red. In die Ou Testament het Jahweh, die God van Israel en die groot Ek Is, dikwels gesê: “Ek, Ek is die Here, en daar is geen Heiland [Verlosser] buiten My nie” (Jes. 43:11; vgl. Hos. 13:4). Dit is een van die drie Persone van hierdie grote God wat mens geword het. As iemand dít nie glo nie, sal hy in sy sondes sterf (Joh. 8:24).

Voor die uitstorting van die Heilige Gees wat ons in die hele waarheid sou lei (Joh. 16:13), en ook voor die verdere openbarings in Paulus, Petrus en ander apostels se briewe wat in die Nuwe Testament opgeneem is, het selfs Jesus se eie dissipels nie eers geweet wie Hy werklik was nie. Op grond van ‘n spesiale openbaring deur die Vader kon Petrus wél sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:16). Die dissipels het egter aanvanklik nie begryp dat Hy Jahweh Elohim (die Here God) is wat die aarde en alles daarin geskape het, dat Hy steeds sy skeppingswerk onderhou, en dat selfs die wind en die see hulle volgens sy bevel moet skik nie. Toe Hy die storm op die see stilgemaak het, het hulle gesê: “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en see Hom gehoorsaam is!” (Mark. 4:41).

Die probleem is dat hulle toe nog nie geweet het dat Hy en die Vader dieselfde, Drie-enige God is nie. Jesus het vir hulle gesê: “As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?” (Joh. 14:7-10). Daar is steeds teoloë wat ten spyte van al die openbarings weier om die Here Jesus se godheid te erken. Hulle hou aan die mensdom ‘n historiese Jesus voor wat net ‘n gewone mens was. Vir hulle sê Jesus ook dat hulle in hul sondes sal sterf as hulle Hom nie as die wige Ek Is aanvaar nie.

Nadat Jesus verheerlik en die Heilige Gees uitgestort is, is dit uitdruklik verkondig en bely dat Hy Here en God is. In sy brief skryf Petrus van “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1). Johannes sê: “Ons is in die Waaragtige... Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus laat ook nie na om Hom as die Here Jesus te beskryf nie (Ef. 1:15). Ons behoort nie net van Jesus te praat sonder om sy eienaam aan sy Godheid te koppel (Here Jesus) of aan sy ampsnaam (Jesus Christus) of selfs aan albei nie (Here Jesus Christus).

As gevolg van die groot aanslag op die maagdelike geboorte en die godheid van die Here Jesus, moet ons Hom uitdruklik as God of Here aanbid en verkondig. Ons moet sy hoog verhewe Naam as Here (Jahweh) gebruik, want: “God (het) Hom uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:9-11).

Wanneer die Seun weer kom, kom Hy nie as ’n nederige dienskneg nie, maar in mag en majesteit as Here van die here en Koning van die konings (Op. 17:14). Sagaria skryf oor sy wederkoms: “Dan sal die Here my God [Jahweh my Elohim] kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:5). Oor hierdie glansryke openbaring van Hom skryf Johannes: “Hy word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self… en sy Naam is: Die Woord van God” (Op. 19:11-13).

Ons is duidelik in die eindtyd en moet onsself vir die wederkoms van die Here Jesus gereed maak. Ken en eer ons Hom werklik in al sy goddelike hoedanighede? Kan enigiets belangriker as die herstel van ‘n verhewe siening en waarlik Skriftuurlike leer oor die heerlike, goddelike Persone van ons Here Jesus Christus en van die Heilige Gees wees, en van die ewige eenheid van die selfbestaande, Drie-enige Godheid? Die tyd is kort en die wederkoms van Christus kom elke dag nader. Ons moenie die risiko neem om deur Hom vermaan of verwerp te word omdat ons ‘n verkeerde leer oor Hom of die Heilige Gees gehuldig het nie. Voor sy regterstoel sal baie van dié wat nou eerste is, laaste wees (Matt. 19:30), daarom moet ons nie in oorgerustheid verval nie maar onsself ondersoek (Reeves 2002). Laat ons “kragtig stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas v.3).

Verwysings

Berkhof, L. 1958 : Systematic Theology. Banner of Truth.

Hunt, D. 2002 : What Love is This? Calvinism’s Misrepresentation of God. Loyal Publishing.

Kelly, J.D.N. 1977 : Early Christian Doctrines. A&C Black.

Reeves, B.A. 2003 : Did the Reformation Go Far Enough? Was the Truth of Christ’s and the Holy Spirit’s Deity Corrupted by Philosophy? Ongepubliseerde ms.

Roberts and Donaldson, 1878 : Ante-Nicene Christian Library. Translations of the Writings of the Fathers, Vol. X. T&T Clark.

Sproul, R.C. 1983 : Who is Jesus? Tyndale.

Walvoord, J.F. & Zuck, R.B. 1983 (New Test.) & 1985 (Old Test.) : The Bible Knowledge Commentary: Victor Books.

Young, F.M. 1983 : From Nicaea to Chalcedon. SCM.

Young, F.M. 1991 : The Making of the Creeds. SCM.