Program 71: Waak Teen Satan se Vervalsings (3)

In die reeks boodskappe oor godsdienstige misleiding kyk ons nou na ‘n laaste aantal vervalsings van die waarheid waarmee Christene soms te doen kry:

Ware en valse evangelies

Die evangelie is die goeie nuus van God se reddende genade wat op grond van die kruisdood van Jesus Christus aan alle mense gebied word. God se geregtigheid vereis dat alle dade van sonde en rebellie teenoor Hom gestraf word, aangesien dit op die verwerping van Hom en sy koninkryk neerkom: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Die hele mensdom staan in die beskuldigdebank omdat almal gesondig het: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10; kyk ook 5:12). Die ewige dood wag op alle mense.

Die reël staan vas, naamlik dat alle sonde met die dood van die oortreder gestraf moet word. Die goeie nuus van die evangelie is dat ‘n onskuldige Persoon, Jesus Christus, in die plek van al die skuldiges gesterf het: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom… Die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5). Sy dood bring vir ons vryspraak en lewe: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:25). ‘n Sondaar wat gered wil word, moet sy sondes en verlore toestand in gebed aan die Here Jesus bely (1 Joh. 1:9) en Hom as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker aanneem (Joh. 1:12; 1 Joh. 5:13).

Die koms van Jesus Christus na die aarde was nie om God se oordeel oor sondaars te voltrek nie, maar om aan almal van hulle vergifnis en redding te bied: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh. 3:17). “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Rom. 5:8-9).

Die Here Jesus sal egter by sy wederkoms, en ook voor die groot wit troon wanneer alle sondaars uit die dood sal opstaan, die oordeel van God oor hulle uitspreek omdat hulle geweier het om tot bekering te kom: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41; kyk ook Hand. 17:30-31).

In valse evangelies word een of meer van die kernwaarhede van die Bybelse verlossingsleer ontken of verswyg. Die volgende is ses voorbeelde van verskeie valse evangelies wat verkondig word:

Die algemene genade. Volgens hierdie beskouing, wat verkeerdelik van Titus 2:11 afgelei is, skenk God sy reddende genade aan alle mense – of hulle dit weet of nie, en of hulle dit aangeneem het of nie. Bekering en geloof is dus nie nodig nie, omdat alle mense eendag hemel toe sal gaan. In terme hiervan word Boeddhiste, Hindoes en voorvaderaanbidders as “anonieme Christene” beskou. Hulle weet nie dat God reeds alle mense begenadig het nie. Daar is volgens hierdie teorie nie ‘n enkele mens op aarde wat hel toe sal gaan nie.

‘n Goeie lewe. Mense wat op morele gebied goeie lewens lei, sal almal eendag hemel toe gaan. Dit is ‘n selfverlossingsleer, omdat jou eie lewe en goeie werke die maatstaf vir jou redding is, en nie die kruisdood van die Here Jesus nie.

Doopsaligheid. Die doop is die goue sleutel waardeur ‘n persoon in ‘n ewige verbondsverhouding met die Here geplaas word. Op grond hiervan word dopelinge salig verklaar, gevolglik word wedergeboorte later in hul lewe nie as nodig geag nie. Hulle behoort na bewering reeds aan die Here en hoef dus nie soos sondaars tot bekering te kom nie.

Geen oordeel. Daar is baie mense wat nie al God se attribute ken nie en dan verkeerdelik beweer dat Hy só liefdevol is dat Hy niemand hel toe sal stuur nie. Sulke mense glo nie eers dat daar ‘n hel is nie en neem dus nie die nodige stappe om die toekomstige oordeel oor sondaars te ontvlug nie.

Vergifnis sonder die kruis. Daar is ‘n toenemende aantal teoloë wat die kruis-evangelie heeltemal verloën en op grond daarvan baie mense mislei. Hulle ontken die feit dat die Here Jesus aan die kruis moes sterf om die prys vir ons sonde te betaal. Volgens hulle vergewe God ons omdat Hy vergewensgesind is, en nie op grond van die bloed van sy Seun wat aan die kruis gestort is nie. Hulle hang duidelik ‘n onbybelse verlossingsleer aan.

