Program 49: Jerusalem en Babilon

Daar is twee baie ou stede wat vir eeue lank feitlik verlate was, maar bestem is om in die eindtyd ‘n oorheersende rol in wêreldgebeure te speel: dit is Jerusalem in Israel en Babilon in Irak.

Jerusalem

Die geskiedenis van Jerusalem begin net meer as 3000 jaar gelede toe koning Dawid die stad Jebus van die Jebusiete verower en dit tot Israel se hoofstad begin opbou het. Ná die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70 n.C. deur die Romeine, was die stad vir ‘n lang tyd feitlik verlate. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gesê dat Jerusalem as gevolg van sy inwoners se ongeloof verwoes en tot op die grond afgebreek sou word (Matt. 23:37–24:2). Voor die 20ste eeu is Jerusalem slegs gedeeltelik herbou en onder meer deur groepe Turke en Arabiere bewoon. Israel was toe in verstrooiing onder die nasies.

Daar is egter talle Bybelse profesieë oor die herstel van Israel na hulle land in die laaste dae, asook oor die herbouing van Jerusalem deur die herstelde Israel. Die belangrikste ontwikkelings in Jerusalem sal egter eers ná die koms van die Messias plaasvind, wanneer dié stad tot wêreldhoofstad verhef sal word, met die herstelde troon van Dawid van waar Jesus as Koning oor Israel én oor die hele wêreld sal regeer. Jeremia sê: “Kyk daar kom dae, spreek die Here, dat die stad vir die Here herbou sal word, van die toring Hanáneël af tot by die Hoekpoort. En die meetsnoer sal verder reguit aanloop tot by die heuwel Gareb en swaai na Goa toe. En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron, tot by die hoek van die Perdepoort teen die ooste, sal aan die Here heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk en verwoes word tot in ewigheid nie” (Jer. 31:38-40).

Oor hierdie wonderlike tyd van wêreldvrede wat ná Christus se wederkoms vir Jerusalem voorlê, sê die profete onder meer die volgende: “Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:3-4). In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Omdat Satan in daardie tyd gebind sal wees, sal hy die nasies nie tot haat, rebellie, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits nie. Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en in sy weë wandel: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek… In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

In hierdie tyd sal Jerusalem ‘n stad van glansryke heerlikheid wees. Elke kind van die Here moet reikhalsend na hierdie tyd van groot heerlikheid en vrede op aarde uitsien en Jerusalem nou reeds toeroep: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes. 52:1).

“Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie. Maar daar sal die Here vir ons heerlik wees… Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning” (Jes. 33:20-22).

“Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang… Jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal sekerlik verwoes word… Die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel… Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie – van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jes. 60:3, 11-12, 14, 18).

Omdat Jerusalem in die vrederyk ná die wederkoms ‘n seën vir die hele aarde sal wees, moet ons nou al in afwagting op daardie tyd saam met Jesaja uitroep: “Ter wille van Sion sal ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand” (Jes. 62:1). In hierdie donker dae van aanvegtinge teen Jerusalem as die stad van die Groot Koning, moet ons die Here ook voortdurend aan sy beloftes herinner. Hy self sê: “O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7).

Moet dus nie Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring vergeet nie – nie sy verlede nie, en ook nie sy wonderlike toekoms nie! Dawid sê in Psalm 122:6: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” Die stryd om Jerusalem is ‘n stryd tussen lig en duisternis. Die Here Jesus kom terug na Jerusalem en Hy gaan die aarde hiervandaan regeer. Dit is waarom die magte van die duisternis hierdie stad wil oorneem, en selfs dalk verwoes as hulle nie daarin kan slaag om dit militêr te verower of vir Israel deur internasionale druk tot oorgawe te dwing nie.

Die agenda van die koninkryk van die duisternis is om die voortgesette Joodse beheer van Jerusalem te beëindig, die stad tussen die Palestyne en die Jode te verdeel en dit uiteindelik heeltemal oor te neem. In die afsienbare toekoms sal hulle ook ‘n alternatiewe wêreldhoofstad in die Midde-Ooste opbou, naamlik Babilon.

Babilon

Die geskienis van Babilon dateer nog verder as dié van Jerusalem terug, want meer as vier duisend jaar gelede het ‘n agterkleinseun van Noag, naamlik Nimrod, die stad Babel gebou. Nimrod was in opposisie teen God omdat hy homself vergoddelik het. In die stad Babel het hy ‘n baie groot heidense tempel gebou, met die toring van Babel bo-op. Dit was die simbool van die mens se selfverheffing, omdat hy wou opklim na die hemel om sy eie god te word. Die Here het egter hierdie stad en toring verwoes en aan die inwoners verskillende tale gegee om daardeur van hulle verskillende volke te maak en hulle oor die hele aarde te verstrooi.

