Program 73: Die Godheid van die Here Jesus (1)

Ons leef in ‘n tyd waarin die Drie-eenheidsleer, en veral die godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus, deur ‘n toenemende aantal teoloë verwerp word. Hierdie probleem is nie net die produk van moderne teologiese denke nie, maar die gevolg van eeue-oue dwalings in leerstellings oor Jesus Christus. Ons sal ver in die kerkgeskiedenis moet teruggaan om die oorsprong van die ernstige tekortkomings en wanopvattings in die Christologie te kan bepaal.

Die Drie-eenheid

In die heel eerste hoofstuk van die Bybel word ons aan die Drie-enige God voorgestel: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die naam wat hier vir God gebruik word, is nie die meer algemene Jahweh wat op God se ewigheid en selfbestaan dui nie, maar Elohim wat op sy Drie-eenheid dui.

In Afrikaans en Engels word naamwoorde óf in die enkelvoud óf in die meervoudsvorm geskryf. Die Hebreeus tref egter in die meervoud ‘n verdere onderskeid deurdat dié taal ‘n duale vorm het wat na twee verwys, asook ‘n meervoudsvorm wat na meer as twee verwys. Elohim is nie enkelvoudig en ook nie duaal nie, maar in die meervoudsvorm – m.a.w. drie of meer. Terselfdertyd is Elohim ook ‘n samestelling van ander name. Een daarvan is El (God), soos in Bet-El (Die Huis van die Here), en dit is duidelik in die enkelvoudsvorm. Die naam Elohim dui dus op ‘n enige Here wat terselfdertyd uit meer as twee Persone bestaan, in dié geval drie Persone wat saam een is! Dit is presies ook die implikasie van Deuteronómium 6:4 wat lui: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” (“Hoor, Israel, Jahweh ons Elohim is ‘n enige Jahweh”). Die woord vir “eenheid” wat hier gebruik word, is echad, wat ’n saamgestelde eenheid en nie ‘n absolute eenheid is nie (vgl. Eseg. 37:22 waar echad ook ’n saamgestelde eenheid aandui Die Here sê Hy sal die koninkryke van Israel en Juda een maak, sodat dit weer een volk sal wees. Hierdie eenheid het dus ook verskillende samestellende dele).

Die feit dat Elohim beide na die enige Here én in sy meervoudsvorm na drie persone in die Godheid verwys, blyk duidelik uit die voornaamwoorde wat vir Elohim gebruik word. In verband met die skepping van die mens word gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:26-27). Die woord vir God wat hier gebruik word, is Elohim. Die Drie-enige God kan tereg sê: “Laat Ons mense maak,” en dan daarna: “man en vrou het Hy hulle geskape.”

Johannes beskryf die pre-geïnkarneerde Jesus as die Logos, of die Woord: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). Hy was by Elohim en self ook Elohim. Die derde Persoon is die Gees van Elohim (Gen. 1:2). Hy is die “ewige Gees” (Heb. 9:14) wat as ‘n Persoon in die Godheid ook ‘n ewige selfbestaan het.

Die drie ewige, gelyke en mede-selfbestaande Persone in die Godheid word ook só deur Johannes beskryf: “Daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Al drie Persone kan dus as Here (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) en God (Heb. Elohim; Gr. Theos) beskryf en aangespreek word. Paulus het die vleesgeworde Here op die pad na Damaskus aangespreek: “Wie is U Here [Jahweh]? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand. 9:5). In Romeine 9:5 sê Paulus van Jesus: “Hy… is God [Elohim], lofwaardig tot in ewigheid.” In alle tydperke van sy ewige bestaan is hierdie titels op Hom van toepassing.

Mense wat nie glo dat die titel Here of Jahweh (die ewige Ek Is) op Jesus van toepassing is nie, se sonde kan nie vergewe word nie. Hy het vir die ongelowige Joodse leiers gesê: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe… Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle weet dat dit Ek is… voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:24,28,58). Die Modern King James Version sê: “If you do not believe that I AM, you shall die in your sins... Before Abraham came into being, I AM!” (Joh. 8:24,58). Die Amplified Bible verbind Joh. 8:58 aan Ex. 3:14: “I most solemnly tell you, before Abraham was born, I AM. [Exod. 3:14].” Hy is die selfbestaande, ewige God wat mens geword het.

