Program 41: God se Skepping

Die Here word op ‘n baie duidelike wyse deur sy skeppingswerke geopenbaar: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande” (Ps. 19:2). “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Rom. 1:20). Op grond van hierdie openbaring het mense “geen verontskuldiging” as hulle God nie as Skepper erken, verheerlik en dank nie. Indien hulle sou nalaat om dit te doen, raak hulle dwaas en verduister in hulle gemoed (Rom. 1:20-21). Daar tree nie net geestelike duisternis in sulke mense se lewens in nie, maar ook morele verval. Die ontkenning van God as Skepper lei tot ateïsme, en ‘n lewenswandel waarin die mens vrye teuels aan sy bose hartstogte gee: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie” (Ps. 14:1).

Mense wat op God se skeppingswerke ag slaan, asook op sy posisie as Skepper en onderhouer van sy skepping, besef dat hulle na die beeld van God geskape is en diep van Hom afhanklik is om hulle verantwoordelikheid na te kom om die skepping te onderwerp en daaroor te heers (Gen. 1:26). Dawid het gesê: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel: skape en beeste, dié almal, en ook die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see, wat trek deur die paaie van die see. O Here, onse Here, hoe heerlik is U naam op die ganse aarde!” (Ps. 8:4-10).

Ons word reeds in die skeppingsverhaal aan die Drie-enige God voorgestel. In Génesis 1:1 staan daar: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die naam wat hier vir God gebruik word, is nie die meer algemene Yahweh wat op God se ewigheid en selfbestaan dui nie, maar Elohim wat op sy Drie-eenheid dui.

In Afrikaans word naamwoorde óf in die enkelvoud óf in die meervoudsvorm geskryf. Die Hebreeus tref egter in die meervoud ‘n verdere onderskeid deurdat dié taal ‘n duale vorm het wat na twee verwys, asook ‘n meeervoudsvorm wat na meer as twee verwys. Elohim is nie enkelvoudig en ook nie duaal nie, maar in die meervoudsvorm – m.a.w. meer as twee. Terselfdertyd is Elohim ook ‘n samestelling van ander name. Een daarvan is El, soos in Bet-El (Die Huis van die Here), en dit is duidelik in die enkelvoudsvorm. Die naam Elohim dui dus op ‘n enige Here wat terselfdertyd uit meer as twee Persone bestaan.

Dit is presies ook die implikasie van Deuteronómium 6:4 wat lui: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.” Die volgende Hebreeuse name word hier gebruik: “Hoor, Israel, Yahweh ons Elohim is ‘n enige Yahweh.” Die woord vir “eenheid” wat hier gebruik word, is echad, wat ‘n saamgestelde eenheid en nie ‘n absolute eenheid is nie. In Eségiël 37:19-22 gebruik die Here ook die woord “echad” om te sê dat hy die twee koninkryke van Israel en Juda een sal maak, sodat dit net een volk is. Dit is ook ‘n saamgestelde eenheid.

Die feit dat Elohim beide na die enige Here én in sy meervoudsvorm na meer as twee persone in die Godheid verwys, blyk duidelik uit die voornaamwoorde wat gebruik word. In verband met die skepping van die mens word daar gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:26-27). Die woord vir God wat hier gebruik word, is Elohim. Die Drie-enige God kan heeltemal tereg sê: “Laat Ons mense maak,” en dan daarna: “man en vrou het Hy hulle geskape.”

Voordat Jesus mens geword het, het Hy ‘n onafhanklike en ewige selfbestaan as God gehad. In daardie tyd, voor sy inkarnasie as Seun, beskryf Johannes Hom as die Logos, of die Woord: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense… Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom onstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh. 1:1-12).

Die Woord het vlees geword en onder mense gewandel. Hoewel Hy die nederige gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het, het al die volheid van die Godheid liggaamlik in Hom gewoon (Kol. 1:9). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is… alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape… Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).

Wanneer die Drie-enige God as Skepper verloën word, dan word een van die belangrike attribute en werke van die Here Jesus ook verloën. Dit is belangrik om die ewige selfbestaan en Godheid van Jesus te bely as ons vergifnis van ons sondes wil verkry. Omdat Hy God is, kon Hy as mens ook die Lam van God word wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29).

Wat gebeur as mense nie die Drie-enige Skeppergod van die Bybel aanvaar nie? Hulle doen dieselfde wat Lucifer in die hemel gedoen het toe hy God se gesag verwerp en homself tot God probeer verklaar het. Mense wat hulleself aan hierdie soort rebellie skuldig maak, word hulle eie god. Hulle ontwikkel ‘n valse teorie vir die oorsprong van die natuurlike skepping en word die bepalers van hulle eie lotgevalle en morele standaarde. Die drie filosofiese stelsels wat hieruit ontwikkel het, is die nou verwante evolusieteorie, panteïsme en humanisme.

