Program 52: Die Lyding van Israel

Daar is twee belangrike redes vir Israel se lyding deur die eeue heen. Die eerste rede is die vyandigheid van die nie-Joodse nasies wat deur die duiwel aangehits word om God se volk sleg te maak, aan te val, uit hulle land te verdryf en selfs te probeer vernietig. Die Here het aan Abraham, die stamvader van Israel, gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3). Hierdie profesie is dikwels deur die eeue heen vervul, deurdat die toorn van die Here oor Israel se vyande uitgestort is. Dit sal veral in die eindtyd ook gebeur. In Joël 3:2 sê die Here: “Ek sal al die nasies versamel… om met hulle ‘n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.” Die huidige Padkaart na Vrede wat op die verdeling van Israel se grondgebied tussen Jode en Palestyne gebaseer is, plaas Amerika en sy ondersteuners in die internasionale gemeenskap direk onder die oordele van God. Hoe meer druk hulle op Israel vir die implementering van dié onbybelse plan plaas, hoe groter gaan hulle eie probleme word. Uiteindelik sal hulle tot hul groot skade en skande teen Israel optrek. Dan sal hulle agterkom dat dit verskriklik is om te val in die hande van die lewende God.

Die tweede rede vir Israel se benoudheid is hulle eie geestelike blindheid wat tot die verwerping en vervolging van die Messias, Jesus, gelei het. Toe die Jode vir Jesus voor Pliatus verraai het, het hulle hul eie lot verseël toe hulle gesê het: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!” (Matt. 27:25). Dit is die belangrikste oorsaak vir Israel se lyding deur die eeue heen – die groot ellende en lewensverlies tydens die beleg en verwoesting van Jerusalem in die eerste eeu, die vervolging van Jode onder die nasies vir amper 2000 jaar lank, en veral die onbeskryflike menseslagting van ses miljoen Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog, asook die grootste lyding van alle tye wat in die komende groot verdrukking op hulle wag.

Tydens sy eerste koms het Jesus Homself as Messias aan Israel gebied. As gevolg van hulle geestelike blindheid het Israel se volksleiers egter onbeskryflike benoudheid oor hulle én hulle volgelinge gebring toe hulle die Prins van Vrede verwerp het.

Jesus het aan Jerusalem, wat die kern van die ongelowige Joodse volk was, gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak… en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). “Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp  en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:43-44).

Uit hierdie skrifgedeeltes is dit duidelik dat Israel se verwerping van hulle Messias vir al hulle bitter ondervindings verantwoordelik is – veel meer as die dade van hulle barbaarse vyande. In tye toe hulle geestelik sterk was, het die Here hulle bewaar. Salomo het gesê: “As die Here behae het in die weë van ‘n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou” (Spr. 16:7).

Die geestelike afvalligheid van Israel is ook die hoofrede vir hulle voortgesette lyding tydens die lang jare van hulle internasionale verstrooiing: “En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde, en daar sal jy ander gode dien… En onder dié nasies sal jy geen rus hê nie… maar die Here sal jou daar ‘n bewende hart gee en smagtende oë en ‘n kwynende siel” (Deut. 28:64-65).

Met die uitsondering van ‘n relatief klein groep Messiaanse Jode, het die opkomende geslagte die dade van hulle voorvaders goedgekeur en dwarsdeur hulle verstrooiing, tot in die huidige herstelfase van Israel, met die nasionale verwerping van Jesus voortgegaan. Wanneer Jesus weer kom, sal “elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het” (Op. 1:7) – dit is die eindtydse geslag van Joodse mense wat Hom steeds verwerp.

Sedert Israel se herstel na hulle land in 1948, het die antagonisme van die ongelowige meerderheid teenoor Jesus en die Messiaanse Jode wat Hom dien, verdiep. Hoewel Israel hulle oorloë beslissend gewen het, het die haat en militêre vermoë van hulle vyande gaandeweg toegeneem – sodanig dat Israel nou op die kort termyn die “tyd van benoudheid vir Jakob” in die gesig staar (Jer. 30:7). Die Here sal die komende benoudheid gebruik om ‘n gelowige oorblyfsel van die volk te red. Sagaria noem die skokkende dodetal van die komende groot verdrukking waartydens ‘n oorblyfsel van Israel gered sal word: “En in die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).

