Program 29: Eenheid en Polarisasie

Die begrippe van eenheid en polarisasie staan wesenlik teenoor mekaar. Kom ons neem eers die begrip van eenheid in oënskou:

Eenheid

Daar is ‘n onbybelse en sterk antichristelike denkwyse wat in die eindtyd baie bevorder word, naamlik dié van monisme – alles is een. Dit word ook holisme genoem, gebaseer op die idee dat alle kleiner eenhede weens die skeppende en dinamiese eienskappe daarvan in groter eenhede moet opgaan. Hierdie proses gaan voort totdat alles in die kosmos uiteindelik een is. Die vader van die filosofie van holisme is genl. Jan Smuts, ‘n voormalige premier van Suid-Afrika en ‘n stigterslid van die Verenigde Nasies in 1945. Sy boek, “Holism and Evolution,” het in 1926 verskyn en word vandag nog deur ondersteuners van die Nuwe Era Beweging as ‘n bevestiging vir hulle eenheidsideologie aangehaal.

Hierdie soort eenheid moet deur sintese, samegroeiing en die oorbrugging van grense uitgebrei word totdat die eindideaal van kosmiese eenheid bereik is. Volgens voorstaanders van die Nuwe Era Beweging is dit die enigste filosofie wat volkome versoening en onderlinge harmonie in die heelal tot stand kan bring. In ‘n holistiese samegroeiingsproses moet daar eers eenheid binne ‘n bepaalde nasie geskep word (bv. ‘n verenigde Suid-Afrika), daarna moet dit in ‘n steeks- en kontinentale verband in groter eenhede opgaan (bv. ‘n Afrika-Unie of ‘n Europese Unie), om dan uiteindelik onder die vleuels van ‘n Verenige Nasies-regering deel van ‘n wêreldstaat sonder grense te word. Dan sal die hele wêreld net een regering en een politieke leier hê, en dus nie meer verder in aparte state verdeel wees nie.

Op ‘n soortgelyke wyse moet daar ook ‘n holistiese samegroeiing van alle godsdienste op aarde wees. Dit kan op die laagste vlak in die skepping van ekumeniese strukture vir verskillende Protestantse kerke begin, daarna in algemeen Christelike ekumene oorgaan waarin eenheid ook met Rooms-Katolieke en onafhanklike Christelike kerke nagestreef word, en uiteindelik in multigodsdienstige of intergeloofsekumene ontwikkel waarin universele eenheid tussen alle gelowe op aarde geskep word. Dit word deur ekumeniste as die enigste weg na godsdienstige vrede en samehorigheid op aarde voorgehou – m.a.w. die einde van konflik en stryd. As samebindende faktor word die idee verkondig dat alle gelowe op aarde dieselfde skeppergod aanbid, en ook almal tot liefde, verdraagsaamheid en vreedsame naasbestaan verbind is.

In die lig van hierdie eenheidsbeginsel word dit ontken dat daar fundamentele en onversoenbare verskille tussen die onderskeie gelowe is. Enige persepsie tot dié effek word aan onkunde toegeskryf, asook selfsugtigheid en ‘n onwilligheid om andersdenkendes te erken en die hand van vriendskap en versoening na hulle uit te reik. Deur die humanistiese beginsels van “vryheid, gelykheid en broederskap” op die godsdienstige terrein toe te pas, moet die grondslag gelê word sodat alle kleiner eenhede in die groter kosmiese geheel kan opgaan.

Persone wat holisties dink, ontken ten sterkste dat een godsdiens reg en al die ander verkeerd is, want hulle sien almal as aanvullend tot mekaar en derhalwe verbonde tot die bou van versoeningsbrûe. Hulle ontken ook dat die mens moreel verdorwe as gevolg van die sondeval is, en beweer dat alle mense inherent goed is – hulle tree net soms as gevolg van verkeerde invloede en negatiewe omgewingsfaktore sleg op. Hulle verwerp ook heftig die idee dat een groep mense op pad hemel toe en die ander op pad hel toe is. Volgens hulle is daar nie eers ‘n duiwel of ‘n hel waar boosdoeners vir ewig gestraf sal word nie. In die Antichris se eenheidsdenke is daar net ‘n hemel en almal is daarheen op pad.

