Program 55: Bruilof van die Lam

Die volgende is die gelykenis van die vyf wyse en vyf dwase maagde: “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hulle lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:1-13).

Die evangelie volgens Mattheus het ‘n sterk Joodse verwysingsraamwerk en spreek dus veral hierdie volk regstreeks aan. Baie van die stellings en beloftes het egter op alle Christene van alle tye betrekking. ‘n Baie belangrike teken wat in hierdie gelykenis aan eindtydse Israel gegee word dat Jesus die Messias is, sal vervul word wanneer Hy as die hemelse Bruidegom sy bruid tydens die wegraping in die geheim kom haal. Dit sal geestelik in ‘n baie donker tydperk van die wêreldgeskiedenis wees wanneer nie net die Messiaanse Jode nie, maar ook evangeliese Christene onder die nasies, aan verwerping en vervolging weens hulle Bybels-gebaseerde geloof in Jesus onderwerp sal word. In daardie tyd sal die gees van die Antichris sterk werksaam wees om die Godheid van Jesus te loën, sy opstanding en wederkoms te bevraagteken, die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in diskrediet te bring, en ook Bybelse beloftes soos dié oor die wegraping te ontken en as onwerklik voor te stel.

Tydens Jesus se eerste koms was daar ook groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ‘n huweliksverbond behels het. In die tyd van Jesus was dit gebruiklik dat só ‘n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy vir haar moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is die huweliksverbond gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en bruid uit ‘n beker ongegiste wyn gedrink waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus 2000 jaar gelede sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19). In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Soos wat die Joodse bruid verklaar is om heilig en slegs aan haar bruidegom toegewy te wees, moet ons ook voorberei word om vlekkeloos voor Christus te verskyn. Hy het voorsiening hiervoor gemaak: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig… sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir twaalf maande gebly. Hierdie periode van twaalf maande het aan die bruid die geleentheid gebied om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Christus het ook ná sy eerste koms en die betaal van die koopprys vir sy bruid, na sy vaderhuis in die hemel teruggekeer om vir ons plek te gaan berei. In hierdie tyd van afsondering moet ons op die lewe in die hemel voorberei word, getrou aan die Here Jesus bly en die werk doen wat Hy aan ons opgedra het, deur die uitnodiging tot lidmaatskap van sy bruidsgemeente ook aan ander mense te rig. Die gevaar bestaan egter dat ons in hierdie tyd deur Satan en die wêreld verlei kan word om ontrou aan Christus te raak en sodoende uit ons heilige verhouding met Hom te verval.

Paulus sê aan die vleeslike Korinthiërs, wat absoluut traag was om die opdrag tot heiligmaking na te streef en uit te leef (1 Kor. 3:1-17), dat hulle as gevolg van daardie houding ontrou sal raak en die wêreldse gees ten prooi sal val: “Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Uit die gelykenis in Mattheus 25 is dit ook duidelik dat vyf van die maagde té min olie in hulle lampe gehad het, wat ‘n aanduiding daarvan is dat hulle nie met die Gees van God vervul was nie en dus nie waardig om voor die Bruidegom te verskyn en Hom na sy vaderhuis te vergesel nie.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ‘n geheime ontmoeting met haar was. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet waar sy hom ingewag het, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede vertoon nie. Hy, sy strooijonker en ander manlike reisgenote het ‘n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ‘n geroep voorafgegaan. Deur hierdie geroep is die bruid gewaarsku om vir die koms van die bruidegom gereed te wees (Matt. 25:6).

Op ‘n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ‘n geroep aangekondig word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Wanneer die huisgenote van die bruid die volgende oggend gemerk het dat sy en haar vriendinne verdwyn het, het hulle geweet dat die bruidegom daardie nag gekom het. Hulle het dan ook as ‘n afsonderlike groep na die huis van die bruidegom vertrek om die huweliksfees by te woon.

Op die oomblik wanneer die Messiaanse Jode saam met al die ander lede van Jesus se bruidsgemeente skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie van die Jode besef dat die hemelse Bruidegom hulle kom haal het. Dit sal vir hulle ‘n sterk bewys wees dat Jesus die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld is, en op grond daarvan sal daar ‘n groot herlewing in Israel wees waarin 144 000 Jode kort ná die wegraping gered sal word (Op. 7:1-8). Die meerderheid van die volk sal egter geestelik verblind wees en met die valse messias ‘n verbond sluit om sodoende deel van sy “bruid” te word. Dieselfde ontdekking sal ook met ‘n groot skok oral in die wêreld gemaak word, waar dit baie opsigtelik sal wees dat sommige mense spoorloos uit hul huise en van hulle werksplekke af verdwyn het (Matt. 24:40-42; Luk. 17:34-36). Hiervoor sal daar net een Bybelse verklaring wees, en dit is dat die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal het!

Wanneer die Joodse bruidegom en sy geselskap by sy vaderhuis aangekom het, was sy bruid steeds gesluierd en het hy haar na die bruidsvertrek (huppah) geneem waar hulle vir sewe dae lank alleen saam was en die huwelik finaal volvoer is. Intussen het die gaste aangekom en die volvoering van die huwelk gevier. Ná die sewe dae het die bruidegom sy bruid ongesluierd aan die gaste voorgestel sodat almal haar kon sien. Dit het tot groot blydskap en uitbundige feesviering gelei.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die bruid van die Messias weggeneem en verborge gehou word op ‘n plek waar die res van die wêreld haar nie kan sien nie. Die sewe dae van die huppa dui profeties op ‘n jaarweek, wat die sewe jaar is wat sal verloop tussen die wegraping en die sigbare openbaring van Christus en sy bruid aan die hele wêreld. Ná die vereniging tussen Christus en sy bruid sal daar inderdaad sewe jaar verloop voordat die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) op aarde gevier sal word. Eers moet Hy en sy bruid by sy wederkoms aan die wêreld geopenbaar word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Hierna sal die bruilofsfees plaasvind, waar die oorblyfsel van Israel wat eers tydens die Messias se wederkoms gered sal word, onder die gaste sal tel: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Sy sal as die bruid van die Lam met ‘n vlekklose kleed voor die Messias verskyn.

In ‘n psalm oor die bruilof van die Messias word hierdie luisterryke geleentheid só beskryf: “Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei; jonkvroue agter haar, haar vriendinne, word na U gebring. Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in… U sal [u seuns] aanstel as vorste in die hele land” (Ps. 45:9-10, 14-17).

Ná die bruilofsmaal van die Messias sal sy vrederyk ‘n aanvang neem, waarin sy heiliges saam met Hom sal regeer. Met die oog hierop sal hulle Hom in die hemel reeds, voor die wederkoms op die Olyfberg, toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). As jy deur die bloed van Christus gekoop en ‘n geheiligde, diensbare lid van sy bruidsgemeente is, sal jy ook in die heerlikheid van sy toekomstige openbaring deel! Dan sal ons regters wees wat saam met Christus die wêreld sal oordeel (1 Kor. 6:2) en ook konings wat saam met Hom sal regeer (Op. 5:9-10).

Nou, in hierdie bedeling, is ons egter nie konings en regters nie, maar soldate van die kruis, diensknegte van God en volgelinge van die lydende Messias wat deur die wêreld verwerp is. Ons gaan deur vele verdrukkinge in die koninkryk van God in, maar in dit alles is ons meer as oorwinnaars in Hom wat ons liefgehad en sy lewe vir ons afgelê het. As ons nie in die vlees wandel nie, maar in die Gees, sal ons God behaag deur ‘n lewe te lei wat soos dié van sy Seun is, en gereed wees wanneer die hemelse Bruidegom skielik sal verskyn!