Program 35: God se Wil

Dit is nodig om te weet of ons lewens in ooreenstemming met die wil van God is. Dit is per slot van sake net diegene wat die wil van die Here doen, wat eendag hemel toe sal gaan:

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matt. 7:21).

Dit is vir elke mens op aarde van die grootste belang om God se wil te ken en in ooreenstemming daarmee te handel. Die eerste tree op hierdie pad is om alle vorms van sonde en rebellie teen God te staak en tot bekering te kom. Daarna moet die geredde persoon sy hele lewenswandel volgens die wil van God inrig. Daar is dus ‘n toetreepunt m.b.t. God se wil, maar ook voortgaande vordering tot by die volheid daarvan:

“Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2).

In hierdie teks is daar duidelik van drie vlakke van die wil van God sprake, naamlik sy goeie, sy welgevallige en sy volmaakte wil.

Sy goeie wil

Om God se goeie wil te doen, vereis dat ek deur bekering in sy wil sal inkom vanuit ‘n ongeredde lewe wat buite sy wil gelei is: “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie, maar dat almal tot bekering sal kom (2 Pet. 3:9). Daar is dus niemand vir die hel gepredestineer nie – God het alle mense lief en wil graag almal red.

Dit is God se uitdruklike wil dat jy gered moet word. In Handelinge 17:30 staan daar: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.”

Die woord “verkondig” (paranggello in Grieks) beteken “verklaar” of “opdrag gee.” In die King James Version is dit meer korrek as commandeth vertaal. Mens kan die opdrag om tot bekering te kom, in ‘n sekere sin met ‘n regering se oproepinstruksies vir militêre diensplig vergelyk. Wanneer jy ‘n opdrag van hierdie aard ontvang, het jy net twee opsies – jy kan dit óf gehoorsaam óf jy kan besluit om dit te ignoreer en buite die kamp te bly. Laasgenoemde maak van jou ‘n rebel wat jouself doelbewustelik aan strafbare ongehoorsaamheid teenoor jou regering skuldig maak.

Omdat jy ‘n vrye wilsbesluit het om ooreenkomstig God se opdrag tot bekering te kom, kan jy dit weerstaan en verwerp. Dan sal jy maar die gevolge daarvan moet dra. Jesus het vir die inwoners van Jerusalem gesê: “Hoe dikwels wou Ek [julle] bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38).

Stéfanus het die ongeredde vormgodsdienstiges in Israel van dieselfde onbekeerlike gesindheid beskuldig: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees” (Hand. 7:51).

Moenie die Heilige Gees weerstaan wat met ‘n vriendelike uitnodiging na jou toe kom om jou sondes te bely en te laat staan, jou saak met die Here reg te maak en Hom te dien nie (Joh. 16:8; Matt. 21:28-32).

Sal jy die wil van die Here begin doen? Die “Here Jesus Christus [het] Homself gegee vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Gal. 1:3-4).

“En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het... in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander” (Ef. 2:1-3; vgl. 1 Pet. 4:2-3).

Die mensdom is in net twee families verdeel – die kinders van God en die kinders van die duiwel. As ons die goeie wil van God doen, noem die Here Jesus ons sy familie (Mark. 3:31-35) en ook seuns en dogters van ons hemelse Vader (2 Kor. 6:17-18). Die wêreldlinge en ongeredde vormgodsdienstiges word kinders van die duiwel genoem (Joh. 8:44; Hand. 13:10). Doen God se wil en word ‘n lid van sy familie! Dit is sy versoek, begeerte én opdrag aan almal van ons.

Sy welgevallige wil

‘n Persoon wat gered is, het die opdrag om ‘n heilige, diensbare en God welgevallige lewe te lei. Dit is sy redelike godsdiens, en die Here is met niks minder as dit tevrede nie. ‘n Marginale Christelike lewe van vleeslikheid en onvrugbaarheid word as onredelik beskou en is nie vir die Here aanvaarbaar nie. Sulke mense sal eendag met leë hande voor Hom staan, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:1-3, 9-17). Doen jy die Here se wil met betrekking tot heiligmaking en diensbaarheid?

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:1-2).

