Program 33: God se Beeld

In Genesis 1:26 sê die Drie-enige God: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” In hierdie woorde waarmee die Skepper die Bybelse geskiedenis van die mens begin, het ons die openbaring van die ewige doel waaraan die mens sy bestaan te danke het, en ook die heerlike, ewige toekoms waarvoor hy bestem is. Die Here het besluit om ‘n goddelike wese te maak, ‘n wese wat sy beeld en gelykenis sal wees, die sigbare openbaring van die heerlikheid van die Onsigbare Een.

Om ‘n wese te hê wat geskape en tóg soos God is, was ‘n taak wat ewige wysheid geverg het. Dit is die natuur en heerlikheid van die Here dat Hy absoluut onafhanklik van enigiets is. Hy het lewe in Homself en het sy bestaan aan niemand buite Homself te danke nie. Indien die mens soos God is, moet hy ook in hierdie opsig sy beeld en gelykenis wees – hy moet word wat hy uit sy eie vrye wil besluit het om te wees. Aan die ander kant is dit die natuur en heerlikheid van die mens om in alles van sy geseënde Skepper afhanklik te wees. Hoe kan hierdie teenstelling versoen word – ‘n wese wat afhanklik en tóg selfbepalend is, geskape en tóg goddelik? In die mens self word hierdie misterie opgelos. As mens gee God aan hom lewe, maar verleen ook aan hom die wonderlike mag van ‘n vrye wil. Dit is slegs in die proses van persoonlike en vrywillige toeëiening dat enigiets so hoog en heilig soos gelykvormigheid aan God die mens se deel kan wees.

Toe sonde ingekom en die mens uit sy hoë roeping verval het, het God nie sy doel met hom laat vaar nie. Die sentrale gedagte van sy openbaring aan Israel was: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Gelykvormigheid aan God in dit wat sy hoogste volmaaktheid behels, is die hoop van Israel. Verlossing het nie ‘n hoër ideaal as dit wat in die skepping geopenbaar is nie – dit kan slegs die ewige doel van God opneem en uitwerk.

Dit was met hierdie doel in gedagte dat die Vader die Seun na die aarde toe gestuur het as die uitdruklike beeld van Homself. Jesus Christus, wat in die gestalte van God was, het Homself verneder en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. As ‘n nederige mens het Hy nogtans ‘n goddelike, sondelose en volmaakte lewe gelei, en in daardie opsig vir ons ‘n voorbeeld gestel oor hoe ons moet leef. In Hom is die God-gelykvormigheid waarvoor ons geskape is, en wat ons persoonlik moet aanneem om dit ons eie te maak, in menslike gestalte geopenbaar. Die begeerte na ons lank-verlore gelykvormigheid aan God moet opgewek word wanneer ons na Christus kyk.

Daar was ‘n tweevoudige werk wat Christus moes doen om die hernuwing van ons beeld te bewerkstellig. Die een was om in sy lewe die gelykenis van God te vertoon sodat ons kan weet wat God-gelykvormigheid beteken, en ook te verstaan wat ons van Hom as ons Verlosser moet verwag en aanvaar. Toe Hy dit gedoen het, en aan ons die voorbeeld van ‘n God-gelykvormige lewe in menslike gedaante gegee het, het Hy gesterf. Hierdeur het Hy sy eie lewe in die gelykenis van God teruggekry en tot ons beskikking gestel, sodat ons in die krag van sy opstandingslewe volgens die beeld kan leef van dit wat ons in Hom gesien het. Wat Hy as ons Voorbeeld in sy lewe gewys het, het Hy as ons Verlosser deur sy dood gekoop om aan ons te kan skenk.

Die leerstelling dat Jesus Christus nie alleen op aarde geleef het om vir ons redding te sterf nie, maar om ook aan ons te wys hoe ons moet leef, kry nie voldoende prominensie in prediking nie. Die absolute noodsaaklikheid om die voorbeeld van Christus se lewe na te volg, is ‘n kenmerk van ware dissipelskap. Indien versoening en vergifnis alles is, en die Christus-gelykvormige lewe iets sekondêrs, is dit vanselfsprekend dat die aandag hoofsaaklik op eersgenoemde gevestig sal word. Dit sal tot ‘n neiging lei om terug te sit nadat vergifnis van sonde verkry is.

