Program 74: Die Godheid van die Here Jesus (2)

In verskillende tye van die geskiedenis was daar kerkvaders wat van die waarheid van die Here Jesus se godheid, selfbestaan en gelykheid met die Vader en die Heilige Gees getuig het. Daar was egter ook diegene wat die Bybelse Christologie bevraagteken en heeltemal verdraai het. Deur hierdie sienings het hulle miljoene ander mense laat dwaal. Ons noem enkele voorbeelde van die waarheid en die leuen wat afwisselend oor die Here Jesus verkondig is.

Siening in die vroeë Christelike kerk

Daar is konkrete inligting wat daarop dui dat sterk oortuigings oor die Here Jesus se ewige godheid in die tyd van die apostels en direk daarna, gehuldig is. Kelly (1977:92-93) verwys na die vroom kerkvader en latere martelaar, Ignatius (35-107 n.C.), die biskop van Antiochië, as ‘n goeie bron van die teologiese denke van sy tyd. Ignatius beskryf die Here Jesus as “ons God” en ook as “God wat mens geword het.” In sy voorbestaan (pre-existence) was hy nie-geskape (ingenerate. Kelly beskryf dié term só: “ingenerate: the technical term reserved to distinguish the increate God from creatures”). Hy was die tydlose, onsigbare en ontasbare Een wat om ons ontwil die bedeling van tyd betree het om sigbaar en tasbaar te word. Ignatius se idees is deur die Evangelie van Johannes gevorm, met die sterk beklemtoning van Christus se eenheid met die Vader. Johannes 1:1-3 beskryf Christus as die Woord wat van die begin af by God en self ook God was, en deur wie alles wat bestaan, geskape is. In Johannes 10:30 sê die Here Jesus dat Hy en die Vader een is, en in Johannes 14:9 verduidelik Hy aan sy dissipels dat iemand wat Hom gesien het, die Vader gesien het. In Johannes 17:5 verwys die Here Jesus na die heerlikheid wat Hy by die Vader gehad het voordat die wêreld was. Die waarheid oor Jesus Christus en sy Woord het deur die eeue heen egter met sterk teëstand te kampe gehad – nie net van ander gelowe af nie, maar ook vanuit humanistiese, akademiese denkrigtings met ‘n sterk ondertoon van die Griekse filosofie.

Die Gnostisisme

Teologiese ontwikkeling is sedert die tyd van die vroeë Christelike kerk tot ‘n groot mate deur die filosofie beïnvloed. Aan die beginjare was dit die heidense Griekse filosofie van Plato wat ‘n sterk stempel op godsdienstige denke afgedruk het. Sedert die eerste eeu, en gelyklopend met evangeliese beskouings oor die Here Jesus se godheid en inkarnasie, het die Gnostisisme ontwikkel. Dit is van die begrip “gnosis” (godsdienstige waarheidskennis) afgelei, en leer dat kennis, eerder as geloof, die sleutel tot die saligheid is. Hierdie filosofie het tot in die sesde eeu groot aanhang geniet en ’n duidelike invloed op die teologiese beskouings van daardie tyd uitgeoefen. Dit is ontwikkel met die doel om die Christelike godsdiens meer aanvaarbaar vir die Griekssprekende intelligentsia te maak, maar in die proses het die Bybelse godsbegrip verwronge geraak.

Die gnostieke liefde vir die wysheid het sy vorming in die mistiese beskouings van Plato gehad, asook sy godsbegrip van die “Absolute” wat nie met ‘n Bybelse Drie-eenheidsbegrip versoenbaar is nie. Nadat dit met Christelike idees vermeng is, is geredeneer dat daar wel ‘n enkelvoudige Skeppergod is, naamlik die Vader, maar dat Hy Jesus as ‘n laer orde God, of selfs as ‘n engel, geskape het. Dit was ‘n groot aanslag op die godheid en inkarnasie van die Here Jesus. Walvoord en Zuck (1983: 677) sê: “Both Christ’s deity and humanity were challenged by this early Gnostic-like heresy. Those heretics diminished Christ to an angel whose ‘body’ was only apparent, not real.” Paulus het egter die Here Jesus se godheid, asook sy volkome menswording, verdedig toe hy uitdruklik gesê het: “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Hy is volkome God en ook volkome mens.

