Program 28: Die Profetiese Rede

In sy profetiese rede het die Here Jesus duidelike tekens aan sy dissipels gegee oor wanneer Jerusalem verwoes en die tempel afgebreek sou word, en ook oor wanneer Hy weer sal terugkom:

“En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie. En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matt. 24:1-3).

In die rede wat hierop gevolg het, word verskillende belangrike gebeurtenisse van eietydse belang vir die Jode van die eerste geslag ná die verwerping en kruisiging van Christus bespreek, asook gebeurtenisse wat op die laaste geslag voor die wederkoms van Jesus betrekking het. In hierdie profesieë moet onderskeid tussen eerste geslag- en laaste geslag-gebeure getref word.

Wanneer daar oor die onmiddellike toekoms van Jerusalem en sy inwoners in die eerste eeu gepraat word, spreek Jesus die ongelowige Joodse volksleiers aan wat Hom verwerp het net soos wat hulle vaders die profete verwerp en doodgemaak het. Hulle het die maat van hul vaders se sondes vol gemaak en sou die noodwendige gevolge daarvan moes dra:

“Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:36-39).

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… want daar sal groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20, 23-24).

Wanneer Jesus na die laaste geslag verwys, word dit in die konteks van die herstel van Jerusalem en die groot verdrukking met sy oorloë, natuurrampe en benoudheid onder die nasies geplaas, wat op sy wederkoms sal uitloop. Dit is die geslag wat aanbreek nadat die vertrapping van Jerusalem beëindig is. Ons moet in hierdie verband in ag neem dat Bybelse Jerusalem – dit is die Ou Stad, of die Stad van Dawid – in 1948 met die onafhanklikwording van Israel nog onder Jordaniese beheer was. Die Ou Stad is eers in Junie 1967 tydens die Sesdaagse Oorlog fisies verower en in Augustus 1980 is die verenigde Jerusalem tot Israel se ewige en onverdeelbare hoofstad verklaar. Die destydse eerste minister, mnr. Menachem Begin, het in Augustus 1980 sy kantoor van Tel Aviv af na Jerusalem verskuif en só Jerusalem se status as die administratiewe hoofstad van Israel herstel.

Vir die eerste keer sedert die Babiloniese ballingskap was Jerusalem in 1980 weer die vrye en volwaardige hoofstad van ‘n onafhanklike Israel. Tydens Jesus se aardse bediening in die eerste eeu was Israel deel van die Romeinse ryk en het ‘n Romeinse goewerneur in Jerusalem regeer. Die staatkundige herstel van Jerusalem in 1980 lui die laaste geslag in, wat uiteindelik op die groot verdrukking sal uitloop. Net nadat Jerusalem se herstel in Lukas 21:24 genoem word, word gebeure wat in die groot verdrukking sal plaasvind, soos volg vanaf vers 25 beskryf:

“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is… Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:25-32; kyk ook Matt. 24:34).

Die konkrete en duidelike stellings wat die Here Jesus in sy profetiese rede maak, leen hulleself geensins tot vergeesteliking nie. Hy praat nie in simboliese taal nie en beskryf werklike gebeurtenisse. Bepaalde tekens word aan verskillende groepe mense gegee in terme waarvan hulle gebeure kort daarna kan verwag. Net so letterlik as wat die profesieë van die eerste geslag vervul is, sal dié van die laaste geslag ook vervul word.

Dit is opvallend dat daar in beide geslagte ‘n naasbestaan van Israel en die kerk is. In die eerste geslag word Israel geleidelik uitgefaseer soos wat die tyd van sy internasionale verstrooiing vinnig nadergekom het, terwyl die kerk ingefaseer en al hoe wyer gevestig is. In die laaste geslag moet die kerk homself gereed maak om deur middel van die wegraping uitgefaseer te word namate hierdie bedeling ten einde spoed, terwyl Israel weer toenemend ingefaseer word in afwagting op sy nasionale bekering en vestiging as leidende nasie in die komende Messiasryk.

Die eerste geslag

Die beginpunt vir die eerste geslag is die verwerping en kruisiging van die Here Jesus deur Israel, en die eindpunt daarvan die vernietiging van Jerusalem en die begin van Israel se diaspora (internasionale verstrooiing). In hierdie geslag is die eerste stadium van die opdrag vir die evangelisering van die nie-Joodse wêreld uitgevoer – eers deur ‘n aantal apostels in Samaria en daarna deur Paulus in Klein Asië, Griekeland, Rome en ander plekke. Alle profesieë is tot in die fynste besonderhede letterlik vervul.