Indien, aan die ander kant, gelykvormigheid aan die beeld van God se Seun die hoofdoelwit is, en die versoening ‘n middel om hierdie doel te verwesenlik, soos met die skepping van die mens in die vooruitsig gestel, dan sal dit altyd op die voorgrond gestel word wanneer daar oor bekering en vergifnis gepreek word. Die versoening van die kruis en die vereenselwiging met die kruis as die voorwaarde vir ware dissipelskap, moet met dieselfde beklemtoning verkondig word. Geloof in Jesus en gelykvormigheid aan sy karakter sal dan as onafskeibaar beskou word. Alleen dan sal ons in staat wees om na die volmaaktheid voort te gaan en beelddraers van God te wees.

Kom ons kyk na ‘n aantal aspekte van ons geestelike lewe waarin ons uitdruklik beveel word om aan die Here Jesus gelykvormig te word. Die eerste opdrag sluit ons hele lewenswandel in. Ons kry die volgende stelling in 1 Johannes 2:6: “Hy wat sê dat hy in [Christus] bly, behoort self ook te wandel soos Hy gewandel het.” Die vrug van ‘n lewe in Christus is ‘n lewe soos Christus. Die twee opdragte is ewe belangrik: Ek moet in Christus bly, en ook wandel soos Hy gewandel het. Hierdie verhouding word ook in Johannes 15 verduidelik. Dit is net die loot wat in die wynstok bly, en ook skoongemaak en gesnoei is, wat veel vrug sal dra. Ons kan nie soos Christus wandel as ons nie in Hom bly en ook van elke besoedeling van die vlees en die gees gereinig word nie (2 Kor. 7:1).

Dit is van grondliggende belang in almal van ons se geestelike lewens om gelykvormig aan die dood en opstanding van Christus te word. Die Bybel sê: “Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding… Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe… So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6: 5, 10, 11). Soos Christus, het die gelowige ook vir die sonde gesterf – hy is een met Hom in die gelyk­vormigheid aan sy dood. Die kennis dat Christus as gevolg van ons sonde gesterf het om versoening te bewerk, is noodsaaklik vir ons regverdig­making. So ook is die kennis dat Christus – en ons saam met Hom in die gelyk­vormigheid aan sy dood – met betrekking tot die sonde gesterf het, nood­saaklik vir ons heilig­making. Laat ons probeer om dit te verstaan.

Dit was as die tweede Adam dat Christus gesterf het. Ons het met die eerste Adam saamgegroei deur die gelykvormigheid aan sy dood. Hy het geestelik gesterf, en ons saam met hom, en die krag van sy dood werk in ons. Op ‘n soortgelyke wyse het ons ook met Christus saamgegroei in die gelykvormigheid aan sy dood: Hy het vir die sonde gesterf, en ons saam met Hom. Nou werk die krag van sy dood in ons. Ons is inderdaad dood vir die sonde, so seker as wat Hy self is.

Die geheim van heiligmaking is dat ons, soos Christus, ook vir die sonde moet sterf. Die Christen wat dit nie verstaan nie, dink altyd dat die sonde té sterk vir hom is, dat dit steeds mag oor hom het en dat hy dit soms moet gehoorsaam. Hy dink egter net so omdat hy nie weet dat hy, soos Christus, dood vir die sonde is nie. Indien die gelowige nóg sondig, is dit omdat hy nie sy voorreg gebruik om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is nie. As gevolg van onkunde, ‘n gebrek aan waaksaamheid, of ongeloof vergeet hy die betekenis en krag van sy gelykvormigheid aan Christus se dood, en sondig dan weer. Indien hy egter ‘n vaste geloof het in wat sy deelname aan Christus se dood beteken, het hy die krag om sonde te oorkom. Hy verstaan duidelik dat daar nie gesê word: “sonde is dood” nie. Nee, sonde is nie dood nie. Die sonde leef nog en werk deur die vlees; maar die gelowige is self vir die sonde dood en lewend vir God. Sonde kan dus nie vir ‘n enkele oomblik sonder sy toestemming mag oor hom hê nie. Indien hy sondig, is dit omdat hy homself daaraan onderwerp en dit toelaat om oor hom te heers.