Verder het Paulus op die nietigheid en misleiding van alle filosofiese kennis wat van ‘n mistiese oorsprong is, gewys, omdat dit nie uit God gebore is nie. In plaas daarvan om verborge kennis buite Christus na te speur, moet sulke mense eerder die verborgenheid van die Vader en van Christus leer ken, “in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie… Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:2-4,8). Groot misleiding het uit die gnostiese wysbegeerte gekom.

Een van die drogredes wat gebruik is om Jesus as ‘n geskape wese en laer orde God voor te stel, is die sg. “Logos” teologie. Volgens Johannes 1:1 word Jesus in sy ewige voorbestaan inderdaad as die Woord (Gr. Logos) beskryf, wat self ook God is. In die gnostieke Logos teologie word egter aangevoer dat God as Vader die Woord geskape en toe gebruik het om die res van sy skeppingswerk te voltooi. Prof. Young (1991:35) som hierdie dwaling só op: “Die Logos was die eniggebore Seun van God, die Woord wat Hy as ‘n instrument vir sy skeppingswerk geprojekteer het, die Wysheid wat naas Hom bestaan en waardeur Hy alles beplan het... Dit is hierdie Woord wat na die profete gekom het, ook na Sokrates (die vader van die Griekse filosofie) en alle opregte leraars van die waarheid, en in die laaste dae is hierdie Woord in Jesus Christus geïnkarneer.” Dit is niks anders nie as heidense Griekse wysbegeerte met ‘n Christelike kleed aan (Sproul 1983: 42-45).

Die Logos teologie is ook met Spreuke 8 in verband gebring, en die foutiewe afleiding gemaak dat die wysheid in dié hoofstuk ‘n beskrywing van die pre-geïnkarneerde Woord is. Spreuke 8:22-23 word as Christologiese tekste aanvaar en in terme daarvan tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus aan die begin van die skepping “geformeer” is. Die wysheid in Spreuke is egter ‘n attribuut van God en nie ‘n verwysing na Christus nie, al is wysheid ook een van sy sterk kenmerke (Walvoord en Zuck 1985:922). Salomo beskryf die wysheid as ‘n vrou wat ons as ons suster moet beskou (Spr. 7:4). Dit is ongeregverdig om Jesus só te verpersoonlik en na aanleiding hiervan as ‘n geskape wese te beskou.

Die dwalings van Origenes

Die kerkvader, Origenes (185-254), het homself intensief in die filosofie van Plato verdiep. Na aanleiding hiervan het hy die allegoriese metode van Skrifverklaring ontwikkel. Volgens hom moet diegene wat die wysheid het, deur al die simbole in die Bybel dring en na die misterieuse opklim. Die Bybel het dus nie vir hom ‘n letterlike betekenis nie, maar moet allegories verklaar word. Die werklike bestaan van die mens was vir Origenes in die filosofies-geestelike gnosis geleë waarheen elkeen deur allegoriese denke en verklarings moet vorder. Hy het ook ‘n Platoniese godsbegrip voorgestaan, wat op die abstrakte maar enkelvoudige “Absolute” gebaseer is.

Oor God die Vader en sy Seun het Origenes geskryf: “Ek is van mening dat die wil van die Vader genoegsaam is vir die ontstaan van dit wat Hy tot stand wil bring… daarom is ook die bestaan van die Seun deur Hom gegenereer. Hierdie standpunt moet ten alle tye gehandhaaf word, naamlik dat niemand ongebore is nie behalwe net God die Vader” (Roberts & Donaldson 1878:23). Origenes verloën dus heeltemal die feit van die Here Jesus se selfbestaan as die ewige Ek Is (Joh. 8:58), en ook dat die Heilige Gees die “ewige Gees” is (Heb. 9:14) wat as ‘n Persoon in die Drie-eenheid ’n tydlose selfbestaan het. Op grond van Johannes 1:3 het Origenes gesê dat die Woord ingesluit moet word by die “alle dinge” wat deur God ontstaan het (Kelly 1977:263).