Die huidige geslag Jode soek, soos hul voorvaders, hulle heil in die herbouing van die tempel eerder as in die aanvaarding van die eenmalige offer van Jesus aan die kruis vir hulle sonde. Die Tempel-instituut in Jerusalem tref uitgebreide voorbereidings hiervoor. Hierdie tempel sal egter in die teken van die verdere verloëning van Jesus staan, en die Antichris sal homself daarin tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Volgens Daniël 9:27 sal die Antichris die offerdiens in die middel van die verdrukking afskaf ter voorbereiding van die verpligting om hom alleen as God te aanbid. Hy sal ook ‘n afgodsbeeld van homself in die tempel laat plaas. In Daniël 11:31 word dit bevestig dat hy die heiligdom, die vesting, sal ontheilig, die voortdurende offer sal afskaf en die ontsettende gruwel sal opstel.

Jesus het in sy profetiese rede na hierdie dramatiese ingryping verwys: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judea is na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:15-21).

Wanneer Israel in die middel van die verdrukking sal weier om die Antichris as God te aanbid, sal die Antichris ‘n wêreldwye Joodse volksmoord gelas. Dit is dan wanneer die Here sal ingryp om ‘n oorblyfsel van hulle in die woestyn te bewaar totdat die Messias na Jerusalem terugkeer.

Die vraag oor die oorsaak vir die haas onbeskryflike lyding wat Israel reeds beleef het, en wat nog in die nabye toekoms op hulle wag, word deur ‘n Messiaanse Jood, Arthur Katz, beantwoord in sy boek: The Holocaust: Where was God? An Inquiry into the Biblical Roots of Tragedy. Die “Holocaust” van Wêreldoorlog II waarna die skrywer verwys, word as “die Joodse slagting” vertaal. Die volgende is aanhalings uit Arthur Katz boek:

“Die Joodse slagting het op ‘n skokkende wyse ingedruis teen elke gedagte dat die 20ste eeu ‘n tyd van menslike vooruitgang is – soveel te meer omdat die argitekte daarvan as een van die mees verligte nasies op aarde beskou is. Die Jodendom was ná hierdie slagting só platgeslaan en gebroke dat hulle gedurende die eerste 20 jaar geen ernstige geskrifte hieroor geproduseer het nie. Eers daarna kon ons teruggaan om die tragedie te ondersoek. Ons het selfs die mening gehuldig dat die Joodse slagting nie beoordeel of verstaan kan word nie – dat dit bokant die mens se vermoë is om dit te kan begryp en verklaar. Indien dit waar is, dan is die tragedie nóg groter. Kan dit wees dat daar dinge van só ‘n omvang gebeur dat dit nie vertolk of verstaan kan word nie, en dus as betekenisloos beskou moet word? Indien dit die geval is, dan beroof sulke gebeurtenisse ons van nugtere denke en skep ruimte vir toenemende skandale en gewelddadigheid in ‘n immorele samelewing. Dit sou die lewe chaoties maak, sonder orde, betekenis of doel.

“Die Joodse slagting laat baie vrae ontstaan. Waarom het God nie in die midde van die onbeskryflike lyding ingegryp nie? Waar was God wat daarop aanspraak maak dat Hy alomteenwoordig is, almagtig en dat Hy alles weet? Het Hy nie die afgryslike tragedie gesien waarin sy verbondsvolk sistematies en op die mees dierlike en wreedste wyse uitgewis is nie? Hoe kon die lank-verwagte Messias waarvan die Christene praat, reeds gekom het en nogtans die grootskaalse vermoording van sy eie mense toelaat? Waar is die genade van die Nuwe Testamentiese God, indien so-iets in moderne tye deur die bemiddeling van ‘n ‘Christelike’ nasie – Lutherse Duitsland – kon plaasvind? Waarom was God stil?