Die evolusieteorie vorm die basis van die dekadente filosofieë van panteïsme en humanisme. Evolusie is ‘n hipotese waarvolgens alle lewensvorme in die verre verlede van ‘n primitiewe, eensellige organisme afgestam het. Nadat die heelal na bewering tydens die oerknal gevorm is, het die eerste sel in ‘n sogenaamde organiese sop in ‘n oermoeras ontwikkel. Verdere ontwikkeling en ‘n neiging tot groter kompleksiteit het gevolg. Volgens Charles Darwin het evolusionêre veranderings plaasgevind op grond van natuurlike seleksie, waarin net die sterkstes van ‘n bepaalde spesie oorleef het. In die stryd om oorlewing het toevallige veranderings in individuele diere en plante ingetree, en dit is na die volgende geslag oorgedra indien dit voordeel ingehou het. Op hierdie wyse kon glo heeltemal nuwe spesies ná tallose generasies ontstaan soos wat klein veranderings mettertyd vermeerder het. Die mens, homo sapiens, is die hoogste ontwikkeling onder die werweldiere, en het na bewering uit die aapfamilie afgestam.

Vandag word hierdie teorie neo-Darwinisme genoem, omdat dit hersien en aangepas is. Daar is besef dat natuurlike seleksie in sigself niks kan verander nie. Die begrip van genetiese mutasies is toe ingevoer. ‘n Toevallige, voordelige mutasie in die DNS sou dan geselekteer en voortgeplant word. Daar is egter geen bewyse in die vorm van transisionele spesies gevind (bv. ‘n vis wat besig is om in a amfibiese dier te verander, of skubbe wat vere word) wat hierdie teorie bewys nie. Bowendien is mutasies baie skaars, en evolusionêre veranderings benodig talle mutasies wat tegelyk in een enkele dier of plant voorkom. In die lig hiervan kan die vraag gevra word waarom net ‘n klompie sjimpansees of gorillas mense geword het, terwyl al die ander steeds soortgebonde is en geen tekens toon dat selfs een van hulle in ‘n ontwikkelingstadium na homo sapiens is nie.

Die groot sonde van die evolusieteorie is dat dit God as Skepper verloën. Die sogenaamde geleerde mense wat dié teorie verkondig, waaronder talle antropoloë, filosowe en natuurwetenskaplikes, eer God nie as Skepper nie, maar verklaar hulle herkoms in terme van ‘n ontwikkelingslyn in die diereryk. Dit bring nie net ‘n geestelike verblinding oor hulle nie, maar ook intellektuele dwaasheid en ‘n vervreemding van God se morele beginsels: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee… hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid” (Rom. 1:22-25).

In reaksie op die onbewysde hipoteses en foutiewe aannames van die evolusieteorie, het daar in die afgelope paar dekades ‘n akademiese dissipline ontstaan wat as “skeppingswetenskap” (creation science) bekend staan. Dit is gebaseer op die vertrekpunt dat daar ‘n intelligente Skepper was, naamlik God, en dat die skeppingsverhaal van Génesis 1 en 2, asook die sondvloed wat in Géneis 6 tot 8 beskryf word, wetenskaplik verdedig kan word. Die volkome waarheid en betroubaarheid van die Bybel word hierdeur bevestig. Daar is hoogs gekwalifiseerde wetenskaplikes op talle verskillende gebiede wat hulleself as skeppingswetenskaplikes beskou. Benewens die Instituut vir Skeppingsnavorsing in Kalifornië (Institute for Creation Research) is daar ook verskeie ander verenigings en institute wat wetenskaplike skeppingswaarhede bekend maak. Dit is ‘n sterk groeiende internasionale beweging met verskeie tydskrifte en boeke waarin die resultate van oorspronklike skeppingsnavorsing gepubliseer word.