Babilon is verskeie kere in die geskiedenis deur ander volke herbou of verwoes. Daar bly egter, volgens die Bybel, nog een groot, eindtydse herstel vir Babilon oor, en die opbouing daarvan tot ‘n wêreldsentrum in die Antichris se regering. In 1978 is daar met die herbouing van eindtydse Babilon begin, en op die regte tyd sal dié stad in die kalklig van die wêreld kom. Die heidennasies sal hulleself agter die eindtydse Nimrod, die Antichris, skaar om hom na te volg en sy valse wêreldgodsdiens te beoefen. In ‘n geestelike sin sal hulle ‘n nuwe toring van Babel bou.

As ekonomiese, politieke, godsdienstige en vermaaklikheidsentrum sal die herboude Babilon volgens Openbaring 17 en 18 teen die einde van die groot verdrukking 'n groot rol speel. Daar kan verwag word dat wanneer die Antichris dit tot sy hoofstad verklaar, bouprojekte gelyktydig deur alle nasies daar onderneem sal word om hulle diplomatieke en ekonomiese gesantskappe te akkommodeer. Die stad sal 'n kosmopolitiese karakter aanneem, en in die kort ryk van die dier 'n samevloeiingspunt vir verskeie tale en kulture wees.

Hier het die verskillende volke met die taalverwarring uitmekaar gegaan, en dit sal nie verbasend wees as 'n poging aangewend word om hulle weer hier bymekaar te bring nie! Soos Babilon van ouds, moet hulle deur 'n gemeenskaplike visie en die najaag van gemeenskaplike ideale in 'n nuwe eenheidsverband saamgesnoer word. In die dae van antieke Babilon, 4 500 jaar gelede, is die eerste Verenigde Nasies-konferensie op rekord op die vlaktes van Sinear gehou. Die afgevaardigdes het gesê: "Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie" (Gen. 11:4).

In moderne tye sal hierdie deklerasie van voorneme moontlik só klink: "Kom, laat ons saamwerk en vir ons tussen die Ooste en die Weste 'n stad bou wat 'n simbool van wêreldeenheid sal wees. Laat ons 'n universele godsdiens beoefen waarin die mens onbeperkte geleenthede het om op die leer van goddelikheid uit te styg. Laat ons vir onsself een monetêre stelsel, een regering en een maatskaplike orde van wêreldburgers vestig. Alleen dán sal daar harmonie en eenheid onder alle mense wees, en sal hulle nie in selfgesentreerde en onafhanklike nasionale groepe die aarde bewoon en mekaar voortdurend beveg nie."

Die ideologie van die moderne toring van Babel is wêreldwyd reeds goed gevestig. Die finale implementering daarvan sal in groot haas en te midde van koorsagtige entoesiasme geskied.

Teen die einde van die groot verdrukking sal die boosheid in Babilon geen perke ken nie en van kwaad na erger voortwoed. Openbaring 18 sê dat die sondes van Babilon, soos dié van Sodom en Gomorra, tot aan die hemel sal reik (Op. 18:5). Dit sal 'n plek van losbandigheid en sedelose partytjies wees (Op. 18:7, 9). Musiek sal 'n belangrike aspek van die sataniese vermaak van Babilon wees (Op. 18:22). Die opening van die eerste deel van die herboude stad in September 1987 is juis met 'n internasionale musiekfees gevier. Mense sal hulle liggame én siele hier aan Isjtar, die godin van wellus, verkoop (Op. 18:13).

Met die troonsaal van Belsasar wat intussen herbou is, kan daar straks weer tydens 'n swelgparty wat met oorverdowende musiek van die onderwêreld gepaard gaan, 'n hand verskyn wat die oordele van God op die muur skryf. Soos Belsasar van ouds, sal die eindtydse koning van Babel ook vreesbevange raak wanneer die ware God sy stem laat hoor om sy toorn oor Babilon aan te kondig: "Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan" (Dan. 5:6).

Voor sy vernietiging sal Babilon as die stad van die Antichris ‘n wêreldwye aanhang geniet. Omdat Irak en Babilon midde-in die Arabiese wêreld met sy Moslem-geloof geleë is, kan dit verwag word dat die Antichris veral ook sterk bande met hierdie geloof sal hê. Hy sal die gemeenskaplike messias van al die misleide gelowe wees, maar in die Moslemwêreld self as die “Al Mahdi” bekend staan – dit is die verwagte bevryder en wêreldheerser van die Moslems.

Op ‘n vreemde manier word die terroriste-leier, Osama bin Laden, ook met die verwagte Mahdi verbind wat uit antieke Babilonië sal regeer. ‘n Gedeelte van ‘n videoband waarop Osama bin Laden verskyn, is onlangs in Amerika bestudeer. Bin Laden staan voor ‘n swartbord met die volgende Arabiese woorde daarby: “Die verwagte Verligte Een.” Volgens die Hadith, ‘n geskrif wat die Koran aanvul, word daar na ‘n wêreldmessias verwys wat in die laaste dae sal kom. Hierdie Mahdi sal glo saam met die profeet Jesus die gelowiges na ‘n oorwinning oor die ongelowiges lei.