Redding deur ander gelowe. In moderne, multigodsdienstige denke word die leuen verkondig dat alle gelowe dieselfde God aanbid en derhalwe almal ‘n grondslag vir saligheid aan hulle volgelinge bied. Volgens hierdie beskouing is daar baie middelaars tussen God en die mens, bv. Mohammed en Maria, en word die Bybelse uitspraak dat niemand na die Vader kan gaan behalwe deur Jesus Christus nie (Joh. 14:6), skaamteloos ontken.

Ware en valse herlewing

Daar was deur die eeue heen ‘n versugting onder groepe Christene na ‘n kragtige geestelike herlewing in kerke wat deur lae geestelike standaarde gekenmerk word. Ervarings in die vroeë Christelike kerk (die Handelinge-tydperk), asook die herlewings van die 18de en 19de eeue, word as maatstaf geneem van dit wat kán gebeur as God sy kerk op ‘n nuwe manier met die krag van die Heilige Gees toerus.

Die woord “herlewing” veronderstel nuwe lewe waar daar reeds lewe is. Dit beteken in die eerste plek dat daar deur die werking van die Heilige Gees nuwe lewe in kinders van God moet kom wat vleeslik, passief, biddeloos, kragteloos, wêreldsgesind en teruggevalle is. Die toestand van louheid waarin hulle verval het, met al die verskillende gevolge van geestelike stagnasie en liefde vir die wêreld, kan alles aan ‘n ongekruisigde vlees toegeskryf word. Dit was die probleem met die Korinthiërs wat onder die heerskappy van die vlees geleef het (1 Kor. 3:1-3), en ook met die Galásiërs: “…want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Die Here Jesus het ook duidelik gesê dat die vlees (die eie-ek, of ou natuur wat na sonde lei) gekruisig moet word as ons ware dissipels van Hom wil wees (Luk. 9:23).

Wanneer ‘n kind van die Here homself deeglik onder die leiding van die Heilige Gees ondersoek en opnuut die vlees met al sy werke aflê, voldoen hy aan die voorwaarde vir herlewing. Die Here sal hom dan, vir die eerste keer of by hernuwing, met sy Gees vul en toerus om kragtig vir Hom te kan getuig en te werk. Wanneer groepe Christene hierdie ervaring deelagtig word, neem hulle hul verantwoordelikheid en opdrag om die evangelie te verkondig, ernstig op. Dit sal sigbare gevolge in die samelewing hê, omdat ‘n groot oes van siele wat vir die eerste keer tot bekering kom, altyd die gevolg van ’n herlewing onder Christene is. Op grond van hierdie Christene se getuienis, voorbeeld en prediking, ontwaak sondaars uit hulle geestelike doodslaap en roep dan om redding en heiligmaking tot die Here. Die bekering van sondaars kan dus nie in sigself as herlewing beskryf word nie, omdat hulle redding die gevolg van ‘n ware herlewingsbeweging is. Christene “herleef” tot ware heiligmaking en sondaars “ontwaak” om tot bekering te kom, vandaar die verwante Engelse terme “revival” en “awakening.”

Daar is ongelukkig ook verskeie valse herlewingsbewegings waarin die struikelblok van die ongekruisigde vlees, asook die gevolglike gebrek aan ’n Geesvervulde lewe, nie as die belangrikste rede vir die afwesigheid aan herlewing beskou word nie. Die volgende is die belangrikste kenmerke van sulke bewegings:

Tekens en wonders. In baie gevalle is die ingesteldheid onder voorstanders van herlewing op ’n hernude voorkoms van tekens en wonders gerig – veral genesingswonders. Daar word na die herlewings van die eerste eeu verwys toe baie wonderwerke en spesiale openbarings van God se wil plaasgevind het, en ook dikwels in ander tale gespreek is. Hierdie verskynsels word egter nêrens as ’n noodsaaklike deel van ‘n geestelike ontwaking beskryf nie, omdat die rol daarvan hoofsaaklik tot die oorgangsfase tussen die ou verbond met Israel en Christus se nuwe genadeverbond met alle nasies beperk was. Die Here wou tydens die oorgangsfase hê dat Israel én die nasies duidelik sou besef dat die tyd verby was dat sy handelinge feitlik uitsluitlik tot Israel beperk was. In die nuwe bedeling sou sy genade-aanbod op ‘n gelyke vlak aan alle nasies en tale gerig word, daarom is die evangelie dikwels in daardie vroeë jare deur die instaatstelling van die Heilige Gees in verskeie ander, verstaanbare tale verkondig. Tekens en wonders is ook gebruik om die Messiasskap van Jesus te bevestig (Matt. 11:2-6), asook die bediening van die relatief klein groepie verwerpte dissipels (Mark. 16:20). Spesiale openbarings van God se wil was ook nodig omdat daar nog nie ‘n Bybel was nie. Die briewe van die Nuwe Testament is eers in die tweede helfte van die eerste eeu geskryf en was vir ‘n lank tyd net in ’n beperkte mate beskikbaar. In die lig van al hierdie feite moet die vraag duidelik gestel word: Waarom soek mense in moderne herlewingsbewegings na ‘n herhaling van hierdie spesiale tekens? Die gemeente van Jesus Christus is reeds onder alle nasies gevestig, en die meeste van hulle het ook die Bybel, of gedeeltes daarvan, in hulle eie taal beskikbaar. Hulle hoef dus nie na buite-Bybelse openbarings van God se wil te soek nie. Tekens dien lankal ook nie meer ‘n doel om die Messiasskap van die Here Jesus te bevestig of om geloofwaardigheid aan sy getuies te verleen nie. Ná byna tweeduisend jaar van die Christendom in die wêreld het ons volgens Hebreërs 12:1 ‘n groot wolk van getuies wat die volle waarheid van die evangelieboodskap bevestig. In die groot herlewings van die 18de en 19de eeue het hierdie spesiale tekens en buite-Bybelse openbarings van God se wil geen rol gespeel nie, en tóg het die Here deur sy Gees kragtig in miljoene mense se harte en lewens gewerk.

Koninkrykshervormings. Dit is onder baie mense ‘n populêre neiging om vir die kerk ‘n koninkryksvisie te skep en dan herlewing as ‘n middel tot die realisering van hierdie visie te sien. Die ernstige fout wat deur dié mense gemaak word, is dat profesieë oor ‘n toekomstige koninkryk van God op aarde, wat eers ná die wederkoms van Christus sal aanbreek, op die huidige kerkdispensasie toegepas word. Hulle beweer dat dit net as gevolg van ons gebrekkige geloof is dat ons nie nou al soos konings saam met Christus regeer, in ekonomiese oorvloed en siektevrye toestande leef, en oor die mag beskik om na willekeur tekens en wonders te doen nie. Volgens hulle sal die Here ons positiewe geloof in die koms van sy koninkryk nóú beloon deur Christene in sleutelposisies in alle samelewings te plaas en sodoende die hele wêreld Christelik te rekonstrueer. Herlewing word met die oog hierop nagestreef, en ‘n groot geloof in wonderwerke as die sleutel tot veranderings op die geestelike en morele gebied gesien. By hulle val die klem nie op die kruisiging van die vlees en ‘n nuwe oorgawe aan die Here nie. Nederigheid en diensbaarheid in ‘n vyandige wêreld wat in die mag van die Bose lê, word nie deur hulle nagestreef nie, maar die beoefening van ‘n groot geloof wat van jou nóú ‘n koning en ‘n heerser sal maak! Dit is egter ’n misplaaste visie.

Kerkgroei- en kerkeenheid. Herlewing word soms ter wille van kerkgroei en die ekumeniese vereniging van kerke in ‘n groot bewegings nagestreef. Daar word selfs van die post-denominasionele wêreldkerk van die 21ste eeu gepraat, wat in elke dorp of stad onder die oorhoofse leiding van profete en apostels sal staan. Hierdie leiers sal oor groot magte beskik en namens God oor sy verenigde kerk op aarde regeer. Alle duiwelse én sekulêre magte sal voor hulle verkrummel, en die kennis en vrees van die Here sal die hele aarde oordek.