Volgens Berkhof (1958:93) was Origenes in die derde eeu die eerste kerkvader wat van die “generering van die Seun in die voortyd” gepraat het. Hierdeur het hy duidelik te kenne gegee dat die Woord (Logos) nie voor sy generering bestaan het nie, en daardeur sy ewige selfbestaan ontken. Hoewel baie aspekte van Origenes te teologie deur sy tydgenote verwerp en hy ook later tot ketter verklaar is, het hy ‘n groot en blywende invloed op teologiese denke uitgeoefen. Sy dwalings word vandag nog deur baie teoloë nagevolg.

Arius se dwalings

Die kerkvader, Arius, het in die vierde eeu die teologie van ‘n geskape Woord wat nie gelyk aan die Vader is nie, voortgesit: “Arius beweer dat die Seun nie gelyk aan die Vader is nie… Hy het die tradisionele beskouing aanvaar dat die wysheid in Spreuke 8 identies met die Woord is, en op die basis van vers 22 tot die gevolgtrekking gekom dat die Woord God se skepsel is” (Young 1983:59,62). Die dwaling dat Christus die grootste en mees volmaakte van God se skepsele is, maar as gevolg daarvan nie as God beskou kan word nie, staan as Arianisme bekend. Hierdeur het Arius sy mentor, Origenes, se voorbeeld nagevolg om die lewende, Drie-enige God van die Bybel na die “Absolute” van die filosofiese skole te verander (Young 1983:61).

Wat sê die Here van die slaafse onderhouding van teologiese tradisies en oorlewerings wat deur mense opgestel is? “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas… Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:7-9). Vir baie kerke is teologiese oorlewerings en tradisies selfs belangriker as die Bybel. In pogings om die Bybel in die lig van tradisie te verklaar, plaas sommige van hulle tradisie bo die Bybel. As gevolg hiervan hou baie teoloë aan dogmas vas waarin die Bybelse leer oor die Godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus opsy geskuif word om aan tradisies vas te hou wat hulle oorsprong by misleide kerkvaders soos Origenes en Arius het. Volgens Dave Hunt in sy boek, “What love is this? Calvinism’s misrepresentation of God”, was die Hervorming onvolledig en het baie van Rome se onbybelse teologiese tradisies deur Calvyn se geskrifte hulle weg na verskeie Protestantse kerke gevind, en dit word vandag nog onnadenkend gehuldig.

Steeds is daar teoloë wat kragtig vir die waarheid stry wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is, maar daar is ook ‘n dik stroom afvalliges en kompromiemakers wat leuens en wanvoorstellings van God voortsit en sodoende kettery bevorder. Hulle verloën die Here Jesus vir wie Hy werklik is. Petrus het gesê dat hierdie verskynsel al in Ou Testamentiese tye voorgekom het, en ook in Nuwe Testamentiese tye voortgesit sal word: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring” (2 Pet. 2:1).

William Romaine

‘n Invloedryke Britse prediker en teologiese dosent wat ’n sterk standpunt oor die Here Jesus se godheid en ewige selfbestaan gehuldig het, was William Romaine. Hy het ook ‘n groot rol in die herlewingstyd gespeel. John Newton het van hom gesê dat hy onbuigbaar soos ‘n ysterpilaar was om die waarheid te verkondig, en onbeïnvloedbaar deur die wêreld se glimlagte of fronse. Die volgende is uittreksels uit ‘n preek wat hy in 1755 oor Exodus 3:14 en Johannes 8:24 gelewer het:

“Die eenheid van die goddelike essensie is dat daar drie Persone is wat in alle volmaaktheid en attribute een is sodat nie een voor of ná die ander is nie, nie een is groter of minder belangrik as die ander nie, maar in heerlikheid is hulle gelyk en in majesteit mede-ewig. Die Drie-eenheid word só in die Bybel uitgedruk: ‘Want daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een’ (1 Joh. 5:7). Die ewig geseënde Drie-eenheid het die name van Vader, Seun en Heilige Gees aangeneem, nie om aan te toon hoe hulle as goddelike Persone bestaan nie, maar hoe hulle ter wille van die redding van mense optree. Hierdie name gee aan ons kennis oor die verskillende ampte waarop die Drie-eenheid besluit het om die boodskap van verlossing uit te werk.