Polarisasie

Hierteenoor is daar die Bybelse begrip van polarisasie wat op tweeledigheid of onderskeiding gebaseer is. Die Bybel leer ons nie monisme nie, maar ‘n dualisme, wat ‘n tweeledige werklikheidsbeeld is. Ten einde verskillende kategorieë van dinge konseptueel van mekaar te kan onderskei, moet ‘n mens analities kan dink. In die proses moet jy ook radikaal verskillende dinge, insluitende teenoorgestelde konsepte, van mekaar kan onderskei. Teenoor die moniste se sintetiese denke moet jy as Bybelgelowige Christen die vermoë hê om antiteties te kan dink. In ‘n antitese word onversoenbare, teenoorgestelde dinge geïdentifiseer. Dit het ‘n gepolariseerde werklikheidsbeeld tot gevolg, waarin die twee uiterste pole teenoor mekaar gestel word. Voorbeelde van sulke teenoorgestelde begrippe is God teenoor Satan, die hemel teenoor die hel, lig teenoor duisternis, die waarheid teenoor die leuen, geregtigheid teenoor ongeregtigheid, die smal weg teenoor die breë weg, die enigste ware godsdiens teenoor al die valse godsdienste, ens. Ons moet altyd van hierdie twee kategorieë van onversoenbare werklikhede bewus wees en daarop ingestel wees om deur fundamentele denke ‘n nóg sterker standpunt teen verkeerde dinge in te neem, eerder as die kompromiemakende benadering om ‘n brug tussen hulle te probeer bou.

Reg aan die begin van die Bybel leer die Here al vir ons die beginsel van teenstellende, konseptuele denke: “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem” (Gen. 1:3-5). So ook het God skeiding tussen die aarde en die see gemaak, asook tussen die verskillende spesies wat Hy geskape het. Later, toe volke ontstaan het, het Hy ook verskillende tale aan hulle gegee en die grense van hulle woonplekke vasgestel (Gen. 11:7-9; Hand. 17:26). Ons moenie ons onderskeidingsvermoë prysgee en dinge probeer saamvoeg wat God geskei het nie.

In die eindtyd behoort die onderskeid tussen reg en verkeerd nóg duideliker en meer uitdruklik te wees. Die Here gee aan ons in Openbaring 22:11 die volgende opdrag tot gepolariseerde denke en optrede: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” Ons moenie die morele pole probeer versag en nader aan mekaar bring deur ‘n meer verdraagsame houding teenoor sondes soos drankgebruik, diefstal, korrupsie, buite-egtelike verhoudings, homoseksualisme, dobbelary en baie ander sondes in te neem nie. Ons moet onsself eerder nóg verder van hierdie dinge af distansieer. Paulus sê: “En hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11).

Dieselfde beginsel geld ten opsigte van godsdienstige sake. Ons mag onder geen omstandighede godsdienstige kompromie tussen die verskillende gelowe maak en daardeur ander gode voor die aangesig van die Here bring nie (Ex. 20:3). Die Nuwe Testament sê duidelik: “Moenie in dieselfde juk trek saam met die ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir my ‘n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Kor. 6:14-18).

Polarisasie van hierdie aard is ‘n absolute noodsaaklikheid as ons getrou aan die Here wil bly. Terwyl die proses van polarisasie verder verdiep, neem die bruid van Christus – dit is die weergebore Christene – duideliker gestalte aan, en die bruid van die Antichris – dit is al die geestelik misleides in die wêreld – neem ook as ‘n ekumeniese moederorganisasie vir al die afvalliges vorm aan. Laasgenoemde sluit ook ongeredde en misleide lede van Christelike kerke in, wat bereid is om tot hulle eie ondergang met die nie-Christelike gelowe hande te vat.

In die eindtyd sal die polarisasieproses tussen die lede van God se koninkryk en die lede van Satan se koninkryk ‘n finale fase betree. Volgens die gelykenis van die onkruid in Mattheus 13:24-30 sal die onkruid, dit is al die onregverdiges, in bondels saamgebind en in die vuur gegooi word, terwyl die koring, dit is die regverdiges, in die hemelse skure bymekaargemaak sal word. Die bewandelaars van die smal en die breë weg sal dan hulle ewige bestemming bereik. Op die oomblik vind hierdie polarisasieproses nog plaas, en kan mense hulleself steeds van die een groep distansieer en by die ander groep skaar. Dit vind plaas deurdat ‘n persoon homself van Satan tot God bekeer en sodoende uit die duisternis tot die lig oorkom. Daar kom egter ‘n tyd wanneer hierdie polarisasieproses afgehandel sal wees en niemand meer sal kan omdraai nie.