Geliefde Christen wat daarna streef om soos Christus te wees, neem die gelykvormigheid aan sy dood as een van die heerlikste dele van die lewe wat jy lei. Probeer om ‘n dieper begrip te verkry van wat dit beteken om te leef soos iemand wat dood vir die sonde is; as een wat, deur te sterwe, van die heerskappy daarvan bevry is en nou in die nuwe lewe deur Jesus Christus daaroor kan heers. Dan sal die gelykvormigheid aan sy dood toenemend in jou werksaam wees terwyl Christus se dood sy volle krag in jou hele lewenswandel sal openbaar. Dit is waarom Paulus sê: “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:2). In die krag van Christus se opstandingslewe kán jy oor die sonde triomfeer.

Een van die uitstaande eienskappe van die Drie-enige God is liefde, en sy liefde word deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort sodat ons hele lewe daarin gewortel en gegrond kan word. Dit is nie ‘n begeerlike liefde nie, maar ‘n diensbare en opofferende liefde wat uitreik na ‘n wêreld in sy nood. “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê” (1 Joh. 3:16). Dit beteken ook om ‘n lewe van eiebelang en finansiële gewin af te lê sodat jy diensbaar in die koninkryk kan wees. Sonder ‘n vervulling met hierdie liefde kan ons nie in die voetspore van Jesus wandel nie. Hy het vir sy dissipels gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35).

‘n Ander opdrag het Jesus self in Joh. 13:15 aan ons gegee: “Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.” Die Here Jesus het die werk van ‘n slaaf gedoen deur sy dissipels se voete te was. Sy liefde het Hom gemotiveer om die mees nederige werk te doen, sodat ander gereinig en geestelik opgebou kon word. Hy het ook vir sy dissipels gesê: “Ek is onder julle soos een wat dien” (Luk. 22:27). Hierdeur het Hy vir ons ‘n voorbeeld gestel om laag neer te buig en selfs die nederigste diens in sy koninkryk te verrig.

Ons moet, soos Christus, ook bereid wees om onregverdig te ly wanneer ons aan ander goed doen. Petrus sê: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetspore kan navolg” (1 Pet. 2:21).

Vergewensgesindheid is ‘n wonderlike, goddelike eienskap van Jesus waarin Hy ook van ons verwag om navolgers van Hom te wees. Paulus sê: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13). Het jy werklik almal vergewe wat verkeerd teenoor jou opgetree het – selfs tot sewentig maal sewe toe? Dit het baie ernstige gevolge as jy sou nalaat om te vergewe. Die Here Jesus sê: “As julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” (Matt. 6:15).

‘n Baie belangrike aspek waarin ons soos Christus moet word, is in sy hoedanigheid as die Gestuurde Een. Hy het die goeie nuus van God se reddende genade in die wêreld kom verkondig en verwag van ons om hiermee voort te gaan totdat Hy kom. Hy het vir sy dissipels in die bovertrek gesê: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21). Later het Hy vir ‘n groter groep volgelinge gesê: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem, sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Jesus Christus is die lig van die wêreld, maar Hy het vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld” (Matt. 5:14). Deur van Hom te getuig, laat ons hierdie lig in ‘n donker wêreld skyn.