Die einde van die eerste geslag het onwrikbaar op die verwoesting van Jerusalem en die verstrooiing van Israel afgestuur. In die laat sestigerjare het hewige gevegte in ‘n groot gebied tussen Jode en Siriërs uitgebreek. In reaksie hierop het die Romeinse goewerneur van Sirië, Cestius Gallus, ‘n taakmag uit Antiochië gestuur om die Joodse opstande te onderdruk. Verskeie dorpe in Galiléa is ingeneem en ‘n slagting onder inwoners aangerig, voordat die Romeinse mag in Oktober 66 teen Jerusalem opgetrek het. In November het Cestius egter besluit dat sy magte nie goed genoeg vir ‘n lang beleëring van Jerusalem toegerus was nie, en het die beleg afgelas.

Die Jode het moed geskep en die terugtrekkende magte agtervolg. Hulle het in verskeie aanvalle 5 300 manne laat sneuwel en self feitlik geen verliese gely nie. Cestius het die neerlaag aan Nero gerapporteer.

Hierdie geleentheid is deur die Christene te baat geneem, omdat die beleëring van Jerusalem vir hulle ‘n teken van ontvlugting was wat Jesus self gegee het: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet dié wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies” (Luk. 21:20-24).

Kort op die hakke van die onttrekkende leërs het die Christene Jerusalem verlaat. Sonder enige hindernis het hulle deur die Jordaanvallei tot by die stad Pella in Dekápolis (in die huidige Jordanië) gevlug. Hier sou die vlugtelinge buite die oordele wees wat vir Jerusalem en sy inwoners bestem was.

Keiser Nero, een van die grootste tiranne van alle tye, was hewig ontsteld oor die neerlaag wat sy leërs in Judéa gely het. Hy het die baie ervare generaal Vespasianus uit Gallië gestuur om die Joodse opstande te gaan onderdruk. Hy het sy militêre basis van Antiochië na Ptolemais verskuif. Hier het sy seun Titus met soldate van Alexandrië af by hom aangesluit om ‘n totale mag van sowat 60 000 man op die been te bring.

Verskeie dorpe en stede is beleër, ingeneem, verwoes en feitlik al die inwoners om die lewe gebring. Baie van die oorlewendes het na Jerusalem gevlug omdat hulle gemeen het dat dié stad so versterk en veilig was dat dit feitlik oninneembaar was. Intussen is Vespasianus as nuwe keiser in Rome aangestel en het sy seun, Titus, bevel oor die operasie oorgeneem. Hy het die opdrag gekry om Jerusalem in te neem en te verwoes. Op 10 Mei in die jaar 70 het die beleg van Jerusalem begin. In die volgende vyf maande het ‘n onbeskryflike tragedie van menslike smarte, lyding en dood homself in Jerusalem afgespeel.

Op 26 September in 70 n.C. het die eens roemryke stad van Dawid gesterf. Meer as ‘n miljoen mense is dood en 97 000 as krygsgevangenes na verskeie provinsies van die Romeinse Ryk weggevoer. Die kinders is as slawe verkoop. Sodoende het die internasionale verstrooiing van Israel ‘n aanvang geneem.

Wat ‘n betreurenswaardige lot het hierdie stad nie getref nie, wat deur die Here self verkies is om sy Naam daar te vestig! (2 Kon. 21:4). Jesus het dit vooraf geweet, daarom het Hy die inwoners van Jerusalem gewaarsku dat hulle huis woes gelaat sou word omdat hulle Hom verwerp het (Matt. 23:37-38). Hy het selfs geween oor hierdie stad en sy inwoners wat as gevolg van hulle geestelike blindheid en rebellie teen God in die hande van ’n wrede vyand oorgelewer sou word:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44).

Die tye van die nasies

‘n Baie belangrike perspektief wat in Lukas op die profetiese rede gegee word, is die tye van die nasies wat tussen die eerste en laaste geslagte verloop: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit beteken dat Jerusalem ná die einde van die eerste geslag nie onbepaald vertrap sou word nie, maar net totdat die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, vervul is. In hierdie opsig is Jerusalem ook vir die nasies een van die belangrikste tekens van die einde van die kerkdispensasie.

Die periode van Jerusalem se vertrapping val nie net met die tyd van wêreldevangelisasie saam nie, maar ook met die tyd van Israel se geestelike verharding as volk. Dit was die groot rede waarom hulle die seën van die Here verbeur het, uit hul stad verdryf en onder die nasies verstrooi is. Hierdie toestand sal egter met die koms van die Messias beëindig word.