Ware en valse toekomsverwagtings

Die Bybel gee aan ons ‘n baie duidelike prentjie van hoe wêreldgebeure in die eindtyd sal verloop. Ons weet dat die wêreld al hoe slegter en boser sal word (2 Tim. 3:1-5). Grootskaalse geestelike misleiding sal onder die aanstigting van duiwels plaasvind (1 Tim. 4:1) en met die behulp van valse profete oral verkondig word (Matt. 24:4-5,11). Hulle sal ‘n valse herlewingsbeweging op tou sit wat op tekens en wonderwerke gebaseer is (Matt. 24:24). In hierdie tyd sal sonde en ongeregtigheid geweldig toeneem (Matt. 24:12) sodat die hele wêreld, soos in die tyd van Noag en Lot (Luk. 17:26-30), vol gruwelike sondes sal wees. Dit sal die klimaatskepping vir die verskyning van die mens van sonde, die Antichris, wees (2 Thess. 2:3). Onder sy leiding, en ook as gevolg van oordele wat die Here oor die aarde sal uitstort, sal daar ‘n groot verdrukking wees waarin die meerderheid van alle mense op aarde sal sterf (Matt. 24:21-22; Op. 6:12-17; Jes. 13:9-13; 24:3-6).

Christene besef die realiteit van ‘n vervallende en slegter wordende wêreld in die eindtyd, maar hulle het die salige hoop dat die Here ons voor die donker dae van die sewe jaar lange verdrukking onder die Antichris sal kom haal (Luk. 21:36). Te midde van al die probleme en ellende het hulle ‘n blye verwagting van ontvlugting en verheerliking.

Die wêreldlinge, aan die ander kant, ontken die feit van die naderende groot verdrukking en stel hulle hoop in die antichristelik-geïnspireerde nuwe wêreldorde van internasionale eenheid, vrede en harmonie. Dit is egter ‘n valse toekomsverwagting wat in ‘n vreeslike ontnugtering gaan eindig: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle… en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Die valse hoop wat hulle najaag, sal in ‘n nag verskrikking eindig soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie.

Vir die aanhangers van die valse herlewingsbewegings wag daar dieselfde ontnugtering – selfs ook vir diegene wat valslik gedink het dat hulle die Christendom bevorder deur buite-Bybelse profesieë uit te spreek, kragtige tekens en wonders te doen en oral net duiwels uit te dryf om van die wêreld ‘n beter plek te maak: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22-23).

Waarom sal die Here Jesus vir hierdie mense, wat oënskynlik met dinamiese Christelike bedienings in sy Naam besig was, sê dat Hy hulle nie ken nie en dat hulle met ongeregtigheid besig was? Dit is om aan ons te toon hoe nou die grens tussen die waarheid en die leuen is. Hulle valsheid word agter groot uiterlike vertoon en verstommende aansprake oor die krag van die Here verberg. Deur hierdie dinge mislei hulle die mensdom om hulle na te volg, en sodoende bou hulle groot bedienings op en word in die proses skatryk. Daar is geen sprake van ‘n lewe van nederigheid, heiligheid en gehoorsaamheid aan die Here nie. In die plek daarvan neem selfverheffing, hardkoppigheid, skynheiligheid en ‘n onleerbare, vleeslike gees heeltemal van hulle besit.

Onderskeidingsvermoë

Het jy onder die leiding van die Heilige Gees die onderskeidingsvermoë om sulke valshede van die waarheid te kan onderskei? Jy moet nie ‘n blinde navolger van mense wees nie, maar in staat om enige persoon en sy aansprake aan ‘n Skriftoets te onderwerp en ook navraag te doen om vas te stel of die betrokke “profeet” met misleiding besig is of nie. Inligting van hierdie aard sal aan jou toon deur watter gees die profeet gemotiveer word: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1). Valse profete is met onbybelse praktyke besig, mislei mense  deur die Bybel verkeerd te vertolk en valse verwagtings by hulle te skep, en bou eerder aan hulle eie koninkryk as aan dié van Christus.

Hiermee word nie te kenne gegee dat dit maklik is om die valse profete te onderskei nie. Sommige van hulle beweeg baie naby aan die waarheid en mislei duisende mense. ’n Noukeurige ondersoek sal egter leuens, onbybelse praktyke en onsuiwer motiewe by die “profeet” aan die lig bring. Gewoonlik streef hulle na persoonlike eer en rykdom, maak sensasionele aansprake en word in die proses kultusleiers.

Die Heilige Gees is die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 16:13). “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Ervaar jy die vrymakende krag van die Here Jesus, van sy Woord en sy Heilige Gees? As jy in die volheid hiervan wandel, sal die valse profete jou nie kan mislei nie. Hou aan om nougeset te wandel en moenie links of regs van hierdie weg afwyk nie.