‘n Verdere aspek van Christus se lewe wat in ons gestalte moet aanneem, is die intensiewe gebruik van die Skrifte as ‘n vaste riglyn van God se wil. Wat die Here Jesus as mens hier op aarde bereik het, is grootliks aan sy gebruik van die Skrifte te danke. Hy het daarin die weg wat Hy moes bewandel, gevind, die geestelike voedsel en krag wat Hy vir sy werk nodig gehad het, asook die wapens waardeur Hy elke vyand kon oorwin. Sy hele lewe was die vervulling van dit wat in die Boek oor Hom geskryf is. Bewyse hieroor is volop: In sy versoeking in die woestyn het Hy deur sy uitspraak: “Daar is geskrywe…” vir Satan oorwin (Matt. 4:4). In sy verskille met die Fariseërs het Hy Homself telkens op die Woord beroep: “Wat sê die Skrif? … Het julle nie gelees nie? … Is dit nie geskrywe nie?” In sy gesprekke met die dissipels het Hy ook die bewyse vir sy lyding en opstanding uit die Skrif aangehaal: “Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur?” (Matt. 26:54). Hoeveel te meer moet ons voetstappe nie in die Woord veranker wees nie? Ons moet die Woord van God in ons harte bêre dat ons teen Hom nie sal sondig nie. Die geestelike rykdomme van die Here word hierdeur aan ons gebied, want elke Bybelse belofte is in Christus Jesus ja en amen (1 Kor. 1:20). Hy is self die vleesgeworde Woord (Joh. 1:14), daarom spreek Hy deur die Woord tot ons. As jy soos Christus wil wees, dan moet jy die Heilige Gees deur intensiewe Bybelstudie en persoonlike toewyding die geleentheid gee om die Woord van God op die tafels van jou hart te skrywe. Dit is die grondwet van jou lewe.

Jesus stel ook aan ons ‘n voorbeeld deurdat Hy met die Heilige Gees vervul is. Sedert sy hoë geboorte het Hy die Gees gehad wat in Hom gewoon het, maar daar was ‘n tyd, voor sy openbare bediening, toe Hy deur die Gees spesiale kommunikasie met die Vader nodig gehad het. Ons lees: “En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei” (Luk. 4:1). Die neerdaal van die Heilige Gees op Hom by die Jordaanrivier waar Hy gedoop is, was ‘n werklike gebeurtenis: Hy is met die Gees vervul. Hy het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekeer, en daarna nog duideliker as ooit tevore die leiding deur die Heilige Gees ervaar. In die woestyn het Hy geworstel en oorwin, nie in sy eie goddelike krag nie, maar as ‘n man wat deur die Heilige Gees versterk en gelei is. Ook in hierdie verband het “Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk geword” (Heb. 2:17). Die teendeel van hierdie stelling is ook waar: die broeders word in alle opsigte aan Hóm gelyk gemaak. Hulle word geroep om soos Hy te lewe. Dit word nie van hulle vereis sonder om dieselfde krag tot hulle beskikking te stel nie. Hierdie krag is die Heilige Gees wat in ons woon, wat ons van God ontvang het. Soos wat Jesus deur die Gees gevul is en daarna deur die Gees gelei is, so moet ons ook deur die Gees vervul en gelei word. Die opdrag in Efésiërs 5:18 is: “Word met die Gees vervul.”

Hy wat soos Jesus wil leef, moet hier begin: hy moet deur die Gees vervul word. Wat die Here van sy kinders vra, gee Hy eers aan hulle. Hy vra van ons volkome gelykvormigheid met Christus omdat Hy aan ons, soos aan Jesus, die volheid van die Heilige Gees gee. Ons moet met die Gees vervul word. Hier het ons die rede waarom die leer oor die navolging van en eenheid met Christus so min prominensie in die kerk geniet. Mense soek in hulle eie krag daarna, met slegs die hulp van sekere werkinge van die Heilige Gees. Hulle verstaan nie dat niks minder as die vervulling met die Heilige Gees nodig is nie.