Die laaste geslag

Die eindtydse keerpunt in die beheer oor Bybelse Jerusalem was in 1980 met die staatkundige herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad, wat as die vertrekpunt van die laaste geslag beskou kan word. Daarna het die stad in prominensie toegeneem terwyl die kerkbedeling stadig maar seker sy einde nader.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat die verdrukking van sewe jaar ‘n integrale deel van die laaste geslag is. Omdat die Antichris dan beheer oor die hele wêreld sal kry en ook teen die heiliges sal veg en hulle oorwin (Op. 13:7), vorm hierdie sewe jaar nié deel van die kerkdispensasie nie. Die wegraping moet dus plaasvind voordat die Antichris geopenbaar kan word. Dit is presies wat die Here Jesus aan sy dissipels beloof het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Net soos wat die Here in die eerste geslag voorsiening vir die ontvlugting van die Christene uit Jerusalem gemaak het, doen Hy dit ook voor die uitstorting van goddelike oordele in die verdrukking. Hy lê verder klem daarop dat sy koms onverwags sal wees: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:13). “…soos ‘n strik sal [dié dag] kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:35).

Die groot verrassingselement van die laaste geslag is die onverwagse koms van die hemelse Bruidegom soos ‘n dief in die nag. Sy duidelike opdrag is dat ons vir Hóm moet wag en vir sy skielike koms gereed moet wees. Die res van die eindtydse gebeure, insluitende die openbare verskyning van Jesus op die Olyfberg, is almal binne die sewe jaar van die verdrukking geskeduleer. Hierdie sewe jaar kan in jare, maande én dae afgetel word (vgl. Dan. 9:27; 12:7, 11-12; Op. 11:2-3; 12:14; 13:7).

Dit is belangrik dat ons nie die verrassingselement van Jesus se koms sal ondermyn deur die wegraping in die middel of aan die einde van die verdrukking te plaas nie. Dan sal mense eers op die Antichris wag en met oorlewingstrategieë begin om in die eerste deel van die verdrukking te oorleef. Nadat die Antichris gekom het, sal hulle uit sy hande probeer bly en die tyd na Jesus se koms begin aftel. Dit is onbybels. Ons moet ‘n Christusverwagting hê, want eers sal Hý kom en daarna volg die donker dae van die Antichris en sy bose wêreldryk.

In die middel van die verdrukking sal daar wél ‘n ontvlugting wees, maar dit is die Jode se vlug uit Jerusalem en omstreke na die berge. Vir die eerste 3½ jaar van die verdrukking sal Israel ‘n verbond met die Antichris sluit en hom verkeerdelik as die beloofde Messias aanvaar en vereer. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Ná die eerste 3½ jaar van valse vrede (in die middel van die jaarweek van 7 jaar) sal die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar en gedwonge aanbidding opeis (2 Thess. 2:3-4). Hy sal ook deur die bemiddeling van die valse profeet ‘n beeld van homself in die tempel laat oprig (Op. 13:14-15). Wanneer dit gebeur, sal die offerdiens in die tempel verbied en alle mense beveel word om voortaan net die valse messias en sý beeld (die gruwel van die verwoesting) te aanbid. Daniël sê die volgende oor hierdie tyd:

“En hy [die Antichris] sal vir een week lank [van sewe jaar] met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde… En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Dan. 9:27 en 11:31).

Die Here Jesus het na hierdie groot krisis in die middel van die verdrukking verwys en dit sterk op die Jode se harte gelê dat hulle baie haastig sal moet vlug. Die Antichris sal só woedend wees as Israel hulle verbond met hom verbreek en weier om sy beeld te aanbid, dat hy ‘n Joodse volksmoord sal gelas. Dit sal die begin van die laaste 3½ jaar van verdrukking wees, wat die groot verdrukking genoem word. Dit sal vir die Jode lewensbelangrik wees om vinnig van dié tiran af weg te kom:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes [die oorblyfsel van die volk Israel] sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:15-22).

Hierdie donker tyd in die wêreldgeskiedenis sal nie alleen vir Israel nie, maar vir die hele wêreld, erger as enige vorige verdrukking of oorlog wees. Dit sal op die sigbare koms van Jesus uitloop wanneer die oorblyfsel van Israel gered sal word:

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:29-30).

Die oorblyfsel van Israel sal onder die oortuiging van die Heilige Gees groot rou bedryf oor hulle Messias wat byna 2000 jaar gelede deur hul vaders verwerp en oorgelewer is om gekruisig te word. Die Here sê: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Aan die einde van hierdie geslag sal die Messiasryk van ‘n duisend jaar lank op aarde begin, met Jerusalem as die wêreldhoofstad en die Here Jesus wat op die troon van Dawid regeer.