“Ek moet óf met baie skrywers saamstem dat God dood is, óf ek moet die getuienis van die Skrifte aanvaar dat God se stiltes in direkte verhouding tot ons sondes is. Uit hierdie oogpunt gesien, moet die Joodse slagting as ‘n oordeel beskou word. Dit was nie ‘n afwykende, onverklaarbare historiese gebeurtenis nie, maar ‘n geval dat die grootte van ons lyding in direkte verhouding tot die grootte van ons sonde is. Die oordele van God het oor ons gekom omdat ons ‘n volk is wat die kennis van die Here verwerp het, nie in ooreenstemming met sy verbonde leef en nie ons plig as sy getuies nakom nie. Volgens die Bybel kom hierdie oordele veral in die laaste dae oor ons, in die tydperk kort voor die vestiging van die Messiaanse koninkryk.

“Dit is merkwaardig hoedat die vertolking van die Joodse slagting as ‘n oordeel van God op ‘n besondere wyse vir God as God verduidelik, en ook by ons die vrees vir die Here as Regter inskerp. Hierdie vrees vir die Here ontbreek pynlik in die bewussyn van die moderne mens. Ons groei op sonder om hoegenaamd ‘n sin vir die ontsag en vrees vir die Here te ontwikkel. Hierdie gebrek moet met die Joodse slagting in verband gebring word.

“Ons Jode het geen perspektief op God as Regter nie. Ons het gevolglik ‘n hoë prys vir ons gebrek aan die verstaan van God betaal – in oordeel sowel as in genade, in gestrengheid sowel as in goedheid. Ons is nie eers bewus van God se handelinge met Israel (in die verlede, hede en toekoms) nie, en neem gevolglik nie van die mees betekenisvolle openbarings van God in die Skrif kennis nie. Daar is iets omtrent God in oordeel wat Hom openbaar soos wat Hy op geen ander manier geken kan word nie. Tóg is dit die een attribuut van God waarvan ons feitlik instinktief wegskram. Ons kan nie die God van genade, liefde en regverdigheid met die God wat oordele en lyding oor mense bring, versoen nie. Indien ons God sulke dinge doen, dan word juis dit wat vir ons pynlik en onaanvaarbaar is en wat dreig om ons godsdienssin te vernietig, een van die mees kosbare openbarings van God. Is dit nie in hierdie oënskynlike weerspreking, as ons dit goed deurdink, dat die diepste openbaring van God gevind kan word nie?

“Ons kan nie die Joodse slagting uit God se oogpunt verstaan nie, omdat ons dit nie in die lig van die ewigheid beoordeel nie. Slegs ‘n ewigheidsoorweging maak hierdie ramp enigsins verstaanbaar. Dit is alleen in die hoop om die ewige vuur van God se oordele te kan vryspring, dat betekenis aan hierdie vuur verleen word. Indien die een vuur ons iets van die ander een leer en help om ons daarvan te red, dan maak dit baie sin. Indien ons die ewigheid uit ons beredenerings weglaat, dan het ons ook ‘n verwronge beeld van die huidige werklikheid. Vooraanstaande Joodse denkers weier egter om hierdie verklaring te oorweeg, en verhef hulleself daardeur teen God sodat Hy nie sy doel met hulle kan bereik nie. Hulle dwing Hom om te oordeel.

“As ons nie onsself as die skuldige party in die oordele sien wat oor ons gekom het nie, sal ons noodwendig op die punt kom waar ons vir God daarvoor sal blameer. Hy sal dan deur ons beskuldig en veroordeel word omdat Hy nie tot ons hulp gekom het nie! Dit is lasterlik om God as magteloos of kragteloos te sien om ons te red, terwyl ons nalaat om ons eie sondes te erken en ons daarvan te bekeer. Dit is in ons eie belang om die tragedies van die verlede reg te vertolk. Ons sal dwase wees as ons dit nie doen nie, want dan verbeur ons die voordeel om uit vorige ervarings te kan voorsien wat weer sal gebeur as ons nie daarop ag slaan en onsself bekeer nie. Sulke mense sal hulleself in die groot, eindtydse oordele van God oor Israel bevind, wat in Jeremia 30 as ‘die tyd van benoudheid vir Jakob’ beskryf word.

