Program 20: Babilon se Rebellie Teen God

Waarom is gebeure in Babilon (die huidige Irak en Sirië) so geweldig betekenisvol vir die hele wêreld? Omdat daar hier onder die aanstigting van Satan besluite geneem is wat alle mense op aarde raak. Besluite oor die toekoms van die mensdom is nie alleen in antieke tye hier geneem nie, maar sal in die nabye toekoms weer hier geneem word. Die drie uitstaande besluite wat met die omgewing van Babilon in verband staan, asook die implikasies daarvan, is die volgende:

1.   Die sondeval

Die vroegste oorsprong van die mens kan na die tuin van Eden in die Persiese Golf-gebied teruggevoer word. Volgens Génesis 2 het daar vier riviere deur die tuin van Eden geloop. Die eerste rivier was die Pison, wat om die land Hawila geloop het. Hierdie rivier, wat nie meer bestaan nie, het iewers oos van die Jordaan deur die huidige Irak en Saoedi-Arabië geloop. Die tweede rivier was die Gihon wat om die land Kus geloop het. Hierdie Kus verwys waarskynlik na die land van die Kassiete in die berge van die huidige Iran, net oos van die Irak-grens. Die Gihon bestaan ook nie meer nie. Die derde rivier is die Hiddékel, of Tigris, wat steeds bestaan en deur Irak loop. Die vierde rivier, die Eufraat, bestaan ook nog en loop deur groot dele van Sirië en Irak.

Een van die vroegste name vir die huidige Irak was Mesopotamië – die land tussen twee riviere. Hierdie twee riviere is die Tigris en die Eufraat, wat albei deur die vroeëre tuin van Eden geloop het. ‘n Mens kan dus met goeie reg sê dat Irak en sy onmiddellike omgewing die gebied van oorsprong van die mens op aarde is. Die feit dat meer as ‘n kwart van die wêreld se olievoorraad in Irak, Iran, Koeweit en Saoedi-Arabië geleë is, wat oorwegend as woestyngebiede beskryf kan word, is ‘n bewys dat hier lank gelede lowerryke plantegroei moes gewees het, soos wat van die tuin van Eden beskryf word. Olie is, soos steenkool, van organiese, of plantaardige, oorsprong. Steenkool en olie is nou verwant aan mekaar, daarom kan daar, soos by Sasol, olie uit steenkool vervaardig word. Steenkool het net as gevolg van verskillende grade van hitte en druk gefossileer, terwyl ruolie in ‘n vloeibare vorm uitgepomp word. Dit is interessant dat die plante van Eden vir die groot olierykdomme verantwoordelik is, en sodoende in die eindtyd ‘n geweldige ekonomiese prominensie aan hierdie semi-woestynlande verleen.

Die eerste tragiese besluit wat oor die lotgevalle van die mens geneem is, is onder die direkte beïnvloeding van die duiwel in die tuin van Eden geneem. Hier het die dood, geestelik én liggaamlik, vir Adam en Eva aangeklewe omdat hulle die ware God se wette verbreek en na ‘n valse god, Satan, geluister het. Hulle is uit die tuin van Eden verdryf en hulle geestelike verduistering en sonde-geneigdheid is deur oorerwing na hulle kinders oorgedra, en sodoende na die hele menslike geslag. Romeine 5:12 sê dat deur een mens, Adam, die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het. Ons word almal steeds deur hierdie tragiese besluit geraak, want ons is nasate van Adam. Die duiwel het in Eden ‘n groot slag vir sy eie koninkryk geslaan toe hy die eerste mense verlei het om te sondig en daardeur teen God in opstand te kom.

Die Here het later, tydens die sondvloed, alle mense behalwe Noag en sy gesin van die aarde af verdelg weens hulle voortgesette sonde en rebellie teen hom. Volgens Génesis 6 het hulle die aarde vol geweld gemaak en was al die versinsels van hulle harte altyddeur nét sleg.

2. Die toring van Babel

Die tweede tragiese besluit wat die hele mensdom nadelig sou raak, is ook weens Satan se misleiding in die omgewing van die Eufraat- en Tigrisriviere geneem, in die land wat later as Mesopotamië, Sinear en Babilonië bekend gestaan het. Ná die sondvloed het rebellie spoedig weer onder die mense voorgekom. In Génesis 10:8-10 lees ons: “Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om ‘n geweldenaar op aarde te wees… En die begin van sy ryk was Babel…” Daarna het Satan sy eerste goddelose wêreldstaat in hierdie selfde gebied gevestig waar hy aanvanklik soveel sukses met Adam en Eva behaal het. Babilon, teenaan die Eufraatrivier, was die hoofstad van dié ryk. In Babilon is daar op ‘n internasionale konferensie, wat ‘n sameswering teen God en sy orde van onafhanklike volke was, ‘n besluit geneem wat die hele mensdom vir die res van sy bestaan op aarde sou teister. Ons lees hieroor in Génesis 11:

“En die hele aarde het dieselfde taal gehad… En toe hulle wegtrek na die Ooste, vind hulle ‘n laagte in die land Sinear; en daar het hulle gaan woon… En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie. Toe daal die Here neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het. En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie. Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie. So het die Here hulle dan daarvandaan oor die hele aarde verstrooi; en hulle het opgehou om die stad te bou” (Gen 11:1-8).