Die video laat die vraag ontstaan of bin Laden homself  as die Mahdi sien, en of hy dalk verwag dat iemand anders in hierdie rol sal verskyn. Sy assosiasie met die Mahdi kan ‘n nuwe dimensie aan die terroristestryd verleen. Sekere gevange lede van Al Qaida het al gesê dat hulle by die beweging aangesluit het omdat hulle bin Laden as die vewagte Verligte Een sien. Beide die Sunni en Shiite Moslems in Irak verwag die koms van só ‘n messias.

Sedert die begin van 2002 teken bin Laden sy naam as “Osama bin Mohammed bin Laden” en nie meer net as “Osama bin Laden” nie. Volgens die Hadith sal die komende Mahdi onder andere uitgeken kan word aan die feit dat hy die profeet Mohammed se naam sal hê. Bin Laden verklaar homself hierdeur tot ‘n apokaliptiese figuur wat ten minste ‘n voorloper vir die komende Mahdi is.

Moslems verwag dat die “Al Mahdi” die aanhangers van hierdie geloof oral op aarde sal verenig, teen hulle onderdrukkers veg, vrede en geregtigheid in die wêreld bring, oor die Arabiere regeer, en gebede in Mekka lei waar die profeet Jesus volgens hulle ook teenwoordig sal wees.

Uit die Bybel is dit duidelik dat die komende wêreldmessias wat uit die antieke Babilon sal regeer, die Antichris sal wees. In Jesaja 10 word hy die Assiriër genoem, wat beide die huidige Sirië en Irak ingesluit het. In Daniël 11 van vers 31 af word hy die eindtydse koning van die Noorde genoem. Dit was gebruiklik in Israel om na die koning van Assirië of Babilonië as “die koning van die Noorde” te verwys. Dit is dus baie duidelik dat die Antichris wel in hierdie deel van die wêreld sy verskyning sal maak.

Dit is ook opvallend dat Amerika tans besig is om Irak te internasionaliseer, deurdat hulle sterk op groter betrokkenheid deur die Verenigde Nasies vir Irak se herbouing aandring. Alle aanduidings is daar dat Irak as ‘n neutrale land in die Midde-Ooste ontwikkel gaan word, en ‘n ideale internasionale basis vir die komende Antichris sal skep. Wanneer hy kom, sal hy Babilon verder herbou en tot ‘n belangrike sentrum verhef. Die Antichris sal ook ‘n besondere belangstelling in Jerusalem openbaar, en homself in die middel van die verdrukking in die herboude tempel tot God verklaar. Wanneer die Jode hom as gevolg hiervan as messias verwerp, sal hy ‘n Joodse volksmoord gelas. Hy sal ook ‘n groot, multinasionale mag in Israel ontplooi, omdat hy van die wederkoms van Christus aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal weet. Wanneer die ware Messias kom, sal daar volgens Openbaring 19:19-20 en Sagaria 14:12-13 ‘n oorlog tussen Hom en die magte van die valse messias in en om Jerusalem woed. Dit sal ‘n vinnige en besliste slag wees waarin die antichristelike magte deur die oordele van die Here getref sal word.

Tydens hierdie oorlog aan die einde van die groot verdrukking sal die finale ondergang van die herboude Babilon ook aanbreek. Johannes sê: “En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste… Daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging en sê: Wee, wee jou o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! … En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie” (Op. 18:1-2, 8-10, 21).

Uit hierdie skrifgedeelte is dit duidelik dat daar nie van 'n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word (Op. 18:8-10, 18; Jes 13:19; Jer. 50:40). Dit sal met 'n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, en dan sal die stad met 'n gedruis in 'n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie (Op. 16:17-19; 18:21). Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear vorm wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word (Op. 18:17-18). Die handelaars en seevaarders sal almal die verwoesting van hierdie stad met sy rykdom, prag en praal beween.

Op die plek waar Babilon gestaan het, sal net 'n verlate krater wees. Oorblyfselfs van sy verwoeste paleise en kastele sal in die krater gesien kan word, maar dit sal net 'n skuilplek vir wilde diere en onrein voëls wees (Jes. 13:21-22; Op. 18:2). 'n Onheilspellende stilte sal gedurende die vrederyk hier heers, en niemand sal ooit weer hier woon of selfs net hier oornag nie. Die Arabiese veewagters wat in die omgewing vertoef, sal sorg dat hulle voor donker van hierdie grillerige plek af weg is (Jes. 13:19-20).

Dit is die uiteinde van 'n koninkryk, 'n ideologie én 'n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai, en in openlike rebellie teen Hom geleef het. Dit is geen plek vir gelowiges om te wees nie, daarom sê die Here: "Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie" (Op. 18:4).

In die vrederyk sal Babilon ‘n verlate krater wees, terwyl Jerusalem met die Messias se teenwoordigheid in glansryke heerlikheid gehul sal wees. Dan sal die klem nie meer, soos in die kerkdispenasie, weg van Jerusalem af na die eindes van die aarde wees nie, maar konings sal van die eindes van die aarde af na Jerusalem optrek om die aangesig van die Here te soek.