Uit hierdie navorsing is dit duidelik dat die aarde nie so oud is soos die evolusioniste se bewering van meer as vierduisend miljoen jaar nie. Daar was ook nie so-iets soos ‘n Bybelse evolusieproses waain elke dag in die skeppingsweek miljoene jare lank was nie. Die Here het skeppingsdae gebruik, en nie evolusionêre prosesse nie. In Génesis 1 word hierdie ses dae duidelik afgebaken: “En dit was aand en dit was môre, die tweede dag” (Gen. 1:8). Die sewende dag in hierdie week was ‘n rusdag, en Israel moes dit in die Ou Testament elke week eerbiedig: “Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God… Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus” (Ex. 20:9-11). Indien die skeppingsdae elkeen miljoene jare lank was, dan moes Israel se rusdag ook miljoene jare lank duur! Vir God is niks onmoontlik nie, omdat sy woorde skeppingskrag het. Hy kan net ‘n woord spreek en dinge in aansyn roep: “Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die gees van sy mond hulle hele leër” (Ps. 33:6).

Uit Génesis 1 is dit ook duidelik dat een spesie nie uit ‘n ander ontwikkel het nie, want God het al die plante en diere “volgens hulle soorte” geskape (Gen. 1:11, 24). Die mens is die kroon van die skepping omdat net die mens na die beeld van God geskape is. Benewens die feit dat die mens ‘n komplekse brein en ‘n unieke spraakvermoë het, het hy ook ‘n godgegewe geestelike en morele bewustheid wat geen dier het nie. Omdat hy ‘n geestelike wese is, kan hy geestelik met God kommunikeer en omdat hy ‘n morele wese is, het hy die vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei.

Sedert die verskyning van Charles Darwin se boek, The Origin of Species in 1859, is daar in veral tradisioneel Christelike samelewings ontsaglike geestelike en morele skade deur die opvatting van die mens se dierlike natuur en ‘n betekenislose heelal veroorsaak. Hierdie groot leuen het ‘n ideale denkklimaat geskep vir die ontwikkeling van ideologieë soos humanisme en panteïsme. Selfs kommunisme het homself hierby geskaar, want Karl Marx het Darwin se boek as ‘n bewys aangegryp dat daar nie ‘n God is nie en dat die mens die bepaler van sy eie lotgevalle is. Ateïsme is dus regstreeks hierdeur bevorder. Vir hierdie mense word morele norme ook nie deur God en sy Woord bepaal nie, maar deur die mens self.

In die lig hiervan is dit duidelik dat die evolusionistiese lewens- en wêreldbeskouing in direkte opposisie teen die Bybelse lewens- en wêreldbeskouing is. Kom ons kyk kortliks na die implikasies van hierdie twee beskouings.

Evolusionêre humanisme lê aan die grondslag van al die heidense godsdienste. Die mens sien homself binne ‘n evolusionêre proses waarin hy gaandeweg na hoër lewensvorms ontwikkel. Vooruitgang het oor miljoene jare in die verlede plaasgevind en sal nog onbepaald in die toekoms voortduur. Die mens is op die voorpunt van hierdie ontwikkeling omdat hy die hoogste vlak daarvan verteenwoordig. Die mens beheer dus sy eie ontwikkeling en word sodoende sy eie god. Dit is die grondgedagte van humanisme. Evolusionêre humanisme kan sekulêr of panteïsties wees. In sekulêre humanisme word die bonatuurlike, geestelike dimensie ontken en word die proses van evolusionêre ontwikkeling slegs wetenskaplik verklaar. In die Tweede Humanistiese Manifes van 1973 word bv. gesê: “Geen godheid kan die mens red nie – die mens moet homself red.”

Ander vorms van humanisme is panteïsties omdat hulle beweer dat daar ‘n element van goddelikheid in alle mense én in die natuur is. Hieruit vloei die mistiese gelowe voort waarin mense natuurverskynsels aanbid, bv. die son, maan en sterre, berge, riviere en ander heilige plekke. Hulle streef ook daarna om hulle eie goddelikheid te ontdek en te ontwikkel. Dit het na die geloof oor reïnkarnasie gelei, nl. dat een mens verskeie lewensiklusse het om sy goddelikheid na hoër hoogtes te voer. Sekere individue wat 'n hoë vlak van goddelikheid bereik het, bv. Krishna, Boeddha en ander, is ná hulle dood as gode aanbid. Op hierdie manier het panteïsme na politeïsme gelei, wat ‘n veelgodendom is. Dit het nog steeds binne ‘n humanistiese konteks plaasgevind, omdat al die gode menslik in oorsprong is en in tempels woon wat deur mense gemaak is. Paulus het aan die politeïste in Griekeland die ware Skeppergod verkondig. Hy het gesê: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat die Here van die hemel en die aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie” (Hand. 17:24).