Hierdie bose internasionaliseringsprogram was op die idee van ‘n humanistiese wêreldryk en ‘n valse wêreldgodsdiens gebaseer, asook op die ekonomiese onderdrukking en uitbuiting van die volke. Ten spyte van die verbrokkeling van die antieke Babiloniese ryk het Satan nooit sy planne vir ‘n alternatiewe wêreldorde in assosiasie met ‘n valse wêreldgodsdiens laat vaar nie. Die ideologie van Babilon het in verborgenheid onder die nasies gegaan, daarom het hulle hul politieke en godsdienstige rebellie teen God voortgesit. Hulle einddoel was egter altyd om weer met die hulp van ekonomiese en militêre mag en misleiding deur valse godsdienste ‘n wêreldryk tot stand te bring. Om hierdie rede het die Babiloniese ryk weer in latere eeue herleef, en is dit deur die ewe goddelose Medo-Persiese, Griekse en Romeinse ryke gevolg. Die huidige, antichristelike nuwe wêreldorde is ‘n voortsetting van die eeue oue Babiloniese verraad teen God en sy koninkryk. Dit is ook te begrype dat wanneer daar weer ‘n wêreldstaat tot stand kom, Babilon ‘n natuurlike keuse as wêreldhoofstad sal wees. Verborge Babilon is in ons tyd besig om as ‘n wêreldwye ekumeniese beweging sigbare gestalte aan te neem.

Babilon het dus nooit opgehou bestaan nie, maar in verborgenheid voortgeleef. In die lig van die voortgesette werkswyse van die koninkryk van die duisternis, rus God se oordele nog steeds op Babilon en sy bose metodes. Profesieë oor die val van Babilon is só duidelik en absoluut dat daar geen tydperk in die vroeëre of latere Babiloniese en Assiriese geskiedenis aangetoon kan word wanneer dit ten volle vervul is nie. Neem die volgende Ou Testamentiese uitsprake in ag:

“So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het. Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie. Maar daar sal boskatte lê, en hulle huise sal vol uile wees; en volstruise sal daar hou, en veldduiwels daar rondspring. En wildehonde sal huil in sy kastele en jakkalse in sy vreugdepaleise; en naby is sy tyd om te kom” (Jes. 13:19-22).

Jeremia sê oor die verwoesting van Babilon:

“En hulle sal uit jou geen klip neem vir ‘n hoek of ‘n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die Here… Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die Here! En Jeremia het vir Serája gesê: As jy in Babel kom, dink daaraan en lees al hierdie woorde; en sê: O Here, U het oor hierdie plek gespreek om dit uit te roei, sodat daar geen inwoner, mens sowel as dier, sal wees nie, maar dat dit ewige wildernisse sal wees. En as jy hierdie boek klaar gelees het, moet jy ‘n klip daaraan vasmaak en dit binne-in die Eufraat gooi en sê: So sal Babel sink en nie weer opkom nie weens die onheil wat Ek oor hom bring” (Jer. 51:26, 45, 61-64).

Dr. J.A. Seiss het in sy Lectures on the Apocalypse in 1865 al gesê dat die letterlike stad Babilon herbou sal moet word sodat die Here dit, soos Sodom en Gomorra, totaal kan vernietig om van geslag tot geslag nooit weer bewoon te word nie. Hierdie vernietiging is ‘n eindtydse gebeurtenis wat volgens Jesaja 13:6 in “die dag van die Here” sal plaasvind en met die slag van Armagéddon aan die einde van die groot verdrukking sal saamval.

Clarence Larkin het in sy boek Dispensational Truth in 1918 aangetoon dat Babilon nog nooit heeltemal vernietig en onbewoon was nie. Jeremia 51:26 se profesie dat daar ná die finale vernietiging geen boustene van Babel se ruïnes gebruik sal word nie, moet nog vervul word. Inderwaardheid is talle dorpe en stede reeds met boustene uit die puinhope van Babel opgerig, insluitende vier hoofstede. Voordat die huidige herbouing van Babilon in 1978 begin het, is daar ook deur mense in die omgewing aansienlike hoeveelhede bakstene vir bouwerk van dié terrein af verwyder. Die feit dat van die ou fondamente tans weer herbou word, dui ook daarop dat Babilon se finale vernietiging nog toekomstig is.

3. ‘n Verbond met die Antichris

Die derde noodlottige besluit wat namens die hele wêreld in Babilon geneem sal word, staan in verband met die verbond wat die nasies in die eindtyd met die Antichris sal sluit. Twee van die Antichris se titels dui spesifiek daarop dat hy in die ou Assiries/Babiloniese magsgebied sal opstaan en sy koninkryk se hoofkwartier daar sal vestig. In Jesaja 10 word hy die Assiriër genoem, en in Daniel 11 die koning van die Noorde. Beide hierdie uitdrukkings dui op die gebied ten noorde en noordooste van Israel, wat soms as Assirië en soms as Babilonië bekend gestaan het. Die hartland daarvan is in die huidige Irak – daar waar die tuin van Eden aanvanklik was.