‘n Geheiligde lewe, gees siel én liggaam, is nodig ten einde insig in God se wil te hê en ‘n lewe te kan lei wat vir Hom welgevallig is. Is jou hart gereinig en dra jy vrug wat by die bekering pas, of bedroef jy die Heilige Gees in hierdie opsig? Onderwerp jou dan aan God se wil wat dié saak betref:

“Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery… Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ‘n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8).

Ek moet van alle onreinheid gereinig word en in my hele lewenswandel heilig word (1 Pet. 1:15). Die beklemtoning van hoerery hierbo bevestig maar net die feit van die algemene voorkoms daarvan. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die mens word deur die Satan uitgebuit, en seksuele versoekings kom oor feitlik alle mense se pad. Die hele wêreld is in die greep van wellus vasgevang, en die vervaardigers en uitgewers van pornografiese films en tydskrifte word skatryk.

Nog ‘n algemene struikelblok in die weg van ‘n heilige, Geesvervulde lewe, is drankgebruik:

“Julle [moet] nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is. Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:17-18).

Tabak, dwelms en baie ander dinge besoedel jou ook, “want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19). Die oplossing is duidelik: As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees (Joh. 8:36).

 Moenie met hierdie besoedelinge saamleef nie, maar doen daarvan afstand en stel jou liggaam as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer in sy diens: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1).

Sy volmaakte wil

‘n Persoon wat in ‘n volle oorgawe die stap van heiligmaking geneem en in die kennis en genade van Christus begin groei het, sal noodwendig na die volmaakte wil van die Here vir sy of haar lewe begin soek. Dit behels onder meer duidelikheid oor jou roeping, asook die beste wyse waarop dit uitgeleef kan word. Paulus sê:

“Ek vermaan julle dan… om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is” (Ef. 4:1).

Ons moenie die Here net nou en dan behaag en slegs met tussenposes onsself aan Hom wy nie. Ons moet ook nie met min vrug tevrede wees as ons veel meer vir die Here kan bereik nie. Daar moet na die volmaakte wil van die Here vir ons lewe gesoek word.

Paulus se gebed vir die Kolossense is: “dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).

Die doel van hierdie gebed vir die Kolossense is: “dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12). Hulle moet dus daarna streef om ook God se volmaakte wil te ken en te doen – nie net sy goeie en welgevallige wil nie.

Baie Christene vorder nie in hulle geestelike lewe nie, en word dus nooit regtig diensbaar in die koninkryk van God nie. Die volgende aanklag van geestelike stagnasie kan aan hulle gerig word:

“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie… Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12, 6:1).

Het jy al die Here se volmaakte plan vir jou lewe ontdek? Die Bybel sê dat jy onder die leiding van God se Gees verligte oë van die verstand moet hê sodat jy jou geestelike roeping en erfdeel onder die heiliges kan verstaan (Ef. 1:18). Jy moet ook bid dat die Heilige Gees jou met krag versterk in die innerlike mens, sodat jy in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat jy daarin gewortel en gegrond kan word en vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:16-19).

Kyk na Jesus

In verband met die wil van God, en die absolute bereidwilligheid om net dit te doen, moet ons na die volmaakte voorbeeld van die Here Jesus kyk. Hy het gesê dat Hy nie sý wil soek nie, maar die wil van die Vader wat Hom gestuur het (Joh. 5:30). In die krisisuur in Getsémané het Hy sy wil uitdruklik ondergeskik aan die wil van sy Vader gestel (Matt. 26:39). Dit het behels dat Hy Homself moes oorlewer om gekruisig te word:

“Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ‘n liggaam berei… Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom… om u wil te doen, O God… Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:5, 7, 10).

Ons moet die wil van God doen deur hierdie offer te aanvaar, en ook ons wil in alle opsigte volkome aan sy wil te onderwerp. Dan sal ons die verdorwenheid van hierdie verganklike wêreld ontvlug en deelgenote van die ewige hemelse koninkryk van die Vader wees:

“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie… Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:15, 17).

As ons deur die vervulling met die Heilige Gees verander en vernuwe word in ons gemoed, sal ons weet wat die goeie, die welgevallige en die volmaakte wil van God is omdat Hy die verborgenheid van sy wil aan ons bekend sal maak (Rom. 12:2; Ef. 1:9). In die lig van die kennis van sy wil sal ons ons lewens heilig en toewy, en ook ooreenkomstig die Here se wil gebede bid wat verhoor sal word: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh. 5:14). Doen jy sy wil van harte? (Ef. 6:6).