Die skeppingswerk, voorrang en heerskappy van Christus

Dit is nodig om ernstig en diepgaande oor die godheid van Jesus Christus te besin, asook oor sy voorrang bo alle dinge. Dit kan gedoen word in Bybelstudie onder die leiding van die Heilige Gees, “want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Paulus het ‘n groot openbaring van Jesus Christus gedoen toe hy gesê het: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alles is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis – ek sê deur Hom – die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele” (Kol. 1:15-20). In hierdie gedeelte word sewe unieke kenmerke van die Here Jesus se voorrang en opperheerskappy oor alles genoem:

1. Hy is die Beeld van God. Hy het God aan die mensdom kom openbaar, daarom het almal wat Hom gesien het, die Vader gesien (Joh. 14:9). Wanneer ons die evangelie van die Here Jesus se reddende genade hoor, dan skyn die heerlikheid van die Vader én die Seun op ons (2 Kor. 4:4).

2. Hy is die Eersgeborene van die skepping. Die term “Eersgeborene” dui nie daarop dat die pre-geïnkarneerde Jesus gebore is nie, maar dat Hy bestaan het voordat enigiets anders geskape is. Hy is die absolute eerste (Op. 1:17) wat self alles geskape het, daarom kan Hy nie deel van die geskape werklikheid wees nie. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling parafraseer die uitdrukking “die Eersgeborene van die hele skepping” (v. 15b) tereg soos volg: “Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.”

3. Hy is die Skepper van die heelal. Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape, en in Hom hou alle dinge stand (v. 16-17). Hy is “die begin van die skepping van God” (Op. 3:14). Johannes sê: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Die Here Jesus het sy skeppingswerk as Elohim gedoen, een van die drie Persone in die goddelike Drie-eenheid. Die Vader en die Heilige Gees is ook hierby betrokke, daarom sê Hebreërs 1:2 dat die Vader die wêreld deur die Seun gemaak het.

4. Hy is die Hoof van die gemeente. Benewens die feit dat Jesus die Here van die heelal is, is Hy ook die hoof van die gemeente (v. 18; vgl. Ef 1:22-23, 5:23). Die verwysing hier is na die onsigbare, universele gemeente waarin die Heilige Gees alle gelowiges in die liggaam van Christus doop die oomblik wanneer hulle gered word (1 Kor. 12:13). In hierdie liggaam (die gemeente) is daar lede van alle bevolkingsgroepe (Gal. 3:28). Die verborgenheid van die gemeente was nie in vroeër eeue aan die mensdom bekend nie (Kol. 1:26; Ef. 3:4-5).

5. Hy is die Eersgeborene uit die dode. Christus is die eerste wat met ‘n onsterflike liggaam uit die dood opgestaan het (1 Kor. 15:20), want Hy het opgestaan om nooit weer te sterf nie. In hierdie opsig is Hy die eerste in ‘n hele nuwe skepping van mense wat in Hom die opstanding tot die ewige lewe deelagtig word. Hulle sal almal met verheerlikte liggame opgewek word (1 Kor. 15:22-23; Fil. 3:20-21).

6. Hy is die volheid van God. Kolossense 1:19 is ‘n kragtige bevestiging van Christus se godheid. In dieselfde brief sê Paulus: “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag” (Kol. 2:9-10). Johannes sê die Here Jesus is “vol van genade en waarheid… En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade” (Joh. 1:14,16).

7. Hy is die Een wat alles met God versoen. Die “alles” wat met God versoen word, word net op die aarde (nie onder die aarde nie) en in die hemel aangetref (Kol. 1:20), en dui derhalwe op verloste mense en goeie engele. Dit is belangrik om daarop te let dat dit mense is wat met God versoen word – nie God met mense nie. Die mensdom het God op verskillende dwaalweë verlaat en moet na Hom toe teruggebring word. Die stelling dat “God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle misdade nie toe te reken nie” (2 Kor. 5:19), dui op die feit dat die hele wêreldbevolking in beginsel gered kan word omdat Jesus “vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis” (Kol. 1:20). Elkeen moet egter ‘n keuse hieroor maak, daarom Paulus se ernstige oproep: “Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor. 5:20).