In die eindtyd is daar weer ‘n sterk terugkeer na die panteïstiese idee van die inherente godheid en psigiese potensiaal van die mens wat ontdek en vir sy voortgesette evolusionêre ontwikkeling  na homo universalis (die universele mens) gebruik moet word. Die Nuwe Era Beweging bevorder hierdie ingesteldheid oral op aarde. Een van die oogmerke hiermee is dat wonderwerke en beheer oor mistiese kragte van selfgenesing wydverspreid moet voorkom. Deur middel van Oosterse meditasietegnieke moet mense geleer word om hulle dieper self, m.a.w. die god binne-in hulle, te ontdek, asook die kosmiese kragte wat daarmee gepaard gaan.

Op hierdie wyse moet mense na hoër vlakke evolueer sodat die supermens van die toekoms ‘n nuwe wêreldorde op aarde kan skep. Dit sal onder die leiding van die hoogste supermens staan wat die verste op die leer van goddelikheid en beheer oor wonderwerkende kragte gevorder het. Volgens die Bybel sal dit die Antichris wees, wat uit die see van die nasies sal opstaan. Hy sal deur die valse profeet bygestaan word. Hulle sal die toonbeelde van die mens se hoogste evolusionêre ontwikkeling wees. Tydens hulle bewind sal die skeppergod van die hemel gelaster word (Op. 13:5-6) omdat die Antichris en Satan hulleself in die plek van God sal stel en eis dat mense net vir hulle aanbid. Hulle sal ook nie net God se geestelike wette verbreek wat bepaal dat geen ander gode aanbid mag word nie, maar ook sy morele wette, daarom sal die Antichris die mens van sonde genoem word – die wettelose. Dit sal die eindpunt van die duiwels-geïnspireerde proses van evolusionêre humanisme wees.

Hierteenoor is daar die Bybelse lewens- en wêreldbeskouing van mense wat God as die Skepper van alle dinge erken en ook diep van Hom afhanklik is om hulle uit die verdorwe toestand van die sondeval op te hef. Die Here Jesus is die Skepper van die wêreld, daarna het Hy in ‘n menslike gestalte gekom om die Verlosser van die wêreld te word, en binnekort sal Hy in heerlikheid kom om die Regter en Koning van die wêreld te wees. Die opdrag sal dan universeel uitgaan om die Skeppergod te dien: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het” (Op. 14:7).

Die begin van God se openbaring aan ons is dat Hy die Skepper is van die hemel en aarde, met alles wat daarin is. Die mens is nie deel van die diereryk nie en het allermins ook nie in ‘n evolusieproses van die hoogste werweldiere afgestam nie. Die mens is afsonderlik na die beeld van God geskape en in ‘n posisie van heerskappy oor die natuurlike skepping gestel. Dit plaas drie baie groot verantwoordelikhede op hom:

Ons eerste verantwoordelikheid is teenoor God omdat ons aan Hom aanspreeklik is om sy beeld in ons lewe in stand te hou. Dit plaas ‘n geestelike én morele verantwoordelikheid op ons om godgelykvormige lewens te lei. Die Here het gesê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Ons liggame is bedoel om tempels van die Heilige Gees te wees. As ons hierdie tempel skend, sal God ons skend (1 Kor. 3:16-17). As gevolg van die skuldlas wat deur die sondeval meegebring is, het die Here ook mens geword en ons deur sy kruisdood vrygekoop. Hy het dus ‘n dubbele aanspraak op ons, want Hy het ons gemaak én gekoop.

Ons tweede verantwoordelikheid is teenoor ander mense wat geestelik én materieel aan ons sorg toevertrou is. Ons is tot medewerkers van God geroep sodat sy doel met ander mense déúr ons bereik kan word. Mense moet kan sien dat God ons lewens deur sy herskeppende genade verander het, en dat Hy dit dus vir húlle ook kan doen.

Ons derde verantwoordelikheid is teenoor die  natuurlike wêreld met al sy hulpbronne. Ons moet God se skepping beskerm, beheer en tot sy maksimum potensiaal ontwikkel, sodat die opbrengs daarvan tot alle mense se voordeel verseker kan word. Ons mag nie verwoesters van die skepping wees wat dit oorbenut, besoedel, vergiftig en laat uitsterf en nie.

Die Here gaan mense oordeel oor die wyse waarop hulle hul verantwoordelikheid teenoor Hóm, teenoor mekaar én teenoor die natuurlike skepping nagekom het. Hierdie verantwoordelikhede kan nie nagekom word as mense hulleself nie deur Jesus Christus tot die Vader bekeer nie: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerkheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31). Hierdie Man is Jesus Christus, ons Skepper, Verlosser en Koning wat saam met die Vader en die Heilige Gees as die Here ons God vereer en gedien moet word.