Dit word nie genoegsaam besef nie dat die opdrag: “word met die Gees vervul” vir elke Christen bedoel is. Jesus as Verlosser vervul elkeen wat glo en Hom daarvoor vertrou, met die Heilige Gees. Slegs wanneer die kerk eers die vervulling met die Heilige Gees verkondig, sal die gelykvormigheid aan Christus gesoek en verkry word. Mense sal dan verstaan en erken dat om soos Christus te wees, ons deur dieselfde Gees gelei moet word, en, om soos Hy deur die Gees gelei te word, moet ons met die Gees vervul word. Niks minder nie as die volheid van die Gees is nodig om soos Christus te leef. Die Heilige Gees sal Jesus in jou verheerlik en jou herinner aan alles wat Hy gesê het (Joh. 14:26; 15:26; 16:14). Hy sal jou geestelike oë oopmaak sodat jy met ‘n onbedekte gesig die heerlikheid van die Here sal aanskou, terwyl jy van gedaante verander word na dieselfde beeld van heerlikheid (2 Kor. 3:18).

‘n Laaste aspek van die Christus-gelykvormige lewe wat ek wil noem, is dié van gebed. Die Bybel sê oor Jesus: “En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ‘n eensame plek vertrek en daar gebid” (Mark. 1:35). In sy lewe van eensame gebed is my Verlosser ook my voorbeeld. Hy kon nie die hemelse lewe in sy siel in stand hou sonder om Homself voortdurend van mense af te sonder en met sy Vader te kommunikeer nie. Die hemelse lewe in my het dieselfde behoefte aan volkome afskeiding van mense – nie net vir enkele oomblikke nie, maar lank genoeg vir gemeenskap met die Fontein van Lewe, die Vader in die hemel. Waarom het die Verlosser ure van gebed nodig gehad? Het Hy nie die seën geken om te midde van sy besige lewe sy siel tot God op te hef nie? Het die Vader nie in Hom gewoon nie, en het Hy nie in die diepte van sy hart onafgebroke gemeenskap met Hom gehad nie? Ja, daardie verborge lewe was inderdaad sy deel. Daardie lewe, onderworpe aan die wet van ‘n menslike bestaan, het egter die behoefte aan voortdurende verkwikking en vernuwing uit die fontein gehad. Dit was ‘n lewe van afhanklikheid. Omdat hierdie lewe sterk en waar is, kan dit nie die verlies aan direkte en konstante gemeenskap met die Vader, met wie en in wie dit sy bestaan en seën te danke het, verbeur nie.

Wat ‘n les is dit nie vir elke Christen nie! Verlengde kontak met mense is uitputtend en nadelig vir ons geestelike lewe. Dit bring ons onder die invloed van die sigbare en tydelike dinge. Niks kan vir die verlies aan verborge en direkte gemeenskap met God vergoed nie. Selfs werk in die diens van God is vermoeiend. Ons kan nie aanhou om ander te seën sonder om ons toerusting met krag uit die hoogte te vernuwe nie. Ek moet elke dag in die verborgene gemeenskap met die Vader hê. Soos Christus, is my lewe verborge in die hemel, in God. Dit het daagliks tyd nodig om uit die hemel gevoed te word. Die krag om ‘n hemelse lewe op aarde te lei, kan net uit die hemel kom.

Groot en onbeskryflike heerlikheid wat nog nie eers in die hart van die mens opgekom het nie, wag op ons wanneer ons by die koms van Christus met verheerlikte liggame beklee sal word en ons hemelse woning in die Vaderhuis sal kry (Fil. 3:20-21; 1 Kor. 2:9). Johannes sê: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees” (1 Joh. 3:2). Die beeld en gelykenis van God sal ten volle in ons weerspieël word. Dan sal ons regters wees wat saam met Christus die wêreld sal oordeel (1 Kor. 6:2) en ook konings wat saam met Hom sal regeer (Op. 5:9-10).

Nou, in hierdie bedeling, is ons egter nie konings en regters nie, maar soldate van die kruis, diensknegte van God en volgelinge van die lydende Christus wat deur die wêreld verwerp is. Ons gaan deur vele verdrukkinge in die koninkryk van God in, maar in dit alles is ons meer as oorwinnaars in Hom wat ons liefgehad en sy lewe vir ons afgelê het. As ons nie in die vlees wandel nie, maar in die Gees, sal ons God behaag deur ‘n lewe te lei wat soos dié van sy Seun is.