“Binne die raamwerk van hierdie verbond het een van die goddelike Persone ingestem om ‘n onberekenbare prys vir sonde te eis indien die mensdom sou sondig, en ook om die Vader van die menslike natuur van Jesus Christus te wees, en deur Hom ook ons Vader. Om dié rede word Hy God die Vader genoem: nie om sy natuur te beskryf nie, maar sy amp. ‘n Ander een van die goddelike Persone het onderneem om die Seun te word, om die menslike natuur aan te neem en daardeur die hoë prys wat buite die mens se bereik is, vir sy sonde te betaal. Om hierdie rede word Hy Seun, Seun van God en ander soortgelyke name genoem: nie om sy goddelike natuur te beskryf nie, maar sy amp. ‘n Ander een van die goddelike Persone het onderneem om die onberekenbare prys wat die Seun van God sou betaal, effektief te maak deur mense op ‘n geestelike vlak te inspireer en te oortuig om dit te aanvaar. Om dié rede word Hy die Heilige Inspireerder, die Heilige Gees, of die Gees van God genoem: nie om sy goddelike natuur te beskryf nie, maar sy amp.

“Die Bybel tref geen verskil tussen die drie goddelike Persone nie, behalwe die verskille wat uit hulle onderskeie ampte blyk, wat hulle ter wille van die genaderverbond beoefen. Christus het Homself nie minderwaardig gemaak toe Hy onderneem het om Seun te word nie, so ook nie die Heilige Gees toe Hy onderneem het om neer te daal en in mense te werk nie. Seun en Heilige Gees is ampsname wat hulle nie minder belangrik in ons oë moet maak nie, maar eerder moet verhoog omdat hulle ter wille van ons redding neergedaal het om hierdie ampte te vervul. Ons geseënde Here was Jahweh toe Hy onderneem het om as Seun vlees te word. Die blote feit dat Hy hierdie amp kon beoefen, is bewys daarvan dat Hy ‘n selfbestaande God is. Die hele verantwoordelikheid vir die wêreld, van die skepping daarvan af tot by die voleinding daarvan, is in sy hande geplaas. Die Bybel bevestig dit uitdruklik dat Hy die wêreld geskape het, dit regeer, dit onderhou, dat Hy mense deur sy bloed losgekoop het, en dat Hy in al sy heerlikheid weer sal kom om die wêreld te oordeel. Om hierdie amp te kan vervul, moet Hy ‘n ewige selfbestaan hê, daarom kan Hy waarlik sê: EK IS. Sonder dit sou Hy nie die oorsaak van die skepping van alle dinge en skepsele kon wees nie. Saam met die Vader en die Heilige Gees is Hy die ewige en selfbestaande God.

“Die Here Jesus het gesê: ‘As julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterf’ (Joh. 8:24). Dit is nie ‘n klein oortreding om die selfbestaan van Christus te ontken nie, maar die grootste denkbare oortreding, soos om die koning se titel en kroon te ontken. Is dit nie hoogverraad nie? Wat is dit dan om die Godheid van die geseënde, almagtige Koning van die konings en Heer van die here te verloën? Is dit nie hoogverraad teen die Opperheerser van die hemel nie? Die skrifgedeelte in Johannes 8:24 is van die allergrootste belang, want ons sal in ons sondes sterf as ons nie in die ewige selfbestaan van Jesus Christus glo nie. Laat dit nie vir jou ‘n hindernis wees dat Hy Seun, Seun van God of Seun van die mens genoem word nie, want Hy is van alle ewigheid af die selfbestaande God, Jahweh, wat net die naam Seun aangeneem het sodat Hy ter wille van ons saligheid mens kon word.”

In die volgende praatjie sal ons na die tragiese gevolge kyk wat dit vir mense inhou wat nie bereid is om die Here se Godheid te erken nie.