Dit is uit ander skrifgedeeltes ook baie duidelik dat die stad Babilon weer as ‘n goddelose wêreldsentrum herbou sal word. Die valse wêreldgodsdiens, verborge Babilon van Openbaring 17, sal volgens Sagaria 5:5-11 in die land Sinear hervestig word, wat een van die antieke name van Babilonië was. Volgens Openbaring 18 sal Babilon ook as ‘n internasionale handelstad herleef.

Die eindtydse Babiloniër, die Antichris, sal die geskiedenis van die rebelse nasies afsluit op dieselfde wyse as wat Nimrod daarmee begin het – as ‘n geweldenaar wat homself vergoddelik en ook die stad Babel sal bou. Volgens Openbaring 13:3-4 sal die hele wêreld in aanbidding agter hom aangaan, en volgens Openbaring 13:7 sal hy mag kry oor elke stam en taal en nasie. Daniël 9:27 sê dat hy met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. Dit is die derde besluit wat in Babilonië geneem sal word, en wat die lotegevalle van die nasies drasties sal verander. Die Here Jesus het die feit beklemtoon dat Israel ook, saam met die nasies, hierdie valse messias sal aanvaar. In Johannes 5:43 het Hy vir die volksleiers gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aaneem.”

Die ideologie van die Antichris se nuwe wêreldorde sal, as Satan se derde groot Babiloniese leuen, met die eerste twee leuens verband hou. Soos wat hy vir Eva in Eden gesê het, sal hy weer eens beweer dat die mens in eie reg onsterflik en goddelik is. Soos by die toring van Babel, sal die ideologie van internasionale eenheid in assosiasie met afgodediens ook aktief nagestreef word.

Aan die einde van die Antichris se ryk sal die Here se oordele oor Babilon in finale vervulling gaan. Johannes beskryf dit só in Openbaring 18:

“En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag… En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.

“…haar plae [sal] op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel. En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom! … En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien…

“En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie… want deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind.”

Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat daar nie van ‘n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word. Dit sal met ‘n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, soos in Openbaring 16 beskryf:

“En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige groot aardbewing… En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn” (Op. 16:18-19).

Wanneer hierdie aardbewing plaasvind, sal die aarde ook onder Babilon oopskeur en terselfdertyd sal die stad deur vuur en swael verteer word. Dit sal met ‘n gedruis in ‘n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie. Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear vorm wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word. Die handelaars en seevaarders sal almal die verwoesting van hierdie stad met sy rykdom, prag en praal beween.

Op die plek waar Babilon gestaan het, sal net ‘n verlate krater wees. Oorblyfselfs van sy verwoeste paleise en kastele sal in die krater gesien kan word, maar dit sal ‘n skuilplek vir demone, wilde diere en onrein voëls wees. ‘n Onheilspellende stilte sal gedurende die vrederyk hier heers, en niemand sal ooit weer hier woon of selfs net hier oornag nie. Die Arabiese veewagters wat in die omgewing vertoef, sal sorg dat hulle in die aand voor donker van hierdie grillerige plek af weg is (Jes. 13:19-20).

Dit is die uiteinde van ‘n koninkryk, ‘n ideologie én ‘n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai, en in openlike rebellie teen Hom geleef het. Met wêreldryke van hierdie aard, asook ‘n valse wêreldgodsdiens waarin verhoudinge met heidense godsdienste gesmee word, het die kinders van God niks te doen nie. Die opdrag aan hulle is duidelik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Op. 18:4).

Dit is skrikwekkend en haas ondenkbaar dat die moderne wêreldleiers ten spyte van al die historiese feite tot hulle beskikking, sowel as die profetiese voorkennis in die Bybel, voortgaan om ‘n Babiloniese nuwe wêreldorde te vestig. Behalwe vir die onwerkbaarheid daarvan, skep hulle duidelik die strukture vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie. Die leiers van die nasies sal hulle mag aan die Antichris oordra:

“Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier" (Op. 17:13).

Dieselfde sal ook deur ander wêreldleiers gedoen word, en saam sal hulle aan die Antichris se nuwe wêreldhoofstad, Babilon, bou. Dit wat deur hulle as ‘n simbool van vrede, eenheid en internasionale versoening gesien sal word, sal Satan se groot eindtydse komplot wees om die hele wêreld onder sy direkte beheer te kry. Oor dié bose, Babiloniese ryk sal God se oordele nie sluimer nie.

Hierdie gebied in Babilon, waar Satan vir Adam en Eva tot rebellie teen God verlei het, later die nasies by die bou van die toring van Babel tot rebellie teen God aangehits het, en in die eindtyd die laaste internasionale rebellie onder die leiding van die Antichris sal stig, sal ook die terrein van God se groot oordeel oor die eeue oue Babiloniese sameswering van Satan wees.