Die implikasies van polarisasie vir ‘n Christen is baie duidelik. Hy moet homself van die bose wêreld afskei, afsonder en nooit na universele eenheid tussen alle gelowe streef nie. Wanneer daar van Christelike eenheid gepraat word, dan is dit iets wat binne ‘n reeds gepolariseerde situasie net onder weergebore kinders van die Here bestaan. Dit is ‘n geestelike band wat hoegenaamd nie in ekumeniese liggame of eenwording tussen verskillende denominasies hoef te manifesteer nie.

Terwyl die Christen ‘n moreel rein en afgesonderde lewe handhaaf, asook leerstellige suiwerheid en die weiering om kompromieë aan te gaan, sal hy vind dat toenemende druk deur die teenoorgestelde pool van ‘n antichristelike sondekultuur en ongekwalifiseerde eenheidsdenke op hom toegepas word. Die tweede pool is daarop ingestel om die eerste een uit te wis, en doen alles in sy vermoë om die ware Christene te infiltreer, te mislei, wêrelds ingestel te kry en van die Here Jesus afvallig te maak. Ons moet egter daarteen waak om nie die knie voor Baäl te buig nie, want dit is ‘n stryd tussen die ware Christus and die Antichris waarby ons ook betrokke is. Uiteindelik sal hierdie twee leiers en hulle volgelinge in ‘n direkte, fisiese konfrontasie teenoor mekaar te staan kom. Dit sal by die slag van Armagéddon wees:

“En ek het die dier (die Antichris) en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit (Christus), en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid ge­doen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is ver­sadig van hulle vlees (Op. 19:19-21). Universele Christelike eenheid sal eers bestaan wanneer die teenoorgestelde antichristelike pool vernietig is.

Ander vorms van polarisasie

Die proses van verskerpte polarisasie sal ook sy stempel op ander terreine van die samelewing afdruk. Op ekonomiese gebied behels dit ‘n proses waarin dié wat ryk is, nog ryker sal word, en die armes nog armer. Dit is duidelik dat groot rykdom ook met toenemende ongeregtigheid, bandeloosheid, korrupsie en die uitbuiting van armes gepaard gaan. Jakobus sê: “Kom nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot ‘n getuienis teen julle wees en sal soos ‘n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde ‘n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op ‘n slagdag. Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie” (Jak. 5:1-6).

Dit is duidelik dat daar ‘n ekonomiese polarisasieproses in die wêreld bestaan. Daar is ‘n groep baie ryk mense (miljoenêrs en biljoenêrs), en hierteenoor ‘n groot groep mense wat feitlik net van die hand tot die mond lewe. Selfs baie van hulle wat oënskynlik goed daaraan toe is, sal nie vir meer as ‘n paar maande sonder ‘n salaris of ander inkomste kan oorleef nie. Hulle word deur regerings, groot bankiers en eiendomsmagnate uitgebuit en moet amper hulle hele salaris aan belastings, huispaaiemente en ander huurkope bestee. Hulle word dikwels ook op ‘n bedrieglike wyse uit beleggings en spaargeld verkul.

Teenoor die superrykes word nie net die aanklag gemaak dat hulle die armes uitbuit en hulleself ten koste van dié mense verryk nie, maar ook dat hulle rykdomme vir die roes opgegaar word. Dit word nie gebruik om God en hulle naaste mee te dien nie. Slegs hulle luukse en bandelose leefwyse word daarmee gefinansier.

Ook in die natuur is daar ‘n duidelike polarisasieproses aan die gang deurdat uiterste toestande aan die ontwikkel is. Dit sluit uiterste koue en hitte in, asook uiterste droogtes en oorstromings. Groter druk sal nie net op mense toegpas word nie, maar ook op die aarde en sy natuurlike hulpbronne. Selfs die aardkors sal in ‘n stadium begin swig onder die druk, sodat daar veel erger aardbewings en vulkaniese uitbarstings as ooit tevore sal wees. Mense sal aan hierdie uiterste toestande gewoond moet raak, want die Here Jesus het gesê dat daar ‘n groot verdrukking kom soos wat daar van die begin van die wêreld af nog nooit gewees het en ook nooit weer daarna sal wees nie (Matt. 24:21). Ons sal in hierdie tyd onwankelbaar or die Rots, Jesus Christus, moet vasstaan en geensins toelaat dat ons deur ‘n verslegtende en boser wordende wêreld ingetrek of tot oorgawe en konformisme gedwing word nie. Ons moet in hierdie tyd heiliger word terwyl die wêreld besig is om al hoe vuiler en boser te word.