Verval uit God se wil

Dit is nie vanselfsprekend dat as jy die welgevallige en volmaakte wil van God doen, jy dit altyd sal aanhou doen nie. Soos nooit tevore nie sal jy in jou lewe en bediening teëstand en stryd ervaar. Die duiwel sal jou op allerlei wyses aanval en probeer ontmoedig om met die Here se werk voort te gaan. Hy sal jou versoek om sonde te doen, en jou ook aktief deur middel van leerstellige dwalings probeer mislei.

Dit sal van jou standvastigheid, eerlikheid, gehoorsaamheid en toewyding aan die Here afhang of jy in sy volmaakte wil sal bly voortgaan. Volgens Finney het predikers in die herlewingstyd dit nodig gevind om gemiddeld elke drie weke hulleself deeglik te ondersoek en opnuut aan die Here toe te wy. Hoeveel te meer het ek en jy nie nodig om gereeld die suurdeeg van sonde uit ons lewens te suiwer, met vars olie gesalf te word en ‘n hertoewyding aan die Here te doen nie? Hoe sal ons die regte besluite kan neem as ons die stem en leiding van die Here nie meer duidelik kan onderskei nie?

Net soos wat ons geestelik vooruit kan gaan en volmaak en volkome in die ganse wil van God kan staan, kan ons ook agteruitgaan en in ons geestelike lewe veld verloor. Ons kan uit God se volmaakte wil uitbeweeg sonder om radikaal van ons roeping weg te breek. Ons sal dan minder vrug dra, nie meer honderd- en sestigvoudig nie, maar nog steeds die Here dien en dinge doen wat vir Hom welgevallig is.

Deur selfondersoek en hertoewyding kan ons weer volkome herstel word. Ons kan egter ook totaal ontbetrokke in die werk van die Here raak, maar nog steeds aan ons getuienis as Christene vashou (God se goeie wil). Petrus en die dissipels het in ‘n stadium besluit om hulle roeping te laat vaar en weer te gaan visvang. Hulle het egter geen sukses hiermee gehad nie, en die Here het hulle geestelike roeping weer herbevestig (Joh. 21:3-17).

Daar is sekere stappe van herstel wat jy moet neem indien jy aan die wil van die Here ongehoorsaam was:

·       Beoordeel jou omstandighede in die lig van die aanduidings van God se wil en kyk waar jy verkeerd gegaan het.

·       Besef dat jou ongehoorsaamheid sonde is (Luk. 15:21).

·       Toon berou oor jou verkeerde wilsbesluite (Ps. 51:6).

·       Bely alle bewuste sondes teenoor die Here (1 Joh. 1:9).

·       Onderwerp jou lewe opnuut aan God se wil en vra Hom om vir jou ‘n rein hart te skep (Ps. 51:12).

·       Herstel jou stiltetyd en persoonlike toewyding aan die Here Jesus.

·       Vertrou die Here vir ‘n nuwe toerusting met krag uit die hoogte, sodat jy met vrymoedigheid sy lof kan verkondig (Luk. 24:49).

·       Bid die Here om jou roeping te herstel en jou opnuut in sy diens te gebruik (Ps. 51:14-15).

Lees Psalm 51 wat deur Dawid geskryf is toe hy uit ‘n teruggevalle toestand volkome in die guns van die Here herstel is.

Ons is baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk, en meer as ooit tevore word mense mislei om totaal verkeerde sienings te huldig oor wat die wil van die Here vir hulle lewe is. Leerstellige dwalings, morele verval en valse tekens en wonders is besig om soos ‘n vloedgolf deur kerke te stroom en hulle lidmate op die pad van verval mee te sleur. Die vormgodsdienstige verweer van hierdie misleide kerkmense dat hulle in die naam van Jesus baie dinge gedoen het, sal geen gewig voor die groot wit troon van God dra nie, en aan hulle die skok van hulle lewe besorg: “Gaan weg van My… Ek het julle nooit geken nie” (Matt. 7:21-23). Dan sal dit egter té laat wees om van hulle dwaalweë af om te draai en die wil van God uit ‘n rein hart te doen.