Die Inkarnasie van die Here Jesus

In die volheid van die tyd het die Woord, wat self alle dinge geskape het, vlees geword: “In die begin was die Woord… Alle dinge het deur Hom ontstaan… In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense… En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:3,4,14). Die vleeswording, of inkarnasie, van die Woord het met die tydelike prysgawe van sy hemelse heerlikheid gepaard gegaan, maar nie van sy essensiële godheid nie.

In selfopofferende liefde het Hy Hom van sy troonposisie af in die hemel neergebuig om aan mense gelyk te word. Meer nog, as ‘n dienskneg wat geen voorkoms gehad het dat ons Hom sou begeer nie (Jes. 53:2), het Hy Homself verneder om verwerp, bespot en gekruisig te word sodat Hy ‘n veragtelike dood in die plek van alle sondaars kon sterf: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil. 2:6-8).

Jesus het net sy heerlikheid as God afgelê, en nie sy status en gesag as God nie, daarom was Hy Emmánuel: “God met ons.” Ná sy menswording het Hy twee nature gehad: ‘n menslike en ‘n goddelike. Om volgens God se standaard die Verlosser van die volk Israel én die hele wêreld te kon wees, moes Jesus die volmaakte God-mens wees. Hy moes in ‘n menslike geslag (die koninklike linie van Dawid in die stam van Juda) gebore word om Seun van die mens te kon wees. Nogtans moes ‘n man Hom nie verwek nie, sodat Hy nie enige deel aan die menslike ras se erfsonde sou hê nie. Hy moes dus deur die beskikking van God uit ‘n maagd gebore word sodat Hy ook Seun van God kon wees: “...die naam van die maagd was Maria... En die Engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:27,35).

In Jesus se hoedanigheid as Seun van die mens is die Vader groter as Hy, en het die Vader Hom as mens gegenereer. Jesus het Homself ook as mens uitdruklik aan die wil van sy Vader onderwerp (Matt. 26:39). In sy hoedanigheid as God is Hy egter een met en gelyk aan die Vader, daarom kon Hy sê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Indien Hy net ‘n gewone mens was wat self aan die gevolge van die sondeval onderhewig was, sou Hy nie die volmaakte Lam van God kon wees wat die groot straf vir ons sonde kon betaal nie.

Jesus, die vleesgeworde Woord van God, “was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie” (Joh. 1:10). Hy is nie as God in ‘n menslike gewaad erken nie (Joh. 14:8-9). Die Woord het tydens sy menswording ‘n hoedanigheid (‘n menslike liggaam en natuur) aangeneem wat Hy nooit tevore gehad het nie. Behalwe die feit dat Hy steeds God was, het Hy ook ‘n geskape wese geword: die Seun van die mens: “Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou” (Gal. 4:4).

In Johannes 5 word die gelykheid tussen Jesus en die Vader op ‘n sewevoudige wyse bevestig:

·         Hulle is gelyk in werke: “Want alles wat [die Vader] doen, dit doen die Seun ook net so” (v. 19).

·         Hulle is gelyk in kennis: “Die Vader... toon [die Seun] alles wat Hy self doen” (v. 20).

·         Hulle is gelyk in opwekkingskrag: “Soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil” (v. 21).

·         Hulle is gelyk in oordele: “Want die Vader... het die hele oordeel aan die Seun gegee” (v. 22).

·         Hulle is gelyk in eerbiedwaardigheid: “...sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer” (v. 23).

·         Hulle is gelyk in herskeppingskrag: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom wat my gestuur het, het die ewige lewe [en] het oorgegaan uit die dood in die lewe... Daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe” (v. 24,25).

·         Hulle is gelyk in selfbestaan: “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê” (v. 26).

Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is een in heerlikheid, kennis, genade en ewige selfbestaan.