“Ek het die oortuiging dat hierdie oordele baie naby is, en dat net die hand van die Here dit nog terughou. Die gewig van ons Joodse ongeloof en onbetrokkenheid by God móét ons tot ‘n val bring. As Hy sy hand van ons af wegneem, sal ons in ‘n kort oomblik in vernietiging en ondergang wegsink. Ons is reeds onder God se veroordeling totdat ons dié Een ontvang wat ons veroordeling op Homself geneem het, naamlik die Messias van Israel – Jesus van Nasaret. In die voortgesette verwerping van God se genadegawe verkeer alle Israeli’s onder die swaard van veroordeling, tot op dié oomblik wanneer God sy hand wegneem en die oordele nie langer sal weerhou nie.

“Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ‘n wêreldwye skaal gaan ervaar, wat veel erger as die Nazi-era sal wees. Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Die Here het gesê Hy sal met ons in die gerig tree, maar Hy sal ook herstel. Hoe belangrik is dit nie om te weet dat dit dieselfde God is wat oordele beloof en dit vervul, wat ook herstel aan Israel beloof en dit sal vervul” (einde van aanhaling uit Arthur Katz se boek).

In die lig van dit wat Arthur Katz heeltemal tereg gesê het, is elke Christen daartoe verbind om die Bybels korrekte pad vir Israel se verdere herstel aan hulle voor te hou. Indien hulle nie teen die komende valse messias en die groot verdrukking gewaarsku word nie, hoe sal hulle ooit die vermoë hê om hierdie situasie reg te kan verstaan en in daardie tyd die regte besluite te neem? Dit sal nie help om net humanitêre hulp aan ‘n volk te bied wat steeds volhardend die Messias verwerp nie. Sonder Hom kan hulle nie gered word en in die seën van die Here oor hulleself, hulle land en hulle volk deel nie.

Dit is duidelik dat daar in Israel, soos onder alle nasies ter wêreld, in die eindtyd ‘n toenemende polarisasie tussen die ongelowige meerderheid en die gelowige minderheid plaasvind. Laasgenoemde word in die Bybel die “oorblyfsel” in Israel genoem, en hulle staan in die praktyk as die “Messiaanse Jode” bekend. Hoewel hulle ‘n klein minderheid is wat skielik sal verdwyn wanneer die hemelse Bruidegom hulle kom haal (Matt. 25:1-13; Joh. 14:2-3), sal daar kort ná die wegraping en die openbaring van die valse Messias ‘n herlewing in Israel plaasvind waarin 144 000 Jode gered sal word (Op. 7:1-8). Hulle sal ook baie van hulle volksgenote oorreed om die valse messias te verwerp en die ware Messias, Yeshua, aan te neem en te dien. Die Messiaanse Jode sal egter nog steeds ‘n minderheid wees, omdat die meerderheid ‘n verbond met die valse messias sal sluit en die tempel in Jerusalem sal herbou (Joh. 5:43; Dan. 9:27).

Eers met die sigbare koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal die hele oorblyfsel van Israel gered word en as ‘n gelowige volk wat almal die Here van harte dien, die beloofde Messiasryk op aarde beërf. ‘n Moeilike pad wag egter op Israel voordat ‘n oorblyfsel van hulle hierdie heerlike bestemming sal bereik.

Ter wille van ‘n breër perspektief moet ons dit duidelik stel dat die oordele van God in die groot verdrukking ook oor al die ongelowige nasies van die wêreld sal kom omdat hulle, soos die meerderheid Israeli’s, ook vir Jesus as Messias en Verlosser verwerp. Daar sal slegs vir die ware gelowiges ontvlugting uit God se oordele wees: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Buite die Here Jesus stuur enige mens se lewe op ‘n ramp af.